Matteus 4:1-11 – 2017

5 Maart 2017 Eerste Sondag in Lydenstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Vandag is die eerste Sondag in Lydenstyd. Verlede Sondag: Sondag van Verheerliking / Transfigurasie, bevind ons onsself saam met Petrus, Johannes en Jakobus op die berg by Jesus, sien ons hoedat Hy deur God verheerlik word, hoor ons die bevestigende stem uit die wolke: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Net hierna, met die afkom van die berg, het Jesus se lydensweg na die kruis ‘n baie doelgerigte aanvang geneem.

Dit is nie die eerste keer dat God so vanuit die hemel oor hierdie Seun van Hom gepraat het nie. Reg aan die begin van die Jesus se bediening, toe Johannes Hom in die Jordaanrivier gedoop het, het dieselfde gebeur. Nadat Jesus uit die water uit opkom, praat God vanuit die hemele: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” En dan direk na die bevestiging van Jesus se identiteit as geliefde Seun van God, die versoeking in die woestyn, vandag se teks…

Lees teks

Interessant dat die oudste evangelie, Markus, se beriggewing oor die versoeking baie korter is as die dramatiese vertellings van Matteus of Lukas. Om die waarheid te sê net 2 vss lank. Dat die Gees vir Jesus in die woestyn in gedryf het, dat Hy daar was vir 40 dae, dat Hy deur die Satan versoek is, dat Hy saam met wilde diere was en dat die engele Hom versorg het. Van die inhoudelike aard van die versoekings rep Markus geen woord nie. Maar ons weet ook dat Markus as ‘n dissipel van Petrus onder druk moes skryf in ‘n tyd toe die gelowiges deur Nero vervolg was. Hy het dus in sy evangelie net gefokus op die essensie van die gebeure rondom Jesus, soos ook hier met die versoeking in die woestyn.

Wanneer ons Matteus (en Lukas) se weergawes lees, dan beskryf hulle Jesus se ervaring in die woestyn binne die tipiese verstaan van die realiteite van daai tyd, van hoe dinge gebeur. Anders as in OT (waar daar vir die volk net een mag is wat oor hul lewens seggenskap het – God teenoor die gode vd ander volke wat soms illusie en soms werklikheid is), word die mens se wel en weë in die NT altyd verstaan as ‘n stryd tussen lig en duisternis, tussen God en die bose geeste, tussen God en die duiwel. Reeds in die eerste vers word ons aan beide hierdie magte bekendgestel: Die Gees het vir Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word.

Waarom dan? Hoekom hierdie versoeking? Want Jesus is pas gedoop, en ons sou kon sê dat sy doop iets was soos die legitimasie van studente aan die einde van hul studies. In die sin dat Jesus met sy doop “ingelyf” word in sy bediening, dat Hy met sy doop deur God gestuur word om sy taak te vervul, dat Hy van nou af sy roeping moet opneem.

Nou kan ons onsself voorstel dat hierdie Jesus van Nasaret, met al die bohaai rondom sy geboorte al, van kleins af grootgeword met die idee dat Hy ‘n bepaalde taak en roeping het om te vervul – as profeet, rabbi, iemand wat deur God gestuur is om ander te leer. Dit was sy werk. En Hy moes seker dikwels gedink het: “Jong, Ek weet nie of Ek vir hierdie ding kans sien nie. Hier gaan Ek in die moeilikheid kom, want die soort ding wat Ek vir mense moet sê is nie dit wat hulle graag wil hoor nie”. Juis in daardie tyd wil die Jode hoor hulle is baie spesiaal vir God, want hulle word deur die Romeine beheer en regeer en moet belasting betaal aan ‘n vreemde staat, is nie meer hul eie base nie. Wat hulle graag by Jesus sou wou hoor is dat Hy hul nuwe politieke leier is wat hulle van die Romeinse onderdrukking sal bevry, dat Hy die langverwagte Messias is wat na sy volk se belange gaan kom omsien en hulle eer gaan herstel. Maar dit was nie die boodskap, die roeping wat Jesus gehad het nie…

So, op ‘n stadium (betekenisvol – juis na sy doop, sy inlywing in sy bediening in), kan ‘n mens jou voorstel dat Hy eenkant toe gaan. In daardie tyd was dit niks vreemds dat die profete en die mense met spesiale opdragte juis uit die woestyn uit gekom het nie, waar hulle hul sou afsonder vir ‘n simboliese tyd van 40 dae en 40 nagte wat ‘n lank tyd was (dit herinner aan Moses se 40 dae van afsondering, ook aan vele ander profete, en die boodskappe soos oor Johannes die Doper berig). En dan daar hulself oopstel vir bepaalde boodskappe. Baie profete het in daai tyd opgestaan en gesê dat hulle ‘n woord van God ontvang het. Natuurlik ook valse profete en die uitdaging was om met onderskeiding te luister. (Dis nog vandag net so, interessant genoeg mense wat hierdie soort van aanspraak maak dat hulle ‘n woord van God gekry het. Maar daardie tyd nog baie meer so.)

En in die woestyn word Jesus dan herhaaldelik deur die duiwel versoek. Na 40 dae en 40 nagte van geïsoleerd wees, van niks eets nie, toe Jesus baie kwesbaar was, stel die versoeker vir Jesus voor sy eerste toets: “As jy die Seun van God is” (die bevestiging wat Jesus juis by sy doop gekry het) – “As jy dan nou werklik die Seun van God is beroep jouself op daardie identiteit en sê dat hierdie klippe brode moet word.”

“Die mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom,” antwoord Jesus hom uit Deut 8:3.

Nou kan ek myself voorstel die duiwel se reaksie wanneer hy vir Jesus na die heilige stad toe neem en Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan:

“Jy sê jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom… God het mos gesê: ‘Wat jou betref, Hy sal sy engele opdrag gee…’ (Ps 91) As jy die Seun van God is, neem Hom dan op sy woord en spring hier af!”

Maar Jesus vang hom vas en wys hom wat kan gebeur as mense tekste buite konteks aanhaal – die duiwel hou aan hom ‘n “belofte van God” voor, maar heeltemal buite konteks, en Jesus antwoord met ‘n teks uit Deut 6:16 – ook buite die konteks van Psalm 91, maar juis daarom ‘n baie goeie antwoord, ‘n illustrasie.

En dan neem die duiwel vir Jesus na ‘n baie hoë berg en beloof aan Hom al die koninkryke van die wêreld in hul prag as Jesus net voor hom sal kniel en hom aanbid, maar weer beroep Jesus Hom op Deut 6:13: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hóm alleen dien.”

Al drie die versoekings gaan oor die vraag na mag – waar kan ek dit kry, hoe kan ek dit in myself vestig, of eerder dalk nie vestig nie en afgee twv ander. Dit gaan oor die vraag na ‘n selfgesentreerde lewe. Dit word beskryf as ‘n stryd tussen Jesus se opdrag om te gaan doen waarvoor Hy gestuur is aan die een kant, en aan die ander kant die meer aanloklike opsie: Ek kan tog sekerlik met my kennis en gawes iets anders doen wat darem baie meer aangenaam sal wees en My persoonlik tot voordeel sal wees. As Jesus daaraan sou toegee sou Hy op die oog af veel beter daaraan toe wees, maar dan het Hy sy roeping versaak.

Ons dink vandag dalk anders, maar binne die verstaan van daardie tyd was dit heeltemal moontlik vir Jesus om anders te kies, om te kies soos die duiwel Hom nooi, en dan ook te kry wat Hy kies: klippe wat in brode verander, engele wat Hom vang voordat Hy sy toon kan stamp, en om die magtigste heerser op aarde te wees. Daar was toe wel later ‘n dag waarop Hy ‘n handjie vol broodjies in mandjies vol verander het sodat Hy die honger mense rondom Hom kon voed. Daar was ook ‘n dag in die Tuin van Getsemane waar sy dissipel ‘n swaard uit die skede ruk om die soldaat se oor af te kap en Jesus hom dan teregwys met: “As Ek beskerming nodig het kan Ek 12 legioene engele roep om My te kom help.” En alhoewel Hy nie toegegee het aan die versoeking om die duiwel te aanbid en die koninkryke as geskenk te kry nie, is alle mag en gesag op die aarde sowel as in die hemel in elk geval deur die Vader aan Hom gegee (Matt 28:18).

Jesus het die versoekings om net aan Homself te dink en sy opdrag te versaak, weerstaan en “die duiwel het Hom met rus gelaat, en kyk, daar het engele gekom en Hom versorg”.

Nou kan ons terugkyk na hierdie verhaal en hierdie gebeurtenis baie jare later en ons weet dat die bedoeling van God met Jesus Christus soos ons dit beskryf kry in die Bybelse verse was dat Hy vir hulle iets moes kom leer van hoe God oor mense dink, dat God vir mense liefhet en omgee, dat Hy nie onderskeid maak nie, dat mense vir hom almal menswaardigheid moet wees, en dat hulle ook daarom in die sending die opdrag kry: “So moet julle vir die wêreld gaan sê: God is lief vir julle, Hy gee vir julle om, Hy sal sorg vir julle, Hy is die geneesheer wat kom vir die siekes, Hy is die een wat eet saam met die tollenaars en die sondaars.” Hierdie boodskap, die leringe en lewe van Jesus keer die orde van daardie tyd op sy kop. Om in daai konteks vir hulle te kom sê kyk na mense wat in die natuurlike (biologiese) en kulturele (Jode, Samaritane, Kanaäniete, Grieke) en sosiale kategorieë (man/vrou, ryk/slaaf) van mekaar af geskei is op ‘n ander manier. Om te leer dat die kindertjies belangrik is. Om te leer dat die vrou wat egbreek pleeg nie meer sondig is as die skrifkenners wat gereedstaan om die klippe te gooi nie. Hy kon daarom ook verwag dat daar moeilikheid sou kom.

Moeilikheid soos ons ook vandag in die kerk beleef. Want enige struktuur, selfs kerklike strukture, is onderhewig aan die verleiding van mag om uiteindelik die (in-) groep se eie belange te beskerm en te voed en net na hulleself om te sien en daarom weer te verval in die versoeking van in kategorieë te dink van hierdie is ons en ons goed en hoe ons dink en vir wie ons sorg, want dit is ons s’n TEENOOR die evangeliese boodskap wat sê die aarde behoort aan die Here. So ook al die mense op die aarde. Nie net sommiges nie! Jesus kom en Hy bring weer hierdie boodskap op ‘n nuwe manier vir die mense. En dan op geen ander manier nie as wat vir daardie tyd aanvaarbaar was of wat vanselfsprekend was: Ook by Jesus was die magte aan die worstel om vir Hom te oortuig: “Man doen vir ons wonders, wees hierdie wonderwerker wat mense beïndruk. Of aan die ander kant: kom val voor my neer en doen afstand van jou roeping. Daar is ander maniere om mag te bekom, om vir jouself te bevredig in die lewe wat jy het.”

Maar dan kom Jesus daarvandaan terug, en daar was geen aanduiding in enige van die berigte dat daar iemand saam met Hom was nie, so dit moes iets soos ‘n latere geleentheid gewees het waar Hy dalk vir hulle sou vertel: “Weet julle, daar was ‘n tyd toe Ek gedink het Ek gaan hierdie dinge nie doen nie, dit is te veel gevra. En Ek het eenkant gegaan in die woestyn, Myself daar oopgemaak vir God om te hoor wat Hy vir My wil sê, en Ek wil vir julle sê dit was moeilik gewees, maar Ek het daardeur gekom. God het sy engele gestuur om My te versorg en Ek het teruggekom net meer vas oortuig van my roeping.”

En as ons nou vandag vir onsself moet afvra: Hier sit ons nou in hierdie kerkgebou en wat sê dit nou vir ons, dan is dit eintlik maar nie anders nie, dan is dit doodeenvoudig dat elkeen wat julle wat hier sit, maak nie saak wie jy is, wat jou agtergrond is, hoe die huis lyk waar jy uit kom, watter kultuur jy het, watter taal jy eintlik verkies om te praat nie, om te hoor dat jy vir God baie besonders en spesiaal is en dat Hy jou liefhet, dat Hy jou op geen manier in een of ander kategorie druk as ‘n tweede of derderangse mense nie, dat Hy jou menswaardigheid ten volle aanvaar. Dat Hy die hele wêreld so lief het dat Hy vir Jesus van Nasaret sy roeping opgelê het om juis dít te kom demonstreer. Dat jy deel is van sy liefde.

En dan is die tweede ding: As ons so na mekaar kyk en aan die mense dink wie ons onsself kan verbeel dat ons hulle iewers sien, dat ons die opdrag kry om ook ander mense so te laat voel, en vir hulle ook te laat voel dat hulle is ongeag wie/wat hulle is, hoeveel geld hulle het, watter kleur hul is, taal praat, kultuur aan behoort – hulle is mense, soos God hulle wil hê dat hulle sal wees. Dat ons nie aan die versoekings van die wêreld moet toegee om onsself belangriker te ag as ander mense nie.

Dat ons nie aan die versoekings moet toegee om brood net vir onsself te bak terwyl ander sterf van die honger nie.

Dat ons nie aan die versoeking moet toegee om tekste buite konteks aan te haal en so te misbruik vir ons eie boodskappe nie – boodskappe wat in ons geval dan dikwels daarop gerig is om mense uit te sluit en nie in te trek nie. (soos Ps 91)

Dat ons nie aan die versoeking moet toegee om mag en status na streef sodat mense ons kan ken nie, maar dat ons van mag sal afsien juis soda tons meer toeganklik kan wees vir die mense in nood.

En op hierdie wyse sou die Christelike boodskap einlik dan die bolwerk moet wees van versoening, wat mense bymekaar bring, wat mense vir mekaar aanvaarbaar maak, wat mense leer om met ander oë na mekaar te kyk, met sagte oë wat tederheid het vir mekaar se leed en omstandighede, wat genaakbaar is. Dit hoort die kerk te kenmerk, dit hoort die uitstaande kenmerk van die kerk te wees, om nie aan die versoekings te voldoen en die magspeletjie te speel nie, om nie aan die versoekings te voldoen en hiervan ‘n tipe wondergeloof te maak nie, maar om in die realiteit van die werklikheid, van die lewe vandag mense hulleself te laat ontdek as iemand wat besonders is.

Wat is die kerk se opdrag, roeping vandag? Soos met Jesus lê dit in ons identiteit.

Met Jesus se doop: Geliefde Seun van God. Versoeking: As jy die Seun van God is…

En so ook vir ons: As julle die kerk van God is, kinders van God, seuns en dogters…?

Die versoeking in die woestyn was nie die laaste keer dat Jesus versoek is nie. Ook toe Petrus Hom vra om van sy lydensweg afstand te doen (en Hy vir Petrus Satan noem), ook einde laaste aan die kruis: Matt 27:37-44: Red jouself AS JY DIE SEUN VAN GOD IS!

Weer dink Jesus nie aan Homself nie, red Hy Homself nie…

En ons, die seuns en die dogters van God, wat van ons?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.