Johannes 4:1- 26 (42) (1-30, 39-42) – 2017

19 Maart 2017 Derde Sondag in Lydenstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman  

Teks

Vs 6: Die fontein/put van Jakob was 1,5km buite die dorp. Daar was ‘n ander put wat nader aan die dorp geleë was.

Die sesde uur, dws 12hr die middag (hulle dag het begin met sonsopkoms – 6hr die oggend)

Die gebruik vir vrouens was om vroeg in die oggend of teen skemer in die aand te gaan water haal wanneer die dag koeler is. Maar hierdie vrou gaan in die middel van die dag – die warmste uur. Dit maak nie sin nie. Boonop stap sy verder as wat nodig is – sy gaan na die verste put toe.

Vs 9: Daar steek ‘n stuk verontwaardigheid in die vrou se opmerking.

Ja, Jode meng nie met Samaritane nie. Die Jode het neergesien op die Samaritane. Hulle het hulle as halfras beskou, want die Samaritane was Jode wat na die Assiriese ballingskap tussen die Assiriërs moes woon, met die gevolg dat ondertrouery plaasgevind het. Die Samaritane was dus nie volbloed Jode nie, en is derhalwe nie meer as volwaardige mense beskou nie. Om met hulle te meng, om ‘n kruik te gebruik waaraan ‘n Samaritaan gevat het en dan daaruit te drink, dit sou noodwendig veroorsaak dat jy onrein word.

Die skokkende in hierdie verhaal is natuurlik nie net dat Jesus as Jood met ‘n Samaritaan praat nie, maar ook, en dalk nog erger!, dat Hy in die openbaar met ‘n vróú praat. Vir ‘n man om met ‘n vreemde vrou in die openbaar te praat, was heeltemal ongehoord. Om die waarheid te sê – die Joodse wette was so streng dat ‘n rabbi nie eens met sy eie vrou, suster of dogter in die openbaar mag gepraat het nie, wat nog te sê ‘n vreemde vrou! (Vrouens was so laag op die sosiale leer dat die Joodse mans soms gebid het: “Ek loof U, o God, dat U my nie ‘n vrou gemaak het nie!”)

Vs 12: Let op: Jakob is beide Jesus en die Samartiaanse vrou se voorvader. Die Assiriese ballingskap het lank na Jakob se tyd eers plaasgevind. Die twee deel dus ‘n gemeenskaplike voorvader en oergeskiedenis.

Vs 15: Die vraag ontstaan natuurlik: Hoekom sou die vrou nie weer hier wou kom water haal nie? Net om haarself die 1,5 km se loop te spaar?

In vs 16 en verder steek ‘n moontlike rede sy kop uit. Hierdie vrou loop met ‘n geweldige verleentheid oor haar kop. Sy wil waarskynlik die daaglikse waterhaal gespaar word sodat sy nie in haar skaamte en skande in die openbaar hoef te verskyn nie…

In plaas daarvan om aan haar versoek te voldoen, lyk dit asof Jesus eerder sout in die wonde vryf deur juis met sy volgende vraag haar diepe verleentheid aan die kaak te stel…

Vs 19: Hierdie berg = Gerisim, die berg waarop die Samaritaanse tempel gestaan het.

Noudat die vrou besef dat Jesus ‘n profeet is, lyk dit asof sy Hom wil toets in sy Joodse standpunt rondom die regte plek van aanbidding.

Vs 22: Die Jode weet meer want hulle geskrifte is meer volledig. Die Samaritane het ‘n gewysigde weergawe van die Pentateug as hulle “Bybel” beskou, terwyl die Jode naas die Pentateug ook die Geskrifte en die Profete en Wysheidsliteratuur gehad het. En vanuit hierdie geskrifte word daar tog reeds voorspel dat die verlossing uit die Jode sal kom.

Vss 19-23: Die vrou is besorgd oor waar die mense moet bid, terwyl Jesus eerder besorgd is oor Wie die mense moet aanbid.

Vs 25: Die Samaritane het nie ‘n messiaanse koning uit die huis van Dawid verwag nie, maar ‘n profeet soos Moses (Deut 18:15). Die verwagting van die Samaritane word hier in Joodse terme uitgedruk. Die vrou het dus ‘n heel ander “tipe” messias in gedagte as wat die Jode verwag het. Maar Jesus se reaksie maak haar oë oop vir sy identiteit as die ware Messias.

Boodskap

Die vrou by die put. So verwys mense na hierdie verhaal. Want dit gaan immers oor ‘n vrou wat op ‘n dag, in die middel van die dag, soos waarskynlik op alle ander dae, by die put van Jakob aangekom het om water te skep.

Die vraag waar rondom hierdie verhaal gebou word, is waarskynlik vir meeste mense: Wie is hierdie vrou? En ons kom nogals baie te wete oor haar. In die eerste plek is sy ‘n vrou, en oor die sosiale status van vroue in die samelewing gaan ek vir eers nie meer sê nie. Sy is ook ‘n Samaritaan, dws nie ‘n volbloed Jood nie, maar eerder ‘n persoon van “gemengde ras”. Die Jode sou haar beskou as vuil. Sy is nie iemand aan wie hulle sal vat nie, wat nog sê praat met haar of drink uit haar kruik. Verder het hierdie vrou die vreemde gedrag (waarskynlik haar gewoonte) om nie op die normale tye van die dag (oggend en skemer) saam met al die ander vrouens van die omgewing te gaan water haal nie, maar om op die warmste tyd, 12hr die middag, te gaan, wanneer sy verseker is daarvan dat sy nie ander vrouens ook sal raakloop nie. Om die een of ander rede sonder sy haar dus af van ander mense.

Nog etikette wat mense graag oor die eeue, en ook vandag, aan die vrou by die put koppel, is die van prostituut en sondares. Want, en hierin lê ook die rede vir haar afsondering, sy het al vyf mans gehad en met die sesde een by wie sy tans woon is sy nie getroud nie. Maar oor ‘n paar dinge moet ons hier helderheid kry. Ons lees nêrens dat hierdie vrou ‘n prostituut was nie. Sy het nie haar liggaam vir geld verkoop nie. Sy het ook nie owerspel gepleeg nie. Nêrens is daar die insinuasie dat sy eintlik gestenig moet word soos wat in daardie tyd met sulke vrouens gedoen is nie.

En of sy in daardie kultuur meer van ‘n sondares was as ander mense net omdat sy al vyf mans gehad het en met die sesde een saamwoon… Hieroor moet ons ook nie te vining ‘n oordeel fel nie. Een van die Joodse wette het bepaal dat ‘n vrou nie meer as drie keer mag trou nie. Hierdie vrou was al vyf keer getroud, dws die wet is al 2 maal oortree, en nog ‘n keer sou omtrent die wenkbroue laat lig. Sy kón dus nie meer trou volgens die Joodse gebruik nie. MAAR ons moet ook onthou dat nét mans van hul vrouens kon skei. Vrouens kon nooit van hul mans skei nie. Vrouens het dus baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans. Dit beteken dat die man wat sy nou gehad het, die een met wie sy saamwoon, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar saambly-status. Verder was vrouens van mans afhanklik ter wille van ekonomiese oorlewing. Die vrouens het nie gewerk en ‘n salaris verdien nie – hul mans het vir hulle gesorg.

Oor die redes waarom hierdie vrou al deur vyf huwelike was en nou met ‘n sesde man saamwoon, daaroor kan ons net spekuleer. En daarom moet ons dalk nie te veel daaroor wonder nie. Miskien het sy nie goed genoeg huisskoongemaak en gekook nie. Miskien was sy onvrugbaar, en ‘n man se rykdom het in sy nageslag gelê. Geen man sou getroud wou wees met ‘n onvrugbare vrou nie. Ons weet eenvoudig nie. Wat ons wel weet is dat die feit dat sy met ‘n man saamgebly het op hierdie stadium verklap aan die een kant dat sy ‘n behoefte gehad het om te “behoort”, selfs al is dit nie (meer) in ‘n permanente verbintenis nie, en aan die ander kant dat sy nie ekonomies op haar eie voete kon staan nie. Sy leef van die genadebrood van ‘n man wat haar wil hê/gebruik, maar nie bereid is om die wet nog verder te strek en met haar te trou nie.

Hierdie vrou se lewensverhaal getuig nie van losbandigheid en sonde nie. Dit getuig van pyn, herhaaldelike verwerping – eers deur elke man wat met haar getrou het en later ook deur die samelewing, en desperaatheid.

Voordat hierdie vrou by die put aangekom het, was daar al ‘n man. En ons fokus soms so op die vrou, dat die eintlike punt van die verhaal, naamlik die identiteit en karakter van die man by ons verbygaan. Dit was ‘n moeë man wat ver gereis het. Toe die vrou kom water haal, vra Hy haar om vir Hom ‘n bietjie te gee om te drink. Aan sy voorkoms kon sy agterkom dat hierdie man ‘n Jood is wat dus twee reëls oortree – Hy praat met ‘n vreemde vrou en dan is sy nog ‘n Samaritaan ook. Dit is total ongehoord! Hy moet darem sy grense ken. En neem verder in ag – sy het nie gekom om geselsies aan te knoop nie. Sy kom juis op ‘n vreemde tyd water haal by die verste put vanuit die dorp, sodat sy ten alle koste ander mense kan vermy.

Wanneer die vrou verontwaardig die man aan hul onderskeie sosiale statusse herinner, laat Hy Hom nie daardeur afsit nie. Hy praat steeds met haar. En Hy begin praat van dinge waaroor sy niks verstaan nie – die gawe wat God gee en die lewende water wat Hy haar kan gee. Nou tree die vrou in ‘n gesprek met die man. Eers het sy bloot na Hom verwys as ‘n Jood. Nou spreek sy Hom aan as “Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?” (11).

Hier is baie verbande met die verhaal van Nikodemus in sy gesprek met Jesus. Nikodemus het die geboorte “van bo af” konkreet as ‘n fisiese weer gebore word verstaan. Omdat hy nie besef het wie Jesus is nie, kon hy nie begryp dat Hy van ‘n geestelike geboorte vanuit God praat wat die ewige lewe moontlik maak nie. Net so verstaan die Samaritaanse vrou nou die water waaroor Hy praat ook as fisiese water en nie as iets geesteliks wat van God af kom om nuwe ewige lewe te gee nie. Maar die Man gee nie op nie – Hy gaan voort om te verduidelik van die water wat Hy gee, die water wat ‘n fontein sal wees wat in ‘n mens opborrel en die ewige lewe gee. Waarop die vrou sê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

Steeds verstaan sy nie… Sy sal maar net te dankbaar wees vir fisiese water wat haar dors so les dat sy nie weer in die openbaar hoef te verskyn en by ‘n put hoef te kom water skep nie. Maar op hierdie punt word haar skaamte en haar skande ontbloot. “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

“Ek het nie ‘n man nie…”

“Dis reg. Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

En die Jood wat in sy gesprek met die vrou haar respek verdien het en vir wie sy as “Meneer” begin aanspreek het, word nou in haar oë ‘n profeet, want sy besef Hy weet alles van haar af. Hierop trek sy liewer die aandag van haar eie lewe af en vat sy Hom aan op die belangrikste godsdienstige twispunt tussen die Jode en die Samaritane, naamlik waar God nou eintlik aanbid moet word. Die man lig die relatiwiteit (die onbelangrikheid) van hierdie twispunt vir haar uit, en sy woorde herinner haar aan die Messias, die Christus, wat nog moet kom, en wat, wanneer Hy kom, alles aan hulle bekend sal maak. [Ons weet nou dat sy as Samaritaan ‘n ander messias as die Jode verwag het. Die Samaritane wag vir ‘n profeet soos Moses, terwyl die Jode wag vir ‘n verlosser vanuit die nageslag van Dawid.]

Maar toe die vrou melding maak van die Messias, die Christus, wat nog kom, gryp die man die geleentheid aan en sê vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Sy los haar waterkruik net daar, gaan na die dorp en sê vir die mense: “Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Deur die loop van sy gesprek met haar, word (vanuit haar perspektief) ‘n vyandige Joodse man met wie sy nie eens mag praat nie, iemand wat sy as Meneer begin aanspreek; hierdie Meneer word ‘n profeet, en die profeet word die Messias, Christus.

Die verstote Samaritaanse vrou, baster wat sy is, word die tweede getuie vir Jesus. Johannes die Doper was die eerste getuie. Sy dissipels kom uit die dorp teruggestap na Hom toe en al wat hulle met hulle saambring is kos om te eet – kos wat Hy nie eens wou eet nie.  Maar die Samaritaanse vrou keer terug met ‘n dorp vol mense, Samaritáne op die koop toe, en hulle kom tot geloof in Hom.

Die eerste groot groep mense wat vlgs Johannes se evangelie tot geloof gekom het in Jesus, was ‘n groep Samaritane. En hulle kom tot geloof weens die getuienis van ‘n verstote vrou. Want sy het ‘n man leer ken by ‘n verlate put. ‘n Man wat glad nie eens veronderstel was om selfs na haar te kyk nie, maar Hy het met haar begin praat, Hy het vir haar gevra om vir Hom water te skep met haar “vuil” hande en haar “vuil” skepding en Hy was bereid om uit haar “vuil” kruik te drink. Hierdie vrou is nie gewoond daaraan dat mense met haar praat nie, om nie eens te praat van ‘n rein Jood, die “goeie” ras nie. Sy is tot dusver vir geen man goed genoeg nie – niemand wil haar hê as sy vrou nie. Sy woon tans saam met ‘n man, waarskynlik nie omdat sy wil nie, maar omdat sy nie anders kan nie.

Die ontmoeting tussen die man Jesus en die vrou wat al aan soveel mans “behoort” het, het nie net haar lewe verander nie, maar ‘n hele dorp vol van die “verkeerde” soort mense. Jesus het alle grense kom oorsteek in sy uitreiking na die vrou – geslag, ras, reinheidsgrense, sosiale status, noem maar op. En deur hierdie oorsteek van grense het haar getuienis oor Hom die mure van die dorp vol Samaritane kom afbreek. Omdat Hy vir hulle ruimte gemaak het, kon hulle in hul lewens vir Hom ruimte maak. Kon hulle in Hom glo. Nie meer as net die Verlosser van die Jode nie (soos Johannes so raak getuig in 1:11: “Hy het na sy eiendom toe gekom [dws die Jode], en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.”), maar as die Verlosser van die wêreld. So het Jesus mos in Joh 3:16 al vir Nikodemus gesê (dat Hy vir die hele wêreld gekom het), en so getuig die Samaritane, wat in gasvryheid aangedring het daarop dat Jesus nog twee dae by hulle moet bly!), getuig hulle aan die einde teenoor die vrou (kyk – mense praat weer met haar!): “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Dit is die verhaal van die moeë man by die put wat by vreemdelinge en verstotelinge water soek, en op die ou-end nie net haar dors kom les met water van die ewige lewe nie, maar ‘n hele dorp vol van minderwaardige mense.

Drie jaar terug het ek ook oor hierdie teks gepreek, en ek het afgesluit met die vrae:

Hoeveel grense is jy bereid om oor te steek?

Teenoor watter tipe mense is jy bereid om medemenslikheid te bewys?

Sal jy ooit met iemand vriendelik praat as jy weet dat daardie persoon so sleg is in ander se oë dat niemand meer met hom of haar wíl praat nie?

Vir wie sal jy water vra as jy dors is. Aan wie se huis en uit wie se beker is jy bereid om te drink?

Vir wie sal jy water gee as hulle vra?

As gemeente, dink ek, het ons tog ‘n ver pad gekom. Nie net in die 3 jaar nie, maar voor dit al – om ons nekke uit te steek vir mense wat histories benadeel is/word.

Ons aanvaarding van die Belydenis van Belhar (eenheid, versoening en geregtigheid) jare gelede al.

Ons gemeente se openbare verklarings na die 2015 AS en die 2016 BAS en ons praktiese, sigbare verbintenis aan predikante wat in selfdegeslagverhoudinge is of wil wees.

Ons vennootskappe met ‘n gemeente vol haweloses in Maitland en ‘n gemeente in Athlone wat op grond van hul ras uit die wit NGK uitgestoot is. Ons saamwees tydens gemeenskaplike eredienste, nagmaal en rondom etenstafels.

Die oopmaak van ons kerk se deure vir (eks)bendelede wat vir ons te kom vertel van hul lewens of saam met ons aanbid.

Mense van ander gelowe of geloofstradisies, mense wat vir God op ‘n ander berg as ons aanbid, maar tog hier inkom en welkom voel.

‘n Prostituut wat vroeg in die jaar ‘n diens bygewoon het (pas nadat sy uit die tronk gekom het) en verander is deur die liefdevolle aanvaarding wat sy ervaar het tydens die vredesgroet.

Dis nie altyd maklik, ons stem nie altyd saam nie, gaan gepaard met hikke en stote… Maar steeds: Ons hét ‘n ver pad gekom, maar nog lank is dit nie die einde nie. En moet ons daagliks voortgaan om nie net ons gemeente as organisme/groep/liggaam van Christus aan ons leuse van inklusiwiteit te bly toets nie, maar ook die erwe waarop ons woon, die ruimtes waar ons werk, die skole waarin ons kinders is, die hospitale waar ons versorg word, die winkels waar ons ons inkopies doen…

Iemand het per geleentheid gesê die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat ín mense gebeur wanneer hulle tot geloof kom nie, maar wat tússen mense gebeur nadat (ten minste een van) hulle tot geloof gekom het.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.