Lukas 24:13-35 – 2017

30 April 2017 Pinelands Pase 3
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Teks

24 daar is geen konkrete bewyse dat Hy leef nie

25 “Oo, stadige harte van geloof in alles wat die profete gesê het!”

34 Daar was nóg ‘n verskyning behalwe vir die een op die pad!

Twee stelle getuienisse ondersteun nou die vroue se vertelling

Boodskap

“Ons het so gehoop…” sê die twee dissipels op hul pad na Emmaus vir die vreemdeling wat by hulle aansluit. Hierdie woorde is so gelade. Dit spreek van ‘n toekoms wat nie meer kan wees nie, ‘n droom wat nie gerealiseer het nie, ‘n belofte wat geloof wakkergemaak het, maar op die ou-end vals was, ‘n geslote toekoms, dood… Ernest Hemmingway is eenkeer voor die uitdaging gestel om ‘n 6-woorde kortverhaal te skryf. Hy skryf toe op ‘n servet: “For Sale: Baby shoes, never used.” Nog nooit was ‘n kortverhaal so lank en hartseer nie.

Ons hier in SA ken teleurgestelde hoop. Ons het so gehoop dat Zuma na al sy skandale – Nkandla, die belasting skandaal, Nene, die Guptas, Pravin, om maar ‘n paar wat uitstaan te noem – ons het so gehoop dat hy teen die tyd nie meer president sou wees nie.

Ons het so gehoop dat dit weer duidelik sal blyk dat die Here aan bewind is in SA. Is dit dan nie waaroor verlede naweek se One-Time gebedsbyeenkoms in Bloemfontein, gelei deur die evangelis Angus Buchan, gegaan het nie? Dit is dié geleentheid vir herlewing, het Buchan vooraf gesê (blykbaar vir God hoor sê), nou of nooit! “After 22 April, South Africa will be a changed country,” says Angus Buchan (http://angusbuchan.co.za/wp-content/uploads/2017/03/Its-Time-English-1-Million-pray-in-South-Africa.pdf).

“Ons het so gehoop dat Jesus van Nasaret, die profeet wat magtig was in woord en daad in die oë van God en die hele volk, dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar nou het ons leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig. Intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het.”

Die uitslag is dus vas en seker. Hy het nie gewen nie, Hy het die stryd verloor… Om alles te kroon is daar nou nog ‘n groep vroue uit hulle dissipelgroep wat hulle ook nog ontstel. Die vroue was die oggend vroeg by die graf, maar hulle kon Jesus se liggaam nie vind nie. Hulle vertel dat hulle ‘n visioengesine het van engele wat sê dat Hy leef! Maar van die manne het toe na die graf toe gegaan, en nes die vroue het hulle Hom ook nie gesien nie. Jesus is nie net dood nie, Hy is nog weg ook.

So deel die twee dissipels hulle uitsigloosheid oor die toekoms met die vreemdeling. Of mens hulle op hierdie punt nog dissipels moet noem, is seker ‘n vraag. Want hulle was eens volgelinge van Jesus van Nasaret, maar Hy is nou dood, daar is nie meer iemand om te volg nie.

Die ironie is nou dat hierdie twee manne, sonder dat hulle dit besef, besig is om saam met Jésus te stap, en om vir Jésus te vertel dat Hy dood is. Die einste Een wie se dood vir hulle so hartseer maak, so wanhopig, so twyfelagtig oor wat die toekoms nóú vir hulle inhou, noudat Hy dóód is (en hulle eie leiers het Hom doodgemaak!), hierdie einste Een stap nou in lewende lywe met hulle saam en luister na sy storie vanuit hulle perspektief. Hulle dink nog hulle praat met “die enigste vreemdeling in Jerusalem,” die een wat niks van Jesus van Nasaret af weet nie, maar toe spreek hierdie “vreemdeling” hulle aan en Hy begin om die profete en die Skrifte vir hulle uit te lê, al die gedeeltes wat op Homself betrekking het. “Moes die Christus (dan) nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Asof Hy hiermee wou sê: “Is dit wat gebeur het dan nie juis ‘n bekragtiging van hoop as dat dit ‘n boodskap van wanhoop is nie? Ken julle dan nie julle Bybel nie? Ken julle dan nie julle Here nie?”

Met die kom die drie geselsende manne toe in Emmaus aan, en die “vreemdeling” Jesus maak of Hy verder wou gaan. Maar Kleopas en sy vriend dring by Hom aan: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Hy gaan toe in om by hulle oor te bly.

Om gasvryheid te beoefen was geweldig belangrik in daardie kultuur. Dat die manne vir Jesus (al het hulle Hom as ‘n vreemdeling beskou) ingenooi het, was die ordentlike ding om te doen. Die volgende sou wees dat hulle soos goeie gashere Hom moes bedien met ‘n ete aan tafel. Hulle gaan sit-lê soos in daardie dae toe om die tafel, maar kyk: in plaas daarvan dat Jesus wag om deur sy gashere bedien te word, neem Hy die rol as gasheer oor en word Hy die een wat húlle bedien. Hy neem die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Hierdie handeling van Hom bring die vermoë om werklik te sien wat voor hande is – Wie voor hande is! – na hulle toe terug, en hulle herken Hom. Presies wat die herkenning wakkergemaak het, wee tons nie. Wie weet – dalk het hulle die merkte van die spykers in sy hande gesien toe Hy die brood aan hulle bedien het? En nadat Jesus toe verdwyn het, sê hulle vir mekaar: “Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Amper of hulle met terugskoue wil sê: “Moes ons nie tóé al geweet het nie?!”

Hulle het gedink daar is vir hulle niks meer in Jerusalem oor nie. Hulle het juis daarheen gegaan om fees te vier. Na Jesus se kruisiging en sterwe het hulle hoop op ‘n toekoms gesterf, en het hulle besluit om die stad weer te verlaat. Net om op hulle pad geleidelik te ontdek en later werklik te síén dat hulle hoop nie dood is nie maar léwe; dat die realiteit waarmee hulle na die naweek sit nie Jesus se dood is nie, maar sy opstanding. Dat Hy na alles wat Hy moes ly, weer kon terugkom en nogmaals brood kon breek soos so dikwels tydens sy bediening.

Dit mag dalk lyk asof Jesus inderdaad gesterf het, asof Hy verloor het. Al die bewyse is daar. Die realiteit van die gebeure. Die koning sonder mag. Uitgelewer deur sy eie mense. Bespot en gedood. Die graf. Leeg. Sekerlik nie omdat Hy uit die dood uit opgewek is nie, al sou ‘n groep vrouens dit uit die mond van engele hoor! Sy liggaam is seker eerder verskuif  na ‘n ander graf, of gesteel. Wie weet? Dis elk geval baie meer logies as dat Hy opgewek is… Die realiteite van die normale lewe het gemaak dat die Emmausgangers vir Jesus sien sonder om Hom werklik te sien. Dit sou tog nie sin maak dat dit Hy is wat saam met hulle stap nie. Dis tog nie moontlik nie. Hulle wens so dit was (“ons het so gehoop…”), maar dit is nie.

Totdat Hy, nadat Hy gebid het, die brood vir hulle breek…

Dit herinner ons aan Johannes 21 se vertelling langs die See van Galilea. Ook ‘n groep van die dissipels wat hoop verloor het om die toekoms sonder Jesus in te gaan, en toe weer teruggekeer het na dit wat hulle ken – visvang. Ook daar het die Here hulle kon ontmoet (hulle het nie gevra nie omdat hulle gewéét het dit is Hy – hoe?, maar wel). Ook daar het Hy hulle bedien met brood en met vis. En ook na daardie ontmoeting is hulle uitgestuur om te gaan vertel en om ander te gaan bedien.

Die twee Emmausgangers, soos ook die ander dissipels, wat in die verhaal in soveel vertwyfeling verkeer, soveel uitsigloosheid, is nie mense wat nog nooit in God geglo het nie. Hulle is nie mense wat in elk geval buite die geloofstradisie geleef het nie. Hulle was volgelinge van Jesus, deel van sy wyer kring dissipels. Hulle is mense wat reeds binne-in die geskiedenis van die hoop gestaan het, die hoop dat Jesus van Nasaret die Verlosser van Israel sou wees. Maar nou, na die naweek se gebeure, het hulle hul hoop verloor.

Amper dalk soos ons. In ons eie realistiese situasies van vasgelooptheid en uitsigloosheid. Situasies van wanhoop. In ons verhoudinge. In ons gesondheid, of eerder gebrek daaraan. In ons kinders en hulle donker, onseker toekoms. In ons land… Ons sou kon redeneer dat ons nog nooit ‘n goddelike ingrype so nodig gehad het soos nou nie! “One Time! – Now!,” sê Buchan.

Maar wat het alles gebeur sedert verlede Saterdag se gebedsbyeenkoms? Ja, honderde duisende mense se harte het warm geword tydens die geleentheid. Daarvan is die koerante en sosiale media vol. Maar wat het gebeur? Wat het verander in die land? Waar is daar meer vrede en versoening na afloop van die naweek? Wat eerder hierdie week in die hoofopskrifte uitstaan is die protes en onluste in Coligny en Lichtenburg. So much for hope…

Die Christelike geloof in Jesus se opstanding daag ons uit om nie hoop te verloor nie, al lyk dit asof niks gebeur nie. Dit antwoord is nie of ons in ons honderd duisende saam optrek om op ‘n plaas tot God te gaan bid nie. Dit is, na my verstaan van die evangelie, eerder daar waar 2 of meer in Sy Naam bymekaarkom, sý wil soek, alles in hulle vermoë doen om sý koninkryk sigbaar te maak. Dit is wat die dissipels doen nadat hulle vir Jesus herken. Hulle gaan om ‘n verskil te maak.

Een teoloog maak baie daarvan dat ons eers gebroke harte moet hê voordat ons brande harte kan ervaar. Hy is dalk nie verkeerd nie. Die Katolieke priester/pastor Henry Nouwen neem die vers van Jesus wat die brood geneem, geseën, gebreek en uitgedeel het, en maak dit direk van toepassing op gelowiges se lewens (Life of the beloved). Soos met die brood word ook ons geneem, geseën en gebreek voordat ons gereed is om uitgedeel te word, voordat ons gereed is om ander te help voed en versorg.

“Het ons harte dan nie warm geword nie…?” Die teoloog Gollwitzer skryf: “Van toe af het hulle gewéét: dit mag lyk asof ons totaal en al verlate is, dit mag lyk asof ons self ons eie lewenshoop doodgeslaan het, dit mag lyk asof God Hom heeltemal van ons afgewend het, dit mag lyk asof Christus hoegenaamd nie meer daar is vir ons nie, dit mag lyk asof Jesus en sy Woord en die Heilige Skrif heeltemal doodgegaan het vir ons, dit mag lyk asof daar niks meer is om te hoop nie, dit mag so lyk … en in werklikheid is Jesus reeds lankal met ons op die pad…”

Teen alle hoop in, het ons harte iewers in die verlede warm geword. Dalk verklaarbaar, dalk nie. Maar dis daardie ervaringe wat maak dat ons nie soveel hoop verloor dat ons nie meer kerk toe kom nie. Dis hoekom ons vanoggend hier is. Daar ís hoop want Christus leef. Mag ons daardie vlam vir ander mense sigbaar maak.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 20:1-18 -2017

Paasfees 16 April 2017
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Makliker om op Goeie Vrydag te preek as op Opstandingsondag. Nie omdat ek meer hou van die GV boodskap nie, maar omdat dit vir my baie makliker is om te glo. Mense maak mekaar maklik seer, mense maak mekaar veels te maklik dood. Ek twyfel nie daaraan dat Jesus aan ‘n kruis gesterf het nie. Dit was die gebruik van die tyd waarin Hy geleef het. Soos wat dit gebruiklik was om mense in die WO2 te hang en soos wat Amerika vandag die elektriese stoel of die inspuiting van die dood het.

Maar om mense op Opstandingsondag te oortuig dat Jesus die dood oorwin het (wat dit ookal beteken), dat Hy uit die dood uit opgestaan het, dat Jesus leef en ons met Hom… hierdie gebeurtenis is ongelooflik (unbelievable!). Wat moet ek sê? Hoe moet ek preek? Gaan mense my eens glo? Hoe seker is ek self oor hierdie boodskap? Verstaan ek dit regtig? Wie is ek om dit aan ander te probeer verduidelik?

Dink jou vir ‘n oomblik hierdie scenario in: Iemand vir wie jy baie lief is sterf. Jy was nie self by die begrafnis nie, maar ander mense het jou na die tyd alles daarvan kom vertel. ‘n Paar dae later gaan besoek jy die graf, maar al wat jy vind is ‘n oop gat. Of jy gaan na die begrafnisondernemers om die kissie met die as te gaan haal, maar dis skoonveld. Daar is geen teken van die persoon se dood nie. Wat sal jy dink?

Die eerste wat deur my gedagtes sal gaan is dat dit die verkeerde graf is, of anders het iemand die lyk weggevat of gesteel vir die een of ander rede. Of in die geval van ‘n verassing sal ek dink dat hulle die kissie verlê het of aan die verkeerde persoon oorhandig het of dalk nooit eens dit gereedgekry het nie – wie weet wat nie alles in ‘n krematorium kan skeefloop nie.

Daar is soveel moontlike gedagtes wat deur my kop sal gaan, maar die lááste ding waaraan ek sal dink is dat die persoon teruggekeer het na die lewe toe. Dit is rasioneel ondenkbaar.

En dan, midde jou hartseer en verwarring loop jy iemand raak wat jy nie ken nie; jy deel dalk selfs iets van jou verlies met hom. Maar namate julle met mekaar praat besef jy dis nie dat jy hom nie ken nie, dis dat jy hom nie hérken het nie – dit is die geliefde persoon wat nou die dag gesterf het! Nie dieselfde as wat hy voorheen was nie, maar sonder twyfel hý. Ook nie ‘n spook nie, maar ‘n mens.

Dit is wat Maria Magdalena en van die ander vrouens en die dissipels en ook andere oorgekom het na Jesus se dood en begrafnis. Hulle is nog besig om te probeer sin maak van die omstandighede rondom sy dood, om hulle verlies te probeer verwerk en van Hom afskeid te neem, dan moet hulle al klaar weer “hallo” sê.

Dit was nie in daardie tyd makliker om die opstanding te glo as vandag nie. Dis nie asof mense links en regs opgestaan het uit die dood en teruggekeer het na die lewe nie. Lasarus se opwekking het soveel bohaai veroorsaak dat die priesterhoofde nie net vir Jesus wou doodmaak nie, maar ook vir Lasarus weer wou laat sterf. Dit was ‘n ongehoorde situasie – dat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.

Ja, daar is nog gevalle in die Bybel van mense wat uit die dood uit opgewek is. 3 voorbeelde in Konings waar Elia en Elisa mense opwek. Jesus wat Jaïrus se dogtertje opwek, of het sy dalk net geslaap soos Jesus sê?

Daar was in die daardie tye al verskillende strominge rondom die verstaan van lewe na die dood. Die Jode en Samaritane het geglo dat die regverdiges eendag uit die dood sal terugkeer na die lewe. Die Makkabeërs het geglo in die eendagse opstanding van die fisiese liggaam. Die Sadduseërs glo weer nie in die lewe na die dood nie. Die Fariseërs sê dalk tog wel, maar dan seker net die siel en nie die mens se liggaam ook nie (Josephus). En Paulus praat graag van die opstanding van die geestelike liggaam. Daar was geen eenvormige verstaan van die opstanding van die dooies nie. En om aan die een kant dalk daarin te glo, maar dit aan die ander kant met jou eie oë te beleef – dis ook twee heeltemal verskillende dinge.

As hulle alreeds so gesukkel het om die opstanding te verwerk en te aanvaar, hoeveel te meer nie ons vandag met al ons kennis oor die menslike fisiologie, die onomkeerbare einde van die liggaam se lewensprosesse en die ontbinding wat kort daarna intree nie. G’n wonder dat daar soveel logiese verklarings aangebied word oor wat regtig gebeur het met Jesus se opstanding nie…

Dit was byvoorbeeld nie ongewoon vir boosdoeners of diewe om lyke uit grafte te steel nie. Mense het dit as verklaring aangebied vir Jesus se liggaam wat weg was – Die dissipels en Jesus se volgelinge dink dat die soldate dalk sy liggaam gesteel het. Die priesterhoofde en soldate is weer van mening dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het sodat hulle daarna aan die storie van die sogenaamde opstanding lewe kan gee. Tertullianus haal ‘n gedeelte aan waarin die Jode die spot dryf met Jesus en sy dissipels wat geglo het dat Hy uit die dood opgewek is. Intussen was dit net die tuinier wat sy liggaam weggeneem het sodat die baie besoekers nie sy slaai plantjies sal verniel nie!

Dat ons Christelike geloof juis geanker word in die opstanding van Jesus Christus, dat dit die wortels is van ons geloof, veroorsaak daarom vir baie van ons ‘n groot probleem. Selfs ‘n verleentheid. Kon ons kerkvaders nie maar iets anders gekies het as die kernwaarheid waarby ons geloof staan of val nie?! Maar dit kom nie eers van die  kerkvaders af nie. Dit is nie iets wat iewers in ons Xlike tradisie bygevoeg is nie. Jesus het dit al gepredik! Hy is die een wat terwyl Hy nog gelewe het sy dood en sy opstanding onlosmaaklik aan mekaar verbind het – dat Hy sal sterf maar op die derde dag weer opgewek sal word.

Vandag se teks:

Jesus verskyn eerste aan Maria Magdalena. Ook die ander evangelies berig dat Jesus heel eerste aan die vrouens verskyn het. Vreemd, want die getuienis van vrouens was nie ge-ag nie. Daarom word hul getuienis in Lukas 24 deur die dissipels as leë praatjies afgemaak. Maar waar daar twee of drie manlike getuies is: Now we’re talking! Dan is dit inderdaad ‘n saak vir ernstige oorweging.

Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (dalk Johannes?) luister na Maria wanneer sy die nuus aan hulle kom meedeel (dat Jesus se liggaam weg is) en hulle jaag resies na die graf toe. Johannes is eerste daar, maar Petrus gaan eerste in. Hulle sien die linnedoeke wat om sy lyf was aan die een kant en die doek wat om sy kop was netjies opgerol aan die ander kant van die graf. So lyk ‘n graf nie waar daar ‘n inbraak was nie. Jesus se liggaam is nie gesteel nie.

Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moes opstaan nie, maar ten spyte daarvan dat hy dit nie verstaan het nie, het Johannes dit wel geglo toe hy die leë graf en die linnedoeke sien. Wat Petrus gedink het, weet ons nie. Maar nadat hulle die leë graf gesien het, het hulle albei huis toe gegaan. Waarom sou dit wees? Was hulle bang om langer daar rond te hang? Het hulle aan skok gely? Hoekom gaan vertel hulle nie dadelik vir die ander nie?

MM bly agter. Hartseer. Huil eers omdat haar Here dood is, maar nou huil sy ook omdat sy liggaam weg is. Kyk in die graf en waar die twee mans die doeke gesien het, sien sy nou twee engele by koppenent en voetenent. In die ander evangelies lees ons van die vrouens se vrees en verbasing by die aanskoue van die engele, maar Johannes lig dit nie uit nie.

Vrou, waarom huil jy?

Hulle het my Here (Kurion) weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.

Draai om, sien Hom daar staan maar misgis Hom vir die tuinier.

Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?

Meneer (Kurei), as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.

Maria!

Herkenning

Hebreeus: Rabbouni! Dit beteken Leermeester. (In die aanhoor van haar naam herken sy Hom.)

Rabbouni – een van die langer vorme van Rabbi. Meer gewigtig, dra meer respek as die eenvoudiger Rabbi. Maria se verhouding met die Here het verdiep in hierdie herontmoeting.

In lyn met die Oosterse gebruike (en soos wat Matteus beskryf) wou Maria waarskynlik voor Jesus neerval en sy voete vasgryp – ‘n vreugevolle daad van aanbidding gekombineer met haar eenvoudige begeerte om vir Jesus vas te hou, ‘n gebaar van liefde.

Maar Jesus keer haar: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers (dissipels) en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Of Maria geweet het wat Jesus hier bedoel, weet ons nie, maar sy het gaan vertel. Markus berig dat die dissipels haar nie geglo het nie. (Sy was mos maar net ‘n vrou. Jesus moes self aan hulle verskyn.)

(Ek ook maar net ‘n vrou…)

Ook ander verskynings.

As reisiger wat aansluit by die Emmausgangers. Loop en gesels. Hy vra uit oor die gebeure van die naweek en hulle vertel Hom van sy eie dood! Later eet hulle saam. Toe Hy die brood breek herken hulle Hom.

“Het ons harte dan nie gebrand nie…?” (Lukas 24)

Visserman by die see besig om vis te braai. Dissipels kom terug strand toe na ‘n onsuksesvolle nag op die water. Die visserman staan op en gee raad – gooi die net die kant uit. Hulle trek honderde visse.

Herkenning

Die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: “Dit is die Here!” (Joh 21)

Hoe het hulle geweet? Ek weet nie. Hulle het nie dadelik geweet nie. Maar iewers het die dinge vir hulle in plek geval en het hulle net eenvoudig gewéét: Dit is Hy. Rabbouni, Here, Kurios…

Meestal leef hulle in onsekerheid, selfs in vrees. Bly die gebeure rondom Jesus se opstanding vir hulle ‘n raaisel. Weet hulle nie of hulle dit kan glo nie. Sommiges soek bewyse (Tomas). Maar midde die twyfel kom daar dan momente van herkenning, van sekerheid, oomblikke van geloof midde die lewens van ongeloof, oomblikke van hoop midde die wanhoop. Steeds onverklaarbaar, maar ten spyte daarvan tog wáár.

En vandag? Steeds die soeke na die opgestane, lewende Here. Later ophou soek, moeg gesoek, dit maak in elk geval nie sin nie, is in elk geval nie moontlik nie.

Hoe moet ek julle oortuig? Dit is nie my werk om te oortuig nie. Dis nie eens my werk om myself te oortuig nie. Net soos wat dit nie Maria se werk was om die dissipels te gaan oortuig nie.

Nie oortuiging, maar ontmoeting.

Jesus sê vir haar dat sy moet gaan vertel, dis al. Vertel wat sy gesien het, met wie sy gepraat het, dat sy toe Hy haar naam noem besef het;

toe Hy vir die manne van Emmaus die brood breek toe weet hulle dat hulle eintlik al netnou op die pad geweet het (het hulle harte dan nie gebrand nie?);

toe Hy vir die vissermanne help om hulle net vol te kry: Dit is die Here!

Dis al wat ons het. Hierdie vertellings.

Ja, glo dit of nie, maar dit is sowaar Hy!

3 groepe mense in die kerk vanoggend (en baie tussen-in):

  • Die van ons wat die opstanding glo sonder skroom – Goddank vir hulle.
  • Die van ons wat baie vrae en onsekerhede het, maar nietemin dit opsy kan skuif as hulle voor ‘n besluit te staan kom en tog kan bely dat hulle glo in die opstanding. (Soos Johannes wat nog nie die Skrif oor die opstanding verstaan het nie, maar tog in die opstanding van Jesus geglo het toe hy in die graf inkyk en die doeke sien lê.) Dankie ook vir mense soos hulle.
  • Die van ons wat twyfel, dit nie kan glo nie al sou ons wou. Ons is nie vanoggend hier omdat oortuiging ons hierheen getrek het nie, maar bloot op grond van die vertellings/getuienisse van ander. Om daarmee vorentoe te gaan, moet hierdie groep van ons probeer om op ‘n ander manier daarvan sin te maak. Dat ons gekom het (ten spyte van) is reeds genoeg.

Nou nagmaal. Geen formulier. Geen vereistes. Net ‘n uitnodiging. Ongeag of jy verstaan en hoeveel jy verstaan – die nagmaal gaan nie oor verstaan nie, dit gaan oor ontvang. Dis vir almal.

Wat met die oop graf alles sigbaar word

15 April 2017 18:51

Dat die gesindheid wat in Jesus Christus was ook in ons sal wees, is dalk die heimlike verlange van talle van ons, selfs van vele wat nie eintlik deel van die sigbare kerk voel nie, sedert Paulus die gemeente van Filippi destyds met dié bekende woorde oproep (Fil. 2:5).

Maar watter gesindheid is dit? Wat was presies dié gesindheid?

Dis nogal merkwaardig hoe Paulus dit self beskryf – dalk anders as wat vele van ons sou doen. Hy haal naamlik ’n vroeg-Christelike gesang aan wat besing wat Christus gedoen het sodat sy gesindheid uit dié roemende beskrywing van sy optrede kan blyk.

Die eerste woorde bied al die sleutel. Christus het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, sê hy letterlik. Hy het nie sy goddelike status beskou as iets waaraan hy tot elke prys moes vasklou, iets om te gryp, om te roof en besit en behou nie, iets waardevols en groots waarvan hy nie kon afsien nie. Inteendeel. Dis die gesindheid waarvan Paulus praat, wat ook in ons behoort te lewe – nié ’n gees van roofsug en grypsug en hebsug en aanspraak maak en opeis en toeëien en vasklou nie.

Die strofes wat volg, illustreer dié gesindheid stapsgewys – Christus lê af, gee prys, verloën homself, word mens, word slaaf, sterf vir ander, ja, ’n skanddood, alles dramaties in één Griekse woord gebundel wat die kerk vir eeue sou boei en verbaas en meermale verbyster: kenosis, aflegging, ontlediging. ’n Vreemde woord vir ’n vreemde gesindheid – in ons tyd dalk selfs nóg vreemder. Dís waarvan Paulus praat – nie roof, nie vasklou, nie aanspraak maak nie, maar aflê.

In ’n land, tydsgees, kultuur, samelewing soos ons s’n vandag – met die openbare figure, politici, leiers, suksesstories, celebrities wat ons daagliks aanskou, dikwels rolmodelle van presies die teendeel van dié gesindheid – mag sy oproep vir vele onbegryplik klink, wêreldvreemd en ondenkbaar.

Maar dalk was dit in sy eie tyd eintlik ook al so. Dalk is dit hoekom die gesang voortgaan en besing hoe Christus juis vanweë dié gesindheid verhóóg is, opgewek, verrys, vereer, met glans gekroon en geroem bo alle name. Om ons te herinner hoe kruis en oop graf, hoe aflê en opstaan, hoe afsterf en nuwe lewe, intiem saamhang. Dalk is dit asof Paulus wou sê: Ecce, Dominus. Aanskou, die Heer. Aanskou ware grootsheid, ware leierskap, ware heerlikheid, ware lewe. Ja, aanskou God self. Wie vra en verlang na God, aanskou dié vreemde kenosis-figuur? Want so lyk God? En so lyk die gesindheid wat ook in ons en onder ons sou kon wees – hoe vreemd ook al? – DJS

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 18:1- 27 -2017

14 April 2017 Pinelands Goeie Vrydag
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die afgelope Sondag het Christene in Egipte oudergewoonte kerk toe gegaan. Dit was Palmsondag, ‘n baie belangrike Sondag vir die Koptiese Christene in Egipte (Kopties beteken Egipties – Arabiese woord “kopt”), want dis die inleiding tot die belangrikste week in ons kerklike tradisie – lydensweek wat uitloop op die kruisiging. Terwyl die dienste aan die gang was het ISIS by twee van die kerke ontwrigting veroorsaak wat tientalle mense se lewens gekos het – by die kerk in Tanta en ook in Aleksandrië. Ons dink vandag aan die families in Egipte wat die seer en die lyding, die verlatenheid van die hierdie week so persoonlik aan hulle lyf voel…

Dirkie Smit skryf in Saterdag se koerant ‘n artikel: “Wat nagte van verraad alles sigbaar maak”. Hy vertel da die teoloog Michael Welker dikwels die gebeure wat ons hierdie week herdenk, beskryf as “die nag van verraad”. Daarmee, sê Dirkie, “bedoel hy nie net Judas nie, maar dat in dié nag sigbaar word hoe die hele mensheid faal in menswees, hoe ons ons verantwoordelikheid verraai, ontrou word aan ons eie integriteit. Dit is asof álles wat veronderstel is om góéd te wees in dié nag faal, sê Welker, asof álles saamspan om Jesus te verraai – politiek (die goewerneur van die roemryke Romeinse Ryk misluk), kultuur (die stem van klassieke kultuur en kennis vra vertwyfeld wat waarheid is), reg­spraak (sowel Joodse as Romeinse regsisteme misbruik skynverhore om onskuld skuldig te verklaar), openbare mening (die skare verkies skreeuend misdadigers en geweldenaars), die kerk (godsdienstige leiers verwerp en dissipels verloën dié mens).

En daar is altyd wéér sulke nagte, dis ons geskiedenis, ons aard, ecce homo, kyk net wat ons doen – aanvang of toeskou en toelaat, selfs goedkeur, dalk net ignoreer. Nagte waarin politieke leiers hul eie mense verraai, howe die reg verdraai, kultuur verander in propaganda en leuens, godsdiens en kerk mense uitsluit en verneder, ondersteuners lustig meedoen aan die openbare goedkeur van korrupsie en geweld en magsmisbruik.” Dan gebruik Dirkie ‘n voorbeeld wat ons goedskiks souk on vervang met die gebeure van die afgelope Sondag – onskuldiges word om die lewe gebring terwyl hulle kerkgaan, en die wêreld hoor daarvan, maar ons het waarskynlik meeste al weer vergeet – amper asof ons dit oor ‘n afstand heen toelaat… of dalk net ignoreer?

“Nes sovele ánder kere en ánder plekke en ánder nagte van soortgelyke verraad”, sluit hy dan sy artikel af.

In hierdie donker tyd van die mensdom, ook ons land en ons eie kerk se geskiedenis, lees ons Johannes 18: 1-27.

3: die wagte in diens van die priesterhoofde en Fariseërs; dws op die stadium nog nie die Romeinse owerheid nie maar aan die Joodse wagte.

4: Die mag van sy inhegtenisname is dus in Jesus se eie hande, want Hy weet dat sy tyd, sy uur van verheerliking aangebreek het.

12: Jesus word nie teen sy wil en wete weggesleep deur die soldate nie. Nee, Hy gee Homself oor, Hy laat Hom neem. Hy is in beheer.

15: (lett) was ‘n vriend van die hoëpriester…

18: Sommige vertalings sit vers 18 in hakies. Die outeur meld so terloops, in die verbygaan, van die slawe en wagte by die vuur en Petrus by hulle.

21: hulle weet/verstaan wat Ek gesê het

25: Intussen het Petrus hom nog gestaan en warm maak… (NET)

26: Petrus is hier in ‘n hoek vasgekeer, want hy was immers die dissipel wat Malgus se oor afgekap het. Natuurlik sou ‘n slaaf wat daar was hom onthou. Maar Petrus is so desperaat dat hy sy verhouding met Jesus nogmaals ontken.

27:onmiddellik/op daai oomblik het die haan gekraai”

‘n Verhaal oor verraad en verloëning. ‘n Paar jaar terug was daar ‘n artikel in die Burger waarin dit lyk asof die verraad van Judas en die verloëning van Petrus eintlik maar dieselfde ding was. Word daar, byvoorbeeld, in die artikel gepraat van die “verraad van Petrus”.

Heel eerste dus: Wat beteken die Griekse woorde wat hier vertaal word met “verraad” en “verloëning”?

Verraai (paradidoomi): betray, to give over from one’s hand, to hand someone over/deliver/entrust to someone else… (die ironie van “entrust” hier…, Judas het bewustelik/berekend vir Jesus aan die “vyand” toe-ver-trou)

Verloën (arnêomai): deny, ontken verhouding met ‘n persoon, be untrue/be false to oneself (acting contrary to one’s true character)

Verraad het ‘n stuk kwaadwilligheid daaraan. Dit is om iemand doelbewus oor te lewer, en in daardie daad toe te vertrou!, aan die vyand. Verloëning, lyk dit my, is nie ‘n daad wat vanuit kwaadwilligheid gebore word nie, maar eerder vanuit vrees, onsekerheid of skaamte of dalk selfs teleurstelling in die persoon vir wie jy verloën. Om iemand te verloën is om hom of haar uit jou lewe uit weg te wens, terwyl hy of sy eintlik diep deel is van jou lewe. Dit is om jou rug te draai op iemand wat naby aan jou is.

Jesus het sy dissipels, sy volgelinge, teleurgestel. Hulle het gedink dat Hy die Romeinse mag sal breek en die nuwe koning van die land sal wees. Hulle het gedink dat Hy sal regeer en dat Hy die Joodse volk se eer sal herstel, nadat hulle lank terug reeds met die ballingskap alles verloor het en sedertdien nooit weer heeltemal daarvan herstel het nie. Maar toe dit blyk dat die dissipels sy identiteit, wie Hy is en wat Hy kom doen het, misverstaan het, toe dryf dit die een tot verraad (en hy kry nog omkoopgeld ook daarvoor!) en die ander tot verloëning (“Ek ken Hom nie”). Petrus wat belowe het dat hy aan Jesus getrou sal bly, selfs al kos dit hom die dood. En gisteraand lees ons in Matteus se vertelling dat die ander dissipels beaam het wat Petrus sê, dat hulle ook beslis nie vir Jesus sal verloën nie.

Maar toe die wagte en die slawe van die sinagoge in die tuin opdaag, toe verander alles. Petrus probeer nog sy man te staan – hy wil sy leier Jesus verdedig. Op hierdie stadium het hy dalk nog hoop dat Jesus die koning sal word en dink hy dis nou uiteindelik die begin van die rebellie. En hy kap Malgus se oor met sy swaard af om dinge in beweging te bring. Maar Jesus spreek hom aan: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader my gegee het nie?” En Hy gee Homself vrywilliglik oor in die boeie van die wagte.

En net hier verdwyn die dissipels soos mis voor die son. Ons lees net van twee wat bly rondhang om te kyk wat gaan gebeur. Petrus, natuurlik, hy het immers ten sterkste belowe hy sal getrou bly tot aan die einde. En het hy nie nou net weer sy lojaliteit bewys toe hy sy swaard uitgetrek het nie? Hy kan mos nie nou weghardloop nie. En dan die dissipel van wie ons die naam nie ken nie. Dalk gaan die twee saam om vir Jesus in die bresse te tree. Mens is amper lus en haal jou hoed vir hulle af wat, wanneer almal laat spaander, nog bereid is om verder saam met Jesus die pad te loop, selfs al is Hy in boeie en lyk sy toekoms maar somber. Maar dit is tog opvallend dat die skrywer dit nodig ag om twee keer te noem dat die dissipel van wie ons die naam nie ken nie, ‘n vriend was van die hoëpriester. Dit beteken dat hy self nie te onveilig voel om saam te gaan en op hoogte van sake te bly nie. Hy het darem kontakte in hoë plekke, VIP’s wat hom kan beskerm.

En toe verskyn Jesus voor die hoëpriester Annas. Petrus hou terug buite die paleis van die hoëpriester. Maar die dissipel met kontakte kry hom in die binnehof, daar waar die slawe en die wagte rondom die vuur staan. Die diensmeisie by die deur wil by hom weet of hy dan nie een van hierdie man se dissipels is nie? “Nee, ek is nie!” Dis koud en hy maak homself lekker warm by hulle vuur.

Intussen word Jesus deur Annas ondervra, vreemd genoeg, nie oor Homself nie, nie oor wat Hy gedoen het nie, nie eens in die eerste plek oor sy leringe nie; maar Hy word ondervra oor sy dissipels en daarna ook oor sy leer. En van sy hoofdissipel, sy regterhand, het ons nou net, sommer so terloops, gelees hoedat die hom verloën, en hoedat hy hom lekker by die vuur saam met die wagte staan en hande warm vryf.

Dit word erger. Want kyk hoe antwoord Jesus vir Annas oor sy dissipels en sy leer, terwyl meeste van hierdie dissipels ons weet nie waar is nie, en Petrus in ontkenning hom knus maak om die warm vuurtjie buite die deur. Jesus antwoord met: “Moenie vir Mý vra nie. Vra my dissipels en my volgelinge. Vra vir diegene wat My hoor praat het. Ek het hulle altyd in die sinagoges en die tempel geleer, daar waar al die Jode bymekaar kom. Ek het niks in die geheim gedoen nie. En Ek het niks om weg te steek nie, niks om oor skaam te wees nie… Waarom vra u My? My tyd het aangebreek. Ek is klaar met mense leer. Hulle is opgelei en gereed. Hulle weet dat hulle nou my bediening moet verder vat. Dis nou in hulle hande. Hulle sal My verteenwoordig…”

Hoor julle die vertroue wat Jesus in sy dissipels stel? Hy het hulle tog geleer. En Hy het vir hulle gebid (Joh 17!). En Hy het hulle gestuur, soos die Vader Hom ook gestuur het. Sy uur het gekom, sy tyd om die wil van die Vader te doen, sy tyd van verheerliking, van kruisiging. Sy volgelinge sal nou sy saak verder vat, hulle sal die goeie nuus van sy oorwinning versprei. Sy dissipels sal … Petrus hulle sal.

En terwyl Jesus nog so praat, terwyl Hy sy dissipels so hoog opgee, hoor almal daar buite ‘n haan wat kraai… Terwyl Jesus sy vertroue uitspreek teenoor die mense vir wie Hy so ernstig gebid het, verloën die een naaste aan Hom Hom vir ‘n tweede en ‘n derde keer, lekker warm daar om die vuur.

In Jesus se donkerste uur word Hy deur sy eie mense versaak. Die naaste aan Hom. Sy dissipels. Eers is daar een wat wegloop, met ‘n geldjie (30 silwer muntstukke) in die sak. Dan laat spaander die meeste ander, maar twee bly oor. Een trippel ongemaklik langs ‘n vuur rond en skud sy kop terwyl Jesus aan die ander kant van die deur ondervra word (“Ek ken Hom nie.”) So die een steek Hom in die rug en die ander draai hulle rug op Hom.

Maar hierdie is nie net ‘n verhaal oor verraad en verloëning nie. Terwyl die dissipels so aan hulleself dink, dink Jesus aan almal behalwe Homself, dink Jesus aan hulle. Dis ‘n verhaal oor verraad, verloëning en vertroue. Die Een wat verraai en verloën word, spreek sy vertroue uit in diegene wat Hom verraai en verloën… Hy gló in hulle, dit terwyl hulle nie meer kans sien om in Hom te glo nie.

Jesus is nie net deur sy vertrouelinge verraai en verloën nie. In hfst 18-19 lees ons dat Hy nog etlike kere verraai (uitgelewer) is in die proses van sy verhoor:

Vs 30 deur die hoëpriester Kajafas

Vs 35 deur sy volk en die leierspriesters

Vs 36 deur die Jode (weer die volk)

19:11 deur Kajafas

19:16 deur Pilates wat op die stadium lyk asof hy Jesus se enigste moontlike hoop, sy laaste vriend was.

En tog – 19:26-30. Sonder weerwraak, toe die vroue en die dissipel vir wie Jesus lief was (miskien Johannes self?) dit by die kruis waag en Hy hulle sien, toe Hy sy moeder sien en ook die een dissipel, toe spreek Hy steeds sy vertroue in hulle uit! Hy vertrou hulle aan mekaar toe.
En sien ook hoedat Hy later langs die See van Galilea al sy skape opnuut aan Petrus toevertrou – die een (en almal) wat Hom versaak het…

Soos wat Hy ons ook vandag aan mekaar toevertrou. Die wêreld en die mense daarin, die mense in nood, aan ONS toevertrou – om vir hulle te sorg, te beskerm, by te staan, lief te hê – nie soos ons onsself liefhet nie, maar soos wat Hy ons liefgehad het (Joh 13 – voetewas en lewe aflê)!!! Dít is die laaste woord wat Hy oor die liefde spreek.

Dit lyk my verraad en verloëning sal daar altyd wees. Dis die gang van ons wêreldse natuur en begeertes. Dis die spykers waarmee Jesus aan die kruis vasgenael is. Maar sy vertroue is sterker as die dood. Jy het Hom ook verraai en verloën – maar reg aan die einde, voordat Hy sterf, is Hy nietemin nie moedeloos nie, het Hy steeds hoop. Vanoggend, hier, sien hoedat Jesus aan die kruis hang en soos met die vrouens en die dissipel vir wie Hy lief was, jou ook in die oë kyk, en sy laaste opdrag voordat Hy sterf aan jou: ek jou vir hom, en jou vir haar en hom vir haar en julle vir hulle daar buite – Ek gaan nou, maar sorg julle van nou af vir mekaar, wees vir melaar lief soos wat Ek julle liefhet, dit is hiervoor dat Ek my lewe aflê.

As ons vanoggend van die kruis as wegdraai en hier uitstap, is daar geen ander weg om te gaan nie, daar is nét hierdie één pad. Om uit te gaan en vir mekaar te gaan sorg.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 11:1-45, 53 – 2017

2 April 2017 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Evangelie van Johannes 1: inleiding, 2-11: boek van die tekens (7 wondertekens), 12-21: passieverhaal.

Eerste wonderteken is by die bruilof – die verandering van water in wyn. Laaste wonderteken is by ‘n bergrafnis – die opwekking van Lasarus uit die dood.

7 Ek is uitsprake: 1. Joh. 6:35 — “Ek is die brood vir die lewe.” 2. Joh. 8:12 — “Ek is die lig vir die wêreld.” 3. Joh. 10:7 — “Ek is die deur vir die skape.” 4. Joh. 10:11 — “Ek is die goeie herder.” 5. Joh. 11:25 — “Ek is die opstanding en die lewe.” 6. Joh. 14:6 — “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” 7. Joh. 15:1 — “Ek is die ware wingerdstok.”

Konteks: Jesus is in die moeilikheid. Amper gestenig. Moes Jerusalem verlaat, woestyn toe gaan sodat die gemoedere van die Joodse leiers kon bedaar.

Nuus van Lasarus se siekwees. Johannes die evangelis is ‘n uitmuntende skrywer /storieverteller. Vertel die verhaal, maar verskaf die leser/gehoor ook tussendeur met agtergrondinligting. Nie duidelik aangedui in die teks nie: Vs 2, 5, 13, 16 (wat bekend staan as Didimus).

Een van die sleutels vir ons verstaan van die teks, dink ek, lê juis in een van hierdie stukkies agtergrondinligting (vs 5). Wanneer Johannes skryf, het hy reeds die pad end-uit met Jesus geloop en weet hy baie meer as wat die karakters in die verhaal op hierdie stadium weet… (meer hieroor later: phileo vs agape)

Teks:

Vs 2: Agtergrond. Die salwing vind eers in hfst 12 plaas. Johannes veronderstel dus dat sy lesers vertroud was met die evangelies van Markus en Matteus.

Dit lyk asof die drie saam in ‘n huis gewoon het. Nie een was dus getroud nie en Lasarus was die primêre versorger van sy susters. Hy het die geld ingebring, sonder hom was hulle lewens in groot moeilikheid.

(Vs 3: Phileo)

Vs 4: Herinner aan laasweek se teks: Joh 9 die man wat blind gebore is: Nie weens sy eie sonde of die sonde van sy ouers nie, maar sodat die werke van God in hom gesien kan word.

Hier gaan dit egter nie bloot om die dade van God nie, maar om die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. Hier moet daar reeds ‘n liggie vir ons aangaan, want op watter manier word die Seun van God vlgs Johannes verheerlik? – deur sy kruisdood.

(Vs 5: Agtergrond. Agape)

Vs 6: Vertoef. Nie vasgedraai of opgehou deur een of ander krisis daar nie. Hy het doelbewus teruggehou, vertoef voordat Hy gegaan het.

Vs 11-12: Slaap – metafories in die lig van die NT geloof in die opstanding.

Vs 13: Agtergrond.

Vs 16: Agtergrond. Betanië was naby Jerusalem, omtrent 2 myl daarvandaan. Pessimistiese uitspraak – seker daarvan dat Jesus, en hulle saam met Hom, doodgemaak sal word deur die leiers as hulle dit noun aby Jerusalem waag. Tog ook baie lojaal teenoor Jesus. Ons ken hom net as die ongelowige Thomas, jammer, want hy was eers die lojale Thomas voordat hy die ongelowige Thomas geword het.

Vs 17: 4 dae: Die mense het geglo dat ‘n mens se gees vir 3 dae nadat jy gesterf het steeds by die liggaam rondgehang het in ‘n poging om iewers weer toegang tot die liggaam te kry. Eers teen die 4e dag, wanneer ontbinding intree, het die gees die liggaam finaal verlaat. Om dus te sê dat Lasarus al vir 4 dae dood is, is amper soos om te sê hy is morsdood, daar is geen kans vir herlewing nie, alle hoop is verlore. Wie weet, indien Jesus tydens die eerste 3 dae opgedaag het, was daar dalk nog ‘n kans. Maar nou het Hy al sy kanse verspeel. (Dalk ook juis om hierdie rede dat Jesus vertoef het voordat Hy gekom het – juis omdat Hy van plan is om die ONmoontlike te doen, en nie die miskien-nog-moontlike nie.

Vs 19: Die Jode = vriende, familie en kennisse

Vs 20: Eie aan haar aard: Martha die doener, sy gaan na Jesus toe terwyl Maria in die huis bly sit.

Vs 22: Martha spreek nie hier haar geloof uit dat Jesus steeds vir Lasarus kan opwek nie, maar meer  algemeen – alhoewel U nie betyds gekom het nie, glo ek nog steeds in U.

Vs 25: Ek is – uitspraak

Vs 28: Eenkant toe geroep – miskien omdat sy nie die rouklaers wou steur nie, en omdat sy nie aandag wou vestig op Jesus wat gekom het nie?

Vs 33: Maria, die vriende, familie en kennisse huil = treur, rouklag (lament)

Vs 35-36: Jesus huil: stort trane (saggies?, nie die weeklag van rouklaers nie) – Waarom? Nie omdat Lasarus dood is (soos die mense gedink het) nie, want Hy weet tog Hy gaan hom opwek. Dalk geraak deur die intense hartseer van Maria. Dalk ook ‘n vooruitskoue – Hy staan buite ‘n graf, maar Hy weet dat Hy binnekort die een aan die binnekant sal wees?

Vs 44: Lasarus kom uit met die grafdoeke. Uitleggers meen dat dit daarop dui dat hulle weer eendag die doeke gaan nodig hê by Lasarus se volgende begrafnis. Want omdat hy opstaan in hierdie lewe, sa hy weer hierdie dood moet sterf. Na Jesus se sterwe het Hy in ‘n nuwe lewe opgestaan en daarom kon Hy die grafdoeke binne-in die graf los. Hy gaan dit nie weer nodig hê nie.

-Meeste teoloë weet nie wat om met hierdie verhaal te maak nie. Omtrent alles wat ek gelees het, is bloot oorvertellings van die Bybelse verhaal self en as ek aan die einde van die uitleg>vertelling kom en verwag om dan verder oor die betekenis van die verhaal na te lees, dan eindig dit net daar stomp. “Maak hom los en laat hom gaan. Amen.”

Sommige maak hiervan ‘n geliefde begrafnisteks. Dit is dit egter nie. Lasarus staan nie op in die ewige lewe nie, hy gaan weer eendag sterf.

-Die rede waarom hierdie verhaal so vreemd op die oor val, nog meer vreemd as al die ander tekens: Daar is min plekke in verhaal van Jesus waar die afstand tussen ons wêreld vandag en die wêreld waarin Hy geleef het, so duidelik na vore kom. Wanneer laas het enige van julle gehoor van iemand wat uit die dood opgewek is? Ek praat nie oor die lewe hierna nie – dit gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor iemand wat doodgaan en dan opgewek word om voort te gaan met die lewe. Natuurlik is daar mense wat aansprake maak op skyndood (en vele boeke daaroor geskryf, selfs flieks gemaak), maar dis nog nooit wetenskaplik bewys nie.

Daarteenoor was dit in die tyd van die Jesus die ultimate bewys van goddelike krag – Mense se groot vrees was dat hul eendag sou ophou lewe en dat siekte jou daarby gaan uitbring. Jy moes dus so leef dat, as jy daar kom, hoop jy om op ‘n beter plek te wees as nou (konsepte van hemel en hel het al begin ontwikkel anders as in die OT).

Ons is dus vandag ver weg van die belewingswêreld van die mense van daai tyd. Enige een wat dan sou opgestaan en aanspraak maak daarop dat hy mag het oor lewe en dood, sou ‘n bedreiging wees vir enige godsdienstige struktuur.

Die ironieë in die verhaal

  1. Dat Jesus hier iemand uit die dood opwek, en dit is juis hierdie wonderteken wat die laaste strooi is. Nou het Jesus sy Ek is-aansprake en sy tekens een te ver gevat. Na hierdie teken het die Joodse leiers nie meer net gedreig nie, maar beraadslag om Hom dood te maak. Hierdie daad het die bal van sy kruisiging aan die rol gesit. Jesus wat vir Lasarus uit die dood opwek, moet vlgs die evangelie van Johannes vir hierdie wonder met sy eie lewe betaal.
  2. Die ander ironie is dat Jesus hier vir Lasarus uit die dood uit opwek, maar Homself nie van die dood kon red nie.

Ek wil graag 2 sentrale temas in die teks uitlig:

  1. Die aard van die liefde

Vs 3: Die susters stuur ‘n boodskapper om vir Jesus te sê dat hy vir wie Jesus lief – phileo – is, siek is.

V5 se terloopse, agtergrond inligting – geensins terloops nie: Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad – egapa>agape.

Teen die tyd dat Johannes sy evangelie geskryf het, het hy baie meer van die liefde verstaan as wat Martha en Maria op hierdie stadium verstaan het. Daarom dat hy so kragtig in hfst 21 die verhaal langs die see weergee waar Jesus na sy opstanding vir Petrus vra of hy Hom agapao, en Petrus elke keer antwoord met “Ja, Here, U weet dat ek U phileo.” En dan Jesus se derde herhaling van sy vraag: “Petrus, phileo jy My?” En Petrus: “Here, U weet alles, U weet dat ek U phileo.” En Jesus se reaksie: “Nou maar dan is dit vir nou ook genoeg. Ek gaan jou nie los omdat jy My nie liefhet soos Ek jou liefhet nie. Laat my skape wei.”

Johannes het die verskil tussen phileo en agape baie goed geken. Wanneer hy dus in terugskoue vertel dat die susters ‘n boodskapper gestuur het om vir Jesus te sê dat die een vir wie Hy phileo, baie siek is, bring Johannes eintlik ‘n korrektief aan in sy agtergrondsinligting in vs 5: Onthou nou, lesers, Jesus het nie net vir Lasarus ge-phileo nie, Hy het hom en sy susters ge-agapao. Hy het hulle liewer as net sy emosies gehad. Hy was bereid om sy lewe vir hulle af te lê.

As die verhaal tot ‘n einde kom, die harde nuus: Jesus sou vir hierdie wonderteken wat Hy vir die susters en Lasarus verrig het, inderdaad met sy lewe betaal. Vanuit sy agapao vir hulle, sterf Hy sodat hulle mag lewe.

Die groot boodskap in Johannes is dat natuurlike liefde (broederliefde, alhoewel soms ook nie, en vriendskapsliefde, hou- van-liefde) radikaal deur agape gewysig word. Terwyl Jesus vir hulle lief was soos mens vir ‘n broer is, soos jy is vir iemand vir wie jy omgee en wat vir jou spesiaal is, kom hier ‘n volgende radikale verandering van die agape liefde wat oor grense gaan (selfs die mees gevreesde grense), wat in ‘n ander een se skoene gaan staan (medelye), wat die ander se wêreld betree, wat mense se nood verlig, wat hoop gee waar daar glad nie meer hoop is nie. In daai lyn dat ons as Christene vandag steeds volgelinge van Jesus kan wees en behoort te wees. Hierdie ander liefde waarmee jy weer gebore word (opvolg met vorige preke – Nikodemus, vrou by die put, man blind gebore) – gaan oor iets wat God doen wat ons nie vanself kan doen nie. Dit behoort die identiteit van die Christelike geloof te wees.

  1. Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf. (Vs 25)

Die troos wat hierdie aankondiging vir soveel gelowiges bring! Want ja, almal kry nie soos Lasarus ‘n tweede asem in hierdie lewe nie. Maar die uitnodiging is om verder te kyk, verby hierdie lewe met al sy ellende, en te glo dat dit wat hierna kom, beter is as wat ons het.

Ek en JP het gisteraand die fliek Silence gekyk. Dit gaan oor die Jesuïtiese priesters van Portugal wat in die 1630’s en spesifiek die jaar 1640 na Japan gegaan het om daar sendingwerk te doen. Die onmenslike teregstelling van die Japanese Christene as hulle nie bereid is om op die teël met die beeld van Jesus te trap (“Trample!”, raai die een priester hulle aan) of op die kruis van Maria te spoeg en te sê dat sy ‘n hoer is nie. Hoedat die eenvoudige, landelike Japanese Christene met groter vrede en innerlike krag hul onvermydelike wrede dood in die gesig kan staar en aan hierdie versie kan vashou in hul oomblik van diepste nood: Jesus is die opstanding en die lewe. Ek gaan saam met Hom in die paradiso (soos die Japanes sê) wees. Ek sal Hom daarom nie verloën nie.

Ek dink nie ek sal dit kan regkry nie. My geloof is nie sterk genoeg nie. Ek raak kwaad (woedend?) as ek die fliek kyk en binne myself saam met die een priester skree “Trample!”, en die gelowiges trap nie op Jesus nie, hulle sal eerder sterf voor hulle dit doen. Maar tog is daar vir ons deur die loop van die geskiedenis talle voorbeelde van mense wat vertroosting en krag kry in hierdie belofte van Jesus.

Petrus is een van die wat geglo het dat hy nie so ver sal gaan nie, nie sy lewe sal opoffer vir sy geloof nie – en tog het hy later die innerlike krag gehad om, toe sy eie teregstelling aanbreek, te vra om onderstebo gekruisig te word.

Die uiteindelike vraag waarvoor ons te staan kom in hierdie verhaal, is Jesus se vraag aan Martha terwyl sy nog van die oortuiging is dat Lasarus dood is en nie weer teruggebring kan word nie, maar eers met die opstanding op die laaste dag – in die tye waar ons nie meer hoop het dat die onmoontlike moontlik sal word nie, en dan die vraag van Jesus hoor: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” Of ons dan nou presies verstaan wat Jesus hiermee sê of nie, bly die uitdaging (uitnodiging?) om saam met Martha te bely: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld (ge)kom (het).”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.