Johannes 18:1- 27 -2017

14 April 2017 Pinelands Goeie Vrydag
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die afgelope Sondag het Christene in Egipte oudergewoonte kerk toe gegaan. Dit was Palmsondag, ‘n baie belangrike Sondag vir die Koptiese Christene in Egipte (Kopties beteken Egipties – Arabiese woord “kopt”), want dis die inleiding tot die belangrikste week in ons kerklike tradisie – lydensweek wat uitloop op die kruisiging. Terwyl die dienste aan die gang was het ISIS by twee van die kerke ontwrigting veroorsaak wat tientalle mense se lewens gekos het – by die kerk in Tanta en ook in Aleksandrië. Ons dink vandag aan die families in Egipte wat die seer en die lyding, die verlatenheid van die hierdie week so persoonlik aan hulle lyf voel…

Dirkie Smit skryf in Saterdag se koerant ‘n artikel: “Wat nagte van verraad alles sigbaar maak”. Hy vertel da die teoloog Michael Welker dikwels die gebeure wat ons hierdie week herdenk, beskryf as “die nag van verraad”. Daarmee, sê Dirkie, “bedoel hy nie net Judas nie, maar dat in dié nag sigbaar word hoe die hele mensheid faal in menswees, hoe ons ons verantwoordelikheid verraai, ontrou word aan ons eie integriteit. Dit is asof álles wat veronderstel is om góéd te wees in dié nag faal, sê Welker, asof álles saamspan om Jesus te verraai – politiek (die goewerneur van die roemryke Romeinse Ryk misluk), kultuur (die stem van klassieke kultuur en kennis vra vertwyfeld wat waarheid is), reg­spraak (sowel Joodse as Romeinse regsisteme misbruik skynverhore om onskuld skuldig te verklaar), openbare mening (die skare verkies skreeuend misdadigers en geweldenaars), die kerk (godsdienstige leiers verwerp en dissipels verloën dié mens).

En daar is altyd wéér sulke nagte, dis ons geskiedenis, ons aard, ecce homo, kyk net wat ons doen – aanvang of toeskou en toelaat, selfs goedkeur, dalk net ignoreer. Nagte waarin politieke leiers hul eie mense verraai, howe die reg verdraai, kultuur verander in propaganda en leuens, godsdiens en kerk mense uitsluit en verneder, ondersteuners lustig meedoen aan die openbare goedkeur van korrupsie en geweld en magsmisbruik.” Dan gebruik Dirkie ‘n voorbeeld wat ons goedskiks souk on vervang met die gebeure van die afgelope Sondag – onskuldiges word om die lewe gebring terwyl hulle kerkgaan, en die wêreld hoor daarvan, maar ons het waarskynlik meeste al weer vergeet – amper asof ons dit oor ‘n afstand heen toelaat… of dalk net ignoreer?

“Nes sovele ánder kere en ánder plekke en ánder nagte van soortgelyke verraad”, sluit hy dan sy artikel af.

In hierdie donker tyd van die mensdom, ook ons land en ons eie kerk se geskiedenis, lees ons Johannes 18: 1-27.

3: die wagte in diens van die priesterhoofde en Fariseërs; dws op die stadium nog nie die Romeinse owerheid nie maar aan die Joodse wagte.

4: Die mag van sy inhegtenisname is dus in Jesus se eie hande, want Hy weet dat sy tyd, sy uur van verheerliking aangebreek het.

12: Jesus word nie teen sy wil en wete weggesleep deur die soldate nie. Nee, Hy gee Homself oor, Hy laat Hom neem. Hy is in beheer.

15: (lett) was ‘n vriend van die hoëpriester…

18: Sommige vertalings sit vers 18 in hakies. Die outeur meld so terloops, in die verbygaan, van die slawe en wagte by die vuur en Petrus by hulle.

21: hulle weet/verstaan wat Ek gesê het

25: Intussen het Petrus hom nog gestaan en warm maak… (NET)

26: Petrus is hier in ‘n hoek vasgekeer, want hy was immers die dissipel wat Malgus se oor afgekap het. Natuurlik sou ‘n slaaf wat daar was hom onthou. Maar Petrus is so desperaat dat hy sy verhouding met Jesus nogmaals ontken.

27:onmiddellik/op daai oomblik het die haan gekraai”

‘n Verhaal oor verraad en verloëning. ‘n Paar jaar terug was daar ‘n artikel in die Burger waarin dit lyk asof die verraad van Judas en die verloëning van Petrus eintlik maar dieselfde ding was. Word daar, byvoorbeeld, in die artikel gepraat van die “verraad van Petrus”.

Heel eerste dus: Wat beteken die Griekse woorde wat hier vertaal word met “verraad” en “verloëning”?

Verraai (paradidoomi): betray, to give over from one’s hand, to hand someone over/deliver/entrust to someone else… (die ironie van “entrust” hier…, Judas het bewustelik/berekend vir Jesus aan die “vyand” toe-ver-trou)

Verloën (arnêomai): deny, ontken verhouding met ‘n persoon, be untrue/be false to oneself (acting contrary to one’s true character)

Verraad het ‘n stuk kwaadwilligheid daaraan. Dit is om iemand doelbewus oor te lewer, en in daardie daad toe te vertrou!, aan die vyand. Verloëning, lyk dit my, is nie ‘n daad wat vanuit kwaadwilligheid gebore word nie, maar eerder vanuit vrees, onsekerheid of skaamte of dalk selfs teleurstelling in die persoon vir wie jy verloën. Om iemand te verloën is om hom of haar uit jou lewe uit weg te wens, terwyl hy of sy eintlik diep deel is van jou lewe. Dit is om jou rug te draai op iemand wat naby aan jou is.

Jesus het sy dissipels, sy volgelinge, teleurgestel. Hulle het gedink dat Hy die Romeinse mag sal breek en die nuwe koning van die land sal wees. Hulle het gedink dat Hy sal regeer en dat Hy die Joodse volk se eer sal herstel, nadat hulle lank terug reeds met die ballingskap alles verloor het en sedertdien nooit weer heeltemal daarvan herstel het nie. Maar toe dit blyk dat die dissipels sy identiteit, wie Hy is en wat Hy kom doen het, misverstaan het, toe dryf dit die een tot verraad (en hy kry nog omkoopgeld ook daarvoor!) en die ander tot verloëning (“Ek ken Hom nie”). Petrus wat belowe het dat hy aan Jesus getrou sal bly, selfs al kos dit hom die dood. En gisteraand lees ons in Matteus se vertelling dat die ander dissipels beaam het wat Petrus sê, dat hulle ook beslis nie vir Jesus sal verloën nie.

Maar toe die wagte en die slawe van die sinagoge in die tuin opdaag, toe verander alles. Petrus probeer nog sy man te staan – hy wil sy leier Jesus verdedig. Op hierdie stadium het hy dalk nog hoop dat Jesus die koning sal word en dink hy dis nou uiteindelik die begin van die rebellie. En hy kap Malgus se oor met sy swaard af om dinge in beweging te bring. Maar Jesus spreek hom aan: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader my gegee het nie?” En Hy gee Homself vrywilliglik oor in die boeie van die wagte.

En net hier verdwyn die dissipels soos mis voor die son. Ons lees net van twee wat bly rondhang om te kyk wat gaan gebeur. Petrus, natuurlik, hy het immers ten sterkste belowe hy sal getrou bly tot aan die einde. En het hy nie nou net weer sy lojaliteit bewys toe hy sy swaard uitgetrek het nie? Hy kan mos nie nou weghardloop nie. En dan die dissipel van wie ons die naam nie ken nie. Dalk gaan die twee saam om vir Jesus in die bresse te tree. Mens is amper lus en haal jou hoed vir hulle af wat, wanneer almal laat spaander, nog bereid is om verder saam met Jesus die pad te loop, selfs al is Hy in boeie en lyk sy toekoms maar somber. Maar dit is tog opvallend dat die skrywer dit nodig ag om twee keer te noem dat die dissipel van wie ons die naam nie ken nie, ‘n vriend was van die hoëpriester. Dit beteken dat hy self nie te onveilig voel om saam te gaan en op hoogte van sake te bly nie. Hy het darem kontakte in hoë plekke, VIP’s wat hom kan beskerm.

En toe verskyn Jesus voor die hoëpriester Annas. Petrus hou terug buite die paleis van die hoëpriester. Maar die dissipel met kontakte kry hom in die binnehof, daar waar die slawe en die wagte rondom die vuur staan. Die diensmeisie by die deur wil by hom weet of hy dan nie een van hierdie man se dissipels is nie? “Nee, ek is nie!” Dis koud en hy maak homself lekker warm by hulle vuur.

Intussen word Jesus deur Annas ondervra, vreemd genoeg, nie oor Homself nie, nie oor wat Hy gedoen het nie, nie eens in die eerste plek oor sy leringe nie; maar Hy word ondervra oor sy dissipels en daarna ook oor sy leer. En van sy hoofdissipel, sy regterhand, het ons nou net, sommer so terloops, gelees hoedat die hom verloën, en hoedat hy hom lekker by die vuur saam met die wagte staan en hande warm vryf.

Dit word erger. Want kyk hoe antwoord Jesus vir Annas oor sy dissipels en sy leer, terwyl meeste van hierdie dissipels ons weet nie waar is nie, en Petrus in ontkenning hom knus maak om die warm vuurtjie buite die deur. Jesus antwoord met: “Moenie vir Mý vra nie. Vra my dissipels en my volgelinge. Vra vir diegene wat My hoor praat het. Ek het hulle altyd in die sinagoges en die tempel geleer, daar waar al die Jode bymekaar kom. Ek het niks in die geheim gedoen nie. En Ek het niks om weg te steek nie, niks om oor skaam te wees nie… Waarom vra u My? My tyd het aangebreek. Ek is klaar met mense leer. Hulle is opgelei en gereed. Hulle weet dat hulle nou my bediening moet verder vat. Dis nou in hulle hande. Hulle sal My verteenwoordig…”

Hoor julle die vertroue wat Jesus in sy dissipels stel? Hy het hulle tog geleer. En Hy het vir hulle gebid (Joh 17!). En Hy het hulle gestuur, soos die Vader Hom ook gestuur het. Sy uur het gekom, sy tyd om die wil van die Vader te doen, sy tyd van verheerliking, van kruisiging. Sy volgelinge sal nou sy saak verder vat, hulle sal die goeie nuus van sy oorwinning versprei. Sy dissipels sal … Petrus hulle sal.

En terwyl Jesus nog so praat, terwyl Hy sy dissipels so hoog opgee, hoor almal daar buite ‘n haan wat kraai… Terwyl Jesus sy vertroue uitspreek teenoor die mense vir wie Hy so ernstig gebid het, verloën die een naaste aan Hom Hom vir ‘n tweede en ‘n derde keer, lekker warm daar om die vuur.

In Jesus se donkerste uur word Hy deur sy eie mense versaak. Die naaste aan Hom. Sy dissipels. Eers is daar een wat wegloop, met ‘n geldjie (30 silwer muntstukke) in die sak. Dan laat spaander die meeste ander, maar twee bly oor. Een trippel ongemaklik langs ‘n vuur rond en skud sy kop terwyl Jesus aan die ander kant van die deur ondervra word (“Ek ken Hom nie.”) So die een steek Hom in die rug en die ander draai hulle rug op Hom.

Maar hierdie is nie net ‘n verhaal oor verraad en verloëning nie. Terwyl die dissipels so aan hulleself dink, dink Jesus aan almal behalwe Homself, dink Jesus aan hulle. Dis ‘n verhaal oor verraad, verloëning en vertroue. Die Een wat verraai en verloën word, spreek sy vertroue uit in diegene wat Hom verraai en verloën… Hy gló in hulle, dit terwyl hulle nie meer kans sien om in Hom te glo nie.

Jesus is nie net deur sy vertrouelinge verraai en verloën nie. In hfst 18-19 lees ons dat Hy nog etlike kere verraai (uitgelewer) is in die proses van sy verhoor:

Vs 30 deur die hoëpriester Kajafas

Vs 35 deur sy volk en die leierspriesters

Vs 36 deur die Jode (weer die volk)

19:11 deur Kajafas

19:16 deur Pilates wat op die stadium lyk asof hy Jesus se enigste moontlike hoop, sy laaste vriend was.

En tog – 19:26-30. Sonder weerwraak, toe die vroue en die dissipel vir wie Jesus lief was (miskien Johannes self?) dit by die kruis waag en Hy hulle sien, toe Hy sy moeder sien en ook die een dissipel, toe spreek Hy steeds sy vertroue in hulle uit! Hy vertrou hulle aan mekaar toe.
En sien ook hoedat Hy later langs die See van Galilea al sy skape opnuut aan Petrus toevertrou – die een (en almal) wat Hom versaak het…

Soos wat Hy ons ook vandag aan mekaar toevertrou. Die wêreld en die mense daarin, die mense in nood, aan ONS toevertrou – om vir hulle te sorg, te beskerm, by te staan, lief te hê – nie soos ons onsself liefhet nie, maar soos wat Hy ons liefgehad het (Joh 13 – voetewas en lewe aflê)!!! Dít is die laaste woord wat Hy oor die liefde spreek.

Dit lyk my verraad en verloëning sal daar altyd wees. Dis die gang van ons wêreldse natuur en begeertes. Dis die spykers waarmee Jesus aan die kruis vasgenael is. Maar sy vertroue is sterker as die dood. Jy het Hom ook verraai en verloën – maar reg aan die einde, voordat Hy sterf, is Hy nietemin nie moedeloos nie, het Hy steeds hoop. Vanoggend, hier, sien hoedat Jesus aan die kruis hang en soos met die vrouens en die dissipel vir wie Hy lief was, jou ook in die oë kyk, en sy laaste opdrag voordat Hy sterf aan jou: ek jou vir hom, en jou vir haar en hom vir haar en julle vir hulle daar buite – Ek gaan nou, maar sorg julle van nou af vir mekaar, wees vir melaar lief soos wat Ek julle liefhet, dit is hiervoor dat Ek my lewe aflê.

As ons vanoggend van die kruis as wegdraai en hier uitstap, is daar geen ander weg om te gaan nie, daar is nét hierdie één pad. Om uit te gaan en vir mekaar te gaan sorg.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.