Handelinge 7:51-8:4 – 2017

14 Mei 2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 Dis nie baie lank na Jesus se hemelvaart nie.

Apostels word vervolg weens hul verkondiging/gtuienis (Hand 5).

Aanstelling van Stefanus as medewerker van die apostels (Hand 6).

Hy was vol genade en krag en hy het groot wonders en tekens onder die volk verrig.

Daar was mense wat ongelukkig was oor Stefanus en wat leuens oor hom versprei het – bv dat hulle gehoor het hoedat hy lasterlike dinge oor Moses en God sê. Hulle het hom voor die Sanhedrin gebring, die hof van daardie tyd, en hom aangekla. “Almal wat in die Sanhedrin gesit het, het stip na hom gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk. Die hoëpriester het toe (vir hom) gevra: ‘Is dit regtig so?’” Waarop Sefanus met sy toespraak, of sy preek begin.

Alhoewel almal aandagtig geluister het, het hy hulle nie oorgehaal na sy kant toe nie. Hy het hulle ontstoke gemaak, tot raserny gedryf, so erg dat hulle hom uit die stad uit gesleep en gaan stenig het.

Stefanus was nie bang gewees om sy sê te sê nie. Of dalk was hy, maar hy het dit nietemin gedoen. Hy staan hier in die konteks van ‘n hofsaak. Hy staan in die beskuldigde bank, hy word aangekla van godslastering. Maar aan die einde van sy toespraak word hy as’t ware die aanklaer: “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore…” (7:51-53). En toe hulle dit hoor was hulle innerlik briesend en het hulle op hulle tande gekners oor hom (54). Hulle het op hom afgestorm, hom uit die stad uit gesleep en gaan stenig.

Dis ironies dat die Joodse Raad hier presies doen waarvan Stefanus hulle in vs 52 beskuldig. Hy sê nog vir hulle dat hulle voorvaders al die profete vervolg en doodgemaak het, en dat hulle self nou die Regverdige, vir Jesus van Nasaret, verraai het en Hom vermoor het. En dan raak hulle so kwaad vir hom dat hulle sy punt bewys – hulle doen presies dieselfde aan hom. (Baie ooreenkomste tussen Jesus se verhoor en sterwe en die van Stefanus.

Dit is dieselfde mense wat vir Jesus uit die stad uit gedryf het en Hom van die berg af wou gooi toe Hy hulle aan die geskiedenis van God met sy mense herinner (Lukas 4: 25-29). Dis dieselfde mense wat op die ou-end wel vir Jesus uitgelewer en laat kruisig het. Stefanus was reg gewees. Hy het nêrens gelieg nie, nêrens sy feite verdraai nie. Hy het net eenvoudig nie afgewyk van die waarheid van die evangelie nie. Hy het sy eie lewe ondergeskik gestel aan die saak van God. Hy was bereid om die struggle, die stryd van God op te neem, ongeag wat dit hom sou kos. Hy was bereid om te volg in die voetspore van Jesus. “Wie agter My aan wil loop, sal sy kruis moet opneem… Wie sy lewe wil behou, sal dit twv die evangelie moet verloor…”

Die profete in die OT is vervolg en doodgemaak omdat hulle die woord van God verkondig het. Johannes se kop is op ‘n skinkbord aangedra. Jesus is vervolg en doodgemaak  nie net omdat Hy die woord verkondig het nie, maar ook omdat Hy daadwerklik gestalte daaraan kom gee het – Hy het die sigbare gesig geword van God se liefde. Stefanus is buite die stad gestenig. Na hom sou daar nog vele ander dissipels en volgelinge van Jesus wees, draers van die evangelie, wat met hulle lewe daarvoor sou betaal. Een van die grootste vervolgers van die vroeë Christelike kerk, Paulus, sou ook later, na sy bekering, vervolg word vir die boodskap wat hy verkondig.

Want terwyl Stefanus met klippe doodgegooi is, het daar ‘n jongman gestaan wat die klipgooiers se jasse opgepas het. Saulus was sy naam. Na Stefanus se dood het hierdie Saulus probeer om die gemeente uit te roei. Hy het manne en vroue uit hul huise uit laat sleep en in die tronk gegooi. Hy was op die oorlogspad. Totdat die Here op die pad na Damaskus (die hedendaagse Sirië!) aan hom verskyn het en van hom wou weet: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (9:4). Dieselfde Saulus wat die klipgooiers se jasse opgepas het, is die een wat later tot bekering gekom het en as Paulus die bekendste verkondiger van die evangelie van sy tyd (en, naas Jesus, dalk van alle tye) geword het. Ook hy sou die lyding (wat hy self eens toegedien het) nie gespaar word nie. Hand 9:16: “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” En in 18:9-10: “Een nag het die Here in ‘n gesig vir Paulus gesê: ‘Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou’.” Dit terwyl Paulus vervolg is, soms moes vlug, in die tronk gegooi is, onder huisarres geplaas is – “Moenie bang wees nie Paulus; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou.” (Paulus = Joodse naam, Saulus = Romeinse naam)

Ons het ‘n naam vir hierdie groep mense. Mense wat fisies of psigies ly twv ‘n saak. Ons noem hulle “martelare”. “Hy was ‘n martelaar twv die evangelie, hy het sy lewe daarvoor afgelê.” Die woord “martelaar” kom vanaf die Griekse woord martus/marturos wat letterlik beteken “getuie”. Die betekenis wat ons vandag aan die woord “martelaar” heg, is ‘n betekenis wat ontwikkel het uit die geskiedenis van hierdie woord. Mense wat in die tyd van die vroeë Christelike kerk martoi geword het, getuies/vertellers/verkondigers van die evangelie, is vervolg daarvoor. Hulle is leed aangedoen. Fisies en of psigies. In so ‘n mate dat die woord martus naas “getuie” ook die betekenis van “seerkry vir waarvoor jy staan” gekry het. “Seer kry vir wie jy staan”… “Om te getuig van die evangelie” was sinoniem met “om te ly vir die evangelie” – die een betekenis kon nie meer sonder die ander bestaan nie.

En steeds, tsv die lyding wat dit vir hulle ingehou het, het gelowiges die saak van die evangelie opgeneem en verder gevat.  Waarom dan? Waarom was die evangelie vir hulle so lewensbelangrik? Victor Frankl, die sielkundige wat WO2 oorleef het, skryf in sy boek Man’s Search for Meaning, dat die mens selfs gereed is om te ly, opgewasse is vir intense swaarkry, op die voorwaarde dat die lyding vir jou betekenis het, dat dit sinvol is. Dan, sê hy, kan mens lyding verdra. Dan kan jy dit oorleef…

Die vroeë christene se geloof het soveel vir hulle beteken, die saak van God het soveel sin aan hulle lewens gegee, dat hulle opgewasse was vir die lyding wat dit meegebring het.

Wat is die saak wat die profete verkondig het. Waarvoor het hulle gely. En Jesus, God wat mens geword het – wat was die saak waarvoor Hy gestaan het (en steeds staan)? Hoekom het Hy mens geword. Hoekom het God Homself so in die lyding kom dompel? Hy het dit gedoen vir mense. Vir die menswaardigheid van mense. Die godwaardigheid van mense. Ons is God se lyding waardig – so besluit Hy. Daarom dat die profete keer op keer op keer hul boodskap rig op die versorging van die wese en die weduwees, die omsien van die vreemdeling, die regspraak en regverdige hantering van mense wat nie self na hulle regte kan omsien nie. Die swakkes, die siekes, ook die slegtes en die sondiges. Mense wat swaarkry, mense wat wanhopig is, mense wat geen uitkoms sien nie. Maak vir hulle plek, trek hulle in, breek alle grense af, verkonding die Blye Evangelie aan almal – juis ook aan hierdie mense wat nie sou kon dínk dat so ‘n bevrydende boodskap ook vir hulle geld nie. Moet dit nie net verkondig aan hulle nie, beliggaam dit, wys hulle hoe dit lyk.

Dit gaan lyding kos. Jy gaan in die moeilikheid kom by baie mense. Dalk gaan jou eie mense jou uitkryt. Almal gaan nie met klippe doodgegooi word nie. Sommige gaan geskiet word. Of ook gekruisig word. Ander gaan keer op keer in hulle lewe tereggestel word – kritiek, verwerping, woorde wat soos klippe in jou rigting toegesnou word. Daar ís mense in ons gemeente wat in hul werksomgewing ly twv die evangelie. Ons praat nie hier van goed daar doer nie. Daar ís mense in ons gemeente wat weet wat dit beteken om jou lewe vir die evangelie af te lê, mense wat dit dag na dag ervaar, mense wat elke dag oorleef binne ‘n ongelowige werksomgewing, mense wat elke dag aan hulself sterf omdat hulle in daardie omgewing nie stilbly oor hulle geloof nie, mense wat ly. Daar is ook mense wat ly binne hul “gelowige”/”geestelike” werksomgewing. My ervaring is dat ongelowiges dikwels meer menslik en genaakbaar staan teenoor die verkondiging van die evangelie as gelowiges wat vasbeslote is om net op een manier te glo en vir geen ander perspektiewe op die Bybel of kante van God wil ruimte maak nie.

Ons moenie die verskillende aarde van mense se lyding onderskat nie.

Wat was die onmiddellike gevolg van Stefanus se steniging. Hierdie gebeurtenis het die opdrag van Jesus in Handelinge 1:8 in beweging gebring. Dit het aangeleiding gegee daartoe dat die evangelie versprei is. Die gelowiges is verstrooi. Die woord het 2 betekenisse in Grieks: As ‘n groep mense verstrooi word, dan word hulle uitmekaargejaag. Maar dit dra ook die konnotasie van saad wat gesaai word. Die bloed van die martelare het die saad vir die kerk geword. Dink net aan hoe geweldig die kerk gegroei het in tye van vervolging. En vandag?… Hoe groei die kerk vandag? Die statistieke wys dat baie gemeentes in SA aan die krimp is… Die NGK, ons kerk, se getalle is aan die kwyn.

Internasionale statistieke: 150 000 Christene word elke jaar vir hulle geloof gemartel.

200 milj Christene kan nie hul geloof vrylik uitleef nie.

Ons dank die Here vir voorspoed en veiligheid en geloofsvryheid. Maar kan dit dalk wees dat (valse) veiligheid en welvaart die grootste bedreigings vir die kerk is? Vals want omdat ons lewens nie fisies bedreig word weens ons geloof nie, dink ons ons is veilig. En hou ons ons blind vir al die mense wat wel ly en sterf omdat die kerk hulle nie wil ontvang soos wat hulle gemaak is (ook na die beeld van God) nie.

Almal betaal nie fisies met hulle liggame vir die evangelie nie. Dit is so. In SA hoef ons dit nie te doen nie. Maar op ander vlakke? Om jou lewe af te lê beteken nie net om te sterf en veras of begrawe te word nie. Soms is dit dalk die makliker manier van ly. Dis in elk geval die vinnigste. Maar dit is ook en veral ‘n baie groot uitdaging om jou lewe af te lê, terwyl jy nog op aarde leef, terwyl jy nog kan kies, wanneer jy elke dag opnuut moet besluit: Sien ek nog kans om aan myself te sterf sodat God se wil kan geskied. Sien ek kans om aan my eie vooropgestelde idees te sterf sodat ander ook mag leef? Sien ek kans om vandag van myself te vergeet, sodat ek die armes en die wat swaarkry kan onthou. Sien ek kans om my eie stryd vir alles wat lekker en gerieflik is opsy te stoot, sodat ek God se stryd kan opneem? In watter gevalle is jou en my bloed die saad van die kerk? Daar by jou huis? By die werksplek? Of in jou beroepskeuse? Hoeveel van jouself moes jy aflê om te doen wat jy elke dag doen? Betaal jy enigstens ‘n prys vir jou manier van lewe, of is alles net lekker, of jy probeer darem sover jy kan dat alles net lekker moet wees? In jou vriendegroep? In die gemeenskap waar jy betrokke is? Beteken jy iets vir die verstotenes, gee jy jouself vir sulke mense? Of beweeg jy net in kringe waar jy gemaklik is en veilig voel met jou lewe, jou persoonlikheid, jou vermoëns en jou geloof…?

Is ons bereid om onsself ondergeskik te stel aan die struggle, die stryd van God se koninkryk? Die enigste legitieme stryd wat ons mag optel, die enigste stryd waarmee ons as gelowiges onsself kan vereenselwig, moenie die stryd om sukses en geld en mag wees nie. Dit moet die stryd van die evangelie wees. Die stryd wat ons medemense wat swaarkry en geen plek van tuiskoms het nie, ter wille is. Neem ons die vraag rondom die struggle van God ernstig genoeg op?

We shall overcome is ‘n proteslied wat kom uit die Amerikaanse Siviele Regte Beweging (sosiale stryd) in 1955-68. Dit was eens ‘n gospel lied “I’ll overcome someday” wat deur ‘n swart Amerikaner geskryf is (a hymn by the Methodist minister Rev Dr Charles Albert Tindley that was first published in 1900). Mense wat onderdruk is, mense wat gely het, het hierdie lied met absolute geloofsoortuiging gesing, selfs al het dit nie gelyk asof hulle dit sal maak nie. In die geloof dat dinge eendag beter sal wees, al is hulle bydrae dan nou net ‘n druppel bloed in die proses, of een saadjie wat verder kan groei nadat die saad gesterf het. We shall overcome some day… Dit is ‘n lied waarmee baie Suid-Afrikaners ook al vereenselwig het. Dis ‘n lied wat gesing word deur mense wat ly (deur martelaars), maar wat getuig van hoop. Dit laat my dink aan Jesus se woorde aan die kruis. Ook aan Stefanus se woorde terwyl die klippe hom tref. Ek sluit af met die lied… (Roger Waters se weergawe)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.