Handelinge 17:16-34 – 2017

21 Mei 2017 Pinelands Pase 5
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Agtergrond

Athene is die hoofstad van Griekeland, een van die oudste stede in die wêreld, en die intellektuele hoofstad van die antieke wêreld. Dit was die sentrum vir kuns, leringe oor uiteenlopende temas en filosofie. ‘n Plek propvol idees en afgode, baie verskillende vorme van godsdiens. Diversiteit en pluraliteit is dus nie net ‘n hedendaagse verskynsel nie. Die filosowe Sokrates, Plato en Aristoteles, almal op soek na wysheid, het hul leringe in Athene verkondig. Sokrates wat 470-399 vC geleef het, is ter dood veroordeel weens die vreemde leringe wat hy verkondig het.

Die Areopagus was beide ‘n plek sowel as ‘n groep mense. Dit was ‘n klein klipheuwel noordwes van die Akropolis in Athene. Dit het ook verwys na die gesaghebbende raad van oudstes wat daar bymekaar gekom het om mense uit te luister en hul besluite te voltrek/oordele te vel. (Laat mens nogals dink aan die oudstes in die OT wat by die ingang van die stad (die hek) gaan sit het om daar geskille te besleg en te oordeel tussen reg en verkeerd.) Vanaf die 5e of 6e eeu vC het die Areopagus bestaan uit 9 archons of hoofmagistrate wat die stadstaat gelei het en wat die grondstene gelê het vir Griekeland se uiteindelike demokrasie. Deur die eeue het die rol van die Areopagus verander, en teen Paulus se tyd het dit ‘n plek vir beredering geword, ‘n plek om te luister na nuwe mense se idees, en is daar veral besluite voltrek in die terreine van kriminele sake, die reg, filosofie en politiek.

Teks

Boodskap

Paulus, wat in die in die sinagoges en in die openbaar op die markplein die evangelie van Jesus Christus verkondig het teenoor wie ookal wou luister (17:17), het nie stilgebly wanneer die filosowe van die dag ook tussen die toehoorders gestaan het nie. Aanvanklik is hy deur hierdie kulturele hoogmoediges gespot. Hulle het na hom verwys as ‘n “praatjiesmaker” wat praat oor “vreemde gode”. Maar hulle nuuskierigheid het die oorhand gekry, hulle was altyd oop om nuwe standpunte te hoor, en daarom het hulle vir Paulus uitgenooi om by die mees invloedryke vergaderplek in Athene vir hulle te verduidelik waar hy aan sy vreemde idees kom.

Ons lees in die eerste vers (16) dat Paulus in sy gees diep verontwaardig was toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. Eintlik sou hy kon redeneer dat hy as Christen hom nou in die stad van die vyand bevind, daar waar die bose seëvier. Maar tsv sy ontsteltenis oor wat hy rondom hom sien, begin hy nie om voor die voet afgodsbeelde uit te roei en die inwoners te veroordeel nie. Nee, hy begin eenvoudig in die publieke ruimtes met die mense praat oor God en oor Jesus, daar waar almal hom kon hoor. Aanvanklik val sy woorde nie goed op die oor nie en die intellektueles wat daar rondstaan noem hom ‘n “praatjiesmaker”. Nietemin is hulle belangstelling geprikkel, neem hulle hom na die Areopagus en nooi hom om daar, op die natuurlike “verhoog vir toesprake” in Athene sy saak te stel. “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? Want dit wat jy sê, val vreemd op ons ore en ons wil graag weet wat dit beteken.” Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon het immers vir niks anders tyd gehad as om oor iets nuuts te praat en daarna te luister nie.

“Atheners, ek sien dat julle julle skuldig maak aan die aanbidding van vele afgode, en dis tyd om daarvan af te sien!”, begin Paulus. Nee, eerder: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan ‘n onbekende god.’” Paulus vind ‘n aanknopingspunt met sy gehoor! Hy ontmoet hulle op gelyke grond (“common ground”). Sy retoriek was weldeurdag en slim toegepas.

Die woord “om baie godsdientig te wees” het 2 betekenisse. Die positiewe betekenis is presies dit – om baie godsdienstig te wees. Die negatiewe betekenis, wat Paulus waarskynlik ook tong in die kies sou bedoel sonder om dit op hierdie moment pertinent te stel, het verwys na – om baie bygelowig te wees. Natuurlik, vanuit sy geloof in die een God van Jesus Christus alleen, besef Paulus dat dit hier in Athene ook gaan om bygelowigheid, al weet hulle dit self nog nie. Hulle het so baie gode dat hulle selfs een sonder naam het – asof hulle sodoende al hulle “wickets wil cover” – glad nie ‘n gaping wil laat vir ‘n plek in hulle lewe waar ‘n afgod nie na hulle omsien nie.

Maar Paulus gaan eerder verder met die gedagte van hulle godsdienstigheid. En daar waar hulle onsekerheid juis blootgestel word, by die aanbidding van ‘n onbekende afgod naas al die ander, net daar klim Paulus in en gee aan daardie onbekende god ‘n naam: “Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat die Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word nie deur menselike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie…” (23-28 ev).

Die kern van Paulus se boodskap is dieselfde as wat Stefanus laas week aan die hoëpriester en die Joodse Raad verkondig het: “Die Allerhoogste woon [egter] nie in tempels wat met hande gemaak is nie… ‘Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’ (Hand 7: 48-50)

Paulus ontmoet die heidense Atheners daar waar hulle is. En hy gaan in gesprek met hulle oor daar waar hy is, maar hy doen dit op ‘n nie-aanvallende, nie-bedreigende manier. Christene isoleer hulself soms so graag van die kultuur van hul dag. Christene wat so gewy is aan introspeksie, selfgerig, selfbelang, beskermd, in plaas daarvan dat ons in gesprek gaan met mense by ons hedendaagse Areopagusse. (Interessant dat die Latynse naam vir die Areopagus “Mars heuwel” is – ‘n treffende naam vir ‘n plek waar vreemde gedagtes aan vreemdelinge verkondig word.)

Die godsdiens-in-skole debat is tans weer voorbladnuus in die koerante. Ons staan die gevaar om ons kinders so beskermd groot te maak dat hulle eendag nie in die wêreld daar buite kan funksioneer nie – dink maar aan die effek wat sommige ekstreem-godsdienstige skole het op die kinders wat daar skoolgaan se toekoms(tige wanaanpassings in die wêreld). Wanneer predikante bymekaar kom vir ‘n vergadering of ringsitting of sinode, klink dit dikwels asof hulle bloot maar met hulself praat, eerder as om in gesprek te tree met die mense daar buite en die brandende kwessies van die dag. Daar is (ek dink nie in ons gemeente nie, maar wel elders) gelowiges wat kies om eerder die flieks en die vertonings by die KunsteKaap te vermy, want hulle is ongemaklik met die (wêreldse) “elemente” wat daar uithang. (Maatjies van my kinders wat nie boeke oor meerminne of Harry Potter mag lees nie, want dis van die duiwel af.) Of mense wat roem daarop dat hulle nét die Bybel lees en geen ander boeke nie…

Moet dit nie dalk eerder so wees dat Christene net so gemaklik is om te leef, te leer en te deel (deel te neem aan gesprekke) op die markplein waar allerhande verskillende idees en opinies gelig word, as in die kerk nie? Dat gelowiges in die kerk, maar dan ook by ‘n coffeeshop die evangelie kan verkondig, in eredienste sowel as in lesingsale by die universiteit. Dat gelowiges geleenthede moet aangryp om, soos Paulus, mense te ontmoet in hulle leefwêreld – daar waar die mense leef, werk, en dink. Dat daar nie net met mense gepraat word in die eredienste nie, want baie mense (veral dan ook ongelowiges) kom nie eredienste toe nie, het nie ‘n behoefte daaraan nie. Maar dat ons die erediens sal uitdra na die alledaagse lewe toe, dat mense daar sal hoor van ons “vreemde idees” aangaande die evangelie van die opstanding, ja, die opstanding uit die dood – het julle al ooit gehoor daarvan!, die evangelie van genade, vergifnis en nuwe lewe, vir álmal, ja nie net vir ‘n paar freaky kerkgangers nie, maar vir almal – ook vir elkeen van julle hier… Trouens, God is híér (soos Paulus vir sy aanhoorders sê). Hy woon nie in tempels en in kerkgeboue nie. Hy is hier, in die wêreld, hier op die markplein, hier in die Waterfront, hier op Leeukop – Hy is naby aan elkeen van ons. Kyk net om julle heen – kyk na dit alles – God het dit gemaak! Soos Hy ook vir elkeen van ons gemaak het.

Daar is in Paulus se denke geen persoon of sfeer van invloed wat buite God se sorg staan nie. Die sogenaamde “sekulêre” lewe is, nes die “godsdienstige” dinge ook ruimtes vir God se liefdevolle teenwoordigheid, of dit het ten minste die potensiaal daartoe – die regte, literatuur, mediese wetenskap, opvoeding, die kunste, besigheid, regering, wetenskap, enigiets onder die son. Paulus beskou die Areopagus as net nog ‘n plek waar die Here van die ganse skepping hom vooruitgegaan het en alreeds teenwoordig was, immers “Hy is nie ver van enige van ons af nie”.

“Is dit dan nie een van julle digters wat gesê het dat ons deur Hom leef, beweeg en bestaan nie, dat ons van sy geslag (sy familie) is nie, dws familie van Hom! Ja, die heidense digter Aratus het dit in 270 vC in Athene gesê. Hy het gepraat van hierdie onbekende god van julle,” sê Paulus, “selfs al kon hy Hom nie op die naam noem nie.” Van die filosowe van daardie tyd het die spreekwoord gegeld: “Hulle ken God en praat oor Hom sonder dat hulle dit bedoel.”

“300 jaar gelede is die waarheid al hier in julle kultuur verkondig deur heidense filosowe! Diewaarheid het my vooruitgegaan!”

Ek wil afsluit met 2 punte:

  1. Ons word opgeroep om met die wêreld in gesprek te tree oor die God van die opgestane Christus, en om dan die wêreld te ontmoet waar hulle is, op hulle gronde. Ons moenie sit en wag dat die ongelowiges eendag kerk toe sal begin kom nie. Want dit gaan nie gebeur nie. Hoeveel gelowiges kom nie eens meer kerk toe nie…

In 1992 het afgestudeerde Harvard studente begin met gesprekke wat later bekend sou staan as die Veritas Forums. In 1997 het ‘n boek hieroor verskyn, Finding God at Harvard, wat die stories vertel het van meer as 40 Harvard kollegas, alumni en vriende. Hulle leuse is Areopagiaans: “We create forums for the exploration of true life. We seek to inspire the shapers of tomorrow’s culture to connect their hardest questions with the person and story of Jesus Christ” (see www.veritas.org). Huidiglik is meer as 80 universiteite betrokke by Veritas, en die formaat is altyd gerig daarop om eerlike, publieke dialoog en debat aan te moedig, eerder as om dit te onderdruk.

  1. Jy mag verras word – die wêreld daar buite is dalk meer ontvanklik as wat jy sou verwag het. Die gesprekke binne die kerk en geloofskringe is soms baie meer ongenaakbaar as die gesprekke met ongelowiges – met ongelowige akademici, filosowe, wetenskaplikes… Onthou, Paulus verkondig in wese dieselfde boodskap as Stefanus. Maar Paulus praat met ongelowiges, en met die mense wat graag nuwe dinge hoor en hulle skeptisisme skep ruimte vir hom, dws vir mense wat anders dink as hulle. Hulle is nogals oop vir hom, gee hom ‘n kans, luister hom uit. Hulle vra om die waarheid te sê die gesprek aan! En sommige, lees ons vanaf vs 32, het hom uitgelag – dit was nie maklik nie. Maar daar is ander wat gesê het “ons sal jou weer hieroor wil hoor”. En daar was selfs ‘n handvol wat tot geloof gekom het en by hom aangesluit het, en van wie ‘n lid van die Areopagus was (Dionisius)…

Paulus praat met ongelowige intellektuele mense, en hulle gee hom “the time of day”. Hy kan voortgaan met die verkondiging van die evangelie. Stefanus, daarteenoor, praat met godsdienstige Jode!, en hulle raak briesend kwaad, so dat hulle op hulle tande kners… en hulle gooi hom dood…

Ek sluit af met Handelinge 26: 1-3; 24-29…

Kenré en Esti – julle kies hoe en waar julle vir Peet gaan grootmaak. Julle keuses het ‘n effek op sy eie vorming sowel die getuienis wat hy eendag gaan lewer. Moenie bang wees om hom die wêreld in te stuur nie, moet hom nie tot die eng “godsdienssfere” beperk nie. So doen julle hom nie ‘n guns nie, ook nie die wêreld nie. Onthou, God is nie beperk tot ‘n kerkgebou of die huise van gelowiges en die skole waar net die Xlike godsdiens voor ruimte gemaak word nie. As kind van God is Peet nie van hierdie wêreld nie, maar hy is wel in hierdie wêreld. Moet daarom nie sy leisels te styf span nie, want waar hy ookal gaan was God hom reeds vooruit.

Mag dit met jou goed gaan, Peet,

mag God vrede vir jou gee,

mag jy nooit bang hoef te wees nie,

mag jy liefde om jou hê,

mag Peet se hart vir almal oopgaan,

mag sy drome ver paaie streel,

mag hy leer om die wind onder sy vlerke

met alle mense om hom te deel.

– Uit Anton Goosen se lied “Moya”, hier aangepas vir Peet

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.