Matteus 13:24-30, 36-43 – 2017

16 Julie 2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die storie word vertel van ‘n kluisenaar wat in ‘n dorpie op die rand van ‘n woud gewoon het. Hierdie man het alleen gewoon, maar hy was nie altyd van mense afgesonder nie. Hy het sy vriende gehad op die dorp, besigheid gedoen, en elke Sondag getrou kerk toe gegaan.  Totdat hy dit al minder en minder begin doen het, en homself al meer en meer van almal en alles onttrek het. In plaas van kerk toe gaan op ‘n Sondag, het mense gemerk dat dit sy instelling geword het om in daardie tyd die woud in te stap met ‘n sak of twee in sy hand – nugter alleen weet wat daarin is, maar ‘n mens kan sommer raai – en soms het hy ‘n kat onder die arm ook saamgeneem. En dan het hy veel later die Sondag altyd leëhand teruggestap na sy huis toe.

Mense het agter hulle hande begin praat en wonder. Die winter het aangebreek en dit was baie strawwer as gewoonlik. Twee huise se dakke het binne een week afgewaai. “Dit is die vingerwysing van God,” het die dorpenaars vir mekaar gesê. Dit is omdat die kluisenaar homself besig hou met heksery, en dit nogals op die heilige dag. Omdat hy katte offer in die woud.

Die mense het hulself al meer en meer van die man begin afsonder, nie eens meer ‘n kopknik in die straat nie, en toe dinge vir hulle net té erg word, het hulle met die dominee gaan praat. In opdrag van die gemeente het die dominee met die kluisenaar gaan praat en aan hom meegedeel dat, indien hy nie sy vreemde gedrag stopsit, berou toon vir sy sondes, en weer ‘n slaggie kerk toe kom nie, word hy vir tyd-en-wyl uit die kerk verban. En hy moet tog onthou – hy gaan eendag die kerk nodig hê om hom op ‘n ordentlike manier te begrawe as hy sterf. Hy moet mooi dink oor hoe hy van nou af vorentoe gaan leef.

Die kluisenaar het egter niks aan sy gedrag verander nie, ook nie weer begin kerk toe kom nie, en die ergste het gebeur – hy is uit die kerk uit verban…

Lees Matteus 13: 24-30, 36-43

 Die wêreldbeskouing en metafoor waardeur hierdie gelykenis werk, is baie ver van ons verwyder en dit moet ons aan die begin al vir mekaar sê. Jesus druk Homself uit in ‘n tyd wat baie goed gepas het by die latere evangelicals se bekeringspreke waar mens binne die Christelike gemeenskap juis hierdie veroordelende preke gehoor het. Dit was juis in Jesus se tyd (teenoor die OT) dat die konsep van ‘n oordeelsdag baie sterk geleef het in die lewensbeskouing van die Jode – waarskynlik as ‘n wraak-droom oor die Romeine wat hulle oorheers het en met wie hulle heeltyd rekening moes hou in hulle eie land as onderhoriges. (Julle gaan sien, eendag gaan hulle nog op hulle neuse kyk!) Daarom dat die uitverkore-konsep so sterk deur die godsdiensleiers beklemtoon was en die Messiaanse verwagting hoog op die spyskaart was – wat ‘n nasionale verlossing sou beteken.
Nou weet ons mos anders. Die dag van afrekening het toe nie plaasgevind nie. Nie nasionaal-histories nie en ook nie apokalipties-religieus nie. Dis al meer as 2000 jaar later en ons het al hoeveel “laaste” oordeelsdae oorleef. Daar is soveel verskillende menings.

Verder weet ons ook dat die NT die vyand van liefde gepersonifiseer het as die duiwel en sy demone. Vandag weet ons dat die kwaad in die wêreld nie noodwendig so of slegs so ten toon gestel word nie.

Maar wat steeds blywend is, is die vraag of die wyse waarop ons God verstaan steeds te doen het met veroordeling en uitsluiting, of die oorwinning van die kwaad deur die goeie. Hierin het die gelykenis vir ons sin…

Die koninkryk van die hemel is soos ‘n goed be-arbeide koringveld, waar mens tot jou skok ontdek dat daar, naas die beplande koring van die boer, ‘n parallelle realiteit bestaan van iets anders wat hierdie koninkryk op die oog af naboots (die onkruid), maar in werklikheid dreig om dit skade te berokken. Jesus sê nie dat dit is hoe dit in die wêreld is nie, Hy sê dis hoe dit is in die koninkryk van God. Onthou, die koninkryk van God het in ons wêreld aangebreek toe Jesus na die aarde gekom het. Ons leef dus in ‘n gebroke koninkryk waar beide goed en kwaad te vinde is. Ons vraag: “Waarom laat God bose, slegte dinge toe in die wêreld?,” is daarom nie heeltemal korrek nie. Ons moet eerder vra: “Waarom laat God bose, slegte dinge of mense toe in sy koninkryk?”

Waarom laat God die son opkom oor die regverdiges, maar ook oor die onregverdiges?

Waarom gee Hy reën aan goeies en aan slegtes?

Waarom reken Hy nie af, of laat Hy nie toe dat ons, sy (gewillige) dienaars, afreken met die goddelose mense nie?

Waarom is dit in die koninkryk van God so dat die boosheid ook daar teenwoordig is? Dit is dan sy koninkryk, Hy is dan in beheer. Hy kan mos sê wat mag groei en wat moet uitgetrek word, wie mag bly en wie moet weg.

Op hierdie “Waarom?” vraag waarmee ons so dikwels worstel, is daar, vanuit die gelykenis, verskeie antwoorde – waarom dit nodig is dat die onkruid (in ek geval voorlopig nog) saam met die koring moet groei. Jesus gebruik juis die landboubeeld van ‘n boer met ‘n koringveld, omdat dit goed bekend sou wees aan álmal wat in sy tyd en in sy omgewing die gelykenis sou hoor. Hierdie mense was boere of, meestal, werkers op plase. Hulle was bekend met koring. Hulle was ook bekend met die tipe onkruid waarvan Jesus hier praat – zizania (Grieks), of in Afrikaans “drabok”.

1.) In die eerste plek het koring en drabok so baie na mekaar gelyk voordat hulle gereed was vir die oes, dat die gevaar bestaan het dat indien die boer dit aan die slawe sou oorlaat om solank die onkruid uit te roei, sou hulle die koring daarmee saam uittrek.

2) Verder lyk die koring en die onkruid nie net op ‘n haar na dieselfde nie. Die twee het beide ‘n ingewikkelde wortelstelsel wat met mekaar verstrengel geraak het. So selfs al sou die slawe die onkruid bo die grond (op die oog af) duidelik kon indentifiseer, was daar ondergronds alreeds ‘n vervlegtheid van wortelsisteme. Dus sou die koring in elk geval saam met die onkruid uitgetrek word, of ten minste ernstig beskadig word.

As ons die gelykenis hier kan deurtrek na die geskiedenis van die mensdom: Kyk net wat hét al in die geskiedenis gebeur wanneer sogenaamde koring (Christene) hulself die reg toegeëien het om in die naam van God die onkruid onder hulle uit te roei. Níks goeds het al ooit daarvan gekom nie. En onskuldiges het áltyd saam gely – of omdat die doeners in hulle oomblikke van oordeel en woede hulself wysgemaak het dat die onskuldiges éíntlik skuldiges is. (Dink maar aan vroue wat in die Middeleeue deur “Christene” op die brandstapels as hekse verbrand is. Dink aan die kruistogte. Dink aan Galileo Galilei wat deur die RKK as ketter veroordeel is en onder huisarres geplaas is weens sy bevindinge dat die aarde rond is en om die son draai – die voortydige en verkeerde oordeel deur die hoog heiliges wat gereken het dat sy bevindinge boos is. Dink aan wat in oorloë alles in die naam van God gepleeg is – nie net die wêreldoorloë nie, maar ook, bv, ons grensoorlog. Dink aan mense wat agv hul seksualiteit uit kerke weggewys word – enkele weke terug het ‘n vrou my weer vertel haar kerk sê haar lesbies-wees kom van die duiwel af, sy het die gay-demoon in haar…)

3) Daar is natuurlik ‘n derde, evangeliese, rede waarom die onkruid eers saam met die koring moet groei en moet bly leef. In óns koringvelde, in óns tuine: Onkruid is onkruid en, selfs al lyk dit miskien baie na die plantjies wat ons geplant het, sal dit nooit iets anders as onkruid wees nie. Maar in Gód se tuin werk dinge anders. In God se tuin word die onmoontlike moontlik. Geloof is immers om te vertrou op Iemand wat veel groter is as ons, en op dinge wat vir die wêreld na onsin lyk, om te weet dat by God alles moontlik is, dat dit selfs moontlik is dat onkruid in koring kan verander. Wie van ons het dit nie al gesien nie? Of in ons eie lewens, of in die lewe van iemand anders wat ‘n hartsverandering ondergaan het en wie se “verkeerde” lewe op koers gekom het. Wie is ons om onsself die reg aan te matig om onkruid te veroordeel en uit te roei, terwyl God nog glo in daardie onkruid, terwyl God nog geduld betoon, terwyl God nog hoop dat daardie stuk onkruid eendag in koring sal verander?

Ons wat self soms baie meer na onkruid lyk as na koring.

Omdat gelykenisse gewoonlik metafories van aard is, het hul ook hul beperkinge. Hierdie gelykenis kom baie dualisties oor. Asof daar net twee groepe mense in die wêreld (die koninkryk) is: die goeies teenoor die slegtes, die gelowiges teenoor die goddeloses. Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie. Elkeen van ons het ‘n goeie skoot onkruid in ons eie lewens. Wanneer Jesus in die gelykenis praat van die bose mense noem Hy hulle skandalon, struikelblokke. Hy gebruik hierdie woord ook op ander plekke in die evangelies. In een so geval noem Jesus sy regterhand man, die rots, Petrus, “Satan”, omdat Petrus in daardie geval ‘n skandalon, ‘n struikelblok, vir die ander geword het (dieselfde woord as in vandag se gelykenis). Maar tog, al het Petrus die eienskappe van onkruid vertoon, het die Here op die ou-end die voortgang van die kerk aan hom toevertrou. Was hy, ten spyte van sy onnadenkende uitsprake en sy verloëning van die Here, tóg koring genoeg gewees …

Die wêreld se mees algemene getuigskrif aangaande Christene is: They are the most judgmental group of people on earth. Christene is die mees veroordelende groep mense op aarde.

Dit is ‘n klad teen ons naam. Dit beteken dat ons nie ons plek ken nie, nie ons roeping verstaan nie. Ons roeping is nie om te probeer onderskei tussen koring en onkruid, tussen skape en bokke (Matt 25), tussen goeie mense en slegte mense nie. Nét God mag so oordeel. En Hy is nie eens haastig daarmee nie. Want dis teen sy grein.

Ons roeping is om die goeie nuus te verkondig. Deur daarvan te vertel ja, maar verál ook deur ons manier van lewe. (Matt 25)

Dit waarteen die dominee die kluisenaar gewaarsku het, het toe gebeur. Hy is dood en ‘n lykswa van ‘n naburige dorp moes sy liggaam kom haal. Hy het toe nie ‘n kerk-begrafnis gehad nie. Hy wou mos nie berou toon nie. Sy verdiende loon gewees…

Toe so week of wat later kom die prokureur van die naburige dorp by die dominee aan met ‘n brief in sy hand. Van die kluisenaar af:

Liewe Dominee, ek vra om vergifnis vir my vreemde gedrag. Ek hoop dat u my kan vergewe dat ek nie meer kerk toe gekom het nie. Op ‘n dag het ek in die woud gaan stap en op ‘n groep melaatses afgekom. Hulle het niemand gehad wat hulle kon help versorg nie. Ek het besluit om vir hulle kos en ander lewensnoodsaaklikhede te neem. Maar ek kon die lang pad net op ‘n Sondag stap. Daarom het ek nie meer kerk toe gekom nie. Ek het ook geweet dat, indien iemand sou weet dat ek met hulle kontak het, ek nie meer in die dorp sou mag woon nie. Ek kon daarom vir niemand sê nie.

Ek was versigtig gewees, bang dat ek dalk die siekte opdoen en mense kan aansteek. Daarom het ek alle sosiale geleenthede begin vermy.

Dikwels, Dominee, het ek ook een van my katte saamgeneem. Die mense het so ‘n behoefte gehad om aan iets sags te vat, om iets te streel, om liefde te ervaar, en die katte het nie vir hulle gegril nie.

Vergewe my afvalligheid van die kerk, Dominee. En, asseblief, sal u voortaan vir die melaatses en vir my katte sorg?

Kom ons maak soos wat Jesus hier leer. Laat ons nie oordeel nie. Kom ons hou ons eerder besig met die verkondiging van die goeie nuus van die Evangelie aan álmal, as ons dan nou móét praat. En ons sorg vir die melaatses.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Genesis 24 – 2017

9 Julie 2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

1 Abraham was oud, hy het in die dae ingekom (ver gevorderd in jare) en die Here het hom in alles geseën.

2 Abraham het vir sy slaaf gesê, die oudste/mees senior een in sy huis wat in beheer was van al sy sake: Sit asb jou hand onder my lies – letterlik “vat aan my geslagsdele”

Uittreksels uit artikels ter verduideliking:

(“The sacredness of this duty is underlined by the oath he is invited to swear. Note the “please” (נא) that precedes the imperative “swear.” It is no ordinary request that Abraham is making, so he couches it with some delicacy. By putting his hand under Abraham’s thigh, the servant was touching his genitals and thus giving the oath a special solemnity. In the ancient Orient, solemn oaths could be taken holding some sacred object in one’s hand, as it is still customary to take an oath on the Bible before giving evidence in court. Since the OT particularly associates God with life (see the symbolism of the sacrificial law) and Abraham had been circumcised as a mark of the covenant, placing his hand under Abraham’s thigh made an intimate association with some fundamental religious ideas. An oath by the seat of procreation is particularly apt in this instance, when it concerns the finding of a wife for Isaac.”

“Put your hand under my thigh. The taking of this oath had to do with the sanctity of the family and the continuation of the family line.”

“According to Rashi, based on the Midrash Rabbah, it does not mean literally the thigh; it means the Milah (organ of circumcision). The reason is because one who takes an oath must hold in his hand a sacred object, such as a scroll of the Torah or phylacteries.

The placing of one’s hand under the “thigh” is a euphemistic way to refer to swearing upon the testicles of the master. The testicles are the sign of Abraham’s descendants (they literally contained the “seed” that God had promised to bless in Genesis 15, 17, 22)”.

3 sodat ek jou kan laat sweer/belowe by die Here, die God vd hemel en die God vd aarde: Jy mag nie vat ‘n vrou vir my seun vanuit die Kanaäniete onder wie ek woon nie.

  1. Want jy moet gaan na my land en daar waar ek gebore is (die stam/mense uit wie) en vat (daar) ‘n vrou vir my seun Isak.

Vs 5: Die slaaf het vir Abraham gevra: As die vrou  nie agter my aan wil terugkom na hierdie land nie, moet ek dan sowaar terugneem (inf abs + impf) u seun na die land waarvandaan u gekom het?

Vs 6: Waak daarteen (openbaar ‘n skokkende, ondenkbare gedagte) om nie te laat terugkeer my seun daarheen nie! – Onder geen omstandighede nie! (roep dan die belofte van 12:7 woordeliks in herinnering) Soos wat die Here in die verlede voorsien het (deur ‘n boodskapper te stuur) is Abraham seker Hy sal weer voorsien.

Vs: Die Here die God vd hemele wat my gevat het vanuit die huis  van my vader en vanuit die land van my geboorte…

Hy besef die slaaf se vertroue is dalk nie dieselfde nie en gee vir hom ‘n “uit”, ‘n escape clause

Vs 8 einde: Jy moet net nie my seun daarheen terugneem nie.

Vs 12 einde: doen hesed met my meester Abraham.

Kamele is skaars. Tien is ‘n teken van groot rykdom.

Verlowing gaan gepaard met groot geskenke aan die bruid se familie. Die slaaf gaan voorbereid.

Vs 13 begin: Hinee Kyk! Ek staan by die oog>put met water en die dogters van die mans van die stad is op die punt om uit te kom om water te skep.

Vs 14: Laat dit so wees die meisie vir wie ek sê vir haar: Laat sak asb jou kruik sodat ek kan drink, en sy sê: Drink, en ek sal ook vir jou kamele gee om te drink,” vir haar het U aangestel vir u dienaar, vir Isak, en in/deur haar sal ek weet dat U het gedoen hesed met my heer.

Nie ‘n maklike toets om te slaag nie – die verwagting dat die vrou moet aanbied om 10 kamele se dors te les!

15 En dit was vir hom voordat hy het klaargemaak om te praat/bid, en Kyk! Rebekah het uitgekom, sy wat gebore is vir Bethuel seun van Milkah die vrou van Nahor, die broer van Abraham, en haar kruik op haar skouer. (Verteller gee veel meer info as wat die slaaf met eerste oogopslag weet.)

16 En die meisie was baie mooi op die oog, ‘n maagd (tiener meisie – hubare ouderdom), sy het nie ‘n man geken nie. Sy het afgekom na die oog/put en sy het haar kruik volgemaak en sy het opgegaan.

17 En hy het gehardloop die dienaar om haar te ontmoet en hy het gesê: Laat my asb ‘n bietjie water drink uit jou kruik.

18 En sy het gesê: Drink, my heer, en sy het vinnig haar kruik laat sak na haar hande toe (van haar skouers afgetel), en sy het vir hom gegee om te drink. (Spanning bou op, gaan sy vir die kamele ook water gee?)

19 Toe sy hom klaar laat drink het, het sy gesê: Ook vir u kamele sal ek water trek totdat hulle genoeg gehad het om te drink. (Veel meer as waarvoor hy gevra het.)

20 Sy het vinnig gemaak en leeggemaak haar kruik in die waterbakke en sy het gehardloop tot by die put om water te trek en sy het water getrek vir al sy kamele. (Dieselfde “oordrewe” gasvryheid as wat Abraham teenoor die 3 besoekers betoon het. – skoonpa se kind)

21 En die man (nie meer die slaaf nie, hy is immers nie haar slaaf nie) – hy het het haar dopgehou, stilletjies, om te weet/agter te kom of die Here sy pad suksesvol gemaak het of nie.

22 En dit was soos wat die kamele klaargemaak het om te drink en die man het geneem ‘n goue ring, ‘n beka in gewig (wat ‘n beka weeg) en twee armbande oor haar hand, 10 goue gewigte (wat 10 goue gewigte geweeg het).

23 En hy het gesê: Wie se dogter is jy?, sê asb vir my. Is daar in die huis van jou vader plek vir ons om te oornag?

24 Sy het vir hom gesê: Die dogter van Bethuel is ek, die seun van Milkah wat gebore is vir Nahor. (Milkah was Nahor se vrou. Nahor was Abraham se broer. Milkah was die dogter van Abr se ander broer Haran – die huwelik tussen ‘n oom en sy wees niggie, toe Haran oorlede is en Nahor die gasvryheidsverpligting teenoor haar nagekom het. Dws Bethuel is Nahor se seun en Haran se kleinseun.) Storie werk weereens beter uit as geantisipeer. Alle verwagtinge word oortref. Abr stuur die slaaf om ‘n vrou uit sy “clan”/stam te kry, hy kry onwetend Isak se eie niggie!

25 Verder het sy gesê: Ook is daar strooi en baie voer by ons (2 goed waarvoor hy nie gevra het nie) – weereens meer as verwag), ook plek om te oornag. (Sy, as vrou, bied dit egter nie aan nie, maar hardloop huistoe om te vra, en dit wys haar entoesiasme.)

26 Die man het gebuig en die Here aanbid.

27 Hy het gesê: Prys die Here, die God van my meester Abraham, wat nie sy hesed nalaat nie en sy trou met my meester. Wat MY betref, in die weg wat Hy my gelei het die Here, na die huis van die broers van my meester. (Nou nie meer die Here van my meester nie, net die Here)

28 Die meisie het gehardloop en sy het vertel vir die huis van haar ma al hierdie dinge.

29 (Rebekah het ‘n broer gehad en sy naam was Laban.) Laban het gehardloop na die man toe wat buite was, na die put toe.

30 … die man

En kyk!, hy het gestaan by die kamele by die put. (Laban se gulsigheid – Rebekah se juwele en die man wat staan by die kaméle. Dws anders as Abr en Rebekah word Laban nie aangespoor deur gasvryheid nie.)

31… Waarom staan jy hier buite terwyl EK (regtig, Laban?) die huis gereedgekry het en ‘n plek vir die kamele.

32 Hy het gekom die man na die huis…

33 Toe kos voor hom neegesit is om te eet, het hy gesê: Ek sal nie eet totdat ek gesê het wat ek wil sê nie. En hy (Laban) het geantwoord: Sê dit.

Werk so dat die gas eers eet en dan gesels. Hier is die taak van die slaaf egter te dringend vir hom en hy wil dit eers afhandel. Sy toewyding aan sy meester Abraham.

34 Hy het begin: ‘n Slaaf van Abraham is ek.

35 Die Here het my meester ryklik geseën en hy is ‘n vername man (groot > baie ryk). Hy het gegee vir hom vee en beeste en silwer en goud, mans en vroue slawe en kamele en donkies.

36 Sara, die vrou van my meester, het geboorte geskenk aan ‘n seun nadat sy oud was, en hy (my meester) het hom alles gegee wat hy besit.

37 My meester het my laat sweer: Moenie vir my seun ‘n vrou vat vanuit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie.

38 MAAR (im-lo)  jy moet gaan na die huis van my vader en na my stam en daar vir my seun ‘n vrou vat.

39 Ek het my meester geantwoord: Miskien sal die vrou nie agter my aan gaan nie.

40 Hy het geantwoord: Die Here voor wie ek wandel/lewe, Hy sal vir jou ‘n boodskapper/engel stuur en Hy sal jou pad voorspoedig maak, en jy sal vat ‘n vrou vir my seun vanuit my stam en vanuit die huis van my vader.

41 Dan sal jy vry wees van my eed, want jy het gegaan na my stam toe. Maar as hulle nie vir jou gee nie, dan sal jy (ook) vry wees van my eed.

42 Te ek vandag by die oog/put gekom het, het ek gesê: Here God van my meester Abraham, as daar asb tog vir U bestaan sukses vir my pad, die pad waarop ek loop;

43 Kyk!, ek staan by die oog/put met water, en daar sal wees ‘n jng vrou wat uitkom om te skep, en ek sal sê vir haar: Gee my asb ‘n bietjie water om te drink uit jou kruik;

44 En sy antwoord my: Drink jy, maar ook vir jou kamele sal ek gee om te drink; sy is die vrou wat die Here aangestel het vir die seun van my meester.

45 Ek het nog nie klaargemaak om te praat met my hart nie (te bid nie), en Kyk!,  Rebekah kom uit met haar kruik op haar skouer en sy gaan af na die oog/put en sy trek water. Ek sê toe vir haar: Gee asb vir my om te drink.

46 Sy het vinnig gemaak en haar kruik van haar skouer afgehaal en gesê: Drink, en ook vir jou kamele sal ek gee om te drink.

47 Ek het vir haar gevra: Wie se dogter is jy? En sy het geantwoord: Die dogter va Bethuel die seun van Nahor, aan wie Milkah vir hom geboorte geskenk het. Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande oor haar hande

Let op: Die slaaf draai die volgorde om. Eintlik het hy eerste die juwele gegee en daarna gevra wie se dogter sy is. Maar met die oorvertelling besef hy dalk dat daar meer respek in steek as hy besluit het om die juwele nie sommer vir enige mooi en vriendelike meisie gee nie, maar wag om te hoor of sy uit ‘n goeie familie kom…

48 Ek het neergebuig en die Here aanbid. En het die Here, die God van my meester Abraham geprys wat my gelei het in die pad van getrouheid om te vat (vind) ‘n dogter/kleindogter van my meester se broer vir sy seun.

49 En nou, as dit vir julle moontlik is om te doen hesed en trou aan my meester, sê vir my, maar as nie, sê dit ook vir my en ek sal draai na regs of na links (ek sal my goed vat en loop in ‘n rigting wat julle nie aangaan nie, maw ons het niks meer vir mekaar te sê nie.)

50 Maar Laban en Bethuel het hom geantwoord: Vanaf die Here het hierdie ding uitgegaan. Ons is nie in staat om sleg of goed tot jou te praat nie. (Wat ons dink is nie belangrik nie.)

51 Kyk! Rebekah is voor jou. Vat en gaan en sy sal ‘n vrou wees vir die seun van jou meester, soos wat die Here gesê het.

(Maar toe is dit ook nie sommer net vir vat en gaan nie…)

52 Toe Abraham se slaaf hierdie woorde gehoor het (let op, hy is weer die slaaf en nie meer die man nie), het hy na die grond toe neergebuig voor die Here.

53 Die slaaf het uitgehaal items van silwer en items van goud en klere en hy het vir Rebekah gegee. En waardevolle geskenke het hy gegee vir haar broer en vir haar ma.

54 Hulle het geëet en gedrink, hy en die mans wat by hom was. En hulle het oornag en hulle het opgestaan in die oggend en hy het gesê: Stuur my weg (terug) na my meester toe.

55 Maar haar broer en haar ma het gesê: Die meisie moet nog 10 dae by ons bly, daarna kan sy gaan.

56 Maar hy het vir hulle gesê: Julle moet my nie ophou nie. Die Here het my pad suksesvol gemaak. Stuur my weg sodat ek kan gaan na my meester toe.

57 Hulle het geantwoord: Ons sal die meisie roep en ons sal vir haar mond vra.

58 Hulle roep toe vir Rebekah en vra vir haar: Wil jy gaan met hierdie man? En sy het geantwoord: Ek wil gaan.

59 So het hulle vir Rebekah, hulle suster, gestuur en ook haar diensmeisie (lett haar vroedvrou) saam met Abraham se slaaf en sy manne.

60 Hulle het vir Rebekah geseën en gesê: …

61 Toe het hulle opgeklim Rebekah en haar meisies en hulle het op die kamele gery en hulle het agter die man aangegaan.So het die slaaf vir Rebekah gevat en gegaan.

Gordyne gaan toe en weer oop / Nuwe scene:

62 ISAK het vanaf die put van Lagai Roi (Die Lewend Een sien my ) gekom, en hy was wonende in die land van die Negev (woestyn).

63 Hy het uitgegaan Isak om te rus in die veld toe die aand gedraai het (vroegaand). Hy het sy oë opgelig en rondgekyk, en KYK!, kamele kom daar aan!

64 Rebekah het haar oë opgelig en sy sien vir Isak. Toe het sy vanaf haar kameel afgeval.

65 En sy het vir die slaaf gevra: Wie is hierdie man wat loop in die veld om ons te kom ontmoet? Die slaaf het geantwoord: Hy is my meester. Sy het haar sluier geneem en haar gesig bedek.

66 Die slaaf het vir Isak vertel al die dinge wat gebeur het.

67 Isak het haar gebring in die tent van Sara, sy ma; hy het vir Rebekah gevat om sy vrou te wees en hy was lief vir haar en Isak is vertroos na (die dood van) sy ma.

(Dit sou nie vir hom reg gewees het om haar in sy eie tent te neem voordat hulle getroud is nie, maar om haar in sy ma se tent te neem spreek baie sterk – dit dra die boodskap uit watter rol Rebekah van nou af sou vervul. Binne die uitgebreide familie struktuur (slawe en hul gesinne ingesluit) word Rebekah nou die nuwe matriarg. Rebekah is die nuwe Sara soos wat Isak die nuwe Abraham is – let op, Abraham kom nie weer ter sprake nie. Sy laaste woord was aan die begin van die hfst.)

Abraham: sy vertroue dat die God wat hom geroep het en met hom ‘n verbond gesluit het, sal sorg. Dit het hy al vanuit sy verlede geleer. Abraham gee oor aan sy hoof slaaf om te gaan en besluite te neem in lyn met die belofte van God. God se beloftes kom nie sommer so siedaar! tot vervulling nie. As Hy beloof het, is daar die verantwoordelikheid aan die mens se kant om binne die speelruimte van daardie belofte te leef.

Die slaaf: Lojaal aan sy eienaar. Hierdie was waarskynlik (besis) die belangrikste taak wat Abraham aan hom toevertrou het, want die belofte van ‘n nageslag het hieraan gehang. Die slaaf word ‘n belangrike man wat ‘n vrou gaan soek vir sy meester se seun, wat gasvry aan huis van ander ryk mense ontvang word, wat geag word, gerespekteer word – tog die hartseer dat ons aan die einde van die suksesverhaal steeds nie sy naam weet nie…

Bethuel wat verbasend stil is en in sy seun Laban se skaduwee beweeg – dalk weens hoë ouderdom?

Laban: alreeds die gulsige man wat kyk wat daarin kan wees vir hom, hoe wen hy uit die situasie. Later meer oor hom en sy streke.

Rebekah se ma: seg nie ‘n woord nie.

Rebekah: ‘n Tweede Abraham. Sterk en braaf, verlaat haar land om met ‘n man in die vreemde te gaan trou en daar te bly. Leef binne oorgawe van die beloftes van God. Later sal ons ook haar sterk karakter sien wanneer sy toesien dat die jongste van haar tweeling, Jakob, die eersgeboortereg van sy broer Esau af “onderhandel”  met ‘n pot lensiesop en hoe sy help om vir Isak te uitoorlê toe hy al oud en blind was om die regte (die verkeerde?) seun te seën binne die lyn van die verbondsbelofte. ‘n Vrou wat planne kon maak en eintlik die een was wat aan die stuur was van die huishouding.

Isak: verbasend passief. Dalk was dit eenvoudig sy persoonlikheid. Ons lees ook nie da thy juis teëgeskop het toe sy pa gereedgemaak het om hom te offer nie… Dalk is hier so passief omdat hy nog treur oor sy ma Sara wat oorlede is. Ons lees wel dat hy vir Rebekah ontvang het as vrou, dat hy aan haar die matriarg posisie van sy ma oorgegee het, dat hy haar liefgehad het…

God: Die Een agter die skerms. Die Een rondom wie se beloftewoord hierdie verhaal opgebou word. Mense rig hul woorde en dade binne die beloftewoord van God, hulle ag God se woord en vra of sien tekens in hul lewens wat dui op sy betrokkenheid. Alhoewel God nie hier “aan die woord kom” soos in die vorige twee verhale (die offer van Ishmael en die amperes offer van Isak nie), ervaar die karakters tog dat Hy deurentyd betrokke is. Soos in die boek van Rut – die God wat agter die skerms rig en lei en geur gee aan die lewens van mense.

Die God van Jesus, nog ‘n man (Man van God) wat moeite gedoen het om aan vrouens in die patriargale samelewing ‘n plek te gee en omgegee het vir die lewens van die gewone mense, die eenvoudiges, die ongelangrikes. Ook Hy het van slawe manne gemaak.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Genesis 21:8-12 – 2017

2 Julie 2017 Koninkrykstyd Pinelands – Doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Agtergrond

Die aartsouerverhale.

Die verbondsbelofte van grond en ‘n nageslag (Gen 12 & 15)

Abram en Sarai (eintlik kom die inisiatief van Sarai) wat self plannetjies maak om God se belofte te laat realiseer – neem my slavin Hagar wat jonger is as ek, haar kind sal elk geval myne wees want sy behoort aan my… (“Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Miskien bring sy ‘n kind in die wêreld wat my eie kan word” 16:2).

Abram het met Sarai saamgestem en Hagar het toe wel swanger geword. Hagar wat wegloop omdat Sara haar so sleg behandel toe sy swanger is, en 16:11 God: “Noem hom Ismael want die Here het jou swaarkry gehoor”, en 16:13 Hagar: “U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het”.

Ons leer iets van hoe God sien, wie God raaksien en hoor – in die OT altyd die onderdrukte, die een in nood.

Hagar gaan terug na Sarai maar hul verhouding is sleg. Toe Abram 99 jaar oud was het die Here weer aan hom verskyn, en sy naam verander na Abraham en Sarai se naam verander na Sara, want, het God gesê, “ek sal haar seën en vir jou ‘n seun uit haar gee” (17:16). Abraham het gelag en gedink: Hoe kan ‘n man van 100 en ‘n vrou van 90 ‘n kind in die wêreld bring? Later sou Sara ook lag oor hierdie belaglike belofte (18:15). Maar soos die Here beloof het, is die seuntjie Isak (wat “lag” geteken) toe wel gebore. En die kind van Sara se slavin Hagar, die kind Ismael wat sy as haar eie wou grootmaak, is skielik nie meer vir haar belangrik nie.

Teks

Vs 8: Kinders is gespeen rondom die ouderdom van 2 of 3. In die lig van die hoë sterftesyfer in daardie tyd het babas dikwels nie oorleef nie. Wanneer ‘n baba dan in sy 2e of 3e jaar gespeen is, is dit as ‘n groot mylpaal beskou. Die eerste lewensfase is agter die rug en die kanse vir oorlewing is van nou af veel groter. Die familie het met die geleentheid ‘n groot fees gehou as ‘n tipe oorgangsrite vir die kindjie.

Wat gebeur as Sara sien hoedat ouboet Ismael met Isak speel – sy sien bedreiging en sy wil hê dat dit uit die weg geruim moet word.

BH letterlik: Ismael het met Isak ge-Isak (dws dalk sien Sara dat Ismael met klein Isak speel soos wat ‘n ouboet, ‘n erfgenaam met sy kleinboet speel en dit tref haar toe: Die rolle is verkeerd, Ismael kan nie die erfgenaam wees nie.)

Vs 11: Wat sien Abraham? “Dit was boos/baie sleg in Abraham se oë”

(Die naam “Ismael” kom nie in die teks voor nie. Die hele verhaal gaan oor Ismael maar hy word net genoem die “kind van die slavin”.)

Vs 12: God: “Dit moenie boos wees in jou oë oor die kind en oor jou slavin nie…” (God bring die slavin as persoon self ook in, nie Sara of Abraham nie – amper asof sy vir hulle net ‘n middel tot ‘n doel was, ‘n surrogaat ma.

Vs 14 lett: “Hy het kos en water geneem en dit aan Hagar gegee daar op haar skouers, en hy het die seun (vir haar) gegee en hulle laat gaan (ontslaan – dieselfde woord as om slaaf vry te stel of om te skei van jou vrou)”; dws BH teks noem nie dat hy die seun op haar rug getel het nie. Ismael was elk geval al so 15/16 jaar oud en dus te groot om deur sy ma ge-abba te word.

Sy het gefouteer – verdwaal in die woestyn.

Vs 15: “neergesit” = letterlik “gegooi” soos wat Josef in die put gegooi was en soos wat lyke soms in die graf gegooi is. Met die agterlaat onder die bos het sy hom dus “lewendig begrawe”, wetend hy gaan daar sterf.

Vs 16: “oorkant op ‘n afstand soos wat mens kan skiet met ‘n pyl”

Hagar wil nie sien hoe die kind sterf nie.

“sy het haar stem opgelig en gehuil”

Vs 17: FOKUS:

וַיִּשְׁמַ֣ע אֱלֹהִים֮ אֶת־ק֣וֹל הַנַּעַר֒ וַיִּקְרָא֩ מַלְאַ֨ךְ אֱלֹהִ֤ים׀ אֶל־הָגָר֙ מִן־הַשָּׁמַ֔יִם וַיֹּ֥אמֶר לָ֖הּ מַה־לָּ֣ךְ הָגָ֑ר אַל־תִּ֣ירְאִ֔י כִּֽי־שָׁמַ֧ע אֱלֹהִ֛ים אֶל־ק֥וֹל הַנַּ֖עַר בַּאֲשֶׁ֥ר הוּא־שָֽׁם׃

(En Hy het gehoor God (Ishma El-ohim) die stem van die kind en hy het geroep die engel van God tot Hagar vanuit die hemel en gesê vir haar: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want Hy hoor God (Ishma El-ohim na die stem van die kind daar waar hy is.)

Gryp terug na Ismael se naamgewing toe Hagar uitgebuit en swanger en in die woestyn rondgedwaal het (16:11): “Jy moet hom Ismael noem, want die Here het jou swaarkry (affliction) gehoor”. NOU hoor God weer die kind se swaarkry – Vers 17 begin met Ismael se naam maar nie as eienaam nie, wel as werkwoord – God het gehoor die stem van die kind. En aan die einde weer: Moenie bang wees nie Hagar want (lett:) God hoor (Ismael) na die stem, maar die preposisie el bou ‘n oorgang vanaf hoor >luister, dws gee gehoor, doen iets daaraan, aan hierdie nood vd kind daar waar hy is (onder die bos)!

Vs 18: “staan op, tel (>help) die kind op en hou jou hand in syne (>hou sy hand vas)…” Moet hom net nie los nie, Hagar!

V19: God help vir Hagar om anders te sien, verder te kyk, nie net na die leë velsak in haar hand nie, maar om die put daar anderkant raak te sien. God help Hagar om uitkoms raak te sien.

Boodskap

Op die dag van die fees het Sara toegekyk hoedat die seun van die slavin met haar enetjie speel. Dit lyk na ‘n rustige prentjie wat voor Sara se oë afspeel (alhoewel sommige kommentatore hier onheil raaksien om Sara se gedrag te ondersteun – bv hy het vir Isak getart, met hom geloll – maar geen tekskritiese ondersteuning hiervoor) en presies daar begin sy die gevaar vir haar eie seun aanvoel. Die oorsaak vir haar onrus lê in wat sy sien. Sy sien nie meer die seun wat sy so graag deur haar slavin Hagar as haar eie wou “aanneem” nie. Noudat sy haar eie seun het sien sy vir Ismael in ‘n nuwe lig – as die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het. As die seun wat as eersgeborene van sy pa haar eie seun se toekoms gedreig. En daarom ook haar toekoms bedreig. Want die toekoms van ‘n vrou het by haar seun gelê. Die eersgeborene is die primêre erfgenaam, en dit kan Sara nie toelaat nie. Ismael, die kind van die slavin, mag nie as eersgeborene erf nie. Nie noudat sy haar eie seun uit haar eie liggaam gekry het nie. Vandaar haar harde opdrag aan Abraham dat hy die slavin en haar seun moet wegjaag. Sara praat so neerhalend oor hulle dat sy hulle nie eens by die naam noem nie.

Abraham wou nie aan Sara se versoek toegee nie. Hy het gedink dat dit heeltemal verkeerd, selfs boos is om hierdie Ismael seun van hom weg te jaag. Maar God het vir hom gesê om nie sleg te voel oor die kind en sy slavin-byvrou nie, maar om te doen wat Sara vir hom sê. “Want,” herinner God hom, “uit Isak sal jou nageslag gebore word.” Maar dan voeg God die trooswoorde by, ‘n belofte: “Tog sal Ek die seun van die slavin ‘n nasie laat word, want hy is jou kind (jou saad).”

Die volgende oggend het Abraham toe vir Hagar en die kind weggestuur, die Bersebawoestyn in. Die manier waarop hy die kos en water op Hagar se skouers sit en die kind vir haar gee, spreek diep. In hierdie gebare sit alles wat hy nie kan verwoord nie. Liefde en die begeerte om vir oulaas te versorg, maar terselfdertyd oorgawe, hartseer en afskeid.

Hagar en die kind, oppad na die land van haar herkoms, Egipte, het verdwaal en in die woestyn rondgeswerf. Die kos en water het nie gehou nie. Toe die water opraak het die uitsigloosheid Hagar oorval. Sy het gevoel dat sy nie kan toekyk hoe haar seun doodgaan nie. Daarom het sy hom onder ‘n doringbos agtergelaat, eintlik verwerp (begrawe!). ‘n Stukkie skaduwee. En sy het ‘n ent daarvandaan gaan sit en onbedaarlik begin huil.

Hierdie verhaal is opgebou uit soveel onreg en wreedhede. ‘n Kind wat waarskynlik nooit daar moes wees nie word gebore omdat Sara en Abraham nie vir God vertrou in sy belofte van ‘n nageslag nie en konkel met hulle eie plannetjies om deur die slavin Hagar tog ‘n nageslag te verseker. Hulle wil God se belofte in eie krag tot vervulling bring. Sowat 13/14 jaar later vervul God wel sy aanvanklike belofte en Isak word uit Sara gebore. Na 2 of 3 jaar het Isak sy eerste kritiese lewensfase oorleef en die familie vier fees omdat ‘n toekoms inderdaad vir hom wink. En tydens die fees trek die oudste seun Ishmael Sara se aandag. Die seun wat in die eerste plek die produk van haar slim plannetjies was, speel en lag saam met haar eie seun Isak, en Sara sien skielik met kommer die toekoms vooruit – ‘n toekomsblik waarin Ismael nou in die weg staan van Isak se erfporsie. Die bedreiging wat sy aanvoel maak dat sy drasties optree en daarop aandring dat Abraham die slavin en haar seun Ismael moet wegjaag. Abraham skop teë. Hy kan nie dink dat hy sy seun Ismael en die se ma Hagar (God herinner hom dat sy ook daar is) moet wegjaag nie. Maar God maak nogmaals ‘n belofte dat Abraham tog moet doen soos Sara sê, want dit ís uit Isak wat sy nageslag gebore sal word, maar dat Hy wat God is ook vir Ismael ‘n groot nasie sal laat word, want ook hy is Abraham se kind. En met hierdie belofte van God in sy hart laat Abraham dan die volgende oggend vroeg vir Hagar en Ismael gaan. Sara gooi haar aanneemkind weg. En Abraham stuur hom weg. Nie omdat hy iets verkeerds gedoen het nie. Bloot maar omdat hy nou in die pad is, hy is oorbodig, nie meer nodig nie. En dan in die woestyn gooi sy eie ma hom eintlik ook weg; nie omdat sy wil nie, maar omdat sy nie anders kan nie. Sy sien nie kans om saam met hom onder dieselfde bos te sit en toe te kyk hoe hy sterf nie. En sy begin onbedaarlik huil. ‘n Wrede verhaal vol ongeregtigheid.

Maar in wese is hierdie nie primer ‘n verhaal oor menslike wreedheid en afguns nie, maar oor die trou van God. Want die kind het ook gehuil, daar op sy eie onder die bos – wees en verstote, waar sy ouers nie meer vir hom kans gesien het nie. En Gód het die kind hoor huil, en ‘n engel het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy gelê gehóór” (17). Wanneer mense, en ouers, hier hulle koppe wegdraai en hulle ore sluit vir die nood van hul kinders, dan hoor God. “’Staan op (Hagar), help die kind op en hou sy hand vas, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.’ Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien … God was by die kind en hy het grootgeword …”

Al lees ons nooit sy naam in die storie raak nie, gaan hierdie verhaal oor Ismael. Daar word deurgaans na hom verwys as “die kind van die slavin” of bloot maar “die kind”. So asof die storieverteller al hierdeur wil wys hoe onbelangrik die kind nou regtig was. Hy is nie eens werd om by die naam genoem te word nie, verál nie noudat Isak – die kind van die belofte – uiteindelik gebore is nie. Maar op ‘n indirekte manier word Ishmael se naam wel genoem, aan die begin en dan weer aan die einde van die belangrikste vers 17; en dan nie in die vorm van ‘n eienaam nie, maar as ‘n werkwoord: “Isma Elohim”. “Isma” beteken “hoor”. “Elohim” is die langer vorm van “El”, wat “God” beteken. “Ishma El”, God het die kind gehoor – Ishmael. Sy naam kry betekenis wanneer God betrokke raak. En dan het hy nie net ‘n noemnaam nie. Hy het ‘n werkwoord vir ‘n naam. God verander sy lot – Ishmael, God hóor en God gryp in en God bring uitkoms. Die weggooikind van mense, die weggooikind van die Godsvolk, word die optelkind van God.

Die kind Ishmael se naam, sy identiteit, lê  nie in die vreemde nie, nie in Egipte nie, nie daarin dat hy die vader van die Islam geloof en die Moslems is nie. Sy identiteit lê ten diepste in die God van Abraham en Isak en Jakob. Dis Gód wat hom sy naam gegee het en dis God wat Pa staan vir hierdie naam, Gód wat sien, Gód wat hoor, Gód wat ingryp, Gód wat toeëien.

God is getrou aan sy beloftes. Hy het wel vir Isak, en nie vir Ishmael nie, uitverkies om deur hom aan Abraham die groot nageslag te gee. (Deur hom, nie vir hom nie. Deur hom vir almal, “want deur jou sal al die nasies van die aarde geseën wees. Al die nasies…”) Maar God se verkiesing van Isak beteken nie die verwerping van Ishmael nie. (Net soos sy liefde vir Jakob nie sy haat vir Esau beteken, soos wat die vertalings ons wil laat verstaan nie. Terloops: interessant dat Ishmael later die skoonpa word van Esau, nog ‘n weggooikind… – ‘n storie vir ‘n ander dag.) Ook Ishmael kry ‘n groot nageslag, ook aan hom toon God sy genade. In die Moslemwêreld word Ishmael onthou vir sy regmatige plek – as die eersgeborene van Abraham, en as hulle eie voorvader. God dink nie net aan die kind van die belofte nie. Hy dink aan al sy kinders. Hy dink met besondere deernis aan die kinders wat deur ander uitgesluit of weggegooi word. God hoor mense wat deur ander uitgesluit, weggejaag, vir dood gelaat word… God dink aan die kinders vir wie daar nie plek is onder die sg Godsvolk nie…

Ons het vanoggend gedoop. Die doop wat in die NT die besnydenis van die OT vervang. Waar begin die besnydenis nou weer? In Genesis 17 stel God die besnydenis in as teken van sy verbondsbelofte aan Abraham. Die eerste een wat Abraham gevat het om besny te word… is Ishmael! Ishmael het heel eerste die teken gedra van die verbond wat God met Abraham gesluit en deur Isak se nageslag tot vervulling wou bring (toe Hy nog gehoop het die volk sal saamwerk binne hierdie plan). Nog voor Isak se geboorte was Ishmael reeds ingesluit in die breër belofte van God se trou. Norman en Anina, Jannas is vanoggend gedoop. Ook hy dra die teken van die nuwe verbond. Ek weet hy sal nooit uitgesluit, nooit weggegooi voel nie, want julle is sy ouers. Maar hy leef in ‘n land en ‘n wêreld waar hy maatjies gaan hê wat uitgesluit voel. As julle hom so grootmaak dat hy vir God leer ken as die God van Abraham, Isak en Jakob, dan is dit wonderlik. Maar nog veel beter en belangriker as dit, is dat julle hom moet help om vir God te leer ken as die God van Ishmael (en ja, ook die God van die buite-egtelike kind Jesus). Dan sal Jannas ‘n groot verskil maak in die wêreld, dan sal hy sien vir wie God sien, dan sal hy hoor wie en wat God hoor, die noodroepe van mense. Ons dien nie ‘n eksklusiewe God nie, maar ‘n inklusiewe God.

Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van die God van Ishmael, en die nabyheid van sy Gees is by julle elkeen. Gaan uit en vertel dit vir die Ishmaels in die wêreld.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.