Matteus 13:24-30, 36-43 – 2017

16 Julie 2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die storie word vertel van ‘n kluisenaar wat in ‘n dorpie op die rand van ‘n woud gewoon het. Hierdie man het alleen gewoon, maar hy was nie altyd van mense afgesonder nie. Hy het sy vriende gehad op die dorp, besigheid gedoen, en elke Sondag getrou kerk toe gegaan.  Totdat hy dit al minder en minder begin doen het, en homself al meer en meer van almal en alles onttrek het. In plaas van kerk toe gaan op ‘n Sondag, het mense gemerk dat dit sy instelling geword het om in daardie tyd die woud in te stap met ‘n sak of twee in sy hand – nugter alleen weet wat daarin is, maar ‘n mens kan sommer raai – en soms het hy ‘n kat onder die arm ook saamgeneem. En dan het hy veel later die Sondag altyd leëhand teruggestap na sy huis toe.

Mense het agter hulle hande begin praat en wonder. Die winter het aangebreek en dit was baie strawwer as gewoonlik. Twee huise se dakke het binne een week afgewaai. “Dit is die vingerwysing van God,” het die dorpenaars vir mekaar gesê. Dit is omdat die kluisenaar homself besig hou met heksery, en dit nogals op die heilige dag. Omdat hy katte offer in die woud.

Die mense het hulself al meer en meer van die man begin afsonder, nie eens meer ‘n kopknik in die straat nie, en toe dinge vir hulle net té erg word, het hulle met die dominee gaan praat. In opdrag van die gemeente het die dominee met die kluisenaar gaan praat en aan hom meegedeel dat, indien hy nie sy vreemde gedrag stopsit, berou toon vir sy sondes, en weer ‘n slaggie kerk toe kom nie, word hy vir tyd-en-wyl uit die kerk verban. En hy moet tog onthou – hy gaan eendag die kerk nodig hê om hom op ‘n ordentlike manier te begrawe as hy sterf. Hy moet mooi dink oor hoe hy van nou af vorentoe gaan leef.

Die kluisenaar het egter niks aan sy gedrag verander nie, ook nie weer begin kerk toe kom nie, en die ergste het gebeur – hy is uit die kerk uit verban…

Lees Matteus 13: 24-30, 36-43

 Die wêreldbeskouing en metafoor waardeur hierdie gelykenis werk, is baie ver van ons verwyder en dit moet ons aan die begin al vir mekaar sê. Jesus druk Homself uit in ‘n tyd wat baie goed gepas het by die latere evangelicals se bekeringspreke waar mens binne die Christelike gemeenskap juis hierdie veroordelende preke gehoor het. Dit was juis in Jesus se tyd (teenoor die OT) dat die konsep van ‘n oordeelsdag baie sterk geleef het in die lewensbeskouing van die Jode – waarskynlik as ‘n wraak-droom oor die Romeine wat hulle oorheers het en met wie hulle heeltyd rekening moes hou in hulle eie land as onderhoriges. (Julle gaan sien, eendag gaan hulle nog op hulle neuse kyk!) Daarom dat die uitverkore-konsep so sterk deur die godsdiensleiers beklemtoon was en die Messiaanse verwagting hoog op die spyskaart was – wat ‘n nasionale verlossing sou beteken.
Nou weet ons mos anders. Die dag van afrekening het toe nie plaasgevind nie. Nie nasionaal-histories nie en ook nie apokalipties-religieus nie. Dis al meer as 2000 jaar later en ons het al hoeveel “laaste” oordeelsdae oorleef. Daar is soveel verskillende menings.

Verder weet ons ook dat die NT die vyand van liefde gepersonifiseer het as die duiwel en sy demone. Vandag weet ons dat die kwaad in die wêreld nie noodwendig so of slegs so ten toon gestel word nie.

Maar wat steeds blywend is, is die vraag of die wyse waarop ons God verstaan steeds te doen het met veroordeling en uitsluiting, of die oorwinning van die kwaad deur die goeie. Hierin het die gelykenis vir ons sin…

Die koninkryk van die hemel is soos ‘n goed be-arbeide koringveld, waar mens tot jou skok ontdek dat daar, naas die beplande koring van die boer, ‘n parallelle realiteit bestaan van iets anders wat hierdie koninkryk op die oog af naboots (die onkruid), maar in werklikheid dreig om dit skade te berokken. Jesus sê nie dat dit is hoe dit in die wêreld is nie, Hy sê dis hoe dit is in die koninkryk van God. Onthou, die koninkryk van God het in ons wêreld aangebreek toe Jesus na die aarde gekom het. Ons leef dus in ‘n gebroke koninkryk waar beide goed en kwaad te vinde is. Ons vraag: “Waarom laat God bose, slegte dinge toe in die wêreld?,” is daarom nie heeltemal korrek nie. Ons moet eerder vra: “Waarom laat God bose, slegte dinge of mense toe in sy koninkryk?”

Waarom laat God die son opkom oor die regverdiges, maar ook oor die onregverdiges?

Waarom gee Hy reën aan goeies en aan slegtes?

Waarom reken Hy nie af, of laat Hy nie toe dat ons, sy (gewillige) dienaars, afreken met die goddelose mense nie?

Waarom is dit in die koninkryk van God so dat die boosheid ook daar teenwoordig is? Dit is dan sy koninkryk, Hy is dan in beheer. Hy kan mos sê wat mag groei en wat moet uitgetrek word, wie mag bly en wie moet weg.

Op hierdie “Waarom?” vraag waarmee ons so dikwels worstel, is daar, vanuit die gelykenis, verskeie antwoorde – waarom dit nodig is dat die onkruid (in ek geval voorlopig nog) saam met die koring moet groei. Jesus gebruik juis die landboubeeld van ‘n boer met ‘n koringveld, omdat dit goed bekend sou wees aan álmal wat in sy tyd en in sy omgewing die gelykenis sou hoor. Hierdie mense was boere of, meestal, werkers op plase. Hulle was bekend met koring. Hulle was ook bekend met die tipe onkruid waarvan Jesus hier praat – zizania (Grieks), of in Afrikaans “drabok”.

1.) In die eerste plek het koring en drabok so baie na mekaar gelyk voordat hulle gereed was vir die oes, dat die gevaar bestaan het dat indien die boer dit aan die slawe sou oorlaat om solank die onkruid uit te roei, sou hulle die koring daarmee saam uittrek.

2) Verder lyk die koring en die onkruid nie net op ‘n haar na dieselfde nie. Die twee het beide ‘n ingewikkelde wortelstelsel wat met mekaar verstrengel geraak het. So selfs al sou die slawe die onkruid bo die grond (op die oog af) duidelik kon indentifiseer, was daar ondergronds alreeds ‘n vervlegtheid van wortelsisteme. Dus sou die koring in elk geval saam met die onkruid uitgetrek word, of ten minste ernstig beskadig word.

As ons die gelykenis hier kan deurtrek na die geskiedenis van die mensdom: Kyk net wat hét al in die geskiedenis gebeur wanneer sogenaamde koring (Christene) hulself die reg toegeëien het om in die naam van God die onkruid onder hulle uit te roei. Níks goeds het al ooit daarvan gekom nie. En onskuldiges het áltyd saam gely – of omdat die doeners in hulle oomblikke van oordeel en woede hulself wysgemaak het dat die onskuldiges éíntlik skuldiges is. (Dink maar aan vroue wat in die Middeleeue deur “Christene” op die brandstapels as hekse verbrand is. Dink aan die kruistogte. Dink aan Galileo Galilei wat deur die RKK as ketter veroordeel is en onder huisarres geplaas is weens sy bevindinge dat die aarde rond is en om die son draai – die voortydige en verkeerde oordeel deur die hoog heiliges wat gereken het dat sy bevindinge boos is. Dink aan wat in oorloë alles in die naam van God gepleeg is – nie net die wêreldoorloë nie, maar ook, bv, ons grensoorlog. Dink aan mense wat agv hul seksualiteit uit kerke weggewys word – enkele weke terug het ‘n vrou my weer vertel haar kerk sê haar lesbies-wees kom van die duiwel af, sy het die gay-demoon in haar…)

3) Daar is natuurlik ‘n derde, evangeliese, rede waarom die onkruid eers saam met die koring moet groei en moet bly leef. In óns koringvelde, in óns tuine: Onkruid is onkruid en, selfs al lyk dit miskien baie na die plantjies wat ons geplant het, sal dit nooit iets anders as onkruid wees nie. Maar in Gód se tuin werk dinge anders. In God se tuin word die onmoontlike moontlik. Geloof is immers om te vertrou op Iemand wat veel groter is as ons, en op dinge wat vir die wêreld na onsin lyk, om te weet dat by God alles moontlik is, dat dit selfs moontlik is dat onkruid in koring kan verander. Wie van ons het dit nie al gesien nie? Of in ons eie lewens, of in die lewe van iemand anders wat ‘n hartsverandering ondergaan het en wie se “verkeerde” lewe op koers gekom het. Wie is ons om onsself die reg aan te matig om onkruid te veroordeel en uit te roei, terwyl God nog glo in daardie onkruid, terwyl God nog geduld betoon, terwyl God nog hoop dat daardie stuk onkruid eendag in koring sal verander?

Ons wat self soms baie meer na onkruid lyk as na koring.

Omdat gelykenisse gewoonlik metafories van aard is, het hul ook hul beperkinge. Hierdie gelykenis kom baie dualisties oor. Asof daar net twee groepe mense in die wêreld (die koninkryk) is: die goeies teenoor die slegtes, die gelowiges teenoor die goddeloses. Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie. Elkeen van ons het ‘n goeie skoot onkruid in ons eie lewens. Wanneer Jesus in die gelykenis praat van die bose mense noem Hy hulle skandalon, struikelblokke. Hy gebruik hierdie woord ook op ander plekke in die evangelies. In een so geval noem Jesus sy regterhand man, die rots, Petrus, “Satan”, omdat Petrus in daardie geval ‘n skandalon, ‘n struikelblok, vir die ander geword het (dieselfde woord as in vandag se gelykenis). Maar tog, al het Petrus die eienskappe van onkruid vertoon, het die Here op die ou-end die voortgang van die kerk aan hom toevertrou. Was hy, ten spyte van sy onnadenkende uitsprake en sy verloëning van die Here, tóg koring genoeg gewees …

Die wêreld se mees algemene getuigskrif aangaande Christene is: They are the most judgmental group of people on earth. Christene is die mees veroordelende groep mense op aarde.

Dit is ‘n klad teen ons naam. Dit beteken dat ons nie ons plek ken nie, nie ons roeping verstaan nie. Ons roeping is nie om te probeer onderskei tussen koring en onkruid, tussen skape en bokke (Matt 25), tussen goeie mense en slegte mense nie. Nét God mag so oordeel. En Hy is nie eens haastig daarmee nie. Want dis teen sy grein.

Ons roeping is om die goeie nuus te verkondig. Deur daarvan te vertel ja, maar verál ook deur ons manier van lewe. (Matt 25)

Dit waarteen die dominee die kluisenaar gewaarsku het, het toe gebeur. Hy is dood en ‘n lykswa van ‘n naburige dorp moes sy liggaam kom haal. Hy het toe nie ‘n kerk-begrafnis gehad nie. Hy wou mos nie berou toon nie. Sy verdiende loon gewees…

Toe so week of wat later kom die prokureur van die naburige dorp by die dominee aan met ‘n brief in sy hand. Van die kluisenaar af:

Liewe Dominee, ek vra om vergifnis vir my vreemde gedrag. Ek hoop dat u my kan vergewe dat ek nie meer kerk toe gekom het nie. Op ‘n dag het ek in die woud gaan stap en op ‘n groep melaatses afgekom. Hulle het niemand gehad wat hulle kon help versorg nie. Ek het besluit om vir hulle kos en ander lewensnoodsaaklikhede te neem. Maar ek kon die lang pad net op ‘n Sondag stap. Daarom het ek nie meer kerk toe gekom nie. Ek het ook geweet dat, indien iemand sou weet dat ek met hulle kontak het, ek nie meer in die dorp sou mag woon nie. Ek kon daarom vir niemand sê nie.

Ek was versigtig gewees, bang dat ek dalk die siekte opdoen en mense kan aansteek. Daarom het ek alle sosiale geleenthede begin vermy.

Dikwels, Dominee, het ek ook een van my katte saamgeneem. Die mense het so ‘n behoefte gehad om aan iets sags te vat, om iets te streel, om liefde te ervaar, en die katte het nie vir hulle gegril nie.

Vergewe my afvalligheid van die kerk, Dominee. En, asseblief, sal u voortaan vir die melaatses en vir my katte sorg?

Kom ons maak soos wat Jesus hier leer. Laat ons nie oordeel nie. Kom ons hou ons eerder besig met die verkondiging van die goeie nuus van die Evangelie aan álmal, as ons dan nou móét praat. En ons sorg vir die melaatses.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.