Matteus 15:21- 28 – 2017

13 Augustus 2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Votum: Geseënd is die mense wat treur, want hulle sal vertroos word.”

 Agtergrond van Bergrede en Matteus gelykenisse die afgelope weke. Ook die verwysing na die Jode se ongeloof (einde 13) en Petrus se kleingelowigheid (Matt 14 op die see). [Nou die oploop na die groot geloof vd Kanaänitiese vrou soos ook met die hekatontarg in hfst 8).

Teks

Vs 21: Die stede Tirus en Sidon was in Kanaän gewees (hedendaagse Libanon). Die streke was egter veel groter en op die buitewyke van die streke sou mens ook Jode aantref.

Vs 22: En kyk (idou), hier soortgelyk aan BH hinee! om die aandag te vestig op wat volg.

Kuri-e – Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! – Joodse titel vir Jesus. Die Kanaäniet weet hoe om Hom soos sy eie mense aan te spreek. Sy het beslis al van Hom gehoor.

Vs 23: Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe het sy dissipels gekom en Hom herhaaldelik gevra / gesoebat.

Vs 24: Hy het geantwoord – vir die dissipels? Lyk so vlgs die teks. Hy praat nog nie met haar nie. Hy “bevestig” teenoor die dissipels dat Hy nie met die vrou hoef te “engage” nie.

Vs 25: neergeval > neergebuig – houding van aanbidding: “Here, help my!”

Vs 28: Oo Vrou!

Daar is soveel maniere waarop Jesus se diskriminerende, rassistiese, seksistiese optrede teenoor die Kanaänitiese vrou geregverdig word.

  • Hy sou die respek van sy dissipels verloor as Hy ag slaan op die vrou. Sy is ‘n vrou wat nie die sosiale konvensies eerbiedig nie. Sy is ‘n verleentheid omdat sy haarself wangedra in die openbaar deur so te skree en te kere te gaan.
  • Sy was histories deel van die vyand gewees.
  • Jesus is (in sy eie woorde) net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur, wat beteken: selfs al was sy van ‘n ander volk as die Kanaäniete, het sy steeds geen reg gehad om aanspraak te maak op sy hulp nie.

Binne Jesus se Joodse volgelinge se verwysingsraamwerk (as behorende tot die volk van Israel) en met sy roeping (soos die profete in die OT dit al verstaan en verwag het) in gedagte, was hierdie knaende vrou Niemand gewees. Nie ‘n omkyk werd nie. Daarom antwoord Hy haar aanvanklik nie eens met een woord nie.

“Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur ‘n demoon. Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor haar! Ontferm U, ontferm U…”

Jesus blok haar stem uit totdat sy dissipels kom soebat dat Hy haar moet wegstuur, “want sy hou aan skreeu agter ons aan”. Hierdie woord vir wegstuur kan ook vertaal word met “afsit” of “verstoot” (verwerp). “Sit haar af, Here, dat sy net kan weggaan. Raak van haar ontslae.”

Steeds kyk Jesus nie na die vrou nie, maar bevestig Hy die dissipels, amper asof Hy hulle gerusstel: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.”

Maar die vrou wil Hom net nie los nie. Sy het beslis al gehoor van Hom. (Hoekom anders Hom hier probeer ontmoet?) Hy ís mos die Joodse man wat ‘n tydjie gelede nog in die openbaar gepreek het oor die armes van gees aan wie die koninkryk van die hemele behoort, die treurendes wat vertroos sal word, die wat honger en dors na geregtigheid wat versadig sal word… HIER IS SY NOU! Armer van Gees kry jy nie, want sy behoort nie eens tot die Joodse geloof nie. As dit oor kennis gaan het sy geen innings nie; al wat sy ken is die naam waarby sy weet (gehoor het) sy eie mense Hom aanspreek: Seun van Dawid, en wat sy by hulle leen om Sy aandag te kry. Hy het dan gesê die armes van gees, die ongeligtes is geseënd! En oor treur – daarvan kan niemand haar iets vertel nie; sy hele hart loop uit oor haar dogter wat so deur ‘n demoon geteister word. En as hierdie kreet om hulp nie hard genoeg spreek van haar honger en dors na geregtigheid nie, wat dan?!

Is die storie van die Romeinse, heidense hekatontarg wie se slaaf Hy genees het dan nie waar nie? (Matt 8, Luk 7 wat die rondtes sou doen). Hy was nou wel ‘n heel vername man, hierdie hoofman oor honderd, maar hy was ook nie ‘n Jood nie. En sy slaaf was ook ‘n niemand soos sy en haar dogter. Van hierdie Romein het Jesus nog gesê dat Hy by niemand in Israel so ‘n groot geloof gevind het nie.

Sy het nog nader gekom en voor Hom neergeval: “ Here, help my!”

Vir die eerste keer praat Jesus met haar. Hy kan nie anders nie, sy het sy ruimte ingeneem. Maar in sy antwoord lê daar steeds nie vir haar uitkoms nie: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.”

Regtig? Bedoel Hy wat Hy sê?! As dit oor kinders teenoor hondjies gaan, is dit nog aanvaarbaar. Maar hier onderskei Hy tussen twee groepe mense – die Israeliete (kinders) en die Kanaäniete (hondjies). Die man van wie sy gehoor het, sal tog nie so praat nie?

Tog stry die vrou nie, maar sy aanvaar die etiket wat Hy om haar nek hang. As Hy besig is om klappe uit te deel, sal sy hierdie een ook vat, maar sy sal nie gaan lê nie: “Ja, Here, inderdaad, mens gee nie die kinders se brood vir die hondjies nie. MAAR tog eet die hondjies van die krummels wat van die tafel af val.” En net hier gee Jesus die stryd gewonne – ek sien hoedat Hy tevrede, selfs trots is op haar wanneer Hy ‘n uitroep van verwondering (Grieks) gee: “Oo Vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê.”

Wat gaan hier aan? Is Jesus ‘n kind van sy tyd? – Saam met sy enge Joodse godsdiens het sy ouers Hom opgevoed binne die rassistiese en diskriminerende milieu van die Israeliete? Hy kon dus nie anders as om soos die ander te reageer nie – afwysend en afjakkend?

Kom Jesus se menslikheid hier sterker na vore as sy goddelike natuur? Was dit vir Hom nodig om ‘n les te leer oor medemenslikheid en menswaardigheid?

Ek dink nie so nie. As dit die geval was, was Hy glad nie iemand van integriteit nie. Ons kan nie die bergrede lees en predik en dan 9 hoofstukke later Jesus se optrede teenoor die Kanaänitiese vrou probeer regverdig nie. Ek dink Jesus is eerder besig om vir sy dissipels ‘n les te leer. Hy ken hulle. Hy weet hoe hulle gaan reageer teenoor hierdie knaende Kanaäniet. Hy weet ook dat hulle ‘n breekpunt gaan bereik indien sy nie iewers ophou skreeu nie. Sy is lastig en hulle wil hê dat Hy van haar ontslae moet raak. Hy doen niks nie totdat hulle Hom vra. Eintlik doen Hy nie niks nie Hy speel die game. Hy doen wat hulle van Hom verwag…

Jesus se reaksie is tipies van ‘n konserwatiewe Joodse man van sy tyd. Hy reageer binne die konvensies van wat in en wat uit is, wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Die dissipels hits hom aan om die “hond” weg te jaag. Hy speel die game. Hy wys vir die dissipels: Dis hoe julle oor ander mense (mense vir wie julle nie ruimte het nie nie) dink, dat hulle honde is. Hy speel so in die rol in dat die vrou begin skree op hom. Vasberade en desperaat. Sy word nie afgesit deur die tipies verwagte reaksie van die Joodse man nie. Want sy het ander dinge gehoor – dat Hy anders is…

Juis die feit dat Hy die rol speel wat sy dissipels van Hom verwag maak die vrou se optrede soveel meer vreemd dat sy deur dit, ten spyte daarvan, soos iemand – Hier kom ‘n klomp klappe na jou toe aan maar jy loop dwarsdeur dit en jy sê net: “Nee, dit kan Jy nie aan my doen nie, nie Jy nie, Jý kan dit nie aan my doen nie. Ander kan dalk, die hele wêreld kan, maar dis nie Jy nie.” Haar nood laat haar dwarsdeur die beledigings loop om net te sê:“ Ek het van Jou gehoor en Jy kan nie so wees nie.” Sy reaksie sê vir haar iets is hier nie reg nie. Daarom wil die vrou nie sy reaksie op haar glo nie, sy kan dit nie glo nie. Wat sy wil glo is wat sy van Hom gehoor het. En daarom bly sy Hom uitdaag. Eintlik bevestig haar optrede sy roeping.  Sy laat Hom nie gaan voordat Hy haar nie seën nie. Dieselfde met die hekatontarg. Hy hou Jesus aan wie Jesus moet wees.

Die vrou laat haar nie intimideer deur dit wat sy moes verwag sou gebeur nie. In hierdie verhaal is DIT geloof. SY is die onverskrokke een. Sy weier om toe te gee. Jesus gee wel toe. Sy hantering van die saak maak haar die held in die verhaal. Dis nie waar dat Hy haar nie ag as mens en eintlik as ‘n hond beskou nie. Sy dissipels mog so dink. Hulle dink Jesus is aan hulle hogere kant. Eintlik staan Hy al van die begin af in sy gees langs haar, moedig haar aan, glo in haar dat sy Hom nie sal laat wegkom voordat Hy haar gehelp het nie.

En wat as sy sou wegdraai weens Jesus se afsydigheid? Ek wonder hoe die verhaal dan sou verloop? Ek dink (raai), na aanleiding van hoe Ek vir Jesus in die evangelies leer ken, dat Hy sy dissipels agter haar sou aanstuur: “Vrou, die Meester het ons gestuur. Hy sê jy moet terugkom…”

Die mense wat verleë staan aan die einde van die gebeurtenis is die dissipels. Dis hulle wat gedwing word tot selfondersoek. Interessant: Direk hierna is daar ‘n baie kort paragraaf waaroor daar geen preekriglyne gegee word nie. Asof dit net ‘n niksseggende oorgang is na die grootse verhaal van die tweede vermeerdering van die brood toe. Maar wat ek in die paragraaf sien, is die langer slot op die vorige verhaal:

“Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. ‘n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik.”  (15: 29-31)

So nooi die Here on sook vandag: “Kom in, kom nader, almal van julle, ongeag wie jy is, waar jy vandaan kom, watter ras jy is, wie jou pa of jou ma is, hoe jou lewe lyk. Ongeag hoe jou geloof lyk. Kom nader, kom sit aan by my tafel, kom rus. Ek sien jóú raak en Ek wil hê dat jy gevoed moet word – nie met krummels nie, maar met die brood wat léwe gee, heling, herstel… Gelykmakende brood. (Bediening van die nagmaal)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.