Eksodus 1:8-2:10 – 2017

27 Augustus  2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die verhaal van Moses in die mandjie…

God het aan die Israeliete uitkoms gegee toe hulle land in hongersnood verval. Met ‘n eintlik ondenkbare verloop van omstandighede word hulle in Egipte toegelaat en ontsnap hulle so van die hongersnood. Die probleem was egter dat hulle as slawe in Egipte moes werk. Jakob het 70 afstammelinge gehad (Gen 46:27, Eks 1:5). Sy seun Josef was ‘n belangrike man aan die koninklike hof in Egipte, die farao se regterhand om die waarheid te sê. Met verloop van tyd het Josef en ook al sy broers gesterf. Maar die Israeliete was vrugbaar en die 70 afstammelinge vermeerder in Egipte en word baie.  Ten spyte van hulle status as slawe het dit aanvanklik heel goed gegaan met die Israeliete omdat die farao vir Josef geken het en van hom gehou het. Maar oor die geslagte heen het die Egiptenare van Josef begin vergeet en op ‘n dag, 400 jaar na die Israeliete se aankoms in Egipte, was daar ‘n nuwe farao aan bewind gewees wat nie meer van Josef geweet het nie. En van “versagtende omstandighede” teenoor die Israelitiese slawe was daar niks meer oor nie.

Lees Eksodus 1:8 – 2:10

1:10 Plan A – slinks

1:12 Die ironie agter die verhaal sou duidelik uitkom wanneer die latere geslagte dit oorvertel.

1:15 Plan B – onderlangs met die Hebreeuse vroedvroue

1:17 Die vroue is ongehoorsaam aan die farao, maar gehoorsaam aan God.

Meer as “laat lewe”. Pi’el – hulle het veroorsaak dat, gemaak dat hulle lewe. Die ww hier beteken dat die vroue hul bes gedoen het om die geboorte so vlot as moontlik te laat verloop, hul bes gedoen het om die seuntjies gesond in die lewe in te bring. Hulle het dus die presiese teenoorgestelde gedoen as om die seuntjies dood te maak. Die geboortesterftesyfer het dus in daardie tyd eerder gestyg as gedaal.

1:19 Die vroue lieg.

1:22 Die farao doen weg met enige agterbaksheid en slu bevele wat agteraf gegee word en hy beveel in die openbaar die teregstelling van alle Hebreeuse babaseuntjies. Dit is sy Plan C, sy meesterplan. Die “Final Solution” (soos Hitler). Sy openbare bevel aan die Egiptenare, die vyande! Húlle sal gehoorsaam wees.

2:2 seuntjie was gesond

2:3 ‘n ark, dieselfde woord as by Noag en die ark. Die woord kom net in hierdie twee plekke voor.

Moses se ma gehoorsaam die Farao se bevel – gooi haar kind in die Nyl, maar binne-in die mandjie. Sy doen wat sy op hierdie stadium nog kan. Sy gee nie net oor nie (herinner aan die Kanaänitiese vrou van Matt 15).

2:5 afgegaan om te bad / haarself te was

2:5-6: … en sy het geneem en sy het oopgemaak en sy het gesien ‘n seuntjies, en kyk! ‘n seuntjie wat huil! (herhaling van die seuntjie deur 2 sinonieme woorde)

… en sy het haar oor hom ontferm

2:8 … Die jongmeisie het toe die ma gaan roep – jongmeisie, gereed vir trou, dws omtrent 15 jaar oud.

2:10 Toe hy gespeen is en voordat sy naam gegee is, dws 3 of 4 jaar oud.

Moses: Egipties “seuntjie” en “gebore wees”. Motivering: sy het hom uit die Nyl uitgehaal, die Nyl was vir die Egiptenaars die bron van lewe.

Hebreeuse betekenis van dieselfde naam op die klank af: “Om uit te trek”.

(Egiptenaars noem hom Moses – Hy is uit die water uitgehaal; Israeliete noem hom ook dit, maar vir hulle beteken dit in terugskoue – Hy het ons uit die land van slawerny laat uittrek).

Moses het moord gepleeg – dis die eerste wat ons van hom lees na hierdie verhaal. Die eerste noemenswaardige ding wat die kind wat verdrink moes word, maar toe gered is, gedoen het. Eers daarna het hy vir God ontmoet, eers daarna het hy sy roeping gehoor en sy volk van die mag van die Farao bevry en uit Egipte van gelei.

Boodskap

“Waar is God?” Dit is nie ‘n onbillike noodkreet om uit te skree wanneer jy en jou mense wat vlugtelinge is en al vir 400 jaar as slawe aangehou word terwyl julle gedink het die situasie sal net tydelik wees nie. “Waar is die God wat ons voorvader Abraham uit Ur uit laat trek het en sulke groot beloftes van land en nageslag aan hom gemaak het? Waar is die God van Isak? Waar is die God van Jakob? Waar is Hy nou? Waar was Hy vir die afgelope 400 jaar!? Want ons sien Hom nie, hoor Hom nie, ken Hom nie eens meer nie. Die God van ons voorvaders se stem het stil geword. Hy het van ons vergeet.” So moes die Israeliete gevoel het terwyl hulle as dwangarbeiders in Egipte hulself afsloof.

Maar dan, wanneer die omstandighede op hul haglikste is, is daar hierdie vreemde, onverwagse roeringe wat die huidige pad wat hulle loop heeltemal ontspoor en in ‘n ander rigting laat loop. God verskyn nie skielik in ‘n teofanie aan die mense nie, Hy gryp nie hier in met plaë of aardbewings of ‘n groot vloed nie. Maar daar is ‘n paar mense wat dinge anders doen, ek wil eintlik sê mense wat reg in hulle eie hande neem, mense wat nie gehoorsaam is aan die farao nie, nie sy bevele uitvoer nie, en so die hele geskiedenis in ‘n ander rigting laat loop. Meer spesifiek – daar is 5 vroue wat inisiatief begin neem.

Die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua…lieg.

Net in hierdie stukkie van die vertelling word daar van God melding gemaak. Ons lees dat die vroedvroue vir God gedien het en dat Hy hulle brawe leuens en dade geëer het deur vir hulle huisgesinne te gee.

Die moeder van Moses… sien dat die geboorte van haar seuntjie goed is en steek hom vir drie maande weg. Toe sy dit nie langer kon doen nie, neem sy ‘n biesiemandjie en maak dit bestand teen water. Dieselfde woord as Noag se ark – merkwaardig! Net die 2 kere in die OT gebruik! Terwyl alle pasgebore Hebreeuse babaseuntjies verdrink in die vloed van die Nyl, bou Moses se ma vir hom ‘n arkie en hy bly leef… (tekenend van ‘n nuwe begin in ‘n situasie van onderdrukking en uitsogloosheid).

Die dogter van die koning, dogter van Farao!…

Moses se ouer suster Miriam, hier omtrent 15 jaar oud..

Vyf vroue wat nie almal vir mekaar geken het nie. Hulle het nie op ‘n dag bymekaargekom en koppe bymekaargesit en ‘n slim plan beraam om die farao se planne mee te verydel nie. Hulle het net eenvoudig gedoen wat hulle geglo het reg is – 2 het vir God gedien, wat beteken dat hulle, na al hierdie jare van stilte van God se kant af, tog nog in Hom geglo het, tog nog vasgehou het daaraan dat Hy sy mense sal verlos, en daarom hulself nie sover kon kry om die farao se bevel uit te voer nie. Hulle het eerder die teenoorgestelde gedoen!

2 was die direkte familie (uit die priesterlike stam van Levi) van Moses, sy ma en sy suster. Sy ma het die gesin se lewe in gevaar gestel deur vir Moses 3 maande by die huis te hou en weg te steek, maar toe hy te groot word moes sy ‘n ander plan maak.

Die vyfde vrou, die een by wie die weegskaal op die ou-end die swaarste gelê het, die een met die hef in die hand, was een wat nie vir God gedien het nie. Sy was die farao se dogter! Van alle mense sou mens van haar die meeste lojaliteit aan haar pa verwag. Sy vind die seuntjie in ‘n mandjie (ark) in die Nylrivier – daar waar hy moes verdrink het hy gedryf. Sy was op die regte tyd op die regte plek om haar pa se bevel uit te voer. Sy moes net die mandjie omgedop het… Maar sy word oorval deur ‘n gevoel van diepe jammerte, medelye, deernis (compassion). En die sussie lees die situasie, stel haar eie lewe in gevaar om tussen die riete uit te kom en ‘n kans op lewe vir hierdie Hebreeuse babaseuntjie aan te bied. Al hierdie seuntjies moes immers verdrink word. So vir ‘n 15-jarige Hebreeuse dogtertjie om met die dogter van die farao in gesprek te tree en ‘n voorstel te maak vir hoe hierdie seuntjie se lewe gered kan word – dit moes baie waagmoed neem! Maar dit werk. Die verhaal draai so om dat Moses se eie ma selfs deur die farao se dogter betáál word om haar eie seun te borsvoed en groot te maak vir die eerste paar jaar van sy lewe – jare waarin sy godsdienstige basis gelê kon word, jare waarbinne hy kon hoor van die God van sy voorvaders, jare waarin hy ook kon leer dat hy eintlik ‘n Israeliet is en nie ‘n Egiptenaar nie, dat hy gespaar is, dat daar ‘n plan is met sy lewe…

Die farao het nie met die vroue rekening gehou nie. Hulle is in sy oë immers die swakker geslag. (Hulle hou geen gevaar in nie, daarom kan die dogtertjies maar bly lewe, net nie die seuntijes nie.) Hy het nooit kon raai dat hulle dit sou waag om hom nie te gehoorsaam nie. Maar dit is deur die vrouens se toedoen, deur húlle dade dat sy planne keer-op-keer misluk. Ironies – wat deur baie gesien word as ‘n vorm van vroulike swakheid – medelye vir ‘n baba – is so ‘n sterk emosie dat dit die prinses bemagtig om die Farao te verontagsaam. Hy het gedink dat dit veilig is om die vrouens se lewens te spaar, maar die vroedvroue, die Hebreeuse ma, die dogter van Farao, en die sussie Miriam was almal vrouens wat gehelp het saamgewerk het (al weet hulle nie van mekaar nie) om een seuntjie se lewe te spaar. Die seuntjie deur wie God die toekoms van die wêreld sou rig. So praat die skrywers van die OT oor hom.

Die geskiedenis herhaal homself. Baie jare later sou daar weer ‘n 400-jaar tydperk van stilte wees. Weer ‘n tiranniese en waansinnige koning Herodus die Grote wat ‘n menseslagting beveel, weereens is dit alle Hebreeuse seuntjies onder die ouderdom van 2 jaar oud wat vermoor moet word, weer ‘n vrou – die keer een met ‘n klad van sedeloosheid teen haar naam – wat geboorte skenk onder buitengewone omstandighede. Haar verloofde het met haar getrou en saam het hierdie drie mense vlugtelinge geword, ter wille van die behoud van die seuntjie se lewe. Die verhaal van Moses vind parallelle weerklank in die NT boodskap van verlossing. Niemand het in die verloop van die ganse geskiedenis van die mensdom naam gemaak soos Jesus van Nasaret nie. Hy is die werklike “Final Solution” vir mense wat deur hul omstandighede of hulself gebind word, wat weerhou word van ‘n lewe van vryheid, vir mense wat nie toegelaat word om te floreer nie.

Om saam te vat:  Die minderheidsgroep, die stemloses in daardie tyd en omgewing – die Hebreeuse vroue – rig deur hul oortuigings die geskiedenis anders as wat die Farao beveel. Ook sy dogter, al het sy meer stem, is nie aan hom gehoorsaam nie. (Ons kan dieselfde lyn deurtrek na Maria, die buite-egtelike moeder van Jesus.) Ons mag dalk dink dat ons in hierdie land SA niks en niemand is, dat ons nie invloed het nie, dat ons nie werklik kan bydra tot verandering in die land nie. Die gebedsgroep het twee weke gelede juis hieroor gepraat – Watter verskil kan ons nou eintlik maak? Die verhaal van Moses wat met sy geboorte deur vroue gered en aan die lewe gehou word, wys dat elkeen van ons tot verskil-maak in staat is.

Ons deurkollekte gaan vanoggend vir Vrolike Groepe Speelskool in Elsiesrivier. Vrouens in die gemeente wat weekliks daar skoolgee vir voorskoolse kinders wat deur baie mense in die land weggewens word, ook soms hul eie ouers. Ja, ons het nie ‘n wet wat vereis dat sommige kinders by geboorte doodgemaak moet word nie, maar ons het wel die wetgewing op aborsie wat maak dat die swanger moeder die besluit mag neem (of daarin geboelie kan word) om haar ongewenste kind te laat aborteer. Gelukkig volg almal nie daai roete nie. Kinders word gebore, maar dan dikwels waar hulle nie altyd welkom is nie – soos ook van die kinders in Elsiesrivier. Hulle word groot in armoede, in huise waar drank en dwelms hul ouers se baas is, sommiges het Fetale Alkohol Sindroom. En hier is daar ‘n skool wat vir die kinders elke oggend van die week ‘n veilige hawe bied, met ‘n skoolhoof en haar man wat hul alles gee vir die kinders van die skool, met vrouens in ons gemeente wat hul weke organiseer rondom Donderdagoggend se skoolgee en die voorbereidings vroeër in die week om die oggend vir die kinders spesiaal te maak. Wie weet of daar nie dalk die jaar ‘n “Moses” in die klas is nie – iemand wat wanneer hy of sy eers eendag groot is, gaan help om van die wêreld waarbinne hy of sy grootgeword het ‘n beter plek te maak, iemand wat die land gaan help opbou, ‘n leier wat miskien eers as hy of sy groot is God se roepstem hoor, miskien eers nadat hy of sy ‘n draai in die tronk gemaak het (Moses wat moord pleeg)? Wie weet watter toekomspotensiaal daar nie alles in die kinders skuil en hoe instrumenteel julle spesifiek daarin is om vir die kind se regte op te staan en die potensiaal nou te begin ontsluit nie?

En so ook die anders vrouens en mans wat betrokke is by skole, kinders en studente; by voedingskemas in Khayelitsha en mediese dienste in staatshospitale? Vrolike Groepe is maar een voorbeeld vanoggend. Moenie julle eie rol onderskat daar waar julle betrokke is nie. Moet ook nie die potensiële rol van die kind wat in jou oë kyk wanneer jy hom leer of help, gering ag nie. Jy weet nie wie daar voor jou staan nie.

Ek sluit af met die ware en tragiese verhaal van ‘n swart man wat nie genoeg raakgesien is nie – nie deur sy eie mense nie, ook nie deur iemand van buite nie…

’n Brief aan almal wat ek ken

Deur Dana Snyman 26 Augustus 2017 00:00

Maandagaand. Nog ’n vreemde dorp. Nog ’n vreemde kroeg.

Die vrou agter die toonbank is so 50 jaar oud, dalk 40. Swaeltjie op die pols getatoeëer. Naels kort gekou.

Ek is op die stoeltjie in die hoek, skuins onder die veerpyltjiebord, drie stoeltjies van ’n oom met ’n rooi neus vol gebarste aartjies. Dis net ons twee, ek en die oom, en die vrou agter die toonbank, en ’n handgeskrewe kennisgewing teen die muur wat sê: “Aandag almal!!! Tussen 6 en 7 alle drankies halfprys.”

Die deure swaai oop en ’n kêrel kom in. “Yes, yes, yes.” Dit lyk of hy op sy dag haker kon gespeel het. Dik nek. Harige arms. Snorrige snor.

“Yes, Sarge,” groet die oom met die neus hom.

“Hallo, Oom.” Hy gaan staan langs die oom en sit sy motorsleutels op die toonbank neer. “Maak dit maar ’n Castletjie, Truia,” beduie hy na die vrou agter die toonbank en hys hom tot op die stoeltjie.

“Sjoe.” Hy vee met sy hand oor sy voorkop. “Wat ’n dag.”

“Is julle besig, Sarge?” vra die oom met die neus.

“Besig, my oom. Besig. Besig.”

“Het hulle weer die naweek ingebreek?”

“Ja, my oom. En ’n selfmoord. Ek kom nou net daarvan af.”

“’n Selfmoord? Nee.” Die oom se stem is vol skok. “Wie?”

“’n Swarte, Oom. In die township.”

“O, amper laat jy my skrik.” Die oom vat ’n diep sluk uit sy glas.

Die vrou agter die toonbank sit ’n botteltjie Castle voor die sarge-ou neer en hy vat dadelik daarna.

“Ek’t nie geweet hulle pleeg ook selfmoord nie.” Die oom kyk na die sarge-ou. “Hoe’t hy dit gedoen?”

“Homself gehang, Oom. Aan ’n boom in sy jaart.” Die sarge-ou voel deur sy sakke en haal ’n opgevoude vel papier te voorskyn. “Ken Oom ’n swart taal? Hier’s die brief wat hy gelos het.”

Die oom vat die brief by hom, staar ’n ruk daarna, en gee dit terug. “O, nee, hel, ek verstaan nie ’n woord nie.” Hy beduie na die deur agter die toonbank. “Hoekom vra jy nie vir Alpheus in die kombuis nie?  Truiatjie, roep bietjie daar vir Alpheus.”

Die kroegvrou stap by die deur uit, die kombuis in, en kom ’n paar oomblikke later terug met ’n ouerige man in ’n wit koksbaadjie, met ’n ZCC-wapentjie op die bors.

“Wat’s jy?” vra die sarge-ou vir hom.

“Ek’s Alpheus, Ntate.”

“Nee, man. Ek bedoel: Is jy ’n Sotho of ’n Xhosa? Wat is jy?”

“Ek’s ’n Sotho, Ntate.”

“Kan jy lees?”

“Ja, Ntate. Ekke kan lees.”

“Nou wat staan hier?” Die sarge-ou hou die brief na hom toe uit.

Die ou man hou die brief naby sy oë. “Hierie’s nie Sotho nie, Ntate.” Hy laat sak die brief. “Dis Zoeloe.”

“Kan jy Zoeloe lees?”

“Ekke kan, Ntate. Ekke kan Zoeloe lees.”

“Nou lees vir ons wat daar staan.”

Die ou man lig weer die brief. “Sa ku bona ningahleka,” begin hy lees. “Ndihabile ndi qibile…”

“Wat maak jy nou?” val die sarge-ou hom in die rede.

“Ek lees hierie woorde, Ntate.” Die brief bewe in die ou man se hande.

“Ons wil in Afrikaans hoor wat daar staan.”

Die ou man lig weer die brief. ’n Hele ruk staan hy met die brief naby sy gesig, toe laat sak hy dit weer. “Dis swaar om te sê, Ntate.”

“Wat’s so swaar? Jy sê dan jy ken Zoeloe.”

“Hier staan . . .” Die ou man sit die brief voor die sarge en die oom op die toonbank neer. “Hier staan: ‘Aan almal wat ek ken.’” Die ou man druk met ’n verrimpelde vinger op elke woord terwyl hy vertaal. “Ekke. Groet. Julle. Ekke. Is. Nou. Klaar. Julle. Kan. Nou. Lag. Ekke. Is. Weg. Totsiens.”

Die ou man raak stil en tree van die toonbank af.

“Is dit al?” vra die Sarge.

“Dis al, Ntate.”

“Is jy seker dis al?”

Die ou man draai om en stap terug na die kombuis sonder om die sarge-ou te antwoord. ’n Paar oomblikke later klap ’n deur iewers hard toe.

Die sarge-ou vou die brief op, sit dit in sy sak, en vat na sy bier.

Buite in die straat ry ’n motor verby, al agter sy ligte aan.

“Hoekom’s dit so stil?” vra die oom met die neus. “Sit bietjie daar vir ons iets op, Truiatjie.”

Die vrou agter die toonbank druk die CD-speler op die rak se knoppies.

“Oom-hulle moet net onthou,” sê sy voor Kurt Darren begin sing. “Nog net vyf minute, dan’s happy hour verby.”

  • Snyman se jongste boek Op pad: ’n Reisjoernaal het pas by Tafelberg verskyn.

Vir die kinders by Vrolike Groepe is dit anders. Want hulle het vir julle.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.