Matteus 20:1-16 – 2017

21 September 2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Teks

Voorafgaande teks (19: 16-30) baie NB – die ryk jongman wat wil weet wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry; Jesus se antwoord: Verkoop alles wat jy het en deel uit onder die armes, en Jesus se opmerking: Makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God in te gaan. Slotwoorde: Baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Dan, direk hierna, vertel Jesus vandag se gelykenis: 20: 1-16:

Vs 4: Ek sal julle betaal wat regverdig is.

15: …of is jou oog boos omdat ek goed is?

En dan die laaste vs: So die laastes sal eerste wees, en die eerstes laaste. (‘n Duidelike inclusio met die vorige gedeelte – let op die slot daar).

Boodskap

Inleiding: inklok en uitklokstelsel van die fabriekswerkers wat betaal word vir die ure diens gelewer. Input = output. Die wêreldse perspektief waarmee ons bekend is en waarbinne ons funksioneer. Dit is juis hierdie wêreldse perspektief wat die harde werkers in die gelykenis tot soveel ontsteltenis gelei het.

In die koninkryk van die hemel gaan dit so… Eerste slaggat, om hierdie gelykenis te lees met ‘n toekomsperspektief, asof dit oor die eendag, die hiernamaals gaan. Ons weet mos al van beter. Ons het nou al herhaaldelik uit die evangelies geleer dat God se koninkryk op aarde aangebreek het met Jesus se koms, dat ons daarom geroep word om hierdie ryk op aarde sigbaar te maak, werklik te maak. Die bevoorregtes en rykes onder ons het dalk die luukse (en versoeking) om oor hierdie prentjie te droom asof dit nog nie vir nou bedoel is nie. (Droom is ook nie die regte woord nie. Dalk eerder van ‘n nagmerrie praat, want die meer bevoorregtes in die gelykenis hou juis nie van wat hier gebeur nie.) Diegene wat swaarkry het egter nie die luukse om hier ‘n toekomsvisie te sien en daarom tevrede te bly met die huidige stand van stand nie – hulle elke volgende dag hang af van of hierdie gelykenis die rykes laat droom oor die eendag of doen in die nou.

Kom ons verwoord die inleiding so effe anders: Daar waar gelowiges aan God se koninkryk gestalte gee, gaan dit so: ‘n Boer gaan vroegoggend (6hr) uit om arbeiders vir sy wingerd te huur. Hy gaan na die straathoek waar al die werkloses saamdrom, almal mense op die broodlyn, almal in nood om werk te kry anders is daar nie vanaand kos op die tafel nie. (Destyds was dit die markplein.) Hulle stamp en stoot waarskynlik om voor te kom, om raakgesien te word. Maar daar is te veel werkloses en die boer kies net ‘n paar. Hy kom met hulle ooreen dat hy hulle elkeen een denarius sal betaal aan die einde van die dag. Dit is die gewone dagloon gewees – net mooi genoeg geld om vir nog ‘n dag in die behoeftes van die werker en sy gesin te voorsien. (Die ekonomie van die tyd het nie gewerk met opgaar nie, maar met genoeg hê vir elke dag.) Hulle is tevrede. Dis die betaling wat hulle gewoond was, dit was regverdig.

9 hr die oggend het die boer weer uitgegaan en nog werkers gesien wat ledig op die markplein rondstaan in die hoop dat iemand nog vir hulle werk sal gee. Hy nooi hulle ook om in sy wingerd te kom werk en hy onderneem om vir hulle te betaal wat regverdig is. So doen hy ook teen 12hr en weer teen 3hr die middag. Teen 5 uur gaan maak hy ‘n laaste draai op die markplein en daar staan sowaar nog werkers rond. Mans vir wie daar nie meer hoop is dat hulle nog die dag gehuur gaan word nie (die son gaan immers amper onder!), maar hulle het ook nie die moed om met leë hande terug te gaan huistoe nie. Want wat sê hulle vir hulle vrouens, wat sê hulle vir hulle kinders…? Hoe kyk hulle hulle in die oë? “Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?” “Omdat niemand ons gehuur het nie.” Let op – dis nie mense wat onwillig was om te werk nie! Inteendeel. Maar niemand wou hulle in hul werkskorps hê nie. Dalk was hulle nie goed genoeg nie – te jonk, te oud, nie sterk genoeg nie, die een of ander gebrek gehad? Miskien het hulle niks makeer nie, maar was die aanbod te groot vir die beskikbare werk – te veel werkers, te min werk. Ons weet nie. “Gaan julle ook na die wingerd toe,” sê hy vir hulle, “en gaan werk vir ‘n uur voordat die son heeltemal ondergaan.

Met hierdie laastes maak die eienaar geen ooreenkoms oor wat hy hulle gaan betaal nie. Maar dis nie moeilik om die som te maak nie. As jy ‘n dagloon kry vir 12 ure se werk, dan kry jy ‘n fraksie daarvan vir 1 uur se werk. Dus nie naastenby genoeg vir die volgende dag se basiese behoeftes nie, maar jy gaan darem nie heeltemal leë-hand huistoe nie. Jy kan darem wys het hét probeer, en wie weet, werk jy hard sien die eienaar jou dalk raak en kies jou môre in die 6-vm groep.

Uitkloktyd, 6nm, breek aan en die laastes word eerste betaal – een denarius, ‘n volle dagloon elk. Hulle moes totaal oorbluf gewees het. Die werkers wat in die ry staan en wag is opgewonde oor die verwikkelinge, want indien die laastes wat net 1 uur gewerk het ‘n volle dagloon ontvang, dan is daar van hulle wat 12 dae se werk se geld gaan ontvang! Maar nee, soos hulle verbykom kry elkeen ‘n een denarius muntstuk in die hand.

Wat gaan hier aan? Dit is mos nie regverdig nie?! Ja dit lyk seker nie regverdig nie, maar dan hang dit af van watter kant af mens kyk. Is dit regverdig dat al die werkers van die oggend af al staan en wag vir werk, maar net sommiges word gekies? Is dit regverdig dat daar mense is wat 11 ure op ‘n dag moet staan en wag vir werk voordat iemand hulle raaksien? Is dit regverdig dat iemand kan en wil werk, maak nie saak wat hulle betaal word nie, maar daar is nie vir hulle werk nie? Is dit nie bitter ironies dat die enigste mense wat geïrriteerd raak met hierdie gelykenis diegene is wat nie werkloos is nie, wat nie nood het nie, die’s wat van vroegoggend al goed gevind is en kon inval, die wat reeds genoeg het om van te leef.

Die harde daglange werkers wys nie hulle betaling van die hand nie, maar hulle gaan mor by die boer: “Hierdie laastes het 1 uur gewerk en u hanteer hulle asof hulle gelyk is aan (equal to) ons wat die hele dag in die son gewerk het.” “Vriend,” antwoord die boer vir een van hulle, “ek tree nie verkeerd/onregverdig op teen jou nie. Het ons dan nie ooreengekom op een denarius nie? Ek wil vir hierdie laaste een gee presies soos vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jou oog boos omdat ek goed is?”

‘n Paar opmerkings:

1.) Hierdie gelykenis gaan nie oor die verdienste of nie van jou saligheid nie. Soos in – party mense het vroeg in hulle lewe reeds tot bekering gekom en van toe af al “goeie werke” gedoen, maar ander het weer eers op hul sterfbed tot bekering gekom (die misdadiger aan die kruis). Maar maak nie saak in watter groep jy val nie. Solank jy net voor jou dood tot bekering kom dan is jy gered. Dis ‘n vergeesteliking van die gelykenis wat nie net ‘n verwronge teologie verkondig nie, maar ook die hele praktiese punt van die verhaal mis.

Glo ons dan nie in die onverdienstelike genade nie? Glo ons dan nie dat dit die Here is wat ons red en nie ons goeie werke nie? Sê ons dan nie dit gaan nie oor meriete nie maar oor genade? Dit kan mos nie in die koninkryk van die hemel so wees dat mense vroegoggend of ten minste deur die dag (deur hull lewe) al moet inval en hulle moet afsloof in die diens van die Here, sodat Hy hulle aan die einde van die dag kan betaal vir wat hulle gedoen het nie?! Selfs al betaal Hy vir almal dieselfde bedrag. Selfs dan druis hierdie beskouing in teen die hart van die evangelie. Want as ons werklik in die genadige verlossing van God deur Jesus Christus alleen glo, dan kán ons nie sê dat God ons aan die einde van die dag gaan betaal nie, ongeag die bedrag. Dit is nie dat God die input-output stelsel gebruik maar Hy maak almal se output dieselfde nie. God gooi hierdie stelsel heeltemal weg!

As die gelykenis nie hieroor gaan nie, waaroor dan?

2.) Anders as in ander gelykenisse lê die antwoord oor waaroor die gelykenis nou eintlik gaan in wese nie in die (eerste deel van die) antwoord van die boer nie (13-15), maar in die vraag van die werker. Sy fokus is nie op die hoeveelheid geld wat elkeen betaal is nie. Hy vra nie.: “ As u vir die laastes 1 denarius betaal, waarom betaal u nie vir die eerstes 12 nie?” Sy vraag lê dieper as dit: “Hierdie laastes het 1 uur gewerk en u hanteer hulle asof hulle gelyk is aan (equal to) ons wat die hele dag in die son gewerk het.” Die eerste werkers (die verdienstelikes) se probleem is dat die laatkommers hanteer word asof hulle nie laatkommers was nie. Hulle probleem is ten diepste dat die laatkommers dieselfde as/gelyk aan hulle hanteer word.

3.) Die gelykenis gaan oor die hier en nou. Elkeen van ons wat boere is of grondeienaars, eienaars van huise of kamers, eienaars van praktyke of besighede, almal van ons wat ryk genoeg is dat behoeftige mense dink dat ons hulle moontlik sal kan help… Hoe behandel jy die mense wat vir jou werk? Hoe behandel jy die mense wat vir jou wil werk, maar vir wie jy nie werk het nie? Wat van die mense vir wie jy nie werk wil gee nie, want dit beteken dat jy jou eie hoë lewenstandaard moet laat sak? Hoe behandel jy mense wat nie eens die moed het om te vra vir werk nie? Ons kan aan verskillende groepe mense dink. Suid-Afrikaners onder die broodlyn, maar oor Malawiërs en Zimbabwiërs wat uitgebuit word omdat hulle geen werkspermit of regte het nie.

Ek hoor uit onlangse statistieke dat die krisis met seisoenswerkers nou nog erger gaan word weens die droogte in die Wes-Kaap – geen water, geen landerye, geen werk vir siesoenswerkers nie… Om maar een voorbeeld van ‘n werkerskorps te noem wat nie hul kinders aan die lewe kan hou nie.

Die gelykenis stel twee soorte ekonomië teenoor mekaar: die ekonomie van regverdigheid (input-output) teenoor die ekonomie van behoefte (betaal iemand wat hulle nodig het om te kan leef). Diegene wat vroegoggend gehuur is het die werk gedoen waartoe hulle ingestem het en hulle is betaal wat hulle nodig gehad het vir die dag (en toevallig ook waarop hulle ooreengekom het). Diegene wat eers 5hr begin werk het, het ook die werk gedoen waartoe hulle ingestem het en hulle is ook betaal wat hulle nodig gehad het vir die dag. Die ekonomie van behoefte reflekteer ‘n mens-georiënteerde ekonomie. Dit, sê Jesus, is hoe dit binne die koninkryk van God werk.

Dis so maklik om mense minder te betaal as wat hulle vir die dag nodig het. En onsself dan te verontskuldig met: “Ek het hom of haar betaal wat hy of sy verdien het vir die hoeveelheid ure gewerk. Ek is daarom altyd ‘n regverdige werkgewer. Ek behandel my werknemer regverdig” Die vraag is, is regverdig altyd reg? Volgens hierdie gelykenis nee… Nie wanneer ons met so ‘n kortsigtige visie van wat regverdig werklik beteken werk nie.

Ons verontskuldig onsself graag en verklaar dat ons ons bes doen vir mense in nood. Maar is dit regtig waar? Ons vind redes waarom die armes arm is, waarom ons eie gemaklike lewenstandaard geregverdig is, waarom ons mekaar moet bly herinner dat mense kry ook maar net wat hulle verdien. Die kononkryk van God roep ons egter op om die waarde van die werker voorop te stel, en nie net die waarde van die werk gedoen nie.

As ek vanoggend in Maitland moes preek uit dieselfde teks sou my invalshoek heeltemal anders wees. Hier praat ek met ons wat ryk is. Daar sou ek moes praat met hulle wat niks het nie, dikwels ook nie eens een uur se werk op ‘n dag nie… Wat sou ek vir hulle sê, 2000 jaar nadat die koninkryk van God reeds aangebreek het!?

‘n Spaans-Amerikaanse teoloog, Pablo Jiménez, skryf in 1997 ‘n aangrypende artikel oor hierdie gelykenis. Hy wou eers sê die gelykenis gaan oor die Gelyke Kanse Werkgewer. Maar toe besef hy hy is verkeerd. Dit gaan nie hier oor ‘n werkgewer wat alle mense (ongeag jou afkoms) ‘n gelyke kans gee nie. Dit is eerder die gelykenis oor die Regstellende Aksie Werkgewer. Hy skryf soos volg:

As stated above, Hispanic hermeneutics departs from the social location of the Hispanic people in the United States. Therefore, it reads the text from the perspective of the “desempleados,” the unemployed Latinos who stand at intersections of busy streets, waiting for somebody to pass by and offer them twenty dollars in exchange for doing house or yard chores. It reads the text from the perspective of the “niñeras” and the “sirvientas,” Latinas who provide child care and housekeeping for the affluent. It reads the text from the perspective of the “braceros,” the migrant agricultural workers who travel from state to state, picking crops. It reads the text from the perspective of the “costureras,” Latinas who work all day sewing, sometimes at home and sometimes in a factory. It reads the text from the perspective of the “obreros,” the workers who provide cheap labor in construction and custodial jobs. In short, it approaches this particular text knowing that there are hundreds of thousands of Hispanics working in seasonal jobs; Latinos and Latinas who work today not knowing if they will have a paycheck tomorrow.

A contextualized reading of a text demands a contextualized sermon. Therefore, when I imagine a sermon about this parable, the intended audience that comes to my mind is the congregation that has been my home church for the last five years: “El Aposento Alto” Christian Church (Disciples of Christ) in Forest Park, GA. This local church, which started out as a small Christian fellowship group some ten years ago, received its church building as a gift from an Anglo-European Disciples congregation that decided to dissolve itself. That congregation dwindled to just six members after the community became mostly African-American and Hispanic.

Preaching the parable of the Laborers of the Vineyard at the Aposento Alto is not easy. There is Brother Jaime, who was left for dead in the desert by his “coyote” the first time he tried to cross the border. It took him a week to reach town, only to be deported by the “migra.” There is Brother Agustín, a construction worker. On several occasions he has worked for weeks at construction sites, only to have his bosses avoid paying him by calling the Immigration and Naturalization Service. There is Sister Ileana, whose job at the airport did not allow her to attend Sunday services for a year and a half. There is Sister Carmen, a mother of two who works the graveyard shift at Walmart. And there is Brother William, our pastor’s husband, who is of an age where he should be retired, but on Sundays puts on his uniform after the Lord’s Supper and runs to the Braves’ Turner Field Stadium where he works for the guest services division. It is not easy to preach this parable at the Aposento Alto because its members are the contemporary “obreros” of the vineyard. Their social location is so close to the social location of the text that they have a natural connection to the biblical story.

The main topic of the sermon would be God’s love for the poor.19 The sermon would stress God’s love for all Hispanics—particularly for those who can be seen in cities like Austin and Los Angeles waiting by the street to be hired. It would also describe the clash between the values of human sociopolitical systems and the values of God’s reign. Such a sermon would be a hopeful proclamation of the gospel: God’s merciful acceptance of the excluded and the poor. A sermon like this may be titled “The Survival of the Weakest.”

As ons ons beywer om aan hierdie koninkryk van God ‘n gesig te gee in die hier en nou, dan beteken dit dat ons sal meewerk aan die oorlewing van die swakstes in die samelewing. Dis waartoe ons geroep is.

Die genade, liefde en barmhartigheid van God is met elkeen van julle. En mag die armes, wanneer hulle die moed bymekaarskraap op op te kyk en in julle oë te kyk, sal ervaar dat dit ook by hulle is.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Eksodus 3:1-15 – 2017

3 September  2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Eksodus beteken “uittog”. Nuwe hoofstuk in verhaal van OT. Genesis oor skepping en aartsvaders. Almal beland in Egipte. Nou die uittog. Hfst 3 sleuteloomblik wanneer Moses geroep word om uittog moontlik te maak. (Word groot in Farao se huis, in ander godsdiens, is bewus van Israelitiese wortels, sien op ‘n dag dat ‘n Egiptenaar een van die Hebreeuse slawe onderdruk en dan slaan hy die man dood. Moses vlug na Midian ens.

Nou word vertel hoe Moses sy mense uitlei. Word beskryf in die besondere ontmoeting tussen Moses en die God van Abr en Isak en Jakob en vir hom kies. Hom terugbring op die spoor van wie hy is, sy identiteit en wat hy moet doen.

In die groter prentjie is hfst 3 die sleutel hfst waar God vir Moses die opdrag gee om sy mense uit Egipte uit te lei.

Eksodus 3: 1-15 Teks

2:23 Die Israeliete het gesug oor die slawerny en geroep om hulp en hulle hulpkreet het opgegaan tot God oor die slawerny.

2:24-25 God het hulle gekerm gehoor, sy verbond onthou, hulle gesien en Hy het geweet (dit ter harte geneem).

3:1 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ’n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

Horeb = berg Sinaï waar God later die 10 Gebooie aan Moses sou gee

3:2 Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n braambos. Hy (Moses) het gesien, en kyk!, ‘n braambos brandend in vuur en die braambos word nie verorber nie.

God se verskyning in Eksodus gaan dikwels met vuur gepaard.

3:3 Moses het vir homself gesê: “Ek wil afdraai en ek wil kyk hierdie groot verskyning. Waarom brand die braambos nie uit nie?

3:4 Toe die Here (Jahwe) sien dat hy afgedraai het om te kyk, roep God (Elohim) na hom vanuit die braambos: “Moses, Moses!”, en hy antwoord: “Hier is ek! (hineni)”

3:5 Hy (God) het gesê: “Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale vanaf jou voete, want die plek waarop jy staan is heilige grond.”  (Uittrek van sandale was, soos steeds vandag, in die Ooste ‘n teken van nederigheid en ontsag en vir die Heilige. ‘n Manier om die stof en die vullis van die wêreld uit te sluit. Ook die wegneem van persoonlike gemak en om die persoon nader aan die aarde te bring.

Die grond is heilig want God het gekies om Homself daar te openbaar.

3:6 En Hy het gesê: “Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om te kyk na God.

3:7 Die Here het gesê: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik raakgesien (Ek is diep bewus daarvan) en hulle noodkrete het Ek gehoor in die aangesig van hulle onderdrukkers, want Ek ken hulle pyn.”

3:8 Ek het afgekom om hulle te bevry uit die hand van die Egiptenaars en om hulle te laat trek vanuit daardie land na ‘n goeie en uitgestrekte land, na ‘n land wat vloei van melk en heuning, na die plek van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, Feresiete, Hewiete, Jebusiete.

3:9 En nou, kyk!, die noodkrete van die Israeliete het gekom tot My, en ook het Ek gesien die onderdrukking waarmee die Epigtenaars hulle onderdruk.

3:10 So nou, gaan!, en Ek sal jou stuur na Farao, en bring my mense, die Israeliete uit Egipte.

3:11 Moses het vir God gesê: “Wie is ek dat ek moet gaan na Farao toe, of dat ek moet bring die Israeliete uit Egipte?

3:12 Hy het geantwoord: “Ek sal sekerlik by jou wees (ehije > Jahwe) en hierdie sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte bring, sal julle vir God dien by hierdie berg.

3:13 Toe het Moses vir God gesê: “Kyk, as ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle vaders het my gestuur na julle toe,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy naam?’ – wat moet ek vir hulle sê? [Wie is U?]

3:14 God het vir Moses gesê: “Ek is (ehije) wat Ek is.”Hy het gesê: “Sê so vir die Israeliete: ‘Ek is (Ehije) het my na julle gestuur.

3:15 Verder het God vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê: ‘Jahwe, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – Hy het my gestuur na julle toe. Dit is my Naam vir ewig, dit is my gedenkteken (memorial, remembrance, waarby Ek onthou sal word) van geslag tot geslag.”

אֶהְיֶה        (Ehije – Ek is / Ek sal wees)

הָיָה          (Werkwoord – om te wees)

יְהוָה         (Jahwe)

יהוה         (Jahwe sonder vokale)

 Opmerkings

Nie klem lê op brandende bos as verskynsel. Ons gaan kerk toe as Christene om na God te luister. Vroeër in die Christelike-Judese geskiedenis het die Jode sinagoge toe gegaan. Daar gaan luister na wat God wil sê. Baie lank voor dit, voor die Joodse geskiedenis, voor die 10 gebooie, voor die Sabbat het mense dit beleef dat hulle God ontmoet het in die natuurverskynsels. Daarom het natuurverskynsels vir hulle goddelike, simboliese betekenis gehad. So het baie godsdienste ook verstaan. Hulle het nie Sondag kerk toe gegaan om te gaan hoor wat sê die Here (of die gode) nie, hulle het in hierdie verskynsels gehoor wat sê die Here. En dan die nodige interpreteerders gehad daarvoor. Daarom die uitleggers van drome – die teoloë van destyds. Talle sulke verhale in die OT. (Met die gee van die 10 Gebooie is Moses weer daar in die bliksem en die donder van die berg.)

 Damatiese gebeurtenis – baie interessante elemente. Vs 12 – die bewys dat dit waar is sal wees dat my volk my hier sal kom aanbid. Watter bewys is dit? Sou dit eers jare later sien. Dit is teruggelees en so interpreteer. Teologiese punt: die voorstelling van God as Ek is wat Ek is, die handelende God. Die God van Abr en Isak en Jakob en nie die gode van die faraos nie. Hierdie God wat vir Moses roep om sy mense te verlos.

[Wat is die relevansie vir ons vandag. Christelike teologie – verlossing uit sondeslawerny na nuwe lewe. Selfde struktuur om dit te verduidelik. Jesus die tweede Moses.]

Hoe ver is die wêreld vd Bybelse tyd verwyder van ons waar ons vandag lewe. As ons as Christene wil hoor wat sê die Here vir ons dan het ons ‘n Bybel wat ons oopmaak. Gaan kerk toe. Heilige grond – ook in die oosterse heiligdomme en godsdienste. Ons nie in konteks waar ons skoene uittrek as ons in die kerk kom nie. Afstand tussen toe en nou so enorm dat ons amper geen ooreenkoms kan sien nie.

Die een konstante vir gelowiges tussen toe en nou is die God wat Homself aan Moses bekendmaak. Hoe hierdie God homself bekendstel – die naam/name van God as die Een wat nie soos die ander gode van ver af heers nie, maar tot die wêreld toetree, bemoeienis maak met mense in nood, aktief betrokke is, so aktief dat Hy homself as ‘n werkwoord bekendstel.

Ek is wat Ek is.

Ek is.

Jahwe.

Die God van jou vaders.

Ook die God van Ismael – nog ‘n naam wat God self aan ‘n weggoikind gegee het met die betekenis van “God hoor”. Weer ‘n werkwoord. Die God wat ingryp in situasies van nood, wat bevryding en uitkoms bring.

Geen gereelde kerkbywoning, geen Sabbat, geen strukturele godsiens in Moses se tyd. Net momentele oomblikke waar God met mense praat deur drome, engele en natuurverskynsels. Vraag: Wat wil die Here vir my sê? Gemeente vandag: Met watter verwagtinge het julle vandag kerk toe gekom om te hoor wat die Here vir julle wil sê? Was daar al ‘n verwagting? Enige huiwering as jy by die deur inkom want hier gaan nou iets gebeur, ons gaan nou na die Here luister, Hy gaan nou met ons praat… Of het julle bloot net gekom om dit iets is wat ons doen en on sis nog gejaagd ook en half uitasem en kinders regkry en dank om sit ons hier, en nou: Wat gaan die Here sê? Nou is die vraag Wat gaan die Here sê? Hoe gaan jy God hoor praat met jou? Soms voel jy dat jy in die erediens eintlik maar net ‘n atmosfeer kan skep, ‘n ruimte waar mense, elkeen met hulle eie spirituele behoeftes, by die Here te kom sit en dan iets te lees wat dit op die een of ander manier in ‘n rigting stuur en dan elkeen by hom of by haar die ervaring het van God het vandag met my gepraat. Wat sal dan die boodskap wees? Dit sal iets moet wees wat te rym is met die Christelike geloof, met God wat omgee vir mense en wat vir mense lief is en genadig is, ‘n genaakbare God wat luister. Eintlik niks nuuts nie. Die fisiese verlossingsboodskap van die OT wat vandag weer ons geloof bevestig.

Dalk iets van Immanuel – die God wat vir Moses verseker dat Hy bý hom is wanneer Hy hom stuur is ook Immanuel wat by elkeen van julle is wanneer julle vanoggend se “heilige ontmoetingsgrond” verlaat om verder deur Hom gestuur te word…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.