Matteus 22:15-22 – 2017

22 Oktober  2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

22: 17 belasting = “sensos” > sensus. Die sensusbelasting wat jaarlikse deur individuele burgers betaal moes word vir hulle burgerlike reg.

22:20 Wie se beeld en wie se inskripsie

Dieselfde woord as LXX Gen 1:26 (mens na beeld van God geskape) en Kol 1:15 (die Seun is die beeld [eikoon] van God)

22: 21 Gee terug (return)

22:22 verwonderd

Van ‘n regering se wanbesteding van die burgers se swaarverdiende belastinggelde hoef niemand ons iets te vertel nie. Ook in die Bybelse tyd was mense onwillig om belasting te betaal. In Handelinge 5:37 dink Lukas terug aan die jaar 6/7 nC toe Judas die Galileër ‘n opstand gelei het om die betaling van belasting teen te staan. Dit was egter nie suksesvol nie. Nou, omtrent 3 dekades later, nader ‘n groep mense vir Jesus om te hoor wat hy te sê het oor die betaal van belasting aan die keiser.Om te weet wat hier aangaan is dit nodig dat ons die politieke situasie van daardie tyd verstaan. Die Jode het lankal reeds (539 vC) teruggekeer uit ballingskap en hulle weer in Israel gevestig. Intussen het Israel onder Romeinse jurisdiksie gekom. Die Romeinse Senaat het vir Herodes (self ‘n Jood) aangestel as goewerneur of “koning” van die Jode, en so was die Herodiaanse ryk van Israel vanaf 37 vC ‘n kliënte ryk van die Romeinse Ryk. As staat was Israel op ekonomiese, politieke sowel as militêre vlak ondergeskik aan die Romeinse Ryk. Hulle kon dus nie onafhanklik funksioneer nie. Hulle was nie hulle eie baas nie. Hulle het nie eens hulle eie geldeenheid gehad ni

Herodes was op goeie voet met die keiser van Rome want dit was die man wat aan hom hierdie ereposisie onder sy volksgenote gegee het. Vir Herodes was dit ter wille van internasionale verhoudinge dus baie belanglik dat sy Joodse volksgenote gehoorsaam is aan die bepalinge van die Romeinse Ryk. Sy mees lojale volgelinge onder die Jode het bekendgestaan as die Herodiane. Dit was ‘n polities-gemotiveerde groep en hulle het as hulle verantwoordelikheid beskou om te help toesien dat die Jode die Romeinse wette gehoorsaam. Maar, soos ons weet het meeste Jode die Romeine as hul grootse vyand beskou. Hulle was immers uitgelewer aan die onderdrukking van die Romeine, hulle het bitter min regte van hul eie gehad, hulle is uitgebuit om in armoede te leef, hulle kon nie eens die doodsoordeel oor een van hul eie volksgenote voltrek as die Romeinse goewerneur (wat die keiser verteenwoordig het) nie die laaste ja-woord gespreek het nie. Die Jode se hele identiteit het afgehang van hul geloof dat God vir hulle ‘n nuwe leier uit die nageslag van Dawid sou stuur, en dat hierdie leier ‘n Joodse opstand sou lei en Rome sou oorweldig en die keiser sou onttroon en die nuwe koning van die volk sou wo

Die Fariseërs weer was ‘n baie streng godsdienstige groep wat daarop geroem het dat hulle die wette van die OT slaafs navolg. Die Herodiane en die Fariseërs het nie noodwendig om dieselfde vuur gesit nie, maar hulle het een ding in gemeen gehad – hulle wou vir Jesus uit die weg uit ruim. Daarom skuif hulle nou al hul verskille opsy, en hulle span saam in ‘n gemeenskaplike plot teen hom.

Hulle begin deur vir Jesus heuning om die mond te smeer: “Meester, ons weet dat u opreg is en God se weg waarheidsgetrou onderrig en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie. (U steur u nie aan enigiemand nie want u sien nie die gesig van mense nie.)”

Bybelkenners meen dat dit waarskynlik een van die mees skynheiligste sinne in die hele Bybel is. “Sê dan vir ons wat is u opinie…”

Die Romeinse regering het ‘n uitgebreide belastingstelsel gehad. Daar was belasting op besittings en grondgebied, handelsbelasting, inkomstebelasting, pad- en hawebelastings en dan ook die sensusbelasting. Laasgenoemde is hier ter sprake. Dit is belasting wat jaarliks deur elke manlike landsburger betaal moes word vir die reg om ‘n burger van daardie land te wees

“Waarom toets julle my, hupokritai?

As die mense gedink het dat Jesus hom nie aan die gesig van mense steur nie, maak hulle ‘n baie groot fout. “… want U sien nie die gesig van mense nie”, smeer hulle hom heuning om die mond. En hy antwoord so vlymskerp: Hupokritai! Maskerdraers! Waarom toets julle my? ‘n Hupokrites was ‘n akteur, ‘n dramaturg wat in die Grieks-Romeinse wêreld maskers gedra het wanneer hulle op die verhoog was. Dis iemand wat hulle ware gesig agter ‘n masker wegsteek, ‘n valse front voorhou – jou met die masker aan vriendelik vly, maar agter die masker snedig is. Wanneer Jesus se vyande dus sê dat hy nie na die gesig van mense kyk nie, en as dit is dat hulle verwys na die valse, publieke front wat mense voorhou, dan is hulle reg. Maar Jesus sien wel die ware gesig van mense raak, die gesig wat ons agter maskers wegsteek wanneer ons onsself aan ander voorhou. En dis presies hiermee wat Jesus hulle vang. Hy kyk regdeur tot op hulle regte gesigte

Waarin lê die toets? In die feit dat dit ‘n strikvraag is met geen regte antwoord is nie. ‘n Catch-22 situasie. Want, sê Jesus “ja, julle moet aan die keiser belasting betaal,” dan gaan die godsdienstige Fariseërs kwaad wees oor sy antwoord. Maar sê hy “nee, julle moenie aan die keiser belasting betaal nie,” dan gaan die Herodiane hom aangee as ‘n opstoker by die Romeinse owerheid. Hy kan nie na die kant toe of na daai kant toe wen nie

Maar Jesus antwoord nie “ja” of “nee” nie. Hy swaai die ondervraging om sodat diegene wat hom wil vasvra die voor die hand liggendheid van die antwoord self moet ontdek. “Wys vir My die munt waarmee julle belasting betaal?”  Hulle bring toe ‘n silwer denarius te voorskyn.

“Wie se beeld is hierop, en wie se inskripsie?”  (“Wat sê die muntstuk vir julle? Aan wie behoort dit?”) “Die keiser s’n.” Die beeld van Tiberius Caesar sou in Jesus se tyd op die muntstuk wees. Hy was die amptelike Dominus et Deus, “Here en God” van die gebied. Vandaar die inskripsie: “Tiberius Caesar, seun van die goddelike Augustus” (son of the divine Augustus). Nie naby aan die Suid-Afrikaanse inskripsie op ons een rand muntstukke, Soli Deo Gloria nie, of die Amerikaanse dollar inskripsie “In God we trust” (E Pluribus Unum) nie.

“Nou daar het julle dit mos. Gee dan terug aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.”

‘n Twee-ledige antwoord. Nie ‘n of-of soos wat die mense verwag het nie, maar ‘n en-en antwoord.

Nr 1. Of julle nou daarvan hou of nie, julle is burgers van hierdie land, en julle staan onder die regering van die keiser van Rome. Hy is wel nie julle voorkeur as leier van die land nie. Maar dit is soos dit is. Julle het ‘n verantwoordelikheid om goeie landsburgers te wees. Deel daarvan is om aan die keiser terug te gee wat aan hom behoort. Julle moet natúúrlik julle belasting betaal. Dit is die beeld van sy kop wat op julle muntstukke is. Daardie muntstukke skenk aan julle in hierdie land ‘n sosiale, politieke en ekonomiese struktuur. Ja, alles loop nie vlot nie. En die regering is korrup. Julle geld word onverantwoordelik bestee. Maar mens maak nie een verkeerd met ‘n ander verkeerd reg nie.

In Jesus se tyd het die Jode dit allermins maklik gehad onder die Romeinse regering. Tewens, dit is nou in die laaste week van Jesus se lewe. Die konflik tussen hom en die Joodse godsdienstige leiers en ook die Romeinse regering is besig om breekpunt te bereik. Binne enkele dae sal Jesus deur hierdie einste regering tereggestel word. Deels ook juis omdat hy dit vir die leiers van die land (godsdienstig sowel as polities) moeilik gemaak het met sy sosiale kritiek en die manier waarop hy ongeregtigheid in die samelewing oopgevlek het. Maar selfs as julle onderhewig sou wees aan ‘n heidense regering wat die Seun van God sou kruisig of wat christene vervolg – selfs dan moet julle julle belasting betaal. Paulus het dieselfde gesê in Romeine 13. Petrus ook in sy briewe. Mense wat gely het onder die regering van die land waarin hulle gewoon en gewerk het.

Nr 2. Vir julle groep mense wat glo dat julle aan God behoort, stop julle verantwoordelikheid egter nie by die (terug)betaal van belasting aan die keiser nie. Julle is burgers van 2 ryke. Julle het ‘n verantwoordelikheid ook binne die Ryk van God. Julle moet ook aan God teruggee wat aan Hom behoort. Wanneer Jesus vroeër vra “Wie se beeld sien julle op die muntstuk?,” dan gebruik Hy dieselfde woord (eikoon) vir “beeld” wat in Genesis 1:26 gebruik word om te sê dat die mens “na die beeld van God” geskep is. Met hierdie teks was die Fariseërs baie goed bekend. Hulle sou dadelik die onderliggende betekenis van Jesus se antwoord hoor. Die muntstuk dra die beeld van die keiser en daarom moet julle dit aan die keiser teruggee. Maar gaan dink ‘n bietjie na oor wat dit is wat die beeld van God dra, want dit behoort aan God, so gaan gee dit terug aan God.

Natuurlik behoort alles in die skepping aan God. Maar meer gefokus as dit: Óns is geskape na die beeld God. Ons moet onssélf aan God teruggee. Wie ons is en wat ons besit – dit alles staan in diens van God en sy Ryk

Jesus glip uit die strik wat die Fariseërs en die Herodiane vir hom gestel het, en hulle was verwonderd oor sy antwoord. Dit is min dat ons lees dat Jesus se vyande op ‘n positiewe manier verslaë en verwonderd was oor dit wat Hy gesê het. Ironies genoeg draai hulle daarna hul rug op hom en loop weg. En sou hulle hom elk geval ‘n paar dae later oorlewer om gekruisig te word.

Ek sluit af met enkele laaste opmerkings. Die antwoord op die mense se vraag was eintlik so voor die hand liggend. Kyk na die muntstuk en sê my wat julle sien. Die beeld van die keiser. Dan behoort dit mos aan die keiser. Ek wonder of die tweede deel van Jesus se antwoord ook so voor die hand liggend is? Wanneer ons in die spieël kyk, of wanneer ons na mekaar kyk, of wanneer die wêreld, ons mede-landsburgers na ons kyk, is dit ook so duidelik soos met geld, dat ons die beeld van God op ons dra? Dat ons aan God behoort? Dat ons in sý diens staan? Nog ‘n tree verder: Wanneer Jesus ons vra om aan God te gee wat aan Hom behoort, besef ons dat elke individu wat oor ons pad kom, die beeld van God dra? Wanneer dit by God kom staan en val ons burgerskap nie by die geld nie, dit gaan nie oor die gewig van die kollekte of die groote van die 10e-maand dankoffer nie. It’s not about the money, but about the people. Goeie koninkryksburgers gee aan God terug deur sy beelddraers lief te hê, liefde vir ons naaste, respek vir ander, vergifnis en aanvaarding. Gee vir die keiser wat aan die keiser behoort, én gee aan God wat aan God behoort. Victor Hugo het hierdie lering van Jesus opgesom in sy bekende boek Les Misérables: To love another person is to see the face of God. Om iemand anders lief te hê, dit is om aan God terug te gee wat Hom toekom.

Natuurlik gaan dit dan, vir diegene wat geld het om te gee, óók oor geld. Binnekort word ons gemeente voor ‘n belangrike toets gestel – ons het hierdie week die nuus ontvang dat Jacques vir ons ‘n miljoen rand uit sy boedel nagelaat het. My eerste gedagte: Ons sal kan doen met ‘n miljoen. Maar ons sal mooi moet gaan nadink hoe ons die heel beste vir God gaan eer met hierdie geld… Om alles in die beleggings in te stoot klink dalk na die aanloklikste en mees verantwoordelike besluit vir die toekoms. Maar hoe getuig sulke na-binnegerigte spaarsamigheid van ons naasteliefde vir die beelddraers van God wat swaarkry? Watter verskil maak hierdie hupstoot dan aan die oorlewingsnood van mense?

Liewe kinders van twee ryke – wees die beste Suid-Afrikaanse burgers wat julle kan wees, al stel die regering geen navolgenswaardige voorbeeld nie. Sê julle kritiese sê vreesloos, maar bly funksioneer binne die reëls wat daar gestel is.

En wees verder ook die beste Godsburgers wat julle kan wees. Die een is nie te onderskei van die ander nie. Moenie hupokritai wees nie, moenie maskers dra nie! Staan oop en eerlik voor mekaar, en mag dit so wees dat ander die beeld van God oor julle gelaat afgedruk sien. Weet ook dat dieselfde beeld oor ander mense se gelaat staan. Kyk soos Jesus, deur die masker en betoon diensbare liefde – agape, soos in Fil 2.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Filippense 3:4b-14

8 Oktober  2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Belangrike agtergrond: In Paulus se tyd was daar nog nie so ‘n skeiding in godsdienste dat daar twee godsdienste was waartussen hy beweeg en bemiddel het nie: Daar was nie die Jode en die Christene nie. Die Joodse Christene was ‘n groep Jode wat volgelinge van Jesus was. Later het daar heidene bygekom, maar daar was steeds nie ‘n finale breuk wat meegebring het dat ons van die Joodse godsdiens en die Christelike godsdiens kon praat nie. Daardie skeiding het eers na Paulus gekom, hier teen die einde van die eerste, begin tweede eeu n.C.

Verlede week lees ons Fil 2.  Paulus skryf vanuit die tronk in Rome aan die gemeente in Filippi vir wie hy baie lief is en oor wie hy baie trots voel. Tog is hy bewus van onderlinge onenigheid binne die gemeente omdat sommiges hulle beter ag as ander en op medegelowiges neersien. Daarm haal Paulus die vroeë kenosis of selfontledigings-lied oor Jesus vir hulle aan. Jesus wat in die gestalte van God was en na regte daaraan kon vashou, het dit juis nie gedoen nie. Hy het Homself van alle aansien leeggemaak, ook van sy goddelikheid afgesien deur aan mese gelyk te word en die laagste vorm van mense te word wat daar was, ook die laagste vorm van dood te sterf wat moontlik was. Dis Hóm wat Paulus verkondig, dis sý voorbeeld wat Paulus nastreef.

In vandag se gedeelte, hfst 3, wys Paulus hoedat hy hierdie selfontlediging in sy eie lewe toepas…

Gedeelte begin met Paulus wat vir ons autobiografiese inligting gee oor homself – sy status en prestasies binne die Joodse godsdiens. In baie kulture in die Antieke wêreld het ‘n persoon se status afgehang van sy eer. Twee tipes eer. Toegeskryfde eer – jou status wat afhang van die reputasie van jou familie en jou voorgeslag / stamboom. Verdiende eer – hoe ‘n persoon sy eie status kan verhoog deur seker prestasies te bereik

Paulus se outobiografie wys dat hy uitblink in beide kategorieë. Wat toegeskryfde eer betref, is hy ‘n oktahemeros – ‘n man wat op die agste dag na geboorte besny is. Hy is ‘n Israeliet, behorende tot die stam van Benjamin, ‘n Hebreër van formaat.  Dus vir enigeen wat iets weet van families en stambome: Paulus was ‘n opregte Jood, onbevlek. Hy het uitgestaan bo die heidene en die godsvresers wat, alhoewel simpatiek teenoor en selfs bekeerlinge tot die Joodse godsdiens, nooit ‘n ware Jood sou kon wees nie.

Itv verdiende eer was Paulus wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die kerk; en wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Die Fariseërs het bo ander Jode uitgestaan omdat hulle so lief was vir die OT wet en dit baie streng onderhou het. Dis juis hierdie liefde vir die wet wat vir Paulus gedryf het om die volgelinge van Jesus die vervolg (Hand 9), want nes Jesus het hierdie volgelinge die wet te liberaal geïnterpreteer.

Paulus klink trots op sy etniese reinheid waarvolgens hy homself as ‘n geregverdigde voor God beskou. Maar nou kom dat ‘n twist in the tale, want Paulus, alhoewel steeds dieselfde ras-egte Jood as voorheen, se denke/lewensuitkyk/gesindheid (2:5) het verander: Hy het vir Jesus leer ken. Dit is hierdie sewe karaktereienskappe van oorerwing en verdienste wat daarop dui dat hy nie vir Jesus as Verlosser aanvaar het omdat hy gedink het dat sy Joodse wortels nie goed genoeg was nie. Hy het juis nie gefaal in sy eie godsdiens nie. Maar in wat volg sien ons hoedat hy al hierdie eienskappe van eer nie meer as ‘n bate beskou nie, maar as ‘n verlies, selfs as vullis, noudat hy vir Christus ken. Die Griekse woord wat hier met “vullis’ vertaal word, is ‘n baie kras woord wat na mense of dierlike uitskeiding verwys. Die Engelse “dung” of Afrikaanse “drek” (OAV) is eerder wat Paulus hier in gedagte het. Daar is vir hom nou net een bate en dit is om vir Christus Jesus te ken en om in Hom gevind te word. In besonder verwerp Paulus sy (eie) geregtigheid (regverdiging, vryspraak, integriteit) op grond van die wet (vs 9), dws hy glo nie meer hy word regverdig verklaar omdat hy die wet so getrou onderhou nie. Nee, sy geregtigheid lê in die geloof van (nie “in” nie!) Christus Jesus (direkte vertaling uit Grieks). Pistis: geloof, betroubaarheid, trou, integriteit. Dit is dus ‘n regverdiging wat van God af kom en geskied deur die geloof van Christus (en nie deur ons geloof in Christus nie). Christus se geloof is die deurslaggewende. “Ek probeer nie meer uit verdienste leef nie al KAN ek (al sê die godsdiens van my wortels dat ek kan)!,” sê Paulus. “My enigste doel is om vir Christus te ken, om die krag van sy opstanding te ervaar, en om deel te hê aan sy lyding, om soos Hy te wees in sy dood (Hy wat in die gestalte van God was, het nie sy gelykheid aan God beskou as iets waaraan Hy moes vashou nie, maar Hy het Homself [hierdie goddelikheid] prysgegee en aan mense gelyk geword en Hom verneder tot die dood, ja, die dood aan die kruis – Fil 2, verlede week).

Ons moet so leeg raak van onsself en ons eie vermoëns, dat ons verstaan van God se aanvaarding van ons op geen manier van onsself afhang nie, nie eens van ons geloof in Christus nie. Dit is nie ons geloof wat ons vryspreek nie. Sodra ons so dink, dan raak ons geloof op sigself weer ‘n vorm van verdienste. Dit is Christus se geloof wat ons vryspreek, sy selfontlediging, die integriteit van sy lewe op aarde toe Hy bemoeienis gemaak het met almal wat laë klas en siek en sondig en anders as die norm en untouchable was, sy getrouheid (faithfulness) aan sy roeping om diensbaar te wees en die minstes as sy meerderes te hanteer en so selfs aan die laagste sondaar gelyk te word dat Hy die mees veragtelike sondaarsdood sterf. (Hoekom skryf ek/ons eens voornaamwoorde verwysende na H/hom met hoofletters as H/hy daarteen sou kies? Vanwaar die gestryery oor Bybelvertalings en hoofletters al dan nie, dis kontra-evangelies!)

Flip Theron en Martin Luther

Oor Flip Theron se boek: Gods geregtigheid en Christus se geloof:

“Luther het vertel hoe vreesbevange die gedagte aan Gods geregtigheid hom altyd gemaak het. Hoe kan ’n sondige mens vol ongeregtigheid staande bly voor die oordeel van Gods geregtigheid? Dit was die vraag wat Luther diep verontrus het. Daarom sy bekende vraag: “Hoe vind ek ’n genadige God?” Die Kerkhervorming het begin daardie dag toe Luther se oë geopen is vir die feit dat Gods geregtigheid in werklikheid goeie nuus is. Toe hy besef het dat daar ’n baie hegte verband bestaan tussen Gods geregtigheid en Christus se geloof.

Flip Theron konsentreer op die Griekse uitdrukking pistis Christou, wat op twee maniere vertaal kan word, naamlik as “(ons) geloof in Christus”, of, meer letterlik, as “die geloof van Christus” (dit wil sê, “Christus se geloof”). Eeue lank het die eerste vertalingskeuse algemene voorkeur geniet, maar deesdae word gepraat van ’n konsensus vir die tweede moontlike vertaling.

Daarom het almal wat behoefte het aan troos ook alle rede om hulle in Gods geregtigheid te verbly. Ons hoef nie ons sekerheid te bou op óns geloof nie, maar wel op Góds geregtigheid wat tot uitdrukking kom in Christus se geloof. Soos Paul Althaus dit stel: “Of ek glo, dit weet ek nie, maar ek weet in Wié ek glo.”

Om nederig te wees is om altyd op weg te wees. Paulus het dit toe nie “gemaak” nie. Hy sien af van sy ras-egte status, haal alle sertifikate van verdienste van sy muur af en verbrand nie, het geen sekerheid meer oor om op te roem of aan vas te hou nie, en juis daarin lê sy “sekerheid” – dat hy niks het om te gee, maar daarom soveel om te ontvang. Hy weet dat hy nie volmaak is nie (volmaak wat beteken minder word totdat jy niks is nie, en nie meer word nie), maar as hy dan iets nastreef, dan is dit dit. Of hy uiteindelik daar gaan uitkom, is ook nie bepalend nie. Al wat saakmaak is dat Jesus hom reeds syne gemaak het. Hoor julle dit? As ek dit anders kan verwoord: Hoe sal jy antwoord as iemand jou vra hoe weet jy of jy God se kind is en of jy deel het aan die koninkryk van God? Of dalk is ons belydenisafleggingstaal: Het jy vir Jesus Christus aangeneem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker en glo jy in Hom met jou hele hart en siel en verstand. Aanvaar jy die onfeilbaarheid van die Woord van God soos dit in die Ou en Nuwe Testament geskryf staan en beloof jy om jou lewe daaraan te toets en daarvolgens te rig?

Wat is julle antwoord hierop?

Paulus antwoord: My geboortesertifikaat en my cum laude sertifikate in teologiese studies maak van my ‘n kind van God, maar ek beskou dit as drek en het dit alles verbrand. Ek het nie vir Christus Jesus aangeneem nie, ek het Hom en sy volgelinge vervolg en was aandadig aan baie se dood. Of ek in Hom glo, dit weet ek nie, want my eie geloof is gelyk aan niks. Ek is nie so seker van die onfeilbaarheid van die Ou en die Nuwe Testament nie, want die onderhouding daarvan is juis wat van my ‘n vervolger gemaak het van Christus en sy kerk. Die wet het my gehelp om mense wat nie soos ek is nie, uit te sluit en sommiges selfs dood te maak. Ek het my lewe slaafs daarvolgens gerig en dit het mense skade aangedoen. In alle eerlikheid kan ek nie op hierdie vrae “ja” antwoord nie, want my kennis van Christus het my daarvan oortuig dat dit die verkeerde vrae is om te vra.

Maar as julle my eenvoudig vra of ek aan Christus behoort, dan is my antwoord “ja”.

Hoe weet ek dit? Ek het Hom nie aangeneem nie. Hy het my syne gemaak.

Glo ek dit regtig? Ek weet nie, dis vir my te groot om te glo. Maar of ék dit glo is nie die punt nie. Dat Hý dit glo, is al wat tel.

Waarvoor beywer ek my? Net een ding – om Hom beter te leer ken en om dit te doen deur sy voorbeeld met mense na te streef.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.