Matteus 23:1-12 – 2017

5 November  2017Pinelands Dankfees, Kerkraadsbevestiging en Nagmaal
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Matteus skryf na die val van die tempel in Jerusalem in 70 n.C. Hy skryf vir ‘n christelike gehoor – leer hulle deur hulle te vertel van 40 jaar + gelede se gebeure.

Vs 1: die skare en sy dissipels. Dieselfde gehoor as met die bergrede (5:1 en 7:28). Die “skare” verwys na potensiële dissipels wat op hierdie stadium nog positief is oor Jesus. Ook hier in Matteus 23 is dit hulle wat aangespreek word.

In die bergrede seën Jesus, hier spreek Hy oordeelsuitsprake uit. In beide gevalle spreek Hy die belang van mens se innerlike ingesteltheid teenoor uiterlike gedrag aan. Dit wil voorkom asof Matteus kies om nie die Joodse godsdienstige leiers (sy eie gehoor) direk aan te vat en te kritiseer nie, maar om eerder Jesus se woorde as ‘n waarskuwing vir die skare en die dissipels te gebruik en indirek ook so die waarskuwing aan die leiers in sy eie gemeenskap oor te dra.

Lees teks

Ons sou Jesus se woorde soos volg kon verstaan: Deur te sê dat die skrifkenners en Fariseërs op die stoel van Moses sit, gee Jesus aan hulle die gesag om die geskrifte vir God se mense te interpreteer.

  • Hulle het die gesag om swaar vragte op mense te lê of om hulle vry te maak, die gesag om vas te stel wat die wil van God is vir elke nuwe situasie.
  • Deur vir sy dissipels aan te moedig om te doen soos wat die Fariseërs sê, prys Hy eintlik die Fariseërs se leringe. Jesus se volgelige moet die gesag van hierdie onderwysers respekteer en hul lewens rig volgens hulle interpretasie van die geskrifte.
  • Deur te waarsku dat die dissipels egter nie moet doen soos die Fariseërs doen nie, wys Jesus die swakpunt van die Fariseërs uit – hulle doen nie wat hulle sê nie, hulle lewens is nie in oorstemming met hul leringe nie. Jesus verwag van sy dissipels om die wil van God na te streef in ‘n beter mate as wat die Fariseërs dit gedoen het (wat dit gepreek het, maar nie in die praktyk onder die knie kon kry nie).

Dit is egter nie die prentjie wat ons in die res van Matteus se evangelie aantref nie – dat hulle nie doen wat hulle sê nie. Hulle het bv gepreek dat mens jou hande goed moet was voordat jy eet, en hulle het dit wel ook gedoen. Hulle het almal wat dit nie gedoen het nie, gekritiseer. Wanneer Paulus in Filippense 3 oor sy eie lewe as Fariseër skryf, getuig hy daarvan dat hy onberispelik was in die toepassing van die Wet. They practiced what they preached.

Ek dink die sleutel tot die verstaan van Jesus se waarskuwing lê by die woordjie in vs 3 wat met “praat” vertaal word – legousin –  “hulle praat net en doen nie”. Hierdie woord verwys nie na sommer enige vorm van praatjies maak nie, dis ‘n meer “formele” manier van praat, dis om iets belangriks oor te lewer, van ‘n ander bron af “oor te vertel”, te resiteer. DUS: Wanneer Jesus sê dat die skrifkenners en Fariseërs op die stoel van Moses sit, bedoel Hy daarmee dat hulle die sosiale en godsdienstige magsposisies beklee het. Hulle is diegene wat toegang het tot die Tora (they are the keepers of the Torah – Tong in die kies: Laat mens dink aan die nuwe boek wat die week op die rakke verskyn het: The President’s Keepers, Jacques Pauw – deel inligting en weerhou inligiting om die prentjie van die president voor te hou wat hulle pas). In ‘n tyd waar baie min mense kon lees en die man op die straat geensins toegang gehad het tot die OT Tora en Geskrifte, die Wet en die Profete nie, het die verantwoordelikheid by die geleerde skrifkenners en Fariseërs gelê om die woorde van Moses te spreek – of deur dit aan die mense voor te lees of deur dit vanuit geheue te resiteer. Dit het egter nie beteken dat hulle die insig en gesag gehad het om hierdie Tora reg te interpreteer nie, soos Jesus keer-op-keer kom wys het.

Jesus se eie dissipels het ook nie kopieë van die Tora gehad nie. Jesus leer hulle dat hulle afhanklik is van die skrifkenners en die Fariseërs om te weet wat Moses (en God deur Moses) gesê het. Daarom adviseur Hy sy volgelinge om op hierdie woorde (voorlesings en resitasies) van die Fariseërs ag te slaan, om dit ter harte te neem. Maar nie hulle leringe en hul interpretasies van die Wet nie. Wanneer hulle begin om die geskrifte te interpreteer met hul eie woorde en lewens, dan moet die volgelinge nie meer hulle voorbeeld volg nie. Want hulle woorde en dade dui daarop dat hulle die geskrifte verkeerd interpreteer.

In Matteus se dag en tyd was daar twee bronne van Skrifinterpretasie – die interpretasie van die sogenaamde skrifkenners en die Fariseërs, en die interpretasie van die ontluikende christelike gemeenskap. So was dit ook tydens die Reformasie (waarvan ons juis nou die 500 jaar vieringe het): Die Rooms-Katolieke aan die een kant en die Hervormers aan die ander kant. Dat Luther toe so ver gegaan het om die ontoeganklike Bybel wat net deur die pous, kardinale, biskoppe en priesters gelees kon word, te vertaal sodat almal dit kon lees en interpreteer, het gemaak dat hy voëlvry verklaar is.

Vandag is die toegang tot en interpretasie van die Bybelse geskrifte nie minder kontensieus as deur die eeue nie. Gelowiges val mekaar daaroor aan, beswadder mekaar, lê swaar laste op mekaar, bind vragte aan ander vas wat hulself nie bereid is om met hulle saam te sleep nie. Party sê ander as ketters aan… Alles as gevolg van die een gemeenskaplike teks (alhoewel omvattend en divers in sigself!) wat deur verskillende groepe mense verskillend geïnterpreteer word.

Wat is die kritiek wat Jesus teen die skrifkenners en Fariseërs uitspreek?

  • Vs 4: Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met ‘n vinger aan die vrag te raak nie.

Hulle stel met hul eise en verwagtinge aan mense wat, sou hulle in dieselfde situasie wees, hulle nie sou kon nakom nie. (Laat my tog dink aan heteroseksuele mense vandag wat geensins wil toelaat -! – dat homoseksuele mense in verhoudinge mag wees of mag trou nie, maar die hetereoseksuele mense is self nie bereid om ‘n lewe van eensaamheid en onthouding op hulself te neem nie. Dis maar die las wat iemand wat gay is moet dra…, dank vader gelukkig nie mý las nie!)

Hierteenoor stel Jesus die voorbeeld van ‘n ligte las: 11: 28-30: “Kom na my toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van my, omdat ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.

  • Vs 5-7: Al hulle dade is bedoel om deur mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels (aan hul some) langer. Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges. Om op die markpleine begroet en deur die mense as “rabbi” aangespreek te word.

Die Fariseërs se dade is nie daarop gerig om ‘n positiewe verskil te maak in ánder mense se lewens nie, dit gaan geensins oor NAASTEliefde nie, maar oor liefde vir die self, om jouself te laat geld en om raakgesien te word. Ja, almal dra nie ‘n groot kruis op hul nek of ‘n band om hul skouer as hulle preek om raakgesien te word nie, maar die gevaar bestaan wel, en daarom is dit so belangrik dat die leiers in geloofsgemeenskappe altyd hulleself sal ondersoek – wat is die motivering vir hul keuses van kleredrag, of ekstra bande, of aanspreeksvorme… As dit jou help om bewus te bly van jou roeping as dienaar soos Jesus (Fil 2 – doulos), dan is dit goed. Maar indien dit is om jouself uit te sonder as anders as die groep, of as dit is om raakgesien te word – dan moet jy dit liefs nie dra nie.

Nog ‘n voorbeeld uit die lewe van Christene word weerspieël in die bumper sticker (buffer plakker) “My God Is Alive, Sorry About Yours” – die vraag is: Getuig hierdie plakker van jou geloof of sien jy eerder neer op ander? Word God deur hierdie plakker geprys of word ander mense (en hul geloof) ondermyn? Wat is die regte rede agter so sticker op jou motor?

Dieselfde met titels. Daar is mense wat die titel “rabbi” of “Vader” of “dominee” in nederigheid dra, ‘n titel wat juis hul diensbaarheid na vore bring. Maar dan is daar diegene wat dit dra en daarop aandring as jy vergeet om dit te gebruik, omdat hulle wil hê dat mense hulle “met die nodige respek” moet aanspreek. So anders as Jesus se manier…

Ek preek vandag uit hierdie leesroosterteks, nie om die gemeente tereg te wys nie, maar eerder om julle te bemoedig. ‘n Klein gemeente waar CVs en titels en name nie belangrik is nie. ‘n Gemeente waar almal welkom is, waar die meerderes nie vir die minderes plek maak en verwelkom nie, maar waar almal as minderes elke week opnuut weer weet dat hulle welkom is, ongeag of jy al jare aan die gemeente behoort of of dit jou eerste keer hier is.

Ons bevestig vandag vir Anli as diaken. Anli, jy is nie deur die kerkraad genomineer omdat jy Iemand is nie. Ons het nie jou CV bestudeer of jou verlede geweeg nie. Niemand behalwe ek weet hoe baie jy al gedoen het en wat jy alles bereik het nie, maar ek het juis gekies om dit nie te deel nie. Al sou ons jou CV hê, gee ons nie daarvoor om nie. Ons bevestig jou ook nie oor jou goeie voorbeeld en jou groot geloof nie. Ek gaan nie vanoggend die kerkraad se formulier voorlees en die amptelike vrae vra nie. Ek gaan eerder Fil 3 aampas (8 Okt se teks en boodskap) en vra dat jy op die vlg vrae antwoord:

  • Glo jy dat niks wat jy tot hiertoe kon doen (jou CV), gemaak het dat jy geskik is om as diaken te dien nie?
  • Glo jy dat jy aan Christus gehoort, nie omdat jy Hom aangeneem het nie, maar omdat Hy jou syne gemaak het.
  • Glo jy dat jou diens as diaken geensins sal bydra tot jou regverdiging voor God nie?
  • Onderneem jy om die Bybel so te lees dat dit nie van mense gevangenes maak nie, maar hulle bevry; dat dit nie mense oordeel nie, maar vryspreek; dat dit nie mense uitsluit nie, maar verwelkom.
  • Is jy bereid om die minste wees, ‘n dienaar, ‘n doulos in die voorbeeld van Jesus?

Anli antwoord: JA.

Hertoewyding van die res van die kerkraad en wyksleiers/leidsters.

Nagmaalsviering: Die brood wat ons breek is die liggaam van Jesus Christus die slaaf…

Die wyn wat ons drink is die bloed van Jesus Christus die slaaf… Hy wat in die gestalte van God was, het hom van sy goddelikheid ontledig deur die gestalte van ‘n slaaf (doulos) aan te neem en die laagste vorm van dood te sterf – die dood aan die kruis. Dis sy lewe, sy lyding, sy liggaam wat ons voed en versterk en voorberei om met dieselfde gesindheid uit te gaan en ander te dien.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.