Mattheus 9:9-13: Hervormingsondag

28 Oktober 2018, Hervormingsondag
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Teks: Mattheus 9:9-13

Tema: ecclesia reformata semper reformanda secundum verbum Dei

Inleiding

Verlede jaar, in 2017, is die 500 jaar herdenking van die begin van die Reformasie wêreldwyd gevier. Dit was 500 jaar sedert die hervormer Maarten Luther sy bekende 95 tesisse aan die voordeur van die Kerk in Wittenberg vasgespyker het. Sy dramatiese handeling is wêreldwyd herdenk en gevier as ’n simbool van protes teen ’n kerk en teologie wat op daardie stadium vir mense ’n swaar juk op hulle skouers gelaai het inplaas daarvan om vir mense die goeie nuus te verkondig.

Een van die slagspreuke wat met die Reformasieverband hou is die Latynse woorde: ecclesiareformata semper reformanda secundum verbum dei.

“Die hervormde kerk moet voortdurend hervorm word volgens die Woord van God.”

Ek is eintlik mal oor hierdie slagspreuk. Hervorming is altyd nodig. Dis ’n voortdurende proses. Verandering, vernuwing, transformasie is ten diepste deel van kerkwees. Geloof is dinamies eerder as staties. Om as gemeenskap van gelowiges getrou te bly aan ons diepste wese en identiteit moet ons voortdurend kan vernuwe en verander.

Ek vermoed dat ons almal onsself op een of ander manier met hierdie slagspreuk kan vereenselwig. Ons is nie daarmee tevrede om dinge eenvoudig te herhaal soos wat dit nog altyd gedoen is nie; ons streef daarna om nie net die kerk nie, maar ook die wêreld te verander; ons koester in onsself die begeerte om ’n verkil te maak, om instrumente van vernuwing in die wêreld te wees.

As gelowiges in die tradisie van die Reformasie is ons ernstig oor transformasie want ons is daarvan oortuig dat dinge nie is soos dit behoort te wees nie. Soos Maarten Luther en die ander Hervormers kan ons nie anders as om in opstand te kom teen die onreg, die uitbuiting, die geweld, die miskenning van mense se waardigheid nie. Dáárom beywer ons onsself om die wêreld te verander.

Die teks wat ons so pas gehoor het gaan in ’n sekere sinhieroor: Oor hoe die wêreld deur die Woord van God hervorm word, oor wat kangebeur as Jesus ’n mens roep.

Om ons te help om die teks te ontsluit het ek vir ons ’n kunswerk saamgebring:

Wat julle hier sien is ’n skildery van die bekende Barok-kunstenaar Caravaggio met die titel: “Die roeping van Matteus die tollenaar.” Dit is in die jaar 1600 voltooi en hang steeds in sy oorspronklike plek in die San Luigi dei Francesi, die Kerk vir die heilige Louis van Frankryk. Op ’n meesterlike manier beeld Caravaggio hier vir ons die oomblik uit waarop Jesus vir Matteus by die tolhuis roep om hom te volg.

Aan die regterkant van die skildery, so effens in die skadu’s versteek, sien ’n mens vir Jesus. Hy staan agter een van sy dissipels, waarskynlik Petrus. Sy hand is uitgestrek na ’n groep van vyf mans wat om ’n tafel sit, besig om geld te tel.

Wat die skildery so besonders maak is hoe Caravaggio dit reggekry het om die omgewing waarin hierdie gebeurtenis afspeel vir sy gehoor lewendig te maak. Die toneel speel af in wat lyk soos ’n versteekte agterkamer. Die mure is vuil en ongeverf. Daar is geen lig wat deur die vensters inskyn nie – asof hulle doelbewus bedek is. Die vertrek is donker – behalwe ’n helder lig wat van agter Jesus, skuins oor sy kop by die vertrek instroom.

Die mans wat om die tafel sit – in teenstelling met Petrus – is baie deftig aangetrek met die nuutste modes van Caravaggio se tyd. Die jong man, wat voor met sy rug na ons toe sit is onmiddellik op sy hoede. Hy is gewapen met ’n swaard aan sy heup.

Verbeel jou jy beland vandag skielik in ’n agterkamer van ’n kroeg of restaurant en daar kom jy ’n groep gewapende mans tee wat in duurste pakke geklee is en om ’n tafel sit en geld tel.

Dit is die tiepe situasie waarin Jesus vir Matteus by ’ntolhuis sien sit het. Tollenaars soos Mattheus het namens die Romeinse ryk, watop daardie stadium vir Palestina met oormag beset het, onhoudbare belasting vanarm mense ingevorder en boonop nog daardeur ’n stewige wins gemaak. ’n Mens konomtrent nie aan groter volks-verraad dink as om jou eie mense só uit te buit nie.

Maar Jesus sien vir Mattheus en dan doen hy dieondenkbare: Hy roep hom. Hy sê vir hom: volg my. Wees jy my student, mydissipel.

Matteus, sê die teks, het opgestaan en vir Jesus gevolg. Die veronderstelling is dat Matteus hier ’n totale transformasie ondergaan, ’n radikale ommekeer in lewenstyl en beroep beleef. Deur op te staan en vir Jesus te volg, los hy sy lewe as tollenaar agter om ’n dissipel van hierdie Rabbi, Jesus te word.

Een van die eerste dinge wat hulle saamdoen is om saam teeet. Kort voor lank is dit die geval dat talle ander tollenaars (waarskynlik ouvriende en oud-kollegas van Matteus) ook saam met Jesus en sy dissipels aanlêom saam te eet.Op hierdie punt word nog ’n groep mense by dieverhaal ingesluit: die Fariseërs.

Die slegte beeld wat ons tipies van Fariseërs het is eintlik onregverdig. Die Fariseërs was eintlik niks minder as die hervormers van hulle dag nie. Hulle was mense van die hoogste morele en geestelike integriteit.

Soos Luther en Calvyn – soos ons – het hulle met diepe ontsteltenis na die onreg gekyk wat hulle mense aan die hande van die Romeinse ryk moes ly en het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat hervorming dringend nodig was. Die wêreld was nie hoe dit behoort te wees nie en hulle wou dit verander. Daarom teken hulle protes aan toe Jesus en sy dissipels saam met tollenaars en sondaars aan tafel sit.

Toe Jesus hoor hoe die Fariseërs vir sy dissipels vra hoekomhulle leermeester saam met tollenaars en sondaars eet, antwoord Jesus: “Gesondemense het nie ’n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Gaan leer wat beteken,‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.’ Ek het immers nie gekom omregverdiges te roep nie, maar sondaars.”

Ons sien hier hoe twee logikas teen mekaaruitspeel.

Jesus en die Fariseërs tree met mekaar in debat, en soos wat die 16de eeuse hervormers dit later sou doen, word die debat aan die hand van die Bybel gevoer.

’n Teksvers wat die Fariseërs se hervormingsbeweging sou kon tipeer was Hosea 6:3: “Kom ons wy ons aan God toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy.” Hulle het die ellende van hulle tyd toegeskryf aan Israel se afvalligheid en verraad, en deur hulle hervormingsbeweging wou hulle die geestelike en morele lewe van Israel weer volgens die wet van God herstel. Daarom het hulle so baie klem gelê op morele en rituele suiwerheid soos met behoud van die Sabbatdag en die korrekte uitvoering van offers.

Juis daarom haal Jesus vir Hosea 6:6 aan: ‘Ek wilbarmhartigheid hê en nie offerande nie.’ “Gaan leer wat dit beteken,” sê hy virhulle. Hy herinner hulle aan wat toewyding aan God beteken, dat God troueliefde en barmhartigheid soek eerder as offers en rituele.

Kom ons kyk weer na Caravaggio se skildery.

Watter een van die mans wat om die tafel sit is Matteus? Mense verskil met mekaar hieroor.

Die meeste mense sê Matteus is die ouer man met die baard. Die lig wat van agter Jesus af instroom verlig se gesig. Hy is verras. Hy wys onseker met sy vinger na homself – “wie, ek?” vra hy verstom. Dit is die oomblik waarin hy homself, dalk vir die eerste keer, in die lig van God se genade beskou. Dit is die oomblik waarin hy homself in die blik van ’n liefdevolle God se barmhartige oë beskou. Waarin hy gesien en geken word soos wat hy nog nooit van te vore gesien is nie. Dit is enkele oomblikke voordat hy opstaan en vir Jesus volg.

Die ander moontlikheid is dat hy nie na homself toe wys nie, maar na die jonger man wat langs hom sit. Die een wat so helemaal oorgebuig – mens wil amper sê in homself ingebuig – sit en geld tel. Terwyl sy een hand besig is om muntstukke op die tafel rond te stoot, klou hy met sy ander hand vas aan ’n sak geld wat hy onder die tafel wegsteek. Indien hy eintlik Mattheus is, is nog totaal en al onbewus van die feit dat hy binne oomblikke ’n radikale omwenteling gaan meemaak. Dalk is die ouer man met die wysvinger eerder besig om te vra: “Wie, hy? Roep jy vir hóm?”

Hoe dit ook al sy, die boodskap is duidelik: die mans wat om daardie tafel is nie van dieselfde kaliber as die Fariseërs nie. Toewyding aan God is nie eers op hulle radar nie. Sonde? Onreg? Ellende? Waarvan praat julle? Hulle is nie eers soekende geeste wat hulle hele lewe lank na God verlang het nie. Die ergste wat by hulle soek raak is ’n paar van hulle muntstukke – en die vind hulle maklik weer, by hook or by crook.

Die logika wat die kunstenaar hier vir ons vertolk is niedie van die Fariseërs nie – dit is iets veel meer verrassend en eintlik verontrustend.Dit is die radikale logika van barmhartigheid, van ’n onverdiende geskenk. Mattheusse transformasie is nie die resultaat van jare se inspanning en toewyding nie, disnie iets wat hy voorsien en beplan het nie, dis nie eers iets waarvoor hygehoop het nie. Dit het eenvoudig met hom gebeur: hy is eendag, onverwags oorweldigdeur God se barmhartigheid.

In ’n onderhoud met Pous Francis kort na sy verkiesing vertel hy hoe onbekend hy aanvanklik met die stad Rome was.

Soos julle weet kom hy van Argentinië. Skielik is hy in hierdie asemrowende stad met al haar grootsheid en prag. Die Franse kerk waar hierdie skildery van Caravaggio hang was egter een van die plekke wat hy eerste leer ken het. Hy het gereeld voor hierdie skildery gaan sit en dit vir ure lank daaroor gemediteer.

“I am a sinner whom the Lord has looked upon… I am one who is looked upon by the Lord.” Dit het vir hom soos ’n slagspreuk geword: Ek is ’n sondaar op wie die Here sy oë laat rus… Ek rus in die wete dat die Here sy blik op my laat rus.

“It is the gesture of Matthew that strikes me,” sê hy in dieonderhoud. “…he holds on to his money as if to say, ‘No, not me! No, thismoney is mine.’ Here, this is me, a sinner on whom the Lord has turned hisgaze.” Toe hy uiteindelik gevra is of hy as die nuwe Pous van die Katoliekekerk sou dien was dit ook sy antwoord: “I am a sinner, but I trust in theinfinite mercy and patience of our Lord Jesus Christ, and I accept in a spiritof penance.” (Ek is ’n sondaar, maar ek vertrou in die oneindige genade engeduld van ons Here Jesus Christus, daarom aanvaar ek hierdie roeping in ’ngees van bekering.

Laat ons afsluit deur ons blik op die Jesus-figuurte rig.

Kyk na Jesus se uitgestrekte hand. Waaraan herinner dit jou?

Dit is natuurlik ’n subtiele verwysing na Michelangelo se bekende Skepping van Adam-toneel teen die Sistynse kapel se dak in Rome. Die hand wat na Mattheus uitgesteek word is die hand van Adam.

Hier is Adam se hand egter in die plek van God. Jesus is die God-mens, die Nuwe Adam, God se skeppende woord wat ons herskep. Wat hier plaasvind, wat daagliks selfs in skubberige agterkamers plaasvind, waar ook al barmhartigheid die toon aangee, waar ook al mense onvoorwaardelik gesien en geroep word, is niks minder as ’n herskepping nie.

Wat hier vir ons uitgebeeld word, is die skeppende en herskeppende krag van barmhartigheid wat onverwags en onbeplan, sonder voorwaardes en sonder enige inisiatief van ons eie in ons lewens inbreek en alles in ’n nuwe lig stel.

As ons dus vanoggend, as mense in die tradisie van die Reformasie, herinner is dat ons voortdurend hervorm moet word volgens die woord van God, moet ons onsself dalk afvra hoe ons dit verstaan.

Verstaan ons dit volgens die logika van die Fariseërs, waarin ons na die ellende van die wêreld kyk en (met goeie bedoelings en toewyding) onsself oortuig dat die probleem daar buite lê, en dat ons weet wat die oplossing is?

Of verstaan ons dit as ’n diepe oortuiging dat God besig is om vir óns deur die barmhartigheid van Jesus Christus te herskep? Dat óns deur gesien te word en geroep te word vermenslik word.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.