Rut 3:1-5; 4:13-22

18 November 2018
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

So kom die tyd wat ons met Rut en Naomi en Boas spandeer het tot ’n einde. Maar dis natuurlik nie die einde nie – dis ’n nuwe begin.

Wat in ’n stadium na ’n onoorkombare krisis vir Naomi gelyk het word deur Rut se getrouheid en Boas se goedgunstigheid ’n nuwe begin.

Dis ’n nuwe begin vir Rut wat deur haar huwelik met Boas haarself in Israel kan vestig. Dis ’n nuwe begin vir Naomi wie deur die geboorte van haar kleinseun Obed óók’n losser ontvang – iemand wat haar familiegrond kan erf en in haar oudag vir haar kan sorg.

Die manier waarop die verhaal tot ’n einde kom, wil egter vir ons sê dat die geboorte van hierdie kindjie, Obed, nie net vir Naomi en Ruten Boas ’n nuwe begin is nie – dit is ook ’n nuwe begin vir Israel.

“Obed was die voorvader van Dawid.” So eindig die verhaal. En dan, net om seker te maak dat mens dit nie gemis het nie, asof die verteller wil seker maak dat ons snap wat hy of sy vir ons wil sê, word hierdie einde opgevolg deur die geslagsregister van Peres tot by Dawid. “…Boas was die vader van Obed, Obed van Isai, en Isai was die vader van Dawid.”

Hoekom hierdie dubbele verwysing, aan die einde van die verhaal na koning Dawid?

***

Die rede het waarskynlik te make met die volgende. Kenners glo dat die boek Rut, hoewel die storie self in die tyd van die Rigters afspeel, heelwat later geskryf is: in die tydperk kort nadat die Israeliete vanuit ballingskap in Babilonië na Israel kon terugkeer.

In 587 v.C. is Jerusalem deur die Babiloniërs verwoes en die Israeliete se elite na Babilon weggevoer. Omtrent 50 jaar later, nadat die die Perse weer vir die Babiloniërs verslaan het, is ’n edik uitgereik (Sires) wat die Israeliete toegelaat het om terug te keer na die beloofde land; om weer te begin om Jerusalem se stadsmure te bou. Hulle is ’n mandaat gegee om die tempel weer op te rig en, bowenal, om die wet van God weer in die land in te stel.

Hierdie tyd van herbou was die tyd van Esra en Nehemia, priesters wat die volk se geloofslewe weer op die regte spoor wou stel, politiese leiers wat weer die wet van God sentraal wou stel.

Hoe kan ons suiwer wees voor God? Hoe kan ons getrou bly aan die HERE en aan God se wil? Met die terugkeer uit Ballingskap was dit ’n knellende vraag. Israel moet suiwer bly om te oorleef; maar hoe?

Een van die sake wat vir Esra en Nehemia baie gryshare gegee het, was die feit dat daar in die tyd wat hulle in ballingskap was, ondertrouery plaasgevind het tussen die Israeliete wat in die land agtergebly het en, onder andere, die Moabiete.

Esra het gevoel dat troue liefde aan God bo alle ander verbintenisse gestel moes word – dit was immers Israel se ontrou wat hulle in ballingskap laat beland het. In Esra 10:2-3 lees ons dus:

“Ons het ons gelofte aan God gebreek deur met heidense vroue te trou, maar ten spyte hiervan is daar hoopvir Israel: Laat ons dus ’n verbond met ons God sluit om al hierdie vrouens en hulle kinders te verwerp.”

So is daar besluit – nie net dat alle ondertrouery met heidense vroue verbied word nie – maar óók dat alle bestaande gemengde huwelike summier beëindig moet word.

As ons die verhaal van Rut in die lig van hierdie konteks van die skei en verwaarlosing van vroue en kinders lees, word dit protes-literatuur wat ernstige kritiek lewer teen ’n verskriklike onreg wat teen mense van Moabitiese afkoms – en hulle families, hulle kinders – gepleeg was.

Deur te beklemtoon dat koning Dawid die nasaat van ’n gemengde huwelik tussen ’n Israeliet en ’n Moabiet is, word ’n ernstige waarskuwing gerig aan almal wat durf om sulke huwelike op te breek en te verban: Is ons nie só dalk juis besig om onsself uit God se reddingsplan uit te sluit nie? As God eenkeer deur die getrouheid van Rut, die Moabiet, sy reddende wil vir Israel tot vervulling kon bring, wat sê dat God dit nie dalk weer wil doen nie?

Op hierdie punt is dit vir ons wat onsself Christene noem dalk belangrik om te onthou dat Matteus sy evangelie nie eindig nie, maar begin met ’n geslagsregister en dat hy moeite doen om aan te toon dat Jesus ook ’n nasaat is van Rut, die Moabiet.

Wat as heiligheid niks te doen het met etnisiteit en ras nie, maar met God se verbondstrou aan mense – alle mense? Wat as die heiligheid van ’n mens nie afhang van hulle bloedlyn nie, maar van hulle beskikbaarheid om God se troue liefde na te boots?

Wat as die hoogste vorm van daardie troue liefde juis liefde is vir die vreemdeling – hulle wat nie die vermoë het om ons liefde aan ons terug te besorg nie? En wat as die uitstaande voorbeeld en die instrument van God se verbondstrou juis só ’n vreemdeling is – ’n vlugteling? of ’n politiese krimineel wat buite die stadsmure gelos word om aan ’n kruis te hang?

In ons tyd, wanneer daar wêreldwyd, maar ook in ons eie land, al hoe meer ’n wending is tot die beskerming van my eie – mý mense, mý taal, mý volk – ten koste van ‘die ander’, is dít ’n belangrike boodskap om te hoor en sonder ophou te verkondig.

***

In die korte is dit die eenvoudige boodskap van Rut.

En tog… iets bly by my spook.

Hoe kan dit wees dat so veel van die mense wat vandag figuurlike en letterlike mure bou om vlugtelinge en ander ongewenstes te verstoot, beweer dat hulle in hierdie tradisie van Rut en Jesus staan?

Hoe kon Esra en Nehemia beweer dat hulle in ’n tradisiestaan wat sorg vir die weduwee, die weeskind en die vreemdeling – terwyl hulle toegelaat het dat talle vrouens en kinders uit hulle gesinne en ondersteuningsnetwerke verstoot was?

Vanwaar hierdie dubbelsinnigheid? Vanwaar hierdie haat vir die vreemdeling, vir hulle wat ‘anders’ is?

***

Iemand wat oor die jare diep hieroor nagedink het, is die Franse filosoof en sielkundige Julia Kristeva. Deur haar navorsing, maar ook jare se kliniese ervaring het sy ’n boek geskryf met die titel Strangers to Ourselves.

Kristeva maak die argument dat die hierdie dryf om die vreemde en die vreemdeling te vrees en te haat diep in ons psige gesetel is.

Xenofobie is volgens haar niks meer is as ’n onbewuste meganisme waardeer ons die vreemde binne-in onsself eksternaliseer, projekteer op ’n vreemdeling ‘daar buite’?

So probeer ons, sê Kristeva, ontken dat ons eintlik van onsself vervreemd voel. Deur die vreemdeling te verstoot dink ons dat ons ontslae geraak het van die ervaring van vervreemding binne ons – van die vrees en die angs en die verwarring en die wanhoop wat in ons binneste opstoot – maar eintlik bluf ons onsself.

Die vervreemding, die vrees en die angs, word nie verdryf nie – uiteindelik bly ons vreemdelinge vir onsself en die vreemdeling bly verstoot.

Ek was hierdie week bydie winkels. Terwyl ek op die roltrap gestaan het, draai ’n man (waarskynlik afgetree) skielik om na my toe en bars uit: “This world is nuts. It’s insane.You know, I am so glad that I am not your age. This world is becoming crazy.”

Ek glimlag en sê: “But I am glad to be my age.”

“This place is going to hell!” sê hy toe. “The world is going to hell! I am so glad that I am notyour age.”

Ons voel vervreemd van onsself, ons voel soos vreemdelingein ons eie land, ons is bang, oorweldig deur angs, gevul met wanhoop. En dan, inplaas daarvan dat ons ons vervreemding erken, projekteer ons dit op dieander.

Eintlik wou die man op die roltrap sê: “I feel like I’m going crazy. I am in hell. I am confused, afraid and in despair… I fear formyself, but most of all I fear for my grandchildren, they are about your age.”

Maar dit is te moeilik om te erken; veel makliker om dit te eksternaliseer: This place is going to hell; I am so glad that I am not you!”

Ons is self verwond, maar kan dit nie erken nie. So gebeur dit dat die ongeneesde wonde in onsself maak dat ons ander verwond. Ek het ’ndik vel, maar stel jou voor ek was ’n jongmens – soos vele in ons land – watself verward en angstig voel – wat self voor die afgrond van wanhoop staan enwonder of die lewe die moeite werd is – hoe kan daardie verwonde uitbarstingnie verwond het nie?

Dalk was dit ook Esra en Nehemia se belewenis nadat hulle getraumatiseer, na jare in ballingskap teruggekeer het Jerusalem toe… Dalk het hulle ook daar aangekom; soos vreemdelinge in hulle eie land gevoel. Dalk help dit om hulle wrede optrede teenoor die vrouens en kinders van Moabitieseherkoms te verklaar?

Na die ontmoeting op die roltrap het ek gedink dat ek die ouman en sy vrou eintlik moes uitnooi vir ’n koppie koffie – ’n geleentheid gee om werklik te sê wat hulle voel. Al wat ek in die oomblik kon doen, was om teglimlag en sê: “we have to live in hope.”

Maar hoe beweeg ’n mens van vrees en angs na hoop?

***

Hiervoor is daar nie ’n eenvoudige antwoord nie, maar ek dink die storie van Rut waarmee ons die afgelope paar weke gewandel het help ons deur vir ons een of twee rigtingwysers te gee. Ek noem drie sulke merkers wat ons by die koffie en tee verder kan bespreek.

  1. Uitruil van stories

Die skrywer van Rut se teengif teen xenofobie was om die storie van een Moabiet met empatie te vertel.

Dalk kan dit ook in ons land ’n teengif wees teen die al hoe gevaarliker polarisasie wat ons sien – om eenvoudig na mekaar se stories oor die skeidslyne heen te luister en die vrymoedigheid te neem om ons stories met ander te deel.

Dit is moeilik om van iemand anders ’n sondebok vir ons eie vrees te maak as ons hulle storie gehoor het, wanneer hulle nie net ’n draer van ons vrees is nie, maar mense met ’n verhaal.

2. Daarvoor moet ons egter eers tot verhaal kan kom oor die vreemde in onsself. Leer om die vreemde in onsself te omhels.

Hier is Naomi, met haar klaaglied in hoofstuk een vir ons ’n voorbeeld.

Vertel jou storie so onbevange en eerlik as moontlik. Erken jou vrees, jou angs, jou wanhoop, jou onsekerheid, jou hulpeloosheid. Nie altyd maklik nie. Maar as ons ruimtes kan vind en virmekaar die ruimtes kan gun waarin ons wel tot verhaal kan kom oor ons eie vervreemding, kan dit die begin van genesing beteken.

3. Wanneer ons bereid is om ons vrees eerlik teenoor ander te erken, bied dit vir hulle die geleentheid om met ’n belofte teantwoord.

Dalk lê ons nuwe begin, soos die van Boas en Naomi en Israel, in die hande van hulle wat vir ons na die grootste bedreiging lyk.  

Daarvoor het ons egter ’n ander taal, ’n ander tiepe gesprek nodig – nie die sterk, polariserende taal wat ons publieke diskoers oorheers nie, maar die kwesbare taal van belofte.

Hier dink ek weer aan Rut se belofte aan Naomi in reaksie op haar klag. Luister na Stef Bos se lied van Ruth.


Ek is ’n vreemde hier
Ek het my land gelos
Ek het jou pad gekruis
Ek het jou spoor gevolg

Jy het gesê gaan terug
Moe nie op my vertrou
Maar jy’s ’n deel van my
Wat doen ek sonder jou

En ek weet die toekoms is onseker
En die donker is digby
En ek weet ons wag ’n lang reis
Reg deur die woestyn

Maar jou land is my land
Jou volk is my volk
Jou taal is my taal
Jouw God is my God

Jou droom is my droom
Jou pad is my pad
Jou toekoms my toekoms
Jou hart in my hart

Ek weet jou volk is bang
Voor ons wat anders is
Maar ek sal brugge bou
Daar waar die afgrond is

En ek sal terugverlang
Wanneer die wind sal waai
Wat uit die Suide kom
Van my geboorte grond

Maar ek sal sterk wees
En ek sal oorleef
Want ek wil naas jou staan
Al sal dit moeilyk wees

Maar jou land is my land
Jou volk is my volk
Jou taal is my taal
Jouw God is my God

Jou droom is my droom
Jou pad is my pad
Jou toekoms my toekoms
Jou hart is my hart

My deel is jou deel
My brood is jou brood
Jou lewe is my lewe
Jou dood is my dood

En wanneer die donker kom
En jou mense my ontwyk
Sal ek my liefde gee
Totdat die haat verdwyn

Want jou huis is my huis
Jou angs is my angs
Jou stilte my stilte
Jou land is my land
Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.