Filippense 1:3-11

09 Desember 2018 – 2de Sondag van Advent 
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Soos elke natuurlike seisoen sy eie vorm en ritme en gevoel skenk aan ons lewens, so gee elke liturgiese seisoen van die kerkjaar vir ons unieke geleenthede om in ons geloof te groei en te ontwikkel.

Ons is nou in die eerste seisoen van die kerkjaar, die tyd van advent. Die naam kom van die Latynse woord adventus, wat ‘koms’ beteken. Dit verwys na God se koms na die skepping toe in die lewe van die mens, Jesus van Nasaret.

In Latyn is adventus ook een van die maniere om na die toekoms te verwys. In Latyn kan mens kan praat van futurum as die oorgang van die hede na die toekoms in. Maar mens kan ook praat van adventus, van dit wat ons uit die onbekende uit tegemoet kom.

Dis hoe die Christelike tradisie kies om oor die toekoms te dink. Die toekoms is Christus wat na ons toe kom – adventus. Dit is God se geskenk aan ons. Dit is tyd wat God aan ons skenk waarin Christus na ons toe kom.

Daarom vier ons vanoggend die gawe van hoop. Omdat die toekoms adventus is, Christus wat na ons toe kom, leef daar ’n hoop in ons. Wat die toekoms ook al vir ons mag beteken, hoe dit ook al vir ons mag lyk, watter emosies die toekoms ook in ons mag wakker maak… ons mag die toekoms met hoop betree want dit is die tyd waarin Christus na ons toe kom.

Daarom is die seisoen van advent ’n tyd van belofte, van verwagting en verlange. Dit is ’n tyd waarin ons ons visier opnuut kan instel op die Een wat belowe om na ons toe te kom. Dit is ’n tyd waarin ons vir Jesus opnuut in ons lewens kan innooi, vir hom kan ruimte maak sodat hy in ons harte en in ons lewens gebore kan word, sodat die Woord van God in ons liggame en huise en stede kan vlees word.

Vir meeste van ons val advent ook saam met ’n tyd van afskaal en tot ruste kom – ’n tyd aan die einde van die jaar waarin ons stelselmatig van die daaglikse gejaag kan begin opkyk en ons aandag opnuut kan rig op die Een wat kom. Dit is ’n tyd van bestekopname, waarin ons onsself kan afvra of ons gereed is vir hierdie toekoms, vir die aanbreek van ’n nuwe dag en ’n nuwe jaar; of ons gereed is om vir Christus in ons lewens in te verwelkom.

***

Ek begin op hierdie manier want dit is ook hoe die skrywer van vanoggend se skriflesing na die toekoms gekyk het. Vir die apostel Paulus, die skrywer van die brief aan die Filippense was die toekoms ook adventus.

Twee keer in hierdie kort gebed waarop ons vanoggend reflekteer verwys Paulus na “die dag van Christus Jesus,” dit wil sê, die dag waarop Jesus aankom of arriveer. Dit is die dag van ons diepste hoop en verlange, wanneer Christus by ons tuiskom en ons by hom, wanneer, soos Paulus sê, die werk wat God deur Christus in ons begin het tot vervulling sal kom.

Vir Paulus gaan alles om hierdie gerigtheid op Jesus as die een wat kom. Later in dieselfde brief sê hy byvoorbeeld vir die Filippense: “verbly julle altyd in die Here!” en dan herhaal hy homself: “verbly julle!” – en die rede vir hierdie vreugde? “Die Here is naby,” sê hy.

Die beste beskrywing wat ek al van hierdie houding teenoor die toekoms gehoor het, kom van die Duits-Joodse denker Walter Benjamin (iemand wat self ook deur Paulus se briewe geïnspireer was). Hy het gesê dat elke oomblik in tyd soos ’n half-oop deur is waardeur die Messias kan inkom, kan aankom, kan arriveer.

Elke dag kan “die dag van Christus Jesus” wees. En namate Jesus op vele maniere na ons toe kom, soos in die gestalte van een wat vir ons vra vir ’n glasie water, of ’n stukkie brood, of selfs ’n vreemdeling wat onverwags in ’n besige winkelsentrum vir ons vra vir ’n drukkie… namate Jesus op allerlei maniere, in allerlei gestaltes, na ons toe kom, is elke dag “die dag van Christus Jesus.”

Hierdie wete vul ons lewens met ’n sin van verwagting. Dit vra dat ons aandag skenk aan die koms van elke oomblik, dat ons gasvryheid sal betoon aan die toekoms en dit met vreugde sal verwelkom – want Christus kom ons uit die toekoms tegemoet en hy is naby.

***

’n Ander manier om dit te stel is om te sê dat die toekoms, vir Paulus, ’n gesig het – die vriendelike, genadige, sagmoedige, liefdevolle, empatieke gesig van God wat ons in Jesus leer ken.

Soos Paulus sê, die Een wat uit die toekoms na ons toe kom, die Een wat die werk in ons sal voltooi, is dieselfde Een wat die goeie werk onder ons begin het. Die een wat kom is die een wat was. Die een wat die evangelie in ons tot vervulling sal bring is die Een wat die goeie nuus verkondig en beliggaam het. Om die toekoms met hoop te betree vra dus dat ons vir Jesus in herinnering sal roep, dat ons die ou verhaal, die goeie tyding uit Bethlehem sal onthou.

Hoewel ons, wat die toekoms betref. nie 20-20 visie het nie, hoewel dit vir ons duister en onseker bly, het ons iets, of eerder, iemand om voor uit te kyk. Ons het ’n gesig wat ons moet soek. Of dalk moet ek eerder sê, daar is ’n gesig wat na ons soek en ons uitnooi om ons eie beste toekoms te betree.

Johannes Calvyn, die 16de eeuse hervormer, het graag die geestelike lewe beskryf as Dei faciem contemplari, as die voortdurende kontemplasie van die gesig van God. In Jesus, die Jesus wat ons in die evangelies ontmoet, eers as ’n kwesbare kindjie wat in die wêreld verwelkom moet word maar nêrens kan tuiskom nie, dan as een wat na mense se hongersnood omgesien het, wat melaatses aangeraak het en sondes vergewe het, wat sy dissipels se voete gewas het en altyd die medemenslikheid van sy vyande erken het; in hom wat deur mense gekruisig is, maar deur God opgewek is; in hierdie mens sien ons die gesig van God.

’n Lewe van geloof en hoop is eenvoudig om hierdie gesig van God te onthou; om deur hierdie gesig verras te word; om hierdie gesig te bewonder; om oor hierdie gesig na te dink; om lief te raak vir hierdie gesig – om hierdie gesig na te boots.

***

In ’n sekere sin is dit Paulus se gebed vir die Filippense – en ook vir ons.

Hy bid dat ons op die dag wat God bepaal het, soos in ’n spieël, vir Jesus in ons eie beeld sal kan herken.

Wanneer hy bid dat ons op die dag van Christus innerlik suiwer en gevul met integriteit sal wees, dan bid hy dat ons dieselfde gesindheid sal openbaar wat mens in Jesus gesien het, dat ons eerder sal wil dien as om gedien te word.

Wanneer hy bid dat ons ook uiterlik die vrugte van geregtigheid sal dra, dan vra hy ons om te onthou hoe Jesus altyd regverdig gehandel het, veral met hulle wat hulleself aan die verkeerde kant van mense se oordeel bevind het.

Bowenal, om die gesig van God te herken en na te boots, beteken om met die oë van God se liefde na die wêreld te kyk. Soos ons die gesig van God bewonder en bepeins, so begin ons al hoe meer met daardie gesig na die wêreld te kyk. En soos ons dit doen, begin ons daardie gesig oral om ons raak te sien, in die natuur, in mekaar, in geliefdes, in vriende, in vreemdelinge, in die verdrukte, die eensame, selfs in ons vyande, selfs in hulle wat vir ons ’n bedreiging inhou.

Christus kom na my en na jou, in hierdie tyd, op hierdie plek, in hierdie historiese oomblik. Daarom bid Paulus dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.

Vir liefde om die vrugte van geregtigheid te dra, moet dit toeneem in begrip, in verstaan, in empatie, in fyn aanvoeling, moet dit sensitief wees tot die behoeftes van ander. Dít is die gereedskap waarmee ons onderskei. Tussen die vele dinge wat ons lewens volmaak, moet ons – in liefde – die dinge onderskei wat rêrig belangrik is.

Tussen ons herinnering aan die gesig van God in Jesus en ons verwagting en verlange na daardie gesig in die aanbreek van elke nuwe jaar en dag en oomblik – in hierdie spanning van herinnering en hoop – moet ons oomblik vir oomblik, dag vir dag, jaar na jaar onderskei: wat is die dinge wat rêrig saak maak?

***

Die digter David Whyte het ’n pragtige gedig geskryf wat gaan oor hierdie proses van onderskeiding wat so ’n groot deel is van die geestelike lewe.

In ’n onderhoud waarin ek vir die eerste keer sy gedig gehoor het, herinner hy ons daaraan dat die nuwe jy, die nuwe mens wat jy in die gesig van Christus gewaar, altyd in die eerste plek ’n vreemdeling is…

En tog, sê hy, is ons altyd so suspisieus en skepties oor vreemdelinge.

“The new you looking back at you out of the mirror is always first perceived as a stranger and always turned away from. The first beckoning horizon in our life is always seen as one that will lead us to a place of nourishment and pilgrimage and that will frighten us to death at the same time.”

Christus kom altyd na ons toe in die gestalte van ’n vreemdeling – ’n gesig wat beide verlange en vrees in ons wakker maak. Daarom draai ons so dikwels daarvan af weg. Die nuwe weg waarna Christus ons uitnooi om hom te volg is altyd ’n onbekende een wat ons met vrees vul, al weet ons dit is ’n weg van vreugde.

Daarom het ons mense soos Paulus nodig, mense wat vir ons bid en aanmoedig om daardie tree uit onsself uit te neem.  Mense wat mekaar aanmoedig om meer liefdevol, meer hoopvol, meer sensitief, meer empaties te wees as wat ons aanvanklik dink ons kan wees. Mense wat ons aanmoedig om God se adventus by die half-oop deur te ontmoet en met vreugde te verwelkom.

***

Just Beyond Yourself – David Whyte

Just beyond
yourself.

It’s where
you need
to be.

Half a step
into
self-forgetting
and the rest
restored
by what
you’ll meet.

There is a road
always beckoning.

When you see
the two sides
of it
closing together
at that far horizon
and deep in
the foundations
of your own
heart
at exactly
the same
time,

that’s how
you know
it’s the way
you
have
to go.

That’s how
you know
it’s the road
you
have
to follow.

That’s
how you know.

It’s just beyond
yourself,
it’s
where you
need to be.

From David Whyte (2018) The Bell and the Blackbird.

***

Mag jy in hierdie tyd van advent, in hierdie Kerstyd ervaar dat jy raakgesien word deur die gesig van God. En mag jy, soos jy hierdie gesig van God aanskou en bewonder, al hoe meer met die barmhartige en liefdevolle gesig na die wêreld om jou kyk. Mag jy ervaar dat jy hierdie gesig op duisende, onverwagse plekke sien.

Soos die Ierse digter Gerard Manley Hopkins in een van sy gedigte geskryf het:

Christ plays in ten thousand places,
lovely in limbs, and lovely in eyes not his –
to the Father, through the features of men’s faces.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.