Lukas 3:7-18

16 Desember 2018 – 3rde Sondag van Advent
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Op hierdie derde Sondag van Advent, vier ons op ’n besondere manier die gawe van vreugde. In Latyn staan hierdie dag bekend as Gaudete-Sondag, Jubel-Sondag.

Die interessante is dat Gaudete ’n imperatief is. Dit is ’n oproep; ’n bevel: “Wees bly!”

Dink aan ons aanvangswoorde vroeër uit die profetiese boek van Sefanja:

“Jubel van vreugde, dogter van Sion! Roep dit uit, Israel! Verbly en verheug jou met jou hele hart, dogter van Jerusalem! Die Here jou God is in jou midde.”

Of dink aan die ander voorgeskrewe teks uit Filippense waarin Paulus die gemeente vermaan:

“Verbly julle altyd in die Here! Ek sê weer: Verbly julle! … Die Here is naby.”

Hoe kan ons die vrug van vreugde in ons lewens dra? Wat sou dit beteken om ’n lewe van vreugde te lei?

Is dit om altyd ’n glimlag op jou gesig te hê? Om altyd, in alle tye vrolik te voel? Is dit om altyd optimisties te bly, altyd die halwe glas as half-vol glas te sien?

Wat beteken dit om mense van vreugde te wees?

***

Die mense wat die preekrooster saamgestel het, het gedink dat Johannes die Doper ons dalk hiermee sou kon help. Wanneer ons met hom kennis maak, staan hy in die woestyn; vir die hordes mense wat na hom toe stroom om deur hom gedoop te word, skree hy oor die vlaktes:

“Julle addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas.”

Wanneer is jy laas ’n slang genoem? Dit is harde woorde. Woorde wat ons nie maklik met vreugde sal assosieer nie. Dit is nie die tiepe ding wat jy op een van daai mooi Hallmark Kersfees-kaartjies gaan skryf nie. Verbeel jou jy kry so ’n Kersfees-kaartjie in die pos:

Geseënde Kersfees julle adders! Bekeer julle! Dra vrugte! Word wakker en ruik die rook! Liefde en soentjies, Ouma.

Al klink dit vir ons of Johannes die Doper nie eintlik iets weet van vreugde nie, moet ons erken dat hy iets verstaan van waaroor Advent rêrig gaan. Tydens advent berei ons voor vir die vleeswording van God in ons wêreld en in ons lewens.

Soms vergeet ons hoe radikaal ’n boodskap dit eintlik is. Om voor te berei vir Jesus se koms beteken dat ons soos Jesus word. Hoeveel Johannes ook vir ons na ’n killjoy mag lyk, het hy beter as baie mense iets hiervan verstaan.

“Maak die pad vir die Here gereed… Maak die krom paaie reguit en die hobbelrige paaie gelyk. Dan sal die ganse mensdom sien hoe God verlossing bring.”

Dit is Johannes se boodskap. Om vir Jesus te wag is om nou al die visie en die waardes van Jesus te beliggaam, dis om ons lewens so in te rig dat Jesus in ons huise en kerke, ons kantore en stede kan tuiskom.

Dít is die hoop waarmee Johannes gelewe het – maar hy was geen optimis nie. Hy was ’n realis.

Johannes herinner die volk dat die Messias nie by hulle sal kan tuiskom totdat die geringstes onder hulle nie ’n tuiste in die wêreld kan vind nie.

In profetiese, selfs apokaliptiese taal, waarsku Johannes die volk dat hulle op ’n weg is wat sal ly tot hulle eie verwoesting. Hulle is verslaaf aan ’n manier van lewe wat tot hulle eie ondergang gaan ly.

Hulle is verslaaf aan mag en geld. Hulle gierigheid dreig om hulle eie lewens te verslind; om hulle van binne af leeg te stroop.

Korrupsie word ’n alledaagse verskynsel. Mense misbruik hulle mag en invloed deur dit wat bedoel is vir die opbou van almal tot hulle eie voordeel aan te wend.

Hulle raak al hoe gemakliker met ekonomiese ongelykheid; hulle vind allerlei redes om te regverdig hoekom sommige al die luukshede van die lewe mag geniet terwyl ander daagliks moet skarrel net om te oorleef.

Onder sekere dele van die volk heers daar ’n hardkoppige meerderwaardigheidskompleks, mense wat onder die illusie lewe dat hulle – op grond van ras en etnisiteit – van meer waarde is as ander, en daarom tot beter behandeling as ander mense geregtig is, selfs die komende krisis sal kan ontkom.

Is dit ’n beskrywing van Johannes se konteks, of ons s’n?

Johannes sien al hierdie dinge en soos ’n goeie profeet spreek hy dit prontuit aan. En dis vir hulle eie beswil dat hulle dit moet doen.

Soos wat ’n dwelmverslaafde wat die diepe ellende van haar situasie raaksien nader is aan haar verlossing as iemand wat nog ontken dat hulle ’n probleem het, só moet ons ook soms met die harde waarheid oor onsself gekonfronteer word, sodat ons die weg na ons verlossing kan betree. Daarom noem die skrywer van die Lukas-evangelie Johannes se optrede ook goeie nuus. Dis die evangelie.

Die Here sal tot julle redding kom, maar dit sal niks minder verg as dat julle ’n  radikale ommekeer moet ondergaan nie. God se verlossing beteken ’n nuwe manier van kyk, ’n nuwe manier van wees. Dit vra ’n hele nuwe lewenstyl.

“Moenie vir julleself begin sê: ‘ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.

Wanneer Jesus kom, sal hy vir jou ’n paar vrae gereed hê, maar “who’s your daddy?” gaan nie een van hulle wees nie. Moenie onderskat hoe min God in jou stamboom gaan belangstel nie; of aan watter kant van die bloedrivier jou voorouers gekamp het nie.

“Die byl lê reeds gereed teen die wortel van die boom. Elke boom wat nie goed vrug dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

 “Dra jy goeie vrugte? Ja of Nee?” Dit is al wat saak maak.

***

Ons moenie hierdie sterk apokaliptiese taal oor ’n dag van oordeel verkeerd verstaan nie. Ons moet oppas dat ons verbeelding nie weghol met hierdie beeldspraak van vuur en verwoesting nie. Johannes verwys nie hier na die hel soos wat baie mense dit wil voorstel as ’n plek in die hiernamaals waar mens vir ’n ewigheid in ’n brandende put van swael jou straf sal moet uitdien nie.

’n Vriendin vertel nou die dag vir ons van ’n CSV kamp waarop sy jare gelede was. In een van die oefeninge wat hulle in ’n kleingroep moes doen, is hulle deur ’n kampleier gevra om ’n situasie voor te stel waarin hulle môre sou sterf.

Hoe sou jy jouself voor die Here verantwoord? Kon jy met sekerheid sê dat jy gered is; dat jy nie in die ewige verderf sal beland nie, maar in die ewige saligheid sal ingaan?

Die vriendin van my was egter die kleingroep leier een voor. “Die eintlike vraag is nie wat sal ek doen as ek môre sou sterf nie,” het sy geantwoord, “ … die belangriker en meer dringende vraag is: wat sal ek doen as ek môre lewe?”

***

Dit was ook Johannes se fokus. En ons sien dit in die antwoorde wat hy vir die skare gee wanneer hulle vir hom vra, “wat moet ons dan doen?”

Het jy twee kledingstukke? Gee dan een vir iemand wat niks het om te dra nie. Het jy oorgenoeg kos om te eet? Gee dan ’n helfte daarvan vir iemand wat niks het om te eet nie.

Kom ons spreek die ongelykheid aan wat besig is om ons samelewing uitmekaar te skeur – dit is Johannes se antwoord. Vir Johannes was dit ’n saak van ewigheidswaarde. In God se ryk is daar meer as genoeg vir almal; en God se ryk is in ons midde; kom ons maak dus seker dat daar nou al aan almal se basiese behoeftes voorsien word.

Hoe lewe jy? Dra jy vrugte wat inpas by die nuwe ding wat God besig is om tot stand te bring? Of klou jy met heimwee vas aan die verlede? Beywer jy jou vir die koninkryk van God, of probeer jy om so goed as moontlik vir jouself te sorg in ’n sisteem wat jy weet eintlik vir die vlamme bestem is?

Dít was Johannes se vraag. En die skare wat hom in die woestyn gaan opsoek het, het dit gesnap. Een na die ander kom hulle na Johannes toe.

’n Groep tollenaars kom na Johannes toe: “wat moet óns doen?” “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.”

Sit ’n einde aan die korrupsie wat besig is om die armes se rûe te breek.

Ook soldate het hom gevra: “En óns, wat moet ons doen?” “Moenie geld van mense afpers nie en moet hulle nie vals aankla nie – wees tevrede met julle lone.”

Hou op om jou mag en invloed vir jou eie gewin te gebruik; wees tevrede met wat  jy verdien en vra eerder hoe jy jou voorregte in diens kan stel van ander.

’n Mens sou eintlik iets anders van Johannes, die swerwende profeet, verwag het. Mens verwag amper dat Johannes vir die mense sou sê: Verlaat die sisteem! Onttrek uit die wêreld uit en kom bly saam met my in die woestyn. Begin ’n rewolusie. Soos die teoloog, Debbie Thomas, egter opmerk is Johannes se antwoord nog meer radikaal as enige van hierdie opsies.

“Gaan huis toe!” sê hy vir hulle. Gaan terug na julle families toe, na julle naastes toe. Gaan terug na julle beroepe toe, na julle kollegas toe. Hou op om te vlug! Hou op om vir ’n heilige dag te sit en wag wat nooit sal aanbreek nie. Bewoon jou lewe! Bewoon jou lewe met so veel ywer en barmhartigheid as wat jy het.

Deel nóú. Bewys nóú barmhartigheid aan jou naaste. Beywer jou nóú vir geregtigheid. Jy het gawes om te gee; gee dit. Hou op om op te gaar. Hou op uitstel. Hou op om verskonings te soek. Die dag van bekering is vandag en die enigste heilige grond is die grond waarop jy staan.

***

Soos ek vroeër gesê het, Johannes die doper het iets verstaan van waaroor advent gaan.

Maar wat van vreugde? Is daar ook vreugde in hierdie boodskap?

Ek dink dat daar is. Maar dit vra dat ons dalk anders dink oor wat vreugde beteken.

Nie vreugde as ’n gevoel nie, nie as die sentimentele warm gloed wat ’n mens van tydens die Kersseisoen voel nie.

Dalk is vreugde, ten diepste, die wete dat die dinge in die wêreld wat nie van God af is nie, se dae getel is…

Dan is ’n lewe van vreugde ’n lewe waarin ons volgens hierdie diep wete optree. Vreugde is dan meer as ’n gevoel, dit is iets wat ’n mens doen.

Dan is daar inderdaad vreugde in Johannes se boodskap; en maak dit sin dat ons sy harde woorde as ’n oproep hoor om met vreugde te lewe – om vreugde te doen.

In die gesig van talle vorme van onreg en ellende in ons wêreld, is vreugde om midde-in die wêreld te bly staan en die onwrikbare oortuiging in jou diepste wese te koester dat die dinge wat teen God is, die dinge wat nie is soos wat dit hoort nie, se dae getel is…

En om vreugde te doen, is dan om volgens hierdie oortuiging op te tree. Dis om te ontdek dat die Here jou as ’n instrument in sy nuwe werklikheid wil gebruik. Dis om vreugde te vind in die bydrae, hoe klein en alledaags en onvolmaak dit ook mag lyk, wat die Here deur jou tot die koms van sy ryk wil maak.

Soos ons ook vroeër saam bely het, op hierdie dag wat ook bekend staan as ‘Versoeningsdag’ word ons herinner dat rassisme en apartheid, onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, ekonomiese ongelykhede en korrupsie – dat hierdie magte van sonde en dood deur God se leweskeppende Woord en Gees oorwin is, dat hulle dae getel is.

Verbly julle daarin! Die Here is in ons midde. Verbly julle en doen dan vreugde!
Wees die sout wat die lewe sy smaak gee;
doen – met vreugde – die moeisame werk van ’n vredemaker;
getuig jubelend, in woord en daad, van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon.

Dit is die oproep van die Belhar-Belydenis. Dit is wat ons glo.

Mag jy in hierdie Advent en Kerstyd opnuut vreugde vind in die nuwe lewensmoontlikhede wat God deur jou in die samelewing en die wêreld tot stand wil bring.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.