Lukas 1:39-56

23 Desember 2018 – 4de Sondag van Advent
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Die engel Gabriel gaan van Maria af weg en sy begin hardloop. Maria begin hol! Berge toe, sê die evangelie van Lukas vir ons.

Nie dat sy veel van ’n keuse gehad het nie. Dink aan hoe ongemaklik daai gesprek laataand om die kombuistafel moes gewees het?

Sy is ongeveer 13 of 14 jaar oud. ’n Ongetroude tienermeisie wat ’n baba verwag.

In die oë van haar familie en die plaaslike gemeenskap was daar net twee moontlike verklarings vir hoe sy in hierdie situasie kon beland het (dis nou indien dit nie Josef haar verloofde was wat haar swanger gemaak het nie): óf sy het rondgeslaap, óf sy is verkrag.

Beide moontlikhede sou groot skaamte oor haar en haar familie gebring het. Veral wat die eerste moontlikheid betref, sou dit selfs kon lei tot ’n doodsvonnis deur steniging. Maria en haar familie sou deur hulle gemeenskap as godverlate en daarom verwerplik beskou gewees het.

Al het sy ’n boodskap ontvang dat dit die Heilige Gees is wat die baba in haar sou verwek, wie sou tog hierdie storie geglo het?

Al het sy merkwaardige geloof getoon toe sy vir die engel sê: “Ja, laat met my gebeur soos u gesê het – ek is die diensmeisie van die Here” – al dra sy as gevolg van haar geloof nou die hoop van die wêreld in haar binneste, is dit nie haar geloof wat die grootste indruk op die bure sou maak as sy begin om swanger te lyk nie.

Lyk my om geboorte te skenk aan die seun van God is ‘complicated’. Wanneer God se Woord vlees word – ook in ons lewens – gebeur dit nie sommer sonder weerstand nie. Vanuit ’n menslike perspektief word dit as skandalig beskou.

Die skadu van Jesus se kruis het van die begin af reeds op Maria gerus.

Daarom moet ons daarteen waak om Maria se storie te romantiseer of om die growwe hoekies daarvan glad te skuur. As ons dit doen, mis ons die grootste geheimenis van Kersfees: Dat God juis húlle kies wat die wêreld as godverlate, aanstootlik, onwelvoeglik beskou om sy reddende wil te laat geskied.

Maar as ons bereid is om die morsige details van Maria se storie te erken, word die geheimenis van die gebeure so veel groter.

Want ons ontdek dat God juis na ons toe kom deur húlle wie die wêreld gering ag kan ons selfs begin glo dat dieselfde van ons kan waar wees – dat God ook in die morsige details van my en jou lewe kan en wil vlees word.

Dis hiermee in gedagte dat vanoggend se teksgedeelte vir ons van groot waarde kan wees. In hierdie ontmoeting tussen Maria en Elisabet word ons ingelaat op die geheim van hóé God ook in ons lewens kan en wil tuiskom.

***

Op hierdie vierde Sondag van Advent vier ons in besonder die gawe van liefde. Soos ons vroeër bely het: God is liefde. Dus, wanneer God besluit om as ’n kwesbare kindjie gebore te word, kies God om deur menslike liefdesbande veilig in die wêreld ingelyf te word.

Let op: die Allerhoogste gebruik nie politiese mag om ’n plek in die wêreld te vestig nie; die Allerhoogste gebruik nie militêre mag of geweld om ’n veilige landing te maak nie; die Allerhoogste gebruik nie eers godsdiens om aan die wêreld teenwoordig te wees nie.

Die Allerhoogste, die Almagtige se krag is liefde – kwesbare, menslike, liefde.

Daarom, nadat die engel Gabriel vir Maria gesê het dat die krag van die Allerhoogste haar sal oorskadu en dat sy swanger sal word met die seun van God, is dit wat volg net so belangrik:

“Kyk,” sê die engel vir Maria, “Elisabet, ’n familielid van jou, is ook swanger en sy verwag ’n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want vir God is niks onmoontlik nie.”

God het geweet wat dit van Maria sou vra om hierdie roeping vir haar lewe te aanvaar – en op ’n merkwaardige manier, deur menslike liefdesbande, bly God haar by en voorsien God vir haar.

Want wat Maria die meeste van alles nodig gehad het, was ’n plek van veiligheid en versorging. Sy het ’n metgesel nodig gehad wat haar dilemma kon verstaan en haar deur haar oomblikke van twyfel kon vergesel.

En oomblikke van twyfel sou daar beslis gewees het. Dink aan die duisende vrae wat agter Maria se JA-woord aan God verskuil was: Gaan Josef nog by my bly as hy uitvind ek is swanger? Sal my ouers nog lief wees vir my? Wie gaan my bystaan wanneer ek moet geboorte skenk? Wie is ek om die seun van God groot te maak? Is ek nie dalk besig om van my kop af te raak nie? Wat as daai engel net ’n droom was?

Dis die vrae wat waarskynlik deur Maria se kop gewarrel het terwyl sy na die berge toe gevlug het. En dan kom sy by die huis van Sagaria aan, by Elisabet. Gevul met God se Gees, is Elisabet se eerste woorde aan hierdie verskrikte en verwarde kind ’n seëning wat haar waarskynlik haar lewe lank sou bybly:

“Geseënd is jy onder die vroue.
Geseënd is die kind aan wie jy geboorte sal gee.
Wie is ek dat die moeder van my Here na my toe kom?
Kyk, net toe jy inkom en ek jou stem hoor,
het die kindjie in my van blydskap gespring.
En geseënd is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.”

Maria het iemand nodig gehad wat, ten spyte van wat mense van haar dink en sê, die diepste waarheid oor haar kon bevestig: dat sy ’n geliefde kind van God is, iemand deur wie God ’n tuiste in die wêreld wil maak.

Daarom gee God vir haar Elisabet – iemand wat ook met ’n weird Heilige-Gees-baba swanger is. Skielik is Maria nie meer so eensaam en geïsoleerd nie. Sy het ’n metgesel, ’n vertroueling wat die pad saam met haar kan loop, ’n vriend wat haar kan ondersteun en versorg.

Elisabet kyk verby Maria se skaamte en sien die goeie wat God besig is om in haar te verwek – sy sien dit en bevestig dit, sy vier dit en koester dit.

In die lig van hierdie onvoorwaardelike liefde en aanvaarding wat ontdek Maria haar stem. Maria beantwoord Elisabet se seëning deur ’n loflied, die Magnificat, te sing.

Dit is ’n lied wat menslike tirannie prontuit ondermyn en daarom tot vandag toe nog maghebbers se broekspype laat bewe.

“My siel loof die Here,
my gees jubel oor God my Verlosser,
want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien.
Kyk, van nou af sal alle geslagte my geseënd noem,
want die Almagtige het groot dinge vir my gedoen –
ja, heilig is sy Naam.
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het.
Kragtige dade het Hy met sy arm verrig.
Hy het die denke verwar van diegene wat te veel van hulleself dink,
Magtiges het Hy van hulle trone afgeruk,
en geringes het Hy verhoog.
Hongeres het Hy met goeie gawes versadig
en rykes het Hy met leë hande weggestuur.
Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan
deur sy ontferming in gedagte te hou
Soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het,
aan Abraham en sy nageslag vir ewig.”

Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog wat vir sy opstand teen Hitler uiteindelik deur die Nazi’s vermoor is, het van hierdie lied gesê:

“It is at once the most passionate, the wildest, one might even say the most revolutionary Advent hymn ever sung.”

Baie is al gesê oor die inhoud van hierdie lied wat ’n God voorstel wat op ’n besondere wyse aan die kant staan van nederiges, hongeres en verontregtes – eerder as waar ons gewoonlik vir God soek: by hulle wat aansienlik, sterk en invloedryk is.

Wat ek egter vanoggend wil beklemtoon is die noodsaaklike rol wat Elisabet se vriendskap en liefde gespeel het om hierdie loflied moontlik te maak.

***

Ons moet nie die waarde van sulke metgeselle of vriende onderskat nie.

Dink aan die #MeToo beweging die afgelope jaar.

Hoeveel vroue leef – vir jare, geïsoleerd en alleen, in stilswye – met die wonde van seksuele teistering of molestering… dikwels omdat hulle nie ’n vertroueling het met wie hulle hul trauma kan deel nie.

Soos Maria het hulle iemand nodig wat hulle in hul vertroue kan neem, iemand wat vir hulle kan sê: “Jy is nie alleen nie.” “Ek weet waardeer jy gaan.” “Dit is nie jou skuld nie.” “Jy is nie mal nie, dit het so gebeur soos jy dit onthou het.”

Soos een vrou na ’n ander die moed bymekaargeskraap het om hulle storie te deel, het ander skielik nie meer so geïsoleerd gevoel nie, het hulle ook die moed gekry om hulle ervaring te deel. So kon misdadigers wat vir jare lank skotvry geloop het uiteindelik tot die reg gebring word.

Net soos wat vrouens met die #MeToo beweging dikwels ’n metgesel en vertroueling nodig gehad het om aan hulle verborge waarheid geboorte te skenk, het Maria so ’n persoon nodig gehad sodat sy kon geboorte skenk aan die Woord van God wat agter haar skaamte en skande verborge was.

***

Dit laat ’n mens wonder oor die rol van die kerk? Is dit nie dalk die beste  posbeskrywing wat ons vir die kerk kan gee nie?

Dat die kerk ’n plek is waarheen mense kan gaan wanneer hulle nie meer seker is of hulle vervloek of geseën is nie… ’n Plek waar ons kan gaan wanneer ons nie meer weet of ons godverlate is en of ons geliefdes van God is nie?

Maar hoeveel keer is die kerk nie éérder die plek waarvan Maria moes vlug as die plek waarheen sy kon vlug nie. So dikwels is die kerk die eerste plek waar ons mekaar se skaamte raaksien en uitwys eerder as die dieper waarheid dat ons God se kinders is. So dikwels is die kerk die laaste plek waar weerlose mense veilig genoeg sal voel om hulle verborge waarheid te vertel en hulle rewolusionêre loflied te sing.

Maar verbeel jou ’n kerk wat bekendstaan as ’n veilige hawe waarheen mense in hulle weerloosheid kan gaan om geseën te word en weer herinner te word: dat hulle God se beelddraers is – ongeag van hoe hulle voel of wat mense van hulle dink – dat hulle die plek in die wêreld is waar God kan en wil gebeur.

Kan ons dalk so ’n plek in die wêreld wees?

As dit is waartoe ons streef, kan ons baie leer uit hierdie ontmoeting tussen Maria en Elisabet. Wat ons vanoggend in hierdie teks teëkom is eintlik die wêreld se eerste Christelike erediens.

Twee persone kom in die naam van Christus byeen. Jesus, verborge, is ook teenwoordig. Hulle deel met mekaar die Vredesgroet. Johannes die fetus doen die eerste liturgiese dans in die geskiedenis van die Christendom. Elisabet, getroude, sosiaal gevestigde vrou spreek ’n seën uit oor Maria, ’n ongetroude, sosiaal kwesbare persoon. Daarna word God met ’n loflied geloof en ’n boodskap van hoop word aan die verontregtes van die wêreld verkondig.

Die erediens eindig met Elisabet wat haar gawes en haar voorregte met Maria deel, Elisabet bied vir haar skuiling en ’n heenkome en vriendskap. Vir drie maande het Maria daar tuisgegaan voordat sy weer na haar huis toe teruggekeer het, gereed en goed voorberei om geboorte te skenk aan die Woord van God.

Gebeur hierdie wonderwerk nie elke Sondag hier nie?

***

Die wonder van Kersfees is dat ons elkeen geroep word om geboorte te skenk aan God se Woord in die wêreld, dat ons elkeen ’n Magnificat, ’n rewolusionêre loflied tot eer van God in ons dra…

Deel van hierdie wonder is dat God ons ook vir mekaar gee sodat ons vir mekaar die skuiling kan wees waar ons ons stem kan ontdek en ons lied kan sing.

Mag jy in hierdie dae opnuut ontdek dat God vir jou ’n Elisabet gee – iemand wat die dieper waarheid oor jou kan raaksien en bevestig en vir jou skuiling kan bied.

En mag jy dan Maria se openheid en vertroue hê om daardie gawe te ontvang.

Maar mag jy ook in hierdie dae ontdek hoe God vir jou ’n Maria gee – iemand wat jou onvoorwaardelike aanvaarding en rykste seënbede nodig het.

En mag jy dan met Elisabet se oorgawe en barmhartigheid liefhê.

A Blessing Called Sanctuary – Jan Richardson 

You hardly knew
how hungry you were
to be gathered in,
to receive the welcome
that invited you to enter
entirely—
nothing of you
found foreign or strange,
nothing of your life
that you were asked
to leave behind
or to carry in silence
or in shame.

Tentative steps
became settling in,
leaning into the blessing
that enfolded you,
taking your place
in the circle
that stunned you
with its unimagined grace.

You began to breathe again,
to move without fear,
to speak with abandon
the words you carried
in your bones,
that echoed in your being.
You learned to sing.

But the deal with this blessing
is that it will not leave you alone,
will not let you linger
in safety,
in stasis.
The time will come
when this blessing
will ask you to leave,
not because it has tired of you
but because it desires for you
to become the sanctuary
that you have found--
to speak your word
into the world,
to tell what you have heard
with your own ears,
seen with your own eyes,
known in your own heart:
that you are beloved,
precious child of God,
beautiful to behold,
and you are welcome
and more than welcome
here.
Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.