Jesaja 9:1-6

25 Desember 2018 – Kersfees
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Hierdie Kersfeesmeditasie is geinspireer deur en haal ruim aan uit ‘n reeks nadenkings uit Dirkie Smit se bundel koerantrubrieke, Dieper as wat mens dink.]

Voordat ek na hierdie gemeente toe geroep is, het ek die voorreg gehad om by Stellenbosch filosofie te doseer aan eerste-jaar teologiestudente.

Een van die denkers wat ek met hulle behandel het – iemand wat ’n groot indruk op my én die studente gelaat het – was die sosiale denker Hannah Arendt.

Sy was ’n Joodse vrou wat in 1906 in Duitsland gebore is. Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog het sy gehelp om Joodse kinders uit die land uit te smokkel, maar moes later ook self na Amerika vlug, waar sy uiteindelik groot aansien as ’n verslaggewer en politiese filosoof verwerf het.

Een van die dinge wat my die meeste van Hannah Arendt se storie fassineer, is haar verhouding met een van haar dosente; die omstrede en invloedryke filosoof, Martin Heidegger.

Heidegger sou uiteindelik ’n ondersteuner van die Nazi’s geword het – en Arendt, die Jood, moes vlug om haar lewe te red. Maar, van vroeg af het sy groot bewondering vir hom gehad en selfs ’n vurige romantiese verhouding met hom aangeknoop.

Arendt se liefde vir Heidegger het egter nie beteken dat hulle dieselfde sienings gedeel het nie. Een van Heidegger se kern sienings was dat die diepste wese van ’n mens daarop neerkom dat ons sterf. Om ’n mens te wees is om sterflik te wees. Ons finale horison is altyd die dood. Daarom beskryf Heidegger menswees as altyd-op-pad-om-te-sterf.

’n Mens is ook dié wese wat te wete kan kom dat hy of sy sterf. En omdat ons dit kan weet probeer ons lewenslank om hierdie wete te vermy. Ons probeer op allerlei maniere om ons eie sterflikheid te ontvlug; om te ontken of te vergeet dat ons verganklik is.

Hoewel hierdie siening van Heidegger geweldig invloedryk is – en tot ’n groot mate ook waar is – het sy jong student, Hannah Arendt, presies die omgekeerde gedink.

In haar boek, The Human Condition, beskryf sy menswees – nie as altyd-op-pad-om-te-sterf nie – maar as ’n ewige-gebore-word. Die merkwaardigste ding van menswees, sê sy, is nie dat ons sterf nie, maar dat ons gebore word.

Meer nog: om ’n mens te wees is om ewig wéér gebore te word; om elke keer wéér, elke dag núút gebore te kan word. Hiervoor munt sy selfs haar eie term: ‘nataliteit’, geboortelikheid. Ons is gebore-worders, geboorte-mense, skryf sy.

Dis éérder hoe ons oor onsself moet dink. Om ’n mens te wees is om pas-nuut-gebore te wees, nie op-pad-na-die-dood nie. Dís die ingesteldheid wat ons moet koester. Elke dag is nuut! Elke oomblik, elke geleentheid, elke ontmoeting, elke verhouding is soos ’n nuwe geboorte.

Al lê daar groot wysheid daarin om ons eie sterflikheid te kan verwelkom en al maak die Christelike tradisie daarom ook groot erns met die dood, val die klem van die evangelie óók op die lewe eerder as die dood. Dink aan die Bybelse motiewe van opstanding en wedergeboorte, van gebore word en weer gebore word, van die ou dinge wat verbygaan en ’n nuwe ding wat gebeur.

Arendt, die Jood, moes vir baie Christene hieraan herinner toe sy skryf: “die grootste simbool van dié wonder wat die wêreld verlos van ruïne en dood, die heerlikste uitdrukking daarvan, is die Christelike Evangelies se aankondiging van die goeie tyding: ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is vir ons gegee.”

So haal sy die einste teks uit Jesaja 9:6 aan wat ons vanoggend voorgelees het.

Die wonder by elke nuwe kindjie – sê Arendt – is dat dit die geboorte is van ’n nuwe bewussyn, ’n nuwe self, ’n nuwe wil…

(Iemand het my nou die dag meegedeel, dat daardie wil op die ouderdom van drie nie onderskat moet word nie).

Elke nuwe kindjie is die aanvang van ’n nuwe manier van kyk – eintlik die begin van ’n hele nuwe wêreld. Want daai klein ogies gaan ’n nuwe wêreld ontdek en ’n hele nuwe werklikheid bewoon as wat die ouers selfs van kan droom.

Baie van julle wat al kinders of kleinkinders – of selfs agterkleinkinders! – se geboortes meegemaak sal dit beter verstaan as ek… So ’n kindjie verander álles. Alles is anders, omdat dié kleinding nou óók hier is.

Dink aan ’n baba Mandela, ’n Ghandi, ’n Moeder Theresa, ’n Wilberforce… noem maar op… Wie sou by hulle geboorte, dikwels in donker tye, kon sê dat hulle die wêreld so anders sou laat? En dink aan hoeveel keer hulle in hulle lewens nie wéér gebore moes word om uiteindelik so ’n verskil te kan maak nie…

Is dit nie die wonder van wonders nie?

En elke nuwe geboorte verkondig opnuut, dat hierdie wonder van nuutheid, vryheid en verbeelding van ons almal waar is. Dat dít is waarop ons menswees ten diepste neerkom.

En soos Arendt sê, is die heerlikste uitdrukking van hierdie waarheid die goeie tyding dié kind wat aan ons gegee is en genoem word, Wonderbare Raadgewer, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.

Soos die teks ons herinner, kan dit met ons gebeur dat die dood vir ons die enigste en laaste horison word, dat ons soos Jesaja sê, mense word wat “in die duisternis ronddwaal” …mense word wat altyd net “’n stikdonker land” om ons sien.

Die slawejuk op ’n mens se skouers kan so swaar raak, dat slawerny vir ons die enigste en finale horison word. Die gedruis van stewels op pad na nóg ’n slagveld, of die beelde van nóg bebloede hemde kan ons moedeloos, uitsigloos laat.

Dit kan met ons gebeur dat ons nie meer met verwagting lewe nie; nie meer glo dat dinge anders kan wees nie. Ons kan verleer hoe om met die verbeelding en afwagting van ’n kind na die wêreld kyk. Ons kan so op-pad-na-die-dood-toe lewe dat ons eintlik reeds dood is.

Maar vir ons is ’n kindjie gebore. En kyk, die kindjie wat gebore is, is die Wonderbare raadgewer: van nou af en vir altyd sal hy reg en geregtigheid vestig. En elkeen wat hom volg sal as lig vir die wêreld en sout van die aarde gebore word, as regmakers sal hulle nuut gebore word, elke dag wéér, elke dag núút.

Vir ons is ’n kindjie gebore.

Leef daarom met hoop, gooi af daai swaar juk op julle skouers, verpletter die slawedrywer se stok. Die ou dinge is aan die verbygaan…

En kyk, die kindjie wat gebore is, is die Vredevors: sonder einde sal hy vredemaak. En elkeen wat hom volg sal as vredemakers gebore word, as vredemakers nuut gebore word, elke dag wéér, elke dag núút.

Vir ons is ’n kindjie gebore.

Leef daarom met vreugde, want die marsjerende stewels en bebloede mantels is vir die vlamme bestem, sê Jesaja.

Dit is die goeie tyding van Kersfees.

Die diepste werklikheid oor jou, die grootste geheimenis van die wêreld, as dat daar ’n kindjie vir ons gebore is.

Daarom is niks ooit so finaal vasgeloop soos dit mag voorkom nie. Daarom is geen situasie ooit so uitsigloos, dat sake nie nuut kan word nie. Die lewe is nooit so verby soos dit mag lyk nie. Iets onverwags en nuut kan altyd gebeur wat alles verander.

Soos ’n kindjie mag dit klein en onbeduidend wees; dit mag in ’n vergete stal plaasvind waar skaapwagters die enigste getuies is, maar dit kan meebring dat alles nuut word.

Mag jy op hierdie Christusfees, dit opnuut ontdek.

Mag jy dit met die verbeelding en opgewondenheid van ’n kindjie ontdek. Dat jy ’n gebore-worder, ’n geboorte-mens is. Altyd pas-nuut-gebore.

Jou lewe is vol belofte, gevul met lewensmoontlikhede, swanger aan nuwe geleenthede, want vir jou is ’n kindjie gebore.

Koester daarom altyd die hoop wat in jou leef. Maak vrede. Doen vreugde. En verwelkom elke kind van God met liefde.