Lukas 3:15-18; 21-22

13 Januarie 2019

Eerste Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Lukas se vertelling van Jesus se doop in die Jordaan-rivier bied vir ons ’n geleentheid om na te dink oor die betekenis van ons eie doop, waaraan ons so pas weer herinner is.

Wat beteken dit om as gedoopte persone in gemeenskap te lewe?

***

Die teoloog, Henri Nouwen, met wie se werk ek vermoed baie van julle vertroud sal wees, het graag na Jesus se doop in die Jordaan verwys as dié kern belewenis van Jesus se publieke lewe. Die kernmoment van Jesus se bediening was toe hy die stem gehoor het wat vir hom sê: “Jy is my geliefde seun. Oor jou verheug ek my.”

Hier is Jesus op ’n diep, diep manier herinner aan wie hy is: ’n geliefde kind van God.

Onmiddellik na sy doop, gevul met dieselfde Gees wat hom aan hierdie identiteit herinner, word Jesus in die woestyn ingelei. Veertig dae in die woestyn om met hierdie nuwe identiteit te worstel, om vir homself duidelik te maak wat dit beteken om ’n kind van God te wees. Veertig dae vir Jesus om te aanvaar wie hy ten diepste is.

Dit laat ’n mens dink aan die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn moes deurbring nadat hulle ook deur die waters, in hulle geval die waters van die Rietsee, uit hulle slawerny in Egipte ontsnap het. As ’n volk moes hulle ook met ’n nuwe identiteit worstel: hulle moes hulle identiteit as slawe agterlaat en afleer, leer dat hulle aan niemand behoort nie behalwe aan God; leer wat dit beteken om God se kinders en beelddraers te word.

En soos die versoeking vir die Israeliete groot was om terug te draai na die vleispotte van Egipte, waar hulle as slawe darem goed geëet het, moes Jesus ook versoekings verduur. Die versoekings wat Jesus daar moes weerstaan was bowenal die versoeking om hierdie identiteit as geliefde van God te verlaat, die versoeking om te glo dat hy iemand anders is:

“Jy is die een wat klippe in brood kan verander. Jy is die een wat van die tempel af kan spring. Jy is die een wat ander voor jou mag kan laat neerbuig.”

“Nee, nee, nee,” sê Jesus. “Ek is die geliefde van God.”

Daarom is ek nie in die eerste plek wat ek kan verrig nie. Ek is nie wat mense van my nie, nie mense van my verwag nie. Ek is nie wat ek besit nie. Nee, Ek is ’n geliefde kind van God.

Tydens daardie veertig dae moes Jesus leer dat hy aan niemand behoort nie behalwe aan God.

“Jy is my geliefde Seun,” klink die stem uit die hemel.

Dus, ek behoort nie aan myself nie. Maar ek behoort ook nie aan enige iemand anders nie. Ek behoort aan God. Ek is geliefd deur God. God vind vreugde in my.

Dit is waaraan ons onsself vanoggend weer herinner het toe ons ons hande in die doopbak gesteek het. En ek hoop jy kan maniere vind om jouself gedurigdeur, in die loop van jou dae en weke, hieraan te herinner:

Ek behoort aan God. Ek is geliefd deur God. God vind vreugde in my.

Dít is wat Jesus vir homself moes uitmaak in die woestyn. Sy identiteit as God se geliefde hang nie af van sy sukses nie – van die prestasies wat hy behaal het nie; dit hang nie af van sy gewildheid nie – van sy aanvaarding deur mense nie; dit hang nie af van sy mag of vermoëns nie – van waartoe hy in staat is of nié is nie.

Daarom was Jesus se doop in die Jordaan so bepalend vir sy publieke lewe. Aan die begin van sy bediening, nog voordat hy enige iets prysenswaardig gedoen het, is hy daaraan herinner dat sy diepste identiteit gewortel is, nie in homself nie, nie in enige ander nie, maar alleen in die liefde van God. Daar sou tye kom waarop hy geprys sou word, en daar sou tye kom waarop hy verwerp, verraai en verlaat sou word. Daar sou tye kom waarop hy wondere sou verrig, maar daar sou ook tye kom waarop hy die eensaamheid en weerloosheid en magteloosheid van menswees moes omhels.

Dis die groot geheimenis van Jesus se lewe: dat hy in al hierdie omstandighede nooit sig verloor het van sy identiteit in God nie. Maar om dit reg te kry, moes Jesus, soos ons ook vanoggend gedoen het, homself telkens weer herinner aan sy doop, aan daai stem wat sê: “Jy is my geliefde. Ek vind groot vreugde in jou.”

Ons sien hoe selfs Jesus nooit die behoefte ontgroei het om in afsondering en gebed vir God te soek nie, om weer en weer, veral wanneer hy begin twyfel het, te gaan luister vir daai stem wat sê: “jy is my geliefde Seun.”

En dalk is dit al wat gebed is… Om onsself gereeld af te sonder en stil genoeg te word, sodat ’n mens tussen al die stemme wat vir jou sê, “jy is nie goed genoeg nie,” “jy behoort nie hier nie,” “dit is hopeloos,” weer herinner te word aan ons diepste identiteit as geliefdes.

En die rede hoekom ons daarvoor moet stil word is omdat, soos jy weet, jou eie stem gewoonlik die luidste en die mees afbrekende kan wees.

***

Ek weet nie van julle nie, maar dit bied vir my groot troos… en hoop… om te hoor hoe selfs Jesus aan hierdie identiteit herinner moes word en hoe hy keer op keer weer na hierdie waarheid moes terugkeer. Om te sien hoe selfs Jesus God se genade en sorg weer en weer moes ontvang, laat my so bietjie minder soos ’n loser voel. Dit troos my. Dit gee vir my hoop.

En tog, vir baie mense was hierdie verhaal juis ’n verleentheid en ’n struikelblok. Ons lees immers hier hoe die Messias saam met die massas, sondaars van elke skakering, deur ’n populistiese moeilikheidmaker, Johannes, in ’n modderige rivier gedoop word!

Vir baie mense was dit juis hierdie gerig, dat Jesus deur Johannes gedoop is, wat die duidelikste teken was dat hy nie die Messias is nie! Hoe kan die Seun van God saam met sondaars ’n doop van bekering ondergaan!? Waarvoor moes Jesus hom bekeer?

En tog het die evangelieskrywers soos Lukas gekies om Jesus se doop ’n prominente plek in hulle vertellings van sy lewe te gee. Ten spyte van die verleentheid, het die vroeë kerk dikwels teruggekeer na Jesus se doop om oor die betekenis van hulle eie doop na te dink

Om gedoop te word is om saam met Jesus in die Jordaan in te skuifel. En soos ek in die water afsak, sterf ek aan die ou mens – met sy die slawe-identiteit, met sy selfhaat, met sy selfsug, met sy eiewaan. En dan, soos ek uit die water uit opstaan, staan ek saam met Jesus op, soos hy op die derde dag opgestaan het: Ek is ’n geliefde. Ek behoort aan God. God vind groot vreugde in my.

Soos ons vroeër saam bely het, neem ons in ons doop deel aan die dood en opstanding van Jesus Christus.

***

Soos die vroeë kerk verder oor hierdie verhaal nagedink het, het hulle interessante verbintenisse begin opmerk tussen hierdie storie en nog ’n verhaal waarin daar water en gees en ’n stem was – die skeppingsverhaal uit Genesis.

In die begin, was daar ’n waterige chaos… en oor die chaoswaters was daar die Heilige Gees… en toe ontspring daar ’n wêreld. En God sê: “dit is goed.”

Die water en die Gees en die stem. ’n Mens kan sien hoekom die vroeë Christene die verband gemaak het tussen die doop en die nuwe skepping.

Die doop is ’n nuwe begin van God se kreatiwiteit. Dit is om, soos wat die asem van God oor die chaos van ons lewens waai, in God se pragtige orde in te beweeg. Soos wat Jesus uit die rivierwater opgekom het en die stem van die Vader hoor, so sê God by elke persoon se doop: “jy is my geliefde kind.” En met hierdie woorde begin ’n hele nuwe werklikheid waarin ons die weg saam met Jesus stap.

***

Die merkwaardige ding van hierdie herskepping is wat dit van Jesus verg. Dit verg dat hy in die dieptes van ons menslike chaos ingedompel word. Jesus moet in die dieptes van ons menslike werklikheid – in ons sinneloosheid, in ons hartseer en ellende, in ons weerloosheid en gebrokenheid – in die dieptes in moet Jesus neerdaal om ons van binne af te herskep.

Die nuwe skepping wat deur die doop tot stand kom is dus nie ’n mensheid wat altyd in beheer van alles gaan wees nie, wat altyd suksesvol gaan wees nie. Dit is ’n mensheid wat vanuit die dieptes van ons chaos, tog ’n hand kan uitsteek om aangeraak te word deur die hand van God.

Ek wil afsluit met een of twee gedagtes van die Britse teoloog, Rowan Williams, waarin hy reflekteer oor wat die beteken om as gedooptes te lewe.

Die weg van ’n gedoopte, sê hy, is ’n gevaarlike een. Ons moet eintlik ’n waarskuwingsbordjie vir ons doopvont kry wat sê: “As jy hierdie tree gaan neem, as jy in hierdie dieptes gaan ingaan, gaan dit opwindend en transformerend wees, dit gaan lewe-gewend wees, maar dit gaan baie, baie gevaarlik wees.”

Want, sê Rowan Williams: “If we were to ask the question, “where might you expect to find the baptized?” one answer is, “in the neighbourhood of chaos.”

“It means you may expect to find Christian people near to those places where humanity is most at risk, where humanity is most disordered, disfigured and needy. Christians will be found in the neighbourhood of Jesus – but Jesus is found in the neighbourhood of human confusion and suffering, defenselessly alongside those in need.”

Waar kan ons verwag om Christene te vind? In die buurt van die wêreld se chaos.

Maar dan gaan Williams vêrder: “I am inclined to add that you might also expect the baptized Christian to be somewhere near, somewhere in touch with, the chaos in his or her own life… A baptized Christian ought to be somebody who is not afraid of looking with honesty at that chaos inside, as well as being where humanity is at risk, outside.”

Om te sê ek is gedoop is dus nie om ’n ekstra waardigheid bo ander te hê nie, dis nie om ’n hoër klas mens te wees nie; dis veel eerder om ’n dieper solidariteit met alle mense te aanvaar en te betoon.

In die proses waardeur ek ontdek wie ek is, ontdek ek ook wie alle ander mense, alle skepsels van God, ten diepste is. As ek ’n geliefde is, dan is alle ander mense ook geliefdes. Alle mense behoort aan God en daarom aan niemand anders nie – ook nie aan my nie.

’n Byeenkoms van gedooptes is daarom nie ’n versameling bevoorregte, afgesonderde elites nie, maar ’n versameling mense wat mekaar help om te aanvaar wat dit beteken om in die hart van ’n morsige, behoeftige, chaotiese werklikheid te leef. Om dit anders te stel: ’n Mens gaan nie in die Jordaan rivier in sonder om ’n klomp modder op te skop nie!

Die groot misterie van Christenwees is dus: om in die dieptes van God se oorvloedige liefde gedompel te word en, terselfdertyd, in die dieptes van die wêreld se lyding en ellende en sonde.

Ons is vanoggend daaraan herinner dat dit is waar Jesus kies om te staan.

Die vraag waarmee ons vanoggend hier weggaan is of dit ook is waar óns kies om te staan?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.