Johannes 2:1-11

20 Januarie 2019

Tweede Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Daar is merkwaardige ooreenkomste tussen die manier waarop Johannes in sy evangelie oor Jesus praat as die Woord wat mens word en hoe daar in die Hebreeuse Bybel oor Wysheid gepraat word in die gestalte van ’n vrou.

In Spreuke 8 vind ons byvoorbeeld ’n loflied wat aan Wysheid gerig is. Daarin sê Wysheid:

“Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede. Ek is lankal daar, van die begin af, voor die aarde daar was.”

Dit klink baie op die begin van Johannes se evangelie, ook ’n loflied:

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God… Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie… in Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.”

Soos Jesus word Wysheid ook beskou as dit wat vir mense lewe gee. Wysheid sê:

“Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here.”

Toe Johannes sy evangelie geskryf het was hy op soek na taal wat hom sou help om die betekenis van Jesus se lewe aan sy gemeenskap oor te dra. Hierdie taal het hy, onder andere, in Israel se Wysheidstradisie gevind; en dan veral in die manier waarop Wysheid in Spreuke gepersonifieer word, die gestalte aanneem van ’n persoon, van ’n vrou.

In Spreuke 9 word Wysheid byvoorbeeld voorgestel as ’n vrou wat studente uitnooi om by haar tuis te gaan en aan haar heerlike kos en wyn te smul. (Ek wens meer van my dosente was so!) Vrou-wysheid se hande staan vir niks verkeerd nie. Sy het haar eie huis gebou, haar vleis het sy self geslag en voorberei; maar wat my die meeste beïndruk, is dat sy selfs haar eie wyn gemeng het!

“Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek gemeng het! Sien af van onkunde en leef! Betree die weg van insig!”

Wat ’n mens in hierdie beeld opval is dat wysheid nie te make het met verhewe insigte of spekulasies nie; wysheid word nie voorgestel as die alleen denker wat afgesonder sit en bepeins nie – ook nie soos in die Griekse en Romeinse Wysheidstradisie waarin ’n vergadering mans in die stadsplein sit en idees uitruil of redeneer nie.

Nee, ons sien hoe wysheid betrokke raak by die mees alledaagse sake: met die bestuur van ’n huishouding. Wysheid maak seker dat daar aan haar gaste se behoeftes voorsien word. Sy verleng haar gasvryheid aan wie ook al dit verlang. Sy skep ’n ruimte waarin mense kan skuil, waar hulle kan tuiskom. Sy berei voedsel voor om hulle liggame te verkwik; wyn en goeie geselskap om hulle harte met vreugde te vul.

Sy laat blyk dat wysheid meer is as ’n saak van die verstand en intellek. Dit sluit ook in smaak en reuk en fyn aanvoeling – ’n fyn ingestelde oplettendheid aan die behoeftes van ander, ’n gereedheid om diensbaar te wees, ’n beskikbaarheid om aandag te skenk. Wysheid het te make met die volheid van ons bestaan. Alles word daarby ingesluit, van die voorsiening van ons basiese behoeftes, tot hoe ons mense tuis laat kom in ons huise, tot die skorrelgoed wat na ’n feesmaal gewas moet word.

Wanneer vrou Wysheid haar studente in haar tuiste innooi, nooi sy hulle nie om in ’n lesinglokaal te kom sit nie – sy nooi hulle om by haar etenstafel te kom aanlê. Hulle moet eet en drink. Hulle moet kou aan wat Wysheid vir hulle leer. Hulle moet dit verteer en opneem in hulle liggame. Soos goeie wyn moet haar insigte hulle harte warm maak. Hulle moet wysheid beliggaam. Woord moet vlees word.

***

Volgens Johannes is Jesus God se wysheid wat gestalte vind in ’n menslike lewe en onder ons kom woon.

Aan die begin van die evangelie, wanneer twee belangstellendes vir Jesus begin volg, draai hy om en vra: “wat wil julle hê?” Hulle vra toe vir hom: “Rabbi, waar bly U?” En Jesus antwoord hulle, “kom kyk!”

“Kom kyk!” Soos vrou-Wysheid nooi Jesus sy dissipels uit om by hom tuis te gaan. Dit is nie genoeg om ’n klomp dinge oor hom te weet en te glo nie. ’n Mens moet self kom kyk en proe en geniet. Om ’n dissipel van hierdie rabbi te wees, moet ’n mens hom volg. Sy lewenstyl, sy bewussyn, sy manier van kyk na die wêreld en na mense moet in húlle lewens, in hulle gewoontes en ritmes en liggame opgeneem kan word.

Dissipelskap is nie iets wat ’n mens van ’n afstand af, objektief en wetenskaplik kan oorweeg, om uiteindelik, na oorwegings, te besluit of dit die moeite werd is nie. Dit is deur naby aan hom te leef en te maak soos hy maak dat God se wysheid by ons begin tuiskom en smaak gee aan ons lewens.

***

Ek dink dit is in hierdie lig waarin ons hierdie eerste “teken” van Jesus by ’n bruilof in Kana kan verstaan.

Vanoggend se teks, kom aan die einde van ’n gedeelte waarin Jesus sy eerste dissipels roep om hom te volg; maar dit is ook die eerste in ’n reeks van Jesus se ‘tekens’, soos wanneer hy later die brood vermeerder, of mense van siektes genees.

Dit is interessant dat Johannes nooit verwys na Jesus se wonders as dunamis of kragtoertjies nie, maar eerder as semeia; as‘tekens’. Johannes beskou Jesus se wonders as simbole wat heenwys na wat Jesus se lewe, dood en opstanding vir ons beteken.

Aan die einde van sy vertelling oor die gebeure in Kana, gee Johannes vir ons ’n leidraad oor hoe ons hierdie gebeure moet interpreteer: “Hy het sy heerlikheid geopenbaar en sy dissipels het in hom geglo.” Dit gaan dus hier oor twee sake: Oor Jesus se heerlikheid en oor dissipelskap.

Maar waardeer het Jesus presies sy heerlikheid bekend gemaak? En hoekom het daardie gebeurtenis so ’n groot indruk op die dissipels gelaat? Wat is die betekenis van hierdie teken dan, en hoe kan it ons help om met groter vertroue en gehoorsaamheid dissipels van Jesus te wees?

***

Ek dink dit sê reeds baie dat die eerste geleentheid waarop Jesus sy heerlikheid aan die wêreld bekendmaak, by ’n bruilof plaasvind. Dit is ’n geleentheid van vreugde, feesviering, genot en gasvryheid.

Troues in daardie geweste het gewoonlik nie korter as drie dae geduur nie, en soos vandag was dit baie, baie, baie belangrik dat die wyn nie opraak nie. Vir die wyn om op te raak sou vir die bruidspaartjie ’n geweldige verleentheid gewees het. Dit sou ’n skande vir die bruid se ouers gewees het om nie die wet van gasvryheid te volbring deur vir hulle gaste te voorsien nie.

Jesus se eerste teken is dus om ’n partytjie aan die gang te hou; dit is om ’n getroude paartjie – op hulle dag van blydskap – van ’n groot verleentheid te spaar. Sonder dat hulle, of selfs hulle hoof-kelner iets agterkom (behalwe dat die wyn al hoe lekkerder raak!), gaan hulle voort met hulle fees, geniet hulle die wyn wat voorberei is deur God se wysheid.

Johannes het ’n fyn humorsin gehad. In die eerste plek let hy op dat die water wat Jesus gebruik om wyn mee te maak, eintlik bedoel was vir die Joodse reinigingsgebruike. Dit is dus met goeie rede dat die kelners nie vir die hoofkelner gesê het waar hulle so pas die ‘wyn’ geskep het wat hulle vir hom bring om te proe nie. Hy sou nooit sy mond daaraan gesit het as hy geweet het dis die opwaswater wat hulle vir hom bring nie!

Later sou Jesus en sy dissipels deur skrifgeleerdes daarvan aangekla word dat hulle die reinheidswette verontagsaam wanneer hulle are in die veld pluk en dit eet sonder om hulle hande en voete te was.

Nou omskep Jesus opwaswater in die heerlikste wyn. Daar sou later nie meer water wees vir mense om mee te was nie. So wat? Is dit nie belangriker dat hierdie egpaar hulle vernedering gespaar word nie? Is dit nie belangriker om in hierdie dae die lewe en die liefde te vier nie?

Dis asof Jesus vir ons wil sê, dit gaan nie oor die puntenerige nakom van wette nie, maar of ons die smaak kan geniet wat God se wysheid aan die lewe gee. Die wysheid van God se goeie skepping, dit waardeer alles tot stand kom, is ’n oorvloedige gasvryheid wat welkom heet. Om met wysheid te lewe is om te leer hoe om hierdie gasvryheid na te boots.

Jesus, ’n terloopse gas by die bruilof, is eintlik ook die ewige Gasheer – die wysheid van God in wie ons leef en beweeg en lewe het. Dit getuig van God se nimmereindigende vermoë om die alledaagse in iets heiligs te omskep.

Dit bevraagteken ook die skeiding wat ons so dikwels maak tussen die heilige en die sekulêre. By ’n bruilof in Kana, sê Johannes vir ons, het Jesus sy heerlikheid openbaar. Wat is Jesus se heerlikheid?

Hierdie opmerking het my onmiddellik laat dink aan die Kerkvader van die 3rde eeu na Christus Irenaeus se definisie van God se heerlikheid: “The glory of God is a human being fully alive.”

Jesus se heerlikheid kan dus nie beperk word tot die tempel nie. Dit is nie iets wat ons uithaal om by eredienste te vertoon, net om dit weer in ’n veilige plek weg te bêre tot volgende Sondag nie.

In die lig van wat by Kana gebeur het, kan ons waag om Irenaeus se definisie om te keer: Waar ook al mense – mense, nie Christene nie, net mense – waar ook al mense ten volle lewe, daar kan ons verwag om Jesus se glorie en majesteit, sy skoonheid en heerlikheid te aanskou.

Is dit nie merkwaardig hoe dikwels Jesus se heerlikheid anoniem is nie? Soos by die bruilof in Kana. Byna niemand, selfs nie eers die hoofkelner of die bruidspaartjie, het geweet dat Jesus die water in wyn omskep het nie; en tog het hulle nog tot laat in die aand toe, in die ligkring van sy heerlikheid gedans.

***

Die teoloog, Debbie Thomas, het my hierdie week egter herinner dat hierdie verhaal, net soos ons lewens, nie net ’n storie van oorvloed en feesviering is nie.

Ons aandag val meesal op Jesus – en in my geval op die liters heerlike wyn wat hy gemaak het, maar Thomas herinner ons daaraan dat die verhaal eintlik met sy Moeder begin.

In die eerste sin van sy vertelling gee Johannes al vir ons ’n leidraad dat sy ’n belangrike rol gaan speel. “Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana, en Jesus se moeder was daar. Ook Jesus en sy dissipels is na die bruilof genooi.” Dis asof Johannes wil sê: “Watch die vrou! Moenie sig van haar verloor nie.”

Jesus is die wysheid van God, maar vrou-Wysheid was ook daai dag daar. Te midde van die feesvieringe en afleidings, nog voordat Jesus agtergekom het dat daar iets fout is, let sy moeder op: “Maar hierdie mense het nie meer wyn nie.”

Sou daar op daai dag ’n ‘teken’ op Kana plaasgevind het as Jesus se moeder nie opgelet het dat daar ’n krisis is en met hierdie waarheid vir Jesus onderbreek het nie.

Mens kan amper sien hoe sy na Jesus toe kom en in sy oor fluister: “Hulle het nie meer wyn nie.” Jesus se reaksie is afwysend: “Wat het dit met ons te make? Hoekom pla jy my? My uur het nog nie aangebreek nie.”

Maar haar oortuiging dat Jesus iets hieraan kan en behoort te doen, is net so groot soos haar oortuiging dat iets fout is. Sonder om met Jesus te redeneer, draai sy na die dienaars: “doen wat ook al hy vir julle sê.”

Debbie Thomas dink na oor hierdie rol wat Jesus se moeder speel. Sy sê:

It’s an odd and provocative role, but I’m grateful for it, because it allows me a place in what otherwise feels like an inaccessible narrative.  I have no idea how to turn gallons of water into gallons of wine.  But I do know how to say what Jesus’s mother says. Sometimes, it’s the only thing I know how to say.   “There is need here.”  “Everything is not okay.”  “We’re in trouble.”  “They have no wine.”

Die rol wat Jesus se moeder hier inneem, dink ek help ons om ons eie rol as dissipels van Jesus beter te verstaan. Ons kan nie water in wyn verander nie. En dalk is een van die belangrikste en mees bevrydende lesse dat ons nie hoef nie.

Wat as ons rol eenvoudig is om, soos Maria, met fyn aanvoeling en aandag te lewe sodat ons na Jesus toe te kom en in sy oor te kan fluister: “hulle het nie meer wyn nie.”

“hulle het nie kos om op die tafel te sit nie.”
“hulle het nie genoeg klaskamers nie.”
“hulle is raad-op.”
 “hy het nie vriende nie.”
“ek het nie meer krag nie.”

***

Soos Maria, hoef ons nie die diepe geheimenis van God se bestemde uur te weet nie. Daaroor mag ons maar verkeerd wees. Hoe kan ons dit in elk geval weet?

Tog word ons geroep om met vrymoedigheid die waarheid – hoe pynlik ook al, hoe hopeloos dit ook vir ons mag lyk, hoe magteloos ons ook voor daardie werklikheid mag voel – met vertroue na Jesus toe te neem.

Die versoeking is soms groot om dit nie te doen nie. Ons wil nie die partytjie versteur nie, smeer eerder ’n lagie vernis oor en hoop niemand kom iets agter nie.

Soms is dit juis ons magteloosheid wat ons verhoed om iets te sê: Ons is so bang dat ons dalk geen oplossing sal vind nie dat ons eerder die moeilike waarheid vermy.

Dalk is wysheid dan eenvoudig die vertroue en gehoorsaamheid die skaarsheid en onreg van die wêreld voor die oorvloed van God se genade te kom neerlê;

om nooit op te hou om die gebrokenheid van mense voor die helende sorg van God te bring nie;

om daarop aan te dring dat die oorweldigende dilemmas van ons lewens ’n gehoor ontvang voor die kreatiwiteit van God;

om daarop aan te dring dat die lelike van die wêreld, altyd gesien moet word in die lig van God se heerlikheid.

En om dan, soos Maria vir die dienaars gesê het: te doen wat ook al hy vir ons sê.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.