1 Korintiërs 12:11-31a

27 Januarie 2019

Derde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons is almal waarskynlik goed vertroud met vanoggend se teksgedeelte.

Soos met baie ander dinge waarmee ons vertroud raak, kan dit gebeur dat die verrassende en vernuwende karakter van so ’n beeld vir ons verlore gaan.

Daarom wil ek vanoggend ’n bietjie tyd daaraan spandeer om hierdie baie bekende beeld weer in die konteks te plaas waarin Paulus dit vir die eerste keer in sy briewe aangewend het.

***

Die eerste ding waaraan ons oor Paulus en die eerste Christene se wêreld herinner kan word, is dat daar geensins sprake was van wat ons vandag ‘universele menseregte’ sal noem nie.

Dit was ’n wêreld waarin jou sosiale status, waar jy ingepas het – of nie ingepas het nie – alles oor jou bepaal het. Die idee dat álle mense, bloot omdat hulle mense is, daarom gelyke waardigheid en regte het, was nog nie eers op die horison nie. Dit was ’n hoogs gestratifiseerde, patriargale wêreld, ’n wêreld van insiders en outsiders.

Om beter te verstaan wat dit vir die vroeë Christene sou beteken het, kan ons eenvoudig kyk na wat Paulus se sosiale status was. Waar sou iemand soos Paulus ingepas het?

Een ding waaroor Paulus baie trots was, was dat hy ’n Romeinse burger was. As ons byvoorbeeld in die boek handelinge oor Paulus se vele sendingreise lees, is daar ten minste drie geleenthede waarop Paulus vir mense daaraan herinner: “Ek is ’n Romeinse burger.”

Hoekom was dit vir Paulus so belangrik om dit te sê?

Wel, as ’n Romeinse burger het jy sekere voorregte geniet. Jy was as ’n regspersoon beskou; iemand met stemreg. Jy kon vrylik rondbeweeg en dieselfde regte in verskillende stede geniet. Jy kon ’n testament opstel. Jy kon iemand voor die hof daag, of self gedagvaar word. Maar jy mag nie sonder ’n verhoor gestraf of gemartel word nie.

Daarom dat Paulus, toe hy byvoorbeeld in Filippis in hegtenis geneem is en wreed gemartel is, sê hy in ’n stadium vir die tronkbewaarder: voordat jy my nog verder rondstoot, moet jy dalk net kennis neem, ek is ’n Romeinse burger. Skielik is hulle anders behandel. Dit was soos om ’n Europese paspoort te hê, jy kon vrylik deur die wêreld beweeg met die sekerheid dat jy oral goeie behandeling sou ontvang.

Hierdie voorreg was egter nie vir almal beskore nie. Die grootste hoeveelheid mense wat in die Romeinse ryk se dorpe en stede gewoon het, was nie Romeinse burgers nie. Hierdie groepering mense het bekend gestaan as peregrini (waar ons woord ‘pelgrim’ vandaan kom); hulle was immigrante, trekarbeiders en is as vreemdelinge beskou.

Soos baie vlugtelinge en staatlose persone in ons wêreld vandag, het hierdie groepering mense baie min voorregte en sekuriteit geniet: Jy het geen stemreg gehad nie. As jy doodgegaan het, het al jou besittings die eiendom van die stad geword. Jy kon reis, maar jy was nie daarvan verseker dat jy oral dieselfde behandeling sou ontvang het nie. Jy kon enige tyd, sonder ’n verhoor in hegtenis geneem word, gemartel word, en die doodstraf ontvang. Vir laasgenoemde was ’n hout kruis natuurlik ’n gewilde instrument, omdat dit ’n baie duidelike boodskap oorgedra het aan almal wat dit sien: ken jou plek!

As jy nie ’n Romeinse burger was nie, was jy dus ’n buitestander sonder veel waardigheid of regte. Maar daar was nog ’n derde kategorie waarin jy kon beland het; jy kon ook ’n slaaf gewees het. Slawe was letterlik die besitting van iemand anders. Sonder die toestemming van jou eienaar mag jy nêrens heen gereis het nie, mag jy nie besittings gehad het nie, mag jy nie getrou het nie. ’n Slaaf mag sonder regsgevolge deur hulle eienaar gestraf of selfs doodgemaak word.

Soos ek vroeër genoem het, so te sê alles oor jou bestaan is bepaal deur waar jy volgens hierdie kategorieë ingepas het – en daar was nie veel wat jy daaraan kon verander nie.

***

Buiten sy status as ’n Romeinse burger, was daar nog iets waaroor Paulus baie trots was: Hy was ’n Jood. Meer nog, hy was ’n geleerde Jood, ’n dissipel van Gamaliel, een van die mees verligte Rabbi’s van die dag.

’n Mens hoef nie ’n groot kenner van Palestina in die eerste eeu te wees om te besef dat die Joodse wêreld waaraan Paulus behoort het, net so veel sosiale lae en klas-skeidings as die Romeinse wêreld gehad het. Lees net vlugtig deur die Nuwe Testament en jy kom agter dat die wêreld waarin Jesus en die eerste Christene geleef het, ’n konstante stryd was om te bepaal wie is in en wie is uit.

Is jy ’n man of ’n vrou? Is jy ’n Jood of Samaritaan of ’n Heiden? En wie is werklik God se uitverkore mense? Wie bepaal waaroor Jood-wees rêrig gaan? Die Sadduseërs? Die Fariseërs? Die Rabbi’s?

En jy het gedink die identiteitspolitiek van vandag is kompleks?

***

Wanneer Pauls dus vir ’n jong Christelike gemeente in die hawestad Korinte skryf dan is dit van die komplekse sosiale werklikhede wat ons in ons agterkoppe mag hou. ’n Wêreld van sosiale lae, met streng-gedefinieerde skeidings tussen kulturele groeperings wat nie maklik oortree kon word nie; ’n wêreld waarin dit ’n saak van lewe of dood was om presies te weet wie jy is, waar jy inpas, en veral, waar jy nie inpas nie.

***

As ’n mens met hierdie komplekse sosiale werklikheid in gedagte deur Paulus se briewe aan die gemeente in Korinte lees, kom ’n mens gou agter dat daar iets baie buitengewoon aan die gebeur was. Korinte was ’n hawestad – baie kosmopolitaans, met groot diversiteit, ’n plek wat gewemel het van die handeldryf, ’n lewendige kulturele en intellektuele sentrum.

Wat hierdie Christelike gemeenskap in Korinte besonders gemaak het, was dat dit ’n groot verskeidenheid mense van elke agtergrond en sosiale status ingesluit het.

Vroeër in die brief se Paulus, met sy tipiese taktloosheid, dat meeste van hulle – menslik gesproke – nie eintlik oor hulle agtergrond kan spog nie (hulle is nie wys nie, nie invloedryk nie, nie van adele afkoms nie). Mens kan dus aflei dat baie van hulle peregrini was, trekarbeiders, swerwers, vlugtelinge, vreemdelinge.

Later, in 1 Kor. 6, vermaan Paulus weer vir sommige van die Korintiërs omdat hulle lede van hulle gemeente in die hof gedagvaar het. Net Romeinse burgers kon hof toe gaan. Hiervan kan ons dus aflei dat daar ook Romeinse burgers in die gemeente was.

Uit vanoggend se teks weet ons ook daar was Jode en slawe in die gemeenskap.

Die prentjie wat ’n mens van hierdie gemeenskap in Korinte begin vorm is van iets baie vreemd en onwaarskynlik: ’n plek waarin hierdie diverse groeperings mense – Romeinse burgers en trekarbeiders, slawe en handelaars, Jode en Grieke – met mekaar saamgeleef en gemeng het.

***

Dit is hiérdie mense wie Paulus die liggaam van Christus noem.

Maar wat hy sien is nie ’n eksotiese, dog idilliese werklikheid waarin mense vreedsaam en sonder konflik, soos in die paradys, met mekaar saamleef nie. Inteendeel, dit is duidelik dat daar diepe verdeeldheid geheers het.

Sy hoë agting vir hulle is gegrond in ’n diepe oortuiging dat hulle die produk is van God se handewerk is en nie die van mense nie. Soos die opstanding van Jesus alle redelike verwagtings en goeie verstand oortref, so is hierdie weird gemeenskap se bestaan ’n radikaal nuwe ding, iets wat niemand kon verwag nie. Paulus leef met die oortuiging dat God in Jesus ’n radikaal nuwe werklikheid tot stand gebring het, en hierdie mense in Korinte is een van die gestaltes wat hierdie nuwe werklikheid in die wêreld neem.

Hulle is die liggaam van Christus.

***

Met hierdie beeld van ’n menslike liggaam, probeer Paulus vir die gemeenskap self taal gee om van hierdie nuwe werklikheid wat hulle is, sin te maak.

Sy hoop was waarskynlik dat, as hulle hulself ’n bietjie beter kan verstaan, kan hulle dalk ook lewe op ’n manier wat ooreenstem met wie en wat hulle ten diepste as ’n nuwe skepping van God se Gees is.

So wat is dit wat Paulus deur hierdie beeld van ’n liggaam vir hulle sê?

Wel, kom ons begin met die mees verrassende opmerking:

En ons is tog álmal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk.”

In een sin, bevraagteken Paulus die diepste veronderstellings van ’n samelewing waarin alles oor jou bestaan bepaal is deur jou status as Jood of Griek, as Romeinse burger of slaaf.

In sy brief aan die Galasiërs, stel Paulus dit nog sterker:

“Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vrymens, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus!”

Daar is iets waaraan jy kan behoort waarin al hierdie vorme van status irrelevant is. Daar is ’n plek waar julle op ’n gelyke vlak kan ontmoet, oog in oog mekaar kan sien.

Wat Paulus hier sê was dus nie ’n common-sense sosiale teorie nie. Dit was ’n gevaarlike idee wat gegrond is in wat Paulus beskou het as die groot geheimenis van God wat ons in Jesus Christus leer ken het: naamlik, dat lidmaatskap tot God se mense nooit kan afhang van enige voorwaardes nie. Inteendeel, in Jesus ontmoet ons God se universele welkom aan alle mense.

Julle roem julle in die gees van die Grieke of die gees van die Jode, maar “ons is almal deur een Gees deurdrenk,” die Gees van Jesus.

As daar ’n Gees is wat hierdie liggaam bymekaarhou en laat lewe dan is dit God se universele welkom aan alle mense. Dit is die patroon, die wet, die ritme van hierdie gemeenskap: welkom!

***

Die motivering en energie en entoesiasme vir hierdie nuwe vorm van behoort, vir hierdie plek waar mense mekaar op ’n gelyke vlak kan ontmoet, kom dus nie van mense af nie, maar van God. Dit is God se inisiatief. God se welkom aan alle mense.

Soos ’n refrein hoor ons hoe Paulus, alles toeskryf aan God se inisiatief:

  • “Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens God se besluit.”
  • “Maar God het die liggaam so saamgestel dat God meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg.”
  • “God het aangewys priesters, profete, leraars ens.”

God plaas elke ledemaat presies waar God vir hom of haar wil he. Of en waar jy behoort in hierdie liggaam, hang dus nie af van mense se bepalings of veronderstellings nie, maar van God se besluit om alle mense te verwelkom.

Hierdie teologiese oortuiging het verrykende praktiese gevolge.

Want as daar een ding is wat jy verseker van jou vreemde, onaantreklike, ongehoorsame, moeisame mede-Christene weet, dan is dit dat God hulle hier verwelkom het, dat God hulle baie graag hier wil hê.

***

Maar die liggaam metafoor neem dit nog verder. Die welstand van hierdie organisme wat ons is, die gesondheid van die geheel is afhanklik van die welstand en betrokkenheid van elkeen van die ledemate.

Ons houding teenoor mekaar reik dus dieper as verdraagsaamheid en diensbaarheid. As ledemate van ’n liggaam word ons houding teenoor mekaar bewondering en ’n dankbare afhanklikheid.

Die siekte van een ledemaat is die siekte van die hele liggaam, net soos die vreugde van een ledemaat die vreugde is van die geheel. As een seerkry kry almal seer; as een floreer, floreer almal.

En dit is waar Paulus se gebruik van die liggaam metafoor so uniek is. Daar was natuurlik ook ander stemme wat die liggaam as ’n metafoor vir die samelewing gebruik het.

Daar was byvoorbeeld ’n Antieke Romeinse geskiedkundige van voor Paulus se tyd, wat vertel het van ’n dag toe die oproerige werkers van Rome in protes in die stadsplein betoog het. Hulle is uiteindelik bedaar toe iemand opgestaan het en vir hulle ’n preek afgesteek het oor hoe hulle, net soos almal wat in die stad woon, noodsaaklik is tot die welstand van Rome. Daarom moet hulle skouer aan die wiel sit en hulle deel doen vir Rome.

’n Mens kan onmiddellik sien hoe dit ’n ander gebruik is van die beeld as wat ons by Paulus teëkom. Laat ek afsluit deur hierdie voorbeeld langs ’n meer hedendaagse voorbeeld te plaas.

Dit is nie moeilik om jou voor te stel hoe die besturende direkteur van ’n groot maatskappy vir ’n skoonmaker van die geboue sê: “weet jy wat, ons sou nie ons werk kon doen sonder jou bydrae nie.”

Dit sou egter iets anders wees as die besturende direkteur vir die skoonmaker vra vir hulp deur te sê: “Ek het jou meer nodig as net waarvoor jy aangestel is. Ek het jou persoonlike ondersteuning nodig.”

Net soos dit iets anders sou wees as die BD vir die skoonmaker sê: “Jou seun se motorfietsongeluk is ’n saak wat ons almal raak; wat kan ons doen om jou te ondersteun?”

Net soos dit iets anders sou gewees het as die skoonmaker vir die BD sê: “Ek weet dat jou egskeiding vir jou en jou familie ’n helse slag en ’n groot verlies was. Ons dink aan jou.”

Of verbeel jou die BD sê vir die skoonmaker: “Ons moet van jou af weet wat jy dink billik of onregverdig is aan die manier waarop hierdie maatskappy bedryf word. Ons belowe om dieselfde agting aan jou stem te verleen as enige ander stem. Ons belowe om nie net te luister nie, maar daarvolgens op te tree.”

***

Julle is die liggaam van Christus.

Dit is meer dinamies en wederkerig as om te sê: “elkeen het hulle deel om by te dra, selfs die minste.”

Dit is eerder ’n geval van: Elkeen het ’n gawe om te gee. Elke persoon het elke ander persoon se gawes nodig. Elkeen se probleem of pyn is elke ander persoon se uitdaging en seer. Elkeen verdien eer, elkeen verdien beskerming en sorg. Dit is wat dit beteken om deur een Gees deurdrenk te wees.

Mag ons al hoe meer ontdek dat dit is wie en wat ons ten diepste is. En mag ons al hoe meer word wat ons ten diepste is.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.