Lukas 4:14-30

03 Februarie 2019

Vierde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Ek wonder of dit nie ’n belewenis is waarmee meeste van ons sal kan identifiseer nie. Ek verwys na die ervaring van ’n moeilike tuiskoms, ’n tuiskoms waarin ’n mens anders terugkom by die huis as wat jy van die huis af weggegaan het.

Dink ’n bietjie daaraan…

Dit kan mos moeilik wees om, nadat jy weggegaan het, terug te gaan na die plek toe waar jy grootgeword het, om terug te gaan na die mense toe wat jou grootgemaak het, wat jou gevoed en versorg het, wat jou stink-doeke vir jou omgeruil het.

Hulle ken jou storie. Hulle weet waar jy vandaan kom. Hulle ken jou in jou weerloosheid. Hulle het jou al op jou kaalste en swakste gesien. Hulle ken waarskynlik ’n hele paar vernederende stories oor jou.

En juis daarom, omdat hulle jou ken, kan dit so ontsettend moeilik wees om anders terug te gaan huis toe as wat jy daar weg is.

***

Daar kom ’n tyd waarop ’n mens die huis moet verlaat, juis sodat jy, in gesprek met die wêreld, kan verander. Die afstand tussen jou en die huis word die ruimte waarin jy opnuut kan verken wie jy is. Omdat niemand jou ken nie, kan jy met verskillende sienings van jouself eksperimenteer, verskillende ekke aanpas, en mettertyd jou eie stem ontdek, ontdek wat vir jou belangrik is, wat jou gawes is, waartoe jy geroep is.

Dikwels gaan hierdie weggaan gepaard met ’n hele klomp kleiner veranderings: ’n nuwe haarstyl, nuwe kleredrag, ’n nuwe dieet, nuwe vriende, nuwe perspektiewe, nuwe horisonne.

Soms is dit eers met jou tuiskoms dat jy agterkom hoe vinnig, hoe groot, en hoe diep die verandering was. Jy het natuurlik die veranderings in jou lewe en die verskuiwings in jou gedagtes as vanselfsprekend aanvaar. Jy het onderskat hoe groot jou eie gedaanteverwisseling werklik was. Maar vir die mense wat jou tuis ontvang, lyk jy anders, praat jy anders, eet jy anders, dink jy anders.

Jou politieke sienings het intussen verander – jy deel nie meer die perspektiewe wat so vanselfsprekend aanvaar was in die huis waarin jy grootgeword het nie. Wie God vir jou is, jou geloofsoortuigings en spiritualiteit, dit het ook verander. Deur persoonlike belewenisse en deur na ander mense se sienings te luister, het jy oortuig geraak van nuwe waarhede, het jy ontnugter geraak oor ’n paar ou bekende waarhede; jy het vars taal gevind vir wat altyd so moeilik was om uit te druk. Ook as ’n seksuele wese het jy verander of miskien net ontwaak. Wie jy liefhet, met wie jy intiem is – wie se hand jy vashou – is dalk anders as toe jy weg is.

Hierdie mense na wie jy teruggaan mag dalk familie wees, dit mag dalk dieselfde huis wees… en tog kan so ’n tuiskoms ’n belewenis van diepe vervreemding wees – asof julle van verskillende planete af kom. Dit kan voel asof ’n onoorbrugbare kloof tussen julle oopgeskeur het. En dit kan seermaak. Dit kan ’n hartseer en ontnugterende ervaring wees. ’n Tiepe eensaamheid kan in jou hart groei, selfs al is jy by ‘jou mense’.

Jy kom by die huis en jy is veras dat hierdie mense nog presies dieselfde dinge doen, op die maniere waarop dit nog altyd gedoen is, dieselfde dink en dieselfde goed sê. En jy wonder, hoe kan dit wees? Soms voel dit asof hiérdie plek en die mense wat dit bewoon in ’n tiepe ‘time-warp’ vasgevang is, ’n vakuum waarin tyd stilgestaan het. Dan kan dit moeilik wees om nie met ‘n stille oordeel en verwyt na hulle te kyk nie.

Om tuis te kom – veral om anders tuis te kom – kan moeilik wees. Vra maar vir Jesus, wie se tuiskoms in Nasaret een van geweld en verwerping was – amper sy lewe gekos het.

***

Soos ons, moes Jesus ook eers die huis verlaat om te ontdek wie hy is.

Dit was ’n lewensveranderende ervaring toe ’n jong Jesus saam met armes en sondaars van elke skakering, insluitend heidene soos die Romeinse soldate, en volks-verraaiers soos die tollenaars, in die modderige waters van die Jordaan-rivier gedoop is.

Ons is ’n paar weke gelede weer aan daai gebeurtenis herinner – oor hoe die Heilige Gees op Jesus neergedaal het en ’n hemelse stem vir hom herinner het aan sy diepste identiteit as ’n geliefde kind van God. Dit was die begin van ’n nuwe avontuur en die kern-belewenis wat sy hele publieke loopbaan sou bepaal en oriënteer.

Die water het skaars op sy rug droog geraak of dieselfde Gees jaag vir Jesus in die woestyn in sodat die watermerk van sy doop, as ’n geliefde kind van God, goed in sy diepste wese uitgedroog kan raak. Vir veertig dae moet Jesus die versoeking weerstaan om iets anders te wees as wat hy voor God is; en na veertig dae in die woestyn kon hy steeds sê: “Ek is ’n geliefde kind van God, ek is iemand in wie God groot vreugde vind. Ek behoort nie aan enige iemand, behalwe aan God nie.”

Maar tussen hierdie twee groot gebeurtenisse wat so bepalend is vir Jesus se identiteit, tussen se doop en sy versoekings, onderbreek Lukas op ’n vreemde manier die vloei van sy eie vertelling deur vir ons Jesus se geslagsregister voor te lees.

Dis asof Lukas vir ons wil sê: daar is ’n verband tussen Jesus se doop, sy versoeking om iemand anders te wees as wat in sy doop bevestig is, en waar Jesus vandaan kom, waarheen Jesus sou gaan indien hy die dag huis te wil gaan. Lukas herinner ons dat daar ’n diepe verband is tussen wié ons is, en wáár huis vir ons is.

So, waarheen gaan Jesus as hy wil huis toe gaan? Waar kom hy vandaan? Wat staan in Jesus se geslagsregister?

(Wanneer die dominee ’n woord soos ‘geslagsregister’ sê, was dit altyd vir my ’n teken dat ek vir so 5 minute kan uit-zone)

So, ek sal julle nie met die hele geslagsregister verveel nie, maar net julle aandag vestig op een klein detail, en dit is tot hoe vêr terug dié geslagsregister strek:

Lukas se weergawe van Jesus se stamboom strek al die pad terug; verby sy vader Josef en sý voorouers wat nog ’n band kon gehad het met Nasaret; verby Koning Dawid en sý voorouers wat nog ’n band met Israel as ’n monargie kon gehad het; verby Abraham, die man van Ur en die voorouer van die hele Joodse volk… verby al hierdie beperkte beskouings van waar Jesus se huis is, kring sy stamboom weier en weier uit, totdat dit uiteindelik sê, “seun van Adam,” seun van die mens, ’n mens onder mense, ’n kind van die hele menslike familie. En dan eindig die register met die belangrikste merker oor waar Jesus sal gaan as hy werklik tuis wil wees: “seun van God.”

***

Kind van Adam, kind van God. Dit is nie hoe ons tipies ons stambome weergee nie. En dít beleef Jesus op ’n pynvolle manier wanneer hy teruggaan Nasaret toe, na die mense wat hóm gesien grootword het, die mense wat hom ken.

Aanvanklik gaan dit nie te sleg nie. Op die oppervlak lyk dit of dit heel goed gaan. By die plaaslike sinagoge, kry Jesus ’n geleentheid om uit die skrif te onderrig. Die mense van Nasaret is vol afwagting want hulle het gerigte gehoor oor hoe hulle hometown boy in die hele streek naam gemaak het as ’n prediker en as ’n geneser.

Dit is die eerste keer in die Lukas-evangelie wat ons vir Jesus hoor preek of onderrig. Ons kan dit beskou as ’n tiepe manifes – ’n eerste geleentheid waarop Jesus sy boodskap, sy droom, sy visie aan mense bekend maak en hulle uitnooi om hom daarin te volg.

“Die Gees van die Here is op My;
want Hy het My gesalf
om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.
Hy het my gestuur om vir
gevangenis aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word
en vir blindes dat hulle weer sal sien;
om onderdruktes te bevry,
en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Die genadejaar van die Here het aangebreek, sê Jesus. Op daardie stadium was die genadejaar beskou as ’n ou, uitgediende deel van die Joodse tradisie. Dit was so radikaal dat mens kan verstaan hoekom mense dit as ‘uitgedien’ wou beskou.

Dit was die idee dat daar elke 50 jaar ’n herverdeling van die volk se rykdom sou plaasvind. Op die vyftigste jaar sou almal wat aan iemand anders geld skuld vrygestel word van hulle skuld. Alle slawe sou hulle vryheid ontvang. Dit is inderdaad ’n goeie boodskap aan armes, aan onderdruktes, aan gevangenis, aan blindes wat in aanraking met Jesus sou kom.

En dan wanneer Jesus gaan sit, om hierdie gedeelte uit te lê, sê hy eenvoudig:

“Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”

Vandag is dit vervul, sê Jesus, terwyl julle na hierdie woorde geluister het. Dit is ’n moeilik om te verstaan wat presies Jesus deur hierdie woorde bedoel het. Want soos ons weet, het die genadejaar nie aangebreek nie in die sin dat die volk se skuld vrygestel is nie; daar was steeds blindes, daar was steeds gevangenis, daar was steeds onderdrukking.

Een moontlike uitleg hiervan, is dat Jesus vir die gemeenskap sê: hierdie droom van God kan vandag ’n werklikheid wees – julle het alles tot julle beskikking om hierdie visie van God, van ’n gelyke, regverdige, vrye samelewing ’n werklikheid te maak. Moenie vasgevang bly in die patrone van die verlede nie; moenie dink dit gaan oor eendag of oor ’n hemelse werklikheid wat nooit sal aanbreek nie – vandag is hierdie gedeelte van die Skrif vervul. Alles wat julle nodig het, is byderhand – die vraag is: waar lê julle harte?

Hoe dit ook al sy, die mense van Nasaret was in hulle skik oor hierdie boodskap van genade en bevryding. Hulle het immers self gely onder die swaar juk van ’n onregverdige politiese bewind wat in stand gehou is deur die Romeinse ryk en die Joodse elites in Jerusalem.

Die mense was so trots op Jesus, so aangespreek deur sy boodskap, dat hulle ook weer sy geslagsregister oproep: “Hy is tog maar net die seun van Josef?”

Dit is mos Josef, die skrynwerker se seun? Hy is mos een van ons? Het julle gehoor wat hy alles in Kapernaum gedoen het? Dis goed dat hy huis toe gekom het, daar is baie om gedoen te word…

Hoe vergelyk dit met die geslagsregister wat Lukas vir ons van Jesus gegee het?

***

Maar dan weier Jesus om tuis te kom soos daar van hom verwag word om tuis te kom. Jesus weier dat hulle die lang stamboom, waaraan hy in sy doop herinner is, só te verkort. Hy is nie “maar net die seun van Josef nie.” Hy is ook die seun van Adam, die seun van God.

Dit kom tot ’n punt waar Jesus vir hulle moet sê: “Ek behoort nie aan julle nie. Ek is nie julle eiendom nie. Julle kan my nie vir julle eie agendas aanwend nie.”

Om die boodskap duidelik oor te dra, herroep Jesus twee stories uit Israel se verlede, oor hoe God se guns, deur die profete Elia en Elisa, nie beperk was tot Israel se eie mense nie, maar juis geval het op vreemdelinge, selfs vyande.

Tydens ’n hewige stryd met die profete van Baäl, het Elia kos voorsien aan ’n weduwee uit Sarfat – die omgewing waar Elia se grootste vyand, Isebel, vandaan gekom het. En, selfs tydens ’n tyd van konflik en oorlog tussen Israel en Sirië, het Elisa vir Naäman, die generaal van Sirië se weermag, van sy melaatsheid genees.

God se welkom, God se genadejaar, God se sorg en genesing, is vir alle mense, beginnend met Adam, beginnend met wie nie by jou sal tuis voel nie, beginnend met almal wat deur jou bedreig voel, beginnend met almal deur wie jy bedreig voel, beginnend met jou vyand.

Deur hierdie verhale te herroep weier om tuis te kom in die mense van Nasaret se noue verstaan van gasvryheid, waarin ons net hulle verwelkom wat ons weer kan terug verwelkom; net vir hulle sorg wat iets het om vir ons te bied.

Hy weier om tuis te kom in hulle pogings om laer te trek om hulle eie mense. Hy weier om net sy eie mense se belange te beskerm – al voel hulle dit hulle bedreig word en daarom geregtig is op God se beskerming.

Hy kritiseer hulle siening van ’n tuiste, waarmee hulle vir hom en vir God wil domestiseer deur hom ’n reeds uitgewerkte rol te laat speel.

En wanneer hy so weier om tuis te kom. Wanneer hy dit durf om anders terug te kom as wat hy daar weg is; wanneer hy dit durf om nie te hou by hulle verwagtings van hom nie, dan raak hulle skielik woedend, wil hulle hom met geweld stilmaak.

***

Ek wonder hoe jy vanoggend hierdie verhaal hoor?

Ek wonder watter deel van hierdie storie oor jou gaan?

Ek wonder met wie jy in hierdie vertelling assosieer?

Laat ek eindig deur met julle twee perspektiewe te deel wat hierdie verhaal by my opgeroep het.

Die eerste betref hoe ons op ’n interpersoonlike vlak kan beleef hoe moeilik dit is om anders tuis te kom as wat ons by die huis weg is.

Die vraag waarmee ek julle in die verband wil laat, is wat hierdie verhaal vir jou kan leer oor die manier waarop jy tuiskom? Is jou strategie gewoonlik om maar die veranderinge wat jy voor God en die wêreld ondergaan het weg te steek? Is dit om met oordeel en verwyt te kyk na die mense wat lyk asof niks by hulle verander het nie? Is dit om hulle met argumente te probeer oorreed van jou nuwe insigte?

Is daar dalk ’n beter manier om jou weg deur so ’n moeilike tuiskoms te vind?

Maar ook vanuit die hoek van hulle wat reeds tuis is: hoe kan hierdie storie jou help om mense só tuis te verwelkom dat hulle toegelaat word om anders terug te kom as wat hulle weggegaan het? Hoe maak ons ruimte vir die veranderings wat God besig is om in ander mense te maak, en wat God dalk deur hulle in jou wil maak?

Die tweede perspektief betref hoe ons as die kerk, as mense wat onsself Christene noem, vir Jesus in ons eredienste en huise en harte verwelkom.

Word Jesus in die proses maar ‘net een van ons’, soos wat hy in Nasaret ‘maar net die seun van Josef’ geword het? Identifiseer ons so maklik ons eie mense met Jesus dat dit vir ons moeilik raak om hom raak te sien in gesigte wat ons nie herken en nie by ons sal tuis voel nie?

Wat sou dit van ons vra om altyd die lang weergawe van Jesus se stamboom te onthou? Wat sou dit van ons vra om te onthou dat die lang weergawe van Jesus se stamboom, uiteindelik ook my stamboom is, uiteindelik ook die stamboom is van elke medemens?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.