Lukas 6:17-26

17 Februarie 2019

Sesde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Ons is saam met die skrywer van Lukas op reis deur Jesus se lewe.

Die laaste keer wat ons vir Jesus gekry het, was hy byna doodgemaak deur sy eie mense, toe hy in sy tuisdorp Nasaret die goeie nuus aan armes verkondig het.

Daarna volg ’n hele reeks vertellings oor genesings, waarin Jesus een na die ander persoon in hulle nood sien en met barmhartigheid reageer om heling en verlossing te bring.

In die proses begin ’n groot groep dissipels om vir Jesus te volg; mense wat hom wil nadoen, wat by hom wil leer. Nou, in die teenwoordigheid van ’n groot skare mense wat om hom en sy dissipels saamdrom om na Jesus te luister en deur hom genees te word, begin Jesus vir hulle leer wat hulle dissipelskap gaan behels.

Anders as in Matteus se evangelie, waar hierdie gedeelte bekendstaan as die bergrede, sê Lukas vir ons dat Jesus se lesings onder in die vlaktes, op ’n gelyke voet met die skares desperate mense plaasgevind het.

Daar rig hy sy oë op sy dissipels; sy gesig skyn op hulle, en hy sê:

Geseënd is julle wat arm, honger, hartseer en vervolg is.

Ellende wag vir julle wat ryk, versadig, gelukkig en gewild is.

***

Toe ek en die Bybelstudiegroep die afgelope week na vanoggend se skrifgedeelte geluister het, was ons vir die meeste van die tyd in die duister oor hoe ons hierdie woorde van seën en ellende in ons harte en in ons lewens kan ontvang.

Vir my was een van die struikelblokke dat ek myself in die kolom van ellende bevind het. Ek is ryk. Ek is versadig. Ek kan sonder sorg lag. Ek geniet aansien en aanvaarding.

My eerste reaksie was: oraait, hoe kan ek myself uit hierdie kolom van ellendiges wikkel, sodat ek ook in die geselskap van die geseëndes kan wees?

Maar dit is wat hierdie woorde so merkwaardig maak, wat dit so ontstellend maak: Ek kon dit nie regkry nie.

Want geen persoon kies armoede bo rykdom nie; niemand kies hongersnood nie. Niemand wil treur nie. Daar sal iets fout wees indien ek graag vervolging en verwerping gaan opsoek.

Tensy Jesus nie met hierdie woorde letterlike armoede en hongerte en verdriet en vervolging bedoel het nie…

Onmiddellik blaai ek om na Matteus se evangelie, want daar is mos ook saligsprekinge. Matteus se weergawe is langer as Lukas s’n en boonop voeg hy nie die reeks ellendes by wat so konfronterend en verontrustend is vir iemand soos ek wat in die boonste 10% van die wêreld se rykste mense is nie.

By Matteus word Jesus se seëninge vergeestelik: Geseënd is julle wat arm van gees is. Geseënd is julle wat honger en dors na geregtigheid. Dit klink meer haalbaar; want kyk, as God se seën afhang van ’n sekere ingesteldheid, soos om te verlang na geregtigheid, of om sagmoedig te wees, of om rein van hart te wees, dan kan ek dalk iets doen om van die ellendiges te beweeg na die geseëndes.

So was my eerste poging tot verstaan om Jesus se saligsprekinge te vergeestelik of te moraliseer; om dit as voorskrifte te verstaan vir hoe ek moet lewe. Want as ek dit kan regkry is daar dalk iets wat ek kan doen om my saligheid te verseker.

Maar dit is nie moontlik met Lukas se weergawe nie.

Jesus is nie hier besig om voorskriftelik te praat nie. Daar is nie ’n enkele gebod of verbod in sy saligsprekinge nie; geen moets of moenies nie.

Dit gaan ook nie oor ’n sekere ingesteldheid wat jy in jou binneste kan koester nie. In teenstelling met Matteus het Lukas baie uitdruklik gekies om so ’n interpretasie te vermy. Jesus sê eenvoudig: “julle wat honger is. Julle wat arm is. Julle nou-nou treur.”

Dit pas ook by Lukas se evangelie in sy geheel; telkens rig hy ons aandag op sake van brood en botter, en dalk is dit hoekom Lukas sê dat Jesus sy lesings onder in die plein aanbied – op gelyke voet met die armes en die hongeres, met die moedelose en treurende massas.

So, as dit nie gaan oor ’n geestelike ingesteldheid waardeur ek God se seën kan verseker nie, as Jesus nie hier besig is met ’n les in moraliteit nie, wat is hy dan besig om te doen wanneer hy daar onder in die plein vir arm, honger, hartseer en vervolgde mense sê dat hulle geseënd is; en vir die paar rykes wat daar is, wat genoeg het om te eet en sorgvry kan lag, dat ellende op hulle wag? Wat gaan hier aan?

***

Om hieroor meer duidelikheid te kry, is dit belangrik dat ons Jesus se woorde van seën en ellende binne die breër konteks van Lukas se evangelie plaas.

Maar voordat ons dit doen… Ek hoop julle het iets agtergekom oor hoe ek aanvanklik probeer het om die teks te interpreteer.

Hierdie eerste pogings om die teks te verstaan was deur en deur in my ego gesetel.

My ego wat smag na sekuriteit en beheer. My ego wat honger en dors na invloed en mag. My ego wat hartstogtelik verlang na aanvaarding en bevestiging.

Die grootste struikelblok tussen my en God se goeie nuus, is my ego.

Daarom is dit so moeilik vir my om te aanvaar dat ek dalk onder die ellendes getel kan word. Daarom is dit so moeilik vir my om te aanvaar dat ek dalk niks kan doen om God se seën te wen nie, dat ek dalk geen beheer het oor God se seën nie.

Dat Jesus die arm, honger, moedelose en vervolgde mense wat voor hom staan geseënd noem – mense wat hulleself net as ellendig ken, en dalk lankal opgehou het om te glo dat hulle dalk ooit God se seën sal ken, mense wat nooit gekies het om arm te wees nie en nog minder in staat is om hulle eie welvaart te kies – dat Jesus vir húlle seën en vir hulle ’n nuwe toekoms belowe het my minder opgeval as die waarskuwing dat ek dalk meer ellendig is as wat ek dink.

***

Die skuif om Jesus se saligsprekinge binne die breër storielyn van Lukas se evangelie te plaas, is dus ook ’n poging om myself in God se storie te plaas, eerder as my egosentriese poging om vir God in my storie te probeer inpas.

Die hart van die saak vir Lukas is hoe God se koninkryk van liefde en barmhartigheid in die wêreld inbreek om dit heel te maak.

Van die begin af, sien ons hoe God ander werk as ons, wanneer hy sy seën laat rus op Maria, ’n tiener meisie sonder aansien, sonder mag of welvaart. So gebeur dit iewers in ’n afgeleë dorpie, iewers aan die gatkant van die magtige Romeinse ryk, dat God in ons wêreld gebore word.

In ’n wêreld waarin daar ’n tekort aan alles is, waarin daar nooit genoeg is nie, waarin ons nooit genoeg kan kry nie, begin hierdie God-mens Jesus om ’n boodskap van oorvloed te verkondig

Jesus verkondig God se genadejaar aan die armes, hy genees mense van hulle siektes, omskep hulle trane en vreugde, hy voed hongeres. Op al hierdie maniere kom God se ryk.

Daarom sal dit die gruwelikste misverstand wees om te dink dat Jesus daar in die plein besig was om armoede, of hongerte, of verdriet, of vervolging te romantiseer.

Inteendeel! Van die begin van Jesus se openbare loopbaan sien ons hoe hy alles in sy vermoë doen om mense van hulle armoede en hongersnood te red; om mense se verdriet in vreugde en verligting te omskep.

Jesus sê nie hier vir ons iets oor armoede en hongerte ens. nie. Hy sê vir ons iets oor God. Hy wys vir ons God se hart. Jesus gee vir ons ’n blik gee op die karakter van God.

So word ons uitgenooi om met vars oë na die werklikheid te kyk, nie vanuit ons eie egosentriese perspektief te kyk, maar in die lig van die breër storielyn van God se ryk.

Vanuit my egosentriese perspektief, kyk ek om my rond en probeer om die wêreld te verklaar. Ek beskou suksesvolle mense as geseënde mense; mense met wie dit sleg gaan as ellendige mense.

In my pogings om sin te maak van die onreg en ongelykheid, van die skrynende armoede, van my eie oorvloed in die aangesig van ander se tekort, trek ek dan selfs vir God nader. Dalk is dit God se wil dat dinge is soos wat dit is. Dalk het God dit so bestem.

’n Mens sien dit die duidelikste in kerk wat ’n welvaartsteologie verkondig. Ons, met reg, krities en uitgesproke oor sulke kerke; maar dalk is vanoggend se skrifgedeelte ook ’n geleentheid vir self-refleksie: leef daar nie dalk ’n vorm van hierdie welvaartsteologie in ons eie harte nie?

Jesus se saligsprekinge laat dit nie vir ’n oomblik toe nie. Deur ons gewone skema van seën en ellende onderstebo te draai, hoor ek vir Jesus sê: “moet dit nie durf om armoede in God se naam te regverdig nie.

As julle God se wil soek, kyk na my. Ek sal vir julle God se karakter wys. Ek is besig om God se koninkryk onder julle te laat deurbreek en ek nooi julle uit om hieraan deel te neem.”

God gee sy koninkryk vir die armes, sodat hongeres gevoed kan word. God se belofte is om elke traan van iemand wat treur se wange af te vee.

As daar armoede en hongersnood en moedeloosheid en vervolging is, dan is dit nie omdat dit God se wil is nie. Jesus stel dit duidelik: God belowe die genesing van ’n gebroke wêreld wat deur sonde geskend is.

***

Wat dan van Jesus se voorspelling dat ellende wag op ons wat ryk en versadig is? Weereens is dit belangrik om dit in die breër storielyn van Lukas se evangelie te plaas.

Maar van die begin van God se verhaal is daar mense wat nie hierdie boodskap van oorvloedige barmhartigheid as goeie nuus kan hoor nie.

Hulle is te ingebed in die stelsel wat hulle van armoede en hongerte en tragedie en vervolging beskerm. Hulle word bedreig deur hierdie boodskap van ’n onderstebo wêreld waarin armes die toon aangee en hongeres versadig sal word met alles wat hulle het.

Hulle trek voordeel uit die huidige stand van sake en voel dalk steeds nie tevrede met hoe dit gaan nie. Hulle het steeds iets om te wen binne die huidige spelreëls; en te veel om te verloor indien die wêreld dalk sou verander.

Daarom slaan hulle terug: van Herodes, wat die kindjies vermoor wanneer hy die wyse manne se voorspelling hoor, tot Jesus se mense in Nazareth wat hom wou vermoor toe dit blyk dat God nie ’n pion in hulle storie wou wees nie.

Die evangelie, die goeie nuus, is realisties oor die houvas wat sonde op ons het, oor hoe dit ons blind maak, en selfs vyandig kan maak teen God barmhartigheid. Die koninkryk van God mag dalk ander-wêrelds wees; dit mag dalk ’n aktiewe verbeelding verg; maar moenie dink dit is naïef nie.

Daarom dat Maria se loflied, waarmee sy vir God loof nadat sy deur die engel Gabriel besoek is, nie net vir God loof omdat hy nederiges soos haarself oplig en met aansien beklee nie, maar ook omdat God die trotses van hulle trone afruk.

Daarom dat Jesus ook die reeks ellendes uitspreek aan die rykes, nadat hy die armes geseën het.

Ek het vroeër gesê dat die saligsprekinge nie armoede en hongerte en hartseer romantiseer nie; maar dit is ook belangrik om in te sien dat dit ook nie die teenoorgestelde doen nie. Jesus is nie hier besig om rykdom en goeie kos en blydskap nie te demoniseer nie.

Ek hoor vir Jesus sê: daar is ’n waarheid oor God en oor dissipelskap wat ek nie uit my lewensomstandighede sal kan aflei nie. Daar is grense aan my egosentriese bestaan en perspektief wat ek ernstig moet neem. Daar is perke aan wat my nimmer eindige soeke na sekuriteit en invloed en aanvaarding kan hoop om vir my en ander te bied.

My welvaart, my mag, my aansien in die gemeenskap – dinge wat die wêreld as tekens van God se seën beskou, mag dalk juis die dinge wees wat my doof maak om God se seëninge as goeie nuus te hoor; wat my verhoed om deel te neem aan God se seën vir en heling van ’n gebroke wêreld.

***

Mag God jou seën met ongemak oor eenvoudige antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings, sodat jy vanuit die diepte van jou hart kan leef.

Mag God jou seën met woede oor onreg, en die uitbuiting en onderdrukking van mense, sodat jy met ywer sal werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag God jou seën met trane om te stort vir hulle wat ly aan pyn, verwerping, hongersnood en geweld, sodat jy met troos sal uitreik om hulle pyn in vreugde te omskep.

Mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat God deur jou kan doen wat ander beweer onmoontlik is.