Markus 10:35-45

24 Februarie 2019

Sewende Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Lenois Stander

So bietjie meer as ‘n maand terug het Kerkbode, die kerkkoerant van die NG Kerk, berig oor die resultate van die onlangste koppetelling in die NG Kerk.

Die jongste data sê die aantal belydende lidmate het die afgelope jaar afgeneem met amper 21 000. Dit bring die totale aantal lidmate op 691 000, en die aantal dooplidmate op amper 190 000.

Hierdie nuuste syfers was nie voorheen vir die publiek beskikbaar nie, so kort nadat Kerkbode dit bekendgemaak het, het ander nuuskanale dit opgetel. Die opskrif in die Burger was:

“NG Kerk se lidmate val in 19 jaar met bykans 25%”

Ek is nie heeltemal seker waarom hulle nou juis gekies het om na die afgelope 19 jaar se daling te kyk nie. Seker omdat dit ‘n heelwat beter opskrif maak as:

“NG Kerk se lidmate val in 2018 met 2,5%”

So die opskrif was ‘n bietjie sensasioneel, maar die beriggewing was basies korrek: Die NG Kerk verloor lidmate en mense stem nie heeltemal saam oor die redes nie. Op sosiale media het baie mense saam gespekuleer elkeen met sy eie teorie oor die wérklike rede waarom die NG Kerk aan die krimp is.

Is dit emigrasie of ‘n dalende geboortesyfer, soos sommiges aanvoer?

Of is dit eerder ‘n gevolg van die feit dat die tradisionele begrip van lidmaatskap nie meer sin maak nie, omdat mense tussen gemeentes beweeg?

Ander mense sê die Kerk het eenvoudig irrelevant geword vir moderne gelowiges. Mense stel nie meer belang in wat die dominee sê as jy sommer self kan Google nie.

Sommige mense dink die NG Kerk se hantering van die gay-debat die afgelope aantal jare het groot skade aangerig. Ek vermoed mense aan beide kante van die saak, dink soms so.

Ander sê die NG Kerk het sy teologiese legitimiteit, sy integriteit, verloor toe hy ‘n teologiese begronding vir apartheid verskaf het.

En nog ander mense dink die Kerk se tyd is eenvoudig verby: dat dit te verwagte is dat die NG Kerk – en alle kerke – sal krimp in ‘n sekulêre samelewing waar dit nie vir almal duidelik is waarom hulle vir God nodig het nie.

Maar wat vir my meer interessant was as die spekulasie oor die REDES vir die krimping van die kerk, was die styl, die toon, waarin mense aan die gesprek deelgeneem het.

Uit baie se kommentaar het dit helder geblyk dat hulle bly is dat die kerk krimp.
En alhoewel hierdie “kry-vir jou” houding in sommige gevalle ongenuanseerd of onbillik mag wees, dink ek dit kom in baie gevalle van goeie getroue lidmate wat iewers lang die pad ernstig seergekry het.

Seergemaak deur ‘n onsensitiewe dominee, ‘n moeilike kerkraadvoorsitter, ‘n rassistiese medegelowige, ‘n eng sinodebesluit, ‘n kwaai kerkkantoortannie, of sommer net die ontnugtering om te ontdek dat ook die kerk nie perfek is nie.

Baie lidmate, of voormalige lidmate, loop rond met letsels – die stil getuienis van die feit dat die kerk daartoe in staat is om wonde te maak.

Wat kan die kerk, wat kan ONS doen om seker te maak dat ons nie mense verwond en vervreem nie? Wat is die gemene deler in gevalle waar gelowiges seer-maak, eerder as heel-maak? Hoe kan ons wat deel is van hierdie kerk, leer uit ons foute?

My beste raaiskoot is dat TE VEEL MAG feitlik altyd ten minste ‘n groot deel van die probleem is.

Dit laat my dink aan ‘n aanhaling uit die 2002 Spiderman-fliek wat byna die status van ‘n cliché bereik het. Peter Parker, oftewel Spiderman se Oom sê vir hom:

“With great power comes great responsibility”.

Soos dit met die meeste clichés is, steek daar dalk heelwat waarheid hierin. Want hoe meer mag jy het, hoe minder mense is daar wat oor jou skouer loer om jou reg te help wanneer jy voor die versoeking staan om jou mag onbehoorlik te laat geld.

Dink maar aan die regeerders van ons eie land, die politici wat soms spreekwoordelik met moord wegkom. Dit is moeilik om versoekings te weerstaan as jy soveel mag het dat jy weet jy kan met misbruik wegkom.

Is dit moontlik vir ‘n kerk om té veel mag en invloed te hê? Is dit moontlik vir ‘n kerk om té groot te word?

Jaco Strydom, ‘n dominee van Pretoria, skryf ‘n rukkie terug in die koerant. Hy vra:

“Waarom is die impak van die groot kerk van vandag kleiner as die impak van die klein kerk van destyds?”

“Waarom gaan dit nie beter in ’n gemeenskap met letterlik ’n kerk op elke hoek nie?”

“Moet daar nie groter vrede wees in ’n land met soveel vredemakers nie? Daar is dorpe met meer kerkgeboue as straatkinders en steeds is die kinders op straat.”

Moeilike vrae, né?

*****

Die onderliggende aanname by amper almal wat kommentaar gelewer het op die nuus dat die NG Kerk krimp – of hulle dit nou vier of betreur – is dat ‘n groot, sterk, magtige kerk, iets is om na te streef, ‘n positiewe mikpunt om te behaal. Want so werk die logika van ons samelewing:

hoe meer invloed, mag of geld jy het, hoe meer suksesvol is jy. In besigheid, in die sosiale arena, in politiek – feitlik orals werk dit so. Wanneer gelowiges hierdie logika op die kerk van toepassing maak, word dit nodig vir die NG Kerk om in die markplek van kerke te kompeteer.

En dan raak ons bekommerd oor die feit dat ons eie denominasie krimp terwyl sommige Charismatiese kerke groei. Plaaslike gemeentes begin om hul sukses te meet aan erediensbywoning, aan die omvang van die gemeente se inkomste, aan hoe dinamies die dominee is, en aan watter welvarende lidmate na die gemeente oorstap.

Wanneer ‘n gemeente of denominasie se sukses só gemeet word, maak dit sin om die krimping van die kerk te vier of te betreur, afhangende van hoe goedgesind jy die kerk is.

Maar dit is nie hoe Jesus gedink het oor die maatstaf van gemeentelike sukses nie. Dit is nie hoe Jesus gedink het oor die kerk se verhouding met mag nie.

Ons sien dit wanneer ons ‘n gedeelte soos Markus 10:35-45 lees, waar Jakobus en Johannes vir Jesus vra om vir hulle die ere-sitplekke, links en regs van Hom, te gee wanneer hy as koning heers.

Kan jy jou dit voorstel, dat jy vir Jesus vra vir ‘n eresitplek?

Selfs Jesus se dissipels, wat soveel ure in sy teenwoordigheid deurgebring het, wat soveel blootstelling aan sy leringe en voorbeelde gehad het, het die aantrekkingskrag van invloed en mag gevoel.

So as ons eerlik is met onsself sal ons antwoord: “Ja, ek kán dit vir myself voorstel. Ek sou waarskynlik ook vir ‘n eresitplek gevra het.” Want ons wéét hoe die aantrekkignskrag van invloed en mag voel.

Maar dan antwoord Jesus met hierdie woorde:

“Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik.
Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Ek dink nie Jesus kon dit sterker gestel het nie, nie in woord óf daad nie. Met hierdie woorde keer hy die dissipels se onderliggende logika wat sê dat mag en invloed die hoogste waarde is, op sy kop.

Nee, sê Jesus, die hoogste waarde is nie mag nie, maar om te dien. “Elkeen wat eerste wil wees, moet almal se dienaar wees.”

Hieroor skryf Neels Jackson, voormalige redakteur van Kerkbode, onlangs in die koerant:

“’n Kerk wat met mag besmet word, verloor hierdie fokus.”

Jaco Strydom maak dieselfde punt op ‘n ander manier wanneer hy opmerk:

“’n Kerk wat probeer floreer is met ander vrae besig as ’n kerk wat, soos Jesus, sy lewe probeer gee vir ’n stukkende wêreld. Dalk het die kerk te veilig en te groot geword om in die donker krake van ’n stukkende samelewing in te pas.”

Dit is alles verskillende maniere om te sê:

Hoe meer magtig ‘n kerk word, hoe minder is hy daartoe in staat om Jesus se voorbeeld te volg, en te dien. Want die kerk bestaan maar uit mense soos ek en jy, mense wat soms swig voor die versoeking van mag, en dit dan verkeerd aanwend.

*****

Kan ons met mekaar eerlik wees oor hierdie tekortkoming van ons? – Dat ons nie immuun is teen die versoeking om ons mag te misbruik nie? Dat die geskiedenis dit reeds vir ons geleer het?

Indien dit so is, is ‘n kleiner, minder magtige NG Kerk nie dalk beter in staat om Jesus se opdrag – om te dien – uit te voer nie?

Dalk is die krimping van die NG Kerk ‘n geleentheid, ‘n uitnodiging vir hierdie kerk om weer tot bekering te kom.

As mens Jesus se argument volg, is ‘n kerk wat weer tot bekering kom een wat leer om vanuit ‘n posisie van weerloosheid die evangelie verkondig. ‘n Kerk wat dít doen, is ‘n kerk met integriteit, is ‘n geloofwaardige kerk.

Jaco Strydom stel dit só:

“Liefde word geloofwaardig wanneer jy so naby kom dat die een vir wie jy sê “ek het jou lief,” jou kan seermaak – in Jesus se geval kon doodmaak.”

Dit is om te sê: Die kerk, en by implikasie elkeen van sy lidmate, sal risiko’s moet loop, net soos Jesus ook die risiko geloop het om seer te kry. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, is die boodskap wat hy verkondig, geloofwaardig. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, ontwapen dit diegene wat op die kantlyn staan en lag. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, beliggaam dit die evangelie.

In praktyk is dit moeilik om te doen, want jy doen dit ten koste van jouself.

Laasjaar het die gemeentes van die Paarl, waarvan my tuisgemeente een is, gehoor dat ‘n ander gemeente van die Noordelike voorstede beplan om ‘n nuwe bediening in die Paarl te begin.

Trouens, die nuwe bediening was reeds op klein skaal aan die gang, en die persone wat die roeping vir hierdie kerkplanting ontvang het, wou gaag hul visie met die gemeentes van die Paarl deel.

Dit was egter interessant om te sien hoe sommige plaaslike gemeenteleiers en predikante, instinktief beskermend gereageer het. Daar het verskeie vrae ontstaan:

Waarom ‘n nuwe kerk begin in ‘n dorp waar daar daar reeds so baie kerke is? Wat gaan die impak op die bestaande gemeentes wees? En natuurlik dink dominees: wat as my gemeente leegloop? Wat word van my bediening?

Hierdie vrae het deur my en sommige kollegas in die ring se koppe gegaan. Want ons het belange om te beskerm. Ons was bang ons mag en invloed en voorregte raak minder.

Maar gelukkig is dit dan ook moontlik om verby hierdie vrae te beweeg en die groter prentjie raak te sien. Dat ons geroep is om te dien. Ja, selfs ten koste van ons eie magsposisies, voordele, gemak, finansiële sekerheid en aansien. Dan is ons ‘n missionale kerk – ‘n kerk wat aansluit by dit waarmee God reeds besig is in die wêreld.

Waar moet ons begin?

Die beste plek om te begin is die nood op ons eie voorstoep. Ons weet goed hoe dit lyk. Kom ons volg Jesus se voorbeeld en was al die stowwerige voete wat hier by ons verbygaan.