Lukas 9:28-43

3 Maart 2019

Sondag van die Verheerliking
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Op hierdie Sondag vier ons wat bekend staan as die Sondag van die verheerliking. In Engels, the feast of transfiguration.

Desmond Tutu vertel graag die verhaal van ’n lewensveranderende belewenis wat hy eenmaal gehad het gedurende hierdie einste fees.

Dit was in die vroeë 1970’s – amper 50 jaar gelede. Dit was donker tye in ons land, sê Tutu. Hy sê dit was tye waarin jy in God sê oor wou fluister: “God, we know You are in charge, but can’t You make it a little more obvious?”

Op dié dag, so veel jare gelede, was hy en ander kerkleiers besig om voor te berei vir ’n moeilike gesprek met die eerste minister. Hulle het ontmoet by ’n teologiese skool wat weens apartheids beleide moes toemaak. Gedurende een van die besprekings het Tutu weggeglip na die tuintjie om daar vir ’n rukkie stil te raak.

Daar, in die tuin, het hy ’n massiewe hout kruis gesien met spykers wat daaruit uitsteek; bo-op was ’n doringkroon.

Hy beskryf die toneel soos volg: “Dit was die einde van ’n lang, droë somer.  Die gras was vaal en droog en niemand sou geglo het dat dieselfde tuintjie binne ’n paar weke welig en groen en mooi sou wees nie. It would be transfigured. Dit sou verheerlik word.”

Hy gaan vêrder:

“As I sat quietly in the garden I realized the power of transfiguration, of God’s transformation in our world. The principle of transfiguration is at work when something so unlikely as the brown grass that covers our veld in winter becomes bright green again. Or when the tree with gnarled leafless branches bursts forth with the sap flowing so that the birds sit chirping in the leafy branches. When winter gives way to spring and nature seems to experience its own resurrection. The whole of creation, nature, waits expectantly for its transfiguration, when it will not be just dry inert matter but will be translucent with divine glory.”

Volgens Tutu, was daardie epifanie in die tuintjie ’n tiepe ommekeer in sy lewe – ’n bekeringsoomblik. Dit was ’n bekering wat dit vir hom moontlik gemaak het om die gruwels van die politieke situasie waarin hy homself keer na keer bevind het met nuwe oë te aanskou.

“Since then,” sê hy, “I have witnessed time an again the improbable redemptions that are possible in our world.”

Die epifanie, die visioen was maar vir ’n oomblik; maar sy visie dra nou nog vrug. Daardie oomblik was iets waarheen hy deur al die jare se diens en protes en baklei keer op keer na toe kon terugkeer as ’n bron van krag en bemoediging.

***

Hoe nodig het ons nie ook vandag so ’n visie, so ’n epifanie, so ’n ommekeer nodig nie?

Want – sonder om onsself uit te sonder, of om dramaties te wees: ons lewe ook in donker tye – tye waarin dit nie aldag duidelik of vanselfsprekend is dat God in beheer is nie.

Ek gaan oor die lang klaaglied wat ek nou kon voordra skip. Julle ken elkeen die laste wat julle dra. Wat julle naastes dra. Wat die armes die swaarste dra. Julle lees almal die koerante.

Die vraag is: waar bevind ons onsself in verhouding tot die skadu’s van die wêreld waarin ons leef?

Wat doen ek met die angs en die vrees? Hoeveel ruimte gee ek vir my frustrasie en woede om te bepaal hoe ek op persoonlike en politiese teleurstellings reageer? Wat doen ek as moedeloosheid begin om ’n lewenshouding of ingesteldheid te word? Wat maak ek met die versoeking om sinies te word?

Ons het ook daardie profetiese oë van Tutu nodig – oë wat die gruwels en die doodloopstrate van ons wêreld reguit in die oë kan kyk, sonder om dit te versag of verdoesel – en terselfdertyd, oë wat sien wat kan wees, wat behoort te wees, wat eendag in God se toekoms sal wees.

Ons het ook die visie nodig wat die “improbable redemptions” – die onwaarskynlike verheerliking van God se nuwe skepping in die dooie gras en die gruwelike kruis kan sien. Hoe bekom ons hierdie visie?

***

Kom ons keer met hierdie vraag in gedagte na vanoggend se teks toe oor Jesus se verheerliking.

Een manier om hierdie gedeelte te lees, is as riglyne vir die vroeë Christene – vir wie Lukas die evangelie om en by 70 jaar na Christus geskryf het – oor die rol wat hulle aanbidding en gebedslewe in hulle publieke lewens behoort te speel.

Onder andere gaan hierdie gedeelte oor die verhouding tussen ons oomblikke van afsondering op die berg, en ons daaglikse, publieke lewens onder in die vallei.

Ons sou kon sê dit gaan oor die verhouding tussen kontemplasie en aksie, tussen afsondering en solidariteit, gebed en diensbaarheid.

Dit is ’n verhouding waaraan iemand soos Tutu baie aandag geskenk het. Hy het nooit opgehou om mense daaraan te herinner dat ’n mens se geestelike lewe en ’n mens se publieke lewe nie teenstrydig hoef te wees nie, maar dat hulle mekaar moontlik maak; amper soos wat ’n mens nie kan asemhaal sonder om in én uit te asem nie.

***

Iets hiervan sien ons ook in hierdie teksgedeelte.

Ek is seker dit sou jou opgeval het, dat ons twee keer in hierdie gedeelte die stem van ’n vader hoor. Eenkeer bo-op die berg; die ander keer onder in die vallei. In albei gevalle is dit die stem van ’n vader wat ons aandag wil rig op sy seun.

Die eerste, bo-op die berg, kom uit ’n donker wolk. Dit is die stem van God; vir wie Jesus die vrymoedigheid gehad het om Abba of pappa te noem: “Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.”

Die tweede stem, onder in die vallei, kom uit ’n groot skare mense wat om Jesus en sy dissipels saamgedrom het. Dit is die desperate stem van ’n vader, gevul met angs en frustrasie, wat skreeu, wat smeek: “Kyk asseblief na my seun, want hy is my enigste kind.”

“Kyk na hom! Sien hom raak!” smeek hy.

Daar is dus twee geliefde seuns in hierdie verhaal; en ek dink Lukas wil ons hier uitnooi om die verband tussen hierdie twee seuns en die twee vaders raak te sien.

Wat as, om na Jesus, God se uitverkorene, te luister beteken dat ’n mens ook die vernielde seun onder in die vallei raaksien?

Wat as ons net die stem van die Hemelse Vader kan gehoorsaam, as ons ook in die desperate ouer se noodkreet, iets van God se besorgdheid en medelye en teenwoordigheid in sy angs, kan hoor.

Nogtans, bly dit nie maklik om die twee dele van die verhaal – die heerlike glans op die bergpiek en die desperate noodkrete onder in die vallei – met mekaar te versoen nie.

Wat maak ’n mens byvoorbeeld met die skynbare afwesigheid van God onder in die vallei – waar die nege dissipels wat agtergebly het sonder sukses probeer om die kind te genees – terwyl die drie ander dissipels bo-op die berg ’n ontmoeting met die lewende God het?

Oor hierdie teenstrydighede het ek ook meer vrae as antwoorde; en die versoeking is groot om ’n teologiese verklaring daarvoor uit te dink.

Maar dan besef ’n mens: dit is die wêreld waarin ons elke dag leef; dit is die spannings waarbinne ons geroep word om na Jesus te luister en om hom te volg.

Ware godsdiens probeer om altyd binne hierdie ongemaklike spanning te leef. Dit weier om die vallei in te ruil vir die bergpiek, of die bergpiek vir die vallei.

Aan die een hand, is die versoeking altyd daar om, soos Petrus te sê: “maar dit is goed vir ons om hier te wees,” en dan tente te wil oprig sodat ’n mens jou positiewe geestelike ervarings kan uitrek of versamel.

Maar die teenoorgestelde gevaar is ook daar: dat ons onder in die vallei spartel om oplossings te bied vir al die wêreld se probleme, maar dan, sonder Jesus, sonder om uit die bron van God se oorvloedige liefde gevoed te word nie.

***

Sonder ’n spiritualiteit waarin ons die glans van God se liefdevolle blik op ons gesigte kan beleef nie, waarin ons gereeld na Jesus kan luister nie, waarin ons in gesprek kan gaan met die Wet en die Profete nie, waarin ons die heerlikheid van Jesus kan besing en vier nie, sal ons publieke lewens uitgedun raak en sal dit nie vir ons moontlik wees om in die vallei te volhard nie.

Terselfdertyd, sonder ’n aktiewe publieke lewe, waarin ons onsself blootstel aan die belange van ander, waarin ons onsself inlig en toerus oor praktiese wee wat God se heerlikheid ’n bietjie meer sigbaar maak, word ons godsdiens sentimenteel en selfs afgodsdiens.

Ons word vanoggend herinner dat geestelike ervarings en gewaarwordings nie ’n doel in sigself is nie, maar gawes waardeur God vir ons die hoop en die moed gee om in die goeie werk waarmee ons daagliks besig is te volhard, ook al lyk dit asof dit maar ’n druppel in die emmer is, of al lyk dit onwaarskynlik dat God se heerlikheid ooit alles en almal sal vul.

Soos Jesus se verheerliking op die berg, is sulke belewenisse gewoonlik beperk tot oomblikke. Tog is dit kosbare oomblikke wat nie geringgeskat moet word nie. Want dis in sulke oomblikke waarop God in ons oor terug fluister, soos wat jy in die 70’s in Tutu sê oor gefluister het: “Ek is nog in beheer, ek is by jou, kyk ek maak alles nuut, ek wil alles met my liefde en genade verheerlik, en ek wil jou gebruik om aan daardie verheerliking deel te neem.”

Hoewel ons baie meer van ons tyd onder in die vallei spandeer, is sulke oomblikke van onskatbare waarde. Dit kan die wêreld verander.

Ek sluit af met nog ’n moderne voorbeeld van hoe so ’n epifanie dit moontlik gemaak het vir iemand om in skynbare doodloopstrate, iets van God se verheerlikende glas raak te sien en met groot volharding daaraan getrou te bly.

***

In November 1962 ontvang Mandela ’n vyf-jaar tronk vonnis. 12 Julie 1964 word dit ’n lewenslange tronkstraf op Robben Eiland.

Op die nag van 8 Februarie 1965, toe hy maar 240 dae van se lewenslange tronkstraf uitgedien het, verskyn ’n engel aan hom. Die engel sê vir hom: vra vir my enige vraag wat jy wil.” Mandela vra toe vir hom: “wat het Jesus bedoel met die woorde: om die beker te drink wat ek moet drink?”

Die engel antwoord: “Dit is die beker van eensaamheid, van dors, van moedeloosheid, van walging, van nie meer verstaan nie – dis ’n beker so vol soos die oseaan.”

“En,” vra Mandela verder, “nou dat jy aan my verskyn het, sê vir my, sal ek hierdie beker kan drink?”

Toe lig die engel sy hande op in gebed en Mandela sie, vir tien sekondes lank, ’n stormagtige see, en agter die see ’n berg wat tot in die hemel toe opreik. En hy het geweet, soos hy na hierdie beeld kyk, dat dit sy lewe is wat hy sien.

“Dankie,” sê Mandela toe vir die engel, “ek verstaan nie, maar nou weet ek; dankie dat jy gekom het.”

10 sekondes se mistieke belewenis, gevolg deur 25 jaar van nie-weet nie – tien sekondes op die bergpiek, gevolg deur 25 jaar in die diepste vallei. 25 maal 365 dae later, op 8 Februarie 1990, het hy die oseaan tot op die bodem leeggedrink en kon hy sy voet neerlê op die vasteland van Afrika. Toe begin hy die berg uitklim.

As Christene, maar ook as burgers in hierdie demokratiese land, is ons elkeen geroep, om op ons eie manier deel te neem aan God se verheerliking van die wêreld.

Mag ons elkeen, iewers in die lydenstyd wat ons hierdie week ingaan, al is dit net vir tien sekondes, aangegryp word deur ’n visie van God se genesende passie vir die wêreld.

Mag ons iewers 10 sekondes se versekering ontvang dat God inderdaad in beheer is – hoe onwaarskynlik dit ook mag lyk – en dat dinge daarom anders kan wees en sal wees. En mag ons dan die geloof en die hoop en die moed hê om van die bergpiek af te gaan, ons kruis op te tel en die lam van God te volg.