Lukas 4:1-13

10 Maart 2019

Eerste Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Verlede week, op die Sondag van die Verheerliking, is ons daaraan herinner dat daar ’n intieme verbintenis is tussen ons geestelike belewenisse op die bergpiek en die plekke waarheen ons, daagliks, tussen Sondae, in die vlaktes, geroep word om Jesus se volgelinge te wees.

Afgelope Woensdagaand was ons weer hier, op Aswoensdag. Soos ons mekaar se voorkoppe met die teken van as en olyfolie gemerk het, het ons mekaar op die naam genoem en mekaar herinner:

“As is jy en tot as sal jy terugkeer, maar in Christus behoort jy vir ewig en altyd aan God.”

Ek is ’n geliefde kind van God én ek sterf. Dat ek geliefd is verhoed nie dat ek verganklik is nie; dat ek sterflik is ontken nie dat ek geliefd is nie.

Aan die hart van die twee geleenthede – verlede Sondag en afgelope Woensdag – vind ons ’n geheimenis, ’n paradoks:

Dat soos ons ons eie kwesbaarheid, gebrokenheid en sterflikheid omhels, ons die ervaring het dat ons in God se oorvloedige liefde en genade omhels word; soos ons die ellende van ons wêreld onder in die vlaktes raaksien en daarop reageer, word ons deur ’n barmhartigheid en deernisvolle God gesien en gehoor en omhels.

Die bergpiek en vlakte is aan mekaar verbind – dit is deel van dieselfde storie, dit is deel van dieselfde landskap.

***

Ons vind ’n soortgelyke beweging in vanoggend se teksgedeelte, op hierdie eerste Sondag van lydenstyd.

By sy doop in die Jordaanrivier ontdek Jesus wie hy ten diepste is: die Gees daal op hom neer en hy hoor die stem van God: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek my.”

Nou is hy in die woestyn in gelei; om daar met sy identiteit te worstel, om daar getoets en versoek te word.

Die beweging van die doopwaters na die woestyn toe is ’n beweging van die plek waar ons weet wie ons is na die plek waar ons met ons identiteit worstel; van die plek van bevestiging na die plek van versoeking, van die plek van vertroue na die plek van twyfel.

Twyfel is dus nie die teenoorgestelde van geloof nie; dit is ’n deel van die geloofslewe, dit is wat ons geloof suiwer; wat dat aan die beweeg hou; wat dit laat groei – twyfel is wat verhoed dat ons ware vertroue in God inruil vir ons eie skynbare sekerhede wat ons dan met alle mag en mening wil verdedig.

***

Veertig dae het Jesus in die woestyn deurgebring. Dit herinner ons natuurlik aan die Israeliete wat, na hulle bevryding deur die Rooisee veertig jaar in die woestyn moes deurbring onderweg na die beloofde land.

Veertig jaar om die betekenis van hulle Rooisee ervaring te ontdek; veertig jaar om hierdie nuwe identiteit as vrymense wat aan God behoort vir hulleself toe te eien en hulle vorige lewe as slawe wat aan Farao behoort af te leer.

So het Jesus se veertig dae in die woestyn ook als te make met sy ervaring in die Jordaan rivier. Hy het die woestyn nodig gehad om die betekenis van sy doop, as geliefde kind van God, te ontdek.

Let op dat dit nie die duiwel was wat hom woestyn neem nie, maar dieselfde Gees waardeur hy so pas in liefde en vreugde gedoop is.

Wat beteken dit dat dit die Gees was wat vir Jesus die woestyn ingelei het?

Aan die een hand, bevestig dit dat die woestyn nie ’n plek is wat iemand sommer vir hulleself kies nie. Die woestyn is ’n harde plek. Daar is ’n kans dit jy dit nie aan die ander kant sal uitmaak nie.

Die woestyn is eerder iets wat met ’n mens gebeur. Meesal beval dit ons eenvoudig; en dit kan verskillende vorme aanneem, soos ’n hospitaal se wagkamer, ’n moeilike of gebroke verhouding, ’n kind wat sukkel, ’n teleurstelling by die werk, ’n skielike dood, ’n verlammende ’n paniek-aanval…

Vir watter rede ook al word alles wat jy gedink het belangrik is gestroop. Die woestyn is ’n gestroopte landskap, waarin die gewone afleidings van my lewe verdwyn en ek skielik met myself en met die naakte waarheid gekonfronteer word.

Wanneer dit gebeur het ons niks minder as die krag van die Gees nodig om ons te neem na waar ons reeds is, maar dalk nog nie gereed is om te aanvaar nie.

Dan is die Gees daai krag wat vir my sê, “hoewel dit nie is wat jy vir jouself gekies het nie, al sou jy dit eerder vermy, jy is nou hier, kies om te bly vir die veertig dae, skenk aandag, wees waaksaam, bid.”

***

Dalk is dit die betekenis van die 40 jaar wat die Israeliete in die woestyn moes deurbring en die 40 dae wat Jesus daar moes spandeer.

In die Joodse tradisie is die getal 40 ’n baie belangrike simbool. Sommige mense glo dat die simbool sy oorsprong gevind het in die feit dat ’n swangerskap tipies 40 weke duur.

Soos ek verstaan (en ek praat nie uit ervaring nie) kan swangerskap ’n ongemaklike, pynvolle, nare proses wees. En tog is daar niks wat meer vernuwend, meer skeppend, meer lewe-gewend is as die geboorte van ’n kindjie nie.

Die woestyn hoef nie ’n verwoestende belewenis te wees nie; dit kan ook lewegewend en skeppend en helend wees.

So is die Israeliete uitgenooi om hulle 40 jaar in die woestyn, nie as ’n vloek nie, maar as ’n gawe te sien; as tyd wat hulle in God se baarmoeder moes spandeer om as ’n volk nuut gebore te word.

Ons word ons ook uitgenooi om met ’n ander ingesteldheid te kyk na ons woestyn-ervarings. Dit mag dalk nie so lyk nie, maar die woestyn is deurdrenk van God se teenwoordigheid.

Daarom is dit soms – soos in Jesus se geval – juis die Gees wat ons die woestyn inlei, nie omdat God ons daar wil laat val nie, of omdat God vir ons lyding toewens nie, maar juis omdat ons die woestyn nodig het om tot nuwe lewe gebore te word. In die krag van die Gees kan selfs die woestyn-gebiede van ons lewens ruimtes van verlossing en nuwe lewe word.

***

Om te verstaan hoe dit die geval kan wees, kan ons kortliks nadink oor die versoekings wat Jesus in die woestyn beleef het.

Eers, kortliks iets oor die een wat die versoekings aan Jesus rig: ‘die duiwel’. Dit is duidelik dat Lukas op ’n meesterlike wyse hier gebruik gemaak het van personifikasie as ’n literêre tegniek – en dit is baie effektief!

Want is dit baie naby aan my en jou belewenis, dat ons – veral in die gestroopte plekke van ons lewens – soms die ervaring het van ’n tweegesprek wat in jou gedagtes en in jou hart afspeel nie; amper asof daar twee of meer stemme is wat kompeteer vir jou aandag, vir jou lojaliteit, vir jou gehoorsaamheid.

Ons hoef dus nie die bestaan van die duiwel te verdedig voordat ons van hierdie gedeelte kan sin maak nie. Dit sal wees om helemaal die punt te mis.

Terug na die versoekings self:

Ons sou kon sê dat die eerste versoeking (kan jy hierdie klippe in brood verander) te make het met Jesus se honger; die tweede (aanbid my en al hierdie mag en majesteit kan joune wees) sou ons kon sê het te make met Jesus se ego; die derde (spring van hierdie hoe plek af; God sal jou sekerlik beskerm…) het te make met Jesus se kwesbaarheid.

Maar wat is die versoeking agter hierdie versoekings?

Dit is interessant dat twee van die versoekings (die eerste en die laaste) begin deur die duiwel wat vir Jesus sê: “As jy die seun van God is…”

Dit gaan dus oor sy identiteit. Jesus is hier besig om te worstel met die betekenis van sy doop, met wat dit beteken om ’n mens te wees wat deur God geliefd is en in wie God groot vreugde vind.

Gaan hy getrou bly aan sy identiteit in God, of gaan hy toelaat dat sy identiteit deur iets of iemand anders bepaal word? Gaan hy getrou bly aan sy ware self, of gaan hy homself verloën ter wille van versadiging, ter wille van mag en aansien, ter wille van sekuriteit? Gaan hy getrou bly aan die volheid van sy menslikheid, met beperkinge en die kwesbaarheid wat ’n menslike lewe behels, of gaan Goddelike krag gebruik om sy menslikheid te ontsnap.

***

Is dit nie ’n baie akkurate weergawe van hoe ons, deur die loop van ons lewens, versoek word om uiteindelik ons ware self en ons menslikheid te verloën nie?

Ons word honger… ons begeer… ons verlang…

Ons smag na aanvaarding… ons wil graag gesien en erken word… ons wil graag aansien geniet… invloed hê… die wêreld verander…

Ons voel kwesbaar… uitgelewer… verganklik… ons het ’n begeerte aan sekuriteit en beskerming… ons wil van die risiko’s van die lewe gespaar word…

Dit is eg-menslike ervarings waaraan ons daagliks blootgestel word. Die versoeking agter die versoekings is dat ons God se liefde begin beskou as ’n manier om hierdie menslikheid te ontsnap, eerder as die krag waarmee ons ons menslikheid kan omhels.

Soos ons Woensdagaand terselfdertyd ons identiteit as geliefdes van God én ons verganklike en kwesbare menslikheid moes aanvaar, moes Jesus ook leer wat dit beteken om kosbaar én kwesbaar te wees; om geliefd én honger te wees; dat God se liefde en sorg binne-in menslikheid kan tuiskom.

“If those forty days in the wilderness was a time of self-creation, a time for Jesus to decide who he was and how he would live out his calling, then here is what he chose: emptiness over fullness.  Obscurity over honor.  Vulnerability over rescue.  At every instance when Jesus could have reached for the magical, the glorious, and the safe, he reached instead for the mundane, the invisible, and the risky.”

Dalk is dit die uitnodiging wat God in hierdie lydenstyd aan ons rig:

om gevul met die Heilige Gees,
wat sonder ophou in ons oor fluister,
“Ek het jou lief; Ek vind groot vreugde in jou,”
toe te laat dat Jesus ons in die woestyn inlei,
waar ons nakend,
gestroop van afleidings
en maskers
en die rolle wat ons verwag word om te speel,
bestekopname kan doen van hoe getrou ons aan ons ware self
en aan ons menslikheid
voor God is.

En hoewel dit ’n uitnodiging is wat gevul is met risiko en worsteling en onsekerheid, is God se belofte dat dit juis die broei-plek is van nuwe lewe en heling.

Die versoeking is altyd daar om uit te verkoop vir versadiging,
vir aanvaarding en aansien en invloed,
vir sekuriteit en beskerming,
maar wat help dit jy wen die wêreld en jy verloor jouself?