Lukas 13:31-35

17 Maart 2019

Tweede Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Iemand in die gemeente bring af en toe vir my uitknipsels uit die Saterdag-koerant, omdat ek te suinig is om die R99 per maand te betaal vir Netwerk 24 se intekenaarskap.

Hierdie week bring sy vir my ’n uitknipsel van Dana Snyman se Saterdag-rubriek wat in verlede week se Burger verskyn het. Die titel van sy stuk was: Om te probeer maak asof daar niks fout is nie.

Die rubriek begin met die volgende woorde:

“Op ’n plaas naby Pretoria het aanvallers ’n jong man se hond voor sy oë aan ’n tou voor ’n venster opgehang en toe die hond doodgeskiet. Die hond, ’n Bostonterriër se naam was Jimmy.”

Na hierdie skokkende vertelling volg ’n lang litanie van gruwelike stories, stories van geweld en ellende en hartseer en korrupsie. Een na die ander… droog weergegee. Ná die lang litanie, skryf Dana uiteindelik:

“Dit alles het ek vanoggend in die koerant gelees. Geweld op soveel maniere. Dag ná dag ná dag. Die hele tyd kom dit na jou toe. By die storie van die jong man wat naby Pretoria aangeval is, is ’n foto van Jimmy die Bostonterriër wat deur die aanvallers doodgeskiet is. Ek het lank na die foto gekyk. Iets in my wou huil, wou tjank, wou skreeu. Maar ek kon nie. Ek is besig om afgestomp en emosioneel verward te raak oor al die geweld rondom my. Ek het ontbyt geëet, gestort, aangetrek en probeer maak asof niks in die land en die wêreld fout is nie. Soos byna elke ander dag.”

“Ek is besig om afgestomp en emosioneel verward te raak oor al die geweld rondom my,” sê Dana. ’n Mens kan verstaan hoekom. ’n Mens kan ook verstaan hoekom ‘om te maak asof niks in die wêreld verkeerd is nie’ mag lyk na die enigste moontlike strategie teen die versoeking om maar eerder net in die bed te bly, lamgelê deur die apatie en moedeloosheid.

Dikwels is dit die strategie wat ek gebruik om aan die gang te bly: “maak asof niks in die wêreld verkeerd is nie.”

Die gevaar is egter dat ’n mens se hopeloosheid so groot raak dat dit uiteindelik verhoed dat ’n mens doen wat nog gedoen kan word.

Hoe hou ek aan om – al die geweld ten spyte – steeds die slegte met die goeie te bestry, en getrou te bly aan my roeping as vredemaker? Hoe volhard ek daarin om
die sout van die aarde te wees wa vir die lewe sy smaak gee?

Ek hoop om vanoggend iets te sê oor Christelike hoop; die vreemde karakter daarvan; die onverwagse plekke waar ons hoop kan vind; en die onwaarskynlike bronne waaruit ons ons hoop kan voed.

***

In vanoggend se skrifgedeelte kom Jesus voor ’n soortgelyke situasie te staan; een waarin die versoeking groot moes gewees het om vanweë sinnelose geweld, vrees en teenstand, afgestomp en emosioneel verward te raak.

Jesus is onderweg na Jerusalem, maar soos hy reis is hy hard besig om, in elke dorpie wat hy kom, demone uit te dryf en mense te genees.

In een so ’n dorpie, genees Jesus ’n vrou op die Sabbatdag – en dit veroorsaak hewige ontsteltenis onder die Fariseërs in daardie streek.

[Interessant genoeg, vat hulle nie dadelik vir Jesus aan nie – hulle vermaan eerder die vrou omdat sy op die Sabbat sinagoge toe gekom het om genees te raak! Dit het my nogal laat dink aan maniere hoe gelowiges vandag nog hulle toorn rig op ellendige mense, wanneer die Here kies om aan hulle genade te betoon. Hoekom?]

’n Reeks debatte ontstaan tussen Jesus en die Fariseërs en dit is te midde van hierdie konflik, wat die Fariseërs vir Jesus ’n berig bring dat Herodes vir hom wil doodmaak.

Dit is natuurlik nie die eerste berig wat Jesus oor Herodes ontvang het nie. Dit was Herodes wat Jesus se familielid en geestelike mentor, Johannes die Doper, op ’n gruwelike manier vermoor het deur hom te onthoof.

So was dit waarskynlik ’n taktiek om vir Jesus stil te maak. Dit is immers wat terroriste doen: hulle gebruik vrees as ’n wapen om jou stil te maak; om jou te laat dink dat daar niks is wat jy kan doen nie; om jou te laat hoop verloor.

Rebecca Solnit, geskiedkundige en aktivis, het ’n pragtige boek geskryf oor hoop, Hope in the Dark, wat ek rêrig kan aanbeveel. Sy begin die boek so:

“Your opponents would love you to believe that it’s hopeless, that you have no power, that there’s no reason to act, that you can’t win.

Die Fariseërs se aanval was op die hoop wat in Jesus geleef het. Hulle wou dat Jesus vanweë vrees sou terug deins van sy roeping. Maar Jesus weier om sy hoop op te gee. Soos Solnit verder skryf:

“Hope is a gift you don’t have to surrender, a power you don’t have to throw away.”

Jesus is vasbeslote op pad Jerusalem toe, na waar Herodes en sy mag gesetel is. Hy is nie naïef nie – Hy weet Jerusalem is die stad wat profete doodmaak. Hy weet wat daar op hom wag, maar vanweë sy hoop, weier hy om van koers te verander.

Hy sê prontuit vir die Fariseërs: Ek gaan nie, op grond van julle berigte, of die speletjies van daai bully Herodes hiervandaan weggaan nie. Ek het werk om te doen en ek sal aanhou om dit te doen, al lei dit my tot in daai Jakkals se den. Vandag dryf ek nog demone uit, môre het ek ’n paar genesings op my skedule, op die derde dag behoort ek hier klaar te wees… sê hy. Maar ek moet aanhou beweeg, ek is op pad Jerusalem toe.

Hoop in die aangesig van geweld, intimidasie en vrees.

Die vraag is egter:

Waarin is hierdie hoop gesetel?
En wat sou dit van ons vra om ook uit hierdie bron van hoop te put?

***

Met hierdie vrae in gedagte, rig ons ons aandag nou op die klaaglied wat Jesus teen Jerusalem bring:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

“Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê, “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.’”

Is dit nie ’n merkwaardige beeld wat Jesus hier kies om homself mee te beskryf nie?

Jesus as ’n moeder hen wie se kuikens haar nie wil hê nie. Daar staan sy met haar vlerke wyd oopgestrek, om te verwelkom en te omarm, om skuiling en versorging te bied; maar haar kuikens wil nie by haar tuiskom nie.

Die prentjie wat ons van Jesus kry is van ’n moeder wat wat rou; ’n moeder wat treur.

Ons sien ’n God wat treur oor haar verlore en dwalende kinders…
vir die kleintjies wat nie wil huis toe kom nie;
vir ’n stad wat nie God se redding wil aanvaar nie.

Dit is ’n klaaglied oor alles wat kon gewees het in ’n gebroke en opstandige wêreld; dis ’n roulied oor die gebrokenheid en verwondheid van mense –
oor hoe hulle mekaar bly verwond.

Daar is iets baie pynlik en tragies daaraan om te sien hoe iemand vir wie mens baie lief is, stadig voor jou oë deur hulle eie toedoen vergaan. Iets van daai magteloosheid merk ek in Jesus se klag:

“Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!”

… Hoe dikwels… maar julle wou nie!

Dít is die God waarin Christelike hoop gesetel is. Nie kryg-vegter God wat sy vyande oorrompel nie, maar ’n moeder hen wat treur oor die kuikens wat nie huis toe kom nie.

Dit is ’n God wat sy koninkryk laat kom, nie deur mag en geweld en intimidasie nie – nie deur vrees nie – maar deur die aanbod van ’n oop hart wat nooit ophou om welkom te heet nie.

So ’n welkom, laat die gewer daarvan weerloos, maar dit oorkom die vrees. Ons glo in ’n vreemde God wie se krag in sy weerloosheid en kwesbaarheid gesetel is.

Dit is ’n God wat homself gee… vir al sy kinders, selfs vir Jerusalem, vir hulle wat hom wil stenig.

Ek wonder, het Jesus, in sy roulied vir Jerusalem, ook vir Herodes gehuil?

Die prentjie wat ons kry is immers van ’n God wie se trane nooit opdroog nie, ’n God wat in die aangesig van die gruwelikste tragedies en teleurstellings nooit afgestomp raak nie, nooit ophou om te treur nie, nooit ophou om trane te stort nie.

Dalk is dit God se almag: dat God altyd trane het om te stort – selfs al raak ons afgestomp, selfs al kan ons nie meer huil nie; dat God altyd ’n welkom het om aan te bied – selfs vir diegene wie ons nooit sal kan verwelkom nie, selfs vir ons wat nie by God wil tuiskom nie. Dalk is dit die evangelie: dat God almagtig is, nie omdat God ’n towerstaffie het wat alles in ’n oogwink kan regstel nie, maar omdat selfs die dood nie perke kan stel aan God se liefde en deernis nie.

***

In verlede Saterdag se Burger, op dieselfde bladsy as Dana Snyman se rubriek (die twee rubrieke word geskei deur ’n berig met die titel Gróót skroewe los by WP-rugby!) vind mens ook die weeklikse Geestelike waardes-rubriek van Prof. Robert Vosloo.

Die titel van sy stuk is: ’n Herinnering dat lewe en liefde sterker is as dood.

Dit gaan oor die betekenis van Aswoensdag en van die Lydenstyd.

In hierdie tyd word ons gekonfronteer met ons sterflikheid en sondigheid, sê Hy. Hy skryf verder:

“Dit klink, sou sommige protesteer, baie makaber en morbied. Maar dalk lê die krag van die fokus daarin dat dit ons bevry van die illusie dat ons onaangeraak deur tyd en tragedie deur die lewe kan gaan.
En dalk help dit ons om ons eie gebrokenheid en kwesbaarheid in ’n groter verhaal te kan plaas, een waarin vergifnis en vryspraak sterker is as sonde, waarin lewe en liefde sterker is as dood.”

Is ons skrifgedeelte vanoggend, waarin ons vir God in die onwaarskynlike beeld van ’n moeder hen ontmoet, nie dalk so ’n groter verhaal waarin ons ons eie gebrokenheid en kwesbaarheid kan plaas nie?

Dalk is dit die uitnodiging wat in hierdie lydenstyd aan ons gerig word: om Dana en Robert se rubrieke saam te lees; of anders gestel: om die gruwelike stories wat Dana die oggend in die koerant gelees het, in die groter verhaal van Jesus die moeder hen te plaas.

Wie weet, dalk, as ons dan weer na die foto van Jimmy die Boston-terrier kyk, sal ons die trane kan stort wat dit verdien. En daarna ontbyt eet, stort, aantrek – ons kruis optel – en agter die moeder hen aanloop Jerusalem toe.