Lukas 15:1-3; 11b-32

31 Maart 2019

Vierde Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

(Hierdie preek is grootliks gebasseer op ‘n hoofstuk uit Robert Vosloo se pragtige boek oor gasvryheid in die Christelike tradisie, Engele as Gaste)

Ons vind hierdie gelykenis in ’n langer gedeelte van die Lukas-evangelie wat veral oor gasvryheid gaan – oor die vreemde welkom van God.

In Lukas 14 merk Jesus eers op hoe genooides die ereplekke aan die tafel uitsoek, en vertel dan die gelykenis van die persoon wat eerder die vêrste plek by ’n bruilof ingeneem het. Daarop antwoord iemand: “Geseënd is die een wat aan die maaltyd in die koninkryk van God sal deelneem!” En Jesus vertel die verhaal van die groot feesmaal waarvoor al die genooides nie opgedaag het nie, maar die kreupeles en blindes en verlamdes, uiteindelik wel.

Nou, in Lukas 15, is dit weer die Fariseërs en die skrifkenners wat onder mekaar mor, omdat Jesus sondaars en tollenaars ontvang en saam met hulle eet. Daarop vertel Jesus drie gelykenisse, en een van hulle is hierdie gelykenis wat gewoonlik bekendstaan as die ‘gelykenis van die verlore seun.’

In die lig van hierdie oploop tot die gelykenis, sou dit ook kon bekendstaan as ‘die gelykenis van die ongasvrye en vreugdelose broer’ …
of ‘die gelykenis van die verlangende of verwelkomende vader’

Dit is die krag van hierdie verhaal – eintlik die krag van alle verhale – dat ons die storielyn van meerdere perspektiewe kan volg, deur eenvoudig op elkeen van die karakters te fokus. Meer nog, ons kan onsself, en ons eie verhale ook in die storie inlees, en so iets oor onsself leer.

***

Kom ons fokus eers op die jongste seun:

Hoewel ons met ’n moderne perspektief dalk die jongste broer as ’n held of rolmodel sou beskou, deurdat hy opsoek gaan na sy ware self, is dit belangrik dat ons raaksien hoe die seun, deur sy erfporsie te vra, en weg te breuk uit sy vaderhuis, in werklikheid, homself afsny van die verhoudings wat sy identiteit aandui.

Die karakters word regdeur die verhaal, in verhoudings terme soos ‘vader’, ‘seun’ en ‘broer’ genoem. Dit suggereer dat die identiteit van die karakters is ondenkbaar is sonder die verhouding met die ander persone in die gelykenis.

Die jongste seun se breuk met die familie is daarom radikaal. Hy het “al sy goed in geld omgesit en na ’n vêr land gereis,” sê die teks. Iemand skryf hieroor en sê: “His project was toe ‘un-son’; there was no place in him for the place called home.”

Dit is dan tussen die varke, so lees ons, dat die seun besef dat hy in die proses van sy eie identiteit vervreem geraak het. Daar in die vêr land, waar hy slegter behandel word as sy vader se dagloners, onthou hy sy vaderhuis en daardeur ook sy eie mislukking. Nou beskou hy homself as “’n-seun-wat-nie-waardig-is-om-’n-seun-genoem-te-word-nie.

En dit is met hierdie siening van homself as ’n sie-seun, dat hy die besluit neem om terug te heer na die vaderhuis.

***

Dit is wanneer ons op die vader in die verhaal fokus, dat ons die meeste verras word:

Die eerste ding wat ons opval is dat die vader, toe die seun vir sy erfporsie vra, geen weerstand bied teen sy seun se besluit om die huis te verlaat nie. Die vader laat die seun gaan. Die verwagting is dat die vader, volgens gesonder verstand en tradisie, ten sterkste daarteen gekant sal wees.

Die belangrike punt van die verhaal is egter dat dat die vader, hoewel hy die jongste seun laat gaan, nie die verhouding met hom laat vaar nie. Deurdat sy soekende oë reeds die seun op die horison gewaar, word ons daaraan herinner dat sy hart heeltyd by die seun in die vêr land was. Die seun is dus weg uit die huis, maar nie weg uit die vader se hart nie.

Soos alle ouers wie se kind die huis verlaat, moes die vader dus ook opnuut oor sy eie identiteit nadink. So veel te meer as ons in gedagte hou dat die seun se breuk met die familie doelbewus en radikaal was.

Hoewel die seun probeer om homself te ont-seun, word die vader nooit ’n nie-vader nie. Daarom, toe die seun uiteindelik sy weg terugvind na sy vaderhuis toe, word hy onmiddellik omhels. Geen belydenis is nodig nie, want die vader dink aan verhoudings en nie aan morele prestasie nie.

Wanneer die belydenis wel volg – ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ – onderbreek die vader dit. In die seun se selfbeskouing is hy ‘nie-waardig-om-’n-seun-genoem-te-word-nie’. In die oë van sy vader is hy eenvoudig ‘my seun’.

Identiteit sou ons kon sê, word deur ’n omhelsing gerekonstrueer. Daarop volg dan die klere, die ring, en die opdrag vir ’n feesmaal.

***

Maar die oudste broer vind nie dieselfde vreugde as die vader in die terugkeer van sy broer nie. Hy hou nie van die feestelikheid nie. Mens moet fyn oplet op die taal: Die jongste broer is nie meer ‘sy broer’ nie, maar hy noem hom: “hierdie seun van pa.” Anders as die pa, het die oudste broer nie die jongste broer in sy hart bly dra nie. Hy kon nie sy identiteit aanpas om plek te maak vir die jongste seun se terugkeer nie.

Dit is interessant dat die, wanneer hy die vader nou aanspreek, dit vir die eerste keer in die verhaal nie as ‘vader’ is nie. Dus, soos sy broer vir hom ’n ‘nie-broer’ geword het, het die vader vir hom ’n ‘nie-vader’ geword. Die vader tree volgens hom immoreel op.

En die oudste broer is in ’n sekere sin reg. In Deuteronomium 21:18-21 lees ons immers die volgende woorde:

“Wanneer ’n man ’n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. Hulle moet die vir die leiers van die stad sê: “Hierdie sen van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is ’n vraat en ’n suiplap.” Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi.”

Met die wet skynbaar aan sy kant voel die oudste broer dat die vader immoreel optree. Hierdie optrede kan mos nie geduld word nie; dit is nie regverdig nie, en die huishouding sal weens hierdie benadering ineenstort. Die logika is tog onweerlegbaar. Die jongste broer kan dalk terugkeer as huurling, maar beslis nie as seun nie.

Ironies genoeg is die logika van die twee broers, ten midde van al hulle skynbare verskille, dieselfde: terugkeer is wel moontlik, maar nie as seun nie.

***

As ons ons fokus egter weer rig op die vader, sien ons dat hy nie sy seuns se logika deel nie, en veral nie die ouer seun se obsessie oor reëls nie. Soos hy sy seun wat weg was van vêr af ingewag het, gaan hy uit na die ouer broer wat nou nie die huis wil inkom nie. Hy praat mooi met hom:

“My kind,” sê hy, “jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Ons moet feesvier en bly wees, want jou broer was dood en hy het lewendig geword. Hy was verlore en is weer gevind.”

Ons sien hier dat die Vader nie die orde van die huishouding wegneem nie. Die oudste seun het nou die volle erfporsie en die jonger seun gaan skynbaar nie ’n tweede keer erf nie.

Maar hoewel die Vader nie die orde van die huishouding wegneem nie, her-orden hy die orde – maar volgens ’n ander logika. Die logika is dat daar iets is wat wette en streng identiteite voorafgaan. Hierin lê die verskil tussen die vader en die oudste broer. Die oudste broer gebruik morele kategorieë (hierdie seun van pa het sy geld op prostitute uitgemors!), terwyl die vader verhoudingkategorieë gebruik (die seun was verlore is, is weer tuis; was dood en lewe weer).

Die vader se verbintenis is nie primêr aan reëls nie, maar aan mense, aan sy kinders, wie se lewe te kompleks is om volledig deur vaste reëls en berekende identiteite bepaal te kan word.

Dit beteken nie dat reëls en identiteite opgehef word nie. Dit beteken wel dat ons identiteit getransformeer word, opnuut beskou word, in die lig van die liefde. Soos iemand skryf: “the Father keeps re-configuring the order without destroying it so as to maintain it as an order of embrace rather than exclusion.”

Die vader hervorm die orde van die huis sonder om dit te verwoes, sodat dit ’n orde van omhelsing kan wees, eerder as ’n orde wat uitsluit.

Die God wat ons dus in hierdie verhaal ontmoet is ’n God wat omhels, eerder as uitsluit; wat in verhouding-terme dink eerder as in streng wetsterme; wat altyd aan die werk is om ons identiteit te hervorm, sodat daar plek is vir die ander.

***

Min uitbeeldings van hierdie gelykenis is so treffend soos Rembrandt se skildery van die verlore seun. Henri Nouwen het aan die hand van hierdie skildery ’n pragtige boek geskryf: The Return of the Prodigal Son.

In die skildery beeld Rembrandt die vader as byna blind uit. Tydens die omhelsing druk die vader die seun teen sy bors, teen sy hart. Die lig, wat so belangrik is in Rembrandt se skilderye, val op die hande van die vader.

Sommige ontleders meen selfs dat een van die hande ’n vroulike hand is. So word iets uitgebeeld van die omvattende liefde van die vaderlike moeder of die moederlike vader. [Dink ook aan ons teks twee weke gelede waarin Jesus homself beskryf as ’n moeder hen] Die aantrekkingskrag van die skildery is onder meer geleë in die suggestie dat die vader nie oë nodig het om te sien nie. Die vader kyk met sy hart… en in die vader se hart, was die seun nooit weg nie.