Johannes 12:1-8

7 April 2019

Vyfde Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Hoofstuk 11 en 12 in Johannes se evangelie is twee polities-swaar-gelaaide tekste.

Net voor en net na die gebeurtenis wat afspeel in die huis van Lasarus, Martha en Maria, vind ons twee komplotte tot moord, twee besluite om dood te maak.

Jesus het so pas vir Lasarus, sy geliefde vriend uit die dood opgewek. Byna die hele hoofstuk 11 van Johannes se evangelie word aan daardie aangrypende vertelling gewy. In die hart van die evangelie vind ons die teken per excellence wat getuig dat Jesus die opstanding en die lewe is.

Ons lees dat baie mense wat gesien het wat Jesus gedoen het, in hom geglo het; maar dat sommige van hulle na die Fariseërs toe gegaan het om vir hulle te vertel wat Jesus gedoen het. Op grond van wat hulle gehoor het, het die Fariseërs en die leierpriesters (mense wat gewoonlik nie veel ooghare vir mekaar gehad het nie) ’n vergadering van die Sanhedrin (dit is die hoogste hof van die Jode) byeengeroep en vir mekaar gesê:

“Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.”

In die oë van die politieke en godsdienstige leiers was die opwekking van Lasarus die gevaarlikste ding wat Jesus kon gedoen het. Deur die dood te oorwin, het Jesus die kragtigste wapen in die hande van die Romeinse ryk van hulle af weggeneem: vrees vir die dood.

As die mense nie meer die dood vrees nie, hoe kan die Romeinse ryk oor hulle heers? As hierdie Jesus mag het oor die dood, en die volk begin om in hom te glo (soos wat al hoe meer mense besig is om te doen), sal hulle vrees vir die dood nie meer teen hulle gebruik kan word nie. Dan sal hulle vry wees. Dan die Jode nie meer met die klip, en die Romeine nie meer met die swaard en die kruis, beheer oor die volk kan uitoefen nie.

So besluit die Sanhedrin om eerder vir Jesus dood te maak. Beter dat een man sterf, as wat die hele volk ondergaan. Jesus, nou iemand met ’n prys op sy kop, moes woestyn toe vlug, omdat die boodskap uitgegaan het dat enige iemand wat vir Jesus sien, dit moet rapporteer. Net voor ons by vanoggend se teks uitkom, lees ons dat almal op die uitkyk was vir Jesus.

Dit was amper tyd vir die Pasga-fees en Jode van regoor die Romeinse ryk was daarvoor op pad na Jerusalem toe. Oral het mense onder mekaar gewonder, gaan Jesus dit durf om die fees by te woon?

***

Intussen was Jesus wel op pad Jerusalem toe. Van Efraim, in die woestyngebied, trek Jesus toe ’n bietjie nader na Betanië, ’n klein dorpie net buite die stad. Daar gaan hy tuis by Lasarus – en Johannes herinner ons onmiddellik daaraan dat dit die Lasarus is wat Jesus vroeër opgewek het.

[Terloops, toe die storie van Lasarus se opwekking vertel is, het Johannes ook ’n verwysing gemaak na die “Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het.” Dit is duidelik dat Johannes die verband tussen die twee vertellings wou beklemtoon.]

Martha het hulle bedien en Lasarus was een van die wat saam met Jesus aan tafel gesit het.  Kom ons staan eers hierby stil: by die gasvryheid van Lasarus. Dit is ’n voorbeeld van vreeslose gasvryheid. Gasvryheid wat glo in die opstanding.

Soos ek vroeër genoem het, was daar, buiten die komplot om Jesus te vermoor, nóg ’n komplot tot moord, wat net ná vanoggend se teks volg. Tydens sy se besoek aan Betanië het dit gou uitgekom dat Jesus by Lasarus tuisgegaan het, en so was daar ’n groot skare wat in Betanië saamgedrom het – nie net om vir Jesus te sien nie, maar ook vir Lasarus – die opgewekte. Ons lees dat die leierpriesters, toe hulle hiérvan hoor, dat mense ook vanweë Lasarus in Jesus begin glo het, planne beraam het om óók vir Lasarus dood te maak.

Deur sy waagmoed en troue vriendskap leer Lasarus vir ons wat dit beteken om te glo dat Jesus die opstanding en die lewe is. Om in die opstanding te glo gaan nie net – of selfs in die eerste plek – oor wat met ons gebeur nadat ons eendag doodgaan nie – dit gaan oor die lewe!

Lasarus het gesterf, en in Christus het hy opgestaan (dit bely ons ook van onsself as gedooptes): nou getuig Lasarus dat Jesus die lewe en die opstanding is – nie deur woorde nie, maar deur sonder vrees vir Jesus gasvryheid aan te bied. Hy plaas sy lewe op die spel ter wille van die waardes en die visie van Jesus, wat vir Jesus belangrik is.

Vanweë sy geloof in die opstanding is Lasarus bereid om te sterf – aan homself, en aan die vrees wat, nog voordat ons dood is, reeds die lewe uit ons dryf. In Christus is Lasarus vry – vry van die vrees en vry vir die liefde. Vry om vir Jesus in sy lewe te huisves – letterlik deurdat Jesus by hom tuisgegaan het, maar ook simbolies, deurdat Lasarus nou die gasvryheid van Jesus in sy lewe beliggaam.

Om in die opstanding te glo is om, in ’n wêreld wat daarteen vyandig is, bereid te wees om ons lewens te gee vir dit waarvoor Jesus sy lewe gegee het, dit is om Jesus se passie met hom te deel in ’n wêreld wat die evangelie wil arresteer en stilmaak.

***

Kom ons draai nou na Maria, wat terwyl Jesus saam met Lasarus aan tafel was, ’n derde van ’n liter van die kosbaarste reukolie geneem het om Jesus se voete te salf, en daarna sy voete met haar hare afgedroog het.

Haar gebaar is ’n teken van haar dankbaarheid aan Jesus wat haar broer Lasarus uit die dood opgewek het. Dit verduidelik reeds die oorvloedigheid van haar gebaar: want hoeveel kos ’n mens se lewe? 300 denarii? 300 000 denarii?

Dit is onmoontlik om ’n prys te stel aan die geskenk wat Jesus vir haar en haar suster gegee het, toe hy vir Lasarus uit die donker graf uitgeroep het en aan haar terug versorg het.

Maar daar lê nog ’n dieper betekenis in haar gebaar, buiten haar dankbaarheid. Sy weet wat dit vir Jesus kos dat hy vir Lasarus opgewek het. Sy weet dat haar broer se lewe Jesus se lewe sal kos. En deur sy voete te salf, éér sy hom daarvoor.

Dit was helemaal buitengewoon om iemand se voete met reukolie te salf. In so ’n geval sou jy eerder iemand se hoof salf.

Wanneer salf jy iemand se voete?

Toe ek nog ’n student was, is een van my dosente, ’n briljante jong man van maar 42 aan breinkanker oorlede. Ek was op daardie stadium sy assistent en ek het groot bewondering vir hom gehad. So is ek in die laaste paar maande van sy lewe baie by hulle aan’t huis gewees. Daar het ’n vrou van die Hospice daagliks besoek, om die familie te ondersteun en my dosent te versorg.

Toe my vriend en dosent uiteindelik permanent in ’n koma was, het sy met ’n lig gegeurde masseer-olie sy hele lyf ingevryf, veral ook sy bene en sy voete, om seker te maak dat hy gemaklik was. Sy het vir my ook geleer hoe om dit te doen, en so kon ek ook my dankbaarheid en liefde aan hom kommunikeer, al kon ons nie meer soos altyd gesels nie.

Jy salf iemand se voete, wanneer die dood óf naby is, of wanneer iemand reeds gesterf het en jy hulle hele liggaam met nardus-olie balsem.

Deur juis Jesus se voete te salf, gee Maria erkenning aan die feit dat Jesus se dood naby is. Die olie wat nooit nodig was om Lasarus se liggaam mee te balsem nie, kan sy nou gebruik om Jesus se voete mee te salf.

Soos Lasarus, glo Maria in die opstanding en daarom het sy die moed om erkenning te gee aan Jesus se naderende dood – ’n erkenning waarmee sy dissipels so gesukkel het, waarvan hulle heeltyd probeer wegskram het. Dalk was dit die grootste gawe aan Jesus: Maria gee vir Jesus ’n teken dat hy in sy dood nie alleen sal wees nie.

Daarom verdedig Jesus vir Maria, wanneer Judas haar vir haar spandabelrige optrede kritiseer: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

***

Kom ons rig ons fokus nou op die interaksie tussen Jesus en Judas.

Hierdie gedeelte het deur die eeue tot groot misverstand en misbruik gelei, omdat Jesus se woorde – want die armes het julle altyd by julle – so dikwels gebruik is om armoede en ongelykheid te regverdig.

Laat ek dit baie duidelik stel: vir enige iemand wat passievol is oor wat Jesus passievol is, kan en mag sy woorde nooit gebruik word om armoede te regverdig nie.

Jesus is hier besig om Deuteronomium aan te haal, hoofstuk 15, waarin die genadejaar aangekondig word waarin alle skuld elke sewende jaar afgeskryf moet word.

Daar staan: “Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-mens wat in nood is en arm is.”

Ons wat nie die voorreg het om Jesus se fisiese liggaam met olie te balsem nie, het wel armes in ons land. Daarom het ons die voorreg om dit wel aan Jesus te doen elke keer wat ons dit vir die geringstes onder ons doen.

Judas doen die berekeninge. In ’n sekere sin is hy spot on. Hy is spot-on, maar hy helemaal verkeerd; want hy mis die liefde, hy mis die skoonheid. Buiten die feit dat hy eintlik ’n dief is en ‘die armes’ as ’n vae begrip gebruik om sy eie sakke vol te stop, sien hy nie raak hoe Jesus, in daardie oomblik, een van die armste mense in Betanië is nie – hy is so goed soos dood.

Soos so veel keer in die evangelies, word ons daaraan herinner dat ons volgens die wet en volgens die berekeninge van mense, onsself kan regverdig, en steeds die hart van die saak kan mis: die skoonheid, die liefde, die heilige.

Enige kunstenaar, enige beminde, enige mistikus sal vir jou sê: skoonheid, liefde en heiligheid is nie berekenbare kategorieë nie, dit is kategorieë van oorvloed en oorgawe.

Uiteindelik is dit ons berekeninge wat vir Jesus kruisig: “dit is beter dat een man sterf, as wat die hele volk vergaan” en “hoekom is hierdie olie nie vir 300 denarii verkoop nie” en dit is Maria se spandabelrige liefdesdaad wat van Jesus se dood en opstanding getuig.

***

Ons sluit af deur te kyk na wat Maria se liefdesdaad vir Jesus beteken het.

Maria gee vir Jesus die moed wat hy nodig gehad het, om uiteindelik Jerusalem binne te gaan, om sy roeping te voltooi.

Maar ek wonder of Maria nie ook vir Jesus geleer het wat sy laaste daad moet wees nie. Dalk is hierdie die oomblik waarop Jesus besluit het om, as ’n teken van sy liefde vir sy dissipels, hulle voete te was. Nie met olie nie, maar met water.

Hy was hulle voete en roep hulle om ook mekaar se voete te was. Dit is hoe sy dissipels geken sal word. Dit is hoe mense geken sal word wat in die opstanding glo. Mense wat mekaar dien, wat mekaar se voete was.

Jesus se dood gaan nie tevergeefs wees nie. Die Fariseërs en die leierpriesters doen hulle bes om hom stil te maak, om die opstanding en die lewe onder die mat in te vee, maar, soos ons teks sê: “die reuk van die olie het die hele huis deurtrek.”

Die reuk van Jesus se liefde, die kragtige uitwerking van Jesus se dood en opstanding, die skoonheid, die heerlikheid en die vryheid daarvan het die ganse aarde deurtrek.

Later, wanneer Jesus Jerusalem binnegaan op die rug van ’n donkie en die skare volg agter hom aan staan die Fariseërs met hulle hande in hulle hare. Hulle sê hulle vir mekaar: “Kyk, ons het niks bereik met ons planne nie! Kyk, die hele wêreld, die hele kosmos, loop agter hom aan!”

Mag ons ook niks bereik in ons pogings om die evangelie te bereken nie, sodat die die geur van liefde, indien nie deur ons nie, dan ten spyte van ons, die hele bewoonde wêreld sal deurtrek en die hele wêreld agter Jesus sal aanloop.