Johannes 20:1-18

21 April 2019

Paasfees
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Vrydag is ons herinner aan wat die kruis in Jesus se wêreld vir mense beteken het. ’n Kruisdood was bedoel vir kriminele, veral politiese kriminele wat ’n bedreiging ingehou het vir die orde.

Dit was ’n manier om iemand stil te maak, om húlle en hulle gedagtenis, van die gesig van die aarde af te vee. Daarom was begrafnisrituele en rou vir gekruisigde persone ook verbied gewees.

En tog was daar ’n sekere Josef van Arimatea, ’n lid van die Joodse raad wat nie saamgestem het met die raad se besluit om Jesus te laat kruisig nie. Volgens Lukas was hy iemand wat uitgesien het na die koninkryk van God. Omdat hy in die geheim ook ’n volgeling van Jesus was, het hy die risiko aanvaar om vir Pilatus na Jesus se liggaam te vra. So het hy vir Jesus begrawe, in ’n graf wat in ’n tuin geleë was.

Nog ’n persoon wat hulle eie lewe in gevaar gestel het om Jesus te eer, was Maria Magdalena, wat vroegoggend op die eerste dag van die week na Jesus se graf toe gegaan om by die graf te rou. Dit was ’n uiters gevaarlike ding om te doen. Daar is aangetekende gevalle waarop persone wat getreur het by die dood van ’n gekruisigde, self ook gekruisig was. Dit is waarskynlik hoekom sy in die donkerte gegaan het, eerder as in die helder daglig.

Maria op die graf af en sien dat die klip voor die graf verwyder is. Sy stel nie eers verder ondersoek in nie; sy neem dadelik aan dat iemand die graf beroof het en Jesus se liggaam daaruit weggeneem het. Daarop gaan roep sy vir Petrus, asook die dissipel wie Jesus baie lief gehad het.

Hoewel, die resies tussen die twee dissipels na die graf toe uitstekende preek-materiaal is, fokus ons vanoggend op die verskyning van Jesus en Maria Magdalena.

Nadat die dissipels self die oop en leë graf met net die linne daarin gesien het, is hulle weer huis toe. Volgens die verteller, het hulle “nog nie die skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.”

Ons neem aan dat Maria, nadat sy die dissipels gaan roep het, haar weg weer teruggevind het tot by die graf, want die storie vervolg met haar wat weer buite die graf staan en huil.

Sy is desperaat om Jesus te vind. Sy buk vooroor om in die graf in te kyk en daar sien sy twee engele wat sit waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop was en een waar sy voete was.

“Mevrou,” sê hulle toe vir haar, “waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie.

Toe Jesus ook vir haar vra “waarom sy huil, verwar sy hom met die tuinier. “Wie soek jy?” vra hy vir haar. “Meneer,” sê sy vir hom, “as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.”

En dan, vir die eerste keer in die hele Johannes-evangelie spreek Jesus ’n vrou op haar naam aan. Nie meer “mevrou” nie, maar “Maria!” sê hy vir haar.

Rabboeni!” is haar antwoord onmiddellik. Dit was ’n meer intieme vorm van die aanspreekvorm Rabbi.

Met die dat Jesus haar op haar naam roep en sy die stem van haar geliefde leermeester herken, word die raaisel van die leë graf, en waar Jesus is, uiteindelik opgelos.

Dit het my laat dink aan iets wat ek eenkeer oorgekom het. Vertel die storie van vrou wat voor my kar ingehardloop het.

Sy wou dat ’n kar, enige kar wat verbykom, haar teen spoed raak ry om ’n einde aan haar lewe te maak.

Ek het langs die pad gestop en na haar toe gegaan. Ek kon haar uiteindelik uit die pad uitkry, maar sy was nog vasbeslote om in die pad in te hardloop. Sy was in ’n absolute toestand: sy het verskriklik gehuil en heeltemal onsamehangende goed geskreeu. Ek het haar vasgehou, maar sy het in ’n bondeltjie ingetrek. Dit was onmoontlik om haar te kalmeer.

Wat is jou naam? vra ek uiteindelik. Skielik raak sy stil. “Fransie,” sê sy toe. Dit was die eerste dat daar suksesvolle kommunikasie tussen ons plaasgevind het.

Ek roep haar toe op haar naam en vir die eerste keer het sy haar gesig opgelig en kon ons oogkontak gemaak. Ek kan nie onthou wat ek verder vir haar gesê het nie, maar sy het daarna al hoe rustiger geraak. Uiteindelik het ’n vriendin van haar daar opgedaag en kon sy haar vriend terugneem huis toe.

Ek sal nooit vergeet hoe dit met die hoor van haar naam was dat daar ’n kalmte oor haar gekom het. Dit was amper asof die aanhoor van haar naam haar letterlik uit haar hel uitgeroep het.

Op ’n soortgelyke manier, was dit asof Jesus, deur Maria op haar naam te roep, haar uit haar plek van verdriet en verlies uitgeroep het. Toe eers kon sy sien wat reg voor haar staan, maar waarvoor sy in haar hartseer blind was.

Só word Jesus onthul as die goeie herder en Maria as een van sy skape. Ons lees in Johannes 10, hoe die goeie herder die een is wat sy skape op hul naam roep en wie se skape na sy stem luister.

Hierna maak Jesus, uiteindelik, die betekenis van sy opstanding aan Maria bekend. Dit kom in die vorm van ’n verbod en ’n opdrag. Eers die verbod: Maria moenie aan Jesus vashou nie, omdat hy eers na sy Vader toe moet opvaar. En dan kry sy die opdrag: “gaan na my broers en susters en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Hierin sien ons die hart van wat Jesus se opstanding beteken.

Met die opstanding het die nuwe dag van God se koninkryk aangebreek. Jesus is nou by die Vader, en die Vader is by Jesus. Jesús se God is óns God.

Die opstanding sê vir ons dat die aard van God, die wese van God, die hart van God van nou af bepaal sal word deur God se verhouding met Jesus Christus. En dit is Gód se besluit dat dit so is, want niemand behalwe die Skepper van hemel en aarde kan die dood oorwin nie.

Van nou af is die belangrikste ding wat ons van God weet, die mees bepalende eienskap van God, dit wat vir ons sê wie God ten diepste is, die feit dat God vir Jesus opgewek het. Van nou af is dit onmoontlik om die identiteit van God van die identiteit van Jesus te skei.

Wie is my Vader en jou Vader? Wie is my God en jou God?

Dit is die Een wat geweier het om die politiese en godsdienstige leiers se uitspraak oor Jesus te aanvaar. God verwerp die wêreld se oordeel. Toe die wêreld, toe óns, vir Jesus ‘nee’ gesê het, het God ‘NEE’ gesê vir ons ‘nee’. So is die opstanding God se onweerspreekbare JA vir Jesus. Deur vir Jesus uit die dood uit op te wek, onderskryf God alles wat Jesus gesê en gedoen het.

So sê die opstanding vir ons wie Gód is. Maar dit sê ook vir ons wie Jesús is.

Jesus is nie iets van die verlede nie. Met sy opstanding het God se toekoms aangebreek en daardie toekoms is in Jesus se hande. Jesus lewe en sy passie – dit waaroor hy passievol was, dit waarvoor hy gely en gesterf het – dit het nie tot ’n einde gekom aan die kruis nie. Inteendeel, Jesus se lewe gaan voort. Soos iemand dit stel: “He is alive and at large in the world.”

Dit is hoekom Maria nie aan hom moes vashou nie. Sy kan hom nie meer hê op die ou bekende manier nie. Geloof kyk nie terug na ’n Rabbi wat ’n goeie voorbeeld gestel het nie, dit kyk vorentoe na waar Jesus ons lei, na waar Jesus ’n nuwe weg vir ons baan. Dit beteken dat ons, om getrou te bly aan Jesus, soms moet afskeid neem van ons eie sekerhede; nie net kan vashou aan wat bekend is nie; beskikbaar moet wees om ’n radikaal nuwe wêreld te betree. Moenie aan my vashou nie, sê Jesus, van nou af baan ek vir julle ’n nuwe weg; gaan en bring ander om saam met jou op hierdie nuwe reis te gaan.

So word Maria, die vrou van Magdala, die eerste persoon wat die goeie nuus van Jesus se opstanding verkondig.

Soos ek vroeër genoem het, toe die opgestane Jesus sê, “Maria!” was dit die enigste geval waar Jesus ’n vrou op haar naam aanspreek in die Johannes-evangelie. Hierdie ‘Maria’ was nie getroud gewees nie. In die patriargale wêreld van daai tyd was sy daarom, so te sê, naamloos. Daarom word sy maar genoem na die plek waar sy vandaan kom: Maria Magdalena, Maria van Magdala. Jesus se opstanding was sowel die belangrikste as die mees aanvegbare ding wat die vroeë Christene geglo het, en Jesus kies dat Maria, die vrou van Magdala, die vrou met ’n naam, dat sy die eerste gesant van daardie boodskap moet wees. Sy word die apostel aan die apostels, die een deur wie die dissipels die eerste keer die goeie nuus van die opstanding gehoor het.

Ek het vroeër genoem dat die opstanding vir ons sê wie God is – dat God ten diepste die een is wie vir Jesus opgewek het – en dat dit daarom vir ons sê wie Jesus is – dat Jesus se versoenende, bevrydende, lewegewende werk voortgaan, onbegrens deur die dood, onbegrens deur ons sonde.

In hierdie ontmoeting tussen Jesus en Maria sien ons egter dat die opstanding ook iets besonders vir ons sê oor wie ons nie, oor die mens, oor mense.

Mense maak saak. Elke liewe mens maak vir God saak. Daar is iets wat ononderhandelbaar is aan elke enkele mens. Elke persoon het ’n waardigheid wat gesetel is in die troue liefde van God, wie vir Jesus uit die graf uit geroep het, wie vir Maria op haar naam geroep het.

Ek het ook Vrydag genoem hoe daar volgens oorlewering duisende kruise langs die paaie van Galilea gestaan het in die tyd toe Jesus ’n klein seuntjie was. Jesus sou waarskynlik daardie kruise gesien het.

Die mag van Rome, die mag van die kruis was dat dit mense kon uitwis. Sonder ’n behoorlike begrafnis was die hoop dat so iemand ook uit menseheugenis verwyder kon word. Die atmosfeer waarin mense geleef het, en waarin Jesus grootgeword het, was een waarin die lewe van ’n mens sonder waarde en sonder waardigheid was.

Soos Rowan Williams sê:

“Ancient empires grew and survived by assuming that enormous quantities of human lives were expendable and unimportant; those who fell victim to the system simply disappeared.

But what if they didn’t? Here was ’n message that might well cause alarm: an executed political criminal, instead of disappearing into oblivion, is brought back into the world and his friends are told to speak in his name to his killers, telling them that for their life and health they must trust that he has made peace for them with God.”

In ’n wêreld waarin daar geen waarde geheg was aan die lewe van vrouens, slawe, vreemdelinge en kriminele nie, verkondig die opstanding dat elke lewe waarde het in God se oë. Die God van Jesus is die God wat op ’n besondere manier vashou aan die lewens van elke mens wie se stem stilgemaak is, insluitend persone wie se lewens vermors is, wie se lewens deur geweld kortgeknip is, wie se name en wie se storie uitgewis of vergeet is.

Alhoewel ons nie meer in ’n totalitaristiese samelewing lewe nie, hoef ’n mens net na die 20ste eeu te kyk om talle voorbeelde te sien van hoe maklik van die mees ontwikkelde samelewings die ononderhandelbare waardigheid van mense se lewens kan prysgee.

Daarom moet die opstanding ons waaksaam maak sodat ons ook meer subtiele vorme van uitbuiting en miskenning van mense raak te sien en opstandig te raak daaroor.

Die hoop en die vreugde van Paasfees is dat niemand van ons ooit deur God vergeet word nie, dat ons elkeen op ons naam geroep word om God se toekoms te betree. Ons word geroep om daardie Paasboodskap uit te dra; in woord en in daad. Daartoe word ons elkeen geroep en in staat gestel. Dit kan begin met iets so eenvoudig soos om iemand op hul naam te noem; waar dit sal eindig is dalk te wild vir ons wildste drome.