Lukas 19:29-44

14 April 2019

Palmsondag & Doop
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Andre Bartlett beskryf iewers Jesus se intog in Jerusalem op Palmsondag as sy “intog in vyandsgebied.”

Dit is ’n baie akkurate beskrywing, want met sy intog in Jerusalem begin die beslissende konfrontasie tussen Jesus en die leiersfigure wat in beheer was van die Joodse volk.

Jerusalem was vyandsgebied, se hy, omdat dit “die sentrum was van hulle wat Hom van die begin af gewantrou het, toenemend weerstand gebied het teen sy optrede en begin soek het na ’n manier om van Hom ontslae te raak.”

“Met sy intog daag Hy die mag van die vyand uit, omdat Jerusalem nie bedoel was om die sentrum van menslike uitbuiting en magsuitoefening te wees nie, maar om die stad van God te wees; d.w.s. die sentrum van God se shalom, God se orde van reg en geregtigheid, omgee en ontferming; ’n orde wat totaal anders lyk as die wanorde van menslike uitbuiting, verdrukking en die instandhouding van onregverdige sisteme.”

***

Daarom was dit ook gepas dat Jesus se aankoms in Jerusalem oorvleuel het met die Pasga-fees van die Jode – die groot feesdag waarop God se oorwinning oor slawerny en onderdrukking gevier word.

Op daardie stadium was Jerusalem beset deur die Romeinse ryk. Pontius Pilatus, Goewerneur van Judea verteenwoordiger van die Romeinse ryk en van die Pax Romana (27 v.C. tot 180 n.C.), die Romeinse Vrede.

Rome het geheers deur middel van plaaslike heersers (in Jerusalem was dit die ryk familiehoofde, die priesters, die skrifgeleerdes). In ruil vir allerhande belastings, wat die priesters en familiehoofde gehelp het om in te vorder en na Rome te stuur, het Rome weer vir die plaaslike leiers militêre en politiese beskerming gebied.

Gedurende die Pasga-fees het die stad oorgevloei van mense. Die populasie groei gedurende daai week van 50 000 na 200 000 – dit is ’n drukpot van emosies, van pynlike herinneringe, van verkalkte woede en frustrasie.

Oral roep mense “Hosanna!” wat letterlik beteken “red nou!” Die vraag na redding, na verlossing, na God se oorwinning oor die bose was dringend en opdringend. Dit was nie ’n abstrakte vraag vir teoloë om te bepeins nie, maar ’n diep sug wat tasbaar regdeur die stad gehoor en gevoel kon word.

[Met die verkiesings wat al hoe nader kom, is daar ’n soortgelyke energie in ons land se stede.]

***

In ’n baie interessante boek, wat vir ons ’n geskiedkundige perspektief bied oor die laaste week van Jesus se lewe, skryf die twee Bybelwetenskaplikes, Dominic Crossan en Marcus Borg, dat daar heel waarskynlik twee intogte op daardie ‘Palmsondag’ in Jerusalem plaasgevind het.

Die een, uit die Ooste, dié van Jesus, het ons so pas van gehoor. Maar daar was ’n tweede intog, uit die Weste, waarvan Lukas se eerste hoorders al te bewus sou gewees het, toe hulle die storie van Jesus op die geleende donkie gehoor het.

Met die aanbreek van die Pasgafees sou Pilatus vanaf sy somerpaleis op die Weskus van Israel opgetrek het na Jerusalem. Dit sou ’n massiewe intog gewees het: vlae, tromme, trompette, gewapende soldate, vuurwaens en ruiters op perde.

Verbeel dit vir ’n oomblik: sien die glans van die son op die metaal van die wapens; hoor die lawaai van die hoewe en die tromme, die blaas van trompette en die gejuig van die skare; ruik die sweet van die perde, die stof wat oral opgeskop word; voel die geskud van die aarde, die spanning en vrees in die lug.

Midde van die intog sou die Goewerneur, in militêre drag geklee, op ’n perd die stad binnekom. Volgens wet mag niemand behalwe hy op daardie perd gery het nie. ’n Sirkus van mag en krag om die plaaslike bevolking sonder enige twyfel bewus te maak van wie in beheer is. Dis hoe die vrede van Rome werk.

En die koste om hierdie propaganda-masjien aan die gang te hou? Wie betaal die rekening?

Die armes, natuurlik, wat met hulle offergawes Jerusalem to stroom. Die tempelterrein bedrywighede het verseker dat belastings betaal word. En soos die Romeinse ryk uitbrei, word al hoe land en besittings en welvaart van mense afgeneem en teruggelei Rome toe.

Ons moet probeer om ’n gevoel te kry vir hoe alomvattend en oorweldigend van aard sulke groot oorheersings-sisteme is. Wat so ’n sisteem so effektief maak is dat naderhand so normaal word. Dit beperk ’n mens se verbeelding sodat dit mettertyd na die enigste werklikheid lyk, die enigste moontlike oplossing, ons enigste redding en verlossing.

So word ’n mens ingesuig in die logika van probleme oplos met mag en geweld en vrees; ’n logika van hebsug en gierigheid. Neem die Joodse leiers as ’n voorbeeld. Meeste van hulle was op ’n persoonlike vlak nie slegte, bose individue nie.

Dis die aard van die bose: dis nie iets daar buite nie. Dit sluk ons in. Soos iets met groot swaartekrag betrek dit alles rondom dit in ’n bose kringloop. Op die oog af belowe dit redding en vrede, maar dit bly ’n sisteem van oorheersing. Selfs al wil ons dit teenstaan, is ons geneig die bose na te boots, probeer ons om die bose met die bose te bestry, volgens sy eie logika van mag en kompetisie.

Maar dan, vanaf die Ooste, via die klein dorpies van Betfage en Betanië, wys Jesus vir ons ’n ander weg. Hy bring verlossing. Hy bring God se vrede en geregtigheid.

Vir daardie vrede om grond te vat moet hy egter eers die mense van Jerusalem – en vir ons – verlos van hulle gehegtheid aan die vrede wat Rome vir ons belowe. Ons moet eers verlos word van ons betowering deur menslike vertonings van krag, van ons vaskleef aan mammon; van ons verslawing aan geweld en sekuriteit.

Jesus wil ons verbeeldings vrymaak van die beklemmende atmosfeer van Rome sê, mag, sodat ons weer God se alternatiewe koninkryk kan sien.

Daarvoor het Jesus sy eie prosessie, baie strategies beplan. Sy prosessie is ’n vorm van protes-kuns. Jesus skep ’n parodie van wat in die Weste van die stad aangaan:

Rome se rykdom is bekom deur besittings af te vat, deur die invordering van ondraaglike belastings. Jesus moet ’n donkie by iemand leen.

Keisers kom stede binne op perde wat vir hulle gereserveer is. Vir Jesus het die God ’n donkie voorberei, en hoewel niemand al ooit op hierdie donkievul gery het nie (dit sou dus geskik wees vir ’n koning) sal hierdie donkie weer aan sy eienaar terugbesorg word, baie mense sal in die toekoms nog op hom ry.

Pilatus kom vanaf sy somerpaleis; Jesus is afhanklik van die gasvryheid van melaatses in die klein dorpie Betanië op die uithoeke van die groot stad. Ons het verlede week gehoor oor die vreeslose gasvryheid wat Jesus in Betanië ontvang het.

Pilatus beset die stad met groot lawaai en bohaai, ’n multi-miljoen dollar propaganda masjien, betaal deur dieselfde mense wat dit manipuleer, Jesus word gevolg deur al die mense wat hy op sy weg na Jerusalem gehelp het, wie hy genees en gevoed het. Hulle het nie baie nie, maar wat hulle het, dit gee hulle: hulle gee hulle klere vir Jesus se saal. Hulle gooi hulle bo-klede voor Jesus uit om vir hom ’n pad te maak. In plaas van vlae, pluk hulle maar takke van die bome af.

Op hierdie kreatiewe manier, gebruik Jesus parodie en satire om die absolute oormatigheid van die Romeinse weermag-masjien bloot te lê. Hy terg vir Rome, hy spot met die keiser, hy is soos die seuntjie wat uitwys dat die Keiser eintlik kaal is. Hy sien deur die oorbodige magsvertoning en wys dit uit vir die sirkus wat dit eintlik is.

So daag hy nie net Romeinse ryk uit nie – maar ook die Joodse drukgroepe wat vir Rome op sy eie speelveld wou aanvat, naamlik deur politieke mag of militêre geweld. Daarom is Jesus se eerste publieke optrede nadat hy in Jerusalem aangekom het om die tempel te reinig.

Anders as Rome, wat vrede handhaaf deur die swaard, vergestalt Jesus self die vrede wat hy verkondig in die nederige, diensbare manier waarop hy die stad ‘beset’. Van sy doop in die Jordaanrivier, tot sy intog in Jerusalem, is dit een lang spoor goeie werke waardeer hy mense wat op verskillende maniere gevange was vrygemaak het en verwerptes ingesluit het.

Hy stort trane oor Jerusalem, al is dit vyandsgebied. Hy bring bevryding vir so wel die onderdrukte as die onderdrukker.

***

So leer Jesus vir ons dat die weg so belangrik is soos die einddoel. ’n Mens kan nie vrede as jou doel bereik as geweld en onderdrukking jou voertuig is nie. Die weg van vrede is egter ook die lang en nederige weg van broosheid.

Waar ons uitkom, hang af van waar ons begin, hoe ons daarheen ry.

Op hierdie Palmsondag waarop ons ook die doop vier, moet ons dalk ook terugdink aan die begin van die lydenstyd, waar ons herinner is aan Jesus se doop. Dalk sien ons eers die volle uitwerking van Jesus se doop op Palmsondag, by sy intog in vyandsgebied. Want op daardie dag, was dit krities dat hy geweet het wie hy is, aan wie hy behoort, en waarvoor hy staan.

Dalk is dit ook die betekenis van ons doop: dat ons daardeur gesalf word vir ons eie intog in vyandsgebied, ons eie intog in ’n wêreld wat kies vir die vrede van Rome eerder as die lewegewende sjaloom van God.

Soos die tempelterrein wat gewemel het in diens van Rome se vrede, eerder as God se lewegewende sjaloom, kan ons tempels en ons lewens ook vir God se sjaloom geslote wees. Al is dit nie ons bedoeling nie, kan ons deur die brute swaartekrag van ’n magsisteem ingesuig word en begin sig verloor van enige alternatief.

Dan het ons dae soos vandag nodig om weer herinner te word wie ons ten diepste is, aan wie ons behoort, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

Vandag begin ons intog in die Groot Lydensweek in. Ons word opgeroep om vir Jesus te volg, deur Goeie Vrydag na Paassondag, deur Jesus kruisdood na sy opstanding.

By hierdie drempel los ek ons met net ’n paar vrae – geen antwoorde nie. Vrae wat ons as pelgrims op Jesus se weg, as dissipels van Jesus hierdie week saam met ons kan dra. Pelgrims moet lig reis – hulle het alleen plek vir vrae, antwoorde is te swaar.

In watter prosessie is ons/ek? Met watter logika voer ek die stryd teen die bose?

Waar is my Betanië? Waar word ek geestelik en liggaamlik versorg en gevoed sodat ek met moed en doelgerigtheid op die beslissende oomblik oor die drempel kan tree? Hoe kan ek – in my eie lewe – God se vrede nie net ’n eindbestemming maak nie, maar ’n lewenswyse – nie net ’n doel nie, maar ook die weg wat daarheen lei?

Johannes 12:1-8

7 April 2019

Vyfde Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Hoofstuk 11 en 12 in Johannes se evangelie is twee polities-swaar-gelaaide tekste.

Net voor en net na die gebeurtenis wat afspeel in die huis van Lasarus, Martha en Maria, vind ons twee komplotte tot moord, twee besluite om dood te maak.

Jesus het so pas vir Lasarus, sy geliefde vriend uit die dood opgewek. Byna die hele hoofstuk 11 van Johannes se evangelie word aan daardie aangrypende vertelling gewy. In die hart van die evangelie vind ons die teken per excellence wat getuig dat Jesus die opstanding en die lewe is.

Ons lees dat baie mense wat gesien het wat Jesus gedoen het, in hom geglo het; maar dat sommige van hulle na die Fariseërs toe gegaan het om vir hulle te vertel wat Jesus gedoen het. Op grond van wat hulle gehoor het, het die Fariseërs en die leierpriesters (mense wat gewoonlik nie veel ooghare vir mekaar gehad het nie) ’n vergadering van die Sanhedrin (dit is die hoogste hof van die Jode) byeengeroep en vir mekaar gesê:

“Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.”

In die oë van die politieke en godsdienstige leiers was die opwekking van Lasarus die gevaarlikste ding wat Jesus kon gedoen het. Deur die dood te oorwin, het Jesus die kragtigste wapen in die hande van die Romeinse ryk van hulle af weggeneem: vrees vir die dood.

As die mense nie meer die dood vrees nie, hoe kan die Romeinse ryk oor hulle heers? As hierdie Jesus mag het oor die dood, en die volk begin om in hom te glo (soos wat al hoe meer mense besig is om te doen), sal hulle vrees vir die dood nie meer teen hulle gebruik kan word nie. Dan sal hulle vry wees. Dan die Jode nie meer met die klip, en die Romeine nie meer met die swaard en die kruis, beheer oor die volk kan uitoefen nie.

So besluit die Sanhedrin om eerder vir Jesus dood te maak. Beter dat een man sterf, as wat die hele volk ondergaan. Jesus, nou iemand met ’n prys op sy kop, moes woestyn toe vlug, omdat die boodskap uitgegaan het dat enige iemand wat vir Jesus sien, dit moet rapporteer. Net voor ons by vanoggend se teks uitkom, lees ons dat almal op die uitkyk was vir Jesus.

Dit was amper tyd vir die Pasga-fees en Jode van regoor die Romeinse ryk was daarvoor op pad na Jerusalem toe. Oral het mense onder mekaar gewonder, gaan Jesus dit durf om die fees by te woon?

***

Intussen was Jesus wel op pad Jerusalem toe. Van Efraim, in die woestyngebied, trek Jesus toe ’n bietjie nader na Betanië, ’n klein dorpie net buite die stad. Daar gaan hy tuis by Lasarus – en Johannes herinner ons onmiddellik daaraan dat dit die Lasarus is wat Jesus vroeër opgewek het.

[Terloops, toe die storie van Lasarus se opwekking vertel is, het Johannes ook ’n verwysing gemaak na die “Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het.” Dit is duidelik dat Johannes die verband tussen die twee vertellings wou beklemtoon.]

Martha het hulle bedien en Lasarus was een van die wat saam met Jesus aan tafel gesit het.  Kom ons staan eers hierby stil: by die gasvryheid van Lasarus. Dit is ’n voorbeeld van vreeslose gasvryheid. Gasvryheid wat glo in die opstanding.

Soos ek vroeër genoem het, was daar, buiten die komplot om Jesus te vermoor, nóg ’n komplot tot moord, wat net ná vanoggend se teks volg. Tydens sy se besoek aan Betanië het dit gou uitgekom dat Jesus by Lasarus tuisgegaan het, en so was daar ’n groot skare wat in Betanië saamgedrom het – nie net om vir Jesus te sien nie, maar ook vir Lasarus – die opgewekte. Ons lees dat die leierpriesters, toe hulle hiérvan hoor, dat mense ook vanweë Lasarus in Jesus begin glo het, planne beraam het om óók vir Lasarus dood te maak.

Deur sy waagmoed en troue vriendskap leer Lasarus vir ons wat dit beteken om te glo dat Jesus die opstanding en die lewe is. Om in die opstanding te glo gaan nie net – of selfs in die eerste plek – oor wat met ons gebeur nadat ons eendag doodgaan nie – dit gaan oor die lewe!

Lasarus het gesterf, en in Christus het hy opgestaan (dit bely ons ook van onsself as gedooptes): nou getuig Lasarus dat Jesus die lewe en die opstanding is – nie deur woorde nie, maar deur sonder vrees vir Jesus gasvryheid aan te bied. Hy plaas sy lewe op die spel ter wille van die waardes en die visie van Jesus, wat vir Jesus belangrik is.

Vanweë sy geloof in die opstanding is Lasarus bereid om te sterf – aan homself, en aan die vrees wat, nog voordat ons dood is, reeds die lewe uit ons dryf. In Christus is Lasarus vry – vry van die vrees en vry vir die liefde. Vry om vir Jesus in sy lewe te huisves – letterlik deurdat Jesus by hom tuisgegaan het, maar ook simbolies, deurdat Lasarus nou die gasvryheid van Jesus in sy lewe beliggaam.

Om in die opstanding te glo is om, in ’n wêreld wat daarteen vyandig is, bereid te wees om ons lewens te gee vir dit waarvoor Jesus sy lewe gegee het, dit is om Jesus se passie met hom te deel in ’n wêreld wat die evangelie wil arresteer en stilmaak.

***

Kom ons draai nou na Maria, wat terwyl Jesus saam met Lasarus aan tafel was, ’n derde van ’n liter van die kosbaarste reukolie geneem het om Jesus se voete te salf, en daarna sy voete met haar hare afgedroog het.

Haar gebaar is ’n teken van haar dankbaarheid aan Jesus wat haar broer Lasarus uit die dood opgewek het. Dit verduidelik reeds die oorvloedigheid van haar gebaar: want hoeveel kos ’n mens se lewe? 300 denarii? 300 000 denarii?

Dit is onmoontlik om ’n prys te stel aan die geskenk wat Jesus vir haar en haar suster gegee het, toe hy vir Lasarus uit die donker graf uitgeroep het en aan haar terug versorg het.

Maar daar lê nog ’n dieper betekenis in haar gebaar, buiten haar dankbaarheid. Sy weet wat dit vir Jesus kos dat hy vir Lasarus opgewek het. Sy weet dat haar broer se lewe Jesus se lewe sal kos. En deur sy voete te salf, éér sy hom daarvoor.

Dit was helemaal buitengewoon om iemand se voete met reukolie te salf. In so ’n geval sou jy eerder iemand se hoof salf.

Wanneer salf jy iemand se voete?

Toe ek nog ’n student was, is een van my dosente, ’n briljante jong man van maar 42 aan breinkanker oorlede. Ek was op daardie stadium sy assistent en ek het groot bewondering vir hom gehad. So is ek in die laaste paar maande van sy lewe baie by hulle aan’t huis gewees. Daar het ’n vrou van die Hospice daagliks besoek, om die familie te ondersteun en my dosent te versorg.

Toe my vriend en dosent uiteindelik permanent in ’n koma was, het sy met ’n lig gegeurde masseer-olie sy hele lyf ingevryf, veral ook sy bene en sy voete, om seker te maak dat hy gemaklik was. Sy het vir my ook geleer hoe om dit te doen, en so kon ek ook my dankbaarheid en liefde aan hom kommunikeer, al kon ons nie meer soos altyd gesels nie.

Jy salf iemand se voete, wanneer die dood óf naby is, of wanneer iemand reeds gesterf het en jy hulle hele liggaam met nardus-olie balsem.

Deur juis Jesus se voete te salf, gee Maria erkenning aan die feit dat Jesus se dood naby is. Die olie wat nooit nodig was om Lasarus se liggaam mee te balsem nie, kan sy nou gebruik om Jesus se voete mee te salf.

Soos Lasarus, glo Maria in die opstanding en daarom het sy die moed om erkenning te gee aan Jesus se naderende dood – ’n erkenning waarmee sy dissipels so gesukkel het, waarvan hulle heeltyd probeer wegskram het. Dalk was dit die grootste gawe aan Jesus: Maria gee vir Jesus ’n teken dat hy in sy dood nie alleen sal wees nie.

Daarom verdedig Jesus vir Maria, wanneer Judas haar vir haar spandabelrige optrede kritiseer: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

***

Kom ons rig ons fokus nou op die interaksie tussen Jesus en Judas.

Hierdie gedeelte het deur die eeue tot groot misverstand en misbruik gelei, omdat Jesus se woorde – want die armes het julle altyd by julle – so dikwels gebruik is om armoede en ongelykheid te regverdig.

Laat ek dit baie duidelik stel: vir enige iemand wat passievol is oor wat Jesus passievol is, kan en mag sy woorde nooit gebruik word om armoede te regverdig nie.

Jesus is hier besig om Deuteronomium aan te haal, hoofstuk 15, waarin die genadejaar aangekondig word waarin alle skuld elke sewende jaar afgeskryf moet word.

Daar staan: “Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-mens wat in nood is en arm is.”

Ons wat nie die voorreg het om Jesus se fisiese liggaam met olie te balsem nie, het wel armes in ons land. Daarom het ons die voorreg om dit wel aan Jesus te doen elke keer wat ons dit vir die geringstes onder ons doen.

Judas doen die berekeninge. In ’n sekere sin is hy spot on. Hy is spot-on, maar hy helemaal verkeerd; want hy mis die liefde, hy mis die skoonheid. Buiten die feit dat hy eintlik ’n dief is en ‘die armes’ as ’n vae begrip gebruik om sy eie sakke vol te stop, sien hy nie raak hoe Jesus, in daardie oomblik, een van die armste mense in Betanië is nie – hy is so goed soos dood.

Soos so veel keer in die evangelies, word ons daaraan herinner dat ons volgens die wet en volgens die berekeninge van mense, onsself kan regverdig, en steeds die hart van die saak kan mis: die skoonheid, die liefde, die heilige.

Enige kunstenaar, enige beminde, enige mistikus sal vir jou sê: skoonheid, liefde en heiligheid is nie berekenbare kategorieë nie, dit is kategorieë van oorvloed en oorgawe.

Uiteindelik is dit ons berekeninge wat vir Jesus kruisig: “dit is beter dat een man sterf, as wat die hele volk vergaan” en “hoekom is hierdie olie nie vir 300 denarii verkoop nie” en dit is Maria se spandabelrige liefdesdaad wat van Jesus se dood en opstanding getuig.

***

Ons sluit af deur te kyk na wat Maria se liefdesdaad vir Jesus beteken het.

Maria gee vir Jesus die moed wat hy nodig gehad het, om uiteindelik Jerusalem binne te gaan, om sy roeping te voltooi.

Maar ek wonder of Maria nie ook vir Jesus geleer het wat sy laaste daad moet wees nie. Dalk is hierdie die oomblik waarop Jesus besluit het om, as ’n teken van sy liefde vir sy dissipels, hulle voete te was. Nie met olie nie, maar met water.

Hy was hulle voete en roep hulle om ook mekaar se voete te was. Dit is hoe sy dissipels geken sal word. Dit is hoe mense geken sal word wat in die opstanding glo. Mense wat mekaar dien, wat mekaar se voete was.

Jesus se dood gaan nie tevergeefs wees nie. Die Fariseërs en die leierpriesters doen hulle bes om hom stil te maak, om die opstanding en die lewe onder die mat in te vee, maar, soos ons teks sê: “die reuk van die olie het die hele huis deurtrek.”

Die reuk van Jesus se liefde, die kragtige uitwerking van Jesus se dood en opstanding, die skoonheid, die heerlikheid en die vryheid daarvan het die ganse aarde deurtrek.

Later, wanneer Jesus Jerusalem binnegaan op die rug van ’n donkie en die skare volg agter hom aan staan die Fariseërs met hulle hande in hulle hare. Hulle sê hulle vir mekaar: “Kyk, ons het niks bereik met ons planne nie! Kyk, die hele wêreld, die hele kosmos, loop agter hom aan!”

Mag ons ook niks bereik in ons pogings om die evangelie te bereken nie, sodat die die geur van liefde, indien nie deur ons nie, dan ten spyte van ons, die hele bewoonde wêreld sal deurtrek en die hele wêreld agter Jesus sal aanloop.