Johannes 21:1-19

5 Mei 2019

3rde Sondag van Pase
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Eers ’n paar opmerkings oor die gedeelte wat ons so pas gehoor het:

Die eerste ding wat ons opmerk is dat hierdie verskyning van die opgestane Jesus by die see van Tiberius in Galilea plaasvind, en nie in en rondom Jerusalem nie.

Met ander woorde, hierdie groep van die dissipels was Galileërs en het teruggekeer na waar hulle oorspronklik vandaan gekom en waar hulle reis met Jesus begin het.

Die tweede ding wat ons opmerk, is dat hierdie vertelling baie dieselfde klink as die ’n verhaal in Lukas 5:4-7 – daar was Jesus langs die see besig om die skares te onderrig. Daar was egter so veel mense dat Jesus in een van die vissermanne se bootjie moes klim sodat hy nie deur die skares vertrap sou word nie. Daardie visserman was Petrus. Na sy preek sê Jesus vir Petrus om sy net uit te gooi en hulle trek ’n massiewe vangs in wat amper die nette breek. Petrus sê toe vir Jesus: “bly weg van my af; ek is ’n sondige mens.” Maar Jesus antwoord: “Moenie bang wees, van nou af sal jy mense vang.” En so begin Petrus se volgelingskap.

Die derde ding waarop ek julle aandag wil let is vers 9: “En toe hulle aan land kom, sien hulle daar ’n koolvuur gereed en vis wat daarop lê, en ook brood.”

Johannes gebruik hier ’n baie spesifieke woord om die vuur te beskryf wat die dissipels daar op die strand gesien het. Die Griekse woord is anthrakian. Dit beteken “vuur wat van kole gemaak is” (m.a.w. dis die tiepe vuur wat Transvalers maak, met charcoal).

Hierdie woord word net hiér en op één ander plek in die Nuwe Testament gebruik. Die ander plek is in Johannes 18. Dit is op die nag waarop Jesus gearresteer is. Terwyl Jesus in die Joodse hof voor die hoëpriester verskyn, staan Petrus in die voorhof van dieselfde gebou. Die slawe en tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ’n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. En dan word daar op ’n dramatiese manier vertel hoe Petrus, terwyl hy hom ook om daai koolvuur gestaan en warm maak het, vir Jesus drie maal verloën.

Deur juis na daardie koolvuur langs die see van Galilea te verwys, wil Johannes hê dat ons hierdie verbande tussen Petrus se roeping, sy verloëning van Jesus, en hierdie ontmoeting met die opgestane Here raaksien.

As die klem by Jesus se vorige verskyning op Tomas en sy twyfel geval het, val dit nou op Petrus en sy skaamte.

***

Voordat ons weer teruggaan na die teks toe, wil ek ’n oomblik lank vertoef by hierdie emosie, hierdie gevoel wat ons ‘skaamte’ noem. Dit is nie iets waaroor ons baie praat nie, maar skaamte is ’n kragtige emosie en hoe ons daarmee omgaan kan bepalend wees vir ons lewens – vir hoe ons na onsself kyk en hoe ons in verhouding tree met God en met ander mense.

Iemand wat my gehelp het om iets te verstaan van skaamte en die houvas – die negatiewe effekte wat dit op ’n mens kan hê – is die navorser, Brené Brown. Daar is ’n baie gewilde Ted-talk van haar op YouTube, wat ek sterk aanbeveel.

Brown is ’n maatskaplike werker wat navorsing wou doen oor menslike verbintenis – oor connection. Want dit is uiteindelik waaroor maatskaplike werk en die lewe as sodanig gaan – oor die herstel van verbintenis tussen mense, die versorging van die menslike verhoudings waarsonder ons nie kan bestaan nie.

Sy het egter baie gou op iets afgekom wat hierdie verbintenis tussen mense laat ontrafel. En dit was skaamte. Wat is skaamte?

Volgens haar is skaamte is ten diepste die vrees wat ons het vir die breek van ’n verhouding, die vrees dat ek nie waardig is om in verbintenis met jou te bly nie, die vrees vir verwerping. Dit is om te glo dat daar iets fout is met my wat my onwaardig maak vir liefde en aanvaarding.

Is daar iets in my wat, as mense dít van my sien of weet, sal beteken dat ek nie hulle liefde en aanvaarding waardig is nie?

Almal beleef skaamte – dit is deel van ons menswees – maar niemand praat daaroor nie. En die ironie is, hoe minder jy daaroor praat, hoe meer het jy dit; want skaamte floreer in die donker, in die geheim waar niemand die moed het om daaroor te praat nie.

Om in verbintenis te wees met ander, om verhoudings aan te gaan, vra altyd ’n mate van weerloosheid. Dit vra dat jy jouself blootstel, sodat jy in jou diepste menswees gesien en geken kan word.

Skaamte verhoed dit. Met skaamte kan ons ons vrees vir verwerping so groot raak dat ons nie die moed bymekaar kan skraap om in daardie weerloosheid in te tree nie.

“Ek is nie goed genoeg nie,” “ek is ’n slegte mens, ’n slegte vriend, ’n slegte ouer,” “ek is nie maar genoeg nie, ryk genoeg nie, slim genoeg nie, wit genoeg nie, swart genoeg nie.”

Ons probeer om ons eer te bewaar: ons onttrek, steek weg, ons bou skanse om onsself te beskerm.

***

Dit is waar ons vanoggend vir Petrus bevind. Hy is op ’n vissersboot op die see van Tiberius, besig om met sy skaamte te worstel.

Simon vir wie Jesus die naam Petrus, die rots, gegee het.
Petrus, die visser van mense.
Petrus, die eerste van die dissipels wat Jesus die Seun van God genoem het.
Petrus, wie se skoonmoeder Jesus genees het.
Petrus, wie op die water geloop het.
Petrus wie vir Jesus verheerlik op ’n bergpiek gesien het.
Petrus wie vir Jesus belowe het dat hy hom nooit sal verlaat nie, selfs tot die dood.

Petrus, wie se moed hom, op die nag van Jesus se inhegtenisneming, so tragies in die steek gelaat het, terwyl hy homself by ’n koolvuur staan en warm maak het.

Hy was veronderstel om die perfekte dissipel te wees. Nou lyk dit of hy vir die res van sy lewe van daardie pynlike herinnering gaan moet weghardloop.

“Ek het jou mos saam met Jesus gesien. Jy moet een van sy dissipels wees!”

“Nee, ek is nie! Ek ken nie eers die man nie!”

Dalk verduidelik dit hoekom ons hom op ’n vissersboot op die see van Galilea bevind. Petrus doen wat ons almal geneig is om te doen met ons skaamte. Ons hol, ons trek terug. Ons probeer maak asof daar ’n deel van ons lewens is waar die skaamte nie is nie. Ons hou ons besig met afleidings wat ons kan laat voel asof ons nog waardigheid het.

Petrus gaan terug na sy boot en sy nette toe, na ’n plek en ’n tyd vóórdat Jesus hom geroep het. En vir een lang nag, probeer Petrus om sonder Jesus vis te vang; “maar daardie nag,” sê die teks, “het hulle niks gevang nie.”

En dan breek die dag, God se nuwe dag wat met Jesus se opstanding begin. Die nag was te vergeefs, maar soos die son opkom, is Jesus daar. Op Jesus se bevel gooi hulle die net weer uit en die keer is die vangs is so groot dat die net amper skeer.

In sy skaamte wil Petrus sy naaktheid nog met sy bokleed bedek, maar eintlik is hy besig om te leer dat daar nie ’n plek of ’n tyd in sy storie is waar Jesus nie teenwoordig is nie. Jesus is net so genadig in ons mislukkings as in ons stories van sukses. Sy liefde is net so getrou in ons skaamte as in ons eer.

Skielik bevind Petrus hom weer langs ’n koolvuur en warm word – dié keer is hy nie net koud nie, maar ook honger en papsopnat. By hom sit die Here wat hy drie maal verloën het. Maar Jesus is nie daar vir vergelding nie. Hy het nie gekom om vir Petrus te verneder nie – om hom te shame nie. Óns mag dalk ’n ander se skaamte sien as ’n geleentheid om ons eie eer te bewaar, maar Jesús se agenda is versoening.

***

Daar is baie wat ons by hierdie visbraai tussen Jesus en Petrus kan leer – oor God, maar ook oor ons eie skaamte, en hoe die Here ons van ons skaamte red.

Die eerste ding wat ons opmerk is dat Jesus vir Petrus red deur hom na die plek van sy skaamte toe terug te neem.

Jesus pak nie vir Petrus in watte toe om hom van sy vernedering te beskerm nie. Jesus vermy nie die moeilike gesprek nie. Hy maak nie asof Petrus hom nooit verloën het nie, of asof sy verloëning nie pynlike gevolge gehad het nie. Maar ons sien ook nie dat Jesus vir Petrus preek of hom beskuldig of veroordeel nie.

En hoe doen Jesus dit? Hy voed. Hy voed vir Petrus – eers liggaamlik en dan geestelik.

Jesus skep ’n veilige ruimte – sonder oordeel – waarin Petrus sy vrees vir verwerping kan oortref en na die bron van sy skaamte toe kan terugkeer. Nie om verneder te word nie, maar om genees te word, sodat hy sy waardigheid kan herwin en weer in verbinding kan tree.

Nadat hulle saamgeëet het, vra Jesus, soos wat Petrus vir Jesus drie maal verloën het, drie vrae wat reguit na Petrus se hart toe sny: “Het jy my werklik lief? Meer as hulle? Het jy my werklik lief? Het jy my lief?”

Daar is ’n progressie in die vrae wat Jesus stel. In die eerste vraag, gebruik Jesus die sterk woord vir troue liefde, agape en vra ook of Petrus hom meer lief het as die ander. Daarna gebruik Jesus weer agape, maar sonder om ’n vergelyking te trek. Die derde keer gebruik Jesus die meer gematigde woord vir broederlike liefde, die woord wat Petrus al drie kere in sy antwoord gebruik het, philia.

Daar is al baie gewonder oor die betekenis hiervan, maar een moontlikheid is dat Jesus vir Petrus uitnooi om nie net getrou aan Jesus te wees nie, maar ook aan homself. Jesus wil nie by Petrus hoor hoe lief hy dink hy vir Jesus behoort te hê nie – maar of hý, Simon seun van Johannes, op ’n outentieke manier vir Jesus liefhet?

“Here, u weet alles. U weet dat ek u liefhet.” Uiteindelik is dit wat Jesus weet, wat saak maak. In Jesus se oë is Petrus méér as sy mislukkings, en lê sy waardigheid dieper as sy skaamte en self-haat. So word Petrus, wie altyd die model-dissipel probeer wees het, daarvan verlos. In die aangesig van ’n liefdevolle en genadige God is Petrus nie meer wie hy dink hy moet wees nie, maar wie hy in werklikheid is.

En dan, nadat Jesus Petrus se waardigheid herstel het, roep hy vir Petrus om dieselfde te doen: “Laat my lammers wei. Pas my skape op. Laat my skape wei.” “Volg my!” sê Jesus. Wat Petrus gedink het is die einde van sy verhouding met Jesus, is vir Jesus ’n nuwe begin. Net wanneer ons dink ons paadjie het vir die laaste keer van die Here s’n geskei, roep Jesus ons om hom te volg.

So vêr as wat ons weet het Petrus nooit weer vir Jesus verloën nie. Deur die boek van Handelinge leer ons baie oor hoe Petrus sy dissipelskap voortgesit het en uiteindelik ter wille van die evangelie, soos Jesus, ook doodgemaak is.

Petrus se storie is nie ’n perfekte storie nie. Dis nie asof hy skielik die wêreld se wysheid gehad het, of dat hy nie nog baie gehad het om te leer nie. Maar dalk was sy storie meer eg, en hoewel hy weer skaamte sou beleef het, kon hy, eerder as om daarvan te vlug, sy eer in sy sak steek in die wete dat sy waardigheid vasstaan in di liefdevolle God wat hom twee keer op sy vissersboot kom soek het, en dit nog ’n duisend keer sou doen indien dit nodig was.

***

Ek sluit af met ’n aanhaling van die teoloog, Debbie Thomas:

As I meditate on Peter’s story, I wonder what our failures would feel like if we offered each other the safety Jesus offers his disciple.  The safety to return to the heart of our wrongdoing and despair.  The safety to wrap fresh language around our failure. The safety to experience unconditional love in the midst of our shame.  The safety to try again. 

What would our witness look like if the Church epitomized Jesus’s version of reconciliation?  What would the world be like if Christians were known as the people to run to in times of humiliation?  Can we, like Jesus, become sanctuary for the shamed?

Debbie Thomas, www.journeywithjesus.net