Psalm 23; Johannes 10:22-30

12 Mei 2019

4de Sondag van Pase
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons is nou in daardie kerklike seisoen wat bekendstaan as Pase. Dit verteenwoordig die veertig dae tussen Jesus se opstanding en sy hemelvaart.

En soos Jesus in hierdie veertig dae op verskillende maniere aan sy dissipels verskyn het om vir hulle die betekenis van sy opstanding bekend te maak, so ontmoet die Here ook vir ons in hierdie dae deur sy Woord. Die leesrooster wat ons volg gee elke week vir ons ’n stel tekste wat vir ons help om ’n ander perspektief op hierdie geheimenis van ons geloof sigbaar te maak.

Hierdie week staan bekend as die Sondag van die Goeie Herder en die vier tekste wat vir ons voorgeskryf is, handel elkeen op hulle eie manier oor hierdie beeld, dat Jesus die Goeie Herder is wat die name van sy skape ken, wat die nege-en-negentig agterlaat vir die een verlore skaap, wat selfs sy lewe aflê sodat sy skape die volheid van die lewe kan geniet.

In die afgelope paar weke het ons reeds op subtiele maniere kennis gemaak met hierdie beeld van Jesus. Op Paassondag het ons gehoor hoe Jesus, die goeie herder, vir Maria op haar naam roep en hoe sy Jesus aan sy stem herken. Daarna het Jesus aan Thomas verskyn en vir hom sy wonde gewys. Die goeie herder is ook die lam wat geslag is, die een wat sy lewe gee vir hulle wat hy liefhet. En verlede week het ons onthou hoe Jesus vir Petrus in sy skaamte gaan soek het, net toe hy begin dink dat hy verlore is.

***

Vandag vier ons dit: “Die Here is my herder,” sê Psalm 23. Met die opstanding ontdek ons dat hierdie Here, hierdie herder, Jesus is.

Dit is ’n teologiese stelling, want deur te sê, “Jesus Christus is my herder” bely ons dat ons die stem van God kan leer ken, deur te luister na die stem van Jesus, dat ons in Jesus se lering, lewe en dood die hart van God leer ken.

Maar, in ’n week nadat ons deelgeneem het aan ons land se demokratiese verkiesings, moet ons raaksien hoe die eerste strofe van Psalm 23 ook ’n politiese betekenis het. In die Bybelse tye, was konings ook ‘herders’ genoem.

Deur te sê dat die Here my herder is, is dus ’n belydenis oor waar my diepste lojaliteit lê. Dit is om ’n duidelike boodskap uit te stuur aan almal wat politiese mag uitoefen: Ons watch vir julle! Moenie ons onvoorwaardelike lojaliteit verwag nie. Ons ken die Goeie Herder en dit is aan Hom wat ons getrou sal bly.

Ons weet hoe lyk goeie dienslewering: groen weivelde (met ander woorde, kos en water en skuiling), waters wat mense se volle menswees verkwik (met ander woorde, rus en genot en versorging) – nie eers vir jou vriende en naasbestaandes nie, maar vir almal, beginnend by die weduwee, die weeskind en die vreemdeling.

Deur te stem het ons nog nie ons taak as burgers van hierdie land voltooi nie. As landsburgers wat ook volgelinge van Jesus is, het ons taak nou eers begin.

Ons moet die profetiese stem wees wat leiersfigure aanspreeklik hou en wat seker maak dat hulle dienslewering al hoe meer lyk na die dienslewering en die diensbaarheid van Jesus.

Maar ons moet ook die priesters wees, wat Jesus se werk van versoening voortleef in ’n land waarin daar so veel seer en so veel verdeeldheid is.

En laastens, moet ons kan erken dat ons self ook herders is, dat ons self ook leiers is. Ons het elkeen ’n sirkel waarin ons mag en invloed uitoefen, al is daardie sirkel vir sommige van ons kleiner as vir ander. Ons moet ook onsself aan Jesus se voorbeeld van ’n goeie leier toets.

As Christene en burgers is ons almal, profeet, priester en koning. Dalk is dit vir jou sinvol om in verskillende situasies vir jouself af te vra: hoe kan ek in hierdie situasie as ’n profeet, of as ’n priester of as ’n koning getuig dat Jesus my herder is?

***

Om vêrder na te dink oor die betekenis van hierdie beeld van die goeie herder, kan ons nou aanbeweeg na die teks wat ons vanoggend uit die Johannes evangelie gehoor het.

On sien hoe mense na Jesus toe kom en vir hom vra: “Hoe lank gaan jy ons nog in onsekerheid hou? As jy die Christus is, sê dit dan vir ons openlik.” Praat reguit met ons. Speak plainly, sê die Engelse vertalings van hierdie gedeelte.

Maar ’n eenvoudige, openlike antwoord is nie wat hulle kry nie. Jesus sê: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie.”

Dikwels gebeur dit dat ons baie graag ’n eenvoudige, reguit antwoord op ons vrae soek. Veral in tye van twyfel, onsekerheid en stryd het ons ’n verlange aan geloofsekerheid.

Die ironie is egter dat so ’n eenvoudige antwoord, wanneer ons dit die dringendste soek, juis die laaste ding is wat ons rêrig nodig het. ’n Wyse vriend of ’n goeie raadgewer is gewoonlik die persoon wat nie vir jou die eenvoudige antwoord gee wanneer jy daarvoor vra nie.

Die rede daarvoor het waarskynlik daarmee te make dat sommige waarhede te groot en te diep is om openlik gegee te word. En dit is veral waar van die tiepe waarhede waaroor Jesus onderrig het: soos liefde en ewige lewe, soos vergifnis en barmhartigheid. Dit is nie die tiepe waarhede wat ’n mens eenvoudig kan bely nie. Dit is veel eerder groot vraagstukke van die lewe waarin ’n mens moet leer om te wandel, waarmee ’n mens moet worstel, waarin ’n mens oor tyd, deur die twyfel en onsekerhede van die lewe leer om te vertrou. Sommige waarhede kan net ontdek word soos wat dit in ons lewens ontvou.

Kom ons veronderstel vir ’n oomblik dat Jesus vir die mense gegee het waarvoor hulle gevra het. Wat as Jesus gesê het: Ja, weet julle wat, ek is die Christus. Ek is die Messias. Sou dit tot hulle saligheid bygedra het? Sou hulle skielik Jesus se gelykenisse verstaan het, of meer getrou kon bly aan sy boodskap? Ek twyfel . . . Inteendeel, ons sien hoe mense wat teen Jesus gekant was dit juis teen hom sou gebruik om hom van godslastering te beskuldig.

Dalk is dit die rede waarom Jesus nie ’n direkte antwoord op die mense se vraag gee nie. “Ek het reeds vir julle die antwoord gegee,” sê Jesus vir hulle, “nie in woorde nie, nie in ’n eenvoudige formule nie, maar deur my optrede, deur die dade wat ek in die naam van my vader doen, deur hongeres te voed, siekes te genees, verwerptes in te sluit en sondaars te vergewe – dít getuig van my.

Maar julle vang dit nie, sê Jesus. You just don’t get it. Julle glo dit nie, want julle behoort nie aan my kudde nie. Julle vertrou my nie, want julle is nie van my skape nie.

***

Ek het hierdie week nogal met hierdie antwoord geworstel. Wat bedoel Jesus as hy sê dat hulle nie glo nie omdat hulle nie aan sy kudde behoort nie?

Jesus doen hier iets baie interessants. Let op: Hy sê nie, julle behoort nie aan my,  omdat julle nie in my glo nie. Nee, Hy sê: julle glo nie omdat julle nie behoort nie.

Is dit nie die teenoorgestelde van wat ons dikwels van Christenskap maak nie? Is ons nie geneig om te dink dat jy eers moet glo, eers sekere dinge oor God moet bely, eers geloofsekerheid moet hê en dan kan ons begin om aan God te behoort nie?

Jesus sê nee, julle glo nie, omdat julle nie behoort nie.

Hoekom is dit moeilik vir mense om te glo in Jesus se boodskap van ’n barmhartige God wat alle mense na groen weivelde toe wil lei? Kan dit wees omdat hulle nie aan gemeenskappe behoort waarin barmhartigheid eerder as selfsug die toon aangee nie?

Hoekom is dit moeilik vir mense om te glo in Jesus se boodskap van ’n genadige God wat ons van sonde versoen? Kan dit wees omdat ons nie behoort aan gemeenskappe waarin skuld bely en vergifnis aangebied word nie?

Hoekom is dit moeilik vir mense om te glo in Jesus se boodskap dat alle mense, ongeag hulle ras, klas, seksualiteit, godsdienstige oortuigings, geliefde kinders van God is? Kan dit wees omdat ons aan gemeenskappe behoort waarin hierdie verskille wel bepalend is vir wie in en wie uit is?

***

Hier is nog ’n manier om daaraan te dink: Verbeel jou dat iemand wat niks van die Christelike geloof weet nie, vir ’n jaar lank aan ons gemeenskap behoort; verbeel jou dat hulle saam met ons aanbid, saam met ons eet en inkopies doen en op vakansie gaan en aan ons basaar deelneem. Verbeel jou hulle neem deel aan ons vreugdes en ons hartseer, ons oorwinnings en ons nederlae. Verbeel jou hulle sien hoe ons konflik hanteer, hoe ons met mekaar kommunikeer, hoe ons vreemdelinge en vyande en die armes hanteer.

Verbeel jou dan, ons vra vir hulle om aan die einde van die jaar ’n geloofsbelydenis te skryf wat die spiritualiteit en geloofslewe van hierdie gemeenskap waaraan hulle behoort het opsom. Hoe sou daardie belydenis lyk? Wat sou hulle skryf as hulle, nie begin het by die amptelike belydenisse van die NG Kerk nie, maar by die morsige details van ons lewens – en van daar moes terugwerk na ons belydenis?

Wat sou ons hulle laat glo? Sou hulle na so ’n jaar in Jesus se kudde, kan glo dat Jesus die Christus van God is. Sou hulle sê dat Jesus ons herder is? Of sou ons hulle laat glo dat daar eintlik ’n ander here is wat hier aan die stuur van dinge is?

Is dit nie ’n interessante oefening om so, agterstevoor, oor geloof te dink nie? Dit laat my dink aan wanneer Jesus sê: Só sal die mense weet dat julle my dissipels is, deur julle liefde sal hulle julle as my skape herken – nie aan julle geloofsbelydenis nie, maar aan julle liefde.

As ons geloof in Jesus geloofwaardig gaan wees, moet ons nie net in Jesus glo nie – ons moet ook glo wat Jesus glo. Om hom te vertrou beteken dat ons vertroue sal hê in wat Jesus vertroue gehad het. Dit is om passievol te wees oor wat hy passievol was. Die teoloog, Debbie Thomas, sê dit soos volg:

“Sheep know their shepherd because they are his; they walk, graze, feed and sleep in his shadow, beneath his rod and staff, within constant earshot of his voice. They believe because they have surrendered to his care, his authority, his leadership, and his guidance.  There is no belonging from the outside; Christianity is not a spectator sport.  BelongJesus says.  Consent to belong.  Belief will follow.”

Ons kan nie vir Jesus van ’n afstand af leer ken nie. Word een van sy skape. Vorm genootskappe met mense wat glo in wat Jesus geglo het, wat vertroue het, in wat Jesus vertroue gehad het.

En moenie verbaas wees as jy sulke mense buite die kerk kry nie, want skape het nie seggenskap oor wie die Herder by sy kudde wil voeg nie.