Handelinge 11:1-18

19 Mei 2019

5de Sondag van Pase
Terugvoer na Wes-Kaap Sinode 2019
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Dit is heel toevallig dat vanoggend se teksgedeelte gaan oor ’n tiepe sinodesitting van die eerste Christene in Jerusalem.

Die teks het my geweldig baie gehelp om te verstaan wat die afgelope week by die sinode gebeur het, asook hoekom dit belangrik was om daaraan deel te neem. Daarom wil ek aan die hand van hierdie teksgedeelte verslag doen oor ’n aantal hoogtepunte van die sinode.

In hierdie teksgedeelte aan die begin van Handelinge 11, bevind Petrus hom in Jerusalem, voor medegelowiges wat baie ontsteld is oor van die gerigte wat hulle gehoor het; dat Petrus aan huis was by ’n heiden en dat hy boonop vir hom en sy hele familie gedoop het al het Kornelius groot dele van die wet nie nagekom nie.

Soos wat so dikwels by sinodesittings en kerkvergaderings gebeur, maar ook rondom etenstafels en braaivleisvure, het die medegelowiges hier ’n plek bereik waar hulle van mekaar verskil.

As Gereformeerde Christene glo ons dat die opgestane Here ons lei deur sy Woord en sy Gees. Maar wat maak ons as ek die Bybel lees en jy die Bybel lees, maar ons kom by verskillende gevolgtrekkings uit? Wat maak ons as ek deur die Gees gelei word en jy deur die Gees gelei word, maar ons word in verskillende rigtings gelei?

Wat Petrus gedoen het was teen die wet. Nou wil die sinode by Petrus hoor hoe Kornelius vir Christus in gehoorsaamheid kan navolg sonder dat hy die wet van God nakom en terwyl hy nog onrein dinge met sy liggaam doen, soos om onrein kos te eet?

Petrus kan nie dit regverdig op grond van die Bybel nie. Hy kan sê dat Kornelius die Heilige Gees ontvang het, maar die gelowiges in Jerusalem het ook die Gees ontvang. So vir wie lei die Gees waarlik?

Al wat oor bly om te doen, is dat Petrus sy eie verhaal te vertel van wat met hom en Kornelius gebeur het. “Daarop het Petrus dit soos volg stap vir stap vir hulle begin uitlê,” sê die teks. Dit is merkwaardig dat die skrywer van Handelinge gekies het om Petrus se toespraak so volledig weer te gee, nadat die hele hoofstuk 10 aan die ontmoeting tussen Petrus en Kornelius gewy is. Dit sê iets van hoe belangrik hierdie getuienis van Petrus vir die vroeë kerk was.

Let op hoe Petrus in die eerste persoon praat. Hy gebruik ‘ek’ taal, eerder as om van ons en hulle te praat. Hy praat vanuit sy persoonlike ervaring, eerder as abstrak en in die algemeen. Sy getuienis lei min of meer so:

Broers en susters, my naam is Petrus. Ek is ’n volgeling van Jesus, iemand vir wie Jesus uit die dood uit opgestaan het. Na sy kruisdood aan ’n Romeinse kruis, het ek probeer vlug, terug na my vissersboot, maar Jesus het my kom soek om my met God te versoen. Hy het my geroep om in die krag van die Gees, wat oor ons almal uitgestort is, Sy versoenende werk voort te sit.

Die Gees het my egter laat agterkom dat ek ’n rassis is. Ek het Christus se onvoorwaardelike liefde ontvang, maar in die uitleef daarvan het ek tot die insig gekom dat ek sekere mense moeiliker liefhet as ander.

Soos julle, liewe gelowiges, het ek grootgeword in ’n wêreld van apartheid; apartheid tussen Jode en Grieke. In Christus is daardie apartheid oorwin, want in Christus is daar nie meer Jood of Griek, man of vrou, slaaf of vrymens nie.

En tog, en tog leef ek nog met ’n wêreldbeskouing waarin ek meer waarde het as ander wat nie soos ek is nie, wat nie soos ek lyk en bid en optree nie. Ek bely dat Christus die Here is, maar in my hart en optrede glo ek nog, soms op subtiele maniere, dat ander mense eers soos ek moet word, voordat hulle God se guns verdien. Ek hou steeds my self voor as die maatstaf waaraan ander gemeet word, eerder as die liefde van God.

Op ’n onverwagse manier, deur ’n verrassende persoon, het die Here my egter tot ’n nuwe insig gebring. Sy naam is Kornelius. Hy is nie ’n Jood nie – inteendeel, hy is ’n Romeinse offisier oor 100 soldate – en daar is baie Joodse wette waaraan hy nie voldoen nie.

Deur my vriendskap met hom het ek geleer dat hy ’n godsdienstige en godvresende man is, iemand wat vir die armes sorg en gereeld tot God bid. Hy is vir my ’n voorbeeld van ’n getroue dienaar van God. Wanneer hy bid, luister hy, verstaan hy en doen hy wat die Here van hom vra.

Ek, wie die wet navolg en in Christus glo, bid maar word honger; ek hoor God se stem, maar ek weier om gehoorsaam te wees; drie keer moes God vir my sê dat “wat God rein gemaak het, ek nie as onrein mag beskou nie” en steeds het ek getwyfel.

Dit was eers toe God deur Sy Gees vir my voor Kornelius laat staan het, en hy my as ’n gas in sy huis verwelkom het, dat ek besef het: ek is ’n mens soos hy. Ek dog dat ek vir Kornelius moes evangeliseer, maar God was deur Kornelius aan die werk om die evangelie aan my te bedien! Eers het ek gedink dat hy bekeer moet word, maar deur die Here se genade is ek van my rassisme verlos.

Nadat ek Kornelius se storie gehoor het, en hy myne, oor hoe die Here ons tot hierdie punt gelei het, het ek vir Kornelius en sy huisgesin gesê, “Julle weet dat dit vir ’n Joodse man verbode is om met iemand van ’n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie . . .

Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy of haar uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy of sy ook mag wees, vir God aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense.”

En terwyl ek die evangelie so verkondig het, het ’n tweede uitstorting van die Gees plaasgevind – hierdie keer is die Gees ‘selfs op die Heidene’ uitgestort. Julle vra, hoe kon ek dit doen? Maar nou vra ek vir julle, medegelowiges: “as God dan aan hulle dieselfde geskenk gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God kon verhinder?”

Die sinodegangers in Jerusalem was stomgeslaan. Op grond van Petrus se getuienis het hulle vir God verheerlik en, soos Petrus, ook tot bekering gekom. Die sinode die volgende besluit geneem. Ek lees uit Handelinge 11:18: “So het God dan ook aa die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

***

Dit was die afgelope week my belewenis by die sinode. Iets nuuts en verfrissend het deurgebreek in die manier waarop ons met mekaar omgegaan het.

In plaas van debatte waarin ons mekaar met argumente probeer uitoorlê het, deur te sê: “Die Bybel sê …” of die “Die Heilige Gees het my gelei …”, het ons vir mekaar die ruimte gegun waarin ons met waagmoed en broosheid ons eie verhale eerlik kon vertel.

En soos ons dit begin doen het, soos ons mekaar in die oë gekyk het en ons eie verhale eg en kwesbaar met mekaar gedeel het, het ons die verrassende ontdekking gedoen dat die opgestane, lewende Christus in ons midde is.

Die 650 sinodegangers van regoor die Wes en Noord-Kaap het om ronde tafels gesit en rondom hierdie tafels is ons telkens uitgenooi om met mekaar in gesprek te gaan. Die uitgangspunt van ons gesprekke was ons eenheid in Christus. Op die eerste dag het ons onsself verbind het tot ’n stel waardes wat ons gesprekke moes rig:

“Ingenooi deur God en daarom een in die Gees en gelyk langs Christus, wil ons sensitief en respekvol wees teenoor:

Verskillende teologiese vaardighede

Verskillende geslagte

Verskillende seksuele oriëntasies

Verskillende ouderdomme


Ons wil dit wys in:

Hoe ons praat

Hoe ons na mekaar kyk

Hoe ons aan mekaar raak

Hoe ons luister

Hiertoe verbind ons ons.”

***

Op die Dinsdag het ek en ’n kollega, Jaco Botha, ook ’n geleentheid gehad om die Sinode toe te spreek as ’n verteenwoordiger van die Taakspan Ras en Versoening. Jaco is die predikant van ’n besonderse gemeente in Bredasdorp. Bredasdorp is een van twee gevalle in die land waar ’n NG Kerk en ’n Verenigende Gereformeerde Kerk een gemeente geword het. Nadat die NG Kerk jare terug geskeur is deur rassisme, is hulle gemeente se storie ’n getuienis van hoe die Gees steeds aan die werk is om – soos in vanoggend se teksgedeelte – ons rassisme te oorwin en die liggaam van Christus te verenig.

Deur my en Jaco se bydra het ons probeer om in dieselfde gees as Petrus, ons broosheid op die tafel te plaas. Eerder as om polities-korrek te probeer wees, het ons erken dat ons as Afrikaner mans grootgeword het in ’n rassistiese kultuur en onsself nog dikwels in ruimtes bevind waar ons swart en bruin broers en susters nie welkom voel nie.

Na ons getuienis, het Gielie Loubser en Theunis Botha bely dat daar leemtes toegelaat is by die samestelling van die lys waardes waarmee die vergadering begin is. Die volgende regstelling is toe gemaak.

{Verskillende kulture

Verskillende rasse

Verskillende klasse

Verskillende liggaamlike vermoëns

Verskillende geestestoestande}

***

Een van die sessies wat my die meeste getref het, het gegaan oor menswaardigheid. Tydens hierdie sessie het Michelle Boonzaaier, die eerste swart vrou wat tot die moderamen verkies is, vir ons geleer oor hoe magsverhoudings en magstrukture kan veroorsaak dat ons – soms onwetend – mekaar se waardigheid misken.

Sy het ’n Bewuswordingsoefening met ons gedoen deur te vra: hoeveel mag dink jy het jy in hierdie ruimte? Op ’n skaal van 1-5, skryf dit anoniem op ’n strokie papier neer. Laat die tafelleier die syfers dan langs mekaar neerlê, sodat jy daarvan bewus kan raak dat ons om ons tafel nie gelyk is nie, dat sommige van ons groter risiko’s dra as ander, of dalk minder in staat voel om hulle posisie te handhaaf.

Michelle het vir my geleer dat die veiligheid van ’n ruimte bepaal word deur hoe broos die sterkste persoon in die vertrek bereid is om te wees.

***

’n Tweede belangrike sessie, was die aangeleentheid oor selfde-geslag verbintenisse. Juis daar, waar meningsverskille die sterkste was, het hierdie gees van waagmoedige en brose getuienisse die duidelikste deurgeskemer.

Nadat daar vir jare net oor gay mense debatteer is, het hierdie sinodesitting dit reggekry om met gay gelowiges in gesprek te tree en na hulle verhale te luister. Die gesprek is ingelei deur ’n oop paneelbespreking waaraan twee gay dominees en een dominee wat ’n ouer van ’n gay seun is, hulle stories kon vertel.

Die ruimte was veilig genoeg dat ’n Pa van twee seuns voor 650 mense kon sit en vertel van die dag toe sy seun, sommer so rondom die braaivleisvuur, “uit die kas” gekom het. “My gay kind is liewer (as sy broer) vir die kerk,” het die NG dominee vertel. “Hy wil daar trou, en sal eendag sy kinders daar wil laat doop.”

’n Gay proponent kon vanaf dieselfde verhoog af vertel hy van jongs af geleer het daar is sekere dele van hom is wat hy moet toehou en ander wat hy mag wys. “Die geskenk wat die kerk vir my gee, is om my volle menswees te vier,” het hy gesê.

Hierdie is maar enkele indrukke van wat vir my een van die roerendste dinge was wat ek ooit beleef het. Nadat die sinode die persone se getuienisse gehoor het, is ons uitgenooi om aan die tafels met mekaar in gesprek te tree. Die merkwaardige is, dat die waagmoed van die verhoog af oorgevloei het na die tafels toe. Mense het spontaan hulle eie stories begin deel. Selfs waar mense met mekaar verskil het, was my belewenis dat ons mekaar met groter respek hanteer het.

Uiteindelik het die sinode besluit dat gemeentes die gesprek oor selfde-geslag verbintenisse op ’n soortgelyke wyse “met integriteit, openheid, broosheid en respek” moet voortsit in ruimtes wat inklusief en divers bly, nie oor ander praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie en dat daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

Kerkrade is aangemoedig om om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:

“doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, en integriteit van verhoudings in ag te neem, ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.”

Die sentrale punt wat ek deur hierdie enkele stories wil deel is dat wanneer ons mekaar in die oë kyk en ons eie verhale eerlik en broos met mekaar deel, ons die verrassende ontdekking doen dat die opgestane, lewende Christus in ons midde is.

Toe ons ophou om ‘die Bybel’ of ‘die Gees’ te gebruik om ons reeds bestaande oortuigings te staaf, het ons ewe skielik weer die werking van die lewende Woord en die kragtige Gees beleef, wat ons vasbind aan mekaar, nuwe moontlikhede bring en ons laat lewe en floreer.