Johannes 14

26 Mei 2019

6de Sondag van Pase
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Vanoggend se skriflesing kom uit ’n gedeelte van die Johannes-evangelie wat bekendstaan as Jesus se afskeidsrede. Dit is ’n lang gesprek tussen Jesus en sy dissipels waarin hy van hulle afskeid neem en hulle voorberei vir ’n tyd wanneer hy van hulle sal moet weggaan.

Hierdie afskeidsrede strek van hfst. 13-17 en ons moet ons verbeel dat Jesus hierdie gesprek om die tafel met sy dissipels voer terwyl hulle ’n laaste maaltyd met mekaar deel.

Die maaltyd begin met Jesus wat sy dissipels se voete was en dan vir hulle ’n nuwe opdrag gee: “Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”

Altyd as ek hierdie gedeelte lees, is dit of ek iets van die dissipels se skeidingsangs ook in my eie lyf aanvoel. Ons almal het al so ’n laaste maaltyd deurgemaak, waarin jy nie eintlik ’n eetlus het nie, want jy weet hoe dit gaan eindig: met ’n hartseer koebaai.

Jesus voel ook die dissipels se skeidingsangs aan en daarom hoor ons twee keer in hierdie gedeelte hoe Jesus vir sy dissipels probeer gerusstel: “Moenie dat julle harte ontsteld en bang wees nie,” sê Jesus, “Vertrou in God, vertrou ook in my.”

Soos ’n ouer wat moet weggaan, troos hy sy kinders en berei hy hulle voor om hierdie oorgang met vertroue te betree, eerder as met angs en vrees.

***

Ek het eenkeer ’n baie wyse man hoor praat oor hierdie woorde wat ’n mens so dikwels in die Bybel teëkom: “Moenie bang wees nie; be not afraid.” Mens hoor dit gewoonlik wanneer die goddelike met die menslike kennis maak; dan is die boodskap wat die hemelse wesens altyd aan die aardbewoners oordra: “Moenie bang wees nie; be not afraid.”

Die wyse man, Palker Palmer is sy naam, het gesê dat hy altyd veroordeel gevoel het wanneer hy hierdie verbod op vrees gehoor het, want, sê hy: “Ek het vrees in my. Ek het nog altyd gehad en ek dink ek sal nog altyd. Ek is 70 jaar oud en op hierdie ouderdom is daar sekere dinge wat jy van jouself weet. Ek gaan nie my vrees ontgroei nie.”

“Maar,” gaan hy toe verder, “toe luister ek weer na daardie woorde en ek besef toe dat dit nie sê dat ek nooit vrees in my mag hê nie. Dit sê eerder dat ek nie my vrees hoef te wees nie. ‘Moenie bang wees nie; be not afraid.’

As ek my binne-wêreld, my innerlike landskap leer ken, dan moet ek inderdaad erken dat daar ’n stukkie grond in daardie wêreld is wat ’n mens ‘vrees’ sou noem. Ek kan kies om daar te staan, as ek wil, maar daar is ook ander plekke om te staan. Daar is ook ’n plek van hoop, daar is ook ’n plek van medelye, daar is ook ’n plek van verwondering, van dankbaarheid.

As jy eers die geografie van jou binnewêreld leer ken, kan jy kies waar jy wil staan soos wat jy ’n weg probeer vind deur die lewe se senutergende oorgange, soos wat jy na ander mense toe beweeg of van hulle afskeid neem, soos wat jy na die nuusberigte luister, soos wat dinge in jou lewe gebeur, of soos wat jy groot besluite moet neem.

Dit is nie altyd maklik nie, maar die moontlikheid bestaan om na ’n plek toe te beweeg wat meer lewe-gewende resultate gaan hê, vir jou en vir ander, eerder as ’n plek wat die lewe vir jou en vir ander gaan bedreig.

***

Ek wonder of dit nie is wat Jesus in hierdie afskeidsmaaltyd aan sy dissipels wou oordra nie? Dat hy hulle wou bewus maak van die oneindige ruimte in hulle harte waarin daar ’n veelvoud van plekke is om te staan.

“Moenie dat julle harte ontsteld en bang wees nie; soek die plek van vertroue op – daar is God, daar is ek ook.”

En dan gebruik Jesus hierdie belangrike beeld van sy Vader se huis om aan te dui dat hy self vir ons daardie beweegruimte skep: “As ek weggaan is dit om vir julle ’n plek voor te berei. In die huis van my Vader is daar baie woonplekke, is daar meerdere plekke om te staan, is daar beweegruimte vir die Gees.” As hy weggaan is dit nie om ons te verlaat nie, maar om vir ons ruimte te skep, ’n plek voor te berei, sodat ons ook op die plek van vertroue en vrede kan staan, eerder as op die plek van ontsteltenis en vrees.

***

Maar wat bedoel Jesus presies as hy hier praat van die ‘huis van my Vader’?

Dit is ’n sinspeling op ‘die huis van die Here’. Dit was hoe mense in Jesus se tyd verwys het na die tempel. Deur die Johannes-evangelie heen, verwys Jesus egter na die tempel as die ‘huis van my Vader’ – hy is die enigste persoon wat dit doen en dit sê iets van Jesus se intieme band met God.

Maar hoekom praat Jesus hier skielik oor die tempel?

Om dit te verstaan moet ons nog ’n tree terugneem om iets van die breë storielyn van die Bybel raak te sien, waarin die tempel ’n sentrale simboliese plek inneem.

As ons die Bybel van Genesis tot Openbaring lees, sien ons hoe God ’n diep verlange het om van die aarde sy woonplek te maak. Die Bybel begin met God wat vir die mens ’n lieflike tuin gee om in te woon, en dan graag in die skemer in hulle woonplek rond te loop; en dit eindig met die beeld van ’n hemelse stad wat neerdaal op die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar God sy woning finaal onder mense kom maak.

Tussen hierdie begin in die tuin en die einde in die stad, bevind die Hebreërs hulleself egter sonder ’n tuiste in slawerny. Ook daar, as wandelende Hebreërs in die godverlate woestyn, kom slaan God sy tent by hulle op. So wandel God saam met hulle totdat hulle uiteindelik in Kanaän gevestig is. Dan eers word die tempel gebou is as ’n permanente plek waar die ark or tabernakel van God kan tuiskom. Voortaan sou die tempel in Jerusalem die heilige plek wees waar God en mens mekaar kan ontmoet.

Johannes begin sy evangelie met hierdie beeldspraak. In Jesus, sê hy, het die Woord van God – letterlik vertaal – sy tent onder ons kom opslaan. In die Woord wat vlees word, het God sy woning onder ons kom maak. En dan, na hierdie inleiding, gaan die eerste helfte van Johannes se evangelie oor hoe Jesus se liggaam die tempel vervang as dié ontmoetingsruimte tussen God en mens, tussen hemel en aarde.

Daarom plaas Johannes die tempelreiniging (wat in die ander evangelies eers aan die einde van die verhaal vertel word) reeds in die tweede hoofstuk. Terwyl Jesus die mense wat geld wissel en vee verkoop uit die tempel uitjaag, sê hy: “Hou op om die huis van my Vader ’n huis te maak waar handel gedryf word!”

Wanneer die Jode vir Jesus vra wie hy dink hy is om so op te tree, sê hy: “Breek hierdie tempel af en binne drie dae sal Ek dit opbou.” Hoe kan dit wees? “Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en u sal dit binne drie dae opbou?” En dan sê Johannes vir ons die lesers: “Maar hy het van die tempel van sy liggaam gepraat.”

En so gaan dit aan. Dink aan die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou. Sy sê vir Jesus dat Samaritane en Jode nie saam gesien mag word nie want Jode aanbid vir God op die berg in Jerusalem, en Samaritane hier by hulle eie berg. En dan sê Jesus vir haar, “daar kom ’n tyd, en dit is nou, waarop ware aanbidders vir die Vader in Gees en in Waarheid sal aanbid – en nie op hierdie of op daai berg nie.”

Esegiël het voorspel dat daar ’n tempel sal wees waaruit strome van lewende water sal vloei, en nou word Jesus die een wat elkeen wat dors het se dors les; gratis.

Voor in die tempel was altyd ’n offer van heilige brode, maar nadat Jesus die 6000 honger mense voed, word hy die brood wat lewe gee.

Die tempel was altyd veronderstel om die lig vir die wêreld te wees; nou is Jesus die lig van die lewe.

Jesus se liggaam is nou die ‘huis van die Here’, of soos hy dit stel, ‘die huis van my Vader’. Hy is nou die ontmoetingsruimte tussen God en mens.

***

Uiteindelik, nadat hierdie idee goed gevestig is, vra Jesus nou van sy dissipels om ’n volgende kopskuif te maak: “ek gaan weg, om vir julle ’n plek voor te berei. In die huis van my Vader is daar baie woonplekke, baie wonings. Kom binne. Betree hierdie ruimte wat Ek vir julle voorberei.”

Omdat julle my ken, omdat julle my kinders is, my broers en susters, my vriende, het julle deel aan my Vader se huis. Julle is deel van my Vader se huishouding. Julle weet hoe om daar te kom. Julle weet hoe om daar te woon.

Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Volg die weg wat ek voor julle uitgeloop het. Vertrou die waarheid waarin ek julle onderrig het. Neem die lewenstyl aan wat ek vir julle voorgehou het.

Ek laat julle nie alleen agter nie. Die Heilige Gees, wat van my ’n ontmoetingsruimte tussen God en mens gemaak het, die stuur ek om in julle te woon. Die Gees sal julle aan my woorde herinner en julle in my wee onderrig.

En moet dan nie verras wees as my Vader sy woonplek onder julle kom maak nie. So sal julle, soos ek, die plek word waar hemel en aarde mekaar omhels. Julle word nou die plek waar God gebeur.

Daarom sê Jesus is sy weggaan na die Vader nie iets om oor te treur nie, maar iets om oor bly te wees. Maar hoe kan dit wees? As iemand wat nie van koebaai’s hou nie, sukkel ek steeds om dit te verstaan. Kon Jesus nie maar gebly het nie?

Een manier om daaroor te dink, wat vir my help, is om Jesus se weggaan nie te verstaan as ’n permanente weggaan, asof Jesus die dissipels verlaat nie. Mens sien ook hoe Jesus iets daarvan wil oordra: Ek gaan en ek kom; Ek laat julle nie as weeskinders agter nie; net ’n kort tydjie dan is ek weer by julle; Ek is in my Vader en julle in My, en ek in julle.

Met uit hierdie aanhalings kry ’n mens die indruk dat die afstand tussen hemel en aarde minder as ’n dun membraan is, en dat dit besig is om oopgeskeur te word. Jesus se weggaan is niks meer as a treetjie terug nie; net genoeg om ’n bietjie afstand te skep. Dis asof Jesus vir ons sê: Ek sien jy staan op die plek van ontsteltenis en vrees. Hier is ander plekke om te staan. Kom staan ’n bietjie hier waar ek staan, waar ek, deur my liefde en my dood en my opstanding, vir jou ’n plek voorberei het.

Soos ’n regisseur wat vir sy akteurs finale opdragte gee (julle moet mekaar liefhê), en selfs op die verhoog kom staan om voor te doen wat hy van hulle vra (kyk hoe was ek julle voete), skuif Jesus eenvoudig agter die gordyn van die verhoog in.

Dit is nou ons beurt om die plek te word waar God gebeur; om lewe te gee aan die skrywer se toneelstuk, om die karakters te word waarvan ons tot dusvêr nog net gedroom het.

Ons is nie meer passiewe toeskouers nie. En hierdie lewe is nie ’n kleedrepetisie vir eendag nie. Die spotlights skyn nou op ons. Deur ons opvoering van die liefde moet ons vir mekaar Christus word. So word ons nou die liggaam van Christus, deel van sy Vader se huis, die ontmoetingsruimte tussen God en mens.

Daar is baie wonings in hierdie huis. Daar is nie een enkele manier om hierdie vertoning van God se liefde op te voer nie. Ons word nie gevra om dit sonder variasie soos ’n slaaf na te volg nie. Ons moet elkeen binne die ruimte van ons eie binne-en-buitewêreld ontdek wat dit beteken om hierdie rol te speel.

Mens sien ook iets daarvan by musiek vertonings. Soos toe ek gisteraand by ons Herfskonsert na die musikante geluister het wat hier opgevoer het, soos Veranza, ons orrelis, byvoorbeeld, wat so ’n pragtige stuk op die klavier gespeel het. Was, was vir my een van die hoogtepunte van die aand.

Hier was iemand wat helemaal haarself was, vry en onafhanklik, en tog, vir daardie paar minute, was haar hele wese, haar lewe, haar vryheid, haar talent, haar alles aan iets misterieus en onsigbaar oorgegee: naamlik Franz Liszt se Un Sospiro.

Vir die tyd van haar opvoering, het die visie en die verbeelding van ’n ander persoon, die komponis, deur haar gevloei en haar hele wese gevul – sonder dat sy vir een oomblik minder Veranza was. Inteendeel, dit was Veranza op haar beste.

Ek wonder of dit nie is wat Jesus vanoggend van ons vra nie, dat ons sonder reserwe onsself beskikbaar sal stel vir die werking van die Heilige Gees, om ook ons totale wese te vul, en uiting te gee aan God se verlange om in hierdie wêreld tuis te kom.

Daar is beweegruimte, daar is ruimte vir improvisering, maar die belangrike punt is dat ons nie meer in die gehoor sit waarvandaan ons kyk hoe Christus liefhê en sterf en opgewek word nie.

“Op daardie dag sal julle weet,” sê Jesus (en daardie dag het vir elkeen van ons aangebreek): “Ek is in my Vader en julle in My, en ek in julle.”

Mag ons elkeen in hierdie dae, in hom en soos hy, liefhê en sterf en tot nuwe lewe opgewek word.

Amen.