Romeine 5:1-5

16 Junie 2019

Drie-eenheid Sondag
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Drie-eenheid Sondag gee vir ons ’n geleentheid om ’n bietjie na te dink oor die betekenis en relevansie van die Christelike belydenis in ’n drie-enige God.

Anders as ander fees-dienste wat dramatiese gebeurtenisse onthou en vier (soos Jesus se geboorte, of sy opstanding, of die uitstorting van die Gees met tonge van vuur) klink dit ietwat minder opwindend om ’n gedagte, ’n abstrakte teologiese idee te vier.

Dit is inderdaad so dat ’n mens die Drie-eenheid van God op so ’n abstrakte, teoretiese manier kan benader dat dit jou baie deurmekaar gaan maak, of nog erger, dat dit jou aan die slaap sal maak. Dit is wat geneig is om te gebeur as ons ’n teologiese idee, as ’n teoretiese probleem benader wat opgelos moet word eerder as ’n geheimenis waaraan ons moet deelneem.

Die Drie-eenheid is ’n geheimenis en soos dit altyd is wanneer ons iets oor God probeer sê, kan ons alleenlik deur middel van beeldspraak oor God praat. Ons taal skiet altyd te kort en ons kan nooit vir God vasvang in ons begrippe en beelde nie. Ons spreke oor God is altyd metafories, altyd vergelykend.

Die filosoof Gabriel Marcel het baie sinvol onderskei tussen ’n probleem en ’n misterie of ’n geheimenis. ’n Probleem probeer ’n mens oplos en as jy byvoorbeeld die Drie-eenheid as ’n wiskundige probleem gaan benader gaan jy jou brein breek deur te probeer om te verduidelik hoe 1+1+1 = 1 i.p.v. 3.

Nee, ’n misterie is nie ’n probleem wat ’n mens moet probeer oplos nie – die doel van ’n misterie is eerder om ons in te nooi en soos jy aan die misterie deelneem, en iets daarvan begin verstaan, kom jy agter dat dit nie jy is wat sin maak van die misterie nie, maar die misterie wat sin maak van jou. Jy interpreteer nie die misterie nie, die misterie interpreteer vir jou.

Dit is waarom dit sin maak om vandag oor God se Drie-eenheid na te dink en om dit te vier; want ten diepste gaan dit oor wie ons is. Soos ’n mens God se aard en karakter beter verstaan so verstaan ons ook onsself beter.

So, wat verstaan Christene dan as hulle van God praat as Drie-enig, as Vader, Seun en Gees?

Wel, een stukkie raad wat my nogal gehelp het om hierdie geheimenis van die drie-in-die-een te verstaan is om nie by die Een te begin en te probeer om dit Drie te maak nie, maar eerder by die Drie te begin en te ontdek dat dit in die verhouding van die Drie is dat ons die diepste aard en karakter van die Een leer ken.

Met ander woorde, begin by die manier waarop God kies om ons te ontmoet – as Skeppende ouer, en as liefdevolle Broer en as Lewegewende Gees – en vra dan wat dit vir ons van die aard en karakter van God leer. Dit is inderdaad ook hoe die vroeë Christene by die idee van die Drie-eenheid uitgekom het.

Toe die Nuwe Testament geskryf was, het die kerk nog nie konsensus bereik oor die Drie-eenheid as sodanig nie – dit sou eeue duur voordat die kerk finaal konsensus oor die Drie-eenheid bereik het, en selfs toe het almal nie saamgestem nie. En tog, as ’n mens Paulus se briewe lees, soos die stukkie wat ons vanoggend gelees het uit sy brief aan die gelowiges in Rome, dan hoor ’n mens hoe Paulus, in sy poging om iets oor God te sê, praat van die Vader, en dan van Jesus Christus en dan van die Heilige Gees – hy praat van drie persone, maar altyd in verhouding met mekaar, en deurentyd kry mens die gevoel hy is besig om van Een werklikheid te praat.

In die gedeelte wat ons gelees het, sê hy dat dit deur Jesus Christus se getrouheid aan die Vader is wat ons vrede het met God en daarom met hoop uitsien na God se heerlikheid. En selfs in die hede, terwyl ons nog verdrukking beleef, is daardie hoop wat in ons leef nie tevergeefs nie, want ons sien nou reeds iets van God se heerlikheid. Deurdat die Heilige Gees wat deur God aan ons gegee is liefde in ons harte uitstort, het ons ’n bewys dat ons hoop waar en betroubaar is.

So, hoewel die Drie-eenheid tegnies nog nie as ’n teologiese begrip bestaan het nie, is daar ’n ‘trinitariese patroon’ in die manier waarop Paulus oor God praat. Ons kry toegang tot die Skepper se heerlikheid deur Jesus Christus en dit is vir ons geloofwaardig omdat die Heilige Gees God se liefde in ons harte uitstort. Die drie persone verwys heeltyd na mekaar, en die een kan nie sonder die ander een sin maak nie.

Een manier waarop die kerkvaders probeer het om hierdie gemeenskap tussen die Vader, Seun en Gees te verbeeld was deur die metafoor van ’n goddelike dans. Nes jou fokus op die een val, word jou blik herlei na die ander, en nes jou oë daar begin te rus, betree die derde persoon die dans – en so gaan dit eindeloos voort.

Hierdie metafoor aktiveer as’t ware ons verbeelding en help ons om God as dinamies eerder as staties te verstaan. God is aan die beweeg – van ewigheid tot ewigheid. Ons kan nie vir God vasvang nie; die beste waarvoor ons kan hoop is om – vir die tyd wat dit vir ons gegun word – saam te beweeg, saam te dans.

Een van die bekendste Christelike kunswerke, is hierdie ikoon van Andrey Rublev. Dit dateer uit die 15de eeu. Twee titels word daaraan gekoppel: “Die Drie-eenheid,” en “die Gasvryheid van Abraham.” Ons sien drie figure, elkeen met engel-vlerke, wat om ’n tafel sit.

Aan die een hand verbeeld dit die verhaal van Sara en Abraham wat gasvryheid betoon aan drie vreemde mans wat in die woestyn by hulle aankom. Natuurlik weet Abraham nie aanvanklik of hierdie mans vriendelik of vyandig teenoor hulle sal wees nie. Hulle neem egter die risiko en besluit om die drie mans met oorvloedige gasvryheid te ontvang, en so, sonder dat hulle dit besef, ontvang hulle drie engele as gaste – en daarmee saam, ook die goeie nuus dat Sara swanger is.

Rublev gebruik daardie verhaal as die beeldryke materiaal waarmee hy dan in hierdie ikoon, die diepe geheimenis van God as Drie-enig, probeer uitbeeld. Hy nooi ons as’t ware uit om die drie-enige God se teenwoordigheid in die alledaagse te probeer raaksien, soos in die koms van ’n vreemdeling wat vra vir iets om te eet of ’n beker water om te drink.

Die gesigte van die drie besoekers is amper identies, maar die kleur van hulle gewaad verskil. Die Vader, aan die linkerkant, dra goud – dit verteenwoordig God se heerlike glans, prag en lig. Die Seun dra blou – dit is verteenwoordig die mens, omdat die mens sy bestaan voer tussen die blou van die hemelruim en die blou van die see. Die Gees dra groen – wat verwys na die verkwikkende krag van die Heilige Gees as die asem van God wat deur die ganse skepping werksaam is om nuwe lewe te bring.

Ons sien hier vir God as ’n gemeenskap van persone. God is ten diepste ’n verhouding van eenheid en vrede waarin elkeen van die ‘persone’ se eiesoortigheid of uniekheid nogtans behoue bly.

Die Vader kyk na die Seun, maar met sy hand verwys Hy na Gees. Die Seun Kyk na die Vader en wys ook heen na die Gees. Die Gees kyk na die Vader, en wys met die een hand na die Seun. Met die ander hand, maak die Gees egter die sirkel oop deur na ’n oop plek op die tafel te wys.

Die drie-persone bewonder en respekteer mekaar – maar hulle sirkel is nie geslote nie. Soos iemand dit stel, hierdie is nie ’n hoërskool clique nie. Die een wat voor die ikoon staan word ingenooi om ook sy of haar plek aan die tafel in te neem. Daar is ook plek vir my. Daar is ook plek vir ons. Kom sit hier by ons, sê God. Kom en neem deel aan ons geselskap, sluit aan by ons liefdevolle dans, kom en word deel van ons lewe.

Ons praat altyd oor God in beeldspraak, deur metafore. Ons word vanoggend uitgenooi om vir God te verbeeld, nie as ’n enkeling wat afgesonder agter ’n wolk weggesteek sit soos ’n kritiese toeskouer wat ’n vertoning beoordeel nie, maar as ’n betroubare, self-opofferende, verhouding van liefde.

Anders as die verhoudings waaraan ons al te gewoond is, waarin die een die ander domineer, of op subtiele maniere manipuleer, sien ons hier ’n verhouding van wedersydse respek en waardering. In plaas van jaloesie en hebsug wat my eie probeer beskerm sien ons hier ’n verhouding waarin oorvloedige gasvryheid die grondslag van gemeenskap is. In plaas van of ’n begeerte om die ander in my eie beeld te probeer skep, sien ons hier hoe verskeidenheid gevier en gekoester word.

As ons nou terugkeer na ons teksgedeelte dan hoor ons hoe Pauls vir gemeente in Romeine wil bemoedig. Dit is ’n gemeenskap wat van buite af verdrukking beleef, en terselfdertyd, van binne af, as gevolg van verdeeldheid, jaloesie en trots dreig om uitmekaar te skeur. Paulus bemoedig hulle deur hulle daaraan te herinner dat die drie-enige God op ’n geheimsinnige manier besig is om vir hulle deel te maak van ’n gemeenskap van wedersydse liefde en respek, waarin hulle mekaar verdra en ondersteun en versorg.

Paulus herinner hulle dat geeneen van hulle op grond van hulle eie goedheid ingesluit is nie, maar alleen deur genade, deur die oorvloedige gasvryheid van God die Vader wat in ons vyandigheid vir ons sê, hier is vir jou ’n plekkie.

Paulus herinner vir hulle dat God in Christus nie op ’n afstand staan en oordeel nie, maar saam met ons ly aan die verdrukking en die verdeeldheid; en dat ons daarom die lyding met hoop en volharding kan verduur.

Laastens, herinner Paulus hulle dat die waarborg van God se teenwoordigheid, die liefde is wat die Gees in hulle harte uitstort.

Uiteindelik, kom dit vir Paulus neer op liefde en gasvryheid. En as die beeld van God wat self bestaan as ’n gemeenskap van wedersydse liefde en respek en openheid, ons help om onsself vir so ’n gemeenskap te beywer – in die lewe van die kerk, van die politiek, van die werkwêreld, en in ons gesinslewe, dan dien dit sy doel.

Wat ek uiteindelik by Paulus hoor is nie veel anders as die beroemde Boeddhistiese leermeester, John Crook, wat vertel van ’n afspraak wat hy met sy eie leermeester gehad het nie. Nadat hy vir ’n halfuur of wat aangegaan het met allerhande spekulasies en ingewikkelde teorieë oor enlightenment ensovoorts, het sy leermeester vir ’n tyd lank in stilte gesit en toe uiteindelik gevra: “John, when were you last kind?” Mag ons as individue en as ’n gemeenskap groei in kindness, in liefdevolle gemeenskap, en so verras word om te ontdek dat die drie-enige God by ons tuisgekom het. Die tafel is gedek, ons plekkie is reg vir ons. Gaan ons die uitnodiging aanvaar?

Handelinge 2:1-21

9 Junie 2019

Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Met Pinkster vier ons dat God aan ons, aan mense, aan die ganse skepping, Sy asem skenk. Ons vier vandag hoe die liefdevolle lewensadem van God wat ook vir Jesus in sy lewe bemagtig het ook aan ons geskenk word.

Ons het hierdie jaar saam met die evangelie volgens Lukas deur Jesus se lewe gereis; en julle sal onthou dat daardie verhaal by Jesus se doop in die Jordaan-rivier begin het. Soos Jesus uit die water opgekom het, het die Heilige Gees op hom neergedaal en op dieselfde oomblik hoor hy die Vader se stem wat sê: Jy is my geliefde kind. Ek vind groot vreugde in jou.

Daardie stem van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding is die lewenskrag van Jesus; dit is die basis van alles wat hy verrig het en alles wat hy onderrig het.

En soos wat Lukas sy evangelie begin met God wat sy Gees aan Jesus skenk, so begin hy sy tweede volume, die boek van Handelinge, met God wat sy Gees oor Jesus se volgelinge uitstort. Ons gaan dit vanoggend lees.

Vir konteks: Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels voor sy hemelvaart, was om in Jerusalem te wag sodat God daar die Heilige Gees vir hulle kan gee. Dink aan wat Jesus hier van hulle vra: Eerstens, is die dissipels Galileërs en nie van Jerusalem nie. Dit is vir hulle ’n vreemde stad. Meer nog, dit is die plek waar Jesus vermoor is en waar dit nie veilig is om ’n volgeling van Jesus te wees nie. Dit is ook die plek waar die dissipels vir Jesus verraai het, waar hulle hom verlaat en verloën net. Dit is die plek van mislukking, die plek van hulle ontrou aan Jesus. Daar, juis daar, op ons plek van mislukking en ontrou moet ons op God se bemagtiging wag.

Ek wonder wat beteken dit vir jou? Ek wonder wat sou dit vir jou beteken om in Jerusalem te bly wag – in jou plek van mislukking en ontrou? Waar is dit vir jou?

***

So vind ons dan aan die begin van vanoggend se gedeelte die dissipels in Jerusalem. Hulle is almal saam in ’n vertrek. Hulle wag. Heel moontlik is die deure uit vrees gesluit. Die volgende oomblik is daar ’n harde geluid soos ’n Kaapse stormwind wat nie net die huis vul waarin hulle was nie, maar ook die die hele buurt na hulle toe lok. Tonge soos vlamme verskyn en verdeel om op elkeen van hulle neer te daal.

Vuur en sterk stormwinde was natuurlik bekende Ou-Testamentiese tekens van God se ongetemde teenwoordigheid. En wat is die effek van God se teenwoordigheid in hierdie geval? Hulle is met die Heilige Gees is elkeen toegerus om ’n ander taal te praat.

Dit was die tyd van die Joodse Pinksterfees en daar was pelgrims vanuit eke windrigting vir hierdie fees in die stad. En soos mense uit nuuskierigheid nader kom om uit te vind wat die oorsaak van die groot lawaai is, kom hulle agter dat hierdie groep Galileërs die taal waarmee hulle elkeen grootgeword het.

Hoe kan dit wees? Wat is hier aan die gang?

***

Die mense het hoofsaaklik twee reaksies op hierdie vreemde gebeurtenis. Ons hoor hoe baie van die mense – positief verras en in verwondering oor wat hulle sien en hoor – vra: “Wat beteken dit tog?”

Maar ander mense sien hierdie verskynsel en maak dit af: “hulle is vol soetwyn!” sê hulle. Dit is “spirits” wat so maak, nie “the Spirit” nie.

Twee reaksies op die koms van God se Gees: Een ’n reaksie van meelewing en verwondering; die ander een, ’n amper siniese houding wat ’n werklike ontmoeting wil ontduik. Ook in onsself kan daar meerdere reaksies op die Gees se koms wees.

Ek het die week geluister na ’n gedig van DH Lawrence. Dit begin so:

“Not I, not I, but the wind that blows
through me!
A fine wind is blowing the new
direction of Time.
If only I let it bear me, carry me,
if only it carry me!
If only, most lovely of all, I yield
myself and am borrowed
by the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world”

Song of a Man Who Has Come Through, DH Lawrence

Mens hoor hier ’n diep verlange om deur die Gees vervul te word – nie Ek self nie maar die wind wat deur my waai! Maar dan, later, in dieselfde gedig:

“What is the Knocking?
What is the Knocking at the door in
the night?
It is somebody wants to do us harm.”

Selfs in die hart van een persoon, kan ons gemengde gevoelens koester oor die Gees se koms. Ons kan daarna verlang en terselfdertyd bang wees vir die onbekende. En ons kan ons vrees selfs verbloem in ’n uitwaartse siniese houding wat die Gees op ’n afstand probeer hou. Die uitnodiging wat die teks aan ons rig, is om lank genoeg in die plek van verwondering te vertoef, totdat ’n mens uiteindelik nie net sê: “wat beteken dit tog?” nie, maar uiteindelik ook, “wat moet ons doen?”

***

Maar Petrus nooi die spotters uit om ’n dieper waarheid raak te sien. Hierdie mense kan nie vol soetwyn wees nie; dus 09:00 in die oggend! Die groot Boeing het nog nie eers oorgevlieg nie!

En dan staan Petrus op en lewer die preek van sy lewe. Ons het vanoggend net die eerste gedeelte daarvan gelees, en in hierdie gedeelte haal Petrus die Hebreeuse profeet, Joël aan. En in hierdie profesie hoor ons hoe God deur sy Gees juis dié mense in die samelewing wat tipies nie ’n stem gehad het nie gaan gebruik om sy Woord te verkondig:

          ‘Ek sal my Gees op alle vlees uitstort –
          julle seuns en julle dogters sal profeteer
          en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
          Ja, ook oor my diensknegte en diensmaagde
          sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal
profeteer.’

In ’n patriargale, hiërargiese samelewing, wat streng deur godsdienstige reinheidswette georden was, belowe God om selfs die jong slawemeisie sy spreekbuis te maak. God se Gees kan nie mak gemaak word en beperk word tot enkele bevoorregte individue soos die koning of die priester nie.

Nee, sê Joël, die bestemming van God se Gees is ‘alle vlees’, alle mense. Dit laat mens dink aan Paulus se visie van Christus wat eendag die hele heelal, alles en almal gaan vul.

 Die vraag is natuurlik – veral vir die van ons wat reeds ’n stem het – of ons dan steeds sal sê: “Not I, not I, but the wind that blows through me!” of dalk eerder “What is the Knocking? What is the knocking at the door in the night? It is someone wants to do us harm.”

Wat julle hier sien, verduidelik Petrus vir sy gehoor, is die vervulling van Joël se profesie. Die eindtyd het aangebreek. Vir hulle wat hulle bevoorregte posisie in die samelewing wil beskerm, mag dit dalk voel soos ’n einde, maar eintlik is dit ’n nuwe begin.

Kyk net hoe het hierdie vreesbevange Galileërs, aanvanklik toegesluit in ’n vertrek, net soos hulle begin dink het dis die einde van die pad vir hulle, skielik ’n stem kry en met groot waagmoed getuies word van die evangelie.

***

Die eerste ding wat ons dus met die koms van die Gees opmerk is dat die Gees mense aan die beweeg sit om in al hoe wyer sirkels hulle mag en vriendskap met ander te deel. Dit is ’n beweging van groeiende verbondenheid met al God se skepsels; en daarom dring die Gees ons om bestaande magsverhoudings wat sulke verbondenheid en intimiteit tussen mense verhoed, uit te daag en te omskep.

Mense wat nie ’n stem het nie, moet ’n stem ontvang; en terselfdertyd moet ons wat dalk altyd ’n sê gehad het, leer dat daar gawes is wat God kies om net deur ander mense vir ons te gee – en dalk in besonder die mense wat ek gedink het te jonk, of te oud, of te arm, of te onopgevoed, of te eenvoudig is.

’n Tweede ding wat ’n mens opval oor die koms van die Gees in hierdie verhaal hou verband met hoe die Gees die dissipels in staat stel om die Woord van God in vreemde tale aan mense te kommunikeer.

Wat veral uitstaan van hierdie wonderwerk is dat dit nie ’n wonder van ‘hoor’ is nie, maar ’n wonder van ‘spreek’. Die Gees gee nie vir die mense van verskillende volke die vermoë om die Galileërs se unieke dialek te verstaan nie. Nee, dit gee vir die Galileërs die vermoë om vreemde tale te spreek.

Ek weet sommige mense vind dit makliker as ander, maar my ervaring met die aanleer van ’n nuwe taal het my oortuig dat jy daarvoor niks minder as die Heilige Gees nodig het nie. Ndiafunda ukuthetha isiXhosa; ek probeer al vir ’n geruime tyd isiXhosa aanleer, maar dit is al stotterend en stamelend.

Dikwels wanneer ek ’n geleentheid het om met ’n Xhosa-sprekende persoon, in hulle moedertaal te praat, voel ek so hulpeloos en so skaam oor hoe stadig ek vorder dat ek maar eerder oorslaan Engels toe.

Want as ek ’n vreemde taal praat is ek nie meer in beheer nie. Die woorde voel soos koue albasters in my mond, en skielik is my woordeskat veel kleiner as die ander persoon s’n. Skielik is ek afhanklik van die ander persoon se goedgesindheid en geduld om my foute uit te wys en om my reg te help.

Dalk is dit die punt. Dalk is dit wat die Gees vir ons deur hierdie wonderwerk wil leer… dat ek God se goeie nuus die beste hoor en kommunikeer wanneer ek in die posisie van die nederige, afhanklike en stamelende leerling is. Om die Gees te ontvang kan ek nie aan my mag en beheer vasklou nie, maar moet my hande oop wees om te ontvang. En om die Gees te volg, vra dat ek selfs die risiko sal loop dat mense dink ek is vol soetwyn.

Om die taal van ’n ander persoon te praat, is ’n liefdesdaad. Dit is om iemand in hulle uniekheid en eiesoortigheid raak te sien en te erken; dit is om vir iemand te sê, ek ag jou genoeg om jou posisie – jou grammatika, jou woordeskat, jou unieke dialek – as my vertrekpunt te neem, eerder as myne. En daarom is die Gees wat die dissipels vreemde tale laat praat, uiteindelik, ten diepste, die Gees van liefde.

***

So, dink ek, is die werking van die Gees: dat dit ons al hoe meer instel op die behoeftes van ander, en ons toerus om lief te hê in situasies wat aanvanklik vir ons vreemd, of uitdagend, of bedreigend mag voel. In sulke situasies is die Gees die groot vertaler.

Eers het die Gees die liefde van die Skepper vertaal en die asemrowende heelal het tot stand gekom. Later het die Gees, in die lewe van Jesus, die liefde van God vertaal in die vorm van ’n brose menslike lewe. Vanoggend is ons daaraan herinner dat die groot Vertaler steeds aan die werk is om die evangelie in die unieke dialek van elkeen van ons lewens te vertaal. Mag die Gees ons elkeen bemagtig om te sê:

“Not I, not I, but the wind that blows
through me!
A fine wind is blowing the new
direction of Time.
If only I let it bear me, carry me,
if only it carry me!
If only, most lovely of all, I yield
myself and am borrowed
by the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world.”