Lukas 10:25-37

14 Julie 2019

Vyfde Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons kom vanoggend weer voor een van Jesus se gelykenisse te staan – in hierdie geval Lukas 10:25-37.

Die gelykenisse is stories waarin ’n mens jouself kan verloor; net om jouself op ’n onverwagse manier weer terug te vind.

Dit is eenvoudige verhale van alledaagse mense en dinge, maar altyd met ’n onverwagse wending, ’n kinkel in die storielyn wat ’n mens aan die dink sit. En ek hoop dat ons na vandag se erediens – tydens tee – verder hieroor gaan gesels, want dit is die aard van gelykenisse – hulle spook by jou.

Die probleem is natuurlik dat ons hierdie stories al so veel keer gehoor het, dat ons nie meer die onverwagse wending kan raaksien en waardeer nie. Ons het Jesus se gelykenisse mak gemaak – sodat ons meer geneig is om die gelykenisse in te span om ons bestaande leefstyl en waardes te weerspieël as wat ons toelaat dat hulle ons bevraagteken en uitdaag.

Daarom moet ons probeer om die verhale eers weer in hulle oorspronklike konteks te hoor, sodat hulle op ’n nuwe en vars manier tot ons kan spreek. Dit is eenvoudig wat ek in vanoggend se preek gaan probeer doen – om ’n ou bekende gelykenis op so ’n manier te vertel dat ons iets kan verstaan van wat Jesus se oorspronklike gehoor moontlik sou beleef het.

***

Jesus vertel hierdie gelykenis nadat ’n sekere wetskenner opstaan om vir Jesus te toets:

“Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

En dalk is dit per se nie so ’n slegte vraag nie. Dit kan met erns gevra word – en dan is dit ’n teken van iemand wat die lewe ernstig opneem. Hier is iemand wat verlang na die ewige lewe, na die lewe soos wat God dit gee in al sy diepte en volheid.

Maar nee, word ons ingelig, dit was nie sy bedoeling nie. Hy wou vir Jesus toets. Is dit nie hoe hierdie vraag en ander soortgelyke vrae dikwels in ons dag gevra word nie?

Hoe kan seker wees dat ek die ewige lewe erf? Wat moet ek doen om seker te maak dat ek, buiten die lewe wat God hier en nou vir my skenk, ook die ewige lewe kan erf? Aan watter geloof moet ek behoort? Watter dinge moet ek glo? Tot wie moet ek bid? Watter rituele moet ek voltooi, sodat ek eendag hemel toe kan gaan? Die aarde is nie vir my genoeg nie – ek wil die hemel ook hê!

Maar Jesus is al deur die duiwel getoets, toe hy veertig dae in die woestyn deurgebring het. Hy weet dat jy nie ’n goeie vraag wat met slegte bedoelings gevra is, direk moet beantwoord nie.

“Jy is mos ’n kenner van die Wet van Moses, sê jy vir my, wat staan daarin geskryf? Wat lees jy daar?”

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

***

Die man was inderdaad ’n kenner van die wet. Jesus kon dit self nie beter gestel het nie: “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal lewe!”

“Doen dit en jy sal lewe.” As jy weet wat die Here van jou vra, waarvoor staan ons dan hier en praatjies maak. Gaan, en wees lief vir God met jou hele wese, met jou tyd en jou geld en jou loopbaan en jou energie en jou gawes . . . Gaan, en wees lief vir jou naaste; doen aan hom en haar wat jy graag sal wil hê, hulle vir jou moet doen. Die koninkryk van God is byderhand – betree dit en lewe!

Let op dat Jesus nie ’n onderskeid maak tussen die lewe en die ewige lewe nie. Hy maak ook nie ’n onderskeid tussen geloof en dade nie, tussen genade en werke nie. Om vir God lief te hê en jou naaste soos jouself – dit is die ewige lewe.

***

Die Wetskenner het sy antwoord gekry – ’n antwoord wat hy reeds gehad het – maar wat is nou lekkerder as om praatjies te maak met Jesus.

“En wie is my naaste?” So probeer die wetskenner om die koms van die ewige lewe nog ’n bietjie langer uit te stel. Weereens is die bedoeling agter die vraag, nie helemaal suiwer nie. Hy wou homself regverdig, so sê die teks vir ons.

“Wie is my naaste?”

Is dit nie maar ’n mooi manier om te vra, “wie is nie my naaste nie?” Vir wie hoef ek nie lief te wees nie? Dit is eintlik waaroor dit gaan. If I am to love my neighbour as myself, where can I draw the line? I am a neighbour, yes, but where is the edge of my neighbourhood?

Soos ek gesê het, Jesus is reeds deur die duiwel getoets, so hy vertel ’n storie – om daardeur hopelik vir die wetskenner ’n ander rol te laat speel as ‘die een wat vir Jesus toets’.

***

“’n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan en hom halfdood agtergelaat.”

’n Man. Was hy ’n goeie man of ’n slegte man? ’n Ryk man of ’n arm man? ’n Gelowige man of ’n heiden? Jesus se niks oor die identiteit van hierdie man nie. Dit kon enige iemand gewees het. Dit kon ’n Jood of ’n Griek, ’n vry persoon of ’n slaaf gewees het. Dit kon die Wetskenner, of enige iemand anders in die gehoor gewees het. Dit kon ek of jy gewees het.

Al wat saak maak, is die naakte nood waarin hy homself bevind. Kaal gestroop en al sy besittings beroof, was hy half-dood agtergelaat. Hy lewe, maar vir hoe lank nog?

Ah! maar daar is goeie nuus. ’n Priester, het toevallig met daardie pad langs afgegaan . . . maar, helaas, toe hy hom sien, die sterwende man, vir my en jou in ons diepe nood, het hy aan die ander kant verbygegaan.

Steeds is daar hoop . . . want net so het ook ’n Leviet by die plek aangekom . . .

Maar toe hy hom sien, die sterweling, ek of jy, in ons oomblik van nood, het ook hy aan die ander kant verbygegaan.

***

Baie het al gewonder: Hoekom? Hoekom het die priester en die Leviet verbygeloop het sonder om vir my of vir jou te help. Dit was tog duidelik dat ons hulp nodig gehad het. En die wet is tog duidelik, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. En ’n priester en ’n Leviet, soos enige ander goeie Jood, soos enige mens, sou dit tog geweet het.

Die beste antwoord wat ek al gehoor het kom uit ’n preek van Martin Luther King Jr.:

“I’m going to tell you what my imagination tells me. It’s possible these men were afraid . . . And so, the first question that the priest and the Levite asked was, ‘If I stop to help this man, what will happen to me?’ . . .”

Dit is waarskynlik dieselfde rede waarom ek sou verbygeloop het; waarom ek verbyloop. Omdat ek bang is, en dan vra, indien ek stop om hierdie man te help, wat sal van my word? Wat sal van my word as ek by daardie saak of by daardie persoon betrokke raak? Wat sal van my word as ek my werkgewer aanspreek oor die onreg wat ons as ’n instelling pleeg? Wat sal van my word, as ek die ellende raaksien en nie my gesig daarvan wegdraai en maak asof ek dit nie gesien het nie?

***

Maar kom ons keer terug na die storie?

’n Goeie storieverteller weet dat dinge altyd in 3’s kom. Voltooi my sin: Tom, Dick and . . . Harry. Die Wallabies, die All Blacks en die . . . Springbokke.

Op dieselfde manier, as jy in Jesus se tyd vir ’n Joodse gehoor gesê het: “daar was ’n Priester, en toe ’n Leviet . . .” dan sou die gehoor geweet het wat kom volgende: om die drietal vol te maak moes jy byvoeg: ’n Israeliet!

Want kyk, die priesters was almal afstammelinge van Aaron, die priester. En die Leviete was al die afstammelinge van Jacob se derde seun, Levi. Hulle was ook ’n tiepe priester-klas, maar op ’n laer kerf. En, as jy nie ’n priester of ’n Leviet was nie, maar jy was ’n gebore Jood, dan was jy ’n Israeliet.

Op hierdie punt in Jesus se verhaal, was almal in die gehoor besig om hulle asem op te hou. Hulle het geweet daar is nog hoop vir die sterweling langs die pad. Want daar moet nog een persoon verbykom; ’n Israeliet. En al het die priester en die Leviet nie een die Wet nagekom deur te stop en die man te help nie, sal die Israeliet dit sekerlik doen.

En net daar kom die onverwagse wending, die kinkel in die storielyn. Want kyk, “’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.”

***

Op hierdie punt is dit belangrik om te verstaan dat Jode en Samaritane baie min van mekaar gedink het. Samaritane en Jode het verskil oor wie die ware volk van God is, oor wie se tempel die ware tempel het, oor wie se weergawe van die Torah die ware Jakob was. Daar het ’n diepe vyandigheid en wantroue tussen Jode en Samaritane geheers. ’n Hedendaagse ekwivalent sou kon wees die vyandigheid tussen ’n Joodse Israeli met Sionistiese oortuigings en ’n Palestynse Moslem wat Hamas ondersteun.

En Jesus was self ’n slagoffer van daardie vyandigheid. Dit was tipies die geval dat Galileërs, soos Jesus, wat op reis was na Jerusalem, vir ’n gedeelte van die reis deur Samaria moes gaan. Dit het gebeur dat sulke reisigers deur die inwoners van Samaria aangeval is; en dit het ook gebeur dat Jode teruggeslaan het, deur van die Samaritaanse dorpies af te brand.

En net in die vorige hoofstuk lees ons dat Jesus, op reis deur Samaria, in al die Samaritaanse dorpe gasvryheid geweier, is “omdat hy op pad Jerusalem toe was.” Jesus en sy dissipels moes vermoedelik buite slaap waar hulle heel moontlik deur rowers oorval kon word en dalk selfs halfdood langs die pad agtergelaat kon word. Twee van Jesus se dissipels was so woedend oor daardie voorval dat hulle vir Jesus gevra het of hy nie dalk wil bid dat God vuur uit die hemel laat neerdaal om daardie dorpies te verwoes nie.

Nou kan jy indink hoe verras Jesus se gehoor moes gewees het, toe die derde persoon wat verbykom, nie ’n Israeliet was nie, maar ’n Samaritaan. “En toe die Samaritaan die half-dooie man sien, het hy hom innig jammer gekry.”

Of soos Martin Luther King Jr. dit stel:

“But then the Samaritan came by, and he reversed the question: ‘If I do not stop to help this man, what will happen to him?” Indien ek nie stop om hierdie man te help nie, wat sal van hom word?

Vir Martin Luther King was dit nie ’n teoretiese vraag nie. Dit was nie om praatjies te maak met Jesus sodat ’n mens die koms van God se koninkryk ’n tydjie langer kon uitstel nie. Dit was ’n baie konkrete, etiese en politiese vraag, waardeer hy die koms van God se koninkryk op aarde wou aanjaag – want hy het toe verder gevra: “If I do not stop to help the sanitation workers, what will happen to them?”

Van daar het King afgegaan Memphis toe, om die einste werkers to help, en dit was daar dat hy vermoor is.

En soos King, was die Samaritaan se barmhartigheid ook meer as ’n warm gloed van meegevoel: hy het nie soos die priester en die Leviet ’n wye draai geloop nie; “hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy rydier, neem hom na ’n herberg en versorg hom daar. Die volgende oggend haal hy twee denarii uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee sal ek jou betaal as ek terugkom.’”

Sy optrede is konkreet. Dit veronderstel ’n persoonlike verbintenis. Hy maak beloftes. Hy moet weer daar verbygaan. Die Samaritaan plaas sy vertroue in die herbergier en vra dat die hom ook sal vertrou.

Op hierdie punt, stel Jesus die vraag aan die Wetkenner: Wie van hierdie drie, dink jy, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?”

Die antwoord is duidelik. Maar die Wetkenner kan homself steeds nie kry om sê: die Samaritaan, die Samaritaan was vir hom ’n naaste nie. “Die een wat ontferming aan hom betoon het,” sê hy eerder.

***

Weereens is die woordkeuse baie interessant. Ontferming, barmhartigheid, mercy – dit is ’n woord wat Lukas baie gebruik het in sy evangelie, maar altyd as ’n uitdrukking van God se karakter. God word geken aan God se barmhartigheid – God word geken aan haar ontferming, genade, mercy.

God – en hierdie Samaritaan. God ontferm hom oor ons deur die ontferming van ons medemens. Wanneer God aan mense barmhartigheid wil betoon, doen God dit deur mense. Indien nodig, deur ons vyande. Selfs ons bitterste vyandigheid en konflik, selfs die mees verkalkte haat en wantroue van mense kan nie perke plaas op God se ontferming en genade en barmhartigheid nie.

So, wanneer Jesus vir die Wetskenner en vir ons hier wegstuur met die roeping: “Gaan doen jy ook so,” hoor ek ten minste drie goed:

1.

Moenie jou besig hou met praatjies met Jesus as ’n wyse om die ewige lewe ’n bietjie langer uit te stel nie. Moenie, soos die Wetskenner, godsdiens gebruik om jouself te regverdig nie, om jou hande skoon te hou nie. Gaan wees lief vir God en jou naaste en jy sal lewe!

2.

Wanneer ek en jy die half-dooie man langs die pad sien; wanneer ons ellende en lyding en onreg en vyandigheid en geweld teëkom in die wêreld, herinner MLK vir ons, gaan ons bang voel, en die versoeking gaan wees om te vra, as ek stop om te help en betrokke te raak, wat sal van my word. Kom ons help mekaar, om die ander vraag lewendig te hou: “as ek nie stop om te help nie, wat sal van hom/haar word?”

3.

Laastens, sou julle opgelet het, dat Jesus die storie op so ’n manier vertel het – en ek het probeer om dit na te doen – dat ons onsself nie te vinnig in die plek van die Samaritaan sal plaas nie. Met ander woorde, dat ons onsself nie te vinnig in die posisie van die morele held te plaas nie.

Jesus se gehoor sou in die eerste plek met die sterweling langs die pad geïdentifiseer het. Die punt is dan dat ek my vyand nodig het om my te red. Is dit nie die evangelie nie? Soos Paulus in sy brief aan die Romeine sê: Terwyl ons nog vyande van God was, het Christus sy lewe vir ons afgelê sodat ons mag lewe.

Deur die eeue heen, het samelewings gewoond geraak aan ’n ander manier om gemeenskap te vorm en konflik te oorkom. Deur saam te staan teen ’n gemene vyand. Wanneer ons konflik beleef, kan ons ons verskille oorstyg, so lank as wat ons ’n gemeenskaplike vyand kan vind. ’n Sondebok. Vir duisende jare was hierdie taktiek baie effektief. So kon families en dorpe, volke en nasies, saamtrek en ontdek: eendrag is krag.

Maar in ’n globaliserende wêreld, is ons gemeenskaplike vyande besig om op te raak. Wat aan die ander kant van die wêreld op ’n globale vlak gebeur, het ’n direkte impak op wat in my buurt, plaaslik gebeur. ’n Burgeroorlog in Sirië veroorsaak ’n humanitêre krisis wat skokgolwe reg deur Europa en Amerika veroorsaak. Mosambiek met een van die laagste koolstofvoetspore ter wêreld, word verwoes deur twee ongekende siklone wat die VN sê sonder twyfel die gevolg van aardverhitting is.

Ons begin al hoe meer ontdek wat Jesus probeer sê het, toe hy geleer het dat ons ons vyand moet liefhê. Die vyand is ook jou buurman. Jy en jou vyand sit in dieselfde roeibootjie en die bootie het ’n gat. Die water stroom in en die boot is besig om te sink.

Wat moet ek doen om te lewe? Skielik is ek afhanklik van die barmhartigheid van ’n Samaritaan, van my vyand… en my vyand is afhanklik van my ontferming. Dalk, as ons vir mekaar, ’n naaste word, kan ons saam begin om water uit die bootjie te skep. Uiteindelik, kry ons dit dalk reg om die gatjie toe te stop en so te oorleef.

En oorleef ons die krisis, betree ons ’n nuwe orde waarin daar nie meer vyande is nie. Dan betree ons die ewige lewe, die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Bly ons vasgevang in ons ou vorme van dink en optree, klou ons vas aan ons vooroordele en verdeeldheid, aan ou wonde wat ons koester, sink ons saam.

Is dit nie ons wat daar lê, kaalgestroop en halfdood in die sloot, nie. Ons lewe, maar vir hoe lank nog?