Lukas 12:13-21

4 Augustus 2019

Agste Sondag na Pinkster | Nagmaal
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[As gevolg van ‘ n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Ek hou vanoggend se preek kort; want eintlik wil ek nie veel meer sê as wat ek reeds vroeër vir die kinders gesê het nie.

Ons het die afgelope paar weke in die erediens saam nagedink oor die gebed en oor die geestelike lewe. Deur die verhaal van Maria en Marta, het ons ontdek dat gebed die hart van die Christelike lewe is, dit is die een noodsaaklike ding, dit is om by Jesus se voete te sit en na hom te luister.

En verlede week het ons stilgestaan by die gebed wat Jesus vir ons leer: die Onse Vader. En ons het ontdek dat gebed minder iets is wat ek doen, as wat dit God se werk in my is. Gebed is ten diepste, om toe te laat dat Jesus se gebed, in my gebeur.

Vanoggend wil ek jou uitnooi om nog ’n tree op hierdie weg saam met my te neem en vir te vra na die verhouding tussen ons gebed en ons geldsake. In die verband maak ek enkele opmerkings oor ons teksgedeelte.

***

Ek wil begin by die man wat vanuit die skare vir Jesus sê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.”

Dit is een manier om te bid. Vanuit die skare waar ek incognito, anoniem kan bly. Veral wanneer dit oor geldsake of besittings kom, bly ek eerder op ’n afstand van Jesus want ons almal weet hoe radikaal hy kan wees as dit by sulke sake kom.

Dit laat my ook dink aan die 5999 mense wat in die skare gesit het en toe almal begin honger raak het, nie soos die seuntjie gemaak het wat sy 5 brode en 2 vissies vir die Here gegee het nie. In die skare, op ’n afstand is ek veilig. Ek kan na Jesus se mooi boodskap luister, terwyl ek ook veilig kan vashou aan my kosblik, aan my besittings.

Vir die man in die skare – terloops, ek sien myself in die man raak – is gebed om, wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie, of nie kry waarop jy voel jy geregtig is nie, skielik ’n beroep te maak op Jesus: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.”

Hy sit in die teenwoordigheid van God, maar al wat hy sien is wat hy nie het nie, wat hy dink hy kortkom. En die probleem lê natuurlik nie by homself nie, maar by sy broer. So wil hy dan van die Seun van God ’n boedelberedderaar maak.

Jesus wil niks daarvan weet nie: ‘mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?’ vra Jesus vir hom. Eers lyk dit na ’n retoriese vraag – met ander woorde, ‘Ek is mos nie hier om uitspraak te lewer oor julle geskille nie’.

Maar ek wonder of Jesus dit nie as ’n regte vraag bedoel het nie; en die antwoord is dan natuurlik: die Vader – die Vader het vir Jesus as ons regter en bemiddelaar aangestel; die Vader wat sorg vir die voëls en die veldblomme en ook weet wat julle nodig het; die Vader wat weet om goeie geskenke vir sy kinders te gee; die Vader wat dit goedgevind het om die koninkryk en die Heilige Gees aan julle te gee.

Met ander woorde, Jesus is ons regter en bemiddelaar. Maar hy is nie deur my of deur jou aangestel nie – en Hy sal Hom ook nie deur ons laat aanstel nie! God stel vir Jesus aan en die logika waarvolgens Jesus dan oordeel nie ons angs oor die toekoms, dat daar nie genoeg gaan wees nie, maar die oorvloed van die Vader, dat daar reeds meer as genoeg is vir almal.

Hiermee dan die eerste les oor geld en gebed. Ek moet nie aanneem dat Jesus my perspektief op die wêreld gaan deel, of dat ek vir Jesus kan volg sonder dat my sienings oor geld uitgedaag en verander gaan word nie. Gebed is nie om vir Jesus van ’n afstand nader te trek en hom in te span by ons projekte nie.

Nee, as ons dit enigsins waag om met Jesus in gesprek te gaan oor ons besittings, kan ons maar verwag dat hy ons veronderstellings oor die wêreld – soos ons onkritiese geloof in skaarsheid, of dat ’n mens se lewe bepaal word deur die oorvloed van hulle besittings – op sy kop gaan draai.

Jesus gaan ons nie los soos wat ons is nie. Dit is die les wat die man uit die skare tot sy groot skok en teleurstelling geleer het. Hy dog nog hy vra iets redelik, hy wou immers net gehad het wat volgens die wet aan hom behoort, maar Jesus sien dieper as die oppervlakte: Jesus sien sy hart en stel die gierigheid wat hy in die skare probeer wegsteek bloot vir wat dit is.

Jesus sien hoe die man se obsessie oor sy deel van die erfenis, besig is om sy hart bitter te maak. In die warm gloed van sy stryd met sy broer, het hy blind geraak vir die feit dat sy siel besig is om skade te lei. Sy eie broer sien hy as niks meer as ’n probleem en ’n mededinger nie. Hy is so oorweldig deur sy vrees dat hy nie genoeg sal hê nie, dat hy die oorvloed van God se koninkryk wat voor hom besig is om aan te breek helemaal miskyk.

Dit is een manier om te bid, om van ’n afstand, vanuit die skare mense wat elkeen probeer om sy eie kosblik weg te steek, te pleit dat God vir my met ’n skaars hulpbron sal voorsien voordat iemand anders dit kry.

Maar gebed kan ook wees, om soos die seuntjie uit die veiligheid van die skare uit te tree met alles wat jy het – al is dit twee broodjies en vyf vissies – en te sê: hier is ek Here, hier is ek in my naakte kwesbaarheid, deurgrond my hart, vernuwe my denke, maak oop my oë vir u koninkryk, en gee vir ons elke dag ons brood vir daardie dag.

***

Kom ons kyk ook kortliks na die gelykenis wat Jesus vertel, van die ryk man wat geseën is met ’n besondere groot oes.

Hier is iemand wat dit reggekry het om uit die skare honger en behoeftige mense uit te styg. Maar anders as die seuntjie, wat sy rykdom na die Here toe neem om met Jesus in gesprek te gaan oor hoe hy dit sal belê, is die ryk man totaal en al ingekeer op homself.

Hy voer nie ’n dialoog met die Here nie, maar ’n monoloog met homself. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? . . . ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê: myself, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’

Dit is nog ’n manier om te bid. Om myself van God en van ander mense te isoleer, sodat ek die hoofrol begin speel in my eie fliek, waarvan ek ook die draaiboek geskryf het en selfs in die regisseur se stoel gesit het. Dalk gee ek vir God ’n ondersteunende rol wat hy kan speel, maar in die proses, raak ek helemaal verwyderd van die realiteite van die lewe: soos dat ’n mens se lewe nie bepaal word deur die oorvloed van sy besittings nie,” dat ek afhanklik is van ander en ander ook afhanklik is van my, soos dat ek ’n sterweling is.

Ons almal weet dat ons meer eenvoudig kan en moet lewe. Soos Koos Du Plessis sing: Eenvoud is die vreugde van die lewe, dit is gee en neem net wat daar is, dis die dankbare eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.

En tog vind ons dit moeilik. Met al die versoekings van ’n verbruikerskultuur, voel dit soms of ons nooit tevrede wees met ’n lewe van eenvoud nie. Daarom is gebed so noodsaaklik.

Gebed as die verlange om ryk te word in God. Om die rykdom van God te ontdek in ’n lewe saam met ander, ’n lewe van barmhartigheid en vrygewigheid, om te besef dat liefde en aandag en geduld en meelewing in groot oorvloed beskikbaar is vir elkeen wat daarvoor vra.

Dit is om saam met Jesus waaksaam te wees vir elke vorm van gierigheid – want dit kom in baie verskillende vorme en dikwels is dit goed vermom. Gebed is om uit die skare uit te tree, nie om myself van my medemens te isoleer nie, maar om naak en kwesbaar met Jesus in gesprek te tree en bereid te wees dat hy moeilike vrae gaan vra oor die geld waarvoor ek so hard gewerk het, of waaraan ek so mooi gespaar het.

Gebed is om my eie sterflikheid na aan my hart te hou. Want die waarheid is dat God elke nag ons lewe van ons opeis. Die wekroep van God om ons kruis op te tel en aan onsself te sterf is ’n daaglikse uitnodiging om vanuit God se evangelie van oorvloed te lewe, eerder as ons vrees vir skaarsheid.

As ons vertrekpunt is dat daar te min is, gaan mense wat werklik daagliks in ’n stryd is om kos op die tafel te sit, vir ons ’n bedreiging wees. Maar as ons vanuit God se oorvloed beweeg, kan ons sonder vrees, werklik in solidariteit te leef met mense vir wie skaarsheid ’n daaglikse werklikheid is.

Gebed is om toe te laat dat Jesus se gebed in my gebeur. Dit is om toe te laat dat Jesus se visie van ’n wêreld waarin daar oor genoeg is vir almal, begin om my diepgewortelde veronderstellings oor die wêreld te bevraagteken en stelselmatig te skuif.

Jesus het ’n ongelooflike vermoë gehad om situasies waar daar skynbare skaarste is te omskep in geleenthede van vreugde en feesviering en gemeenskap.  ’n Lewe van gebed is om toe te laat dat Jesus hierdie wonderwerk met ons doen, met ons werklike situasies van skaarsheid, waarin ons werklik iets kort kom, maar ook met ons illusies van skaarsheid, wanneer ons ten spyte van oorvloed, nie genoeg kan kry nie.