Hebreërs 11:1-3; 8-16

11 Augustus 2019

Negende Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Anneliese Burgess het hierdie week ’n mooi berig geskryf vir die Vrye Weekblad, met die titel: “Suid-Afrika: 10 redes vir optimisme en hoop.” Hoewel sy, in haar eie woorde, ’n bok is vir optimisme, sê sy dat die afgelope week se nuusgebeure haar in ’n depressie gedompel het. Sy verwys na “Eskom se inploffing, die openbare beskermer se wanbegrip van haar rol, die doemprofesieë oor die ekonomie, die skrikwekkende statistieke oor werkloosheid, die onaanvaarbare geweldsmisdaad ens.”

En tog, meen sy, is daar steeds rede om te hoop. Na aanleiding van gesprekke met 10 Suid-Afrikaners – politici, sakemense, aktiviste en akademici –  gee sy 10 redes waarom ’n mens in Suid-Afrika kan aanhou om met hoop te lewe, sonder dat ’n mens die geweldige uitdagings ignoreer. Ek kan haar artikel aanbeveel. Ek dink ons kan almal doen met ’n bietjie hoop. Sonder hoop kan ons nie lewe nie.

***

Ek onthou ’n storie wat vertel word van ’n Joodse gesin in ’n konsentrasiekamp in Duitsland. Nadat die seun dit reggekry het om ’n stukkie botter uit die kombuis gesmokkel te kry, gebruik die pa dit om met ’n stukkie skoenveter ’n klein Sabbats-kersie te maak. Die seun was woedend: hoe kan pa die kos uit ons monde neem om ’n verdomde kers te maak?! Waarop die pa geantwoord het, my kind, sonder kos kan ons vir ’n paar dae lank oorleef, miskien ’n week, maar sonder hoop sal ons dit nie eers deur hierdie nag maak nie.”

Hoop is noodsaaklik; maar juis daarom moet ons oppas vir vals hoop. Ons moet oppas vir vorme van hoop wat nie die donker nag kan sien vir wat dit is nie. Ons moet oppas vir oppervlakkige vorme van optimisme wat net inspireer terwyl dinge vlot loop en nie ook deur moeilike tye kan volhard nie. Hiermee dink ek kan vanoggend se teksgedeelte ons help.

***

Ons weet nie baie van die gemeente aan wie die Hebreër-brief geskryf is nie, maar ons kan van die brief self aflei dat hulle Christene met ’n Joodse agtergrond was. Daarom is die brief so propvol Ou-Testamentiese verwysings; die skrywer kon aanneem dat sy gehoor vertroudheid was met die Hebreeuse geskrifte.

Maar sedert hierdie gemeente se bekering tot die Christelike geloof, het hulle “’n geweldige stryd van lyding deurstaan…” Ons lees dat die owerhede hulle “deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak” het. Hulle “besittings is van hulle afgeneem” en omdat hulle medelye betoon het aan “mense wat sleg behandel is en as gevangenes aangehou is” is hulle eie lewens ook in gevaar gestel.

Onder die druk van vervolging is hulle geloof getoets: bly hulle getrou aan die evangelie, bewys hulle medelye met hulle wat vervolg word, loop hulle die risiko van verdere vervolging. Kies hulle om eerder met jou omgewing te assimileer, byt hulle op hulle tong wanneer hulle onreg sien, maak hulle hulself maar tuis in die status quo, dan verloën hulle die evangelie.

Dit is die situasie wat aanleiding gegee het tot hierdie Hebreër-brief, wat eintlik ’n preek was. Die skrywer noem dit ’n boodskap van aansporing. Hy wil die gelowiges aanspoor om in hulle geloof te volhard en getrou te bly aan die hoop wat in hulle leef, eerder as die hopeloosheid van hulle donker omstandighede.

***

Dit is die konteks waarin die prediker sy bekende definisie van geloof gee: “geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”

Geloof in hierdie konteks gaan nie oor of jy saamstem met sekere dogmas of leringe nie. Geloof is hier ’n antwoord op die vraag: kan ek getrou bly aan die bestemming wat God deur Jesus besig is om vir sy skepping voor te berei, al is dit nog nie duidelik hoe ek daardie bestemming gaan bereik nie?

Hier gaan geloof oor volharding en deursettingsvermoë langs die weg wat Jesus vir ons geleer het. In sulke donker tye is die teenoorgestelde van geloof nie twyfel nie, maar moedeloosheid, apatie en sinisme – dit is om tou op te gee, of om jou hande op te gooi, of om jou skouers op te trek.

Wat van Abraham en Sara geloofshelde gemaak het was nie dat hulle nooit getwyfel het nie, of dat hulle nooit gestruikel het nie. Die voorbeeld wat hulle vir ons gestel het was veel eerder dat hulle nooit ophou verlang het na die beloftes wat God in hulle harte geplant het nie.

Selfs toe hulle begin twyfel het omdat dit gelyk het of God van sy beloftes vergeet het, het hulle nie met heimwee terugverlang na die land waaruit hulle weggetrek het nie; maar hulle het bly hunker na ’n beter land wat God besig was om vir hulle voor te berei. Op grond van die hoop wat in hulle geleef het, het hulle met die rusteloosheid van vlugtelinge en pelgrims bly verlang na die bestemming wat God vir hulle wou gee.

Geloof is ’n heilige hunkering, ’n goddelike rusteloosheid, ’n hemelse verlange. En ’n getroue geloofslewe, is hoe ’n mens daardie hunkering – soos ’n vlam in die wind, kragtig en kwesbaar – in jou hart bly beskerm en koester. Dit is om soos ’n vreemdeling en ’n bywoner nooit te tuis te voel in enige kultuur, of politiese bestel, of woonplek, of tydsgees, of ideologie, of selfs teologie nie.

***

Die groot gevaar is dat ons daardie rustelose hunkering na God se bestemming sal verloor. Vir sommige is die gevaar dat ons met heimwee sit en terugverlang na ’n tyd of ’n plek of ’n bestel toe dinge eenvoudiger was. Maar sulke nostalgiese herinneringe aan die goeie ou dae is altyd selektief. Ons vergeet die pyn en die hartseer en die teenstrydighede. Wat ons onthou is ’n nietjies versierde weergawe van die waarheid. Boonop is die verlede verby – jy kan nie daarheen terugkeer nie.

Die stem van heimwee is een gevaar, maar ’n ander gevaar is dat die stemme van die hede, van Twitter en Netwerk 24, so luid en oorweldigend raak dat jy lamgelê word deur jou onmiddellike omstandighede.

Dit kan ’n mens laat verval in ’n tiepe apatie of sinisme wat nie meer kan verlang nie, wat deur niks verras kan word nie, wat nooit meer in verwondering staan nie, wat nie meer verwag dat dinge kan verander nie, wat op die beste maar tevrede sal wees met die wêreld soos dit is.

Vir die van ons wat geneig is om in heimwee te verval, word ons herinner aan Abraham en Sara wat nie aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het nie, maar eerder gehunker het na ’n beter een, ’n hemelse een. “Daarom,” sê die teks, “skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad voorberei.” Nie heimwee nie, maar hoop bepaal die Christelike lewe; d.w.s. vertroue in die stad wat God vir ons voorberei, eerder as die een waarna ons terugverlang.

En vir die van ons wat geneig is om uit die wedloop te val as gevolg van die daaglikse werklikheid wat God se roepstem uitdoof, herinner die prediker ons dat “die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit wat nie gesien kan word nie.”

Met ander woorde, ons hoop is nie geanker in die huidige stand van sake nie, maar in die skeppende Woord van God, in die verrassende kreatiwiteit van Jesus, wat selfs die donkerste hel – soos om aan ’n Romeinse kruis tot die dood gemartel te word – in iets lewegewend kan omskep.

Hier wil ek graag ’n aanhaling lees van die skrywer en voormalige president van die Tsjeggiese Republiek, Vaclav Havel, oor hoop:

 “Hope is a state of mind, not a state of the world. It is an orientation of the spirit and orientation of the heart; it transcends the world that is immediately experienced and is anchored somewhere beyond its horizons. Hope, in this deep and powerful sense, is not the same as happiness that things are going well, or willingness to invest in enterprises that are obviously heading for success, but rather an ability to work for something because it is good, not just because it stands a chance to succeed. The more propitious the situation in which we demonstrate hope, the deeper the hope is. Hope is definitely not the same thing as optimism. It is not the conviction that something will turn out well, but the certainty that something makes sense, regardless of how it turns out.”

Vaclav Havel

As geloof die sekerheid is van die dinge wat gehoop word, dan dink ek is dit in die sin wat Havel dit hier vir ons uitlê. Die sekerheid wat ons het, is nie dat dit waarvoor ons hoop sonder enige twyfel verwerklik sal word nie. Dan sou dit nie hoop wees nie, maar optimisme. Geloof is veel eerder die sekerheid dat dit waarvoor ons hoop sonder enige twyfel van God af is, dat dit die goeie is, “regardless of how it turns out.” Hoop, soos Havel sê, is die vermoë om vir iets te werk omdat dit goed is, nie net omdat dit ’n goeie kans om sukses het nie.

Dit is die geloof wat ons in die groot wolk van getuies herken, want, soos die prediker ons herinner met woorde wat die bloed in ons are laat koud stol, “Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang . . .”

Die helde van ons geloof het nie hulle lewens gegee vir sake wat sonder enige twyfel ’n sukses sou wees nie. Nee, hulle geloof en hulle hoop was geanker in God, diskant die horison van hulle eie vermoëns en ambisies en stoutste verwagtinge. En tog, word ons aangemoedig om hulle voorbeeld te volg. Want, hoewel hulle in geloof gesterf het sonder om ooit die beloftes te ontvang, het “hulle dit van vêraf gesien en verwelkom.”

***

Ek wil afsluit met ’n aanhaling van Olive Schreiner, die Suid-Afrikaanse skrywer van die 19de eeu, wat bekend is vir haar boek, “Story of an African Farm.” In ’n boek met die titel: “a track to the water’s edge” skryf sy van ’n vrou wat ook soos Abraham, na ’n vêr land toe wou trek. Daarvoor moes sy eers ’n rivier oorsteek:

And she stood far off on the bank of a river. And she said: “For what do I go to this far land which no one has ever reached? Oh, I am alone! I am utterly alone!”

And Reason, that old man, said to her, “Silence! what do you hear?”  And she listened intently, and she said, “I hear a sound of feet, a thousand times ten thousand and thousands of thousands, and they beat this way!”

He said, “They are the feet of those that shall follow you. Lead on! make a track to the water’s edge! Where you stand now, the ground will be beaten flat by ten thousand times ten thousand feet.” And he said, “Have you seen the locusts how they cross a stream? First one comes down to the water-edge, and is swept away, and then another comes and another, and then another, and at last with their bodies piled up a bridge is built and the rest pass over.”

She said, “And of these that come first, some are swept away, and are heard of no more; their bodies do not even build the bridge?” “And are swept away, and are heard of no more – and what of that?” he said. “And what of that – “ she said.

“They make a track to the water’s edge.” “They make a track to the water’s edge –.” And she said, “Over that bridge which shall be built with our bodies, who will pass?” He said, “The entire human race.”

And the woman grasped her staff. And I saw her turn down that dark path to the river.

Olive Schreiner – A track to the water’s edge

Die merkwaardige ding van die groot geloofshelde, Abraham en Sara, Moses en Miriam, die groot wolk van getuies wat ons aanpor om ons wedloop te voltooi, deur te sing ‘hou bene hou, hou bene hou’ is dat hulle nooit die belofte ontvang het wat hulle van vêraf gesien het en verwelkom het nie.

Hulle het nooit die rivier oorgesteek nie. Sommige van hulle het nie eers deel uitgemaak van die brug nie. Vir meeste van hulle was dit genoeg om ’n voetpaadjie aan te wys wat na die rivier toe gelei het; ‘a track to the water’s edge’.

Ons kan almal doen met ’n bietjie hoop. Maar as daar hoop is vir Suid-Afrika, werklike, diep hoop, dan gaan dit sigbaar word in mense wat bereid is om die goeie te doen, ter wille van die evangelie, nie omdat daar ’n goeie kans is dat hulle die rivier gaan oorsteek nie, maar omdat dit van God is; omdat dit goed en mooi is. Mag ons elkeen, in hierdie stad en in hierdie land, in Kaapstad, Suid-Afrika, met die unieke uitdagings en beloftes wat ons hier het, altyd die stad wat Jesus vir ons voorberei voor oë hou, mag ons dit van vêraf sien en dit verwelkom, al is ons taak niks meer as om ’n voetpaadjie te maak wat na die rivier se oewer toe lei nie.