Algemene Sinode 2019

Die byeenkoms van die 2019 Algemene Sinode het van 6-11 Oktober by die eMseni Christian Centre in Benoni plaasgevind. Amptelike besluite wat tydens die Algemene Sinode geneem is, kan op Kerkbode se webblad gelees word. Die notules sal op ons webtuiste beskikbaar gemaak word sodra dit goedgekeur is.

Die vergadering het in ‘n positiewe gees geskied waarin die eenheid van Christus die vertrekpunt was. Enkele afgevaardigdes en waarnemers deel hulle ervarings met ons.  Kyk ook hier na die video-oorsig deur Almatine Leene van Stellenbosch-Wes.

Lees wat skryf Lettie Büchner van NG Wellington en VGK lidmaat Hanzline Davids van Inclusive and Affirming Ministries.

In Gesprek voor God | Pumla Gobodo-Madikizela

13 Oktober 2019

Luister hier na ‘n opname van die tweede van ons In Gesprek voor God eredienste. Hier gesels Helgard met Prof. Pumla Gobodo-Madikizela oor hulle boek, These Are the Things that Sit with Us.

Prof. Pumla Gobodo-Madikizela is ’n kliniese sielkundige en dien tans as navorsingshoof van Stellenbosch Universiteit se Eenheid vir Historiese Trauma en Transformasie. Sy is gebore in Langa, Kaapstad en het gestudeer aan die universiteite van Fort Hare, Rhodes, Kaapstad en Harvard. Sy het gedien op die Waarheids en Versoeningskommissie se komitee vir menseregteskendings. In haar bekroonde boek, A Human Being Died That Night: A South African Story of Forgiveness (2003) ondersoek sy prosesse van vergifnis in die naloop van historiese trauma aan die hand van onderhoude met Eugene de Kock. Sy is wyd bekroon vir haar pogings om die verhale van slagoffers met waardigheid oor te dra, om oortreders te vermenslik, en om ’n hoopvolle boodskap van empatie, dialoog, berou en vergifnis te verkondig aan ’n samelewing wat diep geraak is deur trauma en geweld.

These Are the Things that Sit with Us, onder redaksie van Pumla Gobodo-Madikizela, Friederike Bubenzer en Marietjie Oelofsen, is ’n versameling kort verhale van mense uit Langa, Bonteheuwel en Worcester oor die voortslepende impak van hulle ervarings van apartheid. Elke verhaal verskyn in isiXhosa, Afrikaans en Engels; eerstens in die verteller se huistaal. Die stories word ook vergesel deur foto’s wat versigtig deur die storievertellers self gekies is en sensitief afgeneem is deur twee fotograwe, Noncedo Gxekwa en Botswele Mogotlane. Saam verbeeld die verhale en foto’s hoe stories van lyding ook tekens van menslike agentskap en waardigheid kan wees. Die samestellers wil met hierdie publikasie ’n dieper gesprek oor taalgrense heen onder Suid-Afrikaners stimuleer. Daardeur hoop hulle om wedersydse verstaan en respek te bevorder – vir mekaar, asook ook vir die komplekse impak van ons gedeelde geskiedenis op die lewens van individue en gemeenskappe.

Die boek kan by die kerkkantoor teen ‘n afslag-prys van R200 bestel word. Stuur asseblief jou bestelling aan [email protected]

In Gesprek voor God is ’n poging om voor die aangesig van God in gesprek te bly met die wêreld waarin ons leef en te luister na ‘n verskeidenheid stemme oor kwessies wat saak maak. Daarom voer ons juis hierdie gesprekke tydens die erediens as ’n vorm van aanbidding, in navolging van Christus en in die kragveld van God se Gees.