Efesiërs 1: 3; 9-12

26 Januarie 2020

Derde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

2020 is die Jaar van die Bybel en die 200ste bestaansjaar van die Bybelgenootskap in Suid-Afrika

Dit is inderdaad ’n mylpaal om te vier. Oor die laaste tweehonderd jaar, het die Bybelgenootskap die Bybel in al 11 amptelike landstale beskikbaar gestel aan miljoene mense. Hulle doelwit is om in hierdie jaar nog 2 miljoen Bybels te versprei.

Almal sou egter nie met so veel entoesiasme feesvier oor hierdie feite nie. Baie sal sê, dalk tereg, dat die Bybel ’n boek is wat oor die eeue heen, en steeds vandag, gebruik word om allerhande vorme van onreg, geweld en uitsluiting te regverdig.

In 1993 is ’n sensus gedoen in Rwanda wat aangetoon het dat 97% van alle burgers Christene is – 97% van die bevolking wat bely dat die Bybel hulle boek is; en tog, een jaar later, word amper een miljoen mense wreed deur hulle bure vermoor. Hoe kan dit wees dat mense wat hierdie boek bely as die goeie nuus van ’n liefdevolle God, sulke verskriklike dade pleeg?

Watter tiepe boek is dit hierdie? Watter tiepe boek is dit wat vir eeue lank gebruik kon word om slawerny en oorloë te regverdig, rassisme met goddelike sanksie te ondersteun en tot vandag toe nog vroue te onderdruk? Wat sê dit as ’n plek wat bekendstaan as die “Bible-belt” so te sê sinoniem is met ’n wit meerderwaardigheid sindroom, homofobie en die aanbidding van vuurwapens?

Te danke aan die 2 eeue van harde werk deur die Bybelgenootskap, is die probleem is nie dat mense nie toegang tot die Bybel het nie, of selfs dat hulle nie die Bybel lees nie. Die vraag is eerder: hoe lees ons die Bybel. Ons moet leer hoe om die Bybel op so ’n manier te lees dat dit God se lewegewende wil eer.

***

Twee jong visse swem een oggend in die see. ’n Ouer, groter vis, swem in die teenoorgestelde rigting en, soos hy by hulle verbyswem, groet hy hulle: “Môre menere, hoe’s die water?”

Na ’n rukkie, sê die een jonger vis vir sy maat: “wat is ‘water’?”

Ons lees die Bybel altyd deur ‘n bepaalde lens, vanuit ’n spesifieke perspektief. Elke perspektief werp ’n ander lig op die Bybel, wat weer maak dat die Bybel ’n eiesoortige skaduwee laat val.

Dis soos wat ’n leesbril of ’n kamera-lens die lig op ’n bepaalde manier filtreer en buig om sommige dinge in helder fokus te plaas, terwyl ander dinge vaag raak en op die agtergrond in verdwyn. Elke lens, elke perspektief het sy eie beperkinge.

Die uitdaging is dat ons soos die twee jong visse is. Ons besef nie eers dat ons besig is om deur ’n lens te kyk nie. Ons lense is so effektief en raak naderhand so gemaklik, dat ons vergeet dat hulle daar is. Soos die bril wat ek dra – sien ek nie die bril self nie; ek sien die wêreld deur die bril.

Dit bril waardeur elkeen van ons die Bybel lees, is so naby aan ons, so vanselfsprekend en gemaklik, dat ons nie eers agterkom dat ons een dra nie.

So, vriende, hoe is die water? Wat is ons lens? Wat is jou lens?

Terwyl die Bybelgenootskap in die komende jaar beoog om nog 2 miljoen Bybels te versprei, kan dit dalk ons nederige doelwit wees: om onder die leiding van God se Gees en in gesprek met mekaar, meer bewus te raak van die water waarin ons swem, en seker te maak dat ons die Bybel op so ’n manier lees en uitleef en oordra aan ander dat dit in diens sal staan van God se lewegewende, helende, versoenende wil.

***

Met die oog hierop, skop ons as gemeente vandag af met ’n nuwe reisplan: kom ons noem dit ’n pelgrimstog. ’n Pelgrimstog deur die Bybel, van Genesis tot Openbaring.

En soos enige pelgrim vir jou sal kan vertel is so ’n reis sowel ’n reis na buite as na binne. Die pelgrim ontdek so wel die terrein, die natuurlike en menslike landskap waardeur hy of sy wandel, as die kontoere van sy of haar eie hart.

My hoop is dat ons so wel die Bybel as ons eie harte beter sal leer ken, maar bowenal dat ons in ons ontmoeting met die Bybel en met mekaar, ’n ontmoeting sal hê met die God van die Bybel – want dis uiteindelik waarom dit gaan: oor ’n ontmoeting met die lewende God wat soos vanoggend se teksgedeelte so treffend sê, “die geheimenis van God se wil aan ons bekendmaak.”

Nou, oor die volgende twee jaar gaan ons as padkaart vir ons pelgrimstog ’n klein boekie gebruik maak met die Engelse titel: “Manna and Mercy.” Daar is ook ’n Afrikaanse vertaling daarvan beskikbaar: “Genoeg en Genade.” Ek gaan daarvan gebruik maak in my voorbereiding van ons eredienste en Bybelstudies en die nuwe KinderKasteel kurrikulum is ook daarop gebaseer.

Manna and Mercy is geskryf deur ’n Lutherse dominie, Daniel Erlander. Dit is ’n pragtige boek, wat hy in liefde met die hand uitgeskryf het en deurgaans geïllustreer het. Die subtitel van die boek is a brief history of God’s unfolding promise to heel the entire universe (’n bondige geskiedenis van God se voortgaande belofte om die hele skepping te herstel). Die boekie is ’n eenvoudige opsomming van die Bybel se boodskap.

’n Vriend van my wat vir Dan ontmoet het, het eendag vir hom gevra oor die titel: “Hoekom Manna & Mercy?” en nie “die Bybel” nie?

Dan vertel toe vir hom oor hoe Rabbi’s in die Bybelse tye hulle totale lering in ’n gebed opgesom het. Dis hoekom Jesus se dissipels na hom toe gekom het om vir hom te vra om vir hulle sy gebed te leer. Hulle wou met ander woorde nie net weet, hoe om met God te praat nie, maar ook dat Jesus vir hulle ’n opsomming moes gee van sy uitkyk op die lewe; ’n opsomming van wie God is en wat dit beteken om in verhouding met God te lewe.

En Jesus antwoord met wat ons die Onse Vader noem. In die hart van die gebed: gee vir ons ons daaglikse brood (manna, genoeg) en vergewe ons sondes (mercy, genade). Manna and Mercy; Genoeg en Genade.

Dit, beweer Dan Erlander, was Jesus se lens: op die Bybel, op die lewe, op God. Dit is die tema wat op God die hart dra, die diepste stroom wat soos ’n goue draad wat deur die hele Bybel vloei. Genoeg en Genade is ’n poging om met daardie lens van Jesus deur die Bybel op reis te gaan van Genesis tot Openbaring.

In die voorwoord tot die boek speel Dan oop kaarte: hy erken: soos ek vroeër gesê het, dat ons almal die Bybel met ’n stel leesbrille benader. Hy kies om die Bybel, so getrou as wat hy weet hoe, deur die lens van die Jesus-storie en die Christus-gebeure te lees.

Vir hom beteken dit dat dié gedeeltes van die Bybel wat ’n regverdige, genadige, vredemakende, inklusiewe en nie-hiërargiese samelewing verbeeld duideliker na vore sal kom.

In die proses sal ander dele moet terugstaan: daardie dele wat ’n neig na etnosentrisme, uitsluiting, patriargie en domineering.

***

En dan haal hy Efesiërs 1:9-10 aan, wat ons ook vanoggend gelees het, as die een Bybelteks wat hom meer inspireer het as enige ander:

God het die geheimenis van sy wil

aan ons bekend gemaak,

soos God dit goedgedink en voorgeneem het,

om . . . om alle dinge in Christus

onder een Hoof saam te bring –

die dinge in die hemel en die dinge op die aarde –

ja, alles saam in Hom.

Wanneer Paulus hier skryf aan Efesiërs, sit hy in die tronk.

Hy begin sy brief met ’n lang loflied. Weer en weer sing hy: Lofwaardig is die Here.

En in die hart van die loflied, vanuit die donker, beklemmende tronksel, sien Paulus met helder oë, die geheimenis van God se wil wat tot die uithoeke van die ganse skepping strek. Vanuit sy eie gevangenskap sien hy die vryheid van God wat alle dinge, alle dinge, in die hemel en op die aarde, onder een hoof wil versoen: Jesus Christus. Genoeg en Genade.

***

Erlander het ’n treffende illustrasie van hierdie asemrowende visie gemaak.

  • Daar sien ons God se droom: die ganse skepping wat God se heerlike sjaloom geniet.
  • Die mens en die natuurlike wêreld wat in harmonie leef. Die mens wat die aarde dien en versorg, die aarde wat die mens voed en omhels.
  • Ons sien ’n gemeenskap van gelykes wat om die etenstafel mekaar se waardigheid erken, ten spyte van diversiteit.
  • In die hart van die skepping is Christus, arms oop, van wie ons elke geestelike seëning in die hemel ontvang, hy staan by sy tafel, hy gee homself.
  • Ons sien sy toewyding in die spykermerke aan sy hande: Dis ’n teken van God se liefde, maar ook ’n bewys dat daar weerstand teen God se droom is, dat daar ’n koste daaraan verbonde om die weg van Genoeg en Genade in die wêreld te loop.
  • Daarom, oor Jesus se regter skouer, sien ons die kruis. Maar die kruis is kaal. Die dood, die weerstand teen God se liefdevolle droom, kon Jesus nie vashou of terughou nie. Hy leef en hy roep ons om God se droom saam met hom te betree.

***

Onder aan die prentjie is ’n baie lang, Griekse woord: Anakephalaiosasthai.

Dit is die woord wat Paulus daar in sy sel gebruik het om te beskryf wat God aan die doen is wanneer Hy alle dinge in die heelal onder een hoof saambring.

Dalk was een van Paulus se mede-gevangenisse ’n wiskundige gewees, want die woord – anakephalaiosasthai – kom van antieke wiskunde af. Die totaal van baie afsonderlike syfers het bekend gestaan as die anakephalaiosasthai. Dit is die nommer wat al die alle getalle in homself opneem. Dit is wat Jesus Christus aan die doen, is – om elke deel van die heelal, deel te maak van een harmonieuse huishouding, een familie, om een tafel.

Dalk is dit hoekom die bekende teoloog, Rowan Williams gevra is wat die woord “God” vir hom beteken, hy net twee woorde gesê het: “love” and “mathematics”

Of dalk is dit hoekom die filosoof en digter, Willie van die Merwe, toe iemand vir hom vra of hy in God glo, die volgende gedig opgesê het. Die gedig se naam is optelsom.

Jesus min my,

tel my op,

maal my,

deel my,

tot ek klop

Dit is waarvoor die Bybel is. Dit fasiliteer ’n ontmoeting met die anakephalaiosasthai van ons bestaan, van die ganse heelal – tot ons klop, tot die hele skepping klop. Mag dit in die jaar van die Bybel, vir ons en vir vele ander, waar wees.