Genesis 4

1 Maart 2020

Eerste Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

’n Woord vooraf

Geskryf in Babilonië, tydens die ballingskap, in die aangesig van geweld, slawerny en verdrukking, begin die Bybelse verhaal met ’n skeppingsverhaal wat getuig dat die wereld in liefde geskep is, deur ’n liefdevolle God.

Die Babiloniese skeppingsverhale vertel ’n ander storie: van mense wat in geweld, deur geweld en vir geweld geskep is. In Babilon is geweld en tirranie van die begin af daar. Nee, sê Genesis 1-3, die mens is in liefde geskep, deur liefde, vir liefde, maar – soos ons verlede week gesien het – met die vryheid om anders te kies, met die vryheid om nie lief te hê nie.

Die res van die Genesis verhaal, eintlik reg deur die Bybel, word Israel gekonfronteer met ’n keuse: gaan ons die Babiloniese weg volg, waar die sterke altyd seevier, indien nie met mag nie, dan deur geweld.

Of volg ons die Bybelse weg van Sjaloom, van liefde en harmonie en herstel?

Soms, soos in Gen. 4 wat ons vanoggend gaan lees, sien ons hoe weerloos en kwesbaar die weg van Sjaloom is, en is dit nie altyd duidelik watter van die twee wee gaan seevier nie.

Boodskap

Ons teksgedeelte vanoggend begin met ’n uitroep van trots. Na die antiklimaks, van Adam en Eva die tuin moes verlaat, is daar vir hulle ’n tiepe oorwinning:

“Met die hulp van die Here het ek ’n man verwek!”

Het jy al ooit gehoor van ’n pasgebore babatjie wat ’n man genoem word? Sy noem hom Kayin, dit beteken in Hebreeus “om te maak”, “om te verkry”, “om te besit”. ’n Sterk naam vir ’n sterk man. Die eersgeborene – ma se se grootseun.

Sy het weer geboorte gegee, lees ons, aan Kayin se broer. Die keer roep Eva niks uit nie. Anders as die man waaraan sy eerste geboorte gegee het, is hy maar net nog een, maar net Kain se broer.

Kain se broer se naam is Abel, of in Hebreeus Hewel: dit beteken ‘voggie’ of ‘asemteugie’; ook vertaal as ‘tevergeefs’ of ‘sonder betekenis’. Dit is soos ’n ‘voggie’ wat in die oggendson verdamp en verdwyn – en dit, hoor ons later, is ook presies wat met Abel gebeur.

Teenoor die man, Kayin, wie se naam impliseer dat hy ’n go-getter was, is Abel as  laasgeborene onder op die sosiale ranglys. Ses keer word daar na hom verwys as Kayin se broer, maar nooit na Kayin as Abel se broer nie. Kain tree ook nooit teenoor Abel op as ’n broer nie. Die enigste keer wat Kain na sy broer verwys is dit juis om broederskap te ontken.

“Waar is Abel, jou broer?” vra God vir Kain, amper soos wat God vir Adam gevra het, “waar is jy?” God se eerste twee vrae: “waar is jy?” en “waar is jou broer?” Hoe staan ek ten opsige van God? en Hoe staan ek ten opsigte van my naaste? Om die twee vrae wentel alles – so lank ons die aarde en die diere ook as ons naaste beskou.

“Waar is Abel, jou broer?”

“Ek weet nie? Is ek dan my broer se oppasser?” Antwoord Kain. “Oppas,” is dieselfde as wat die mens geroep is om vir die skepping te doen: om dit te dien en op te pas. Maar Kain is nie ’n oppaser nie. Hy is ‘die man’. Hy wou eerder heers en moor as dien en oppas.

***

So vêr, in die storie, wil dit blyk of God die enigste een is wat vir Abel met guns beskou, wat vir Abel erkenning gee, wat vir Abel uitkyk en na hom vra.

Dit is blykbaar ook wat aanleiding gegee het tot Abel se moord. Ons lees dat God na Abel en sy offer gekyk het en nie na Kain en sy offer nie.

Dis amper asof God liggaamlik teenwoordig was (soos God in die skemeraand deur die tuin geloop het), en soos ’n mens net in een rigting op ’n slag kon kyk. Toe kyk God na die jongste eerder as die oudste. As Kain maar net saam met God gaan kyk het, sou hy daar sy broer gesien het.

God het vir Abel met guns beskou, toe niemand anders het nie.

Is dit nie iets wat ons weer en weer in die Bybel raaklees nie? Dat God op ’n besondere manier aan die kant staan van die swakkes en die weerloses en die wat aanskynlik sonder waarde is nie? God kyk byvoorbeeld nie na Isai se oudste sewe seuns nie, maar na die agste, die een wat aanvanklik ongetel was.

Dit is heel ‘teennatuurlik’ van God, en vir ons moeilik om te aanvaar. Amper asof dit God se regverdige antwoord was op die ongelykheid wat ‘van nature’ ontstaan in die samelewing.

Hoekom kon God nie ook Kain se offer met guns beskou het nie? Dit weet ons nie. Die teks bly hieroor stil. En tog is dit duidelik dat God nie vir Kain verwerp het nie. God bly in gesprek met Kain: “waarom is jy kwaad, en waarom is jy teneergedruk?”

Al antwoord Kain nie, probeer God om vir Kain tot broederskap te bekeer.

Maar Kain wil nie as ’n broer na Abel toe draai nie. Hy wil ’n man en ’n heerser wees. Daarom kon hy nie in sy selfbeskouing ruimte maak vir die feit dat Abel erkenning ontvang nie. Hy kon nie sy identiteit aanpas om ruimte te maak vir Abel as sy gelyke nie.

Sy enigste opsie was dus, geweld. En hiervoor moes hy sy rug draai, nie net op sy broer nie, maar ook op God. Want, watter tiepe God is dit wat nie die kant van die sterke kies nie? Of wat ten minste nie neutraal kan bly nie?

Kain is teleurgesteld met ’n God wat guns betoon aan die swakkes. Hy soek ’n God wat aan sy kant is, en nie aan die kant van die ander nie, al is daai ander sy broer.

Dus, wanneer Kain vir Abel doodmaak, is dit nie net sy broer wat hy verwerp nie, dis ook die God-van-die-ander, die-God-van-sy-broer wat hy verwerp.

***

Dat die eerste mens wat sterf, die slagoffer is van moord – en aan die hand van sy broer – is nie net ’n nederlaag is vir die mensdom nie, maar ook vir die aarde.

In die skeppingsverhale lees ons hoe die grond water moet ontvang, maar Kain, die landbouer, die een wat die land moes bewerk en versorg, hy gee bloed.

En ons hoor dat die bloed, vanuit die grond uitroep na die hemele! Die aarde kan nie leef met hierdie geweldadige heerser nie. Die houding van oorheersing deur geweld en oorheersing vergiftig die aarde.

Dit is die teenoorgestelde van wat ons in die profete se visie sien: hier is dit ploegskare wat swaarde word, eerder as swaarde wat omgeslaan word tot instrumente van groei en kultivering. En ons sien dit vandag nog: hoeveel beljoene rande se belastinggeld, vrugte van die aarde, word nie aangewend aan wapens wat die aarde 77 maal 7 keer kan verwoes nie?

Daarom lewer die aarde nie meer vrugte op aan Kain nie en word hy van die grond af verban.

Want in God se skepping is daar blykbaar nie plek vir mense wat nie broers en susters vir mekaar wil wees nie. Om broederskap en susterskap te verwerp is om ’n swerwer op die gesig van die aarde te wees.

En die hele skepping ly daaronder wanneer God se shalom tussen mense verbreek word en ons mekaar nie as gelykes wil omarm nie.

***

En van daar sien ons ’n afwaartse spiraal, na al hoe dieper goddeloosheid en geweld.

Maar hoewel dinge lelik begin handuitruk, moet ons nie God se genade miskyk nie.

Ons sien ons hoe God die oppasser word van die een wat nie sy broer wou oppass nie. God plaas ’n merk teken op Kayin, wie nou self ontwortel en haweloos en kwesbaar geword het.

God se genade is vir slagoffer en vir kwaaddoener, ook vir die slagoffer wat ’n onderdrukker word, of die onderdrukker wat ook ’n slagoffer is.

Sewe generasies later word die genade egter vergeet. Ons hoor hoe Lameg die teken van God se genadige beskerming oor Kain verdraai tot ’n loflied aan wraak en geweld.

Met trots basuin Lameg dit uit aan sy twee vroue:

“Ada en Silla, luister na my stem!

Hoor wat ek sê:

want vir ’n wond aan my maak ek ’n man dood,

’n jongeling vir ’n kneusplek aan my!

Ja, sewe maal word Kain gewreek,

maar Lameg sewe-en-sewentig maal.”

Adda en Silla sê nie ’n woord nie. Selfs God is stomgeslaan. Een hoofstuk nadat Eva van die boom van goed en kwaad geeet het, word wat kwaad is uitgebassuin asof dit goed is. God se goeie skepping is besig om na ’n ramspoedige einde toe te jaag, nog voordat dit eers begin het.

Die teks is realisties oor hoe moeilik, amper onmoontlik,  dit is om siklusse van geweld en wraak te verbreek.

Tot ’n groot mate is die storie van Kain en Lameg ook ons storie. En soms – soos in hierdie week waarin 8-jarige Tazne van Wyk se lyk twee weke na haar dood in ’n gutter gevind was – voel dit of daar geen einde insig is nie.

***

Het Kain en Lameg die laaste sê oor ons? Is moord en verhelding, oorlog en wraak ons meester? Is mense nou maar eenmaal wolwe vir mekaar – altyd in kompetisie, altyd in wantroue en gedryf deur hebsug? Kan ons net ons eie identiteit beskerm deur die ander uit te sluit?

Ons moet probeer raaksien hoe iets van Kain en Lameg ook in ons eie harte te vinde is. Kain het bedreig gevoel toe Abel voor hom erkenning kry. En Lameg regverdig sy geweld deur dit as self-verdediging te vermom.

Wat met uitsluiting en geweld eindig, begin met die dood-menslike behoefte om te oorleef of aanvaar te word of om in beheer te wees; of met die dood-menslike belewenis van vrees.

“I’m just trying to survive

What if what you do to survive

Kills the things you love

Fear’s a powerful thing

It can turn your hear black you can trust

It’ll take your God filled soul

And fill it with devils and dust”.

Bruce Springsteen, Devils and Dust

***

Maar, dis op hierdie punt, net soos dit lyk of geweld en vergelding alles gaan verwoes, wat ons ’n ander stem hoor.

In die plek van Lameg se stilgemaakte vroue, lees ons:

“Adam het weer gemeenskap gehad met sy vrou, en sy het aan ’n seun geboorte gegee. Sy het hom Set genoem [dit beteken gee of voorsien], “want,” het sy gese, “vir my het God ’n ander nassaat voorsien in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgemaak het.”

Hier, vir die eerste keer in die hele storie, word Abel se naam deur Eva, of deur enige mens, uitgespreek. Vir die eerste keer rou Eva oor haar seun, Abel. Sy onthou hom. Sy staan op vir hom.

“Right in the face of the proud victor she dares to talk about a victim. To call Lamekh’s heroic forefather, her favorite son, a killer. By publically mourning Abel-the-loser, Eve interrupts the discourse of dominance – and the dreadful silence of Lamekh’s two wives … She has come to know that the future of her children can be “good” only to the extent that the evil done to Abel is not forgotten. That is why she inscribes Abel’s name into the memory of her third son.”

Brigitte Kahl

Deur vir Abel, die slagoffer, te onthou; en deur uiteindelik die geweld te bely wat Kain gewyer het om te bely, breuk Eva die spiraal van geweld wat gedreig het om God se skeppingsprojek tot ’n vroee einde te bring.

En hoe anders klink Eva stem nie hier as aan die begin van die hoofstuk toe het sy met trots uitgeroep het dat sy met die hulp van die Here ’n man gemaak het nie.

Ons het hier te doen met ’n veel ouer, wyser eva: God het gegee, in die plek van Abel, ’n nasaat omdat Kain hom doodgemaak het.

Hoe het ons vir so lank van hierdie eva vergeet?

“Maybe the bare-breasted seductress was much easier to handle than the resistant intelligence of a woman who publicly dares to de-mask and oppose . . . violence, murder and the obsession with power.”

Brigitte Kahl

Kan ons ook, soos Eva, in ons gepolariseerde wereld, leer om anders te onthou en die stilte te breek in die aangesig van geweld?

Kan ons ook, soos die God van Abel en Kain, leer om herkenning te gee aan die menslikheid van die weerloses, en nooit sig verloor van die menslikheid van oortreders nie?

Gen. 4 eindig met Eva se derde seun Set wat self ook ’n seun ontvang: Enosh, “weer ’n mens.” Deur God se genade kry menslikheid, broederskap en susteskap, ’n nuwe kans op herstel.

In daardie tyd, lees ons, het hulle begin om die Naam van die HERE aan te roep. Mense het weer begin om vir God te aanbid. Die God wat vir Abel onthou het, toe niemand anders het nie.