Eksodus 32

15 September 2019

Veertiende Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Na bevryding uit Egipte, Hebreërs word nou Israeliete, veertig jaar lange reis na die beloofde land,

Gou kom die Israeliete agter, die reis van Egipte na die beloofde land is ook ’n reis na binne, ’n reis waarin hulle harte herskep moes word. Hulle moes die Egiptiese bestaanswyses afleer en ’n leer wat dit beteken om vry-mense te wees, om aan die regverdige en getroue en genadige Here te behoort en nie aan die Farao en die Farao se ryk van onderdrukking en misbruik van mense nie. Hulle moet leer wat dit sal beteken om ’n seën vir alle volke en nasies te wees

So word die Woestyn ’n skool waarin die Here vir hulle ’n nuwe hart gee:

  • Die manna uit die hemel (dankbare afhanklikheid en mededeelsaamheid),
  • die Sabbat (neem ’n dag om te rus, sodat julle kan onthou dat julle slawe was en dat die Here julle gered het, en sodat julle julle opnuut sal beywer vir die dag dat daar nie meer slawerny sal wees nie)
  • die Torah (’n grondwet wat die nuwe verbond tussen God en sy mense verteenwoordig; leefreëls waarvolgens hulle ’n voorbeeld en ’n seën vir die nasies sal wees).

Maar, hierdie 40 jaar is nie sonder groeipyne nie. Dis nie ’n liniêre opwaartse kurwe na die beloofde land toe nie; dis eerder ’n comrades maraton met opdraandes en beserings en allerhande onvoorsiene terugslae.

Vanoggend se teksgedeelte vertel van een so ’n terugslag. Moses het die volk verseker dat hy na veertig dae op die berg na hulle toe sal terugkeer. Maar toe hy op die oggend van die veertigste dag nog nie verskyn het nie, het die volk begin voel hy sloer nou te lank.

Hulle het ongeduldig begin raak, hulle het vergeetagtig geraak, hulle het angstig en paniekbevange geraak.

Waar is die man Moses dan nou? Ons soek ’n god wat by ons is, wat ons kan sien. Aaron voel hoe die volk roer. Aaron sien hoe die volk beweeg en hy beweeg saam. Sy optrede herinner baie sterk aan een van die talle populistiese leiers wat wêreldwyd al hoe meer mag kry en aandag geniet: onkritiese aanvaarding van wat ook al die volk wil hê. Drie dinge wat populistiese leiers doen:

  • Hulle maak misbruik van mense se ongeduld en angs.
  • Maak ’n goue kalf uit die ringe wat hulle uit Egipte gebring het. Hy gebruik die dinge van Egipte, die gereedskap van slawerny en onderdrukking om ’n god te maak. Einstein: logika wat gister se probleme geskep het, kan nie môre se oplossings bied nie. Dink aan mense wat die doodstraf wil terugbring om misdaad in te perk, weermag in die townships, polisie wat by Marikana ’n optog in ’n slagveld omskep het, ’n nuwe regering wat die ou elite eenvoudig vervang het met ’n nuwe elite en wat geld wat bestem is vir armes gebruik om hulleself ryk te maak.
  • Wanneer die volk sê: dit is die god wat ons bevry het, dan korrigeer Aaron hulle nie. So raak Aaron selfs bereid om die geskiedenis te herskryf.

Aaron is baie slings: Môre vier ons fees oor YHWH? Hy verbloem die afgodsdiens in die naam van YHWH. Dit is die gevaarlikste vorm van afgodsdiens: wanneer ons afgode aanbid in die naam van die Here. Wanneer ons ons afgodsdiens selfs van onsself af wegsteek. ’n Subtiele vorm van afgodsdiens wat stadig maar seker vir God herdefinieer. Eintlik aanbid is geld, mag, blydskap, gemak, sekuriteit, godsdiens – maar as ons dit in die naam van God doen, is dit okay. En dan bid ons tot God om vir ons te gee wat ons van ons afgode verwag.

Augustinus: Afgodsdiens is om te aanbid wat gebruik moet word en om te gebruik wat aanbid moet word.

Wat is die gode waaraan ons harte kleef? Individualisme, materialisme, nasionalisme, geld, sekuriteit, geweld . . .

Wat ons moet raaksien is dat daar sekere kondisies is waarin ons veral vatbaar is om na afgode te gryp: wanneer ons ongeduldig raak, wanneer ons vergeetagtig raak, wanneer ons angstig raak of bedreig voel of nie die herkenning kry wat ons voel ons verdien nie.

Toe God sien dat die Israeliete hulle rug draai op hulle ooreenkoms en van die gegote kalf sê: “dit is die God wat ons uit Egipte bevry het,” het God woedend geraak.

Eers lyk dit of God sy volk wil onterf. “Gaan af,” sê God vir Moses, “want jou volk wat jy uit Egipte laat optrek het, het hulle wangedra.”

En dan die volgende verskriklike woorde: “Laat my dan nou met rus,” sê God vir Moses, “sodat my toorn teen hulle ontbrand en Ek hulle kan vernietig. Ek sal dan van jou ’n groot nasie maak.”

Hoe moet ons God se woede, wat selfs dreig om die Israeliete te verwoes, verstaan?

  1. As profeet word Moses in God se teleurstelling en verontwaardiging ingenooi. Ook as lesers word ons uitgenooi om deel te neem aan wat dit vir God beteken wanneer ons ons rug draai op God, en op onsself, wanneer ons minder is as wat ons kan wees. Die Hebreeuse woord wat in Afrikaans as ‘toorn’ vertaal word, is nie ’n irrasionele woedeuitbarsting nie. Die woord beteken veel eerder iets soos ‘regverdige verontwaardiging’ – dit is ’n uitdrukking van diepe verontwaardiging oor onreg en ontrou.
  2. Daarom sê iemand soos Abraham Heschel dat die uitdrukkings van God se toorn in die Bybel, nie geïgnoreer moet word nie, soos wat ons maar gewoonlik doen omdat dit ons ongemaklik laat. Wanneer God se toorn ontvlam gee vir ons ’n blik op God se patos en liefde. Dit is ’n uitdrukking van God se pathos – van God se medelye en verbondenheid met God se skepsels. God se woede is altyd maar ’n oomblik, maar sy troue liefde is vir ’n leeftyd.
  3. God is besig om vir Moses te toets: deur vir Moses te sê: moenie nou inmeng nie, ek gaan die volk vernietig, is God eintlik besig om vir Moses aan te dui tot watter mate hy kan inmeng. Niks maak jou meer bewus van jou vermoë om in te meng, as wanneer daar vir jou gesê word dat nie moet inmeng nie. God sê vir Moses om nie in te meng nie; in die hoop dat Moses dit wel sal doen.

Gaan Moses opstaan vir die volk, en namens hulle intree? Gaan Moses opstaan vir barmhartigheid, en vir genade pleit?

En om seker te maak dat Moses eg is stel God selfs vir hom ’n lokval: as jy my toelaat om die mense te verwoes, sal ek van vooraf begin met jou. Gaan Moses toelaat dat God hom omkoop, of gaan hy God se beloftes aan sy volk onthou en die volk se belange vooropstel, selfs teen sy eie hand?

Moses slaag die toets, deur vir God te korrigeer. Dit is nie ek wat die Israeliete uit Egipte laat optrek het nie, dit was U. Here, dit is U mense wat U uit Egipte bevry het. Hoekom wil U hulle verslind deur u toorn? As ons vergeet wie ons is, is ons in die moeilikheid, maar as U vergeet wie U is, dan is dit verby met ons. Aaron het die geskiedenis skeef gebuig, Moses buig dit weer reg.

Moses bied twee oorwegings/argumente: 1) Wat sal die bure dink? (die Egiptenare). 2) Het U dan vergeet van U belofte aan die voorouers? (Abraham, Isak, Jakob). God se goeie naam is op die spel, so wel as die belegging wat God gemaak het ter wille van die wêreld se redding. Die regter en koning van die wêreld, moet nie net regverdig en barmhartig wees in sy optrede nie, die nasies moet dit ook raaksien, sodat hulle sal weet dat God regeer en dat hulle ook tot bekering sal kom. Meer nog, hoe sal toekomstige generasies in die Here vertroue as God op hierdie kritiese oomblik ontrou is aan sy eie beloftes?

Uiteindelik bring Moses se worstel met God die deurslag. Die HERE onthou van sy beloftes, en besluit om op te tree soos die eer van sy Naam vereis, eerder as volgens die Israeliete se oortredings.

Moses is ’n voorbeeld van ’n ware profeet. God is nie ’n robot nie. Dit is ’n verhouding, waarin albei partye mekaar kan beïnvloed. Profete is bemiddelaars tussen God en mense.

Moses is ’n voorbeeld van wat gebed werklik is: om God se goeie dade en beloftes in herinnering te roep, om in elke omstandigheid te soek na God se troue liefde. Om te onthou wie God is en wie ons is. Om geduldig te wag op God. Om angstigheid te omskep in vertroue en hoop.

Bybel as venster en Bybel as spieël.

Moses smeek vir God se vergifnis, maar Aaron weier om skuld te erken, om verantwoordelikheid te aanvaar, tot inkeer te kom. Moses vra vir God se genade en gaan dan af om presies die teenoorgestelde te doen.

Moses en Aaron: Dit was nie ek nie. Wil nie verantwoordelikheid neem nie.

Moses: wie is aan God se kant? Leviete. Gaan en moor. En hulle vermoor 3000 mense.

Hoe maak ons as dit voel of Jesus sloer?

Hoe maak ons onder in die vallei? Raak ons ongeduldig, vergeetagtig, angstig?

Lukas 19:1-10; Handelinge 9:1-31

1 September 2019

Twaalfde Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Boodskap: Drie fasette van versoening (met erkenning aan Prof. Klippies Kritzinger)

1.   Inleiding

As ’n mens dink aan wonderwerke in die Nuwe Testament, dan dink jy gewoonlik aan die genesing van blindes en dowes, of die opwekking van Lasarus. Maar in die twee gedeeltes wat ons gelees het, is daar vier gebeurtenisse wat van die grootste wonderwerke in die Nuwe Testament uitmaak. En elkeen van hierdie wonderwerke verteenwoordig vier fasette van versoening:

1. Saggeüs wat restitusie doen teenoor die mense wat hy uitgebuit het; 2. Saulus, die Fariseër en vervolger, wat oorweldig word deur Christus en ingetrek word in God se sending op aarde; 3. Ananias, die vervolgde persoon, wat gaan bid vir Saulus, sy voormalige vervolger; 4. Barnabas, die bemiddelaar, wat brûe bou en vrede maak tussen Saulus en die kerk in Jerusalem.

Vier fasette van versoening. Dit is die soort wonderwerke wat ons vandag in ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe nodig het. Ons kyk vanoggend na slegs drie van hierdie fasette, drie versoeningsrolle wat ons in ons gemeenskappe kan (en moet) speel:
Dis die Saggeüs-rol (restitusie teenoor dié wat ek benadeel het),
die Ananias-rol (vergifnis vir dié wat my benadeel het),
en die Barnabas-rol (bemiddeling tussen dié wat nie bymekaar kan uitkom nie).

Afhangende van wie ek is en wat ek al in die lewe deurgemaak het, word ek vandag geroep en uitgedaag om een of meer van hierdie rolle te speel.

2.     Die Saggeüs-rol (Lukas 19 – restitusie)

‘n Mens bly nooit dieselfde as jy saam met Jesus eet nie. Saggeus het dit agtergekom toe Jesus hom uit die boom gehaal het en saam met hom huis toe gestap het. Terwyl die hele dorp staan en skinder oor die slegte geselskap waarin Jesus verkeer, verander Jesus Saggeus se hele lewe.

Saggeus was so verbaas dat iemand hom as mens raaksien en ernstig neem, dat hy sy lewe oopgestel het vir die boodskap van God se Ryk. In Jesus se oë is Saggeüs nie in die eerste plek “die hooftollenaar nie” maar ‘n kind van Abraham, ’n geliefde kind van God. En dit is hierdie erkenning van sy menslikheid wat maak dat Saggeüs, terwyl hulle aan tafel sit, oorval word deur die werklikheid van sy lewe en wat hy besef watter onreg hy sy naaste aangedoen het.

Maar wat Saggeus so ’n goeie voorbeeld van versoening maak is dat hy nie net jammer voel oor wat hy ander mense aangedoen het nie; hy besluit om iets daaraan te doen; om sy lewe om te keer. Toe hy homself uit die sentrum van sy lewe uithaal en besluit om dit te bou rondom Jesus se goeie nuus, het hy besef dat hy sal moet regmaak wat hy verbrou het, dat hy die verhoudings wat hy deur sy onreg afgebreek het moet probeer herstel.

Dit sou hom lank geneem het om by almal uit te kom, maar die belangrike punt om te verstaan is dat dit nie net gaan oor die geld wat hy moes teruggee nie. Deur geld terug te gee probeer Saggeus die verhouding herstel met die mense wat hy benadeel het. Versoening gaan ten diepste oor die herstel van ‘n versteurde of verbreekte verhouding en die saam-werk aan ’n nuwe gedeelde toekoms.

Ek dink dit is veelseggend dat Jesus kies om van Saggeüs te sê dat hy ’n kind van Abraham is. Kinders van Abraham weet dat God ons altyd seën om ander tot seën te wees – en op ’n besondere manier vir die vreemdeling, die weduwee en die weeskind. Ons menswaardigheid is gewortel in ons gedeelde menswees. Ek kan nie vry wees as jy nie vry is nie. Ek kan nie mens wees as jy nie mens is nie.

Die ander eienskap van kinders van Abraham is dat hulle reisigers is. Nes hulle oervader, is hulle op soek na hulle naaste, op soek na versoening, op soek na die herstel van gebreekte verhoudings.

Die versoeningspad wat Saggeus vir ons wys is een van die langste reise in die wêreld – die pad van die seun na die bure se voordeur nadat sy krieketbal hulle venster gebreek het; of die pad van ‘n man na sy vrou om vergifnis te vra vir al die maniere waarop hy haar verwaarloos en verneder het; of die pad van ‘n polisie-generaal uit die ou Suid-Afrika na die WVK om te bely wat hy ander mense aangedoen het.

Om die Saggeüs-rol te speel is om onderweg te wees. Dit is ’n pad na buite, na my mede-mens, maar dit is ook ’n reis na binne, na die dieptes van my eie hart. As ek nie by die eerste opdraande al gaan moed opgee nie, sal ek moet erken dat die heling wat moet plaasvind nie net daar buite lê nie, maar ook hier binne. Saggeüs het nie restitusie gedoen omdat dit polities korrek was of om sy skuldgevoelens te stil nie, maar omdat hy in Jesus sy eie diepste menswees ontdek het en toegelaat het dat die vrede van Christus deur hom vloei.

3.   Die Ananias-rol (Handelinge 9 – vergifnis)

Toe die Here aan Ananias in ’n visioen verskyn was hy aanvanklik onwillig om vir Saulus te gaan bid. Hy het goeie rede gehad om te weier: “Saulus is die vyand, hy is hier om ons gevange te neem en voor die hof te sleep; ons kan hom nie vertrou nie.” Dit het heelwat mooipraat en oortuiging van die Here gekos voordat Ananias bereid was om die Reguitstraat af te stap na die huis van Judas om by Saulus uit te kom.

Dit is seker dié langste reis in die wêreld – die pad van die slagoffer na die huis van die vervolger, die pad van die benadeelde en vernederde na die een wat haar of hom uitgebuit het. Om wat te doen? Om jou hande op hom of haar te lê en te sê: “Broer Saulus, broer Helgard, my broer, my suster….”

En die heel moeilikste deel van daardie lang reis is die laaste 50 sentimeter: om naby genoeg aan jou voormalige vyand te kom sodat jy aan hom of haar kan raak. Om deur jou aanraking die vyandskap, die vrees, die weersin of die haat te erken, maar dit dan ook af te lê – in die naam van Jesus.

Het jy opgelet hoedat Ananias teengestribbel het, hoe hy teruggepraat het toe die Here hom aangesê het om vir Saulus te gaan bid? Versoening is nie ‘n oppervlakkige “kiss and make up” ter wille van die vrede nie. As versoening eg en eerlik is, dan gaan dit altyd gepaard met pyn, soms selfs met konfrontasie, omdat dit in versoening gaan oor die genesing van wonde, die heelmaak van gebroke verhoudings; ook die stryd teen my eie onversoenlikheid waarin ek wegkruip van God en my naaste.

Ek dink dit is belangrik om raak te sien dat Ananias nie na Saulus toe gegaan het as die Here nie vir hom kon sê dat Saulus reeds verander het nie. Dit maak dit veel makliker as ons weet dat die een wat ons benadeel het of onderdruk het al klaar op die pad van bekering en vernuwing is. Vir my wat hoofsaaklik ’n Saggeüs-rol moet speel, is dit belangrik om te hoor. As ek as iemand wat deur apartheid bevoorreg is nie my eie werk begin doen het nie, hoe kan ek verwag dat die slagoffers van daardie sisteem hulle werk sal doen. Maar as dit duidelik is dat ek op reis is, en my mede-mens kan sien waar my hart is, kan my medemens met groter vertroue die rol opneem wat van hom of haar gevra word.

Weereens, moet ons nie die illusie het dat versoening ‘n eenmalige gebeurtenis is nie. Dis in werklikheid ‘n lang reis waarin elke dag nie ewe maklik is nie, en waarin ek geduld met myself moet hê. Bo alles is dit belangrik om eerlik te wees met myself oor my gevoelens en gedagtes; en ook eerlik in my ontmoeting met iemand wat my benadeel het. As ons saam ’n pad gaan stap is daar dalk dinge wat hy of sy moet hoor of beter moet verstaan. Oppervlakkige versoening bring ons nêrens nie.

Maar, aan die ander hand, as ek botweg weier om te vergewe en my pyn as ‘n stok gebruik om my kwaaddoener vir ewig mee te slaan, dan verstaan ek ook nie God se genade-evangelie nie. Êrens vandaan sal ons die genade en geloofskrag moet kry om saam met Ananias in Reguitstraat af te stap om seënende hande te gaan lê op die Saulusse wat ons benadeel en seergemaak het. En dan sal ons saam moet gaan werk aan die strukture en samelewingspatrone wat nog steeds soveel mense benadeel en verarm.

4.   Die Barnabas-rol (Handelinge 9 – bemiddelaar en vredemaker)

As dit vir Ananias en die ander volgelinge van Jesus in Damaskus moeilik was om Saulus te aanvaar en te vergewe, stel jou voor hoe moeilik dit vir die Christengemeenskap in Jerusalem moes wees om hom in hulle midde op te neem. Dis immers waar hy vele volgelinge van die Weg laat arresteer het en voor die Joodse Raad laat bring het om in die tronk gegooi te word (Handelinge 8:8). Dit is waar hy goedkeurend by Stéfanus se steniging gestaan en kyk het sodat die gemeente van Christus uit Jerusalem verstrooi is. Hoe sou die gemeente wat in Jerusalem oorgebly het hom kon vergewe en aanvaar?

Daar is baie sulke vasgevalde verhoudings in die wêreld. En sulke verhoudings kom dikwels nooit reg tensy iemand van buite as ‘n bemiddelaar bykom nie. Barnabas was so ‘n bemiddelaar, ’n vredemaker wat op eie inisiatief, sonder dat iemand hom gevra het, die twee partye bymekaargebring het. Barnabas het Saulus se potensiaal as ‘n getuie vir Christus besef; hy het ook besef dat Saulus nêrens sou kom as hy nie op een of ander manier deur die leiers in Jerusalem aanvaar word nie.

Die eenheid van die kerk van Christus was, soos dikwels in die geskiedenis, op ‘n heel besondere manier op die spel. So het Barnabas vir Saulus na die apostels toe gevat en vir hulle vertel dat hy op die pad na Damaskus die Here gesien het, dat die opgestane Heer met hom gepraat het, en dat Saulus na sy bekering in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.

Deur sy getuienis oor Saulus, het Barnabas die deur oopgemaak vir Saulus om opgeneem te word in die hart van die Jesus-beweging van daardie tyd. Dit was ‘n ongelooflik belangrike gebeure vir die geskiedenis van die kerk. Hoe sou die Nuwe Testament gelyk het sonder die 13 briewe van Paulus? Hoe sou die Jesus-beweging ontwikkel het sonder Paulus se reuse-bydrae om die een versoende, veelkleurige liggaam van Christus uit Jode en nie-Jode te versamel?

Barnabas sien die probleem, hy vat Saulus se hand en stap saam met hom na die kerkmense in Jerusalem. En hy help hulle om bymekaar uit te kom. Vandag het ons duisende Barnabasse in ons land en in die NGKerk-familie nodig wat vasgevalde en onversoende verhoudings sal raaksien en iets daaraan sal doen. Mense met genoeg geloofwaardigheid aan beide kante van die konflik, mense van integriteit wat nie magspeletjies speel nie maar dienaars en bedienaars, van God se versoening wil wees.

Dit is waar ek dink ons In Gesprek voor God ­eredienste ’n belangrike bydrae lewer – in ons eie geloofsvorming – maar ook as ons gemeente se publieke getuienis in ons stad en in ons land. Wilhelm Verwoerd is vir ons almal ’n voorbeeld van iemand wat met groot egtheid en vanuit sy geloof as ’n Christen die rol van n brugbouer en ’n vredemaker speel. By ons volgende gesprek-eredienste gaan ons nog sulke voorbeelde van vredemakers nooi by wie ons kan leer.

4. Ten slotte

Nie een van ons is eenvoudig ‘n Saggeus of ‘n Ananias of ‘n Barnabas nie. Op ‘n manier is elkeen van ons tegelyk ‘n kwaaddoener, ‘n verontregte en ‘n (potensiële) vredemaker.

Eerstens, is dit belangrik om duidelikheid te kry oor die spesifieke rolle wat ek in verskillende kontekste behoort te speel. As ’n individu, op ’n interpersoonlike vlak, is my rol dalk anders as die rol wat as deel van ’n groep moet speel. As ’n algemene riglyn, kan ons die storie van die Fariseër en die Tollenaar onthou: om nederig te fokus op my eie rol en my te beywer vir die werk wat ek moet doen – eerder as om vanuit ’n plek van hoogmoed of arrogansie kommentaar te lewer oor wat die ander behoort te doen of nie goed genoeg doen nie. Kom ons wees sensitief daaroor dat ons verskillende rolle het om te speel; dat my reis anders gaan lyk as joune, maar dat ons mekaar nodig het en by mekaar kan leer.

Elkeen van hierdie rolle het sy unieke uitdagings. En as ek eers duidelikheid gekry het oor wat ek op moet fokus, is dit my verantwoordelikheid om myself vir daardie rol te bemagtig.

is hier waar ons mekaar as ’n gemeente kan ondersteun. ’n Mens kan nie hierdie werk op jou eie doen nie. Daarom rig ek vanoggend ’n uitnodiging om deel te raak van ’n versoenings-fokusgroep waarby ons mekaar gaan help om in ons unieke versoeningsrolle te groei.

Deur jou naam vanoggend by die ingangsportaal op die lys te plaas, verbind jy jou nog nie tot enige iets spesifiek nie, maar wel dat jy inligting wil ontvang oor verdere gespreksgeleenthede, werkswinkels en hulpbronne waardeer ons mekaar verder kan bemagtig en ondersteun.

In Gesprek voor God | Wilhelm Verwoerd

25 Augustus 2019

Lukas 19:1-10

Luister hier na ‘n opname van die eerste van ons In Gesprek voor God eredienste. Helgard gesels met Wilhelm oor sy boek, Bloedbande: ‘n Donker Tuiskoms.

Tydens die gesprek verwys Wilhelm ook na ‘n boek met die naam, These Are the Things that Sit with Us, ‘n pragtige versameling foto’s en stories in Afrikaans, Engels en isiXhosa uit Bonteheuwel, Langa en Worcester.

Albei boeke kan by die kerkkantoor teen ‘n afslag-prys van R200 bestel word. Stuur asseblief jou bestelling aan [email protected]

Dit is maar die begin van ‘n voortgaande gesprek wat ons as ‘n gemeente oor ras, versoening en restitusie gaan voer. Hoe het hierdie gesprek tot jou gespreek? Hoe praat ons verder? Deel asseblief jou gedagtes en vrae hieronder, of deur vir Helgard ‘n epos/WhatsApp te stuur.