Matteus 1:1,16,18-25 – 2017

18 Desember 2016 (Advent 4: Kers van liefde)
Prediker: Dr Tiana Bosman  

18: Maar die geboorte van JX het soos volg verloop… – hier is iets anders as aan die vorige geboortes binne die geslagsregister.

Dit word reeds duidelik uit die manier waarop vs 16 geskryf is. Net ‘n man kon ‘n kind verwek. Die vrou was bloot die “grond” waarbinne die man se saad groei – dus, alhoewel Maria aan Jesus kon geboorte skenk, kon sy hom nie verwek nie. Hiervoor is daar ‘n meer breedvoerig verduideliking nodig: Vandaar vs 18 ev.

Hierdie geboorte verhaal van Jesus is uniek aan Matteus. Ja, Lukas vertel ook van sy geboorte, maar daar is groot verskille tussen die twee. Maar naas Matteus en Lukas lees ons nêrens elders in die Bybel van die maagdelike geboorte nie. Markus (die oudste evangelie) en Johannes rep nie ‘n woord daaroor nie. Ook die apostel Paulus skryf nêrens daarvan nie. Dit vorm geensins deel van Paulus se belydenis aangaande Jesus Christus nie. Hy fokus alleen maar op die manier waarop Jesus mens was (die gestalte van ‘n slaaf), en op sy sterwe en opstanding/opwekking en verheerliking.

Twee jaar terug het ek gepreek oor die geboorte verhaal soos aangeteken deur Lukas. As ek kortliks net die grootste verskille tussen Matteus en Lukas kan uitlig:

Ons Adventsangdiens is altyd rondom die verhaal in Lukas gebou. Dit is omdat dit so hartroerend mooi is. Lukas is soos ‘n musiekblyspel met die engel Gabriël wat vir Maria groet as die vrou wat deur die Here begenadig is omdat sy swanger sal word en aan ‘n seun geboorte sal skenk en sy moet hom Jesus noem; hy sal magtig wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; die lofliedere van Maria en Sagaria; ‘n engel en later ‘n hele menigte van hulle wat aan skaapwagters in die verlate veld verskyn en die geboorte van die Verlosser aankondig en God loof, en hierdie skaapwagters wat vir Jesus in die krip gaan opsoek en God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het.

Hierteenoor is Matteus se weergawe veel eerder ‘n sosiale en politieke riller. Josef, die man aan wie Maria verloof was, bevind hom binne die nagmerrie realiteit waarin dit aan die lig kom dat Maria swanger is nog voordat hulle behoorlik getroud is. Die skande is groot en die gevolge daarvan nog groter. Regverdige man wat hy is, wil hy die verlowing verbreek, maar ‘n engel van die Here keer hom in ‘n droom (of was dit ook eerder ‘n nagmerrie?) In die droom gee die engel dan aan Josef (nie aan Maria nie) die opdrag om vir die kindjie sy naam te gee. Sterrekykers uit die Ooste kom soek die kind op en Herodes wil hom dood hê. Die gesin word vlugtelinge in Egipte en ontsnap aan die massamoord op alle seuntjies onder die ouderdom van 2. Radikaal anders as die verhaal in Lukas…

Stelselmatig deur die teks:

Maria was reeds aan Josef verloof, maar hulle het nog nie gemeenskap gehad nie, toe dit blyk dat sy swanger geraak het (uit die Heilige Gees – ons as lesers hoor dit, maar die mense daar weet nie dis die rede nie). As regverdige, wetsgetroue Jood is daar vir Josef net een uitweg – hy moet van Maria skei. Waarom skei as hulle dan nog nie eens getroud was nie? Omdat verlowings en huwelike anders gewerk het as vandag. Daar was 2 fases van verbintenis gewees. In die destydse samelewing was huwelike gereël, dws die ouers (hoofsaaklik die vaders) van die jongmense het hul kinders se huweliksmaats gekies. Wanneer die meisie dan rondom puberteit kom, vind die verlowing plaas. Dit was reeds ‘n wetlike kontrak gewees wat nie sommer net verbreek kon word nie. Na die verlowing, alhoewel sy reeds so goed soos getroud was en klaar bekend gestaan het as die vrou van…, het die meisie nog vir ongeveer ‘n jaar by haar ouers gewoon. Eers dan het die huwelikseremonie plaasgevind en het die man sy vrou na sy huis toe geneem vir ‘n lewe saam. (Interessant – indien die man sou sterf tydens die verlowingsfase van die verhouding, het die meisie dan die status gehad van ‘n maagdelike weduwee. Want sy was reeds die vrou van haar verloofde man, maar hulle het nog nie seks gehad nie.)

Omdat Josef regverdig was, het hy besluit om van Maria te skei. Binne die kultuur van die dag het hy eintlik geen ander opsie gehad nie. Maar omdat Josef nie vir Maria in die openbaar wou verneder nie, wou hy in die geheim van haar skei. Dit is egter moeiliker gesê as gedaan en die risiko’s was groot. Want indien dit aan die lig sou kom dat Maria ontrou was aan Josef, het die wet bepaal dat sy gestenig moes word (Deut 22: 20-21; onthou ook die onlangse preek uit Johannes 8). Mans wat steeds met hul verloofdes getrou het nadat dit geblyk het dat sy ontrou was, is as swakkelinge beskou. Deur in ‘n kultuur van eer en skande sy eie eer te red, het Maria dus die kans gestaan om gestenig te word (en daarmee saam natuurlik die kindjie in haar baarmoeder…). Dit wou Josef nie hê nie, en daarom wil hy stilletjies van haar skei. Wie weet, dalk was sy nie ontrou nie, maar is sy verkrag, maar dit is blote bepiegeling. In die patriargale kultuur van die dag was dit elk geval onmoontlik vir ‘n vrou om haarself op die man af te forseer: so sy is of verkrag, of sy het toegegee/ingewillig tot die man se toenaderinge. Maar sy kon beslis nie alleen vir die swangerskap verantwoordelik gehou word nie.

Dit was egter nie moontlik om ‘n verlowing heeltemal in die geheim te verbreek nie. Die ouers van die verloofde paartjie het immers geweet van die verlowing. Die breër familie en vriendekringe sou ook weet, hoe dan nou anders? As iemand se oog en dwaal en op Maria val, dan is die persoon tog gewaarsku: “Onthou, sy is aan Josef, seun van Jakob, belowe, sy behoort aan hom.” En verder: ‘n verlowing was ‘n wetlike kontrak. Die enigste manier waarop dit verbreek kon word, was in die teenwoordigheid van 2 of meer getuies. En hoe keer mens dat hierdie nuus nie iewers begin uitlek en die rondtes doen nie? Maar in sy penarie het Josef tog ‘n plan probeer beraam om die verlowing so stil as moontlik te verbreek. Dit was sy voorneme.

Terwyl hy nog daaroor nadink, het daar skielik ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn… Lees vss 20-21.

“Josef, seun van Dawid” en “verwek is uit die HG

Lg eerste: Verwek uit die HG. Twee jaar terug baie aandag hieraan gegee. In kort nou net die volgende – Hierdie inligting sou nie heeltemal vreemd op Josef se ore geval het nie. Hy sou vertroud wees met Gen 6: 1-4 waar daar vertel word van die gode wat by die dogters van mense kinders verwek het. Hy het dit dalk nie verstaan nie maar tog al daarvan gehoor. En verder is daar van die faraos gesê dat hulle uit maagde gebore is. So ook later: van Alexander die Grote, keiser Nero, Konstantyn, Sokrates, Plato, Aristoteles en Pythagoras is almal gesê dat hulle uit maagde gebore is, nie om ‘n biologiese feit aangaande hul geboorte mee te deel nie, maar eerder om aan te dui dat hulle iemand groots, invloedryks in die geskiedenis sou wees. In hierdie lyn dan: Om te sê dat die kind deur die Heilige Gees verwek is, is om te sê dat God in die geboorte ingryp, dat Hy daarby betrokke is, dat Hy dié kind gaan gebruik om die wêreld te verander.

Steeds: vir Josef om met hierdie inligting voor die mense te gaan staan, sou gekheid wees. Want wie sal hom nou glo – waarom nou juis so ‘n kind vir hom en sy vrou?? Wie dink hulle is hulle? – So raai ek maar oor moontlike reaksies. Net omdat so iets nie ongehoord van was nie, beteken nie dit sou as waar aanvaar word nie.

Nou terug by die engel se aanspreekvorm van Josef: “Josef, seun van Dawid… sy sal geboorte gee aan ‘n seun en jy moet hom Jesus noem…” Wat die engel hier aan Josef meedeel is ingrypend! Dis die fokus van vandag se boodskap. In die eerste plek bevestig die engel Josef se identiteit – hy is binne sy geslagsregister ‘n seun van Dawid. Hoor julle dit? Dit was nie Maria wat in die lyn van Dawid gestaan het nie, maar Josef! Josef is nie in die geslagregister van Maria en Jesus opgeneem nie; Maria is bloot in die geslagsregister omdat Josef bereid was om met haar te trou! En Jesus is in die geslagregister agv Josef en nie anders om nie!

Ons hanteer so dikwels vir Josef as ‘n tipe after-thought in die geboorteverhaal. Eintlik gaan dit oor Maria en oor Jesus. Josef was maar bloot die add-on wat vir Maria en Jesus gehelp het om te vlug en vir Jesus geleer het om te timmer.

Nee! As dit nie vir Josef se gehoorsaamheid aan die engel was nie, was Maria op haar beste ‘n verstote vrou met ‘n buite-egtelike kind en niemand wat na dese met haar sou trou en haar sou versorg nie. En op haar slegste was sy en die kindjie in haar baarmoeder gestenig. Na beide kante toe sou sy Niemand gewees het was dit nie vir Josef nie.

Maar Josef steek sy eie eer in sy sak en is gehoorsaam aan die opdrag van die Here. Hy gee vir die kind ‘n naam, en deur dit te doen neem hy hom wetlik aan as sy eie kind. Al is Jesus nie die biologiese kind van Josef nie, word hy sy wetlike kind en op hierdie manier word Jesus opgeneem in die geslagsregister van Dawid, op hierdie manier kry die OT profesieë hul uiteindelike vervulling in die buite-egtelike kind van Maria, langs hierdie weg word Jesus die nuwe hoop vir die volk. Maar hoor nou, hy word veel meer as wat hulle verwag: “Jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk nie net van onderdrukking en slawerny en ballingskap verlos nie, Hy sal hulle van hulle sonde verlos! En sy ander naam sal Immanuel wees, wat beteken ‘God is met ons’.

Ons moet versigtig wees om nie mense te laag aan te slaan nie. Van Josef hoor ons bykans nooit in die Bybel nie. Maar die heilsgeskiedenis van God word op koers gehou deur sy gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid wat vir hom (in elk geval aanvanklik) net skande in die sak sou bring. Deur Josef se gehoorsaamheid word Maria van die Joodse wet gered. En daardeur kry Jesus ‘n kans op lewe… Omdat Josef besluit het om teen sy kultuur en teen sy geloofsgemeenskap in, nie volgens die wet van Levitikus en Deuteronomium en die skrifgeleerdes se interpretasies daarvan te handel nie, maar eerder volgens die evangelie boodskap van genade. As Josef nie aan die wet ongehoorsaam was nie, sou daar steeds komende Sondag (Kersdag) vir ons iets wees om te vier?

Was dit nie vir Josef nie, was dit dalk ook nie vir ons nie. Mag ook ons fyn luister na die stem van God sodat ons gedryf kan word deur sy boodskap van bevryding vir mense wat vasgeloop is.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Rut 3-4 – 2015

29 November 2015 Pinelands – Advent
Prediker: Dr Tiana Bosman

In Rut 1 keer die Moabitiese weduwee terug na Betlehem in Juda saam met haar skoonma Naomi wat alles verloor het. Eintlik wil Naomi haar nie by haar hê nie, want sy is van Moabitiese afkoms en die Israeliete mag nie met die Moabiete gemeng het nie. Maar Rut is vasberade en ons sien hoedat hierdie vrou, Moabiet wat sy is, ‘n aanwins is in Naomi se lewe en nie ‘n las nie.

In Rut 2 gaan Rut uit op soek na ‘n veld waar die eienaar haar sal toelaat om agter in die ry te val en saam met die ander armes, weduwees en wese die are op te tel wat oorgebly het na die oes. Toevallig kom sy by die veld van Boas uit, ‘n veraf familielid van Elimeleg, haar eertydse skoonpa en die man van Naomi, en Boas is uitermate goed vir en vrygewig teenoor hierdie vreemde vrou uit Moab. Hy breek die reëls van die Israelitiese samelewing deur vir haar goed te wees en aan haar hesed (liefde sonder grense) te bewys, want, sê hy, hy weet baie goed wat sy alles vir haar skoonma gedoen en beteken het sedert die verlies van haar man en twee seuns. “Mag die Here jou daad vergoed, en mag jou lone ten volle betaal word deur die Here God van Israel na wie toe jy gekom het om toevlug/skuiling onder sy vlerke te soek” (2:12).

Nadat Naomi van alles te hore gekom het begin sy plannetjies beraam, want wie weet?, as Boas so goed is vir Rut sal hy dalk, net dalk, bereid wees om met haar te trou. Hy hoef natuurlik nie, want hy is nie een van die oorledene se broers nie, maar hy is darem ‘n veraf familielid wat dit tog moontlik maak. En hy het immers alreeds die wet van gasvryheid teenoor die Moabiete verbreek deur oor die bestek van ‘n hele aantal weke vir Rut toe te laat om tussen sy werkers te beweeg en daar, waar die are nog volop was, bymekaar te maak sodat sy en haar skoonma genoeg kan hê om te eet.

Die aand toe Boas op die dorsvloer moes gaan werk, gee Naomi aan Rut opdrag om te was en haarself mooi aan te trek en parfuum aan te sit, en om dan, wanneer Boas al slaap, langsaan by sy bene te gaan inkruip. As Boas dan in die middel van die nag sou wakkerword, dan moet sy haar laat lei deur wat hy sê. Boas skrik toe inderdaad iewers in die nag wakker, wil weet wie daar by hom lê (uit sy taalgebruik weet ons hy weet dis ‘n vrou), en Rut antwoord: “ Ek is Rut, u dienares. Sprei u vlerk uit oor u dienares, want u is ‘n lósser.” Let op – Rut maak nie soos Naomie gesê het en laat haar lei deur wat Boas gaan sê nie. Sý is eerder die een wat inisiatief neem en vir hom sê wat om te doen! En dis nie sommer ligte praatjies nie. Sy roep hom op as losser op te tree en met haar te trou! En sy doen dit deur dieselfde beeld te gebruik as wat Boas gebruik het in hul eerste ontmoeting toe hy God se seën aan haar toegewens het in 2:12: “die God van Israel na wie toe jy gekom het om toevlug/skuiling onder sy vlerke te soek”. Op die dorsvloer vra Rut in wese van Boas dat hy die antwoord, die beliggaming, van sy eie gebed moet word. “Sprei u vlerk oor my, neem my onder u beskerming en sorg”. Soos wat Boas gebid het God aan Rut moet doen, so vra Rut nou van Boas om aan haar te doen. Boas, practice what you pray…

In Rut se versoek hoor Boas onmiddellik die voorstel van ‘n huwelik. Hierdie beeld was nie vreemd in die OT nie. Elders lees ons van God, die Bruidegom, wat sy vlerk sprei oor Israel sy bruid. Indien daar dalk nog onsekerheid aan die kant van Boas sou wees oor wat Rut nou eintlik bedoel, ruim sy elk geval alle onsekerheid uit te weg deur vir hom te sê dat hy ‘n losser is. Wat Rut egter nie geweet het nie, is dat daar nog ‘n ander man was nader in die familielyn van Elimeleg, so indien Boas as losser kon optree, dan het daardie man meer reg daartoe, meer verantwoordelikheid in die verband, en sal Boas eers by hom verby moet kom. “As die ander man instem om jou te verlos, goed so. Maar as hy jou nie wil verlos nie, dan sal ek jou verlos, ek, so seker as die Here leef!”(3:13)

Rut 4:

Boas het die volgende dag na die hek (van die stad) gegaan, daar waar al die regsake uitgepraat en beslis word. “En kyk!, die losser kom daar verby, die een van wie Boas gepraat het! Boas sê toe: “Draai af, sit hier Pelini Almoni – Mr So-en-So”, en hy het afgedraai en kom sit.”

Nie “my vriend” nie! Die boodskap agter die aanspreeksvorm is nie gemoedelik nie, maar negatief.

Lees verder hfst 4:

4: 3: “The nature of the sale is uncertain. Naomi may have been selling the property rights to the land, but this seems unlikely in light of what is known about ancient Israelite property laws. It is more likely that Naomi, being a woman, held only the right to use the land until the time of her remarriage or death. Because she held this right to use of the land, she also had the right to buy it back from the its current owner. (This assumes that Elimelech sold the land prior to going to Moab.) Since she did not possess the means to do so, however, she decided to dispose of her rights in the matter. She was not selling the land per se, but disposing of the right to its redemption and use, probably in exchange for room and board with the purchaser. If this is correct, it might be preferable to translate, “Naomi is disposing of her rights to the portion of land,” although such a translation presumes some knowledge of ancient Israelite property laws.” WBC

4: 6: Ek kan nie verlos nie, want ek sal my eie erfporsie ruineer (tensy ek my eie erfporsie ruineer)…

4: 11: “Mag jou naam uitgeroep word in Betlehem” – omdat jy iemand anders se naam laat voortleef! (In teenstelling met die nadere losser wat nie sy morele verpligting (dis nie meer ‘n wetlike verpligting nie, want die familieband is te ver) wou nakom nie en naamloos bly – Mr So-en-So.

4: 13: Boas het toe vir Rut geneem om vir hom te wees tot vrou, en hy het in haar ingegaan (met haar gemeenskap gehad), en die Here het vir haar swangerskap gegee en sy het aan ‘n seun geboorte geskenk.

4: 14: Boas was die aanvanklik van losser van Rut en via Rut ook van Naomi, maar op die ou-end is daar nog ‘n losser gebore – die babaseuntjie Obed.

4:15: Mag hy wees die een wat lewe aan jou teruggee en die een wat jou op jou oudag versorg, want jou skoondogter wat vir jou lief is het aan hom geboorte geskenk, sy wat vir jou beter is as sewe seuns!”

4:16: Naomi het die seuntjie geneem en teen haar bors gedruk, en sy was vir hom ‘n versorger (sy het hom help grootmaak).

Obed – vanaf die Hebreeuse werkwoord “dienaar”. Obed was die voorvader van Dawid.

So gepraat van name, ons het hierdie jaar met ‘n paar bedenklike vroue in die OT te doen gekry:

Met ons Bybelstudie Saterdag by Schoenstadt het ons na Tamar se verhaal gekyk (Gen 38) – die vrou wat haarself as prostituut vermom het om haar skoonpa in sy leviraatsverpligtinge in te fnuik. Sy was die ma van Peres.

Oor Ragab het ons nog nie die jaar gelees nie, maar sy was die prostituut wat die spioene met die tou by die venster uit laat ontsnap het (Jos 2). Sy was ook Boas se ma.

Die afgelope weke het ons Rut se verhaal gelees – die Moabitiese vrou, gebore in die bloedskandelike lyn van Lot wat in sy dronkenskap met sy dogters seks gehad het. Verder ook deel van die volk wat nie vir die Israeliete wou kos gee op hul reis nie. Die Moabiete was verag en moes vermy word. Rut was die ma van Obed, Dawid se oupa.

Batseba, die vrou wat dikwels in die geskiedenis voorgestel word as die een wat vir Dawid verlei het, maar die waarskynlikheid is groter dat sy deur Dawid verkrag is. Sy was die ma van Salomo.

Al hierdie name (in die manlike lyn af) tot en met Dawid kom voor aan die einde van die boek Rut. Dit is waarmee die verhaal afsluit – die familiestamboom waarvan Rut se seuntjie deel was. Meer as ‘n duisend jaar later word hierdie stamboom herhaal, en dié keer word daar eksplisiet na hierdie vier vrouens verwys, geen ander vrouens nie – net hierdie vier. Tot aan die einde waar daar tog nog ‘n vrou se naam toegevoeg word, die een wat buite die eg swanger geword het, die een wie se verloofde die verlowing wou breek agv die skande: “Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan en Mattan van Jakob; Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word”(Matt 1:15-16).

Ons is aan die begin van die Kersfeesseisoen. In die lyn van die OTiese geslagsregister waarvan die name van bedenklike vrouens – prostitute, Moabiete, slagoffers van verkragting – bo ander uitgesonder word, was daar nog ‘n jong meisie oor wie mense agter hul hande bespiegel het. Sy en haar verloofde was boorlinge van Nasaret, maar hulle moes na Betlehem toe gaan, die “Huis van Brood”, dieselfde stad waarheen Rut gegaan het en waar sy aan Obed, die losser met die naam “Dienaar”, geboorte geskenk het. Daar het Maria ook aan ‘n losser geboorte geskenk, een wat ook by uitstek gekom het om te dien. Sy naam kon net sowel ook Obed wees, maar sy naam is Jesus, wat beteken “God red”, God is ‘n Losser/Verlosser. Soos Boas deurbreek Jesus die OT wette en tree hy nie net as losser op vir diegene in sy nabye familielyn nie, nie net vir sy ma Maria nie, ook nie net vir die Israeliete nie. Getrou aan sy familielyn breek hy grense af oral waar hy kom, hanteer hy outsiders as insiders, word hy self ‘n outsider (daar buite op die Kopbeen koppie) om daardeur die lansie te breek vir alle bedenklike mense om insiders te wees.

Dit is sy geboorte wat ons in hierdie tyd gaan vier. Terwyl die kerk tans besig is om vir mense te laat verstaan dat almal nie ewe welkom is in die gemeenskap van gelowiges nie, herdenk ons die geboorte van die een wat sy lewe vir hierdie almal kom gee het. Ons mag nie kersliedere sing as ons nie bereid is om dit saam met álmal te sing nie. As ons net sekere mense in ons midde verwelkom, dan is ons naam Gemeente So-en-So. Maar as ons alle mense ewe onvoorwaardelik welkom maak, dan mag ons maar onthou word as die Gemeente van Pinelands, klein en eenvoudig soos hulle was, het hulle erns daarmee gemaak om die outsiders in te trek en was hulle bereid om die prys te betaal en die opofferings te maak om in die lyn van hul voorouers Boas en Rut, en hul Broer Jesus wat hulle Verlosser is, grense te deurbreek en liefde sonder grense sigbaar te maak.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.