Lukas 17: 11-19 – 2018 – Afskeidspreek

28 Januarie 2018 Afskeidspreek in Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teksnotas

Vs 11: Samaria van die Samaritane (baster-Jode) en Galilea van die Jode. Die grensgebied tussenin = No-man’s land

Vs 12: Tien melaatse mans, nie tien melaatses nie. Dr Lukas se taal getuig van sy siening van siek mense as menswaardig, mense in die eerste plek en die siekte is sekondêr.

12-13: Op ‘n afstand uitgeroep – want hulle siektetoestand het van hulle untouchables gemaak, hulle mag nie die gemeenskap binnekom nie, they were banned to the outskirts of society, the nobodies who dwelled in no-man’s land

Die heiligheidswette van Levitikus het vereis dat mense wat aan melaatsheid of enige ander ernstige siekte of gebrek gely het, nie hulle hare mag versorg nie, vuil en geskeurde klere moes dra en van ver af moes uitroep: “Onrein, onrein,” sodat gesonde mense van ‘n afstand af kon weet op wie, of op wat hulle afgekom het en gewaarsku kon wees om eerder verby te hou. Maar in plaas daarvan dat hierdie 10 waarskuwend hul identiteit uitbasuin: “Onrein, onrein!”, (of dalk daarna?), skree hulle smekend “Jesus, Meester, ontferm U tog ons!”

16: en hom gedank > euchariste-oo

Hy was ‘n Samaritaan. Agtergrond inligting vir die leser, maar sentraal tot die verstaan van wat hier gebeur.

18: Vreemdeling (allogenes) – Die enigste plek in die NT waar die woord gebruik word. In die Bybel gewoonlik iemand wat om politieke of ekonomiese redes hul eie land verlaat het en tydelik in ‘n ander land gaan woon het (iemand van ‘n ander ras of nasie).

Die een van hulle wat omgedraai het, kom ons ‘n paar verse later agter, was toe ook nooit regtig een van hulle nie. Hierdie een was ‘n Samaritaan, ‘n vreemdeling (foreigner). Al wat hulle aan mekaar gebind het was hulle melaatse toestand – binne die groep was hul siekte ‘n gelykmakende faktor, maar genees die siekte dan staan die kontras van ras en geloof skryend tussen hulle: hierdie man was die uitvaagsel van die groep, “the runt of the pack”. Ek gebruik bloot hierdie vergelyking omdat Jesus dit self elders doen om die dissipels se siening van vreemdelinge te toets – Hy verwys in Matt 15 na die Kanaäniete as die honde vir wie Hy nie gekom het nie. Dit doen Hy wanneer ‘n Kanaänitiese vrou (soos die melaatses hier) roep om ontferming omdat haar dogtertjie baie siek was. “Ja, Here,” beaam die Kanaänitiese vrou daar hul status as honde, “maar die honde eet darem die krummels wat van hul eienaars se tafel af val”. En Jesus se uitroep van verwondering: “Vrou, groot is jou geloof!” En haar dogter is van daardie oomblik af genees.

The runt of a litter of dogs is a member who… suffers from an obvious disadvantage and is less likely to survive in the wilds.” As ons hierdie groep melaatse mans met honde vergelyk soos wat die gemeenskap in daardie tyd sou doen, weet ons dat die Samaritaan ‘n nog slegter kans het op oorlewing as die Joodse melaatse mans. Die Samaritaan was ‘n laër klas mens. En waar die Jode nog kon smeek om genesing en hulself daarna vir die priesters in die tempel kon gaan wys, was die Samaritane nie toegelaat om in die tempel in te gaan nie. In elk geval nie by die tempel van die Jode in Jerusalem nie. By die ingang van hierdie tempel was die bordjie nie soos Pinelands gemeente s’n: “Ons glo hierdie gemeente is ‘n tuiste vir elkeen, this is a house of compassion” nie. Nee, eerder die woorde: “No stranger (allogenes) is to enter within the balustrade round the temple and enclosure. Whoever is caught will be responsible to himself for his death, which will ensue.”

Sou die Samaritaanse man dit waag om saam met die Joodse geneesde mans by die tempel van Jerusalem homself te gaan wys, was hy moontlik sy (nuwe) lewe kwyt. Hy sou na ‘n ander tempel in ‘n ander gebied moes gaan. Net soos wat bruin en swart mense in die Apartheidsjare in kerke moes aanbid vir mense van kleur en nie saam met die witmense nie. Ghandi wat self vertel het hoedat hy in Durban geestelik soekend was en die trappe van ‘n NG kerk bestyg het om tydens ‘n diens rus te gaan soek vir sy siel, maar die dik, wit koster het hom onbeskof by die deur gekeer… So sou die Samaritaan, selfs in sy geneesde toestand, nie welkom wees by die tempel van die Jode nie. Dalk is dit juis daarom ook goed dat hy eerder omgedraai het as om, moontlik opgesweep deur die vreugde van genesing, saam met die res na die verkeerde kerk te gaan net om by die deur weggewys te word…

Dit is egter nie die punt van die gebeurtenis nie. Die punt is dat, toe hierdie man saam met die ander gesien het dat ook hy genees is van sy siekte, hy omgedraai het en vir God met ‘n harde stem geloof het. Dat hy teruggegaan het na Jesus toe en voor sy voete neergeval het (‘n gebaar van eerbetoon) en Hom gedank het.

Om vir Jesus dankie te sê. Euchariste-oo. ‘n Woord wat slegs 4 keer in die evangelie van Lukas voorkom. Twee keer gebruik Jesus dit: Wanneer Hy vir die eerste keer die nagmaal instel, dank Hy God vir die brood (22:17) en vir die wyn (22:19). Die ander twee voorkomste is hier in hfst 17 (die tien mans wat aan melaatsheid ly en slegs die Samaritaan draai terug om vir Jesus te kom dankie sê), en dan weer kort daarna in hfst 18(:11) waar die Fariseër (‘n belangrike Joodse godsdienstige leier) binne die eksklusiewe tempel in Jerusalem staan en vir God dank omdat hy so ‘n goeie persoon is, glad nie nie soos die sondaars en die tollenaars nie.

Lees 18:11 ev: “Die Fariseër het gaan staan en so oor homself gebid, ‘God, ek dank U (euchariste-oo) dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer ‘n week en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien.’”

Die Fariseër was ‘n goeie, godsdienstige Jood, ‘n voorbeeld om na te streef. Die Samaritaan was deel van ‘n veragte volk, en dan nog melaats, onrein daarby.

Die Fariseër het baie hard gewerk daaraan om homself rein te hou. Die Samaritaan kon niks doen om sy onreinheid te verander nie. Hy was verdoem totdat Jesus hom genees het. Maar daarna was hy steeds in hulle oë onrein omdat hy van ‘n baster-ras was.

Beide is dankbare mense. Die Fariseër spreek sy dank uit daar binne die tempel waar die Samaritaan nie sy voete mag sit nie. Die Samaritaan val in die stofstraat oor Jesus se voete neer.

Die Fariseër is dankbaar vir hoe goed hy is en hoe sleg hy nie is nie en wat hy self vermag: “Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie…” Die Samaritaan was natuurlik ook nie soos ander (regte) mense nie. Selfs na sy genesing was hy steeds maar net ‘n Samaritaan – hy was uit die staanspoor uit minder as ander mense en hy kon geen goeie werke doen om dit te verander nie. Sy dankbaarheid is nie na binne gerig op homself soos die Fariseër nie, maar na buite op Jesus en dit wat Jesus vir hom gedoen het.

Dit is hierdie Samaritaan se dankbaarheid wat deur Jesus as voorbeeld voorgehou word en nie die Fariseër s’n nie…

‘n Paar gedagtes oor die teks:

Dit is nie net die Samaritaan wat genees is nie. Jesus sê ook nie dat hy die enigste een vd 10 was wat geloof gehad het nie. Die enigste sekere verskil tussen hom en die ander, is dat hy teruggedraai het na Jesus toe en kom dankie sê het. Wie weet – dalk het die ander ook vir God geprys toe hulle van hul genesing bewusgeword het op weg na die tempel. Miskien is sy dankbaarheid juis die grootste omdat hy ontferming die heel minste kon verwag  – ja, hy was ook in die groep wat geskree het, maar gewoonlik gee die Jode hom géén erkenning as medemens nie. Onthou hy was nie net melaats nie, hy was melaats én veel erger nog – Samaritaans!

Die gebeurtenis eindig met Jesus se woorde: “Jou geloof het jou gered.” Wat is geloof hier? Ons kan nie seker wees nie. Vir my lyk dit egter of dit soos met die Kanaänitiese vrou die weiering is om vir Jesus te los net omdat jy weet dat jy nie op sy genade en ontferming, sy omgee en liefde kan aanspraak maak nie. Geloof is hier: Al weet jy dat jy nie deel is van die verlossingsplan soos wat die geloofsleiers dit voorhou en verkondig nie, jy nietemin bly vra daarvoor, amper aandring daarop. Wanneer niemand anders hulle aan jou steur nie, wanneer jy vir die mensdom so goed is soos dood, om dan nog stééds vir Jesus te bly vra, om hom op sy woord te neem al weet jy sy woord sluit jou volgens menslike standaarde en godsdienstge voorskrifte uit. Geloof is om Jesus nie met rus te laat net omdat ander sê dat jy nie by hom hoort nie…

[Geloof is toe ons nabye vriendekring (saamgestel uit gelowiges, Moslems, agnostici en ongelowiges) verlede week saam bid vir ‘n Moslem vrou (die ma van van ons kinders) wat om haar lewe veg in die hospitaal – mekaar nie los omdat ons almal verskillend glo of sommiges glo en ander nie, maar ‘n whatsapp groep gebruik vir ondersteuning en saam bid – elkeen op sy of haar eie manier, en die vrou by die dood gaan omdraai en gesond word. Wanneer Jode en Samaritane en selfs die heel-heidense Kanaäniete, siekes en gesondes almal saam mekaar nie meer uitsluit nie, maar nader trek, hande vat, mekaar se vriende en familie word, juis ook in tye van die diepste nood. Omdat ons mekaar se integriteit vertrou.]

Die verskil tussen die een uit die tien in vandag se verhaal is dus nie noodwendig geloof nie, want al tien is genees. Die verskil is die aanwesigheid of afwesigheid van dankbaarheid teenoor die een (in hierdie geval Rabbi Jesus) wat jou genees het. Dit blyk ‘n algemene menslike verskynsel te wees: Dat die meeste mense so op hulself gerig is dat wanneer hulle iets ontvang, hulle net te bly is dat dinge weer met hulle beter gaan dat hul eenvoudig aangaan met hul lewens. Uit tien “melaatse” (wat vir enige vorm van lyding kan staan) mense wat almal iets ontvang wat hulle nie verdien het nie, is daar net een wat omdraai om te gaan dankie sê vir die persoon wat dit moontlik gemaak het.

Die teks gaan eerder oor dankbaarheid as oor geloof. Geloof is dalk nie nie so moeilike iets om te “hê” nie? Vir sommige mense moet dit net sleg genoeg gaan voordat hulle daarna gryp. Die spreekwoord sê nie verniet “nood leer bid” nie. Met genoeg teenstand op die pad raak almal dalk iewers ‘n gelowige… Maar dankbaarheid is ‘n ander saak. Dit vind ons net by een uit elke tien mense. Die res is maar te bly dat hulle kan vergeet wat agter hulle lê en kan voortgaan met hul lewens. En die mense wat die mees dankbares is, is dalk dikwels diegene wat die minste gehad het om mee te begin, die wat weet dat hulle nie ander se goedheid verdien nie en juis daarom opreg kan dankie sê.

Ek het myself nog altyd as ‘n buitestaander beskou, iemand wat van jongs af nêrens behoort het nie. In Graad 8 is ek uit die Sondagskool geskors omdat die meneer nie van my bydra gehou het nie. Hy het gesê ek kom van die duiwel af. Met my rooi hare het ek nogal iets daarvan geglo… Ek hoort nie in die kerk en die geloofsgemeenskap nie. Buite die poorte van die tempel (daar waar ek gehoort het) het ek daardie oggend vir my broer en suster gewag tot na Sondagskool sodat ons kon huistoe gaan. Dit het my bygebly en ek het later nie minder nie, maar eerder meer uitgesluit gevoel. Op my eerste dag van studeer aan die Kweekskool (soos studente graag na die Fakulteit Teologie verwys) het die ander teologiese studente wat buite die gebou rondgestaan het my voorgekeer (bloot op grond van wat ek in my menswees uitgestraal het) en vir my gesê ek is duidelik op die verkeerde plek, hierdie is die Kweekskool en waar moet ek wees dat hulle vir my rigting kan gee… Na my eerste psigometriese toets by die Universiteit se sielkundige (verpligtend – alle eerstejaar teologiese student moes dit skryf), het die sielkundige met my ‘n afspraak gemaak en my te adviseer om asb my teologiese studies te staak en eerder wiskunde te gaan swot – want my persoonliksheidstipe is glad nie evangelies nie en ek sal nooit iemand tot bekering kan bring nie. Nodeloos om te sê, ek het al meer ontuis gevoel in die omgewing waar ek my bevind het, maar ek het besluit om deur te druk met die studies. My mees gemaklike gespreksgenote by die Kweekskool was nie my mede-studente en die dosente nie, maar die blou-boordjie werkers – die bodes en die skoonmakers. By hulle het ek altyd tuis gevoel. En het dit aan my hart gegryp toe JP verlede week vir my kom sê hy het vir Howard raakgeloop in die Kweekskool se gange en Howard sê hy is so bly dat ek ‘n pos by UWK gekry het, want hy het altyd geweet ek sal dit nie op langtermyn by Stellenbosch maak nie. Howard, in sy eenvoud, het my verstaan…

En toe kom ek so amper 7 en ‘n half jaar gelede hier aan vir ‘n preekgeleentheid en onderhoud. En teen al my verwagtinge in besluit die gemeente om vir mý te beroep! Ek weet dit was nie vir julle maklik nie. Ek weet baie wou my nie hier hê nie. Ek weet ek was en is steeds anders as wat julle predikante gewoond is. My prediking-styl was veral iets waaraan baie mense gewoond moes raak omdat ek nie geestelike pitkos gee nie, maar konteks en kritiese vrae.

En tog, met my andersheid en al, het julle my baie vinnig aanvaar en onvoorwaardelik ontvang en liefgehê. Julle het my tyd gegee, aan my gewoond geraak en my vreemde styl begin waardeer en selfs soek. Ek wat nog nooit in my lewe in ‘n kerkgebou of ‘n gemeente tuis gevoel het nie, het hier in julle huise en binne die eredienste ‘n plek aan die tafel gekry en julle het my vir 7 jaar verwelkom en ingesluit, bedien en gevoed. Ek het ‘n tuiste gevind. Ek het met my eie melaatsheid hier aangekom, maar julle het my wonde verbind en ek kan as ‘n gesonde mens weggaan.

Saam het ons geworstel met die evangelie van Jesus en onsself (as groep) gegee vir die onvoorwaardelike insluiting van alle mense, hetsy ras, ouderdom, geslag, gebreke, geloof, seksuele oriëntasie, wat ookal. By ons, in ons agting van mense, is daar geen onderskeid nie, ongeag die verskille. Dis nie net woorde nie, maar die hartklop van die gemeente. Dit is julle lewe. Dit is wat aan julle lewe gee – Christus se hartklop vir álle mense, in besonder vir die kinders, die Samaritane en die melaatses, die siekes en die swakkes, die verkeerdes en die gays – hierdie agape-hartklop van Jesus pomp deur die gemeente van Pinelands se are. Sonder dit sal julle sterf. Hiervan was ek as julle predikant deel omdat julle my ingetrek het. En hiervoor is ek diep dankbaar. Ek is al ‘n week op verlof, besig om voor te berei vir my nuwe pad by UWK. Vandag het ek teruggekom as die Samaritaan wat onthou dat julle my nie weggewys het toe julle kon nie (ek weet baie goed ek kom van nêrens af), dat julle my ontvang het en my siekte genees het, en vanoggend sit ek myself vir oulaas hier voor julle neer met ‘n baie opregte dankie. Ek sal nooit vergeet wat julle vir my gedoen en beteken het nie. Ek sal ook nie vergeet wat dit julle gekos het nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.