Rut 2:1-23

11 November 2018
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Inleiding

Ons het verlede week die eerste hoofstuk van die boek Rutgelees. Die verhaal begin met Naomi en haar man Elimeleg wat met hulle tweeseuns na Moab moes vlug as gevolg van hongersnood in hulle land. Nadat hullehulself in Moab gevestig het kom hulle egter ’n terugslag tee toe Elimeleg,Naomi se man, sterf.

Haar seuns het elkeen met ’n Moabitiese vrou getrou – die een se naam was Orpa en die ander een, Rut – en hulle het omtrent tien jaar daar in Moab gewoon. Toe word hierdie vlugteling-familie deur nog ’n ramp getref – albei Naomi se seuns sterf. Skielik is Naomi ’n weduwee in ’n vreemde land, sonder seuns, sonder besittings, sonder regte.

Met nuus dat die hongersnood in Bethlehem tot ’n einde gekom het, besluit die verslae Naomi om maar terug te keer na die land van haar afkoms. Aanvanklik wil haar skoondogters, wie ook nou as weduwees in ’n weerlose situasie beland het, saam met haar gaan. Naomi probeer hulle oortuig om eerder terug te keer na hulle ouerhuise waar hulle darem versorg kan word. Uiteindelik volg Orpa haar raad, maar Rut weier om haar skoonma te verlaat.

Op hierdie moment maak Rut aan haar skoonmoeder ’n beloftewat haar tereg bekend gemaak as ’n uitstaande voorbeeld van wat troue liefdebehels:

“Moenie my probeer dwing om jou te verlaat nie

of om van jou af weg te gaan nie,

want waar jy gaan, sal ek gaan

en waar jy bly, sal ek bly.

Jou mense is my mense,

jou God is my God.

Waar jy sterf, sal ek sterf

en daar sal ek begrawe word.”

Na hierdie hartroerende belofte het Naomi opgehou om teprobeer om vir Rut om te praat. Hoofstuk 1 eindig soos volg:

“So het Naomi teruggekeer. Haar skoondogter, Rut die Moabiet, het saam met haar teruggekom uit die hoogland van Moab. Hulle het in Bethlehem aangekom aan die begin van die garsoes.”

Dit is hier wat ons vanoggend die storie weer optel. Ek lees vir ons die hele 2de hoofstuk van die verhaal voor. Soos dit nodig raak, sal ek weer hier en daar die verhaal onderbreek om die konteks te belig of om julle aandag op iets te vestig.

Om mee te begin kan jy eenvoudig daarop let dat daar nog telkens na Rut verwys word as ‘die Moabiet. Soos ek verlede Sondag genoem het, was daar ’n verskriklike stigma wat aan Moabiete gekoppel was. Hulle is as heidene en vyande beskou en huwelike tussen Israelitiese mans en Moabitiese vrouens is in die sterkste terme moontlik afgewys as onwettig en onaanvaarbaar in die oë van God.

Rut se Moabitiese afkoms beteken dus dat sy diskriminasiekan verwag – en die kanse is groot dat Naomi wat met ’n Moabitiese skoondogterna haar tuisdorp terugkeer ook onder die stigma gaan ly.

Skriflesing: Rut 2:1-23

Naomi het aan haar man se kant ’n familielid gehad, ’n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas.

Dis ‘n belangrike brokkie inligting. As ’n weduwee is Naomi afhanklikvan een van haar man se familielede om as ’n losser op te tree, sodat sy diegrond waarop sy, deur haar huwelik aan Elimeleg, geregtig is, kan erf. Hoeweldaar bepaalde wette was wat op hierdie manier vir haar as ’n weduweevoorsiening sou maak, kan sy nie seker wees dat sy na so veel jare in Moab ’n lossersal vind wat bereid is (en vir wie dit finansieel haalbaar sou wees) om hierdieverantwoordelik op te neem nie. Die verwysing na Boas as ’n familielid van haargewese man – en boonop nog ’n vermoënde man – is dus ’n teken van hoop, maardis nog nie ’n versekerde uitkoms nie. Ek lees verder.

Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord.

Rut maak hier staat op wette wat ingestel is juis om sekerte maak dat mense wat weerloos en sonder heenkome is altyd in Israel ’n plek van beskerming kan vind

Sien Lev. 23:9-22 : “Wanneer julle die graanoes op julle landeinsamel, mag jy nie die kant van jou land skoon af oes nie, en jou oesreste magjy nie optel nie. Vir die weerloses en vreemdelinge moet jy dit agterlaat. Ekis die HERE jou God.” en Deut. 16:9-11: “Jy moet bly wees vir die HERE jou God – jy,jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete in jou dorpe, dievreemdelinge en die vaderloses en weduwees by jou – op die plek wat die HEREjou God sal kies om sy Naam daar te vestig. Jy moet onthou dat jy ’n slaaf wasin Egipte. Kom dan hierdie vaste voorskrifte nougeset na.”

Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En soos die toeval dit wou hê, het dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort.

Boas het self van Betlehem af daar aangekom. “Die HERE is met julle!” groet hy die snyers. “Die HERE seën u,” antwoord hulle hom. Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” Die werker wat toesig hou oor die snyers antwoord hom: “Sy is ’n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van môre af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!”

Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ’n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter lande hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”

Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om en dit terwyl ek ’n buitelander is?”

Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonma gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou pa, jou ma en jou geboorteland verlaat het en dat jy na ’n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die HERE, die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

U is baie goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!”

Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou.

Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle verneder haar nie. Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle skel haar nie uit nie.”

Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was omtrent ’n efa [22 liter / 13.2 kilogram] gars. Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonma wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar.

Haar skoonma vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees!” Sy vertel toe vir haar skoonma by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die HERE wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers.” Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by mý werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’” Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan sodat mans jou nie op ’n ander land molesteer nie.”

Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonma gebly.

Boodskap

Verlede week, toe ons die eerste hoofstuk van die verhaal gelees het, het ek beklemtoon hoedat troue liefde en verbondstrou tussen mense ook ’n gawe is in situasies waarin ons hulpeloos is; Hoewel Rut vir haar skoonmoeder geen hulp kon aanbied nie, geen uitkoms kon gee nie, het dit haar nie verhoed om aan haar getrou te bly en om haar in haar verdriet by te staan nie.

Vanoggend val die klem weer anders. Soms is daar wel iets wat ons kan doen om te help, soms beteken hesed, dis nou God se troue liefde, dat ons ’n verantwoordelikheid het om te doen wat ons kan om mense in hulle lyding en nood by te staan; om te getuig en te stry teen vorme van onreg.

Ons word in hierdie tweede hoofstuk in Rut se leefwêreld ingenooi. Die eerste hoofstuk dek gebeure wat oor die loop van meer as ’n dekade afspeel; die hele tweede hoofstuk laat ons kennis maak met ’n enkele dag in die lewe van Rut, die Moabiet, ’n weerlose weduwee in ’n vreemde land.

Elke keer wat haar naam genoem word, word ons daaraan herinner dat sy ’n Moabiet is. Sy is absoluut oorgelewer aan die goedgesindheid van ander. Vind sy ’n plek om are op te tel, is ons daarvan bewus dat sy net so maklik afgewys kon word. Word sy vriendelik behandel, word ons herinner dat sy net so maklik verneder en uitgeskel kon word. Word sy beskerm, word ons herinner dat sy net so maklik verkrag kon word.

Ek kon nie help, soos ek in een dag van Rut se lewe ingenooi is, om ook aan die duisende, selfs miljoene, vrouens in ons land te dink vir wie ’n enkele werksdag dieselfde bedreigings inhou nie. Daar is duisende vlugtelinge in ons land wat daagliks dieselfde uitdagings moet verduur, net om die minste te verdien, net wat nodig is om te oorleef.

Maar weens ons geskiedenis van trekarbeid en tuislande, van lokasies en bantu-opvoeding, van grootskaalse korrupsie en ’n sukkelende ekonomie, hoef ’n mens nie eers ’n vlugteling te wees om soortgelyke bedreigings van dag tot dag in die gesig te staar nie.

Staan byvoorbeeld voor dagbreek in Khayalitsha op om met publieke vervoer na ’n char-job in een van Kaapstad se voorstede te reis en jy weet nie of jy op pad daarheen of op pad terug in die donker deur gewelddadige mans lastig geval sal word nie, of die treine en busse jou in die steek sal laat nie, of jy deur jou werkgewer verneder gaan word nie, of jou werkgewer skielik gaan verhuis en jy alle werksekerheid gaan verloor nie.

So veel hang af van die goedgesindheid van hulle wat mag eninvloed het – om byvoorbeeld mense in diens te neem.

***

Soos ek vroeër genoem het was daar in Rut se tyd wettewat voorsiening gemaak het vir die weerloses, vir die weeskinders en weduwees,vir die vlugtelinge en buitelanders. Maar hierdie gedeelte wys vir ons hoe diewet nog altyd vervul moet word en dat dit afhang van die goedgesindheid vanhulle wat mag en invloed het.

Ook in ons eie konteks is dit die realiteit miljoene mense wat op die broodlyn leef. Ons het een van die mees progressiewe grondwette in die wêreld, met al hoe strenger arbeidswette, soos bv. die minimum loon wet wat in Junie hierdie jaar ingestem is. En tog hang die vervulling van hierdie wette af van goedgesinde mense wat nie net die letter nie, maar ook die Gees van die wet nakom.

Wat is dan nie verskil tussen wat wettig is en wat regverdig is? Ek dink die boek Rut se antwoord hierop is dat die verskil hesed is. Wanneer Rut vir Boas vra hoekom hy aan haar, ‘die Moabiet’ goedgesind is, is sy antwoord dat hy weet hoedat sy trou aan haar skoonmoeder betoon het. Haar troue liefde aan ’n weerlose vreemdeling het hom inspireer om aan haar troue liefde en goedheid te betoon deur sy verantwoordelikheid na te kom.

Hierdie gedeelte gaan met ander woorde oor die verhouding tussen God se wet en God se troue liefde.

  • Aan die een hand wys die gedeelte vir ons hoe die wet eersvervul word wanneer dit in die lig van God se hesed, God se verbondstrou aan die slawevolk, Israel gesien word.

Die wet bied vir Rut en Naomi geen sekuriteit of verligting totdat iemand nie getrou bly aan hulle as geliefdes van God nie; voordat iemand hulle nie herken as mense wat onder die vleuels van die HERE kom skuil het nie, die God wat vir Israel uit slawerny bevry het. Eers as iemand goedgesind is teenoor hulle en hulle verantwoordelikheid teenoor hulle nakom, word die wet God se gawe.

Vanuit ’n ander hoek gesien, word ons ook hier herinner dat hesed, troue liefde of verbondstrou, niegelyk is aan ’n warm gloed in ’n mens se hart is nie. Liefde is meer as ’ngevoel. Hesed het ook goeie wetgewingen regverdige instellings nodig om konkreet gestalte te vind in die wêreld. Liefdevir die weerlose is net eg as dit beteken dat hulle wat weerloos is, versorgword, as hulle wat honger het, gevoed word, as hulle wat uitgesluit is, deelword van ’n gemeenskap. Meer nog – vir geregtigheid om soos golwe aan te rol isdit noodsaaklik om ook ’n regering, ’n ekonomie en ’n regstelsel te he watmense uit hulle weerloosheid uitlig en vir hulle sekuriteit bied.

***

Baie van ons is mense wat die voorreg en verantwoordelikheid geniet om mense te kan aanstel – hetsy in ons beroepsleweof in ons persoonlike lewens by die huis. Ek sluit myself hierby in.

Daarom was ek hierdie week aangespreek deur die optrede vanBoas teenoor Rut, die Moabiet. Geïnspireer deur Rut se trou, word hy vir ons ’nvoorbeeld van ’n vermoënde persoon wat dit regkry om die wet in die lig van Godse oorvloedige liefde en trou te interpreteer. Andersom, hy vertaal God setroue liefde deur aan die wet gehoorsaam te bly en dit tot vervulling te bring.As ’n mens kyk na Boas se optrede teenoor Rut, merkons op dat hy nie net die minimum vereistes van die wet nakom nie. Hy sien niedie wet en vra vir homself hoe hy met die minste moontlik darem binne diebepalings van die wet kan bly nie.

Nee, by hom is dit andersom: Hy sien vir Rut, nie die Moabiet nie, maar ’n medemens geskape in die beeld van God, en vra homself dan af hoe hy die wet kan gebruik om vir haar die beste sorg moontlik te gee. Daarom, as hy haar vir die eerste keer aanspreek, is dit om haar waardigheid, en daarom ook sy verantwoordelikheid teenoor haar, te herken: “My dogter,” sê hy vir haar.

Dit is die eerste les wat ek vir myself uit Boas se optrede wil toeëien. Hy sien vir Rut raak. Daarom doen hy ook die moeite om haar storie te leer ken.

“Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonma gedoen het ná die dood van jou man” sê Boas vir haar, “…dat jy jou pa, jou ma en jou geboorteland verlaat het en dat jy na ’n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie.”

Hy doen moeite om te verstaan wat haar behoeftes is. Hy is sensitief vir die weerlose situasie waarin sy haar bevind.

En dan begin hy om haar behoeftes een vir een aan te spreek: Indien Rut die volgende dag weer are wou optel, sou sy dalk op ’n ander stuk land geëindig het, sy sou weer deur die angswekkende proses moes gaan om te vra: ‘mag ek op hierdie stuk grond are optel?’ Weer sou sy afhanklik wees van die goedgesindheid van die voorman; weer sou sy die risiko van verwerping geloop het, of erger van mishandeling of molestering.

Boas weet dit en daarom bied hy aan dat sy vir die hele duur van die garsoes op sy lande, saam met sy werkers, kan werskaf.

Sy gaan dors word – kom drink uit ons waterkruike.

Sy gaan honger word – kom eet saam met ons.

Sy gaan dalk verneder word – ek het my werkers beveel om jou nie lastig te val nie

Sy gaan eensaam voel – kom sit hier by ons, kom eet saam met ons brood. Kom! …druk jou stukkie brood hier in die asyn.

Sy het ’n skoonmoeder vir wie sy by die huis moet sorg – hiér neem van die kos wat oorgebly het huis toe, sodat jou skoonma ook daarvan kan eet.

So maak Boas seker dat daar aan al Rut se basiese behoeftesvoorsien word. Dink aan Maslow se piramiede: Eers die fisiese (voedsel en water); dan sekuriteit enveiligheid; dan liefde en aanvaarding (vriendskap).

Maar Boas gaan vêrder as om net vir haar oorlewing te sorg: ook die vierde vlak van Maslow se hiërargie: hy betoon respek aan haar. Sy is angstig – hy praat mooi, sag met haar, verseker haar dat sy veilig is. Hy prys haar vir die manier waarop sy haar skoonma ondersteun.

Boas gaan nog vêrder: Maslow se vyfde vlak: Sy het ookbeweegruimte nodig, speelruimte – sy het agentskap nodig, sy moet vir haarskoonma kan sorg en met oorgawe kan lewe in Bethlehem. Hy laat haar toe om veel meer van die are op te tel as wat die wet voorvoorsiening maak. Nie net die minimum nie, maar genoeg om van te lewe. 13.2 kilogram gars in ’n dag is meer as wat sy en Naomi nodig het om te oorleef. Hulle sal dit by die mark kan verkoop, hulle sal ’n wins kan maak, hulle salkan spaar en voorsiening maak vir die winter. Skielik het sy beweegruimte.

Slot

Soms moet ons liefhê wanneer ons hulpeloos is.

Soms word ons geroep om lief te hê waar ons wel ’n verskil kan maak.

Ek wil vanoggend my boodskap afsluit met iets baie prakties en konkreet. Dit is nie die enigste toepassing van hierdie teksgedeelte nie, maar ek deel met julle hoe die gedeelte my aangespreek en gekonfronteer het.

Baie van ons het die voorreg en verantwoordelikheid om huishulpe en tuiniers aan te stel. Ek ook. Wat het ons as ruglyn om te besluit hoeveel om iemand vir hulle dienste te betaal? Die minimum look wet… wat vriende of bure vir iemand betaal… wat beskou word as markverwant… wat ons dink ons kan bekostig…

In die lig van Boas se optrede teenoor Rut, lyk dit vir my onvoldoende. Hy begin nie met wat wettig is nie, hy begin nie met wat op aangrensende plase gebeur nie… Hy begin deur vir Rut raak te sien, in haar weerloosheid, maar net so belangrik as iemand wat in die vleuels van die God van Israel skuiling kom soek het.

Dan begin hy met haar behoeftes – nie net om te oorleef nie, maar wat sy nodig het om te leef.

Hier word dit konkreet: inplaas van ’n minimum wage, of ’n market wage, moet ek in gesprek tree met my werknemer en saam met hom of haar bepaal wat is ’n living wage.

Wat sal vir my werknemer van al sy of haar fisiese, sekuriteit,sosiale behoeftes voorsien. Meer nog, wat sou kon bydrae tot sy of haarwaardigheid. Meer nog, wat sal vir hom/haar beweegruimte gee sodat hulle asgesin inisiatiewe kan neem om te verseker dat hulle kinders ’n beter kans hetom te floreer?

***

In die lig van die bogenoemde deel ek graag ’n instrument wat ek dink ons kan help om ’n gesprek te inisieer oor hierdie sensitiewe, maar uiters belangrike saak.

www.living-wage.co.za

Dit is ’n webblad wat juis ’n gesprek wil help oopmaak oor die spesifieke omstandighede en behoeftes vanhuishulpe in die Suid-Afrikaanse konteks. Buiten stories van drie vrouens watas huishulpe in die Kaap-omgewing werk en woon, sluit die webblad ook ’n “wage-calculator”in waarmee ’n mens kan toets hoe naby ’n persoon se huidige loon aan diedoelwit van ’n “living wage” kom. Deel asseblief jou belewenis van die webbladmet Helgard ([email protected]).

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.