Lukas 1:26-38 – Preek: Bevestiging van Helgard Pretorius

14 Oktober 2018 Preek, Bevestiging van Helgard Pretorius
Prediker: Prof. Robert Vosloo

Teks: Lukas 1:26-38

Tema: Die geheimenis van “Ja”

Dit is vir my ‘n groot voorreg om op hierdie wyse by die bevestigingsdiens van Helgard betrokke te wees.

En om ‘n getuie te kon wees toe hy sopas op die vrae tydens die bevestiging “Ja” geantwoord het.

‘n Predikant het op ‘n keer vir my vertel van ‘n lidmaat wat baie ontevrede was met al die veranderinge in die kerk. Die lidmaat het ‘n interessante rede voorgehou vir hoekom daar syns insiens tans so ‘n krisis in die kerk is. “Dinge het begin om skeef te loop in die kerk”, het hy gesê, “toe die dominees met hulle bevestiging net “Ja” geantwoord het, en nie meer – soos in die ou dae  – “Ja, met my hele hart” nie.

Dié lidmaat sal daarom sekerlik bly wees dat Helgard vanoggend geantwoord het met: “Ja, met my hele hart.”

Op ‘n sekere vlak is die lidmaat se opmerking natuurlik geldig. Die kerk het mense (predikante én lidmate) nodig wie se “Ja” ‘n “Ja” met hulle hele wese is, met hart, siel en verstand. Maar op ‘n ander vlak is die opmerking natuurlik  onsin.

Want ‘n mens kan jou maklik misgis met die erns van iemand se verbintenis. ‘n Mens mag immers “Ja” met jou mond sê en eintlik “Nee” of “Dalk” bedoel.

My ouer kinders reageer soms op my Whatsapp-boodskappe as inmengerige ouer aan hulle met “ja ja”. Hulle sê dan in hulle teksboodskap aan my letterlik twee keer vir my “Ja”.  Maar in feite sê hulle natuurlik nie eens een keer “Ja”  nie. Hulle bedoel met hulle “ja ja”-reaksie op my “Het julle al …” of “Gaan julle nog …”-vrae eintlik: Chill. Relax. Moenie so onnodig worry nie.

Om te peil wat iemand se “Ja” beteken is inderdaad nie so voor die hand liggend nie. En om “Ja” te sê beteken ook nie noodwendig om daardie “Ja” te leef nie. Dink maar aan Jesus se gelykenis oor die man wat sy twee seuns gaan vra het om in die wingerd te gaan werk. Die een het “Nee, ek wil nie” gesê, maar later tog gegaan. Die ander het “Ja, Pa” gesê en nie gegaan nie (vgl. Matt 21).

Ons kan ons dus maklik met ‘n persoon se “Ja” misgis. Iemand se “Ja” mag dus dieper gegrond wees as wat dit op die oog af lyk. Of wat vir ons na ‘n “Ja” met vaste oortuiging klink, mag dalk vlakker lê as wat ons dink.

Daar is dus ‘n sekere geheimenis wat haarself aanmeld in die woordjie “Ja”.

Teen hierdie agtergrond maak ons teks vir interessante leesstof. Dit is ‘n bekende teks wat dikwels in die kerklike jaar tydens Advent gelees word. Die handel oor die verskyning van die engel Gabriël aan Maria, en die aankondiging dat sy sal swanger word, en ‘n seun in die wêreld sal bring, vir wie sy die naam Jesus moet gee. En hy sal die seun van die Allerhoogste genoem word.

Teen die einde van die teksgedeelte lees ons dat Maria sê: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (vers 38).

‘n Engelse vertaling (NRSV) van Maria se respons op die engel se aankondiging lui: “Here I am, the servant of the Lord: let it be with me according to your word.”

Maria sê hiermee: Hier is ek. Ek is tot u diens.

Maria sê by wyse van spreke “Ja, met my hele hart.” Haar “Hier is ek” kan dus as ‘n verklaring van bereidheid tot diens gesien word. Sy stel haarself volledig beskikbaar. Hier is sprake van volkome oorgawe.

Die uitdrukking “Hier is ek” kom dikwels in die Ou Testament voor. Die Hebreeuse woord is Hineni.

Abraham sê drie keer Hineni in die gedeelte in Genesis 22 waar ons lees oor Isak wat geoffer moet word.

En wanneer die Here uit die brandende doringbos roep: “Moses, Moses”, antwoord Moses met “Hier is ek” (Eksodus 3:4).

Jakob en Samuel reageer ook op beslissende oomblikke met “Hier is ek” op die Here se roepstem.

En wanneer die Here vir Jesaja vra “Wie sal ek stuur?”, kom die bekende antwoord: “Hier is ek. Stuur my” (Jesaja 6:8).

In al hierdie gevalle beteken “Hier is ek” nie bloot “ek is hier” nie, soos wanneer daar in ‘n klas of by ‘n byeenkoms gevra word wie teenwoordig is, sodat dit op die presensielys aangeteken kan word, en ons bevestigend antwoord nie.

Nee, in die Bybel het “Hineni/ Hier is ek” ‘n baie sterker geladenheid. Dit is ‘n “Ja” wat aandui dat ek volledig teenwoordig is vir die een wat my aanspreek.  Dat ek beskikbaar is om tot diens te wees. Dat ek my hart gee.

Om “Hier is ek” te antwoord, ook soos wat Maria in ons gedeelte reageer, is dus nie ‘n belangelose antwoord nie. Dit is myns insiens ook nie ‘n kordaatagtige “Ja” wat nie weet van vertwyfeling en die versoeking om te sê “Nee” of “Los my uit” of “Vra eerder iemand anders” nie.

Ons teksgedeelte is ook in hierdie sin onthullend. Wanneer die Engel Maria groet met die woorde “Ek groet jou, begenadigde”, lees ons dat sy “verbysterd” was oor die woorde en gewonder het wat die begroeting kon beteken (vers 29).

Die gedeelte suggereer dat sy verward en bang was, daarom die engel se gerusstelling: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou” (vers 30).

Die Ierse filosoof Richard Kearney – met wie se werk Helgard goed vertroud is aangesien hy sy magisterstudie onder leiding van Dirkie Smit oor sy werk geskryf het –  bring in een van sy boeke ons teksgedeelte in gesprek met die 15de eeuse Renaissance skilder Sandro Botticelli se uitbeelding van die engel se verskyning en aankondiging aan Maria.

The Cestello Annunciation,
Sandro Botticelli, 1489-1490

Kearney skryf dat ‘n mens jou nogal die toneel kan voorstel. Maria is haar kamer en sy lees ‘n boek. Sy hoor die gefladder van vlerke, sit haar boek neer, luister gespits. Skielik, asof van nêrens, praat iemand. Maria skrik en is bang. Sy huiwer, sy tree terug.

Iets van hierdie skrik en wegbeweeg word uitgebeeld in die skildery.

Maar tesame met die aanvanklike wegbeweeg is daar terselfdertyd ook iets wat haar boei, vasvang, wat maak dat sy haar oor draai om goed te kan hoor.  En sy hoor dan die engel wat fluister: “Moenie bang wees nie, Maria”. Soos Kearney dit stel: “Mary opens herself to the stranger and conceives a child. In short, Mary chooses grace over fear. She responds to the call, trusts in the promise. She dares to imagine the impossible as possible. She says yes.”

Hierdie “Ja”, sou ons verder kon sê, lê nie voor of buitekant verbystering, vrees, en oordenking nie. Die term vir “oordink” (vers 29) in die Grieks is dialogizomai, wat beteken om te deurdink, om by wyse van spreke met jouself in dialoog of gesprek te tree.

Hierdie “Ja” is nie die “Ja” van ‘n robot nie, maar van ‘n méns – iemand met emosies, vrae, ‘n liggaam, ‘n storie …

Maar nogtans word Maria begenadig om “Ja” te kan sê. Hierdie “Ja” maak haar, in die Nuwe Testamentikus Beverly Gaventa se woorde, die eerste dissipel.

Maar dit is ‘n “Ja” anderkant huiwering en vrees. Anderkant protes en vertwyfeling.

En dalk kan ‘n mens sê dat deel van die geheim van hierdie “Ja” te vinde is in die feit dat daar eers vir haar “Ja” gesê is.

Die engel sê immers met die verskyning aan haar: “Ek groet jou, begenadige.”

En wanneer die engel vir haar sê om nie bang te wees nie, word toegevoeg “want God bewys genade aan jou.”

Die toesegging van God se genade en krag aan haar staan in die teken van God se inisiatief om vir haar “Ja” te sê.

Maria se “Ja” word dus voorafgegaan, en is ingebed, in God se “Ja” vir haar.

Helgard, ons kan vermoed dat jou “Ja, met my hele hart” vanoggend ook ten diepste begrond is in God se genadige “Ja” aan jou.

En dat jy jou bediening wil begrond in die geheimenisvolle “Ja” van God se genade in Jesus Christus en deur die Gees.

Jou eerste studieleier, Gerrit Brand, het toe hy student was, die volgende woorde gebruik toe hy aan ‘n televisieprogram oor kuns en geloof deelgeneem het (in aansluiting by Augustinus), en probeer het om iets van die geheimenis van hierdie “Ja” te verwoord:

“Jesus is ‘n geheim

Jesus het deur die tralies van die vlees geloer

En saggies gepraat en ons liefde opgewek

En ons het agter sy geur aangehardloop.”

In hierdie woorde klop iets daarvan om deur die geopenbaarde geheimenis van die evangelie aangespreek te wees en daardeur beweeg te word.

Ek het so tydjie terug ‘n onderhoud met die komediant Stephen Colbert gekyk waarin hy oor sy geloof en lidmaatskap van die Rooms-Katolieke Kerk praat. Hy verwys teen die einde van die interessante onderhoud na ‘n opmerking van Moeder Teresa na aanleiding van ‘n vraag aan haar na die geheim van haar bediening. Sy het glo geantwoord. “Start your day, smile, and say yes.”

As nie veel van ‘n “smiler” nie, sou ek die stelling so bietjie wou aanpas. Dalk: “Start your day, get coffee, and say yes.”

Maar hoe ook al: die punt is duidelik. Say yes. Hier is verwoording dat dit in die geloofslewe en die bediening ten diepste gaan oor ‘n fundamentele Ja – ‘n Ja vir die lewe, vir mense en vir die skepping, gegrond op God se genadige Ja teenoor ons.

Hierdie Ja ontken nie die pyn en donkerte nie. Dit is in die filosoof Paul Ricoeur se woorde: “an affirmation of the joy of the yes in the sadness of the no”.

Dit is om te midde van ons menslike beperkinge te kan Ja se vir mense.

Dit is om te midde van die gebrokenheid van die kerk te kan ja sê vir gemeenskap.

Dit is om te midde van boosheid – ook in onsself – te kan ja sê vir goedheid.

Dit is om te midde van donkerte te kan ja sê vir skoonheid.

Dit is om te midde van dood en doodsheid te kan ja sê vir lewe.

Ek dink ‘n mens sou ook kon toevoeg dat hierdie fundamentele Ja as grondhouding vir ons lewe en ons bediening of werk, nie beteken dat ons nie soms “Nee” kan of moet sê nie.

In Maria se kragtige lied, die Magnificat, wat ons in die volgende hoofstuk in Lukas vind, lees ons dat Maria sing van ‘n God wat “hoogmoediges in hulle eiewaan uitmekaar jaag” en “maghebbers van hulle trone afruk.”  ‘n God, dus, wat “Nee” sê vir magsmisbruik, verontmensliking en ongeregtigheid.

Maar ons “Nee” mag nooit ontspring uit ‘n perverse houding wat ander wil seer maak, verneder, of omdat ons self bang is, of nie bereid is om te verander nie. Ons “Nee” moet  altyd in diens wees van die beskerming en bevestiging van God se genadige “Ja” vir alle mense, vir dan sy “Ja” op ‘n besondere manier vir die verontregtes en noodlydendes.

Helgard en gemeente, ek sluit af:

Mag julle bediening saam ‘n viering wees van God se Ja, in Christus en deur sy Gees, vir ons en die res van die skepping.

Helgard, mag die Ja wat jy vroeër gesê vir die genademiddele van Woord en sakramente, asook vir jou verbintenis aan gemeenskap, jou bediening stempel.

En mag jy begenadig word om op beslissende oomblikke, maar ook in die sleurgang van die alledaagse lewe, met beliggaamde vreugde te kan sê: Hineni. Hier is ek.

Ek meen dat daar min mooier verwoordings van die diep geheimenis van dié Ja, van die Hier is ek!, is as ‘n Afrikaanse gedig uit ‘n bundel wat onlangs verskyn het nie. Helgard, jy ken die gedig en die digter, jou mede-studieleier Willie van de Merwe, goed. Dit is uit die bundel Doodmenslik en die gedig heet “Optelsom”.

“Optelsom” is ‘n kort gedig van vier reëls en lui as volg:

“Jesus min my

tel my op

maal my, deel my

tot ek klop.”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Prof. Robert Vosloo word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.