Lukas 19:29-44

14 April 2019

Palmsondag & Doop
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Andre Bartlett beskryf iewers Jesus se intog in Jerusalem op Palmsondag as sy “intog in vyandsgebied.”

Dit is ’n baie akkurate beskrywing, want met sy intog in Jerusalem begin die beslissende konfrontasie tussen Jesus en die leiersfigure wat in beheer was van die Joodse volk.

Jerusalem was vyandsgebied, se hy, omdat dit “die sentrum was van hulle wat Hom van die begin af gewantrou het, toenemend weerstand gebied het teen sy optrede en begin soek het na ’n manier om van Hom ontslae te raak.”

“Met sy intog daag Hy die mag van die vyand uit, omdat Jerusalem nie bedoel was om die sentrum van menslike uitbuiting en magsuitoefening te wees nie, maar om die stad van God te wees; d.w.s. die sentrum van God se shalom, God se orde van reg en geregtigheid, omgee en ontferming; ’n orde wat totaal anders lyk as die wanorde van menslike uitbuiting, verdrukking en die instandhouding van onregverdige sisteme.”

***

Daarom was dit ook gepas dat Jesus se aankoms in Jerusalem oorvleuel het met die Pasga-fees van die Jode – die groot feesdag waarop God se oorwinning oor slawerny en onderdrukking gevier word.

Op daardie stadium was Jerusalem beset deur die Romeinse ryk. Pontius Pilatus, Goewerneur van Judea verteenwoordiger van die Romeinse ryk en van die Pax Romana (27 v.C. tot 180 n.C.), die Romeinse Vrede.

Rome het geheers deur middel van plaaslike heersers (in Jerusalem was dit die ryk familiehoofde, die priesters, die skrifgeleerdes). In ruil vir allerhande belastings, wat die priesters en familiehoofde gehelp het om in te vorder en na Rome te stuur, het Rome weer vir die plaaslike leiers militêre en politiese beskerming gebied.

Gedurende die Pasga-fees het die stad oorgevloei van mense. Die populasie groei gedurende daai week van 50 000 na 200 000 – dit is ’n drukpot van emosies, van pynlike herinneringe, van verkalkte woede en frustrasie.

Oral roep mense “Hosanna!” wat letterlik beteken “red nou!” Die vraag na redding, na verlossing, na God se oorwinning oor die bose was dringend en opdringend. Dit was nie ’n abstrakte vraag vir teoloë om te bepeins nie, maar ’n diep sug wat tasbaar regdeur die stad gehoor en gevoel kon word.

[Met die verkiesings wat al hoe nader kom, is daar ’n soortgelyke energie in ons land se stede.]

***

In ’n baie interessante boek, wat vir ons ’n geskiedkundige perspektief bied oor die laaste week van Jesus se lewe, skryf die twee Bybelwetenskaplikes, Dominic Crossan en Marcus Borg, dat daar heel waarskynlik twee intogte op daardie ‘Palmsondag’ in Jerusalem plaasgevind het.

Die een, uit die Ooste, dié van Jesus, het ons so pas van gehoor. Maar daar was ’n tweede intog, uit die Weste, waarvan Lukas se eerste hoorders al te bewus sou gewees het, toe hulle die storie van Jesus op die geleende donkie gehoor het.

Met die aanbreek van die Pasgafees sou Pilatus vanaf sy somerpaleis op die Weskus van Israel opgetrek het na Jerusalem. Dit sou ’n massiewe intog gewees het: vlae, tromme, trompette, gewapende soldate, vuurwaens en ruiters op perde.

Verbeel dit vir ’n oomblik: sien die glans van die son op die metaal van die wapens; hoor die lawaai van die hoewe en die tromme, die blaas van trompette en die gejuig van die skare; ruik die sweet van die perde, die stof wat oral opgeskop word; voel die geskud van die aarde, die spanning en vrees in die lug.

Midde van die intog sou die Goewerneur, in militêre drag geklee, op ’n perd die stad binnekom. Volgens wet mag niemand behalwe hy op daardie perd gery het nie. ’n Sirkus van mag en krag om die plaaslike bevolking sonder enige twyfel bewus te maak van wie in beheer is. Dis hoe die vrede van Rome werk.

En die koste om hierdie propaganda-masjien aan die gang te hou? Wie betaal die rekening?

Die armes, natuurlik, wat met hulle offergawes Jerusalem to stroom. Die tempelterrein bedrywighede het verseker dat belastings betaal word. En soos die Romeinse ryk uitbrei, word al hoe land en besittings en welvaart van mense afgeneem en teruggelei Rome toe.

Ons moet probeer om ’n gevoel te kry vir hoe alomvattend en oorweldigend van aard sulke groot oorheersings-sisteme is. Wat so ’n sisteem so effektief maak is dat naderhand so normaal word. Dit beperk ’n mens se verbeelding sodat dit mettertyd na die enigste werklikheid lyk, die enigste moontlike oplossing, ons enigste redding en verlossing.

So word ’n mens ingesuig in die logika van probleme oplos met mag en geweld en vrees; ’n logika van hebsug en gierigheid. Neem die Joodse leiers as ’n voorbeeld. Meeste van hulle was op ’n persoonlike vlak nie slegte, bose individue nie.

Dis die aard van die bose: dis nie iets daar buite nie. Dit sluk ons in. Soos iets met groot swaartekrag betrek dit alles rondom dit in ’n bose kringloop. Op die oog af belowe dit redding en vrede, maar dit bly ’n sisteem van oorheersing. Selfs al wil ons dit teenstaan, is ons geneig die bose na te boots, probeer ons om die bose met die bose te bestry, volgens sy eie logika van mag en kompetisie.

Maar dan, vanaf die Ooste, via die klein dorpies van Betfage en Betanië, wys Jesus vir ons ’n ander weg. Hy bring verlossing. Hy bring God se vrede en geregtigheid.

Vir daardie vrede om grond te vat moet hy egter eers die mense van Jerusalem – en vir ons – verlos van hulle gehegtheid aan die vrede wat Rome vir ons belowe. Ons moet eers verlos word van ons betowering deur menslike vertonings van krag, van ons vaskleef aan mammon; van ons verslawing aan geweld en sekuriteit.

Jesus wil ons verbeeldings vrymaak van die beklemmende atmosfeer van Rome sê, mag, sodat ons weer God se alternatiewe koninkryk kan sien.

Daarvoor het Jesus sy eie prosessie, baie strategies beplan. Sy prosessie is ’n vorm van protes-kuns. Jesus skep ’n parodie van wat in die Weste van die stad aangaan:

Rome se rykdom is bekom deur besittings af te vat, deur die invordering van ondraaglike belastings. Jesus moet ’n donkie by iemand leen.

Keisers kom stede binne op perde wat vir hulle gereserveer is. Vir Jesus het die God ’n donkie voorberei, en hoewel niemand al ooit op hierdie donkievul gery het nie (dit sou dus geskik wees vir ’n koning) sal hierdie donkie weer aan sy eienaar terugbesorg word, baie mense sal in die toekoms nog op hom ry.

Pilatus kom vanaf sy somerpaleis; Jesus is afhanklik van die gasvryheid van melaatses in die klein dorpie Betanië op die uithoeke van die groot stad. Ons het verlede week gehoor oor die vreeslose gasvryheid wat Jesus in Betanië ontvang het.

Pilatus beset die stad met groot lawaai en bohaai, ’n multi-miljoen dollar propaganda masjien, betaal deur dieselfde mense wat dit manipuleer, Jesus word gevolg deur al die mense wat hy op sy weg na Jerusalem gehelp het, wie hy genees en gevoed het. Hulle het nie baie nie, maar wat hulle het, dit gee hulle: hulle gee hulle klere vir Jesus se saal. Hulle gooi hulle bo-klede voor Jesus uit om vir hom ’n pad te maak. In plaas van vlae, pluk hulle maar takke van die bome af.

Op hierdie kreatiewe manier, gebruik Jesus parodie en satire om die absolute oormatigheid van die Romeinse weermag-masjien bloot te lê. Hy terg vir Rome, hy spot met die keiser, hy is soos die seuntjie wat uitwys dat die Keiser eintlik kaal is. Hy sien deur die oorbodige magsvertoning en wys dit uit vir die sirkus wat dit eintlik is.

So daag hy nie net Romeinse ryk uit nie – maar ook die Joodse drukgroepe wat vir Rome op sy eie speelveld wou aanvat, naamlik deur politieke mag of militêre geweld. Daarom is Jesus se eerste publieke optrede nadat hy in Jerusalem aangekom het om die tempel te reinig.

Anders as Rome, wat vrede handhaaf deur die swaard, vergestalt Jesus self die vrede wat hy verkondig in die nederige, diensbare manier waarop hy die stad ‘beset’. Van sy doop in die Jordaanrivier, tot sy intog in Jerusalem, is dit een lang spoor goeie werke waardeer hy mense wat op verskillende maniere gevange was vrygemaak het en verwerptes ingesluit het.

Hy stort trane oor Jerusalem, al is dit vyandsgebied. Hy bring bevryding vir so wel die onderdrukte as die onderdrukker.

***

So leer Jesus vir ons dat die weg so belangrik is soos die einddoel. ’n Mens kan nie vrede as jou doel bereik as geweld en onderdrukking jou voertuig is nie. Die weg van vrede is egter ook die lang en nederige weg van broosheid.

Waar ons uitkom, hang af van waar ons begin, hoe ons daarheen ry.

Op hierdie Palmsondag waarop ons ook die doop vier, moet ons dalk ook terugdink aan die begin van die lydenstyd, waar ons herinner is aan Jesus se doop. Dalk sien ons eers die volle uitwerking van Jesus se doop op Palmsondag, by sy intog in vyandsgebied. Want op daardie dag, was dit krities dat hy geweet het wie hy is, aan wie hy behoort, en waarvoor hy staan.

Dalk is dit ook die betekenis van ons doop: dat ons daardeur gesalf word vir ons eie intog in vyandsgebied, ons eie intog in ’n wêreld wat kies vir die vrede van Rome eerder as die lewegewende sjaloom van God.

Soos die tempelterrein wat gewemel het in diens van Rome se vrede, eerder as God se lewegewende sjaloom, kan ons tempels en ons lewens ook vir God se sjaloom geslote wees. Al is dit nie ons bedoeling nie, kan ons deur die brute swaartekrag van ’n magsisteem ingesuig word en begin sig verloor van enige alternatief.

Dan het ons dae soos vandag nodig om weer herinner te word wie ons ten diepste is, aan wie ons behoort, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

Vandag begin ons intog in die Groot Lydensweek in. Ons word opgeroep om vir Jesus te volg, deur Goeie Vrydag na Paassondag, deur Jesus kruisdood na sy opstanding.

By hierdie drempel los ek ons met net ’n paar vrae – geen antwoorde nie. Vrae wat ons as pelgrims op Jesus se weg, as dissipels van Jesus hierdie week saam met ons kan dra. Pelgrims moet lig reis – hulle het alleen plek vir vrae, antwoorde is te swaar.

In watter prosessie is ons/ek? Met watter logika voer ek die stryd teen die bose?

Waar is my Betanië? Waar word ek geestelik en liggaamlik versorg en gevoed sodat ek met moed en doelgerigtheid op die beslissende oomblik oor die drempel kan tree? Hoe kan ek – in my eie lewe – God se vrede nie net ’n eindbestemming maak nie, maar ’n lewenswyse – nie net ’n doel nie, maar ook die weg wat daarheen lei?

Lukas 3:15-18; 21-22

13 Januarie 2019

Eerste Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Lukas se vertelling van Jesus se doop in die Jordaan-rivier bied vir ons ’n geleentheid om na te dink oor die betekenis van ons eie doop, waaraan ons so pas weer herinner is.

Wat beteken dit om as gedoopte persone in gemeenskap te lewe?

***

Die teoloog, Henri Nouwen, met wie se werk ek vermoed baie van julle vertroud sal wees, het graag na Jesus se doop in die Jordaan verwys as dié kern belewenis van Jesus se publieke lewe. Die kernmoment van Jesus se bediening was toe hy die stem gehoor het wat vir hom sê: “Jy is my geliefde seun. Oor jou verheug ek my.”

Hier is Jesus op ’n diep, diep manier herinner aan wie hy is: ’n geliefde kind van God.

Onmiddellik na sy doop, gevul met dieselfde Gees wat hom aan hierdie identiteit herinner, word Jesus in die woestyn ingelei. Veertig dae in die woestyn om met hierdie nuwe identiteit te worstel, om vir homself duidelik te maak wat dit beteken om ’n kind van God te wees. Veertig dae vir Jesus om te aanvaar wie hy ten diepste is.

Dit laat ’n mens dink aan die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn moes deurbring nadat hulle ook deur die waters, in hulle geval die waters van die Rietsee, uit hulle slawerny in Egipte ontsnap het. As ’n volk moes hulle ook met ’n nuwe identiteit worstel: hulle moes hulle identiteit as slawe agterlaat en afleer, leer dat hulle aan niemand behoort nie behalwe aan God; leer wat dit beteken om God se kinders en beelddraers te word.

En soos die versoeking vir die Israeliete groot was om terug te draai na die vleispotte van Egipte, waar hulle as slawe darem goed geëet het, moes Jesus ook versoekings verduur. Die versoekings wat Jesus daar moes weerstaan was bowenal die versoeking om hierdie identiteit as geliefde van God te verlaat, die versoeking om te glo dat hy iemand anders is:

“Jy is die een wat klippe in brood kan verander. Jy is die een wat van die tempel af kan spring. Jy is die een wat ander voor jou mag kan laat neerbuig.”

“Nee, nee, nee,” sê Jesus. “Ek is die geliefde van God.”

Daarom is ek nie in die eerste plek wat ek kan verrig nie. Ek is nie wat mense van my nie, nie mense van my verwag nie. Ek is nie wat ek besit nie. Nee, Ek is ’n geliefde kind van God.

Tydens daardie veertig dae moes Jesus leer dat hy aan niemand behoort nie behalwe aan God.

“Jy is my geliefde Seun,” klink die stem uit die hemel.

Dus, ek behoort nie aan myself nie. Maar ek behoort ook nie aan enige iemand anders nie. Ek behoort aan God. Ek is geliefd deur God. God vind vreugde in my.

Dit is waaraan ons onsself vanoggend weer herinner het toe ons ons hande in die doopbak gesteek het. En ek hoop jy kan maniere vind om jouself gedurigdeur, in die loop van jou dae en weke, hieraan te herinner:

Ek behoort aan God. Ek is geliefd deur God. God vind vreugde in my.

Dít is wat Jesus vir homself moes uitmaak in die woestyn. Sy identiteit as God se geliefde hang nie af van sy sukses nie – van die prestasies wat hy behaal het nie; dit hang nie af van sy gewildheid nie – van sy aanvaarding deur mense nie; dit hang nie af van sy mag of vermoëns nie – van waartoe hy in staat is of nié is nie.

Daarom was Jesus se doop in die Jordaan so bepalend vir sy publieke lewe. Aan die begin van sy bediening, nog voordat hy enige iets prysenswaardig gedoen het, is hy daaraan herinner dat sy diepste identiteit gewortel is, nie in homself nie, nie in enige ander nie, maar alleen in die liefde van God. Daar sou tye kom waarop hy geprys sou word, en daar sou tye kom waarop hy verwerp, verraai en verlaat sou word. Daar sou tye kom waarop hy wondere sou verrig, maar daar sou ook tye kom waarop hy die eensaamheid en weerloosheid en magteloosheid van menswees moes omhels.

Dis die groot geheimenis van Jesus se lewe: dat hy in al hierdie omstandighede nooit sig verloor het van sy identiteit in God nie. Maar om dit reg te kry, moes Jesus, soos ons ook vanoggend gedoen het, homself telkens weer herinner aan sy doop, aan daai stem wat sê: “Jy is my geliefde. Ek vind groot vreugde in jou.”

Ons sien hoe selfs Jesus nooit die behoefte ontgroei het om in afsondering en gebed vir God te soek nie, om weer en weer, veral wanneer hy begin twyfel het, te gaan luister vir daai stem wat sê: “jy is my geliefde Seun.”

En dalk is dit al wat gebed is… Om onsself gereeld af te sonder en stil genoeg te word, sodat ’n mens tussen al die stemme wat vir jou sê, “jy is nie goed genoeg nie,” “jy behoort nie hier nie,” “dit is hopeloos,” weer herinner te word aan ons diepste identiteit as geliefdes.

En die rede hoekom ons daarvoor moet stil word is omdat, soos jy weet, jou eie stem gewoonlik die luidste en die mees afbrekende kan wees.

***

Ek weet nie van julle nie, maar dit bied vir my groot troos… en hoop… om te hoor hoe selfs Jesus aan hierdie identiteit herinner moes word en hoe hy keer op keer weer na hierdie waarheid moes terugkeer. Om te sien hoe selfs Jesus God se genade en sorg weer en weer moes ontvang, laat my so bietjie minder soos ’n loser voel. Dit troos my. Dit gee vir my hoop.

En tog, vir baie mense was hierdie verhaal juis ’n verleentheid en ’n struikelblok. Ons lees immers hier hoe die Messias saam met die massas, sondaars van elke skakering, deur ’n populistiese moeilikheidmaker, Johannes, in ’n modderige rivier gedoop word!

Vir baie mense was dit juis hierdie gerig, dat Jesus deur Johannes gedoop is, wat die duidelikste teken was dat hy nie die Messias is nie! Hoe kan die Seun van God saam met sondaars ’n doop van bekering ondergaan!? Waarvoor moes Jesus hom bekeer?

En tog het die evangelieskrywers soos Lukas gekies om Jesus se doop ’n prominente plek in hulle vertellings van sy lewe te gee. Ten spyte van die verleentheid, het die vroeë kerk dikwels teruggekeer na Jesus se doop om oor die betekenis van hulle eie doop na te dink

Om gedoop te word is om saam met Jesus in die Jordaan in te skuifel. En soos ek in die water afsak, sterf ek aan die ou mens – met sy die slawe-identiteit, met sy selfhaat, met sy selfsug, met sy eiewaan. En dan, soos ek uit die water uit opstaan, staan ek saam met Jesus op, soos hy op die derde dag opgestaan het: Ek is ’n geliefde. Ek behoort aan God. God vind groot vreugde in my.

Soos ons vroeër saam bely het, neem ons in ons doop deel aan die dood en opstanding van Jesus Christus.

***

Soos die vroeë kerk verder oor hierdie verhaal nagedink het, het hulle interessante verbintenisse begin opmerk tussen hierdie storie en nog ’n verhaal waarin daar water en gees en ’n stem was – die skeppingsverhaal uit Genesis.

In die begin, was daar ’n waterige chaos… en oor die chaoswaters was daar die Heilige Gees… en toe ontspring daar ’n wêreld. En God sê: “dit is goed.”

Die water en die Gees en die stem. ’n Mens kan sien hoekom die vroeë Christene die verband gemaak het tussen die doop en die nuwe skepping.

Die doop is ’n nuwe begin van God se kreatiwiteit. Dit is om, soos wat die asem van God oor die chaos van ons lewens waai, in God se pragtige orde in te beweeg. Soos wat Jesus uit die rivierwater opgekom het en die stem van die Vader hoor, so sê God by elke persoon se doop: “jy is my geliefde kind.” En met hierdie woorde begin ’n hele nuwe werklikheid waarin ons die weg saam met Jesus stap.

***

Die merkwaardige ding van hierdie herskepping is wat dit van Jesus verg. Dit verg dat hy in die dieptes van ons menslike chaos ingedompel word. Jesus moet in die dieptes van ons menslike werklikheid – in ons sinneloosheid, in ons hartseer en ellende, in ons weerloosheid en gebrokenheid – in die dieptes in moet Jesus neerdaal om ons van binne af te herskep.

Die nuwe skepping wat deur die doop tot stand kom is dus nie ’n mensheid wat altyd in beheer van alles gaan wees nie, wat altyd suksesvol gaan wees nie. Dit is ’n mensheid wat vanuit die dieptes van ons chaos, tog ’n hand kan uitsteek om aangeraak te word deur die hand van God.

Ek wil afsluit met een of twee gedagtes van die Britse teoloog, Rowan Williams, waarin hy reflekteer oor wat die beteken om as gedooptes te lewe.

Die weg van ’n gedoopte, sê hy, is ’n gevaarlike een. Ons moet eintlik ’n waarskuwingsbordjie vir ons doopvont kry wat sê: “As jy hierdie tree gaan neem, as jy in hierdie dieptes gaan ingaan, gaan dit opwindend en transformerend wees, dit gaan lewe-gewend wees, maar dit gaan baie, baie gevaarlik wees.”

Want, sê Rowan Williams: “If we were to ask the question, “where might you expect to find the baptized?” one answer is, “in the neighbourhood of chaos.”

“It means you may expect to find Christian people near to those places where humanity is most at risk, where humanity is most disordered, disfigured and needy. Christians will be found in the neighbourhood of Jesus – but Jesus is found in the neighbourhood of human confusion and suffering, defenselessly alongside those in need.”

Waar kan ons verwag om Christene te vind? In die buurt van die wêreld se chaos.

Maar dan gaan Williams vêrder: “I am inclined to add that you might also expect the baptized Christian to be somewhere near, somewhere in touch with, the chaos in his or her own life… A baptized Christian ought to be somebody who is not afraid of looking with honesty at that chaos inside, as well as being where humanity is at risk, outside.”

Om te sê ek is gedoop is dus nie om ’n ekstra waardigheid bo ander te hê nie, dis nie om ’n hoër klas mens te wees nie; dis veel eerder om ’n dieper solidariteit met alle mense te aanvaar en te betoon.

In die proses waardeur ek ontdek wie ek is, ontdek ek ook wie alle ander mense, alle skepsels van God, ten diepste is. As ek ’n geliefde is, dan is alle ander mense ook geliefdes. Alle mense behoort aan God en daarom aan niemand anders nie – ook nie aan my nie.

’n Byeenkoms van gedooptes is daarom nie ’n versameling bevoorregte, afgesonderde elites nie, maar ’n versameling mense wat mekaar help om te aanvaar wat dit beteken om in die hart van ’n morsige, behoeftige, chaotiese werklikheid te leef. Om dit anders te stel: ’n Mens gaan nie in die Jordaan rivier in sonder om ’n klomp modder op te skop nie!

Die groot misterie van Christenwees is dus: om in die dieptes van God se oorvloedige liefde gedompel te word en, terselfdertyd, in die dieptes van die wêreld se lyding en ellende en sonde.

Ons is vanoggend daaraan herinner dat dit is waar Jesus kies om te staan.

Die vraag waarmee ons vanoggend hier weggaan is of dit ook is waar óns kies om te staan?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Genesis 21:8-12 – 2017

2 Julie 2017 Koninkrykstyd Pinelands – Doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Agtergrond

Die aartsouerverhale.

Die verbondsbelofte van grond en ‘n nageslag (Gen 12 & 15)

Abram en Sarai (eintlik kom die inisiatief van Sarai) wat self plannetjies maak om God se belofte te laat realiseer – neem my slavin Hagar wat jonger is as ek, haar kind sal elk geval myne wees want sy behoort aan my… (“Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Miskien bring sy ‘n kind in die wêreld wat my eie kan word” 16:2).

Abram het met Sarai saamgestem en Hagar het toe wel swanger geword. Hagar wat wegloop omdat Sara haar so sleg behandel toe sy swanger is, en 16:11 God: “Noem hom Ismael want die Here het jou swaarkry gehoor”, en 16:13 Hagar: “U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het”.

Ons leer iets van hoe God sien, wie God raaksien en hoor – in die OT altyd die onderdrukte, die een in nood.

Hagar gaan terug na Sarai maar hul verhouding is sleg. Toe Abram 99 jaar oud was het die Here weer aan hom verskyn, en sy naam verander na Abraham en Sarai se naam verander na Sara, want, het God gesê, “ek sal haar seën en vir jou ‘n seun uit haar gee” (17:16). Abraham het gelag en gedink: Hoe kan ‘n man van 100 en ‘n vrou van 90 ‘n kind in die wêreld bring? Later sou Sara ook lag oor hierdie belaglike belofte (18:15). Maar soos die Here beloof het, is die seuntjie Isak (wat “lag” geteken) toe wel gebore. En die kind van Sara se slavin Hagar, die kind Ismael wat sy as haar eie wou grootmaak, is skielik nie meer vir haar belangrik nie.

Teks

Vs 8: Kinders is gespeen rondom die ouderdom van 2 of 3. In die lig van die hoë sterftesyfer in daardie tyd het babas dikwels nie oorleef nie. Wanneer ‘n baba dan in sy 2e of 3e jaar gespeen is, is dit as ‘n groot mylpaal beskou. Die eerste lewensfase is agter die rug en die kanse vir oorlewing is van nou af veel groter. Die familie het met die geleentheid ‘n groot fees gehou as ‘n tipe oorgangsrite vir die kindjie.

Wat gebeur as Sara sien hoedat ouboet Ismael met Isak speel – sy sien bedreiging en sy wil hê dat dit uit die weg geruim moet word.

BH letterlik: Ismael het met Isak ge-Isak (dws dalk sien Sara dat Ismael met klein Isak speel soos wat ‘n ouboet, ‘n erfgenaam met sy kleinboet speel en dit tref haar toe: Die rolle is verkeerd, Ismael kan nie die erfgenaam wees nie.)

Vs 11: Wat sien Abraham? “Dit was boos/baie sleg in Abraham se oë”

(Die naam “Ismael” kom nie in die teks voor nie. Die hele verhaal gaan oor Ismael maar hy word net genoem die “kind van die slavin”.)

Vs 12: God: “Dit moenie boos wees in jou oë oor die kind en oor jou slavin nie…” (God bring die slavin as persoon self ook in, nie Sara of Abraham nie – amper asof sy vir hulle net ‘n middel tot ‘n doel was, ‘n surrogaat ma.

Vs 14 lett: “Hy het kos en water geneem en dit aan Hagar gegee daar op haar skouers, en hy het die seun (vir haar) gegee en hulle laat gaan (ontslaan – dieselfde woord as om slaaf vry te stel of om te skei van jou vrou)”; dws BH teks noem nie dat hy die seun op haar rug getel het nie. Ismael was elk geval al so 15/16 jaar oud en dus te groot om deur sy ma ge-abba te word.

Sy het gefouteer – verdwaal in die woestyn.

Vs 15: “neergesit” = letterlik “gegooi” soos wat Josef in die put gegooi was en soos wat lyke soms in die graf gegooi is. Met die agterlaat onder die bos het sy hom dus “lewendig begrawe”, wetend hy gaan daar sterf.

Vs 16: “oorkant op ‘n afstand soos wat mens kan skiet met ‘n pyl”

Hagar wil nie sien hoe die kind sterf nie.

“sy het haar stem opgelig en gehuil”

Vs 17: FOKUS:

וַיִּשְׁמַ֣ע אֱלֹהִים֮ אֶת־ק֣וֹל הַנַּעַר֒ וַיִּקְרָא֩ מַלְאַ֨ךְ אֱלֹהִ֤ים׀ אֶל־הָגָר֙ מִן־הַשָּׁמַ֔יִם וַיֹּ֥אמֶר לָ֖הּ מַה־לָּ֣ךְ הָגָ֑ר אַל־תִּ֣ירְאִ֔י כִּֽי־שָׁמַ֧ע אֱלֹהִ֛ים אֶל־ק֥וֹל הַנַּ֖עַר בַּאֲשֶׁ֥ר הוּא־שָֽׁם׃

(En Hy het gehoor God (Ishma El-ohim) die stem van die kind en hy het geroep die engel van God tot Hagar vanuit die hemel en gesê vir haar: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want Hy hoor God (Ishma El-ohim na die stem van die kind daar waar hy is.)

Gryp terug na Ismael se naamgewing toe Hagar uitgebuit en swanger en in die woestyn rondgedwaal het (16:11): “Jy moet hom Ismael noem, want die Here het jou swaarkry (affliction) gehoor”. NOU hoor God weer die kind se swaarkry – Vers 17 begin met Ismael se naam maar nie as eienaam nie, wel as werkwoord – God het gehoor die stem van die kind. En aan die einde weer: Moenie bang wees nie Hagar want (lett:) God hoor (Ismael) na die stem, maar die preposisie el bou ‘n oorgang vanaf hoor >luister, dws gee gehoor, doen iets daaraan, aan hierdie nood vd kind daar waar hy is (onder die bos)!

Vs 18: “staan op, tel (>help) die kind op en hou jou hand in syne (>hou sy hand vas)…” Moet hom net nie los nie, Hagar!

V19: God help vir Hagar om anders te sien, verder te kyk, nie net na die leë velsak in haar hand nie, maar om die put daar anderkant raak te sien. God help Hagar om uitkoms raak te sien.

Boodskap

Op die dag van die fees het Sara toegekyk hoedat die seun van die slavin met haar enetjie speel. Dit lyk na ‘n rustige prentjie wat voor Sara se oë afspeel (alhoewel sommige kommentatore hier onheil raaksien om Sara se gedrag te ondersteun – bv hy het vir Isak getart, met hom geloll – maar geen tekskritiese ondersteuning hiervoor) en presies daar begin sy die gevaar vir haar eie seun aanvoel. Die oorsaak vir haar onrus lê in wat sy sien. Sy sien nie meer die seun wat sy so graag deur haar slavin Hagar as haar eie wou “aanneem” nie. Noudat sy haar eie seun het sien sy vir Ismael in ‘n nuwe lig – as die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het. As die seun wat as eersgeborene van sy pa haar eie seun se toekoms gedreig. En daarom ook haar toekoms bedreig. Want die toekoms van ‘n vrou het by haar seun gelê. Die eersgeborene is die primêre erfgenaam, en dit kan Sara nie toelaat nie. Ismael, die kind van die slavin, mag nie as eersgeborene erf nie. Nie noudat sy haar eie seun uit haar eie liggaam gekry het nie. Vandaar haar harde opdrag aan Abraham dat hy die slavin en haar seun moet wegjaag. Sara praat so neerhalend oor hulle dat sy hulle nie eens by die naam noem nie.

Abraham wou nie aan Sara se versoek toegee nie. Hy het gedink dat dit heeltemal verkeerd, selfs boos is om hierdie Ismael seun van hom weg te jaag. Maar God het vir hom gesê om nie sleg te voel oor die kind en sy slavin-byvrou nie, maar om te doen wat Sara vir hom sê. “Want,” herinner God hom, “uit Isak sal jou nageslag gebore word.” Maar dan voeg God die trooswoorde by, ‘n belofte: “Tog sal Ek die seun van die slavin ‘n nasie laat word, want hy is jou kind (jou saad).”

Die volgende oggend het Abraham toe vir Hagar en die kind weggestuur, die Bersebawoestyn in. Die manier waarop hy die kos en water op Hagar se skouers sit en die kind vir haar gee, spreek diep. In hierdie gebare sit alles wat hy nie kan verwoord nie. Liefde en die begeerte om vir oulaas te versorg, maar terselfdertyd oorgawe, hartseer en afskeid.

Hagar en die kind, oppad na die land van haar herkoms, Egipte, het verdwaal en in die woestyn rondgeswerf. Die kos en water het nie gehou nie. Toe die water opraak het die uitsigloosheid Hagar oorval. Sy het gevoel dat sy nie kan toekyk hoe haar seun doodgaan nie. Daarom het sy hom onder ‘n doringbos agtergelaat, eintlik verwerp (begrawe!). ‘n Stukkie skaduwee. En sy het ‘n ent daarvandaan gaan sit en onbedaarlik begin huil.

Hierdie verhaal is opgebou uit soveel onreg en wreedhede. ‘n Kind wat waarskynlik nooit daar moes wees nie word gebore omdat Sara en Abraham nie vir God vertrou in sy belofte van ‘n nageslag nie en konkel met hulle eie plannetjies om deur die slavin Hagar tog ‘n nageslag te verseker. Hulle wil God se belofte in eie krag tot vervulling bring. Sowat 13/14 jaar later vervul God wel sy aanvanklike belofte en Isak word uit Sara gebore. Na 2 of 3 jaar het Isak sy eerste kritiese lewensfase oorleef en die familie vier fees omdat ‘n toekoms inderdaad vir hom wink. En tydens die fees trek die oudste seun Ishmael Sara se aandag. Die seun wat in die eerste plek die produk van haar slim plannetjies was, speel en lag saam met haar eie seun Isak, en Sara sien skielik met kommer die toekoms vooruit – ‘n toekomsblik waarin Ismael nou in die weg staan van Isak se erfporsie. Die bedreiging wat sy aanvoel maak dat sy drasties optree en daarop aandring dat Abraham die slavin en haar seun Ismael moet wegjaag. Abraham skop teë. Hy kan nie dink dat hy sy seun Ismael en die se ma Hagar (God herinner hom dat sy ook daar is) moet wegjaag nie. Maar God maak nogmaals ‘n belofte dat Abraham tog moet doen soos Sara sê, want dit ís uit Isak wat sy nageslag gebore sal word, maar dat Hy wat God is ook vir Ismael ‘n groot nasie sal laat word, want ook hy is Abraham se kind. En met hierdie belofte van God in sy hart laat Abraham dan die volgende oggend vroeg vir Hagar en Ismael gaan. Sara gooi haar aanneemkind weg. En Abraham stuur hom weg. Nie omdat hy iets verkeerds gedoen het nie. Bloot maar omdat hy nou in die pad is, hy is oorbodig, nie meer nodig nie. En dan in die woestyn gooi sy eie ma hom eintlik ook weg; nie omdat sy wil nie, maar omdat sy nie anders kan nie. Sy sien nie kans om saam met hom onder dieselfde bos te sit en toe te kyk hoe hy sterf nie. En sy begin onbedaarlik huil. ‘n Wrede verhaal vol ongeregtigheid.

Maar in wese is hierdie nie primer ‘n verhaal oor menslike wreedheid en afguns nie, maar oor die trou van God. Want die kind het ook gehuil, daar op sy eie onder die bos – wees en verstote, waar sy ouers nie meer vir hom kans gesien het nie. En Gód het die kind hoor huil, en ‘n engel het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy gelê gehóór” (17). Wanneer mense, en ouers, hier hulle koppe wegdraai en hulle ore sluit vir die nood van hul kinders, dan hoor God. “’Staan op (Hagar), help die kind op en hou sy hand vas, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.’ Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien … God was by die kind en hy het grootgeword …”

Al lees ons nooit sy naam in die storie raak nie, gaan hierdie verhaal oor Ismael. Daar word deurgaans na hom verwys as “die kind van die slavin” of bloot maar “die kind”. So asof die storieverteller al hierdeur wil wys hoe onbelangrik die kind nou regtig was. Hy is nie eens werd om by die naam genoem te word nie, verál nie noudat Isak – die kind van die belofte – uiteindelik gebore is nie. Maar op ‘n indirekte manier word Ishmael se naam wel genoem, aan die begin en dan weer aan die einde van die belangrikste vers 17; en dan nie in die vorm van ‘n eienaam nie, maar as ‘n werkwoord: “Isma Elohim”. “Isma” beteken “hoor”. “Elohim” is die langer vorm van “El”, wat “God” beteken. “Ishma El”, God het die kind gehoor – Ishmael. Sy naam kry betekenis wanneer God betrokke raak. En dan het hy nie net ‘n noemnaam nie. Hy het ‘n werkwoord vir ‘n naam. God verander sy lot – Ishmael, God hóor en God gryp in en God bring uitkoms. Die weggooikind van mense, die weggooikind van die Godsvolk, word die optelkind van God.

Die kind Ishmael se naam, sy identiteit, lê  nie in die vreemde nie, nie in Egipte nie, nie daarin dat hy die vader van die Islam geloof en die Moslems is nie. Sy identiteit lê ten diepste in die God van Abraham en Isak en Jakob. Dis Gód wat hom sy naam gegee het en dis God wat Pa staan vir hierdie naam, Gód wat sien, Gód wat hoor, Gód wat ingryp, Gód wat toeëien.

God is getrou aan sy beloftes. Hy het wel vir Isak, en nie vir Ishmael nie, uitverkies om deur hom aan Abraham die groot nageslag te gee. (Deur hom, nie vir hom nie. Deur hom vir almal, “want deur jou sal al die nasies van die aarde geseën wees. Al die nasies…”) Maar God se verkiesing van Isak beteken nie die verwerping van Ishmael nie. (Net soos sy liefde vir Jakob nie sy haat vir Esau beteken, soos wat die vertalings ons wil laat verstaan nie. Terloops: interessant dat Ishmael later die skoonpa word van Esau, nog ‘n weggooikind… – ‘n storie vir ‘n ander dag.) Ook Ishmael kry ‘n groot nageslag, ook aan hom toon God sy genade. In die Moslemwêreld word Ishmael onthou vir sy regmatige plek – as die eersgeborene van Abraham, en as hulle eie voorvader. God dink nie net aan die kind van die belofte nie. Hy dink aan al sy kinders. Hy dink met besondere deernis aan die kinders wat deur ander uitgesluit of weggegooi word. God hoor mense wat deur ander uitgesluit, weggejaag, vir dood gelaat word… God dink aan die kinders vir wie daar nie plek is onder die sg Godsvolk nie…

Ons het vanoggend gedoop. Die doop wat in die NT die besnydenis van die OT vervang. Waar begin die besnydenis nou weer? In Genesis 17 stel God die besnydenis in as teken van sy verbondsbelofte aan Abraham. Die eerste een wat Abraham gevat het om besny te word… is Ishmael! Ishmael het heel eerste die teken gedra van die verbond wat God met Abraham gesluit en deur Isak se nageslag tot vervulling wou bring (toe Hy nog gehoop het die volk sal saamwerk binne hierdie plan). Nog voor Isak se geboorte was Ishmael reeds ingesluit in die breër belofte van God se trou. Norman en Anina, Jannas is vanoggend gedoop. Ook hy dra die teken van die nuwe verbond. Ek weet hy sal nooit uitgesluit, nooit weggegooi voel nie, want julle is sy ouers. Maar hy leef in ‘n land en ‘n wêreld waar hy maatjies gaan hê wat uitgesluit voel. As julle hom so grootmaak dat hy vir God leer ken as die God van Abraham, Isak en Jakob, dan is dit wonderlik. Maar nog veel beter en belangriker as dit, is dat julle hom moet help om vir God te leer ken as die God van Ishmael (en ja, ook die God van die buite-egtelike kind Jesus). Dan sal Jannas ‘n groot verskil maak in die wêreld, dan sal hy sien vir wie God sien, dan sal hy hoor wie en wat God hoor, die noodroepe van mense. Ons dien nie ‘n eksklusiewe God nie, maar ‘n inklusiewe God.

Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van die God van Ishmael, en die nabyheid van sy Gees is by julle elkeen. Gaan uit en vertel dit vir die Ishmaels in die wêreld.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matt 5:38-42 – 2016

27 November 2016 Pinelands –  Doop
Prediker: Dr Tiana Bosman 

  1. Pinelands se verklaring oor die BAS 2016 besluit aan die gemeente voorlê.
  2. Doop
  3. Matt 5 en preek

YouTube video: Slap her Agtergrond: Seuns van 6-11 jaar oud:

“Wat is jou naam?
Hoe oud is jy?
Wat wil jy wees as jy eendag groot is? Waarom?
Ontmoet vir Martina…
Waarvan hou jy aan haar?
Streel haar nou.
Trek gesigte vir haar.
En nou… Klap haar! Slaan haar hard! Komaan! Klap haar!”

Wys die hele video: 

“In die wêreld van kinders slaan mens nie aan vroue nie…”

Ek dink daar is groot ooreenkomste aan hoe kinders die wêreld sien en aan hoe God wil hê dat ons die wêreld sien. In God se wêreld, in sý koninkryk respekteer mense mekaar, waardeer ons mekaar, maak ons mekaar nie seer nie. Ek wil hê die kinders moet nou daaroor gaan saamgesels in kinderkerk. (Kinders verdaag)

Lees Matt 5: 38-42 (ideaal tot 48, maar ons tyd is beperk).

Ons is tans in SA besig met 16 dae van aktivisme teen geweld. Maar mag ons as Christene hieraan deelneem? Hoe rym dit met Matteus 5 se oproep van Jesus dat, as iemand jou op jou regterwang slaan, moet jy ook die ander een vir hom draai? Dit lyk dan eerder in die teks asof Jesus passifisme aanmoedig: Moet juis nie opstaan teen geweld nie; staan eerder terug, wees die minste, draai die ander wang.

Maar ís dit wat Jesus sê? Of is Hy dalk eerder besig om juis die kwaad aan die lig te bring, dit te ontmasker vir almal om te sien, dit aktief aan te spreek maar op ‘n nie-geweldadige manier? “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, ‘n hand vir ‘n hand en ‘n voet vir ‘n voet, ‘n wond vir ‘n wond, ‘n lewe vir ‘n lewe… (Eks 21:24, Lev 24:20, Deut 19:21). Julle ken die Bybelse voorskrifte waarvolgens mens geweld met geweld vergeld, dan nie?” Dit is hoe die Joodse volk die OT voorskrifte verstaan het in Jesus se tyd. “Maar Ek sê vir julle: Nee! Moenie geweld met geweld vergeld nie!”

Want, terloops – dit was ook nie die bedoeling van die OT wet nie. Die wet was nie daar om geweld as antwoord op geweld aan te moedig nie, maar eerder die teenoorgestelde: om dit te beperk. Die wet wou ‘n buitensporige vergeldingsdrang aan bande lê, want mens wil altyd iemand anders seerder maak as wat hy/sy jou gemaak het. Nikita Krushchev, een van die leiers van die Koue Oorlog, het dit baie goed verstaan toe hy sê: “Ons kommuniste het baie dinge in gemeen met Christus se leringe. Die enigste verskil tussen my en Christus is dat, wanneer iemand my op die regterwang slaan, slaan ek hom so hard op die linkerkwang dat sy kop afval.”

Wanneer die OT wet egter sê ‘n oog vir ‘n oog beteken dit nie wat die Jode in Jesus se tyd gedink het nie. Nee, as iemand jou oog neem en jy kan jou nie van vergelding weerhou nie, mag jy nie méér aan hom doen as om sy oog te neem nie.

Om Jesus se lering hier in die bergrede te verstaan, moet ons onthou wie die skare is met wie Hy hier praat. Jesus praat met mense wat aan die ontvangkant van die klappe staan, die nobodies in die samelewing. Hy praat met die mense wat in elk geval nie mág terugslaan nie, want dan sal hulle doodgeslaan word!

Maar wat sê Jesus vir hulle? In plaas van berus in die feit dat hulle altyd aan die ontvangkant van ‘n klap gaan staan, draai jou linkerwang vir die boosdoener sodat hy die ook kan slaan. Wat?!

Hoekom , dink die skare meteens, het niemand nog ooit hieraan gedink nie?! Want stel jou die volgende sosiale scenario in die Bybel voor: Mense mag nie hul linkerhande vir enigiets gebruik behalwe om onrein take te verrig soos hulself af te vee nie. Selfs om net ‘n gebaar met jou linkerhand te maak, kon jou ‘n straf van 10 dae se boetening in die sak bring. Die enigste manier waarop mens dus iemand kon slaan, was met die regterhand. En om die persoon op sy regterwang te slaan, sou beteken dat jy hom met die rugkant van jou regterhand klap, dws dat jy hom ‘n dwarsveeg gee. Dis die tipe houe waarmee meerderwaardige mense minderwaardige mense geslaan het. Dis die klappe waaronder kinders en vroue en slawe en arm kleinboere deurgeloop het. Dis hoe ‘n meerdere ‘n mindere op sy plek gesit het – nie soseer bedoel om seer te maak nie, maar erger nog, om te verneder.

Hierteenoor het gelykes mekaar of met die vuis bygedam of jy het met jou oop regterhandpalm jou gelyke broer van wie jy verskil het op sy linkerwang geslaan. Dit was ‘n eerbare hou. Wanneer Jesus dus vir die minstes in die samelewing sê: “As iemand jou op jou regterwang ‘n dwarsveeg gee, lig op jou kop, kyk die persoon vierkant in die oë en draai jou linkerwang vir hom. Dwing hom om jou menswaardigheid te ag, daag hom uit om jou op gelyke terme te slaan.

Hierdie raad wat Jesus gee, het niks te doen met passifisme nie. Dit is radikale weerstand in die hoogste graad, maar op ‘n nie-geweldadige manier.

“As iemand jou voor die hof wil daag en jou onderkleed vat, gee hom ook die bokleed.” Hoekom op aarde sal ‘n persoon iemand anders dagvaar vir sy onderkleed? Omdat die persoon in die skuld so arm is dat hy niks anders het as die klere aan sy lyf nie… Mense, veral die arm Palestyne, was baie maklik in die verstikkende siklus van skuld vasgevang en as jy jouself eers daar bevind het, was dit bykans onmoontlik om weer daaruit te kom. Skuld was gewoonlik die direkte gevolg van die Romeinse keiser se heerskappy (imperialisme). Die keiser het die ryk mense so swaar belas dat die rykes begin het om die armes in skuld in te leen sodat die armes later hul grond aan die hand van die rykes sou verloor. Land was vir geslagte binne die familie gewees en niemand sou dit vrywilliglik verkoop nie. Maar swaar skuld was ‘n manier om land te verloor (of te wen – afhangende van watter kant jy staan).

So jou skuldeiser sleep jou hof toe as jy nie jou skuld kan betaal nie. Daar word jy deur die regsisteem verplig om jou onderkleed vir die skuldeiser te gee as pand of waarborg totdat die eintlike skuld eendag (dalk?) vereffen is. Die arm gehoor met wie Jesus praat, haat die regsisteem wat hulle verneder deur hulle van hul lande, hul besittings en later selfs hulle klere te stroop. In plaas van verleë uittrek en weggee en dan weer jou bokleed beskermend om jou vou, gee Jesus ander raad: “Moenie net jou onderkleed aan die eiser oorhandig nie, gee hom sommer jou bokleed ook!” Dan loop jy poedelnakend kaal by die hof uit. Dink jou net in die mense wat staar, die konsernasie. Daar loop jy uit in jou adamsgewaad, en die skuldeiser kyk jou agterna met jou onderkleed in sy een hand en jou bokleed in sy ander hand. Jou vriende en bure wil weet wat het gebeur en jy vertel vir hulle die ryk man daar agter wat reeds alles van my het, het nou my klere ook gekry.

Om kaal te wees was ‘n taboe in die Joodse kultuur. En die skande was veel groter vir die persoon wat die naaktheid veroorsaak het as wat dit vir die kaal een self was. Die hele sisteem waardeur skuldenaars onderdruk word, word ontmasker (ontklee) en jou kaal parade word ‘n oorwinningstog.

“En as iemand een myl van jou afdwing, loop twee myl met hom saam.” Een van die praktyke om onderdane tot dwangarbeid te forseer, het bekend gestaan as angareia. Hiervolgens kon Romeinse soldate Joodse onderdane (kleinboere of wat ookal) forseer om hul bagasie vir hulle te dra. (Ook bv Simon van Serene wat Jesus se kruis gedra het.) Omdat hierdie praktyk so algemeen misbruik was deur die soldate, was daar ‘n wet wat bepaal het dat ‘n soldaat net vir iemand mag dwing om sy goedere een myl ver te dra. Sou dit aan die lig kom dat jy iemand verder as ‘n myl laat stap het, kon jy swaar beboet word.

Die Jode het die praktyk van angareia gehaat. Hoe gereeld hulle hul daaraan moes onderwerp – soms is hulle daagliks van hulle landerye af geroep deur soldate om hul goedere te dra en so kon hulle dikwels nie hul eie daaglikse arbeid voltooi nie. Maar stel jou nou voor iemand dra ‘n soldaat se goed een myl ver (onder dwang), en wanneer die soldaat dan die pakkasie wil terugvat, sê die kleinboer: “Nee, ek dring daarop aan om u goed nog ‘n ekstra myl te dra.” Die Romein is bang vir straf en pleit by die boer om sy goed terug te gee, maar die boer stap eenvoudig gebukkend voort. Hy dra nie die soldaat se goed ‘n ekstra myl om sy plek in die hemel te verseker “or to kill the man with kindness” nie. Nee, dis sy manier van ‘n geweldlose protes en die bordjies van skaamte en skande word verhang. Met elke tree wat die boer verder gee wen hy ‘n stukkie van sy eie menswaardigheid terug.

Aan die laaste voorbeeld wat Jesus noem (“Gee aan wie van jou iets vra en moet die een wat van jou wil leen, nie wegwys nie”) het ons nie tyd om aandag te gee nie.

Ockert is gebore in ‘n wêreld waar daar nie plek is vir sissies nie. Hy word geroep om Jesus se leringe ter harte te neem, om in Jesus se voetspore te volg.

Moet hy geweld met geweld vergeld? Nee – ‘n oog vir ‘n oog maak beide partye blind.

Moet julle (ouers) hom van kleins af leer hoe om tevrede te wees daarmee om die minste te wees en toe te laat dat ander hom misbruik en oor hom loop? Allermins!

Julle word geroep om hom die alternatiewe derde weg te leer: hoe om op ‘n nie-geweldadige manier die kwaad in die wêreld te ontmasker en op dié manier sy man te staan. En as julle hom leer om ‘n ware man te wees, sal hy dit nie net vir homself doen nie, maar ook vir ander wat aan die ontvangkant van die wêreld se klappe staan. Sodat, wanneer hy eendag aan die kant van die bevoorregte staan en voor die keuse gestel word om ‘n meisie (of enigiemand anders) te klap, dat hy sy kop in ongeloof sal skud:

“Nee.

Ek gaan dit nie doen nie.

Waarom nie?

Want sy is ‘n meisie, ‘n mens.

Want ek kan nie.

Want ek wil haar nie seermaak nie.

Jesus wil nie hê dat ons ander moet seermaak nie.

Want ek is teen geweld.

Waarom, vra jy my? Want ek is ‘n man! Dis waarom!”

Dat hy eerder in die een wat geklap gaan word se skoene sal gaan staan, die dwarsklap neem, sy gesig optel, die opponent reguit in die oë kyk en hom/haar uitdaag: “As jy my (en diegene saam met wie ek staan) dan WIL klap, doen dit op die regte manier, equal grounds, op my linkerwang. Kyk my in my oë en erken my eers ten volle as jou gelyke en kyk of jy dan nog steeds kans sien om my te klap, nadat jy moeite gedoen het om my so te leer ken – so soos wat die seuntjies aanvanklik begelei is om die meisie te leer ken…

Daarom staan talle gemeentes en Christene (ook óns) nou op teen die besluite van die Algemene Sinode, skud ons net kop en sê, jammer, ons kan nie. Ons sal nie vir die gays klap nie. Julle (kerkleiers!) het ons anders geleer oor die Evangelie. Ons staan eerder aan hulle kant, en as hulle koppe bly hang weens al die dwarsklappe waaronder hulle al deurgeloop het, as hulle te moeg of te skaam is om weer op te kyk, dan doen ons dit nms hulle, kyk ons julle in die oë, draai ons ons linkerwange, en dring ons daarop aan om as gelykes behandel te word. Ons sal juis nie terugstaan nie, maar opstaan vir hulle. Soos wat Jesus ook opgestaan het.

In die wêreld van kinders slaan mens nie aan vroue nie. In die wêreld van God nog minder.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.