Jesaja 6:1-9 – 2015

31 Mei 2015 Pinelands (Koninkrykstyd – Drie-Eenheidsondag)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

“In die sterfjaar van koning Ussia…”

Dit is rondom 740 vC en die volk staan aan die begin van ‘n baie moeilike tyd. Ussia was ‘n goeie koning gewees. Na die afvalligheid van die vorige konings en al die slegte dinge wat hulle gedoen het, het Ussia weer hoop gebring vir sy volk. Toe word hy siek. Daar het ‘n diepe moedeloosheid oor die mense gekom oor die toekoms. Want toe Ussia sterf was dit nag.

“Wat gaan nou van ons word?” Agas is die nuwe troonbestyger. En almal weet dat hy nie ‘n goeie leier is nie. Hy dra nie sy volk se belange op die hart nie. Hy smee alliansies met die verkeerde volke. Toe Agas koning geword het van Juda het dit die begin van die val van die suidelike ryk beteken.

In hierdie tyd van politieke onstabiliteit gaan Jesaja weer eendag na die tempel in Jerusalem.

Skriflesing: Jesaja 6: 1-9

Vs 3: Die hele aarde is vol van sy gewig

Boodskap

“In die sterfjaar van koning Ussia het ek die Here gesien.” Dis soos om vandag te sê: “In die sterfjaar van Mandela het ek vir God gesien.”

Hoe so? Mandela was ons laaste hoop. Nou sit ons met Zuma. Dit is klaar met ons! Luister net na die ondersoekkommissies se uitsprake. Lees gister se koerant. Kyk na die spotprente…

En iewers in verlede jaar die spotprent: Ons president voorspel mooiweer – “dis net sonskyn, sonskyn en nogmaals sonskyn!” – maar intussen is dreigende onweerswolke oor die hele land versprei. Donderweer waar daar (skynbaar) sonskyn is. Wolke van betogings, korrupsie, werkloosheid, swak ekonomie, swak dienste, die tuimelende rand, armoede… Maar ons profetiese president met sy R250 miljoen paleis verkondig sonskyn.

Wat gaan van ons word!?

Dieselfde gevoel van uitsigloosheid as wat daar onder die volk was na Ussia se dood. MAAR toe almal hulle hande in die lug gooi, toe sien Jesaja vir God raak in ‘n visioen. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit en die soom van sy kleed het die tempel gevul. Serafs het bo Hom gestaan. Hierdie serafs was hemelse wesens wat vir Jesaja onder die indruk gebring het van die vurige, magtige, ontsagwekkende teenwoordigheid van God. Elkeen het ses vlerke gehad. Met twee het hulle hulle oë bedek sodat hulle nie direk na God hoef te kyk nie. Met twee het hulle hulle voete bedek – voete wat dikwels in die OT ‘n eufemisme was vir liggame – sodat hulle nie naak in die teenwoordigheid van God hoef te wees nie. En met die ander twee vlerke het hulle gevlieg. Intens bewus van die Een in wie se teenwoordigheid hulle verkeer, het hulle mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare! Die hele aarde is van sy heerlikheid vol.” Hy is so groot, so anders dat nie eens die hemelse wesens na Hom kan kyk nie. Hulle bedek hulle gesigte en hulle verberg hulle naaktheid. Dit is hoe oorweldigend sy teenwoordigheid is. Die serafs roep so hard dat die deurkosyne begin skud en die tempel vol rook geword het.

Deur drie maal die heiligheid van God te herhaal, het gewys hoe ernstig die serafs in hulle uitspraak was. As mens ‘n saak in Hebreeus baie sterk wil beklemtoon, sê jy dit drie maal oor. Hulle sê hiermee dat God radikaal anders is as enigiemand of enigiets wat ons nog ooit gesien het. God is onvergelykbaar. Hy is nie deel van hierdie wêreld nie. En tóg openbaar Hy Homself in die wêreld aan ons. Dit is opvallend dat die serafs nog die een oomblik die 3-maal heiligheid van God besing, en met die volgende asemteug al getuig dat die hele aarde gevul is met die heerlikheid van hierdie God. Die heilige God, die Gans Andere, gooi sy hele gewig in die aarde. Dit is eintlik wat die Hebreeus hier probeer sê. Die woord wat ons vertaal met God se “heerlikheid” (OV) of “magtige teenwoordigheid” (NV) is afgelei van die woord wat “lewer” beteken – en jou lewer was jou swaar orgaan. As jy “met jou lewer in iets was” het jy jou hele gewig daarin gesit, jou alles daarvoor gegee.

Oor die woord “heilig” het ek al voorheen gepraat. Dit is nie, soos wat ons so dikwels dink, afgelei van die woord wat “afgesonder/eenkant” beteken nie, maar eerder van die woord wat “blink/skitter” beteken. Dat God heilig is sê dus juis nie dat Hy Hom eenkant, ver, daar bo hou nie, maar dat Hy, wel op ‘n gans anderse manier, teenwóórdig is, dat Hy ‘n verblindende lig uitstraal. God het juis nie afgesonder gebly nie, maar deur sy pad met die Israeliete en uiteindelik in sy Seun het Hy binne-in die sondige wêreld ingetree en die Lig in die duisternis geword.

Jesaja beleef hierdie andersoortige teenwoordigheid van God in die visioen in die tempel. En dit maak hom bewus van sy eie sondigheid en ook van die sondigheid van die volk waarvan hy deel is. “Weë my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en ek woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is, want my oë het die Koning, die Here van die leërskare gesien!”

Jesaja is bang vir God. Hy besef dalk dat sy eie en die volk se vrese misplaas is. Hulle vrees die nuwe slegte koning Agas terwyl die Here die éíntlike Koning is, die Een wat nie net oor die volk heers nie maar oor die wêreld – “die hele aarde is van sy heerlikheid vol”. Is ons nie ook net so nie – ons is bang vir aardse politieke leiers wat ons en ons kinders se toekoms bepaal, terwyl ons fokus eintlik moet wees op die ewige God wat die toekoms van die ganse wêreld, en daarom ook ons en ons kinders se toekoms, in sy hande het…

Toe Jesaja met vrees reageer in die teenwoordigheid van God (Moses en Jakob en Elia was ook bang toe die Here aan hulle verskyn), toe het die Here die vrees besweer. Onrein mense mag nie in die tempel van die Here verskyn het nie. Jesaja het eers besef dat hy onrein is en hóé onrein hy is toe hy die Here sien. En een van die serafs voer ‘n reinigingsritueel uit. Hy neem ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af, vlieg na Jesaja, raak sy mond aan met die kool en sê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.”

Ons het hier te make met ‘n visioen en met ‘n ritueel en met ‘n ervaring wat vir Jesaja so werklik was dat dit sy lewe van hier af vorentoe verander en bepaal het. Die fokus van die ritueel is op die feit dat God ons reinig en heilig verklaar wanneer Hy ons roep. Die doel van die gloeiende kool is om vir Jesaja figuurlik aan die brand te steek, om hom heilig te maak, anders as die wêreld, glinsterend soos God, sodat hy sy boodskapper kan wees.

En nadat hy gereinig en geheilig is, hoor Jesaja die Here vra: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” En hy antwoord: “Hineni! Hier is ek! Stuur my!Hineni! is een van die sterkste woorde in Hebreeus wat eintlik nie sonder ‘n uitroepteken vertaal mag word nie – Hier is ek! (Letterlik “Kyk, ek!) Stuur my, Here! Interessant, Jesaja is een van die min profete wat met sy roeping onmiddellik gewillig reageer. Meeste van die ander het geprotesteer. Moses kla hy hakkel, Jeremia soebat dat hy te jonk is, Jona vlug. Jesaja antwoord dadelik: Hineni!

‘n Aangrypende teks. Vandag is daar steeds mense wat hunker na so ‘n teofanie (godsverskyning) – na ‘n ervaring van God se teenwoordigheid deur ‘n visioen of die verskyning van ‘n engel waar Hy tog maar net sy wil hard en duidelik aan ons bekend kan maak. Mense wil Hom graag in die oë kyk as Hy hulle roep. Ons vergeet soms hóé groot en anders, hóé heilig God is. Selfs nie eens die profete van ouds kon Hom in die oë kyk nie. Selfs nie eens die hemelse wesens kon Hom in die oë kyk nie.

God roep mense op verskillende maniere. Ook ons word geroep. Vanoggend het elkeen van weer ‘n geleentheid om vir die Here te antwoord: Hineni! Hier is ek, Here, stuur my, gereinig en geheilig  om sout en om lig vir die wêreld te wees. Soos wat U vir ons kom wys het om dit te wees. U wat Uself in Jesus van Nasaret aan ons kom bekendstel het.

Die Woord, die Boodskap, het méns geword en onder ons kom woon. Hy het eenvoudiges geroep om sy dissipels te wees en Hy het siekes en verlamdes en versteurdes gesond kom maak. Saam met sondaars geëet. Hy het kom praat van ‘n nuwe koninkryk, ‘n nuwe regering, waar daar plek is vir mense wat arm is van gees, dws mense wat God nie ken of verstaan nie, mense wat treur oor verliese, mense wat nederig is en nederig leef, mense wat honger is, mense wat dors is daarna dat reg sal geskied, dat álle mense menswaardig hanteer sal word, mense wat genade het vir ander, en medelye het, vredemakers, hulle wat uitgekryt word omdat hulle doen en sê wat rég is. Dit is die koninkryk, die regering wat Jesus hier kom vestig het. Dit is Gód se koninkryk. Só het Jesus die Lig vir die wêreld geword. Heilig, dus. En die wêreldse duisternis kon die Lig nie uitdoof nie. Net toe die wêreld dink die Lig is geblus, toe brand Hy op sy helderste op Golgota – vir almal om te sien. Soos ‘n lamp op ‘n lampstaander. Soos ‘n stad op ‘n berg. Hy word die sout vir die aarde – dis sy bloed wat die wêreld, die kosmos kom skoonmaak, kom reinig van alle sonde. Jesaja moes deur ‘n ritueel met ‘n gloeiende kool op ‘n altaar gereinig word. Maar Jesus het intussen gekom, en het klaar vir ons sonde betaal. Daarom is ons rééds gereinig.

Daar is nog hoop. Ook vir ons in Suid-Afrika. Vandag. Mandela is dood, die regering is in chaos, die land in die moeilikheid, ‘n krisis met ons krag en ‘n president wat lieg en bedrieg om elke hoek en draai, en dan nog in die openbaar grappies ook maak oor sy skandale. Maar midde hierdie konsternasie is daar mense onder ons wat vir God raakgesien het. Is ons lankal al deur God gereinig, geheilig en geroep. En word ons deur God gestuur. Die God wat met sy volle gewig in die wêreld staan – die een wat so sy alles gee dat Hy Homself gegee het, ter wille van ‘n toekoms vir ons almal.

Om as profeet deur hierdie God geroep te wees, is nie maklik nie. Want hoor wat moes Jesaja vir die mense gaan sê: iets wat hulle in elk geval nie wil hoor of gaan verstaan of gaan glo nie…

Profete, al is julle gehoorsaam aan jul roeping gaan mense jou nie altyd wil hoor nie. Hulle gaan nie altyd verstaan nie. Jy gaan jouself nie eens aldag verstaan nie. Almal gaan jou nie glo as jy oor God praat nie. Dalk gaan meeste jou nie glo nie.

Dit is nie die punt nie. Die punt is om nie op te hou om sout en om lig vir die wêreld te wees nie. Jou werk is om vir die mense te kom vertel wat jy gesien het, vir Wie jy gesien het. In ‘n tyd waar dinge maar duister en droewig lyk in Suid-Afrika (en in die wêreld) het j‎y vir God raakgesien! Wanneer almal rondom jou hul hande in lug wil opgooi, sien jy vir God raak. Jy mag dit nie vir jouself hou nie. Jy moet daarvan vertel. Jy moet ook hierdie visie wat jy het op God gaan lééf. Só leef dat ander Hom ook begin sien. As jy kies om “Hineni!” te antwoord, dan is dít waarvoor jy geroep word.

Die profete van ouds, maar later ook Jesus, was deurentyd misverstaan (ook deur sy eie mense) en uitgekryt. Jesus was altyd onder kruisverhoor. Maar Hy het aangegaan, want dit is wat Hy gekom het om te doen. En toe dit met Hom die heel swaarste gegaan het, toe Hy die dieptepunt van verwerping en eensaamheid en wreedheid ervaar het – toe het dit eers tot die mense deurgedring dat Hy die Seun van God is, dat Hy die Lig vir die wêreld is. Tydens sy bediening en sy lewe het Hy bitter min dankies gekry. Maar dit is omdat Hy gekom het sodat God deur Hom verheerlik kan word. Mag God ook deur jou lewe, jou roeping, jou bediening verheerlik word.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Romeine 5:1-5

26 Mei 2013 – Drie-Eenheid Sondag Feesdiens
Prediker: Bianca Botha

Hierdie Sondag was ‘n besondere dag in die kerklike jaar. Nadat ons in die eerste gedeelte van die kerkjaar (Vanaf Advent tot Lydenstyd en in Pase) gefokus het op die betekenis van die lewe en werk van Christus, en tydens Pinkster – wat pas verby is – op die werking van die Heilige Gees, word daar het ons op dié dag gefokus op die Drie-eenheid. Dit staan bekend as Trinitatis of Drie-Eenheid Sondag en dit is ‘n feesdiens; ‘n viering van die feit dat al die groot gebeurtenisse en verlossingsdade wat ons tot dusver gevier het, die werk van één Drie-enige God is.

Nie net dit nie. Dit was ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd.
Die belydenis dat God drie-enig is en as Vader, Seun en Heilige Gees by die hele skepping – en meer spesifiek by mense – betrokke is, vorm die skarnier (die skakel) tussen die voorafgaande seisoene van die kerklike jaar, en Koninkrykstyd – waarin daar gefokus word op God drie-enig se voortdurende handeling in die lewe van gelowiges, van die kerk en in die wêreld; asook ons rol in die koninkryk, wat reeds aangebreek het, en nog tot vervulling moet kom.

Wanneer ons oor die Koninkryk begin nadink, en gevolglik ook oor die wêreld waarbinne ons leef, moet ons erken dat dit wat ons sien dikwels meer ontstellend is as enigiets anders. Daar is die verskriklike geweld en armoede, waarmee nie net ons as Suid-Afrikaners nie, maar die hele wêreld gekonfronteer word, en wat bly toeneem; werkloosheid; korrupsie; die toestand van die skeppping en ekologie. Ek is seker ek hoef niemand te herinner nie. Ons hoef maar net die koerant oop te maak, die nuus aan te sit, of oor die brug te ry na enige van die omliggende gebiede, miskien selfs net die voordeur oop te maak of die telefoon op te tel…
Swaarkry het baie verskillende gesigte en beteken dalk vir elkeen van ons iets anders, maar op een of ander manier word ons almal daarmee gekonfronteer. Uit my eie lewe kan ek getuig dat ek soms so oorweldig word, nie deur my eie swaarkry nie, maar deur die oneindige hoeveelheid mense aan wie se lyding ek niks kan doen nie – dat ek wil moedeloos raak. So het ek ook al vele mense hoor sê hulle wil nie meer die koerant lees of die nuus kyk nie, want dit maak hulle net hartseer of kwaad of depressief… hulle wil dalk eerder die lewe geniet en van die donkerder sy van die lewe vergeet en daarvan wegvlug – in ‘n bubble leef. Of daar is diegene wat afgestomp raak en pessimisties op alles antwoord: dis nou maar die lewe.

Wat maak ons met die swaarkry, en die leed en die pyn in hierdie wêreld? Hoe moet of kan ons dit enigsins hanteer?

Die gemeente in Romeine aan wie Paulus hierdie brief rig worstel met dieselfde vrae. Anders as in sy ander briewe skryf Paulus nie hier vir ‘n gemeente wat hy self gestig het of waarmee hy ‘n persoonlike verhouding gehad het nie. Die doel van die brief is eintlik om homself, en sy teologie, aan die gemeente bekend te stel (amper soos ‘n getuigskrif). Hy wil sterker bande met hulle vestig. In die eerste plek, sodat Rome as die basis kan dien vanwaar hy sy sending na die weste kan uitbrei. Maar in die tweede plek ook sodat hulle mekaar wedersyds kan bemoedig en versterk in die geloof – soos ons in die eerste hoofstuk van Romeine lees.

Vanoggend se teksgedeelte val tussen die twee hoof dele van hierdie brief. Dit dien as tipe van ‘n brug tussen hoofstuk 1-4 – wat handel oor sonde en die verlossing daarvan vir alle gelowiges – en 5-8 wat gaan oor die implikasies van daardie verlossing. Dit is dus eendersyds ‘n samevatting van Paulus se argument tot dusver, en andersyds ‘n inleiding vir die gedeelte wat hierop volg.
Die eerste 4 hoofstukke het dan, soos reeds genoem, veral gefokus op die vryspraak, wat vir Paulus dien as die basis van die evangelie. Omdat Rome so ‘n diverse gemeenskap was en die gemeente dus uit ‘n mengelmoes van Joodse en nie-Joodse –Christene bestaan het, het daar (soos in baie van die ander gemeentes) ook hier vrae ontstaan rondom die wet, en die vereistes wat die Joodse Christene aan die nie-Jode gestel het. Gevolglik maak Paulus dit duidelik, in Rom 3 wat ons vroeër gelees het, dat niemand voor God regverdig kan staan nie en dat dit alleen deur geloof in God is dat mense vrygespreek word. Met verwysing na Abraham, verduidelik Paulus hoe die regverdiging van mense verstaan moet word. Abraham se geloof word beskryf as ‘n geloof in God se getrouheid aan sy beloftes, en dit is op grond van daardie geloof – nie die nakoming van tradisies of die wet nie – dat ons vrygespreek word. Paulus argumenteer dat die vryspraak nooit gegrond was op Israel se vermoë om korrek op te tree nie. Dit was altyd die uitvloeisel van die “goddelike aanvaarding van bevoorregte mense” – mense wat geglo het in God se optrede in hulle belang.

Die slotsom van die eerste 4 hoofstukke is dus dat alle gelowiges vrygespreek is, maar die verhaal eindig nie daar met die spreekwoordelike “happily ever after” nie. Vryspraak beteken nie dat die wêreld sonder sonde en pyn is nie, en daarom bespreek Paulus in die daaropvolgende hoofstukke (veral 7 en 8) die implikasie en omvang van hierdie vryspraak in te midde van swaarkry, pyn en verdrukking.
Paulus se antwoord op die vraag oor hoe ons as Christene situasies van lyding moet hanteer, lê vasgevang in die belydenis dat ons hoop in die drie-enige God gevestig is; en dat ons geanker word deur geloof, hoop en liefde, wat al drie pertinent voorkom in die gedeelte wat ons vanoggend gaan lees. Hierdie mag dalk na ‘n té maklike antwoord klink, maar kom ons kyk hoe presies Paulus dit benader…

Julle kan julle Bybels oopmaak by Rom 5: 1-5

As ‘n kort slotsom word hierdie hoofstuk ingelei met die woorde:
“Dus/daarom, omdat ons uit die geloof (dws die vertroue in en aanvaarding van God se beloftes) geregverdig is, is daar vrede tussen ons en God, deur ons Here Jesus Christus.”
Hy begin deur weer die uiteinde van sy voorafgaande argumente te bevestig – dat ons uit geloof geregverdig is. Die term “geregverdig” dra ‘n dubbele betekenis. In die regswêreld sal dit vertaal word met “vrygespreek/regverdig verklaar,” maar dit kan ook verwys daarna om in “die regte verhouding te wees.” Beide die betekenisse maak sin vir dit wat Paulus probeer oordra – dat ons deur daardie regverdiging nou vrylik voor God kan staan in die verbondsverhouding.

En die implikasie van hierdie regte verhouding waarbinne ons nou staan, is in die eerste plek dat daar vrede is tussen ons en God. Hierdie vrede word moontlik gemaak deur die feit dat die oordeel wat ons moes dra, oorgedra is na ‘n plaasvervanger, nl. Christus. Die tipe vrede waarvan hier gepraat word is egter nie bloot die afwesigheid van konflik, byna soos ‘n wapenstilstand of ‘n ooreenkoms waarvan albei partye met ‘n swaar hart wegstap nie. Die vrede waarvan hier gepraat word verwys na versoening; na die herstel van harmonie binne die verhouding.

Die tweede implikasie van hierdie vryspraak is dat ons vrye toegang verkry tot die genade waarin ons vasstaan. Vir die Joodse-Christene in Romeine sou hierdie gedagte van vrye toegang herinner aan die voorhangsel wat geskeur het met Christus se kruisdood, en wat dit vir almal – nie net die heiliges nie – moontlik gemaak het om in die teenwoordigheid van God te mag leef. Vir die Romeine sou dit egter eerder die beeld oproep van die toegang tot die koninklike hof wat deur die hofdienaar verkry word. So ‘n beeld sou beide die erns en die byna vreesaanjaende voorreg daarvan om deur die hofknaap in die koning se teenwoordigheid ingelei te word, tuisbring.
Die werkwoorde wat hier gebruik word is dan ook in die perfekte tyd, wat aandui dat hierdie toegang, en die feit dat ons in die genade staan, iets is wat reeds plaasgevind het, en wat steeds en ewig geldig is. Belangrik, is dat dit nie op grond van ons eie toedoen of oulikgeit is dat ons in hierdie genade geanker staan nie, maar deur Christus se verlossingswerk en die gevolglike herstel van die verbondsverhouding.

Die derde implikasie is dat gelowiges, en dus geregverdigdes, hulself verheug in die hoop op die heerlikheid van God. Die woord wat hier as vreugde vertaal word kan ook beteken om te roem/te spog (in Engels: boasting). Dit is dieselfde taal wat vroeër in Romeine negatief gebruik word wanneer Paulus die Jode aankla daarvan dat hulle hulself roem in die wet en in hulle dade. Hierdie is egter ‘n ander tipe roem – ‘n roem wat nie in onself of in iets anders nie, maar in God se getrouheid en die vervulling van sy beloftes, gesetel is; roem as ‘n uitdrukking van ons ervaring van God se genade. Die heerlikheid van God, waarop hierdie hoop gerig is, verwys na die vervulling van die koninkryk wat reeds aangebreek het, maar nog nie tot sy volheid gekom het nie. Hierdie hoop is dus ‘n hoop gevestig op die toekoms.

Maar soos iemand uit ‘n laataand t.v advertensie, kondig Paulus dan aan: “But wait, there’s more.” Ons verheug ons nie net oor die toekoms nie, maar ook oor die hede.
Te midde van swaarkry, leed en pyn; te midde van verdrukkinge en ‘n hopelose situasie, roem ons ons steeds in die hoop.
Wat hy sê, is dat ons roem in die hoop, terwyl ons erken dat dit hand in hand gaan met die swaarkry. Want ook die swaarkry loop uiteindelik oor in hoop.
Die gebruik van die woord kweek/produseer dui daarop dat swaarkry en dit wat daar rondom gebeur ‘n lewendige proses is, dat daar groei plaasvind, soos ‘n saadjie wat vanuit die diep donkerte groei tot dit deubreek na die lig toe.
– swaarkry kweek volharding/geduld/uithouvermoë/standvastigheid
– dit op sy beurt kweek ‘n goeie karakter (beproefdheid; iets wat getoets en goedgekeur is)
– en daardie goeie karakter kweek hoop.

Vir Paulus is daar dus ‘n baie direkte verband tussen swaarkry – die versugtinge van hierdie wêreld – en hoop; en daarom is swaarkry dus nie iets waarvan gelowiges behoort weg te skram nie. Inteendeel, as gelowiges, dink ek soms, moet ons juis swaarkry. Dis soos Tiana altyd sê: “Gee tot dit seermaak. As dit nie seermaak nie, het jy nie werklik gegee nie.” As ons besig is met die dinge en die mense waarmee ons moet besig wees, gaan ons definitief swaarkry, gaan ons die swaarkry eintlik oor onsself bring. Want dit is tog wat Jesus gedoen het, en wat hy ons kom wys het om te doen. Swaarkry is nie iets waardeur ons verlam moet word nie, want deur swaarkry leer ons wat ware hoop is. Hoop wat gesetel is in ‘n regte en herstelde verhouding en in die genade waarin ons vasstaan.

Maar wag, daar is nog meer… “Hierdie hoop beskaam nie.”
In ‘n kultuur waar eer die hoogste prioriteit was en skaamte die mees ongewenste van alle dinge, is hierdie ‘n belangrike aanmerking. Om jou vertroue te plaas in iets, jou hoop daarop te vestig, en dit kom nie tot vervulling nie, sou skaamte tot gevolg hê. Dink maar bv aan rugby – wanneer jy heel naweek aan almal verkondig het jou span gaan wen…. en dan verloor hulle, en al jou vriende bel jou om dit in te vryf… Dis amper soos dit, net 100x erger.
Maar Paulus verseker hulle dat dit nie sal gebeur nie, want hierdie hoop is gebasseer op die feit dat die nuwe era reeds aangebreek het en dat die swaarkry van hierdie wêreld tydelik is. Die sekerheid lê daarin dat Jesus reeds die bose oorwin het en dat die koninkryk reeds aangebreek het. Dit is nie ‘n hoop in iets wat onseker is soos die uiteinde van ‘n rugbywedstryd nie, maar hoop in God se getrouheid aan sy beloftes. Dieselfde God wat sy beloftes aan Abraham tot vervulling gebring het, tenspyte van die feit dat dit onmoontlik gelyk het op daardie stadium. Dis ‘n hoop wat gebasseer is op dit wat ons reeds ervaar het; op dit alles wat ons reeds die afgelope jaar gevier en bely het.

En die gronde vir hierdie hoop, die rede waarom ons kan hoop, sê Paulus, lê daarin dat God se liefde – liefde vir God en liefde van God – deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is. Soos ‘n wolk wat breek oor ‘n dorre landskap; dui die woord “uitstort” op die oorvloedigheid van hierdie liefde. Liefde wat weer lewe bring waar daar eers doodsheid was. Die Gees en die liefde is hier intrinsiek aan mekaar verbind en impliseer dat die liefde wat in ons harte gestort is, die werk van die Gees is en dat dit dus ook die Gees is wat dit vir ons moontlik maak om God se liefde uit te leef.
Dit is dan ook hierdie liefde wat die versekering is, die rede is, dat die hoop nie beskaam nie, want waar daar liefde is, is daar ook hoop en waar liefde geleef word, word die hoop sigbaar.
Vir Paulus is die uiteinde van die vryspraak, ‘n herstelde verhouding met God, wat uitloop in die hoop op die heerlikheid. Dit is agv hierdie hoop dat dit vir ons hoegenaamd moontlik is om die swaarkry in hierdie wêreld te hanteer. Die rede waarom ons kan hoop, lees ons in hierdie teks, is omdat die drie-enige God ons daarvoor toerus – omdat ons vrygespreek is deur Christus; omdat daar vrede is tussen ons en God; omdat ons vasstaan in die genade; en omdat die Gees van God sy liefde vir ons ‘n realiteit maak.

In Koninkrykstyd gaan dit nie bloot oor God wat sy koninkryk op aarde kom vestig nie, maar ook oor hoe ons, as gelowiges, daardie koninkryk sigbaar maak. Ons word toegerus deur die Vader wat sy liefde in ons harte kom uitstort het; deur die Seun wat vir ons kom wys het wat dit beteken om liefde te hê en deur die Gees wat dit vir ons moontlik maak om daardie liefde te leef. Daarom is ons nie bloot mense wat sit en wag, wat hoop op ‘n beter toekoms nie, maar is ons ook draers van hoop in hierdie wêreld.
Omdat ons vrygespreek is en daar vrede, ‘n herstelde verhouding, tussen ons en God is, kan ons hoop en kan ons nie net ons eie swaarkry nie, maar ook die van die mense rondom ons in die oë kyk. Daarom hoef ons nie verlam te word deur die gevoel van beperktheid nie, maar doen ons wat ons kan, waar ons kan, wanneer ons kan – sodat die hoop ook kan uitkring na die mense met wie ons in aanraking kom.

Die drie-enige God rus ons toe om draers van hoop te wees.

Mag ons rus vind in die feit dat ons vrygespreek is deur Christus;
Mag ons vrede vind in die feit dat ons met God versoen is;
En mag ons lewe in die liefde wat deur die Gees in ons harte uitgestort is.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.